God neem sondaars aan, sonder enige verdienste van ons kant.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Sondag 24

Ds C Kleyn - Sondag 29
Augustus 1999

Lees: Romeine 6:15-23; Galásiërs
3:1-14; Sondag 24.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 103:1,2; Ps
63:3,4; Ps 92:6,7; Ps 97:6,7 (na kollekte).

Tema: God neem
sondaars aan, sonder enige verdienste van ons kant.

  1. Die goeie werke kan geen grond van ons
    geregtigheid wees nie.
  2. Die goeie werke word uit genade beloon.
  3. Die goeie werke is vrugte van die geloof.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Sondag 24 sit ons die tema van Sondag 23
voort. Daar is die tema van ons regverdiging aangeraak. God
spreek sondaars vry op grond van Christus se werk en lewe. En ons
kry daaraan deel deur die geloof. Sondag 24 voeg daaraan toe dat
die regverdiging in geen enkel opsig te danke is aan ons eie
werke nie. Sondag 23 sê dus: ons vryspraak is deur die geloof
terwyl Sondag 24 daaraan toevoeg: nie uit eie werke nie.

Die Kategismus lê die nadruk daarop dat ons
geregtigheid voor God slegs God se werk is. God wag nie eers op
ons voordat Hy ons regverdig nie. Hy kyk nie eers of daar wel
goeie werke is, of ons wel goed genoeg lewe nie. Nee, Hy begin
met die vryspraak enkel uit genade op grond van Christus se werk.
Eers as gevolg daarvan ontstaan die goeie werke. Die mens met sy
goeie wil of werke in nie nommer 1 nie, maar God met sy genade.
As daar eers iets van die mens moes kom, dan was die genade geen
genade meer nie. Dan sou ons Here Jesus Christus verniet gesterwe
het.

Laat ons in ons daagliks lewe die juiste
volgorde vashou. Eers is daar God se genade, dan ons werke. Eers
is daar die verlossing, dan eers ’n lewe na God se wil en
wet. Eers is daar die regverdiging, dan eers die heiligmaking. My
goeie werke is nie die oorsaak van God se geneentheid nie. Maar
God se geneentheid is die oorsaak van my goeie werke.

Ek verkondig aan u: God neem sondaars aan,
sonder enige verdienste van ons kant.

  1. Die goeie werke kan geen grond van ons
    geregtigheid wees nie.
  2. Die goeie werke word uit genade beloon.
  3. Die goeie werke is vrugte van die geloof.

Wanneer ons noem dat die vryspraak nie uit
werke is nie, dan dink ons byna outomaties aan die Roomse leer
van die verdienstelikheid van goeie werke. Die opstellers van die
Kategismus sal inderdaad veral aan hulle gedink het. Tog moet u
dit nie daartoe beperk nie. Die dwaling wat bestry word is altyd
al aktueel gewees en nog steeds aktueel. Hier kom die verset teen
die leer van genade alleen, sonder enige verdienste van ons kant
na vore. Die verset sit as ‘t ware in ons bloed sedert die
sondeval. Dit kom my eer te na om alles uit genade te moet
ontvang. Ek wil ook self meewerk aan my verlossing.

Tydens Christus se omwandeling op aarde was dit
die Fariseërs wat gedink het dat hulle deur hul wetswerke God se
guns kon verwerf. In die begin van die Christelike kerk was dit
die Judaïste wat geleer het dat ’n mens om salig te word
Christus nodig het plus die onderhouding van die O.Tiese wette.
Dit was dus Christus plus iets van die mens. Paulus skryf daaroor
in Galásiërs 1 dat hulle ’n ander evangelie bring, wat
geen evangelie is nie. Die genade van God is hier geen genade
meer nie. Hier word gemaak asof Christus se offer nie genoeg is
nie. Dieselfde geld vir die Roomse leer van goeie werke. Ook daar
wil hulle die vrye genade van God vashou, maar deur tegelykertyd
die goeie werke as voorwaarde te stel, verloën hulle tog met die
daad die leer van genade alleen.

Dink nou nie, broeders en susters, dat hierdie
dwaling ver van ons af staan nie. Dis ’n saak waarmee ek
elke dag te doen het. Dis werklik nie so vreemd om enersyds te
roem in God se genade en andersyds te bou op eie werke nie. Hoe
dink ek om God se guns te wen? Om dit weer met God reg te maak
sou ek vir my gevoel eers allerlei dinge moet doen, sou ek myself
eers moet bewys. Deur my eie doen en late – hoe gebrekkig
dit ook mag wees – sou ek weer in God se guns kan kom.

Broeders en susters, goed beskou getuig so
’n gedagtegang van menslike hoogmoed. Ek wil self eers iets
doen om vir die Here waardig te wees. Ek wil self eers iets aan
die Here kan toon, bv my goeie gesindheid, my goeie werke. As ek
myself – hoe dan ook - kan bewys, dan is ek tevrede en voel
ek my vry om weer tot God te gaan. So soek ek tog ’n bietjie
grond in myself. So gaan ek met Christus saamwerk. Ek wil immers
self ook bydra aan my heil! Is dit hoe dit gaan? Wat leer die
gelykenis van die verlore seun aan ons? Moes hy homself eers
bewys om deur sy pa aangeneem te word? Nee! Inteendeel, sy pa het
hom omhels voordat hy iets kon bewys. Ons lees in Ps 51:19 "Die
offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en
verslae hart sal U, o God, nie verag nie!" Ons staan voor
God met leë hande. Dis genade alleen.

Daarom wys die Kategismus sulke gedagtes ook
radikaal af. Dat ek vir die Here aan die werk gaan, vorm geen
enkele grond vir God se goeie gesindheid nie. Dis juis andersom.
Ek het die Here lief en wil vir die Here werk omdat Hy my eers
liefgehad het. My ywer en inset is geen voorwaarde vooraf nie,
maar vrug.

Gemeente, as ons let op ons goeie werke dan
moet ons tot ons beskaming erken dat selfs ons beste werke in
hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is. Nee, die
Kategismus ontken nie dat ons goeie werke doen nie. God is bly
met alles wat volgens sy wet en tot sy eer gedoen word. Maar al
die goeie werke moet wel deur my sondige natuur heen. En dan is
hulle met sondes besmet. Laat ons nie gaan skipper met God se wil
en dink dat ons stukwerk aanvaarbaar is as grond van ons
regverdiging nie. Hoever ons ook vorder in die lewe van die
heiliging, die gedagte aan een sonde is voldoende om dit voor God
se oë verwerplik te maak. "Want wie die hele wet onderhou,
maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword" (Jak
2:10). Een sonde maak ons al tot ’n voorwerp van God se
toorn. En ons weet dat selfs die allerheiligstes nog maar ’n
geringe begin het van die gehoorsaamheid wat God vra. Daarom
skryf Paulus in Galásiërs 3: 10 "Want almal wat uit die
werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe:
Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die
boek van die wet om dit te doen nie." Geen mens kan immers
bly in alles wat in die wet geskryf is nie.

As u naas Christus ook maar iets van uself moet
verwag, dan sou u altyd in twyfel lewe, heen en weer geslinger,
sonder enige sekerheid. Luther het dit geweet. Hy het die
vryspraak gesoek deur nougeset te lewe. Hy het immers grootgeword
met die Roomse leer dat ’n mens met die genade van God moes
saamwerk om gered te word. Hy het ’n pelgrimsreis na Rome
gemaak. Hy het hom in strenge askese geoefen, in die onthouding
van alle lewensgenot. Hy het selfs homself gepynig. Maar dit het
hom slegs angstiger gemaak. Hy het aangevoel dat selfs ’n
bomenslike prestasie in geen verhouding staan tot die skuld wat
versoen moet word nie. Hy het homself – ondanks sy groot
inspanning – gesien as ’n groot sondaar voor God.
Solank as hy na homself bly kyk het, het die onrus en onsekerheid
gegroei. Hy is eers daarvan bevry toe hy deur sy studie van die
brief aan die Romeine geleer het van die vryspraak in Christus
alleen. Hy is toe bekeer van die wet na die evangelie. Hy het
geleer om af te sien van homself en te lewe uit genade alleen.

Ons sou wens dat alle twyfelende siele lering
sou trek uit hierdie geskiedenis. Dit klink vroom om te sê dat
God my nie sommer aanneem nie en dat ek eers my lewe moet
verbeter, maar dit getuig in feite van menslike hoogmoed. Hoe
nederig en vroom ek ook mag lyk, ek wil blykbaar tog nie lewe uit
genade alleen, sonder enige verdienste van my kant nie. Ek bly
ook nog iets van myself verwag.

God se genade in Christus is die enigste vaste
grond vir my heil. Ek bely dit by elke viering van die nagmaal.
Dit sal ook werklikheid moet wees in my lewe van elke dag. My
ywer vir die saak van die Here vorm geen enkele grond vir my
aanneming tot kind van God nie. Ek is reeds ’n kind van die
Here – dink maar aan die doop – en nou mag ek my inset
vir die saak van die Here lewer. Ek hoef nie meer ’n kind
van God te word nie, maar ek moet my as kind van God gaan gedra,
in kinderlike ontsag en vertroue. Dit is nie eers: doen jou bes
en dan word jy miskien aangeneem as kind van God nie. Maar: jy is
’n kind van God, jy is verlos, daarom: doen jou bes uit
dankbaarheid.

Gemeente, die afwysing van goeie werke as grond
van ons geregtigheid wil nie sê dat goeie werke onbelangrik is
nie. Nadat die Kategismus alle eie roem uitgesluit het, wys hy
daarop dat God die goeie werke tog wil beloon. Dit ly ons tot die
tweede punt: die goeie werke word uit genade beloon. Ek word op
my eie plek gesit, nie om my onverskillig of passief te maak nie,
maar om my aan te spoor tot egte goeie werke, tot werke wat uit
die geloof voortkom.

Van die geloofswerke hoor ons dat God hulle wil
beloon. Hulle is nie ydel in die Here nie. Ons lees bv in Rom 2:6-8:
"(God) wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur
volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid
soek – die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die
waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is
– grimmigheid en toorn." In sy Bergrede praat Christus
herhaaldelik oor loon. "Salig is julle wanneer die mense
julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle
spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon
groot is in die hemele." Beide die Ou en die Nuwe Testament
praat van die beloning van goeie werke.

Dit kan my weer onrustig maak. Tot nou toe het
ek gehoor dat ek die vryspraak gratis kry, sonder enige
verdienste van my kant. Maar nou hoor ek van ’n beloning van
goeie werke. God wil hulle beloon in hierdie en die toekomstige
lewe. Beteken dit dan tog dat meer van my verlang word as geloof
alleen, dat ek tog eers op ’n bepaalde wyse die guns van die
Here moet verdien?

Aanvanklik lyk so ’n konklusie logies.
Maar as ek besef wat goeie werke is dan blyk dit anders te wees.
Goeie werke is geloofswerke, werke wat slegs uit ’n ware
geloof en tot God se eer gedoen word. Ek sou geen goeie werk kan
doen sonder dat God eers die geloof in my bewerk het nie en
sonder dat Hy my eers in Christus geregverdig het nie. Die werke
kan dus onmoontlik saamtel by my regverdiging. Ek is reeds
aangeneem en vrygespreek voordat daar sprake kan wees van goeie
werke.

As God dan die werke gaan beloon dan is dit nie
uit verdienste nie, maar uit genade. Ek is by die Here geen
loonarbeider nie, maar ’n kind wat tot liefdediens
aangespoor word. God het my tot mede-erfgenaam van Christus
gemaak. Daarby is niks waarop ek kan roem nie. En Hy gee my sy
Gees waardeur ek vernuwe word. As ek dan tekens van vernuwing
toon, geloofswerke, kan ek dan aanspraak maak op verdiende loon?
Ek het slegs gedoen wat God se Gees in my bewerk het en ek het
die werke van die Gees juis deur my sonde besmet. Wat ek aan
goeie werke gedoen het stel my juis skuldig teenoor die Here.
Daarvoor is ek aan Hom dank verskuldig. "Want dit is God wat
in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13)."

Ons belydenis trek hieruit die pragtige
konklusie dat God deur sy genade sy eie gawe bekroon (art 24 NGB).
Die goeie werke is God se eie werk in my. Bowendien, is ek die
wettige eiendom van Christus, vrygekoop met sy kosbare bloed. My
hele lewe is van Hom en moet dus vir Hom wees. As God die werke
beloon dan bekroon Hy dus sy eie gawes

Waarom praat die Bybel dan steeds van beloning
as daar tog geen sprake is van verdienste nie? Is dit nie beter
om die woorde "loon" en "vergelding" te vermy
om misverstande te voorkom nie? Die Joodse vergeldingsleer kan
sulke terme sommer annekseer. So ook ons humanistiese neiging om
te roem in eie prestasies of verdienste.

Broeders en susters, ondanks die gevaar van
misbruik skroom Christus nie om die woorde te handhaaf nie.
Waarom? Om ons te bemoedig. Die Here wil hê dat ek Hom heeltemal
vertrou. Hy het my baie belowe. Maar ek sien hoegenaamd niks
daarvan nie. Geen enkele prognose wys op die koms van die nuwe
hemel en nuwe aarde nie. In die harde werklikheid van die lewe
vind ek geen aanknopingspunte vir wat aan my beloof is nie. Dis
my moeite. God se beloftes is sterk, maar my geloof is dikwels
swak. Dit word dubbel so moeilik as ek vir die beloftes offers
moet bring.

Moses het sy glorieuse toekoms as Egiptiese
prins daarvoor opgeoffer. Baie gelowiges het hul lewe daarvoor
gegee. Dit kan alleen as ons alles van God se beloftes verwag.
Daarby wil die Here ons nou help. Om my aan te moedig sê Hy: glo
my woord. Vertrou daarop. Jou offers is nie verniet nie. Dit word
beloon, vergeld. Nie slegs in hierdie lewe nie, maar ook in die
toekomstige lewe. Wil u voorbeelde hê? Wel, deur gewoon te doen
wat God vra ontvang jy rus en vrede vir jou siel. Deur die
eredienste te besoek en jou oop te stel vir skriftuurlike
prediking word jou blik weer verruim, ontvang jy weer nuwe moed
en kragte om vir die Here te lewe.

Broeders en susters, uit alles blyk dat die
goeie werke vrugte van die geloof is. Dit is die 3e punt. Die
ware geloof laat ’n mens weergebore word, lees ons in art 24
NGB. Ons word tot nuwe mense gemaak. Christus is dan lewe van my
lewe. Die geloof maak my immers een met Christus. So put ek nuwe
kragte uit Hom.

Dit behoort tot die aard van die ware geloof
dat dit ons bring tot die doen van goeie werke. Uit myself is ek
onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad. Maar God se
genade keer my lewe om. Ek begin in nuwe gehoorsaamheid te lewe.
Met krag word die gedagte afgewys dat die leer van die
regverdiging deur die geloof die mense onverskillig en roekeloos
maak. Mense het dikwels gedink dat die leer van genade alleen
lewensgevaarlik is. Hul redeneer dan: as die werke nie meer nodig
is vir die heil nie, waarom sou ’n mens hom nog bekommer om
goeie werke te doen? Dan kan hy mos rustig voortgaan met sy sonde?
Dit tel tog nie saam nie. Wie so praat het niks verstaan van die
vryspraak uit genade nie. Die vryspraak doof die vuur nie.
Inteendeel! Die vuur word juis daardeur aangesteek. Daardeur
ontstaan die ywer om te stry teen die sonde en om te jaag na die
volmaaktheid. Dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n
ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid
sal voortbring nie.

Gemeente, daar is mense wat graag wil hoor hoe
alles presies gedoen moet word. Hulle wil duidelik en in
besonderhede hoor: dit moet jy doen en dit mag jy nie doen nie.
Die vraag is egter: wat soort mense kry jy dan? Dankbare kinders
of onmondige slawe? En wat soort werke kry jy dan? Werklik goeie
werke, werke as vrug van die geloof? Die stimulans tot die doen
van goeie werke is nie: gebod op gebod en reël op reël nie. So
belas ons mense met iets wat hulle nie kan vervul nie. Hulle gaan
daaraan kapot. Die enigste en beste stimulans is: God se genade:
Hy het jou verlos en aan jou welgedaan.

Sien op na Jesus Christus, aanvaar Hom as jou
geregtigheid en heiligheid. Hy is immers die vervulling van die
wet en die profete. Dit beteken dat as jy nou na die wet en die
profete wil kyk jy via Jesus Christus daarna moet kyk. Fokus op
Jesus Christus, dan val ondraaglike laste van jou af en dan word
die las lig. Dink maar aan die uitnodigende woorde van Jesus in
Mt 11:28-30: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is,
en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind
vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig." As ek
weet dat Christus die las van die wet reeds vir my gedra het, dan
is die wet vir my geen las meer nie, dan is dit my lus en lewe om
volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Ek is immers
reeds in Christus voor God geregverdig en ’n erfgenaam van
die ewige lewe!

Laat ons dit dan in die praktyk bring. Wys
mekaar op die rykdom van God se genade in Jesus Christus. Dink
self voortdurend daaraan. As jy aangeveg word, as jy die neiging
het om kwaad te doen, besef dan wie jy is, ja, wat Jesus Christus
vir jou is, wat Hy vir jou gedoen het. Dan los jy dit. Dan wil jy
dit nie meer nie. Dan hervind jy jouself weer. En jy kry ’n
afkeer van die kwade.

Broeders en susters, seuns en dogters, sien so
die ryke lewe wat opbloei vanuit die genade in Christus. Waar
Christus die begin en die einde is, waar alles genade is, daar
kwyn die Christelike lewe nie weg nie. Daar bloei die lewe juis
op. Julle wat glo mag weer aan die werk. Nee, nie om daarmee God
se guns te verwerf nie. Gelukkig nie. Dan was daar geen toekoms
nie. Julle wat glo mag aan die werk as God se verloste kinders.
God het reeds alles reg gemaak. Julle is gered. Die genade staan
voorop. Die genade oorweldig my hele lewe. Kan ek dan nog
onverskillig en roekeloos lewe? Kan ek dan nog passief bly?
Onmoontlik!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)