Paulus se oproep om trou vir die Here te lewe. Paulus sê

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-22
Teks: 
Filippense 2
Preek Inhoud: 

Filippense 2:12,13

Ds C Kleyn - Sondag 22
Augustus 1999

Lees: Filippense 1:27-2:18.
Sing: Ps 66:1,2; Ps 66:7,9; Ps 84:3,6
(na kollekte); Ps 89:6,7; Ps 138:1,4.

Tema: Paulus se oproep
om trou vir die Here te lewe. Paulus sê:

  1. Werk julle eie heil uit
  2. Want dit is God wat in julle werk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit blyk steeds weer moeilik te wees om God se
werk van verlossing en ons werke saam te bring. Ons is deur
genade alleen gered. Dit beteken: God doen alles. Op geen enkele
manier kan ek bydra tot my saligheid nie. Dit is ’n vrye
gawe van God. Ontvang deur die geloof. Ek hoef slegs te glo en
dan het ek die heil in Christus.

Maar hoe is dit dan met al die aansporings en
bevele uit die Skrifte? Waar pas hulle in? Is dit nie teenstrydig
nie om te sê: God doen alles en tegelykertyd te sê jy moet dit
of dat doen? Die Here Jesus waarborg die verlossing vir elkeen
wat glo. Tog word ons aangespoor om allerlei dinge te doen. Neem
dit nie ons sekerheid weg nie?

Gemeente, ons teks kan ons help om die dinge in
die regte perspektief te sien. Daar word die misterie van God se
aksie en ons aksie in een sin genoem. "Werk julle eie heil
uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te
wil sowel as om te werk na sy welbehae." Wat bedoel Paulus
met die woorde?

Ek verkondig u: Paulus se oproep om trou vir
die Here te lewe. Paulus sê:

  1. Werk julle eie heil uit
  2. Want dit is God wat in julle werk

Werk julle eie heil uit. Beteken dit dat ek dan
tog my eie heil moet bewerk, dat ek my heil uiteindelik tog self
tot stand moet bring? Dis onmoontlik dat Paulus dit bedoel. Dit
sou in stryd wees met die evangelie wat hy elders so duidelik
verkondig. Dink maar aan Fil 1:29 waar Paulus skryf: "omdat
dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie
alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly". Om te glo
is dus iets wat genadiglik aan my gegee is. Deur geloof is ek
gered. Maar selfs die geloof is iets wat ek uit genade ontvang.
Daarom kan die woorde van die teks nie beteken dat ons ons eie
heil sou moet gaan verdien en bewerk nie.

Trouens, in hoofstuk 3 wys Paulus so ’n
gedagte ook radikaal af. Daar skryf Paulus dat hy al sy eie
prestasies as skade en as drek geag het. Waarom? "Om
Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my
geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met …die
geregtigheid wat uit God is deur die geloof (3:9). Paulus besef
dat hy met sy eie prestasies niks sal bereik nie. Hy is heeltemal
afhanklik van die geregtigheid wat God aan hom gee.

Maar as Paulus nie bedoel dat ons ons eie heil
moet bewerk nie, wat bedoel Paulus dan wel met die woorde: werk
julle eie heil uit? Dit beteken dat ek as gelowige die heil na
die einde moet voer, dat ek in al sy konsekwensies moet deurvoer
en toepas wat God reeds in beginsel aan my gegee het. Die
veronderstelling is dat Paulus se lesers reeds deel het aan die
heil. Die heil is nie iets wat nog bereik moet word nie. Dit is
’n besit wat steeds meer en meer ontdek, geniet en getoon
moet word. Vergelyk dit maar met die advies wat gegee word aan
pas getroudes: Bly werk aan julle huwelik. Die huwelik is daar
reeds as ’n werklikheid. Tog moet hulle aan die huwelik bly
werk om dit verder te ontwikkel, te geniet en tot uitdrukking te
bring. So moet ek as gelowige die heil, wat ek reeds besit, in
praktyk bring, ontwikkel, geniet. Ek moet in my lewe laat blyk
dat ek gered is.

Hoe doen ek dit? Paulus het dit duidelik gemaak
in die woorde wat aan die teks voorafgaan. Neem hoofstuk 1:27:
gedra julle waardig die evangelie van Christus … dat julle
in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof
van die evangelie. Of hoofstuk 2:1-11: Maak dan my blydskap
volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een
van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele
eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as
homself. Paulus spoor ons vervolgens aan om dieselfde gesindheid
te toon wat ook in Christus Jesus was, wat alles vir ons oorgehad
het om ons sondaars te red.

Hoe werk ek my eie heil uit? Deur myself te
gedra waardig die evangelie. Deur vas te staan in een gees. Deur
een van siel te wees. Deur dinge nie uit selfsug of eersug te
doen nie. Samevattend, ek werk my eie heil uit deur ooreenkomstig
die evangelie te lewe, deur die gesindheid van Christus te laat
sien.

Die Filippense het al ’n begin daarmee
gemaak. Paulus skryf in vers 12 "soos julle altyd gehoorsaam
gewees het". Hulle was gehoorsaam aan die woord van God.
Gehoorsaamheid het hul lewe gekenmerk. Dit moet die lewe van elke
Christen kenmerk. Die Christen moet immers die beeld van Christus
vertoon. Wat was kenmerkend van Christus se lewe op aarde?
Gehoorsaamheid aan die Vader, selfs tot die dood aan die kruis.

Wel, sê Paulus, gaan daarmee voort, voer dit
deur na die einde. Ook in my afwesigheid. Ja, selfs baie meer in
my afwesigheid. Wys dat julle God gehoorsaam, nie slegs ter wille
van my nie, maar ter wille van God self, uit geloof en liefde.
Die gevaar is immers aanwesig dat ek God gehoorsaam ter wille van
mense, ter wille van my ouers, my leiers, my voorgangers. Dit kan
gebeur dat ek nie die durf het om nie gehoorsaam te wees nie
omdat ek bang is vir die reaksie van mense. As ek egter op my eie
bene staan dan wys ek hoe ek werklik is, waarom ek gehoorsaam is,
of ek dit doen uit liefde vir God of ter wille van mense.

Werk julle eie heil uit. Na die teks vervolg
Paulus: doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle
onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te
midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn
soos ligte in die wêreld deurdat julle die woord van die lewe
vashou (vers 14-16).

Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.
Moet ek bang wees vir die Here Jesus? Moet ek voortdurend bevrees
wees oor hoe die Here my sal ontvang? Hierdie soort vrees kan
nodig wees. Dit kan wees dat ek die dag van die Here met
verskrikking in die oë moet kyk. Dis die geval wanneer ek bly
weier om die Here te gehoorsaam.

In die teks is dit egter nie Paulus se
bedoeling om ons onseker of bang te maak aangaande die vraag hoe
die Here ons sal ontvang nie. Kyk maar na wat Paulus van die
gelowiges sê in Rom 8:15: "Want julle het nie ontvang
’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het
ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep:
Abba, Vader!" Paulus praat dus nie oor slaafse vrees, ’n
bang wees vir die Here nie. Hoe kan ek bang wees vir my Here as
ek weet dat Hy Hom vir my verneder het tot die dood van die kruis
om my te red van die oordeel van God. As ek in Hom glo dan mag ek
Hom sonder verskrikking, vol vertroue verwag.

Waarom dan die woorde: met vrees en bewing? Met
die woorde wil Paulus die erns van die saak benadruk. Ek moet
erns maak om my eie heil uit te werk. Ek moet die saak met groot
sorg behartig. Ek lewe immers in die teenwoordigheid van God
almagtig, my Verlosser. Sulke vrees en bewing het dus niks te
doen met onsekerheid oor my heil nie. Dit is eerder ’n saak
van gepaste eerbied vir die Here God in wie se teenwoordigheid ek
verkeer. Dit is die houding van ’n kind teenoor sy ouers.
Gewoonlik verberg ’n kind hom nie vir sy ouers uit vrees vir
straf nie. Gewoonlik vertrou ’n kind sy ouers en is hy lief
vir hulle. Gewoonlik voel ek my as kind juis geborge by my ouers.
Daarom wil ek ook liewer niks doen wat hulle verdrietig maak nie.
Ek wil my bes doen om hulle gehoorsaam te wees omdat ek hulle so
liefhet en hoë agting vir hulle het.

Wel, dit is wat Paulus ons voorhou as hy sê
dat ons ons eie heil moet uitwerk met vrees en bewing. Hy wil hê
dat ons die gepaste eerbied en ontsag vir ons God en Vader wys.
Ek neem sy woorde ernstig op. Met groot sorg probeer ek ’n
lewe te lei wat Hom behaag. Ek wil Hom nie beledig nie. Deur
Christus mag ek as kind by Hom tuis wees. Tuis, waar alles van sy
liefde spreek. Wat ’n weelde! Ek wil dan niks anders doen
nie as om Hom te behaag. En wanneer ek Hom beledig, Hom verdriet
aandoen, dan voel ek my ook sleg daaroor en bely ek my sondes. Ek
wil dit beslis nie weer doen nie. Daarom doen ek ook alles in my
vermoë om dit te voorkom. Ek is waaksaam en versigtig. Ek kry
liewer self seer as dat ek my hemelse Vader seermaak. Ja,
gemeente, dit is wat dit beteken om julle eie heil uit te werk
met vrees en bewing. Let op hoe julle lewe. Julle kan immers nie
geniet van die vrede met God wanneer julle agterlosig lewe nie.

Ja, gemeente, ons kan soms baie konsensieus en
aktief wees om iets te bereik hier op aarde. Ons is bereid om
groot inspanning en sorg te bestee aan ons opleiding, beroep,
bedryf, huis of stokperdjie. Ons is selfs bereid om ons aande en
vrye tyd daaraan op te offer. Maar, broeders en susters, is ons
bereid om dieselfde te doen om ons eie heil uit te werk? Hoe
anders sou die kerk, sou ons Christene daar uitsien as ons almal
die woorde van die teks ernstig sou neem: werk julle eie heil uit
met vrees en bewing. ’n Agterlosige lewe, sondes, beledig
die Here God. En ons lewe almal in God se teenwoordigheid.
Wanneer ek vir God ontsag het dan kan ek nie dag na dag, jaar na
jaar deurgaan met praktyke waarvan ek weet dat die Here daaroor
nie bly is nie. Dan kom ek sover om te sê: ek mag en ek kan dit
nie langer doen nie. Ek sal opstaan en na my Vader gaan en sê:
ek het teen U gesondig. Dan soek ek vergewing deur Christus se
bloed. En Vader sal met vreugde die vergewing gee. Dan bekeer ek
my van my sondes. Dan gaan ek voort om my heil uit te werk met
vrees en bewing.

Daarby kan ek nie gaan leun op myself, op my
eie krag nie, maar op God. Want dit is God wat kragte gee. Paulus
se opdrag is nie maklik nie. Dit vereis groot inspanning. Die
taak is net so moeilik as wat dit vir ’n invalide is om op
te staan en te wandel. Wie is daartoe in staat? Paulus gee sy
bevel om julle eie heil uit te werk omdat hy weet dat dit God
self is wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy
welbehae. So kom ons uit by die tweede punt. Die tema van die
preek was: Paulus se oproep om trou vir die Here te lewe. In die
eerste punt het ons stilgestaan by Paulus se woorde: werk julle
eie heil uit. Nou wil ons in die tweede punt let op die woorde:
want dit is God wat in julle werk.

Is daardie twee dinge nie met mekaar in stryd
nie? Werk julle eie heil uit – julle moet dus self werk
– want dit is God wat in julle werk – God doen alles.
Sluit die een die ander nie uit nie? Paulus laat sien dat albei
gewoon bymekaar behoort. Waar God sy heil in my werk daar sit Hy
my ook aan die werk om my heil uit te werk. God is in sy
verlossingswerk so groot dat Hy alles doen terwyl Hy tegelykertyd
my heeltemal daarby betrek.

Gestel dat ’n pa saam met sy jong seun
gaan bergklim. Hulle moet ’n rivier oorsteek. Die enigste
manier om oorkant die rivier te kom is oor ’n boomstam wat
oor die rivier geval het. Die seun durf egter nie oor die stam te
loop nie. Hy is bang. Daarom moedig sy pa hom aan met die woorde:
wees nie bang nie, loop rustig daaroor heen, niks sal gebeur nie,
ek sal jou wel vashou. Die knaap het volle vertroue in sy pa en
aanvaar die uitdaging. Hy hou aan sy pa vas en steek die rivier
oor. Let daarop dat die pa gesê het: loop rustig daaroor heen,
ek sal jou vashou. "Ek sal jou vashou" gee die grond
aan vir die woorde: "loop rustig daaroor heen."

Op ’n vergelykbare manier gee die woorde
van die teks: "want dit is God wat in julle werk" die
basis vir die bevel: "werk julle eie heil uit". Beskou
die twee sinne nie as teenstrydig nie. Doen gewoon wat God van
jou vra. Vertrou jouself toe aan Hom wat sê: dit is Ek wat in
julle werk. Ek sal in jou werk wat jy moet doen. Dit word gesê
vir gelowiges, vir hulle wat op God se beloftes vertrou.

Dit is God wat in julle werk. Die teks sê dat
God nou, in die teenwoordige tyd in julle werk. Hy werk
voortdurend in my, van uur tot uur, van dag tot dag, van jaar tot
jaar. Dit is nie so dat God alles aan die gang sit en dan die res
aan my oorlaat nie. Nee, God bly in my werk. "Om te wil
sowel as om te werk". By elke aksie is daar twee aspekte:
die wil en die daad. Een van die twee is dikwels ons val. Ons kan
onsself nie sover kry om te kies wat ons weet ons sou moet kies
nie, of, as ons wel goed gekies het, bly ons in gebreke om dit te
doen. Sonde het beide die krag om te kies en die krag om te
volbring bederf. Maar God werk in ons om te wil sowel as om te
werk. Hy herskep my wil en gee my krag om dinge te doen.

Dis soos ons bely met die DL hfst 3&4 par
11 "In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil,
wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was,
gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en
versterk die wil sodat dit, soos ’n goeie boom, vrugte van
goeie werke kan dra." God maak my gewillig en bekwaam.

Maar waarom doen die Here dit? Werk God slegs
daar waar Hy ’n positiewe reaksie ontvang? Werk Hy slegs
daar waar vooruitgang te sien is? Werk Hy slegs daar waar ons dit
werklik van Hom begeer? Gelukkig nie. Want dan sou nie een van
ons enige hoop hê om die doel te bereik nie. God doen dit omdat
Hy dit wil doen. Dit is sy vrye keuse, na sy welbehae. Niks kan
sy voortgaande werk in ons stop nie. Hy bly deurgaan met sy werk
van verlossing. Hy laat nie vaar die werke van sy hande nie.
Hulle wat deur geloof aan Christus behoort mag reken op die
deurgaande werk van God. Hy sal sy werk in my voltooi. Sy
verkiesende liefde dwing Hom om my gewillig en bekwaam te maak om
vir Hom te lewe.

Maar as God alles doen, waarom dan die bevel:
werk julle heil uit? Dit is omdat God ’n deeglike en
volledige werk doen wanneer Hy sy plan van verlossing uitvoer. Hy
stuur sy Gees. Hy maak van my ’n nuwe persoon. En die Gees
werk so radikaal in my dat ek werklik so wil lewe en dat die nuwe
lewe werklik my lewe is. Hy werk so radikaal dat ek self in aksie
kom. Tydens hierdie lewe bly dit ’n saak van val en opstaan.
Maar God se Gees is al besig om ’n nuwe begin te maak. Hy
begin met die magtige werk van verlossing waardeur ek self weer
begin om te wil en te werk.

Daarom is dit onmoontlik dat ek gered is sonder
dat ek self ook in aksie kom. Om te wil en te werk is onmisbaar.
Waarom? Omdat God in sy verlossingswerk nooit halwe werk doen nie.
God doen ’n volledige werk. Hy vernuwe tot in my hart.
Daarom kan Paulus hom so sterk uitspreek: werk julle eie heil uit.
Hy sê dit omdat God se werk van verlossing volkome is. Omdat dit
God is wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy
welbehae. Alleen op die manier wil Hy julle lei na die volkome
heil. As ek dit anders wil hê, dan is ek besig om God se
verlossingswerk op te breek in twee dele. Ek wil dan een deel hê,
naamlik die vergewing van sondes, maar nie die ander deel nie,
naamlik die heiligmaking, die vernuwing deur sy Gees.

Miskien lyk dit aantreklik om slegs die een
deel te aanvaar. Dit is egter onmoontlik. Gelukkig maar. Want as
dit moontlik sou wees dan sou God se verlossingswerk nie half so
mooi wees as wat nou die geval is nie. Dan sou ek immers net so
sondig bly as altyd. Maar God red ons nie op so ’n
oppervlakkige manier nie. Hy doen ’n volkome werk.

Hier sien u gemeente, dat u in die werk van
verlossing nêrens kom met u menslike logika nie. Menslike logika
redeneer: as God alles doen is daar niks vir my oor om te doen
nie. As God my deur genade alleen red dan word daar niks van my
kant verwag nie.

Die geloof praat anders. Die geloof sê: as
alles God se werk is, as Hy in my werk om te wil en te werk, dan
kan ek nie onaktief bly nie. Dan is my werk des te belangriker.
As God in my werk om te wil en te werk, hoe sou ek dan onwillig
en passief bly? Nee, dan kom ek in aksie. Dan hoef ek my nie
blind te staar op my onvolmaakte wil en my klein kragte nie. Dan
sal ek my gewoon beywer om te doen wat ek moet doen, my
toevertrouend aan God wat in my werk. Dan sal ek my gedra waardig
die evangelie van Christus. Dan sal ons vasstaan in een gees. Hoe
kan dit ook anders! Dit is immers God self wat in ons werk.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)