God regverdig sondaars

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Preek Inhoud: 

Sondag 23

Ds C Kleyn - Sondag 22
Augustus 1999

Lees: Romeine 3:9-31; Sondag 23.
Sing: Ps 130:1,2; Ps 9:7,8; Ps
143:1,2,8,9; Ps 36:2,3; Ps 130:3,4.

Tema: God regverdig
sondaars:

  1. Ondanks hul sondes
  2. Danksy Christus se verdienste

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Met Sondag 23 maak ons die balans op. In die
vorige sondae het die belofte van die evangelie ter sprake gekom.
Sondag 7 beantwoord immers die vraag: "Wat moet ’n
Christen glo?" met die volgende antwoord: "Alles wat in
die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons
algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer."

In die vorige sondag het ons klaargekom met die
behandeling van die artikels van ons algemeen Christelik geloof
– die apostoliese geloofsbelydenis. Sondag 23 gryp daarop
terug as daar gevra word: Maar wat baat dit jou dat jy dit alles
glo? Watter voordeel bring dit jou dat jy die belofte van die
evangelie soos dit saamgevat is in die apostoliese
geloofsbelydenis glo? Wat help dit jou dat jy glo in die drie-enige
God: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees?

Baie mense het moeite met die vraag: wat baat
die geloof. Jong mense twyfel dikwels aan die oënskynlike
voordeel van die geloof. Die lewe sonder geloof lyk aantreklik en
voordelig. Baie ongelowiges geniet van ’n welvarende lewe,
terwyl gelowiges soms baie moeites ondervind. Wat baat jou geloof
jou by die skool? Gaan jou studie daardeur makliker word? Kan jy
daardeur beter punte kry? Watter voordeel gee jou geloof jou by
die werk, in die bedryfslewe of in die maatskaplike lewe? As jy
konsekwent jou geloof bely en uitleef, dan kan dit jou juis baie
kos. Dit kan jou populariteit skaad, dit kan jou jou werk laat
verloor. Dit kos bowendien baie geld en tyd en die ontbering van
wêreldse plesier. Jy kan immers nie deelneem aan wêreldse
vermaak waarin God en sy skepsele onteer word nie. Oënskynlik
baat dit jou hier op aarde bitter min dat jy glo. Vandaar dat
steeds meer mense dit dwaas vind om konsekwent volgens die
Skrifte te glo. Dit sou slegs verlies oplewer.

So het ook die vrou van Job gedink. Toe Job
alles verloor het en hy vol swere in die as gesit het, toe het sy
vrou vir hom gesê: volhard jy nog in jou vroomheid? Seën,
oftewel, vervloek God en sterf! (Job 2:9). So praat ’n mens
wat slegs sien op wat voor oë is. En hy of sy kan dit bes
moeilik vir ons maak deur te wys op die gebrek aan sigbare
voordeel. So probeer Satan jong en oue mense van God af te trek.
Kyk maar om jou heen, bly Satan sê, jy het daar tog geen baat by
nie.

Broeders en susters, laat satan u nie verblind
deur sy nadruk op sigbare en tydelike voordeel nie. Wees nie
kortsigtig nie. Hou oog vir die volle werklikheid soos God dit
aan jou voorhou. As jy jou oë laat open deur die Here, dan sien
jy baie meer en baie verder as wat hier op aarde gesien en gevoel
kan word. So moes Asaf in Ps 73 bely dat hy dom was en niks
geweet het nie toe hy gekla het oor die voorspoed van die
goddeloses en die sinloosheid van die geloof. Dit lig het by hom
deurgebreek toe hy in die heiligdomme van God ingegaan het. Toe
kon hy weer roem in sy regverdige God wat altyd naby die is wat
Hom vrees terwyl Hy die goddeloses straf.

Gemeente, die geloof is nie afhanklik van
sigbare voordeel nie. As gelowige weet ek dat ek in feite alles
moet verloor om alles te kan ontvang. Om Christus te volg beteken
immers dat ek myself moet verloën. Tog is daar op die pad
uiteindelik groot beloning. Die Kat wys daarop en noem dit ’n
blywende voordeel dat ek in Christus voor God geregverdig is en
’n erfgenaam van die ewige lewe.

Laat ons dit nader uitwerk as ek aan u
verkondig: God se regverdiging van sondaars deur die geloof.

God regverdig sondaars:

  1. Ondanks hul sondes
  2. Danksy Christus se verdienste

Die voordeel van die geloof is: dat ek in
Christus voor God geregverdig en ’n erfgenaam van die ewige
lewe is. Gemeente, by die woorde moet u dink aan ’n
regterlike handeling van God. Elkeen moet voor God se regterstoel
verskyn. Nie slegs na sy sterwe nie. Reeds hier en nou, onder die
prediking van die evangelie het ek met God se regspraak te doen.
Hier staan die setels van die reg. Hier val reeds die beslissings.

Wel, as ek voor God verskyn, dan gaan God
oordeel. Hy gaan sy vonnis uitspreek. Hoe lui die goddelike
uitspraak ten opsigte van die gelowige? U is vry. Ek vind by u
geen skuld nie. U het as gevolg daarvan reg op die ewige lewe.

Dis ongelooflik! ’n Wonder van God se
genade. Is ek vry van skuld en straf? Het ek reg op die ewige
lewe? Vergis God Hom nie? Geld dan nie die woorde van Rom 3 nie:
"Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat
God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard.
Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie."
(Rom 3:11,12). En het God die wet nie gegee sodat elke mond
gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees nie (vers
19)? Die wet laat ons immers ons sonde ken. Luister maar na die
aanklag van my gewete wat deur God se wet gevorm is. Die
Christelike gewete bely: ek het teen al die gebooie van God swaar
gesondig. Dis geen kleinigheid nie. Teen al die gebooie swaar
gesondig. Die aanklag van my gewete is vernietigend. Ek het al
die gebooie oortree. Ek het gedoen wat ek nie mog doen nie, wat
nie pas by my mens wees as beeld van God nie. En dit nie slegs so
nou en dan nie. Dit was geen onskuldige vergissings nie. Nee, dit
het my hele lewe gekenmerk.

Is die vonnis van my gewete nie oordrewe nie?
Het ek werklik teen al die gebooie van God swaar gesondig? Ek lei
tog ’n netjiese lewe? Dit is vir ons moeilik om die waarheid
van die vonnis skerp in beeld te kry. Ons besef dikwels maar min
hoe swaar ons gesondig het. Die gebrek aan sonde-besef is
moontlik een van die grootste kwale van ons tyd. As ek egter die
diepte van my sonde nie sien nie, dan word die genade vir my maar
’n oppervlakkige en goedkoop saak. Genade is egter nie
goedkoop nie. Laat die Woord van God u lewe belig. Dan sien ek my
sondes baie skerp raak. God vra die liefde van my hart in volle
toewyding aan Hom. Wat bring ek daarvan tereg? Ek is geskape na
God se beeld om Sy heerlikheid in alles uit te straal. Wat sien
ons van die uitstraling van goddelike heerlikheid?

Wil u, broeders en susters, iets van die
swaarte van u sonde sien, let dan maar op die oorspronklike
heerlikheid. Kyk in die lig na die wet. Die eerste gebod: stel ek
werklik my vertroue vir 100% op die Here alleen? Soek ek openlik
of heimlik ook nie my sekerhede êrens anders nie? Die tweede
gebod: dien ek die Here werklik alleen op ’n manier soos Hy
dit wens? Is dit nie dikwels so dat ek Hom dien op ’n manier
wat vir my die beste pas nie? Die derde gebod: Hou ek sy Naam en
dus ook sy woorde altyd en oral hoog, ook die woorde wat my nie
so pas nie? Die vierde gebod: wy ek die rusdag werklik aan die
Here of is dit tog dikwels ’n dag vir myself? Die vyfde
gebod: bewys ek werklik aan my ouers en aan alle gesagsdraers
alle eer, liefde en trou en onderwerp ek my altyd met die
verskuldigde gehoorsaamheid? So kan ons bly verder gaan met al
die gebooie.

As ek eerlik teenoor God se wet is, dan bly
daar van my niks oor nie. My mond vol grootspraak word toegestop.
Dit word baie ernstig. Ek het inderdaad teen al die gebooie van
God swaar gesondig. Baie wat ek gedoen het, was ’n berekende
gehoorsaamheid waarby ekself uiteindelik tog weer in die
middelpunt gestaan het in plaas van God, wiens heerlikheid ek
moet uitstraal. Let maar op my optrede tuis in die gesin of
huwelik. Let maar op my publieke houding en gedrag. Ek het baie
gedoen wat ek nie mog doen nie, in gedagte, woorde en werke. En
nie alleen dit nie, ek het ook nie een van God se gebooie gehou
nie. Ek het nagelaat om te doen wat God wel van my gevra het.
Positiewe gehoorsaamheid aan die wil van God het ontbreek. Aan
die ware liefdediens aan God het ek nie toegekom nie. Verkeerde
gedagtes en motiewe het my beste werke beklad.

En wat nog erger is: Ek is nog gedurigdeur tot
alle kwaad geneig. Tot in die wortel van my bestaan is ek bedorwe.
Is dit oordrewe? Kyk maar na my terugkerende sondes. Ek wil
myself bedwing en nie weer die slegte eienskappe vertoon nie.
Maar voordat ek dit besef, val ek weer. Negatiewe of haatlike
gedagtes of woorde kom sommer weer bo. Soms skrik ek van myself,
van my gedagtes, woorde en dade. Hoe kon ek sulke dinge dink, sê
of doen? Die neiging tot alle kwaad blyk steeds ’n
werklikheid. Ek dank God dat Hy die neiging by my steeds tem
sodat die ergste nie tot uiting kom of in dade omgesit word nie.
Hy weerhou my gelukkig en vernuwe my deur sy Gees.

Gemeente, as ek die drievoudige aanklag hoor:
ek het gedoen wat God verbied het, ek het nagelaat om te doen wat
God gebied het en ek is nog steeds tot alle kwaad geneig, as ek
die drievoudige aanklag hoor dan kan dit, na die mens gesproke,
nie anders beteken as dat my verskyning voor God ’n
verskrikking moet wees nie. As God my sou moet oordeel na wat ek
uit myself is, dan sou ek niks anders kan verwag as die ewige
doodsvonnis, ewig verderf nie. Ek het niks anders verdien nie.
"As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie
sal bestaan?" Die goddelike regter kan dit nie ontken nie:
ek is die dood skuldig. My skuld is oortuigend bewys.

Tog hoor ek iets anders. Wat ’n
onbegryplike regspraak. Wat ’n wonder van genade. Die vonnis
lui immers: u is vry. Ek verklaar u onskuldig. U mag die lewe
behou. U het reg op die ewige lewe. Gaan in tot my ewige vreugde.

Sondaars word vrygespreek. Sondaars kan verskyn
voor God sonder om verteer te word deur sy brandende toorn. Hulle
kan voor Hom bestaan. Ja, meer as dit: hulle mag ingaan in sy
heerlikheid.

Hoe is dit moontlik? En dit terwyl die
goddelike regter niks oor die hoof sien nie. Alles lê oop en
bloot vir Hom. Hy sien niks deur die vingers nie. Hy sê nie:
julle het wel skuld maar sand daaroor, laat ons nie meer daaroor
praat nie. Nee, Hy is ’n regverdige regter.

Tog spreek Hy sondaars vry. Hoekom? Dit is
slegs moontlik deur die tussenkoms van Christus. Hy tree op as my
advokaat. En wel as ’n baie besondere advokaat. Geen
advokaat hier op aarde sou daaraan dink om tegelykertyd borg te
wees vir die beklaagde wat hy moet verdedig nie. Geen advokaat
sou daaraan dink om die skuld van die beklaagde op homself te
neem nie, laat staan die skuld van die ewige toorn van God.
Christus my advokaat sê egter: Vader, straf my in sy plek.
Christus het hom tot sonde laat maak. Hy het die plek van
sondaars ingeneem. Hy het hul skuld betaal. En nou is Hy in die
hemel as ons pleitbesorger, as ons advokaat wat kan wys op sy
volbragte werk: Vader, die beklaagde daar het teen al u gebooie
swaar gesondig. Ek het egter die straf daarvoor gedra. Ek het die
skuld betaal. Vader, die beklaagde het nie een van u gebooie
gehou nie. Positiewe gehoorsaamheid aan u wil het ontbreek. Ek
het egter in sy plek u wet vervul. Ek het positiewe
gehoorsaamheid volbring. Vader, die beklaagde is nog gedurigdeur
tot alle kwaad geneig. Ek het my egter volkome aan u gewy. My
hart is suiwer op U gerig.

Gemeente, vanweë die getuienis van my advokaat
en borg Jesus Christus verklaar die goddelike regter my vry van
skuld en straf. Hy aanvaar die lewe en sterwe van die borg in my
plek. So bly Hy die regverdige regter ook as Hy hulle regverdig
wat uit die geloof in Jesus is. Hy het die skuld al laat betaal
vir hulle wat in Christus is. Hy het Christus die skuld laat
betaal en Hom daarvoor gestraf. Hul rekening is dus al betaal.

Hy reken my Christus se werk toe asof ek self
al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring
het. Hy doen dit sonder dat daar enige verdienste van my kant is.
Uit louter genade skenk Hy my die volkome genoegdoening,
geregtigheid en heiligheid van Christus. God regverdig dus nie
die beste en deugsame mense wat eers van alles gepresteer het nie.
Hy regverdig goddeloses, sondaars wat bid: o God wees my sondaar
genadig.

En, gemeente, hierdie regverdiging is volkome:
Hy reken my dit toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie,
asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir
my volbring het. Hy behandel my asof ek Christus self is. Hy sien
my aan asof ek my hele lewe ewe suiwer, heilig en gewillig was as
sy Seun Jesus Christus.

So word sondaars geregverdig. Ondanks my
natuurlike skuld – niemand is daarvan vry nie – word ek
tog vrygespreek. Ek mag sonder verskrikking voor my goddelike
regter verskyn. Daarom het die woord van God, wat alle skuilhoeke
van ons hart blootlê, geen verskrikking vir die gelowige nie.
Daarom is die verskyning van die Here vir my nie meer
skrikaanjaand nie. Die gelowige kan bestaan. Want Christus het
voldaan.

Wat baat dit my dat ek glo? Nie dat ek daardeur
beter punte kry nie. Ook nie dat ek daardeur vinniger ’n
geskikte werk kan vind nie. Ook nie dat ek meer aardse voorspoed
kan verwag nie. Jou voordeel is meer as die waardevolste dinge
van hierdie aarde. Naamlik: dat jy voor God vrygespreek word en
reg het op die ewige lewe. Dit is die voordeel wat die geloof vir
jou bring. ’n Onvoorstelbare groot voordeel.

Maar waarom is dit juis die geloof wat die
voordeel bring? Dis omdat die geloof my verbind aan Jesus
Christus. Deur die geloof is ek een met Christus sodat God my as
Christus kan beskou en behandel. Die geloof is die instrument
waardeur ek deel kry aan Christus en al sy weldade. Dit is die
hand waarmee ek die grootste geskenk van alle tye in ontvangs
neem. Hier sit dus geen verdienste by nie. Kan ’n bedelaar
wat sy hand uitsteek om geld in ontvangs te neem, roem in sy eie
verdienste? Sy hand is nie meer as die middel om die gawe in
ontvangs te neem nie. Hier het u die funksie van die geloof. Dit
is om aan te neem. Dit is die weg waarlangs God ons sy gawes gee.
Die hand waarmee ons die gawes dankbaar aanvaar.

Broeders en susters, bly die middel gebruik.
Glo God se troosryke woord. Want in die evangelie kom die
vryspraak na u toe. En elke sondag ontvang u die bediening van
die versoening. Aan u wat glo, word openlik betuig dat al u
sondes in Christus vergewe is. Wil u weet watter voordeel u het
om te glo? Wel hier het u die voordeel: U sondes is vergewe. U
mag die lewe beërwe. Die vloek is van u lewe weggeneem. Jy en ek
mag as ’n regverdige skool en werk toe gaan. Ek lewe onder
God se seën. Dit beteken nie dat ek geen teenslae meer sal
ondervind nie. Maar wel dat God alles tot my heil sal laat dien.
Die ewige ongestoorde vreugde wag op my. Ek is immers erfgenaam
van die ewige lewe. Skatryk!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)