Die algemene Christelike kerk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Sondag 21

Ds C Kleyn - Sondag 8
Augustus 1999

Lees: Efésiërs 4:1-16;
Sondag 21.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 106:1 (voor Heilige Nagmaal); Ps 106:20 (na
Heilige Nagmaal); Ps 122:1,2 (na preek); Ps 84:1,6 (na kollekte).

Thema: die algemene Christelike kerk

  1. as gawe: die Gees bewerk die eenheid van gelowiges;
  2. as opgawe: ons moet die eenheid van die Gees bewaar.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand het ons gekom tot by die belydenis oor die kerk. Daar
word soms gevra: lê ons vrye gereformeerdes nie te veel nadruk
op die kerk nie? Is die kerk wel so belangrik? Waar dit op aankom
is tog die geloof in Jesus Christus? So loop ons mense raak wat
nadruklik verklaar dat hulle werklik glo, maar dat hulle daarby
die kerk nie nodig het nie. Die kerk sou die geloof slegs in die
pad staan. Kyk maar na die sondes en gebreke van die ampsdraers,
die kleinlikhede, die onenighede, die frustrasies in die kerk.
Nee, dan liewers geloof sonder kerk.

Verwant hiermee is die skeiding wat soms gemaak word tussen
die Gees en die kerk. Hulle word soms teenoor mekaar gesit. Die
Gees sou praat van lewe en vryheid. Die kerk sou daarenteen praat
van dooie vorme en gebondenheid. Daarom moet ’n mens volgens
hierdie opvatting die twee nie aan mekaar verbind nie. Die Gees
laat Hom nie bind aan die kerk nie.

Gemeente, die antwoord van die Kategismus is dan wel baie
opvallend. Wanneer die Kategismus praat oor die Heilige Gees en
ons heiligmaking dan word juis as eerste genoem die heilige,
algemene Christelike kerk. Die werk van die Gees het blykbaar
alles te doen met die kerk. Die kerk is die belangrikste werkplek
van die Gees. As ’n mens dan beweer dat daar ’n
teenstelling tussen die Gees en die ware kerk van Christus is,
dan het hy blykbaar min van albei verstaan. Die roem in die Gees
van lewe en vryheid, terwyl die kerk van Christus verag word is
ydele roem. Daaruit blyk immers dat ’n mens nie weet wat die
Gees doen en hoe Hy werk nie. Daaruit blyk ook dat ’n mens
nie weet wat dit beteken om kerk te wees nie. Wie die kerk negeer
trap die Gees op sy hart, ook al roem hy met die mond in Hom.

Maar vergis u nie, gemeente, dieselfde denkfout kan ook gemaak
word deur mense wat wel die kerk in ere wil hou. Dit gebeur as
jou lidmaatskap van die kerk slegs tot ’n uiterlike en
formele aangeleentheid geword het. As jy maar lid van ’n
skrifgetroue kerk is en as jy maar trou jou kerklike verpligtinge
nakom dan sou alles in orde wees. Is dit so? Vergeet dit! As jy
nie tegelykertyd in brand staan vir die Heer van die kerk nie,
dan het jy die kerk gemaak tot ’n dooie instituut, ’n
saak van mense, nie ’n saak van die Gees van Christus nie.
Ook op hierdie wyse word die Gees en die kerk geskei. En ook hier
geld: jy het blykbaar min verstaan van beide die Gees en die kerk.

Laat ons, broeders en susters, dan vashou aan die noue band
tussen die Heilige Gees en die kerk. Dit alleen kan ons wapen
teen ’n dooie ortodoksie, ’n uitwendige erediens sonder
geesdrif en teen die suigkrag van die charismatiese of pinkster
beweging met sy eensydige nadruk op die Gees. Hou jy die band
tussen die Gees en die kerk vas dan kan jy regtig roem in die
Gees en dan eers kan jy werklik kerk wees en bly.

Ek verkondig u: die algemene Christelike kerk

  1. as gawe: die Gees bewerk die eenheid van gelowiges
  2. as opgawe: ons moet die eenheid van die Gees bewaar.

As ons rondom ons kyk dan sien ons baie verskillende kerke.
Dan sien ons baie foute en gebreke van mense. Kerklede en
ampsdraers blyk verre van volmaak te wees. Wat moet ’n mens
dan van die kerk dink? Kan ’n mens wel iets maak met die
kerk in hierdie 20e eeu? Hoe kom ek uit die verwarring uit? Deur
boontoe te kyk. Die kerk is in die eerste plek ’n kwessie
van geloof, van ’n gelowig amen sê op die Woord van God.
Wil jy praat oor die kerk dan mag die feitelike en verworde
situasie nooit die uitgangspunt en norm wees nie. Jy kry die kerk
van benede uit nie te sien nie. As jy jou laat lei deur wat jy
sien en ervaar dan kom jy nooit daaruit nie.

Dit is, gemeente, ’n verdrietige saak dat baie mense hul
laat verblind deur die verworde situasie hier op aarde en dat
hulle deur hul menslike kortsigtigheid die situasie slegs
vererger. Ons sou wens dat die mense meer na bo sou kyk en dat
hulle eers sou luister na wat God oor sy kerk sê. Dan sou die
situasie baie anders daar uitsien. Nou sien ons dat baie mense
hul neerlê by die situasie en hulself en ander in die pad staan
om te kom tot die ware eenheid van Christus se kerk. So gebeur
dit dat dieselfde mense wat kla oor die verdeeldheid van die kerk
self skuldig bly aan die verdeeldheid.

Ek kom alleen uit die verwarring omtrent die kerk as ek na bo
kyk, as ek God self aan die woord laat. Dan eers kom die kerk in
sig en gaan die kerk vir my lewe. Dan word ek bevry van al die
subjektiewe meninge oor die kerk En dan leer ek om te roem in die
werk van die Gees.

In die gelese skrifgedeelte wys Paulus op die eenheid van die
Gees, die eenheid wat die Gees van Christus tot stand gebring het.
Die eenheid van die Gees is ’n gegewenheid in die wêreld,
wat ons nie kan wegredeneer nie. Dit is aanwesig. Dit kan deur
die oog van die geloof gesien word. Die Gees bind mense aan
mekaar deurdat hy hulle saambind aan Jesus Christus. Ons het dit
gesien aan de nagmaals tafel. Dit is een liggaam. Die liggaam van
Christus. Een Gees wat werksaam is en lewend maak. Hoe weet ons
dat dit een Gees is? Wel, daar is ook: een Here, een geloof, een
doop. Hoe kom ’n mens daartoe om die nuwe Heer en Meester
Jesus Christus te volg? Hoe kom ’n mens daartoe om te glo in
Jesus Christus? Dit kan slegs deur die Gees van Christus, die
Gees wat lewend maak. Hy het een geloof bewerk. In die een Here
en een geloof herken jy die een Gees.

Die Gees het ook die een doop gegee, as teken van inlywing in
die Christelike kerk. Die Gees het self die verbinding gelê
tussen geloof en kerk. Dink ook maar aan die sendingbevel van Mt
28: 19 "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en
doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige
Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."
Let daarop: Nadat iemand ’n dissipel van Christus geword het,
’n gelowige, moet hy die doop ontvang as teken van inlywing
in die Christelike kerk en moet hy in die skoot van die kerk
verder leer om alles te onderhou wat Christus beveel het. So is
daar die sigbare vergadering van die kerk wat die Gees wil en wat
die Gees bewerk. Die eenheid van die Gees kan nie verborge bly
nie. Dit is sigbaar in die plaaslike kerk waar die gelowiges
hulle laat vergader rondom woord en sakrament.

Let maar op die wyse waarop die Gees die eenheid bewerk. In Ef
4 word verskillende feesgeskenke van Christus genoem: Gawes het
Hy aan die mense gegee. Hierdie gawes kom van Christus self, maar
ons mag ook praat van geestesgawes. Dit is immers die Gees wat
alle skatte en gawes van Christus na ons toebring. In die lig van
die Skrif mag ons gerus die genoemde gawes ook werke van die
Heilige Gees noem. So is dit ook Christus wat vir Hom ’n
gemeente vergader. Hy doen dit egter deur sy Heilige Gees. Die
Gees bring die gemeente tot stand, al is dit uit Christus en tot
Christus.

Hoe doen die Gees dit? Hoe word die eenheid met Christus en
met mekaar bewerk? Ons lees in hierdie verband van die ampte. Dis
wel baie opvallend. As God praat oor die geestesgawes wat
Christus aan die gemeente geskenk het, dan begin Hy om te sê: En
Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as
evangeliste, ander as herders en leraars. Om die geloof te bewerk
word mense deur die Gees ingeskakel. Hy doen dit nie via ’n
soort bliksemstraal nie, maar via menslike werktuie.

Eers word die tydelike ampte genoem: apostels en profete. Die
kerk word gebou op die getuienis van die apostels en profete,
soos dit nou vasgelê is in die komplete Bybel, die Heilige
Skrifte. Hierdie fondament van die Christelike kerk bepaal en
waarborg die eenheid van die Gees. Die lys van ampte loop uit op
herders en leraars, die plaaslike ampsdraers. Hulle moet op die
fondament verder bou en namens Christus sy gemeente op die
fondament bly vergader en onderhou. Die werk van die Gees staan
nie los van mense, van ampsdraers wat Hy as instrumente gebruik
nie.

So kry ons sig op die plaaslike vergadering onder die leiding
van die plaaslike ampsdraers. Die algemene Christelike kerk is te
sien waar die Gees van Christus die ampte gee en waar Hy die
ampte gebruik om die gelowiges te bring tot die eenheid van die
geloof en van die kennis van die Seun van God (Ef 4:13). Die kerk
is dus geen vae idee nie, maar heel konkreet en tasbaar in
hierdie wêreld. ’n Mens kan die middele wat die Gees
gebruik duidelik aanwys, so ook die eenheid wat die Gees bewerk.

Gemeente, wil u praat oor die kerk dan sal u eers die kerk
moet sien as gawe van God. Die algemene Christelike kerk is
’n werklikheid in die wêreld waarvoor ons dankbaar moet
wees. Dis ’n wonderwerk van God. Dit was daar sedert die
begin van die wêreld en sal tot die einde daar bly. Deur sy Gees
en Woord bly die Seun van God vir Hom ’n gemeente vergader,
beskerm en onderhou. Baie konkreet en aantoonbaar. Hy bring wat
aan Hom behoort tot geloof langs die middellike weg. Hy onderhou
die geloof en rus ons toe vir dienswerk. Hy deel sy skatte en
gawes uit. Daardeur kan ons tot geestelike volwassenheid kom.
"Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe
geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering,
deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot
dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag,
in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus (Ef
4:14,15).

Broeders en susters as u dit hoor dan is dit tog geen vraag
meer of u die kerk wel nodig het nie. U wil tog nie heen en weer
gedryf word deur elke wind van lering nie? U wil tog nie ’n
prooi word van die bedrieëry van die mense wat u met hulle
slinksheid en listigheid tot dwaling wil bring nie? U wil tog die
waarheid betrag? U wil tog die ware geloof behou en opgroei na
Jesus Christus toe? Wel, daarvoor gee Christus sy kerk. Daarvoor
gee Hy die amptelike dienste. In die kerk wil Hy sy skatte en
gawes uitdeel. Hier werk Hy aan die groei van u geloof, hoop en
liefde. Hier, onder die prediking van die evangelie, die
bediening van die versoening, word die rus geskenk, die vrede wat
alle verstand te bowe gaan.

As ek dit weet dan sal ek ook volle erns maak met die kwessie
van kerkkeuse. Dan sal ek daar wil wees waar die ware en volle
evangelie gehoor word, waar gebou word op die een fondament van
die apostoliese leer. As ek weet dat daar in Sion redding is, dan
sou dit tog dwaas wees om Sion te negeer? Ek wil tog nie die
risiko loop om die volle heil te ontgaan nie?

Gemeente, ons het tot nou toe gewys op die kerk as gawe: die
Gees bewerk die eenheid van die gelowiges. Nou wil ons let op die
kerk as opgawe: ons moet die eenheid van die Gees bewaar.

Die kerk is nie staties nie, iets waarin daar geen beweging is
nie. Die Gees bewerk die eenheid. Maar die Gees sit ook mense aan
die werk. Die Gees bring die kerk tot stand. Maar die mense moet
nou ook kerk wees. Paulus skryf hieroor in die begin van Ef 4. In
die voorgaande hoofstukke het Paulus al gewys op die ryke voorreg
van die gelowiges. Hulle is in Christus uitverkies (hfst 1).
Hulle is uit die dood lewend gemaak (hfst 2). Hulle is mede-erfgename
en mededeelgenote aan die belofte in Christus (hfst 3). En nou in
hfst 4 roep Paulus hulle op tot ’n lewe wat aan die heerlike
roeping beantwoord. Adeldom verplig!

"Ek vermaan julle dan," sê Paulus, "om te
wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is." Jou
lewe moet pas by jou nuwe posisie as geroepene van die Here. Dit
beteken dat jy God se naam in woord en daad bely. Jy bly nie
passief nie, maar jy word aktief. ’n Lewende lidmaat van die
kerk. Jy neem jou plek in as deel van die een liggaam van
Christus. Jy wil saam met ander kerk wees.

Paulus noem ’n paar tiperende eienskappe van sulke
lewende lidmate. Nederigheid: jy wil nie steeds die eerste plek
inneem nie, jy weet dat jy self ’n sondaar is wat van
vergewing moet lewe. Sagmoedigheid, minsaam in plaas van brutaal,
rof, ongevoelig, hard. Lankmoedigheid, jy is geduldig. Mekaar in
liefde verdra. Wat doen ek as ek onreg moet verduur, wanneer ek
by die ander dinge opmerk wat my nie aanstaan nie, wanneer mense
teenoor my onhebbelik optree. Paulus sê: ons moet mekaar in
liefde verdra. Ook al is ons as gelowiges een in Christus, daarom
is ons nog nie in alles eens met mekaar nie. Tog moet ons mekaar
in die kerk ondanks die verskille in liefde verdra. Sonder die
liefde werk dit nie. Selfverloënde liefde, wat die goeie vir die
ander soek. Onthou dat daar onder gelowiges meer is wat ons bind
as wat ons skei, naamlik ons eenheid in Christus. Dit is ’n
eenheid wat die Gees bewerk. Dit is ook wat ons bely het aan die
nagmaals tafel.

Die eenheid van die Gees is ’n werklikheid wat jy nie mag
negeer nie. Jy is skatryk in Christus. Is dit nie? Maar jy is nie
die enigste wat in Christus glo en aan Christus se skatte en
gawes deel het nie. En waarom het Christus jou so ryk gemaak? Om
jou te laat swelg in jou eie rykdom? Alles is juis gegee met die
oog op die hele liggaam. Die genadegawes verplig ons om diensbaar
te wees aan die opbou van ander. Let maar op Ef 4. Christus het
die ampsdraers gegee om die heiliges toe te rus vir hulle
dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons
almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van
die Seun van God (vers 12,13).

Dit geld in die eerste plek vir ons posisie in ons eie
omgewing. Ons is hier langs mekaar geplaas om hier mekaar tot
’n hand en voet te wees. As ek my nie bekommer oor die eie
plaaslike gemeente nie, dan doen ek tekort aan die eenheid van
die Gees. Ja, dan bedroef ek die Gees. Paulus sê dat ons ernstig
moet strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band
van die vrede. Om die kosbare skat van die eenheid te bewaar gaan
nie vanself nie. Daarvoor is groot inspanning en ywer nodig. Dan
kan jy jou nie uit gemaksug of onverskilligheid afsydig hou van
die gemeentelewe nie. Elkeen moet van sy kant ernstig strewe om
die eenheid van die Gees te bewaar. ’n Ernstige strewe is
meer as slegs ’n goeie voorneme. Dit beteken ook aksie,
insette. Ek span my in. Ek jaag daarna. Dit kan nie wag nie. Ek
staan in vlam vir die eenheid van die Gees.

En as die eenheid gesmaad word, as minagtend daaroor gepraat
word, dan maak dit my seer, dan doen ek ook iets daaraan. Die
ernstige strewe om die eenheid van die Gees te bewaar, beteken
ook dat ek met volle inset die wag betrek by die eenheid, dat ek
alle storende elemente, alle afwykings in leer of lewe bestry,
dat ek onderlinge en kerklike tug uitoefen. Dit beteken dat ek
die ander lidmate aanspoor en steun om aan die opbou van die
liggaam te werk. Ek staar my dan nie blind op die foute van ander
nie, ek lê my ook nie neer by ’n situasie waarin die liefde
verkil is nie, maar ek neem my plek in as lewend lid van die kerk.
En ek sorg daarvoor dat my gawes in elk geval tot nut en
saligheid van die ander lede gebruik word, en dit gewillig en met
vreugde. Ek het immers Christus gesien. Ek is immers skatryk in
Christus. Ek het uit genade sy skatte en gawes ontvang. Die
rykdom wil ek nie vir myself hou nie, maar met ander deel, en
bruikbaar maak.

Dit gaan dan nie in die eerste plek daaroor: wat baat ek
daarby? Die fokus lê dan anders. Dit gaan daaroor: hoe kan ek
die beste vir God my dank toon en wat kan ek vir ander beteken.
Dus nie eers: wat kry ek nie, maar wat kan ek gee. Verwondering
oor Christus se skatte en gawes beweeg my tot aksie. In liefde,
nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Is dit nie ’n
wonder dat ons mekaar ontvang het? Dat ek die amptelike dienste
ontvang het. Dit is my alles werd. Christus se sorg is immers
meer werd as al die aardse skatte.

Laat ons broeders en susters, dan bly wees met die werk van
die Gees. Wees dankbaar vir die kerk van Christus. Die Heilige
Gees verbind ons aan mekaar deur ons aan Christus te bind. Hy
sorg vir die versterking en groei van ons geloof. Laat ons Hom
daarin volg. En met vreugde ons laat inskakel deur die Gees wat
lewend maak.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)