Heilige Nagmaal Preek

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-08
Teks: 
I Johannes 1
Preek Inhoud: 

1 Johannes 1:9

Ds C Kleyn - Sondag 8
Augustus 1999

Lees: 1 Johannes 1:1-2:6.
By Heilige Nagmaal: Psalm 32:1-5; Psalm 32:6-11; Psalm 131.
Sing: Ps 119:1,2; Ps 119:3,4;
Ps 32:1,2 (na preek); Ps 105:1,2 (voor Heilige Nagmaal); Ps 32:3
(1e tafel); Ps 32:6 (2e tafel); Ps 131:2,3
(3e tafel); Ps 103:1,2.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Weet u dat u miskien op hierdie oomblik beroof word. Beroof?
Waarvan? Dit kan wees dat u beroof word van die vrede en blydskap
wat Christus vir u berei het. Christus het gekom dat ons lewe en
oorvloed kan hê (Joh 10:10). Hy verlang dat ons ’n volheid
van lewe ervaar.

Wie kan dan besig wees om ons te beroof? Satan wil ons beroof
van ons vreugde. En ons beroof onsself ook maklik daarvan. Hoe
dan? Ons noem twee moontlikhede. Ons kan onsself beroof van die
blydskap deur te weier om ons sondes te bely. Die meeste van ons
het belydenis van ons geloof afgelê. Ons wou werklik Christus
volg en dien met ons lewe. Maar die sonde het te sterk geword.
Nie slegs kleine sondes nie, maar ook die verfoeilike sondes.
Walglike gedrag in woord en daad. As die mense rondom ons sou
weet wat ek gedoen het sou hulle ontsteld wees. Miskien dat ek
gekyk het na en geniet het van die God- en mens-onterende vuil
wat die wêreld bied via die moderne kommunikasie middele.
Miskien dat ek steeds maar weer leuens vertel en skinder. Miskien
dat ek betrokke is by ’n verhouding wat die Here nie behaag
nie. Miskien dat ek haat of toorn koester, ens, ens.

Satan help my dan graag om dit te rasionaliseer. Ek probeer
myself wys te maak: wat ek gedoen het is nie so sleg nie. Ek hoef
nie bekommerd te wees nie. Baie mense doen dieselfde dinge of nog
erger. Ek het daarmee geen kwaad wil doen nie. Ondertussen bly
die sonde daar wel lê. Ook al probeer ek dit te rasionaliseer en
allerlei verskonings te bedink. Diep binne in my weet ek dat dit
verkeerd is. Dit knaag aan my. Dit beroof my van ware vrede en
blydskap. Dit beskadig my verhouding met God. Ek kan immers
moeilik Christus hartlik liefhê en tegelykertyd hom beledig. As
ek tuiskom van ’n plek waar ek sonde gesoek het dan sal ek
nie lus wees om God te soek nie. Terwyl ek in my hart gevoelens
van haat koester, sal ek moeilik God van harte kan liefhê.

Dikwels merk ek ook dat een sonde tot ’n volgende sonde
lei. Ek probeer my sondes te verberg deur leuens te vertel. Ek
begin twee gesigte te vertoon, een gesig in die aanwesigheid van
kerkmense of ampsdraers en ’n ander gesig in die
aanwesigheid van my familie en vriende. So gaan dit van kwaad tot
erger. Ek beroof myself van die vrede en vreugde omdat ek weier
om eerlik te wees teenoor God en mense.

Gemeente, ’n ander manier waarop ek myself van die vrede
kan beroof is om my blind te staar op my sondes. Een van satan se
suksesvolle taktieke is om ons te laat fokus op ons daaglikse
sondes en tekorte. Hy weet dat as ek slegs let op my mislukkinge
en gebreke dat dit my siening op God en op myself sal beïnvloed.
Ek gaan God dan sien as een wat met my bitter teleurgesteld moet
wees en wat my wel moet afwys vanweë my sondes. Is dit nie wat
dikwels gebeur onder ons mense nie. As ek by die skool of by die
werk ’n ernstige fout maak dan is ek in groot moeilikheid.
As ek sosiale flaters maak dan verwag ek om verstoot te word.
Vanweë ons ervaring in die wêreld dink ons dat God ook op
dieselfde manier handel. Hy moet my wel verstoot vanweë my sonde.
Is dit reg? Gelukkig nie. So is God beslis nie.

Luister maar na die woorde van die teks: As ons ons sondes
bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en
ons van alle ongeregtigheid te reinig. As jy in sonde val, moenie
hoop opgee nie. Staan weer op en gaan tot God. Hy wag. Sy arme
staan wyd oop. Bely jou sondes.

Johannes spoor ons aan om dit te doen in teenstelling tot wat
hy in die voorgaande vers genoem het. Daar lees ons: As ons sê
dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is
nie in ons nie. Die verleiding is groot om ons sondes te ontken.
Ons hou daarvan om ons goed voor te doen, om goed oor onsself te
dink, om ons tekorte en gebreke te verklein. Ons is OK. So is ons
egter besig om onsself te fop, en, wat nog erger is, om God te
bedrieg. As ek goed is, waarom het God die Vader dan sy Seun in
die wêreld gestuur? Wat was dan die nut van Christus se dood aan
die kruis? As ek my sonde ontken of verklein dan maak ek God tot
’n leuenaar. Want nie een mens is sonder sonde nie. Selfs
nie die allerheiligste Christen nie.

Beteken dit dan dat die gemeenskap met God onmoontlik is? Vers
7 het alreeds die oplossing genoem: die bloed van Jesus Christus,
sy Seun, reinig ons van alle sonde. Hoe kan jy daarvan geniet?
Deur na die Vader te gaan en jou sondes te bely. Om jou sondes te
bely is meer as om te erken dat jy ’n sondaar is. So ’n
algemene erkenning is maklik genoeg. ’n Belydenis van sonde
is egter baie meer konkreet en persoonlik. Ek erken my spesifieke
sondes voor God. Ek kom daar eerlik voor uit, hoe afgryslik hulle
ook mag wees. Dis nie maklik nie. Dis makliker om in algemene
terme te praat. Ons hou daarvan om die ergste weg te stop. Maar
God wil hê dat ons spesifiek is en ons sondes – in meervoud
– bely. Deur spesifiek te wees, wys ons dat ons ernstig is.
Dat ons hartlike berou het oor ons sondes en dat ons werklik
vergewing begeer.

Hoe kom ek sover om opreg my sondes te bely? Ek kan dit slegs
wanneer ek sien op God se genade in Jesus Christus, wanneer ek,
so te sê, voor die kruis gaan staan. Aanvaarding van wat
Christus vir my, ’n verlore sondaar, gedoen het maak my vry
om werklik eerlik te wees met myself en met God. Die versekering
dat die bloed van Christus my reinig van alle sonde beteken dat
ek nie meer defensiewe speletjies hoef te speel nie. Ek hoef nie
meer te rasionaliseer en my sondes probeer verskoon nie. Ek kan
eerlik erken dat ek gelieg het, pleks van te sê dat ek gewoon
wat oordryf het. Ek kan dan my eie gebrek aan vergewensgesindheid
erken, pleks van steeds maar weer die ander die skuld te gee vir
my emosionele verdriet. Ek kan die sonde benoem as sonde, hoe
vuil en lelik dit ook mag wees, omdat Jesus die sonde aan die
kruis gedra het. In die lig van die kruis het ek geen rede om my
sondes te verberg nie.

Die teks vervolg: as ons ons sondes bely, Hy is getrou en
regverdig. Ek kan op Hom staatmaak. Staatmaak op sy beloftes van
vergewing. Dink maar aan die woorde van Ps 103: "Hy handel
met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons
ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so
geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees." God
is getrou en regverdig. Hy bly trou aan sy woord. Hy handel met
elkeen volgens sy goddelike reg: toorn teenoor onbekeerde
sondaars, vergewing in Jesus Christus vir almal wat hulle bekeer.

Daarom vervolg Johannes: Hy is getrou en regverdig om ons die
sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons
staan in die skuld by God. Ons het gedoen wat ons nie mog doen
nie. Ons het gefaal om te doen wat ons moes doen. God vergewe die
skuld. Hy reinig ons ook van die smet van die sonde, van ons
sondigheid. In die ou testament was rituele reinheid ’n
voorwaarde om deel te neem aan die publieke diens van die Here.
So pas vandag die reiniging deur God by die voorbereiding op die
erediens en die viering van die gemeenskap met God. Die bloed van
Christus reinig ons vir die diens aan Hom.

Daardeur mag ons ook deel neem aan die viering van die Heilige
Nagmaal. Ja, dit is die boodskap van die Nagmaal: as ons ons
sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te
vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Die probleem is egter dat ons dikwels fokus op ons prestasie
in plaas van op God se genade. Soms is ons soos die Fariseër wat
dink dat hy God se seën verdien het deur sy prestasie. Ander
kere is ons soos die skuld belade gelowiges wat daarvan seker is
dat hulle God se seën deur hul gebrek aan prestasie, deur hul
ongehoorsaamheid verspeel het. In beide gevalle het ons die
betekenis van genade vergeet en het ons ’n bespotting gemaak
van Christus se dood. Asof sy dood aan die kruis nie voldoende
vir die versoening van ons sondes sou wees nie. Ek self sou nog
eers moet presteer. Dit is pure dwaasheid en een van satan se
gemene leuens.

Die prys wat Christus aan die kruis betaal het is heeltemal
voldoende. Niks hoef nog toegevoeg word nie. Jy kan nooit goed
genoeg wees om God se aanvaarding te verdien nie. Jy kan die
gunstige gesindheid van God nie verdien nie; jy moet dit slegs
ontvang.

Ja, ons dink dikwels dat die hieroor gaan of God ons wel wil
vergewe of nie. Maar daaroor gaan dit nie. Die saak is of ons sy
vergewe werklik wens en aanvaar en of ons op Hom vertrou vir die
nodige moed en krag om die sonde te oorwin. Onthou, God belowe
nie slegs vergewing nie, maar oor die reiniging van sondes, die
innerlike vernuwing.

Daarom, soek en aanvaar sy vergewing en vertrou op God vir die
reinigende en vernuwende krag om die sonde te bestry en te oorwin.
Bely julle sondes, bekeer julle daarvan. Ja, dis een van die
geweldigste oomblikke in die lewe van ’n Christen. Baie
geweldiger dan wanneer ons voldaan kyk na ons prestasies en niks
kan bedink waaroor ons vergewing nodig sou hê nie. Ja, baie
geweldiger, want dan is jy oorweldig en omring deur God se genade.
Dan hou jy op om jouself te beroof van vrede en blydskap. Die
goeie nuus is dat al jou sondes vergewe is deur Christus se bloed.
Dit vul ons hart met vrede en vreugde. Aan die tafel van die Here,
maar ook daarna in die daaglikse stryd van die lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)