Die eenheid van die vroeë Christelike kerk deur die aanstelling van die sewe bewaar.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-08-01
Teks: 
Handelinge 6
Preek Inhoud: 

Handelinge 6:1-7

Ds C Kleyn - Sondag 1
Augustus 1999

Lees: Handelinge 2:37-47; 4:32-35;
5:12-16, 41,42; 6:1-7.
Sing: Ps 34:1,2; Ps 34;6,7; Ps
132:9,10; Ps 133; Ps 134:4 (na bevestiging van diaken); Ps 135:1,11
(na kolekte).

Tema: Die eenheid van
die vroeë Christelike kerk deur die aanstelling van die sewe
bewaar.

  1. die probleem;
  2. die oplossing;
  3. die gevolge.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sedert Pinkster het die Christelike kerk van
Jerusalem wonderbaarlik gegroei tot duisende lidmate toe. En wat
’n geweldige kerklike lewe! Wat ’n gemeenskap en
eenheid! Wat ’n vreugde en sorg vir mekaar. Ondanks die
dreigemente en vervolginge van die kant van die Sanhedrin en
ondanks die pynlike herinnering aan God se heiligheid in die
geskiedenis van Ananias en Saffira in Hand 5 bly die gemeente
groei. God gebruik die aanvalle van buite en die lyding van die
apostels ten goede vir die kerk. ’n Wonderlike tekening van
die vroeë Christelike kerk.

Maar dan kry ons die voorval van ons teks. Daar
ontstaan ’n konflik binne die gemeente, ’n konflik wat
haar groei en haar aansien bedreig. Laat ons dit nader bekyk as
ek u verkondig: die eenheid van die vroeë Christelike kerk deur
die aanstelling van die sewe bewaar.

  1. die probleem
  2. die oplossing
  3. die gevolge

Die Heilige Gees vra aandag vir ’n konflik
in die groot kerk van Jerusalem. In die snel groeiende kerk
ontstaan daar ’n murmurering. Daar is ’n groep in die
kerk wat ernstige kritiek het. ’n Groep wat vind dat hulle
onreg aangedoen word.

In die tyd was die kerk van Jerusalem nog
uitsluitend Joods: alle lidmate was bekeerde Jode. Onder die Jode
was daar egter twee groepe. Eerstens, die Grieks-sprekende Jode,
Helleniste, wat buite die beloofde land gebore is, wat Grieks
praat en wat deur die Griekse kultuur en gewoontes beïnvloed is.
Hierdie Grieks-sprekende Jode het om verskillende redes na
Jerusalem toegekom. Sommiges het uitsluitend na Jerusalem verhuis
om onderrig in die wet, die Tora, te ontvang. Ander het as
pelgrims na Jerusalem gereis om die Joodse feeste te vier. Ander
het na Jerusalem gekom om hulle daar te vestig, baie daarvan om
die laaste jare van hul lewe daar deur te bring.

Dan was daar die tweede groep Jode: die Hebreërs
wat in Judea groot geword het en die Hebreeuse of Aramese taal
gepraat het. Hulle het uitsluitend die Joodse kultuur en
gewoontes gehandhaaf.

Onder die Jode in die algemeen was daar ’n
ernstige spanning tussen die Grieks-sprekende Jode en die Hebreërs.
Die spanning het ook in die vroeë kerk ontwikkel. ’n
Partygees het ontstaan. Grieks-sprekende Jode teenoor Aramees-sprekende
Jode. Partyskap in die vroeë Christelike kerk. Dit is die laaste
ding wat ’n mens sou verwag in die vroeë kerk waar alles so
harmonieus gelyk het.

Tog moet u onthou dat die kerk nie ’n
volmaakte kerk was nie, dat hulle nie ’n volmaakte klomp
mense was nie. Daarom was daar altyd die moontlikheid van konflik.
Ons moet daarom altyd waaksaam wees ook vandag. Selfs die beste
gemeente is ’n bedreigde gemeente.

Die konflik het ontstaan in verband met die
daaglikse versorging van voedsel. Die Grieks-sprekende Jode het
gekla teen die Hebreeuse Jode dat hulle weduwees in die daaglikse
versorging oor die hoof gesien is. Miskien was daar na verhouding
’n groot aantal Grieks-sprekende weduwees. Baie Jode wat in
die verstrooiing geleef het, het immers na Jerusalem teruggekeer
tydens die laaste fase van hul lewe om hul laaste jare daar deur
te bring en daar te sterf.

Die konflik het gegaan oor die daaglikse
versorging. In Hand 2:46 lees ons van die gelowiges dat hulle
elke dag getrou by die tempel bymekaargekom het en van huis tot
huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid
van hart geniet het. Die kerk het dus in die publiek opgetree in
die tempel – ter wille van die publieke uitreiking van die
evangelie - en het in die huise bymekaargekom in ’n meer
geslote kring. Die patroon word ook genoem in Hand 5:42, die
woorde wat aan ons teks voorafgaan. Daar lees ons: "En hulle
het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te
leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is."

Dit beteken dat ondanks hul vinnige groei die
gelowiges tog met hul daaglikse huisbyeenkomste volgehou het.
Behalwe die prediking en onderrig was daar ook die gesamentlike
maaltye in die huise. U moet goed bedink dat die gemeente van
Jerusalem in daardie tyd baie lidmate getel het. Op grond van
Hand 4:4 kan ons dink aan ’n gemeente van tussen die 5 en 10
duisend lidmate of selfs meer. As jy dit bedink dan moet die
gesamentlike maaltye aan die huise ’n komplekse organisasie
gewees het. Wat ’n voorbereiding en werk!

Aan die maaltye het die gelowiges hul
gemeenskap met mekaar gevier. Daar het hulle ook vir die armes
onder hulle gesorg, hulle wat geen geld vir kos gehad het nie.
Daar in die huisbyeenkomste het hulle aan elkeen gegee wat hy of
sy nodig gehad het. Gawes is bymekaar gebring en uitgereik aan
die armes sodat hulle voorsien was vir die volgende dag.

Blykbaar was hierdie diens- die organisasie van
die gemeenskaplike maaltye, die bediening van die tafels –
in die hande van die Hebreërs. Die Grieks-sprekende Jode het
gekla dat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof
gesien is.

Wat word hiermee bedoel? Beteken dit dat die
weduwees oorgeslaan word by die uitdeling van kos aan armes? Is
die weduwees hier arme weduwees wat ondersteuning moet ontvang,
maar dit nie kry of nie voldoende kry nie? Op hierdie manier word
die teks dikwels verklaar. Daar is egter ’n ander verklaring
wat die teks meer tot sy reg laat kom.

Die woord wat met versorging vertaal word is
die woord ‘diakonia’ wat letterlik diens beteken. Soos
gesê het die gemeenskaplike maaltye by die huise baie
voorbereidings, organisasie en diensbetoon vereis. Dit is goed
moontlik dat die Grieks-sprekende weduwees by die dienswerk
oorgeslaan is. Hulle is nie aktief daarby betrokke nie. Hulle is,
waarskynlik onopsetlik, oor die hoof gesien deur die leiers en
organiseerders. As ’n mens die verskil in taal en kultuur in
gedagte hou dan is dit begryplik. Dit sou vir die Hebreërs wat
die maaltye organiseer, makliker wees om mense van hul eie soort
te vra om saam te help. Volgens hierdie verklaring moet ons die
weduwees nie sien as armes nie, maar as helpers, soos ons dit ook
teenkom in Hand 9. Die Grieks-sprekende Jode kla nie omdat hulle
te weinig ontvang nie, maar omdat hulle te weinig betrokke is.
Die weduwees word nie voldoende ingeskakel by die daaglikse
bediening van die tafels, by die voorbereiding en bediening van
die maaltye nie.

Gemeente, behalwe die probleem, is daar ook die
probleem dat die prediking daaronder begin te ly(vers 2). Die
apostels is uiteindelik verantwoordelik vir die byeenkomste. As
hulle meer betrokke moet wees by die praktiese organisasie van
die byeenkomste en maaltye dan sou hulle byna geen tyd meer
oorhou vir prediking en onderrig nie. Die bediening van die Woord
– hul vernaamste taak, sou daaronder ly.

Die Grieks-sprekende Jode is ontevrede. Daar is
bitterheid, murmurering, frustrasie. ’n Konflik. Ons kry ook
die indruk dat die apostels gevaar loop om oorbelas te word.
Hoewel dit juis deur die prediking van die apostels was dat die
gemeente so gegroei het. As die prediking nie in orde is nie, dan
sal die groei van die kerk ook daaronder ly. Die kerk staan dus
voor ’n ernstige probleem. ’n Groep in die gemeente
word verwaarloos. Die eenheid van die gemeente is in gedrang.
Konflikte veroorsaak altyd frustrasies in die onderlinge
verhoudings. Mense groet mekaar nie meer nie en begin mekaar
vermy.

Gemeente, as daar ’n konflik in die kerk
is dan kan jy twee dinge doen: jy kan probeer om dit op te los of
jy kan dit laat lê met as gevolg dat die onrus bly voortbestaan
of nog erger word. In die gemeente ontstaan daar maklik
partyskappe. Mense groei uit mekaar uit omdat hulle in ’n
konflik kant kies.

Dis opvallend dat die konflik in die vroeë
Christelike kerk erken is. Die apostels skuif dit nie onder die
tafel in nie. Hulle maan ook nie die weduwees dat hulle nie moet
kla nie. Nee, hulle erken: daar is iets nie in orde nie. Wat is
hul oplossing daarvoor? Die tweede punt.

Die apostels bespreek die saak met die gemeente.
Die lidmate word bymekaar geroep. Die apostels plaas die probleem
op tafel: die bitterheid van die Grieks-sprekende Jode en hul eie
probleem om tyd te vind vir die prediking. Die oop kommunikasie
met die gemeente is ’n waardevolle les vir ons. Die gemeente
is betrokke by die oplossing van die probleem.

Die oplossing: Die apostels stel voor: kies 7
manne wat die verantwoordelikheid kan dra vir hierdie saak.
’n Nuwe span van ampsdraers word tot stand geroep om die
probleem te bestry. Die 7 manne moet goed bekend staan as manne
vol van die Heilige Gees en wysheid. Let daarop dat in die
vereistes van die 7 geen verwysing gemaak word na die versorging
van die armes nie. Die apostels sal hulle bly wy aan die
bediening van die Woord en die gebed. Die 7 sal verantwoordelik
wees vir die geestelike leiding oor die beoefening van die
gemeenskap van die heiliges in die huise. Vir die taak moet hulle
in die eerste plek vol van die Heilige Gees en wysheid wees. Die
Heilige Gees is diegene wat gemeenskap stig. Slegs hulle wat
vervul is van die Heilige Gees kan in die gemeenskap leiding gee.

Die 7 sal met mense moet omgaan en saamwerk.
Daarom sal wysheid ook nodig wees, takt, fyngevoeligheid, die
kuns om met moeilike en gevoelige situasies om te gaan. Dit was
as gevolg van ’n gebrek aan wysheid dat die Grieks-sprekende
weduwees oor die hoof gesien is. Menslike wysheid is op sigself
nie voldoende nie. Die geestelike gemeenskap in Christus vra
leiers wat vol is van die Heilige Gees. En om vol van die Heilige
Gees te wees is om vol van die Woord van die Gees te wees.

’n Spesiale span van 7 word tot stand
geroep. Is dit die instelling van die amp van diaken? Nie
heeltemal nie. Die 7 in Jerusalem was ’n spesiale span vir
die massale kerk van Jerusalem om hul konkrete probleme op te los.
Later sal blyk dat die 7 ook betrokke raak by die prediking van
die evangelie. Hul amp is ’n spesiale amp, spesiaal ingestel
vir die Jerusalemse gemeente. Baie van die taak van hierdie
broeders (veral die bediening van die tafels) sal egter later die
taak van die broeders diakens word.

Let daarop dat die gemeente nie oorgeslaan word
nie. Die apostels betrek hulle daarby. Hulle moet die 7 manne
kies, waarna die apostels hulle benoem en bevestig. Die hele
gemeente is bly met die voorstel van die apostels. Ons sien weer
die herstel van die eenheid van die gemeente. Hulle wat ontevrede
is stem ook saam met die voorstel. Die apostels handel met
wysheid. Die eenheid van die gemeente is vir hulle baie werd.

Die gemeente kies 7 broeders. Die name van die
7 wys daarop dat die 7 gekies is uit die Grieks-sprekende Jode.
Dit wys ook op wysheid en takt. Daar was murmurering onder die
Grieks-sprekende Jode. Uit hulle kring word nou 7 manne gekies.
Die bitterheid moet verdwyn. Dan kan die konflik opgelos word. In
openheid na alle betrokkenes toe. Vervolgens bevestig die
apostels hulle in hul amp deur hulle die hande op te lê.

Opvallend is dat slegs 7 manne gekies word. Dit
is wel ’n baie klein getal vir ’n gemeente van tussen 5
en 10 duisend lidmate. Hulle word aangestel oor die bediening van
die tafels. Met ander woorde: hulle moet dit bestuur. Die 7 moet
nie al die werk self doen nie. Dit sou immers onmoontlik wees in
so ’n groot gemeente. Nee, hulle moet dit bestuur, hulle
moet die daaglikse versorging, die organisasie van die maaltye,
koördineer. Hulle moet daarvoor sorg dat alles nou goed loop in
die gemeente. Hulle moet die Hebreërs en die Grieks-sprekende
Jode integreer in die diens. Hulle moet die beoefening van die
gemeenskap van die heiliges dirigeer. En nie alles self doen nie.

Dis ’n goeie les vir ons vandag. Ons dink
baie gou dat meer ampsdraers nodig is. Daar is soveel werk om te
doen. Inderdaad kan dit nodig wees. Maar as ons dink aan die
situasie in Jerusalem: 7 ampsdraers vir 5-10,000 lede, dan besef
ons dat ampsdraers nie alle werk self moet doen nie. Ampsdraers
moet uitsien na gawes onder die lidmate. Hulle moet die lidmate
stimuleer en hulle toerus tot dienswerk. As ampsdraers moet ons
die lidmate self soveel as moontlik inskakel. ’n Vereiste
daarvoor is natuurlik dat die gemeente hom ook laat stimuleer.

Wel, die apostels kry weer die tyd en ruimte
vir hul spesifieke taak: die bediening van die woord en gebed. In
Hand 6:1-7 word ’n bepaalde skeiding gemaak tussen prediking
en diensbetoon in die gemeente.

Die eenheid van die kerk is herstel en die
frustrasie oorwin. Die apostels het hul taak verstaan om daarop
toe te sien dat alles in die gemeente welvoeglik en ordelik gaan.
Hulle het nie baasgespeel oor die gemeente nie. Hulle het met die
gemeente gekommunikeer en hulle medewerking gesoek. Saam het
hulle die probleem opgelos, tot die bevrediging van almal, gelei
deur die Heilige Gees.

Dit het natuurlik ook die gesondheid van die
apostels self bevorder. As hulle immers nie voldoende tyd en
energie vir hul eintlike taak van prediking en gebed het nie dan
raak hulle maklik gefrustreer. Onopgeloste konflikte in die
gemeente kan ook die ampsdraers vermoei en belemmer in hul
funksionering. Daarom leer die geskiedenis van die teks ons wat
goed is vir die gemeente as geheel en wat goed vir die
individuele lidmate, ook die ampsdraers, is. Dit is die vrede van
Christus wat ons tot vrede roep.

Wat is die gevolg van die oplossing van die
konflik. Die derde punt: die gevolge.

Ons lees van die gevolge in vers 7: En die
woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het
in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van
priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.

Die woord van God het toegeneem. Dit sien op
die toename van die prediking van die apostels. Vanweë die
konflik was die apostels in ’n mate verhinder in hul
eintlike taak. Die konflik is nou opgelos. Die apostels kry die
ruimte, die tyd en die geestelike rus wat nodig is vir die
voorbereiding en aanbieding van hul preke. Die woord neem toe.
Christus word met volle krag verkondig. Die gebede word vurig
opgestuur.

Die tweede gevolg is: die getal van die
dissipels het baie vermeerder. Die oplossing van die konflik word
gevolg deur ’n vinnige groei van die gemeente.

Die derde seën is dat ’n groot menigte
van priesters gehoorsaam word aan die geloof. As daar een groep
is wat Christus en sy apostels weerstaan het, dan is dit wel die
priesters. Die krag van die woord, ja die krag van Christus se
Gees, blyk sterker te wees as hul teenstand.

Die oplossing van konflikte in die kerk is nie
slegs tot die eer van God nie, maar ook tot heil van die gemeente.
In hierdie konkrete situasie gee God as vrug ’n geweldige
groei van die gemeente. Dit geld natuurlik nie vir elke situasie
nie.

Vandag wil baie mense hulle slegs rig op groei
van die gemeente sonder om hulle te bekommer oor die ampte. Hulle
wil niks te doen hê met die debat oor wie volgens die Skrif
ampsdraer mag wees nie, of byvoorbeeld vroue wel ampsdraer mag
wees. Nee, dis vir hulle besef ’n mors van tyd en energie.
Laat ons liewers aangaan met die werk van die kerk om onder die
mense besig te wees, om uit te reik onder die minder bevoorregte
mense in die samelewing. Hier word ’n verkeerde teenstelling
geskep. Wat was sentraal by die groei in Hand 6? Dit was nie die
veragting van die ampte nie. Dit was juis die goeie funksionering
van die ampte. Die goeie funksionering van die kerk.

Gemeente, u moet ook nie die verhaal glo dat
die groei van die kerk afhang van ’n sekere persoon nie, van
’n bepaalde leier met besondere gawes asof hy die begeerde
groei kan waarborg. Die Here het nie net aan een bepaalde persoon
die sleutel tot groei toevertrou nie. Alle ampsdraers is
belangrik. Ja, hulle is almal nodig vir die goeie funksionering
van die kerk. En enige groei wat volg bly uiteindelik ’n
gawe van God, ’n seën van sy hand. Dit is nie iets wat ons
kan waarborg nie. Alleen die Heilige Gees kan dit doen.

Natuurlik, dit ontslaan ons nie van ons
verantwoordelikheid nie. Is ons waarlik trou in die besondere amp
en in die amp van alle gelowiges? Is ons werklik die profete,
priesters en konings wat God wil hê dat ons moet wees? En toon
ons die ware eenheid in Christus deur eensgesind saam te werk met
die oog op die doel?

Daar is plek vir selfondersoek. Laat ons
probeer om enige belemmeringe wat daar in ons funksionering mag
wees weg te doen. Die eenheid is so belangrik. Onopgeloste
konflikte in die gemeente is onaanvaarbaar. Hulle verhinder die
voortgang van die evangelie. As lede van een liggaam is ons
geroep tot vrede. Laat ons dan doen wat ons kan om die eenheid
van die kerk te bevorder en te bewaar. Die Here sal dit seën.
Nie noodwendig deur middel van uitwendige groei nie. Dit is iets
wat Hy bepaal. Maar Hy sal seën. Want vrede in die kerk dien
altyd die voortgang van die evangelie na binne toe en na buite
toe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)