Die Heilige Gees en sy werk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-07-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Sondag 20

Ds C Kleyn - Sondag 25
Julie 1999

Lees: 1 Korinthiërs 2; Sondag
20.
Sing: Ps 149:1,2; Ps 51:5,6; Ps
25:5-7 (na kollekte); SB 14; Ps 143:8,9.

Tema: die Heilige Gees
en sy werk.

  1. Die Heilige Gees is uit God;
  2. Die Heilige Gees is ook aan my gegee;
  3. Die Heilige Gees laat my Christus ken en
    bely.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Durf u te sê dat u die Heilige Gees besit? Het
ons die Heilige Gees? Bring sulke vrae ons nie dikwels in
verleentheid nie? Wat beteken dit om die Gees te hê? Hoe weet ek
dat ek die Gees het? Moet ek iets besonders voel binne in my? Ons
leef in ’n land waarin die belewing van die christen sterk
benadruk word. Daarom is die Pinkster kerke en charismatiese
beweging so gewild.

Laat ons oppas vir eensydigheid. Waar alle
nadruk op die Gees gelê word, blyk dit tog dikwels dat die mens
met sy godsdienstige gevoel in die sentrum staan. Aan die ander
kant kan dit gebeur dat ons uit reaksie so sterk die leer gaan
benadruk dat die lewe versmoor word. Die werk van die Gees en ons
belewing moet saamgaan. Maar wel in die juiste verhouding en
volgorde. Wie werklik glo sal dit ook belewe. Laat ons nader sien
wat die Skrif ons leer oor die werk van die Heilige Gees.

Ek verkondig u: die Heilige Gees en sy werk

  1. die Heilige Gees is uit God
  2. die Heilige Gees is ook aan my gegee
  3. die Heilige Gees laat my Christus ken en
    bely

Baie mens het moeite om ’n voorstelling te
maak van die Heilige Gees. Die werk van die Heilige Gees lyk so
vaag. Met die werk van God die Vader en God die Seun is dit
anders. Ons ken die Vader as ons Skepper en Onderhouer. Sy
skeppingswerk is sigbaar en tasbaar. Ons ken God die Seun as
Woord wat vlees geword het. Vanweë sy verskyning en sy lyding in
die vlees het sy werk vir ons grypbaar geword. Ons het te doen
met ’n werklikheid wat binne ons menslike horison
plaasgevind het. Oog en oorgetuies het hom gesien en gehoor en
het dit vir ons opgeskrywe.

Rondom die Heilige Gees lyk alles baie minder
duidelik. Probeer maar eers ’n voorstelling te maak van wat
Hy is en wat Hy doen. Dit lyk so vaag. Ons wil so graag iets kan
sien en voel. Dit hoef ons nie te bevreemd dat daar in die loop
van die geskiedenis allerlei teorieë oor die werk en werkwyse
van die Heilige Gees bedink is nie. Op hierdie gebied was daar en
is daar nog steeds baie ontsporings.

Die Heidelbergse Kat benadruk eers die eenheid
van die Vader, Seun en Heilige Gees. Waarom? Omdat juis die
loslating daarvan die oorsaak van baie ontsporings is. Van die
Heilige Gees bely ons: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die
Seun ware en ewige God. Die nadruk val nou nie op die Godheid van
die Heilige Gees nie. Dit is alreeds benadruk in Sondag 8 waar
die drie-eenheid bely word. In die antwoord van ons huidige
sondags-afdeling staan nie: dat Hy ewe-as die Vader en die Seun
ware en ewige God is nie. Daar staan slegs: dat Hy saam met die
Vader en die Seun dit is. Saam met, dws: die Heilige Gees staan
nie alleen nie, maar is saam met die Vader en die Seun ware en
ewige God. Die Goddelike wese is nie kompleet sonder die Heilige
Gees nie. Die drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees
– vorm saam die ware en ewige God. Die Heilige Gees maak die
heilige drie-eenheid kompleet.

Gemeente, ’n Mens moet oppas dat hy die
Heilige Gees nooit losmaak van die Vader en die Seun nie. As jy
dit doen, dan hou jy in prinsipe niks oor nie, ook nie die
Heilige Gees nie. Die drie Persone van die goddelike Wese werk
saam op ’n volmaakte wyse. Hulle soek die verheerliking van
mekaar. Die Heilige Gees tree nie op los van die Vader en die
Seun nie, laat staan dat Hy die Woord van die Seun sou verloën
of ondermyn. Let maar op wat Christus gesê het kort voor sy
sterwe: kom ons lees saam Joh 16:13-15. Die Heilige Gees opereer
dus nie selfstandig nie, los van die Vader en die Seun. Hy gaan
uit van die Vader en die Seun. Hy praat nie uit homself nie, maar
wat Hy van My ontvang sal Hy aan julle verkondig, sê Christus.

Ons het iets soortgelyks in 1 Kor 2 gelees. Die
Gees ondersoek alle dinge, staan daar, ook die dieptes van God (vers
10). Die Heilige Gees deurgrond die diepste gedagtes van God. Die
Heilige Gees ken God se hart. Paulus vergelyk dit met die gees
van die mens as hy sê: want wie van die mense weet wat in ’n
mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? ’n
Mens weet nooit presies wat daar in ’n ander mens omgaan nie.
Dit weet alleen die mens self. Wel, op soortgelyke wyse weet ook
niemand wat in God omgaan nie, wat God wil en dink, as alleen die
Gees van God nie. Die Heilige Gees ken God se oorlegginge en
planne. Hy ken ook die onvoorstelbare plan van die Here God om
mense in Christus te red. En die Heilige Gees maak die verborge
gedagtes van God bekend. Dit gaan vir die Gees juis daaroor dat
Hy God se hart aan mense onthul.

Daarom word die Gees ook die Gees van God
genoem. Die Gees het van God tot ons gekom. Hy praat uit die hart
van God. Saam met die Vader en die Seun is Hy ware en ewige God.

Gemeente, wie die Heilige Gees van die Seun
losmaak, sal ontspoor. In die geskiedenis het mense die Heilige
Gees dikwels losgemaak van Christus se woord en werk. As gevolg
daarvan het ons die verligte siele gekry, wat met sekerheid
beweer dat hulle ’n stem of aanraking van die Gees ontvang
het en wat dan selfvoldaan die lewe deurgaan as die uitverkore
volkie van God. As gevolg van die losmaking van die Gees was daar
egter ook die massa van twyfelende siele wat tot lydelikheid
gedoem was, mense wat maar moet wag op ’n besondere
bevinding of stem van die Gees, wat hulle nooit ontvang nie. Baie
het geleef in verskriklike twyfel en onsekerheid oor hul heil.
Waarom? Vanweë hul verkeerde siening op die werk van die Heilige
Gees. Hulle het die ryke beloftes van vergewing en vernuwing vir
hulle nie durf toe-eien omdat hulle ’n besondere werking van
die Gees – buite Christus se Woord om- verwag het. Dit sou
vir hulle beslissend wees. Geloof in die Woord van God sou nie
voldoende wees nie, maar wel ’n besondere ervaring of
belewing.

Dis daarom van lewensbelang, broeders en
susters, dat ons die eerste gedeelte van sondag 20 skerp sien en
goed vashou. Die Heilige Gees is geen Persoon wat buite die ander
twee Persone van die goddelike drie-eenheid optree nie. Hy spreek
nie uit Homself nie. "Hy sal dit neem uit wat aan My behoort,"
het Christus alreeds gesê. Dis dus nie so dat die Gees buite
Christus se Woord om, of selfs in stryd met die Woord, my sou
aanspreek of aanraak nie. Ek hoef nie te wag totdat ek plotseling
of onverwags Hom in my hart voel of ontdek nie. As dit so was,
dan sou die Kat moes gevra het: wat voel jy van die
Heilige Gees? Maar dit staan daar nie. In plaas daarvan word die
vraag gestel: wat glo jy van die Heilige Gees?

Gemeente, as ons oor die Heilige Gees praat dan
moet ons nie alle aandag rig op wat binne in ons gebeur het of
sou moet gebeur nie. My persoonlike belewing – hoe belangrik
dit ook is as teken van ’n lewend geloof - is nie die
belangrikste nie. Die Gees rig juis alle aandag op die Vader en
die Seun. Daartoe is Hy uitgestuur. Dit gaan oor hulle woord en
hulle heerlikheid. Het Christus nie gesê nie: Hy sal My
verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan
julle verkondig?

Broeders en susters, van die Gees bely die
gelowige in die tweede plek dat Hy ook aan my gegee is. Die
Kategismus word baie persoonlik. As gelowige mag jy met volle
oortuiging sê dat jy die Gees ontvang het. Is dit nie hoogmoedig
nie? Is ons dan nie soos die verligte siele wat met sekerheid
stel dat hulle ’n besondere werking van die Gees gevoel het
nie? Kan ek dit werklik so stellig sê dat ek die Gees ontvang
het? Dit is tog nie vanselfsprekend nie? Dit moet tog aan ons
gegee word? Die laaste is seker waar: Dit moet aan my gegee word.
Daarom is daar geen plek vir geestelike hoogmoed nie.

As ek dit opreg bely dan sê ek daarmee dat ek
die Heilige Gees nie van myself het nie. Van nature woon helaas
die gees van die sonde en die gees van die wêreld in my. Ek kan
die Heilige Gees nie self verdien of verkry nie. Dit moet aan my
gegee word. As ek dan glo en as gevolg daarvan met stelligheid
bely dat die Gees ook aan my gegee is, dan is dit geen hoogmoed
nie. Dis tog geen hoogmoed om te bely dat ek iets ontvang het nie?
Dit is juis ’n teken van ootmoed om te wil lewe van iets wat
aan my gegee is.

En gemeente, die ootmoed van die geloof word
van ons almal gevra. God het nie verniet aan ons die belofte
gegee dat Hy o.a. in ons wil woon en werk nie. Hy het die belofte
selfs aan ons verseël toe ons gedoop is in die naam van die
Vader, en van die Seun en van die Heilige Gees. Die belofte is
geen leë woord nie. Van God se kant is dit opreg: Hy wil deur sy
Gees in my woon en werk. Hoe reageer ek daarop? Ek gaan tog nie
God se uitgestoke hand afwys nie? Of wel? Om dit te weier, dit is
hoogmoed. Aanvaar liewers sy uitgestoke hand. Glo in God die
Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit is ootmoed. Dan mag u/jy
daarvan seker wees dat God sy belofte ook waarmaak in u/ in jou
lewe, dat Hy in u/jou woon en werk. Die geloof is reeds ’n
bewys daarvan. Want hoe sou ek glo as die Gees nie eers my hart,
wat toe was, oopgemaak het nie?

Soms word dit as ’n deug gesien om in
twyfel te lewe. Jy mag tog nie sommer aanmatig dat jy God se Gees
besit nie? Stel jou voor dat jy met ’n ingebeelde hemel in
die hel teregkom! Dan kan jy jou tog beter niks inbeeld nie. God
roep ons egter op om alle twyfel te laat vaar. Twyfel is in feite
eiewilligheid. "My ja is ja", sê God. As jy sou twyfel
of die Heilige Gees in jou sondige hart woning wil maak, let dan
op jou doop met die plegtige, goddelike versekering: "ja, Ek
wil in jou woon".

Broeders en susters, dit beteken natuurlik nie
dat u nou kan redeneer: ek is gedoop, dus alles is in orde nie.
So oppervlakkig is die geloof nie. Die geloof sê amen op God se
belofte woord. Die geloof gee homself volkome gewonne aan die
goddelike jawoord. Alles wat die drie-enige God gesê en belowe
het is waar, ook vir my. Hy het dit immers gesê!

So kan Paulus skrywe: Ons het ewenwel nie die
gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is.
Ons, gelowiges van die nuwe verbond, het die Heilige Gees ontvang.
Dit word genoem as ’n historiese feit, as ’n
werklikheid vir die gemeente van Christus.

Wanneer het ek dan die Gees ontvang? Toe die
woord van God na my toegekom het en ek die woord in geloof
aangeneem het. Paulus het die woord van God se genade aan hulle
verkondig. Dit het hy nie gedoen met voortreflikheid van woorde
of van wysheid nie. Paulus het sy hoorders nie met oorredende en
meeslepende woorde van menslike wysheid probeer beindruk soos die
mense dit gewoond was van wysheidsleraars nie. Hy het nie
opgetree soos ’n demagoog wat deur middel van allerlei
retoriek die massa vir hulle trag te wen nie.

Paulus het ook nie gekom met ’n boodskap
wat die mense onmiddellik aangespreek het nie. Inteendeel, sy
boodskap was ’n dwaasheid vir die natuurlike mens: wie kom
nou met die boodskap van Christus as gekruisigde?

In sy manier van optree en in die inhoud van sy
prediking het Paulus dus allermins die guns van die mense trag te
wen nie. In so ’n wêreldstad as Korinte het hy baie meer
indruk kon maak deur die kunsgrepe van die wysheidsleraars te
gebruik. Maar nee, die apostel laat alles in sy prediking weg wat
mense in die rondreisende filosowe so gewaardeer het. Na menslike
maatstawwe was sy optrede benede die maat.

Waarom doen Paulus dit? Moet hy hom nie meer
aanpas aan sy gehoor nie? Paulus doen dit "sodat julle
geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag
van God." (vers 5). Sodat die mense nie die gees van die wêreld
ontvang nie, maar die Gees wat uit God is (vers 12). Sou Paulus
as ’n slim redenaar sy hoorders vir homself gewen het, dan
sou hul geloof nie rus op die krag van God nie, maar op die
wysheid van mense. Dan sou menslike welsprekendheid en menslike
wysheid hulle in die ban kry en nie die Gees van God nie.

Ons het nie die gees van die wêreld nodig nie,
van nature het ons alreeds die gees. Ons het die Gees uit God
nodig. Geloof wat rus op ’n imponerende menslike gees, kan
niemand help nie. Daarom het Paulus nie met ’n
voortreflikheid van woorde of van wysheid gekom nie, maar het Hy
gees en krag betoon. Sy prediking het gepaard gegaan met ’n
kragtige werking van die Gees. Ja, dmv sy prediking het die Gees
self na hulle toegekom en hulle aangegryp.

Dit, broeders en susters, seuns en dogters, sê
iets vir ons vandag. Hoe ontvang julle die Heilige Gees? Nie deur
gloedvolle betoë, meeslepende woorde, dramatiese vertonings nie.
Julle ontvang die Gees uit God deur die eenvoudige oordrag en
verkondiging van die woord van die kruis. Daarby skakel God wel
die opvoeders in, ouers, onderwysers, onderwyseresse, kategete,
predikante ens. Dis waar dat die een die boodskap boeiender kan
oordra as die ander. Maar dit gaan oor die inhoud van die
boodskap. Dit gaan oor die Christus. My geloof moet nie rus op
die welsprekendheid of krag van die spreker nie, maar op die
inhoud van die evangelie. Gestel dat my geloof sou afhang van
’n indrukwekkende spreker. Dan sou blyk dat my geloof rus op
wysheid van mense en nie op die krag van God nie. Wanneer die
meeslepende prediker verdwyn, wat dan? Dan hou ek niks oor nie.
Dan sou die diens my nie meer aangryp nie. Ek het gebou op mense
en nie op God nie. Vandaar dat baie mense van Pinksterkerke soos
die AGS groot moeite het om die gewone en eenvoudige verkondiging
van die evangelie te waardeer.

Ja, broeders en susters dit kom aan op die
inhoud van die evangelie. En dit vlei nie die natuurlike mens nie.
Die natuurlike mens vind dit benede die maat. Dit is immers nie
uit en na die mens nie. Dit is ’n dwaasheid vir die
natuurlike mens. Maar dit blyk tog ’n uitsonderlike wysheid
te wees, naamlik die verborge wysheid van God. Nooit het so iets
in die hart van die mens opgekom nie. Nooit het ’n mens so
iets gesien of gehoor nie. Maar die Gees van God dit tot julle
heil geopenbaar.

Dit bring my by die derde gedagte: die Gees
laat ons Christus ken en bely.

Paulus skryf in 1 Kor 2:12: "Ons het
ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees
wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk
het." Die Heilige Gees is besig as die Gees van wysheid en
openbaring. Hy is die groot Leraar van die kerk. Hy maak die oë
oop vir die werk van Christus. Hy leer ons om te verstaan hoe
groot die heil is wat God ons in Christus gegee het.

Let daarop gemeente, Paulus praat oor kennis
van wat God ons uit genade geskenk het. Hy skryf nie:
sodat ons kan weet wat God ons miskien sal skenk. Nee,
sodat ons kan weet wat God ons geskenk het. Mag ek wel so
stellig praat van iets wat aan my geskenk is? In geloof moet ek
so stellig praat. Die geloof sê amen op God se woord. Die Gees
van God het die hart van God blootgelê, bekendgemaak. Die Gees
het die oë vir God se genade in Christus geopen. Wie dit gesien
het weet dit seker. Verlossing is nie slegs vir ander nie, maar
ook vir my. God het die Christus ook aan my gegee.

Is dit nie geweldig dat ek God se genade mag
ken nie? So het die Gees my deur ’n waar geloof deel laat
kry aan Christus en al sy weldade. Dit is nog nie ’n
volmaakte kennis of belewing nie. Maar dit is ’n kennis van
wat God uit genade geskenk het. Wat verborge was – wat geen
menslike vermoëns kon bedink nie – dit is aan ons deur die
Gees geopenbaar. Daarby het God gebruik gemaak van eenvoudige
christelike opvoeding, eenvoudige onderrig en prediking. Ek mag
God se hart ken. Wat ’n kennis! Dit gaan my verstand te bowe.
Ek kan slegs in verwondering God aanbid, God die Vader, God die
Seun en God die Heilige Gees wat van die Vader en die Seun
uitgaan.

So kom die tonge los, die tonge van belyders en
aanbidders. Wie God se genade ken, kan nie anders as daaroor
praat nie. Liefde-kennis en verwondering dwing ’n mens om te
praat. Paulus skryf dan ook in 1 Kor 2:13: Daarvan spreek ons ook,
nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met die
wat die Heilige Gees leer. Ons skaam ons nie om daaroor te praat
nie, ook al is dit nie na die mens nie en stuit dit op verset.
Ons kan nie anders nie. Sou ons ons aanpas aan ons gehoor, sou
ons hulle vlei, dan sou hulle nie die volle evangelie ontvang nie
– ’n krag van God vir elkeen wat glo.

Paulus benadruk die woorde wat ons gebruik, die
manier waarop ons praat. Daarvan spreek ons ook met woorde wat
die Heilige Gees leer. Dit Gees gee ons spreekles. Begrippe wat
die natuurlike mens nie ken nie, word ons bygebring. En ons praat
daarvan. Ons skaam ons nie vir die taal van die Gees nie, die
taal van die Skrifte en so ook die taal van Christus se kerk. Nee,
ons weet dat juis die taal ons heil verwoord. Ons praat van God
se roemryke dade. Ons gaan sing van Hom wat verlos, wat sy woord
laat uitgaan. Hom wat geloof bewerk, wat lewens vernuwe.

Nou terug na die vraag van die begin: durf u te
sê dat u die Heilige Gees besit? As u die evangelie glo en as u
begin om vir die Here te lewe, dan hoef dit vir u tog geen vraag
te wees nie?! Die Gees toon tog reeds sy aanwesigheid!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)