Die waarde van Christus se hemelvaart.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-07-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

Sondag 18

Ds C Kleyn - Sondag 11
Julie 1999

Lees: Hebr. 9:11-14, 24-28; 1
Joh. 1:5-2:2; Sondag 18.
Sing: Ps 47:1,2; Ps 24: 2,3; Ps
24:4,5; SB 10:1-6; Ps 47:3,4 (na kollekte).

Tema: Die waarde van
Christus se hemelvaart.

  1. Christus het as ons Hoof die hemel
    ingegaan.
  2. Christus pleit vir ons in die hemel.
  3. Christus laat ons hier en nou hemels lewe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely die hemelvaart van ons Here Jesus. Ons
aanvaar die feit dat Jesus Christus na die hemel opgevaar het.
Ons het geen probleme met die leer nie. Maar nou die praktyk van
die lewe. Leef ek vanuit en in ooreenstemming met die werklikheid
dat Jesus in die hemel is?

Die lewe hier op aarde kan so vol en ryk wees.
Ons kan nie gou genoeg daarvan kry nie. Ons het almal ons ideale.
Ons wil vooruitgang maak. Ons wil iets vir onsself opbou. Dan kan
dit sommer gebeur dat ons dag en nag in die weer is om ons ideale
te verwesenlik. Dit hoef nie slegs buite die huis te gebeur nie,
dit kan ook in my eie huis en gesin gebeur dat ek volkome opgaan
in my gesin asof dit alles in my lewe is.

Dit kan wees dat sommiges baie moet mis vanweë
siekte of ander moeites. Jy sou dan graag gewoon wil doen wat
ander mense doen, maar dit is blykbaar nie vir jou bestem nie.
Dit is buite jou bereik. Miskien het jy baie skuld of het jy nie
voldoende werk nie. Ander mense kan jou daarop wys dat jy dit
moet leer aanvaar, dat jy dit in geloof moet hanteer, dat jy op
Jesus Christus moet sien. Hulle kan wys op die heerlikheid wat
aanstons die deel sal wees van al God se kinders. Die lyding van
die teenwoordige tyd weeg nie op teen die heerlikheid nie, sê
Paulus in Rom 8:18. Die gedagte kan egter by jou opkom: die mense
kan maklik praat, hulle is gesond en het voorspoed. Watter nut
het die dinge wat in die toekoms gaan gebeur vir my vandag? Ek
wil hier en nou ’n goeie lewe hê.

Gemeente, leef ons werklik in ooreenstemming
met ons belydenis dat Jesus Christus ons Hoof in die hemel is?
Moet ons nie dikwels konstateer dat ons konsentrasiepunt die
aarde geword het nie. Gaan ons nie maklik op in die lewe van hier
en nou nie? Sodat hierdie lewe alles vir ons word, asof dit die
einde is?

Dit is daarom goed om na te dink oor die
hemelvaart van ons Here Jesus Christus. Die sien van Christus in
die hemel kan ’n mens bevry van kortsigtige aardsgesindheid.
Dit verruim jou blik en verryk jou lewe. Jou konsentrasiepunt
word verskuif na die hemel.

Ek verkondig u: die waarde van Christus se
hemelvaart.

  1. Christus het as ons Hoof die hemel
    ingegaan.
  2. Christus pleit vir ons in die hemel.
  3. Christus laat ons hier en nou hemels lewe.

Christus is voor die oë van sy dissipels van
die aarde af na die hemel opgeneem. Die dissipels het dit met hul
eie oë gesien. Hulle is ons getuies. Hulle het gesien hoe daar
’n wolk gekom het. ’n Teken van die heerlikheid van die
Here. Hulle het gesien hoe die wolk Jesus Christus opgeneem het
en na die hemel gevoer het. Uit hul gesig weg. Hulle het ook van
die engele – God se boodskappers – gehoor dat Christus
in die hemel aangekom het.

Hierdie mededelings is baie belangrik. Hier is
’n mens van vlees en bloed soos u en ek opgeneem in die
hemel. Die hemel het vir Hom oopgegaan. ’n Mens ontvang
toegang. Die pad is blykbaar weer vry. Wat ’n wonder van
genade! Hoe was dit immers voor die tyd? Die sonde het ’n
groot blokkade gevorm. Terwyl God hemel en aarde in goeie
harmonie geskep het, het die sondeval hemel en aarde uitmekaar
geruk. Die aarde het hom los van die hemel gemaak. Die mens wou
sy eie heer en meester wees. So het daar die onoorbrugbare kloof
tussen hemel en aarde ontstaan. Die hemel het vir sondige mense
toegegaan. Die hemelse heerlikheid was ontoeganklik. Die mens kon
nie in God se tent verkeer nie. Dit was verbode toegang. Nie dat
God in die OT geen genade verkondig het nie. God het die
tabernakel laat oprig en later die tempel, afbeeldings, skaduwee
van God se tent, Dat wil sê van die hemel self.

Maar hoe het dit gegaan met die aardse
heiligdom? Die gewone volk moet buite bly staan, in die voorhof.
Die hart van die vromes gaan wel uit na die binneste heiligdom,
waar God op die ark troon. Hul verlange gaan uit na die
gemeenskap met die God van die verbond. Maar hulle mag nie self
tot die Here nader nie. As ’n onheilige volk word hulle
teruggehou in die voorhof. Slegs een van hulle mag ingaan in die
heiligste. Een wat God gekies het om hulle verteenwoordiger te
wees, die hoëpriester.

Tog neem die hoëpriester hulle as ‘t ware
met hom saam na binne toe. Dink maar aan die spesiale kleding van
die hoëpriester. Op die skouerstukke van die skouerkleed dra hy
twee stene. En op die twee stene was die name van die kinders van
Israel gegraveer. So dra die hoëpriester die name van die twaalf
stamme van Israel saam voor die aangesig van die Here om hulle by
die Here in gedagtenis te bring.

Die name van die stamme van Israel was nie
slegs op die skouerstukke van die hoëpriester nie, maar ook op
die borskleed wat hy moes dra. Op die borskleed was immers 4 rye
kosbare edelstene, 4 rye van drie. Vir elke stam een steen met
daarop die naam van die stam. In sy ampsdiens het die hoëpriester
dus die volk van God op sy skouer en op sy hart gedra. Wanneer hy
die heiligdom binnegaan, dan neem hy as t ware die volk van God
saam. So verskyn die hele volk voor God se aangesig.

Maar, gemeente, dit alles was maar ’n
skaduwee, ’n afbeelding. Die werklikheid het gekom in Jesus
Christus. Hy het die ware heiligdom ingegaan, die hemel self,
soos ons lees in Hebr 9:24: "Want Christus het nie ingegaan
in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die
ware nie, maar in die hemel self."

Jesus Christus mag die hemel self ingaan. Die
mens mag verkeer in God se tent. Daarom kon die tempelgordyn op
aarde skeur. Die pad na God toe is oop. Daar is geen verbode
toegang meer nie.

Broeders en susters, ons verkeer hier nog op
die aarde, as ‘t ware in die voorhof. En ons kan nie ingaan
nie. Immers: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag
staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van
hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer
nie (Ps 24:3,4). Daar kom ons nie aan toe nie. Ons is nie rein
van hande en suiwer van hart nie. Wie mag dan klim op die berg
van die Here? En wie mag dan staan in sy heilige plek?

Op hemelvaartsdag gee God hierop ’n
antwoord. Jesus Christus mag daar staan. Jesus Christus, een van
ons, ons verteenwoordiger. Hy mag daar kom in ons natuur, met ons
vlees en bloed. Hy gaan vanuit ons midde, vanuit die kring van sy
dissipels, soos die hoëpriester vanuit Israel, die ware
heiligdom binne. Christus gaan vir ons tot God. Maar dan is sy
gemeente, dan is u as gelowige, in prinsipe ookal reeds daarbo.
Dan is u lewe alreeds in die hemel self.

As jy glo dan word jy nie gereken na jouself
nie. Jy word dan gereken na Christus. Deur om te glo is jy immers
een met Christus. Jy kan jou lewe nie los van Hom sien nie. Wat
van Christus geld, geld dan ook vir jou. Soos Paulus dit verwoord
in Ef 2: God het ons "toe ons dood was deur die misdade,
lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered
– en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus
Jesus."

Glo jy in Jesus Christus, dan kan van jou gesê
word dat God jou saam met Christus in die hemele laat sit het. So
seker mag jy wees van jou hemelvaart. Jy het alreeds ’n plek
daar. Jy mag woon in God se nabyheid. Want jou Heer Jesus
Christus is alreeds daar, Hy vlees van jou vlees.

Wat ’n ryke troos kan ons hieruit put,
terwyl ons hier op aarde nog moet lewe en stry. Die hemel lyk
dikwels so ver weg. Daar is ’n geografiese afstand. Christus
is liggaamlik in die hemel en ons is op die aarde. Ons sit nog
midde in die stryd teen sonde, siekte en dood. Ek moet hier nog
worstel om staande te bly. Ek moet soms soveel mis. Wat ’n
pyn en verdriet vanweë die gebrokenheid wat ek in my lewe ervaar.
Wat kan die hemel dan vir my gevoel ver weg wees, onbereikbaar
ver weg. Wat ’n teenstelling tussen die hemelse heerlikheid
en my lewe hier op aarde. Dit lyk wel ’n onoorbrugbare kloof.

Maar broeders en susters, u Heer en Hoof Jesus
Christus is opgeneem in die hemel. Die teenstelling wat daar deur
die sonde gekom het is opgehef. Hemel en aarde is in prinsipe
weer verenig. Die afstand is oorbrug. U Hoof is alreeds daar. En
in Hom is u ook alreeds daar. So seker mag u van u hemelvaart
wees. In Hom mag u alreeds in die hemel sit. Midde in die stryd
– wat soms so hewig en pynlik kan wees – mag u reeds
’n burger van die koninkryk van die hemel wees. Geen sonde
of swakheid wat nog teen u wil in u oorgebly het, kan die
burgerskap van u wegneem nie. Hef daarom u oë omhoog. Sien op
Jesus Christus, u Heer. Hy is daar in die hemel. En Hy is daar
terwille van U, soos ons lees in Hebr 9:24: Christus het in die
hemel self ingegaan om nou voor die aangesig van God vir ons te
verskyn.

Dit bring ons by die tweede gedagte van die
preek: Christus pleit vir ons in die hemel.

Gemeeente, in sy eerste brief wys Johannes op
hierdie werk van Christus in die hemel as hy skryf: as iemand
gesondig het, ons het ’n voorspraak by die Vader, Jesus
Christus, die Regverdige. Johannes plaas hierdie optrede van
Christus in ’n bepaalde verband met die woorde: as iemand
gesondig het.

Johannes sien die bedroewende werklikheid dat
die gelowiges telkens weer in sonde val. Dit gaan hom hier nie
oor ’n lewe in sonde nie. Hy rig hom immers tot gelowiges en
praat oor hul sonde. Die gelowige kan wel herhaaldelik in sonde
val, maar nie daarin lewe nie. Sou jy dit wel doen, in die sonde
jou lus en lewe vind, dan sou jy geen deel hê aan die ryk van
Christus nie. Nee, Johannes het hier die oog op wat deur Jakobus
genoem word: Want ons almal struikel dikwels (Jak 3:2).

Die feit dat ek telkens weer in sonde val is
’n steeds terugkerende nood, waarmee ek as gelowige te kampe
het. Wie ken dit nie? Soms gebeur dit sonder stryd, soms ook na
sware stryd: tog weer geval! Ek weet: dit mag nie, maar ek het
dit tog weer gedoen. Dit kan my wanhopig maak, want ek wil so
graag die Here altyd en in alles behaag.

Johannes skryf dan vir ons: vir die gelowige is
dit nie nodig om te wanhoop nie. Waarom nie? Wel, as iemand
gesondig het, ons het ’n voorspraak by die Vader, Jesus
Christus, die Regverdige. Sedert sy hemelvaart is Christus in die
hemel ons ten goede, ook in die sin dat Hy daar vir ons werksaam
is as ons Voorspraak. So is Hy besig om sy versoeningswerk vir
ons effektief te maak. Dit is een van die ryke seëninge van
Christus se hemelvaart.

As ek, ’n gelowige, in sonde val, dan het
ek in die hemel ’n Voorspraak., ’n Pleitbesorger. Hy
tree dan vir my in, pleit vir my saak, behartig my belange. Ons
het in die hemel dus ’n Voorspraak. God Self het Hom
aangewys. As jy gesondig het dan kan jy op Hom staatmaak. Hy moet
vir jou optree kragtens God se eie beskikking en hy kan optree.
Hy word immers Jesus Christus genoem, die Regverdige. Hy is die
Middelaar wat trou gebly het teenoor Hom wat hom aangestel het.
Hy het altyd en in alles God se wil gedoen. Dit was sy lus en
lewe. Hierdie Regverdige kan vir ons pleit as ons gesondig het.
Hy kan wys op sy werk. Hy kom by die Vader nie slegs met rein
hande nie, maar ook met gevulde hande. Wat Hy vir die Vader kan
wys is die versoening wat Hy tot stand gebring het, die soenoffer
wat Hy gebring het.

Op grond daarvan pleit Hy vir ons by die Vader:
"Vader straf hom of haar nie daarvoor nie. Ek het immers
reeds die straf vir hom of haar gedra." Sou Vader sy pleit
weier? Sou Vader sy eie Seun weier, nou sy Seun alles volbring
het wat Vader vir Hom opgedra het? In Jesus Christus lê u
versoening vas. Niks sal u skei van u Vader nie. Geen sonde of
swakheid wat nog teen u wil in u oorgebly het nie. Want Jesus
Christus het alles volbring. En die Vader het ’n welbehae in
Hom. Daardeur is Hy ons tot ’n seën. Soos ons lees in Hebr
7:25: daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan,
omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

Wat ’n bemoediging noudat ons hier op
aarde tog telkens weer in sonde val. Daar is geen rede tot
wanhoop nie. Sien op Jesus Christus alleen. Laat Hom u saak
bepleit.

Nou die derde punt: Christus laat ons ook hier
en nou hemels lewe.

U staan in die stryd teen die sonde nie alleen
nie. Christus pleit vir u in die hemel. Maar Hy gee ook sy hulp
hier op aarde. Deur sy Gees is Hy besig om u te vernuwe, heilig
te maak. Is jy burger van sy hemelse koninkryk, het jy reeds
’n plek in die hemel, dan sal dit sigbaar moet wees. Daarom
laat Christus ons deur sy Gees soek wat daar bo is waar Christus
aan die regterhand van God sit.

Maar gemeente, wat is dit om te soek wat daar
bo is en wat nie op die aarde is nie? Moet ek my maar soveel as
moontlik afsydig hou van die dinge van die aarde om heeltemal te
konsentreer op hemelse dinge. Moet ek hier op aarde maar met droë
brood en met ’n sink plaathuisie tevrede wees? Moet ek my
hier stil hou omdat dit op die hemel aankom?

Dit kan, broeders en susters, nie die bedoeling
wees nie. Christus het nooit die aardse lewe as iets
minderwaardigs behandel nie. Inteendeel, Hy het ons aardse lewe
binnegekom om juis die lewe te verlos en te herstel. En noudat
Christus in die hemel is, nou gaan Hy voort met sy werk van
vernuwing en herstel. Daar is geen deel van u lewe hier op aarde
wat nie dierbaar vir die Here is nie. Hy roep u daarom ook nie
uit u gesin of uit die maatskappy weg nie. Nee, Hy hou u juis
midde in die lewe. Die aarde is nog u woonplek en werkterrein.
Hier het u u taak.

Wat is dit dan om te soek wat daar bo is? Dit
is dat jy jou rig op die hemelse koninkryk, dat jy jou rig op die
hemelse koning. Die woorde praat van jou gerigtheid, jou oriëntasie.
Waarop is u georiënteerd? Waar laat u die instruksies vandaan
kom? Waardeur laat u u lei? Onderwerp u u aan die hemelse koning
en rig u u na die hemelse wette. Wanneer u dit doen, dan soek u
wat daar bo is. Al u doen en late moet uit Hom wees en so tot Hom.
Die hemelse koninkryk is dan die uitgangspunt en die doel van al
u besighede. God wil geen wêreldmyding nie, maar wêreld wyding,
die heiliging van alle verbande.

Gemeente, vergelyk dit met ’n aanstaande
bruid wat druk besig is om die huis van haar en haar bruidegom in
orde te maak. Niemand sal daaraan dink om van haar bedrywigheid
te sê: jy is voortdurend met jou huisie besig en nie met jou
aanstaande man nie. Nee, juis as sy die huis gereedmaak gaan haar
hart na hom uit. So mag daar ook vir u geen teenstelling wees
tussen u daaglikse werk op aarde en die soek van wat bo is nie.
Die twee moet en kan saamgaan. Juis in my daaglikse werk moet ek
soek die dinge wat bo is. Christus wil sien dat die alledaagse
lewe geheilig word, vernuwe deur sy Gees, uit Hom en tot Hom. Dan
gaan ek anders werk en speel, dan gaan ek anders met my geld en
goed om. Dan gaan ek ook anders om met my siekte en sorge. Ek
gaan anders stry. Ek weet dat ek in diens van die hemelse
koninkryk is.

God plaas die soek van wat bo is midde in die
konkrete daaglikse lewe. Dit blyk uit die teksverband van Kol 3
waarin die woorde voorkom. Om te soek wat bo is beteken allereers:
soek dit nie in gebooie en leringe van mense nie, in ydele
wysbegeerte en ’n vleeslike gesindheid. Trek die aardse
dinge nie los uit die samehang waarin God dit gestel het nie.
Soek die aardse dinge nie as doel in hulself nie. Pleeg geen
afgodery daarmee nie. Soek daarin steeds die eer van God.
Eerbiedig daarin die doel wat God met alles voor oë het.

Dit wat daarbo is dra jy dan in hierdie wêreld
in en in alle maatskaplike verhoudings. Let maar op die nuwe
lewenswandel waaroor Kol 3 praat. Julle het jul met die nuwe mens
beklee wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.
Dit deurtrek en bestempel al jou gedagtes en dade hier op aarde.
Paulus vervolg dan ook baie konkreet (Ek lees dit vir u: Kol. 3:12-17):
Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes,
met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid,
sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as
die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle
vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles
met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die
vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in
julle harte heers en wees dankbaar. Laat die woord van Christus
ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met
psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart
met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen
in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en
dank God die Vader deur Hom. Kol 3: 12-17.

Dit is nou broeders en susters wat dit beteken
om te soek die dinge wat daarbo is. Die Gees van Christus laat u
hier en nou reeds in beginsel hemels lewe. Laat u u dan lei deur
die Gees van Christus. Gaan in sy krag hier leef en werk. Rig u
op die Here Jesus Christus. Wat die hemel ingegaan het en daar
vir u pleit. Laat die mense bemerk dat u aan u hemelse Hoof Jesus
Christus behoort. Laat dit uitkom in u werk en vermaak, ja in al
u doen en late. Die sentrum van u bestaan is tog verplaas na die
hemel.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)