Christus beteken alles vir Paulus in lewe en sterwe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-07-11
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Filippense 1:19-26

Ds C Kleyn - Sondag 11
Julie 1999

Lees: 2 Kor. 4:16-5:10; Fil. 1:1-26.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 63: 2-4; Ps 73:10,11,12; Ps 16:1,4,5 (na
kollekte).

Tema: Christus beteken
alles vir Paulus in lewe en sterwe.

  1. Paulus se sekerheid: Christus sal groot
    gemaak word deur sy lewe of sterwe
  2. Paulus se onsekerheid: lewe of sterwe: wat
    sal ek kies?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons teks ontmoet ons Paulus in die
gevangenis. Gewoonlik is gevangenes intens besig met hul eie lot
en toekoms. Paulus maak daarop geen uitsondering nie. Opvallend
is egter dat sy gedagtes nie sirkel rondom sy eie ek nie. Nee,
die spil waarom alles vir Paulus draai is Christus. Elke
gevangene kom wel so ongeveer vir dieselfde vrae te staan. Tog is
daar ’n aanmerklik verskil in die manier waarop hulle die
vrae beantwoord. Dit hang af van hul houding. Vir Paulus het
Jesus Christus alles geword. Soos alreeds voor sy gevangenskap,
ken Paulus homself ook in sy gevangenskap as ’n slaaf van
Jesus Christus.

Kyk maar na hoe hy praat oor sy verhoor.
Gevangenes wat Christus nie ken nie gee ook rekenskap van hul
ontmoeting met hul regters. Hul praat oor hoe geslaagd dit was en
wat hul kanse nou sou wees. Veg ’n gevangene nie dikwels vir
sy eie lewe nie? Maar vir Paulus is daardie spanning weggeneem.
Wat vir hom die belangrikste is, is dat sy verhoor en alles wat
daarmee saamhang op bevordering van die evangelie uitgeloop het (vers
12). Die bewakers en ander het gemerk dat dit om Christus gaan.
Paulus se moedige getuienis het ook weerklank gevind by die
broeders buite die gevangenis. Hulle het daardeur meer moed gekry
om sonder vrees vir die moontlike gevolge die woord van Christus
uit te dra.

En wanneer daar naas ’n groep welwillende
getuie ook ’n ander groep getuie optree, wat uit onsuiwere
motiewe Christus verkondig, om Paulus te dwarsboom, dan raak
Paulus nie daaroor opgewonde nie. Menigeen sou deur so ’n
laag en vuil optrede sterk geprikkel wees: "nou moet ek naas
die ellende van die gevangenskap ook nog die ellende ervaar van
broeders wat my teenwerk. Dit word vir my teveel." In
Christus kom Paulus egter nie aan die persoonlike geprikkeldheid
toe nie. Christus het hom bevry van die menslike geveg vir eie
roem en eer. Sonder wrok in sy hart kan hy oor die kleinlikhede
van die wêreld heenkyk om die blywende waarde van die prediking
raak te sien: In elk geval word Christus verkondig; en hierin
verbly ek my en sal ek my ook verbly (vers18).

Gemeente, nou Paulus homself so terwille van
Christus kan wegsyfer, verloor ook die teenstelling tussen lewe
en dood sy beangstigende karakter. Gewoonlik ervaar sware
gevangenes, eweas baie siekes, die kwelling van onsekerheid.
Afhanklik van tekens van uitkoms of ondergang word hulle tussen
hoop en vertwyfeling heen en weer gegooi. Sommiges lê ook hul
hoof in moedeloosheid neer, moeg van die spanninge omtrent hul
eie lot. By Paulus is daar egter nie die senuslopende spanninge
wat tot moederloosheid kan lei nie. By hom is daar die rus van
die geloof in Christus. As Christus maar groot gemaak word. Dit
is wat vir hom belangrik is. Daarin hoef die dood of die
konfrontasie met die dood geen belemmering te wees nie. Paulus
verwagting en hoop is dat "Christus soos altyd so ook nou
groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur
die dood is." Dit is Paulus se fokus.

So verkondig ek U: Christus beteken alles vir
Paulus in lewe en sterwe

  1. Paulus se sekerheid: Christus sal groot
    gemaak word deur sy lewe of sterwe
  2. Paulus se onsekerheid: lewe of sterwe: wat
    sal ek kies?

In die teks begin Paulus om uiting te gee aan
sy sekerheid: Want ek weet dat dit deur julle gebed en die
ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal
strek. Ek weet met groot stelligheid dat dit wat ek moet deurmaak
tot my heil sal strek. Met "dit" bedoel Paulus alles
wat hy deurmaak. Dit sluit in sy gevangenskap, maar ook die
teenwerking van sekere broeders wat sy lyding probeer te verswaar.
Hoe moeilik die huidige omstandighede van die apostel ookal mag
wees, hy weet dat dit sal uitloop op sy verlossing.

Maar, wat bedoel Paulus hier met verlossing?
Verskillende verklaarders dink dat hy vrylating uit die
gevangenis voor oë het. Blykens vers 20 hou Paulus egter nog
rekening met die moontlikheid van sy dood. Ons sal by die woord
verlossing dus aan meer as aan aardse, tydelike redding moet dink.
Die ewige redding is hier ingesluit. Paulus is daarvan oortuig
dat alles goed sal afloop, tot sy heil sal dien, of hy nou
vrygelaat word of sal moet sterwe. Hy sien die toekoms opgewek
tegemoet, ook al weet hy nog nie hoe dit sal verloop nie. By
voorbaat is hy seker van ’n positiewe uitkoms.

Broeders en susters, hierdie sekerheid geld vir
Paulus en vir alle gelowiges. As gelowige hoef jy nooit bang te
wees vir die afloop van gebeurtenisse nie. Soms gebeur daar
onverwagse dinge, dinge waarvan ons gehoop het dat hulle nie sou
gebeur nie. Maar God staan bo alles. Hy regeer as soewereine God.
En hy is besig om sy plan in ons lewe uit te werk. Aangaande ons
persoonlike geskiedenis as gelowige lees ons in Rom 8:28 dat God
alles ten goede laat meewerk. Daarom sal die afloop altyd goed
wees. "Dit sal tot my heil strek."

Die gelowige is egter nie soos ’n kurk wat
maar dobber op die water en deur die stroom voortgedrywe word nie.
Die gelowige is ’n persoon wat die hulp van God nodig het om
vol te hou en om in alle omstandighede vir Christus te bly lewe.
Daarom sê Paulus ook: Ek weet dat dit deur julle gebed en die
ondersteuning van die Gees my tot heil sal strek. Dit loop nie
outomaties goed af nie. Paulus se sekerheid maak hom nie
hoogmoedig of oormoedig nie. Hy sê nie: moenie bekommerd wees
nie, ek sal dit wel oorkom, dis geen probleem vir my nie. Nee, sy
sekerheid maak hom juis klein en ootmoedig. Hy is bewus van sy
afhanklikheid van God en mense.

Twee middele sal daartoe meewerk dat die
ongunstige omstandighede Paulus tot heil sal strek. Dit is die
gebed en die ondersteuning van die Gees. Dis opvallend dat Paulus
hier gelyktydig wys op die hulp van die gemeente en van die Gees.
Paulus laat sien hoe nou die twee aan mekaar verbind is.

Deur die voorbede van die gemeente as eerste te
noem laat Paulus ook sien hoe belangrik die voorbidding van die
gemeente is. Die gebed is nie te klein, te menslik, te kragteloos
om naas die Heilige Gees genoem te word nie. Die vurige gebed van
’n regverdige het groot krag (Jak 5:16). Ons lees in
Handelinge van die aanhoudende gebed van die vroeg Christelike
kerk en dat God in antwoord op hulle gebed ingegryp het. Die
uitstorting van die Heilige Gees is ook voorafgegaan deur die
gebede van die kerk (Hand 1:14). Die Heilige Gees werk die gebed,
maar die Gees word ook op die gebed ontvang. Dink maar aan wat
ons bely in sondag 45 van ons HK. Aan wie wil God sy genade en sy
Heilige Gees gee? Ons bely: Alleen aan hulle wat Hom met hartlike
versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Gemeente, ons het al gesien dat Paulus vir die
gemeente te Filippi bid (1:4,9). Omgekeerd is dit ook belangrik
dat die Filippense vir Paulus bid. Paulus het hul voorbede nodig.
In die kerk van Christus moet ons vir mekaar bid. Ons is
verantwoordelik vir mekaar. Die ampsdraers moet bid vir die ander
lidmate en die lidmate moet bid vir die ampsdraers. Waarom? Ons
kan alleen werklik lewe en werk in diens van die Here deur die
krag van die Heilige Gees. En hoe ontvang ons die hulp van die
Heilige Gees? In antwoord op die gebed. Nie slegs in antwoord op
ons eie persoonlike gebed nie, maar ook in antwoord op die gebed
van die gemeente. Die gemeente bid vir die ondersteuning van die
Gees van Christus, en Christus gee dit op die gebed.

Wat ’n bemoediging ontvang ons in Paulus
se woorde. Die gemeente mag weet dat sy nie uitgesluit is by die
voortgang van die evangelie en die bou van die kerk nie. Nee,
Christus wil ook hul voorbede daarvoor gebruik. Ook die voorbede
van hulle wat dink dat hulle uitgeskakel is, hulle wat dink dat
hulle geen bydrae meer kan lewer nie. Ja, juis hulle wat so
beperk lyk in hul moontlikhede kan via voorbidding soms ’n
groot krag in die kerk wees. Besef u dit wel broeders en susters?
U wil tog diensbaar wees aan die bou van Christus se kerk en aan
die koms van sy koninkryk? Vergeet dan nie die voorbidding nie.
Ook nie die voorbede vir die ampsdraers nie. U ondersteunende
gebede het groot waarde en krag. In sekere sin kan gesê word dat
die gemeente nie trou kan bly en geestelik kan groei, sonder die
voorbede nie. Dit loop nie outomaties goed af met die gemeente en
met die ampsdraers nie. Christus wil die krag van sy Gees gee in
antwoord op julle gebede. Volhard daarom in die gebed, ook in die
voorbede vir hulle wat julle in naam van Christus leiding moet
gee. Dan sal inderdaad alles, ook teleurstellings en verdriet wat
die gemeente ondervind, deur God se krag ons tot heil strek.

Paulus skrywe: Want ek weet dat dit deur julle
gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot
heil sal strek, volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek
in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle
vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my
liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.

Die sekerheid van Paulus is volgens sy eie
reikhalsende verwagting en hoop. Wil jy seker oor die uitkoms
wees dan moet jy ook gespanne daarna uitsien, dan moet jy ook
self daarna jaag. God gebruik ook ons verlange en hoop om sy
beloftes te vervul. Paulus sien daarom reikhalsend daarna uit dat
hy nie beskaam sal word in sy lewensdoel nie, naamlik dat
Christus groot gemaak sal word.

Paulus beperk hom nie tot sy persoonlike
aandeel aan die grootmaak van Christus nie. Hy sê nie deur wie
Christus groot gemaak sal word nie. Dit gaan daaroor dat Christus
groot gemaak word. Paulus se eie lewe is maar ’n klein
onderdeel in die groot projek. Christus sal grootgemaak word.
Daarop sal dit ook in sy eie liggaam uitloop. "Dat Christus
soos altyd so ook nou groot gemaak sal word in my liggaam".
In my liggaam, dws in my sigbare en tasbare bestaanswyse hier op
aarde. En wel onder alle omstandighede, of dit deur die lewe of
deur die dood is.

Ja, selfs as Paulus tot die dood veroordeel
word en moet sterwe, selfs dan sal Christus daarin grootgemaak
word. Dis wel ’n wonderlike belydenis. Dink jou in wat
Paulus hier sê. Wanneer ’n orrel inmekaarstort, dan sê ons
tog nie: die orrel het nog steeds ’n mooie klank nie? Of
wanneer ’n tempel afgebreek word dan sê ons tog nie dat die
tempel nog goed diens doen nie? Tog aarsel Paulus nie om sulke
taak te gebruik mbt sy liggaam. Ook die aflegging van sy liggaam
sal die grootmaking van Christus dien. Of hy nou vrygespreek of
veroordeel word, in albei die situasies sal Christus verheerlik
word.

Gemeente, die christelike hoop laat ons seker
wees van die uitkoms. Dit beteken egter nie dat ons dan weet hoe
en wanneer die doel bereik sal word nie. Daarom noem Paulus in
vers 20 beide moontlikhede: lewe of dood. Hy weet niks van die
toekoms nie, behalwe dat dit een van die twee sal moet wees. Hy
weet ook nie welke van die twee hy sal moet kies nie. Beide lewe
en dood het sy waarde. So sien ons ook Paulus se onsekerheid:
Lewe of sterwe – wat sal ek kies? Die tweede punt.

Lewe of dood maak vir die apostel blykbaar geen
wesenlik verskil nie. In vers 21 laat hy sien hoe dit moontlik is.
Vir hom persoonlik is dit nie so dat die lewe wins beteken en die
dood verlies nie. Nee, "vir my is die lewe Christus en die
sterwe wins". Kernagtige woorde waarmee Paulus ons laat
nadink. Wat bedoel hy tog? Vir my is die lewe Christus. Mense,
wil julle weet wat my lewensgeheim en wat my lewensdoel is? Dit
is Christus. Christus is die een wat sin en betekenis aan my
bestaan gee. Hy is die Een op wie alles aankom.

Om te lewe is vir my om Christus te ken, om
Christus lief te hê, om Christus te dien, om Christus se saak te
bevorder, om vir Christus te ly. My hele lewe, my handel en
wandel moet Christus grootmaak. My lewe word so deur Christus
beheers dat Christus as t ware my lewe self geword het. Vir my is
die lewe Christus. Pragtige woorde. Kan u dit Paulus nasê? So ja,
dan sal die eer van Christus die doel van u lewe wees. Dan sal
die genade van Christus die krag van u lewe wees. Dan sal die
Woord van Christus die wet van u lewe wees. En dan sal die diens
van Christus die vreugde van u lewe wees.

Natuurlik is daar nog baie dinge in ons
daaglikse lewe wat op die volle Christus-lewe ’n demper sit.
Daar is veral die sondes, die tekortkomings. Dieselfde Paulus wat
skryf: vir my is die lewe Christus, skyf ook in Rom 7 "As ek
die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. …Ek
ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie
dood?" Daarom verlang hy ook na die volmaakte vreugde en
lewe. Daarom vervolg Paulus ook in ons teks: vir my is die sterwe
wins. Die apostel vrees nie die dood nie. Hy probeer dit nie
angsvallig ontvlug nie. Hy is daarmee versoen en reken dit tot
wins.

Hoekom? Is dit enkel omdat die dood die einde
van alle aarde lyding beteken? Is dit omdat Paulus ’n
negatiewe kyk op die aardse lewe het en graag van al die aardse
ellende verlos wil wees? Nee, Paulus het geen negatiewe kyk op
die lewe nie, soos mense van ouds gehad het nie. Die Grieke bv
het alreeds die dood as wins gesien, vanuit ’n negatiewe kyk
op die lewe. Die dood sou ’n bevryding van alle aardse
ellende wees, ’n bevryding van die siel uit die kerker van
die liggaam. Vir die Christen is dit egter anders. Die aardse
lewe is op sigself nie negatief nie. Paulus kan immers sê: vir
my is die lewe Christus. Christus gee sin en inhoud aan die lewe,
ook al is daar die aardse ellende. Paulus sal later ook uitwerk
watter waarde dit vir hom het om hier op aarde nog te bly lewe.
Die wins van die dood hang weer saam met Christus. Omdat ek
Christus ken en liefhet, daarom is die dood vir my wins.

Wat is dan presies die wins van die dood? In
vers 23 omskryf Paulus dit met die woorde: ek het verlange om
heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die
beste. Die werkwoord "heengaan" roep by ons die beeld
op van die opbreek van ’n tent of tentekamp. Ons lewe hier
op aarde is maar kortstondig, vergelykbaar met ’n woon in
tente. Ons het hier geen permanente verblyf nie. Ons permanente
woning is in die hemel, ’n gebou van God, nie met hande
gemaak nie, ewig (2 Kor 5:1). Wanneer ek as christen sterf, dan
breek ek die tentwoning af om my intrek in my permanente woning
in te neem. Ek laat alle onsekerhede en gevare van so ’n
tydelike verblyf agter my om dan onmiddellik met Christus te wees.

Hier op aarde is ek reeds deur die geloof aan
Christus verbonde. By my sterwe sal ek egter saam met Hom wees.
Dan is ek nie langer ’n burger van die hemelryk wat nog in
die vreemde moet woon nie, maar dan is ek verenig met my Heer.
Die afstand val dan weg. Op ’n nuwe en ongekende wyse sal ek
dan die gemeenskap met Christus geniet. My geloofsvertroue sal
oorgaan in aanskoue. Ek sal dan die hoogste saligheid smaak, die
salige vereniging met Christus in heerlikheid.

Paulus noem die saamwees met Christus as
verreweg die beste. Is dit hoe ons so ’n dood sou ervaar?
Gestel dat ons in Rome by Paulus sou wees en dat ons dan sou
meemaak dat hy ter dood veroordeel word. Ons sou die gemis sterk
ervaar en ons sou praat van ’n ontydige dood. Maar hoe sou
dit wees vir die persoon self? Sou hy dan nie ’n verloorder
wees, ’n arme Paulus nie? Nee, vir hom sou dit verreweg die
beste wees. Verstaan my goed: nie die dood self is dan verreweg
die beste nie, die dood bly ’n vyand, maar die gevolge van
die dood, naamlik die saamwees met Christus. Terwyl ons dan sy
verlies sou beween, sou hy reeds ongekende heerlikheid besit.

Beteken dit dan dat rou nie vanpas is vir
’n Christen nie, wanneer hul geliefdes heengaan om met
Christus te wees? Die feit dat hulle so ’n heerlikheid besit
maak dit vir ons wel ligter, maar neem ons ervaring van gemis en
eensaamheid nie weg nie. In hierdie selfde brief beskryf Paulus
ook die verdriet wat ’n sterfgeval saambring: droefheid op
droefheid (Fil 2:27). Trane is nie onvanpas vir christene nie.
Juis Christene wat weet van hegter bande en gevoeliger gemaak is,
weet van verdriet, al is dit dan nie ’n verdriet sonder hoop
nie. Jesus self het by die graf van Lasarus geween.

Beteken daardie wins van die dood dan dat
Paulus die voorkeur gee aan die dood bo die lewe? Vir homself is
die dood inderdaad verkieslik, verreweg die beste. Maar hy staan
nie alleen nie. Vir my is die lewe immers Christus. Dan is ook
Christus se kinders en die voortgang van Christus se saak hier op
aarde vir my dierbaar. Dan kan die lewe hier belangriker wees. So
skryf Paulus: Maar om in die vlees te bly is nodiger om julle
ontwil. Die kerk het Paulus nog nodig. Hulle moet nog groei in
geloof en blydskap. Die verlengde lewe sou vrugbare voortgesette
arbeid beteken, meer arbeidsgeleenthede, arbeidsvreugde,
arbeidsvrug, meer diens aan die saak van Christus en sy kerk op
aarde. Daarom weet Paulus nie wat hy moet kies nie. Beide lewe en
dood kan vrugbaar wees vir Christus. Gelukkig dat hy en dat ons
ook nie hoef te kies nie. Christus self sal bepaal hoe lank hy sy
kinders hier op aarde nodig het.

Wat ’n ryke troos dat ons so vanuit
Christus die lewe en die dood mag besien. So kry beide hul sin en
waarde. So kry ook beide hul relatiewe waarde. Hierdie aardse
lewe is nie alles nie. Die dood is ook nie alles nie. Christus is
alles. Dan wil ek my ook beywer vir Hom en sy saak hier op aarde,
solank as Hy my hier roep. In alle omstandighede, ook al lyk dit
asof ons ons tyd gehad het. Onderskat nie die arbeidsgeleenthede
nie, selfs by ouderdom, siekte of gevangenskap. Ook al kan ons
slegs bid dan kan ons nog baie diensbaar wees aan die bou van God
se kerk en koninkryk. Christus bepaal wanneer ons diens op aarde
verby is. En as vir ons die lewe Christus is, dan sal ook ons
sterwe wins wees. Dan sal ons verhouding met Christus nog baie
ryker wees. Ons sal hom dan sien van aangesig tot aangesig en
ewig met Hom in heerlikheid lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)