Paulus se blydskap in sy gevangenskap oor die verbreiding van die evangelie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-06-27
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Filippense 1:12-18

Ds C Kleyn - Sondag 27
Junie 1999

Lees:Filippense 1:1-11;
Filippense 1:12-18.
Sing: Ps 47:1,4; Ps 101:1-3; Ps
77: 5,6,7 (na kollekte); Ps 119:15,25,26; Ps 30:4,7,8.

Tema: Paulus se
blydskap in sy gevangenskap oor die verbreiding van die evangelie

  1. deur homself as gevangene;
  2. deur die broeders;
  3. deur sy teenstanders.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie stel nie belang in die omstandighede van sy
vriende nie? Paulus weet dat die Filippense oor sy situasie as
gevangene sorge het. Die informasie vanuit Rome moet wel
ontmoedigend gewees het. Wat gaan met Paulus gebeur? Sal hy
veroordeel of vrygespreek word? Sal dit die werk van Christus,
wat alreeds so ’n voortgang in die wêreld gemaak het, tot
stilstand bring? Dit lyk asof die gevangenskap van Paulus slegte
nuus vir die saak van die evangelie is. Dergelike pessimistiese
en besorgde reaksies kan ’n mens verwag in daardie
omstandighede. Daarom wag Paulus nie lang daarmee om die
Filippense van sy situasie op die hoogte te bring nie.
Onmiddellik na sy groet, danksegging en bede gaan hy iets oor
homself sê.

Watter verrassende dinge kry ons te hore.
Paulus is besonder positief in sy omstandighede. Hy gee uiting
aan blydskap in die verdrukking. Dit is die toon waarin hy praat.
Dit lyk ’n teenstrydigheid. Ons worstel daagliks met die
dinge wat ons aardse geluk en welsyn bedreig. Ons wapen ons teen
allerhande dinge wat dreig om ons lewe neer te druk. Ons bid
daarteen. En nou verkondig die apostel vir ons dat hy hom verbly
in die kruis. Hoe moet ons dit verstaan?

Ek verkondig u: Paulus se blydskap in sy
gevangenskap oor die verbreiding van die evangelie

  1. Deur homself as gevangene;
  2. Deur die broeders;
  3. Deur sy teenstanders.

"Ek wil hê dat julle moet weet, broeders,
dat wat my wedervaar het, eerder tot bevordering van die
evangelie uitgeloop het." Paulus wil heel nadruklik hê dat
sy lesers dit moet weet. Ons mag daarmee bly wees, anders sou ons
die positiewe vrug van die lyding maklik vergeet. Bedink dat
Paulus, dit wat hy wedervaar het, as positief ervaar. Wat het
Paulus nie alles wedervaar nie! Dit het begin toe hy in Jerusalem
aangekom het, nadat hy deur die Gees gewaarsku was dat boeie en
verdrukking op hom sou wag. Hy word op grond van valse
beskuldigings deur die Jode gegryp en buitekant die tempel
gesleep terwyl hulle probeer het om hom te vermoor. Net betyds
word hy deur romeinse soldate gered, wat hom met moeite na die
kamp bring. Dan is daar die sameswering teen hom, waardeur hy na
Cesarea gestuur word. Sy hele regsaak is ’n skynvertoning,
’n verkragting van die reg. Felix hou hom daar twee jaar
lank gevange omdat hy die Jode aan sy kant wil hou en omdat hy
hoop dat Paulus aan hom geld sal gee om hom los te laat. Die
valse beskuldigings, die regsverkragting en die korrupsie waaraan
Paulus onderworpe was, was ongelooflik. Tog skryf Paulus: Wat my
wedervaar het, het eerder op bevordering van die evangelie
uitgeloop.

Dit was nog nie die einde van sy lyding nie.
Daar was nog die pynlike beslissing om hom op die keiser te
beroep teen sy eie volksgenote, die reis na Rome, die
verskriklike storm op see wat hom byna sy lewe gekos het. Sedert
sy aankoms in Rome moes hy al twee jaar lank in gevangenskap wag
op die afhandeling van sy regsaak. Wanneer Paulus sy brief aan
die Filippense skryf is hy nog steeds ’n gevangene, geboei,
onseker oor die vonnis wat uiteindelik gevel sal word. Tog skryf
hy: wat my wedervaar het, het eerder op die bevordering van die
evangelie uitgeloop. Is dit nie ongelooflik nie?

Gemeente, hieruit blyk dat die saak van
Christus nie afhanklik is van wat ons voorspoed of teenspoed noem
nie. Die Here beskou die saak van sy koninkryk nie met die
beperkte blik van ons mense nie. In goddelike wysheid lei Hy alle
dinge na die doel wat Hy gestel het. Hy is immers die Skepper en
Regeerder van alle dinge. Na sy ewige raad reël Hy die
lotgevalle van ons mense en die gebeurtenisse van die wêreld. Hy
sorg daarvoor dat sy koninkryk deur die storms van die tye heen
kom, ondanks alle haat en vyandskap van die wêreld, ondanks alle
druk en vervolging van die gelowiges. Hy laat alles ten goede
meewerk vir die heil van sy kinders en vir die koms van sy ryk.
Die verdrukking in die lewe is die hande van die Formeerder wat
ook ons Vader is.

Ons kan ons indink dat Paulus ook rêrig die
pyn van die boeie ervaar het. Vir meer as 4 jaar is hy al geboei,
verhinder om as sendeling met die evangelie rond te reis. Tog
weier Paulus om uit te wei oor sy moeilike situasies en om so die
aandag op homself te rig. Dit sou die aandag aflei van die dinge
waar dit op aankom. Dit kom immers daarop aan dat Christus
verheerlik word. Daarom beskryf Paulus nie die effek van sy boeie
op homself nie, maar die effek van die boeie op ander. Die boeie
blyk eerstens ’n getuienis vir die wêreld te wees. Wat my
wedervaar het, het eerder op bevordering van die evangelie
uitgeloop "sodat my boeie openbaar geword het in Christus
onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander."

Daar was die keiserlike lyfwag, uitgesoekte
soldate, wat beurtelings Paulus moes bewaak. Wat moes hulle doen
om hul tyd te vul? Hulle het wellig met Paulus gepraat. So het
die gevange Paulus opgeval deur sy woorde. Hulle was ook aanwesig
by die gesprekke tussen Paulus en die mense wat hom besoek het.
So het hulle gemerk dat Paulus geen gewone gevangene was nie,
geen oproermaker nie, maar ’n prediker van die evangelie van
Christus. Die soldate kon dit ook merk aan Paulus se houding, uit
sy geduld en gehoorsaamheid, uit sy lied. Die vrede wat hy
uitstraal, die woord van wysheid en troos wat hy vir almal, ook
vir hulle, verkondig is opvallend.

So het my boeie openbaar geword in Christus, sê
Paulus. Die soldate het hieroor met hul kollegas, met hul vriende
en kennisse gepraat. So het die oorsaak van Paulus se boeie nie
slegs bekend geword onder die keiserlike lyfwag nie, maar ook by
baie ander van die Romeinse publiek. Juis sy lyding blyk vrugbaar
te wees as getuienis aan die wêreld.

Gemeente, nie elke lyding van Christene is
vrugbaar vir die evangelie nie. Baie christene ly sonder dat
hulle enige positiewe invloed op die wêreld of op die kerk het.
Die vrug kom dus nie outomaties van die boeie of die lyding nie.
Daar moet meer wees as slegs die lyding self.

In sy lyding het Paulus nie homself op die
voorgrond geplaas nie. Sy lyding was vir hom geen aanleiding
daartoe om homself te gaan bekla nie of om die aandag van die
mense op homself te rig nie. Met sy boeie het hy hom juis na
buite gerig. Hy sien dit as ’n geleentheid om op Christus te
wys, om te getuig van Christus. In sy lyding is Paulus dus ’n
getuie van Christus. Dit is wat die verskil maak. Die boeie van
een persoon of ’n ander persoon maak geen verskil nie. Dit
is die getuienis van die geboeide wat die verskil maak. Hier is
’n gevangene wat steeds maar praat oor Iemand Anders. Of hy
nou alleen met die soldaat sit of saam met ’n besoeker, sy
gesprekke gaan altyd oor Christus. Sy lyding is ’n
geleentheid om van Hom te getuig.

Hierdie mondelinge getuienis het voortgekom uit
Paulus se innerlike houding teenoor sy lyding. Hy het homself,
ook in sy boeie, gesien as ’n geroepene van die Here, bestem
tot die verdediging van die evangelie (vers 17). Hy het sy lyding
nie gesien as ’n daad van vergeetagtigheid van God nie,
waarby hy by die vraag vasgesteek het: waarom het God dit met my
laat gebeur? Hy het sy lyding ook nie beskou as ’n
ontheffing van sy taak nie (ek het uitgesien na jare van vrugbare
diens, maar kyk hoe ek nou toegesluit is). Hy het sy lyding ook
nie gesien as ’n werk van Satan nie (ek is bang dat satan
hierdie keer sy sin gekry het). Nee, Paulus het sy lyding gesien
as ’n geleentheid tot diens, as die plek waar God hom nou
tot diens geroep het. Die groot gesant is nie meer vry om oor
land en see te reis met die evangelie nie, maar hy het nie
opgehou om gesant te wees nie. Die enigste verskil is dat hy nou
’n gesant in kettings is (Ef 6:20).

Paulus vertel van sy ervarings op so ’n
manier dat ons sou kan dink dat dit vir hom ’n maklike saak
was. Maar waarom sou dit vir Paulus makliker as vir ons gewees
het om die pad van self medelyde af te wys, om meer oor Christus
te praat as oor ons klagte en om elke situasie te aanvaar as die
plek waar God ons tot diens roep? So ’n moeilike houding kom
slegs deur oefening tot stand, deur pynlike keuses in die hitte
van die verdrukking, wat lydsaamheid werk (Rom 5:3). Paulus skryf
dan ook in Fil 4:11-13 "Ek het geleer om vergenoeg te wees
met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word,
ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is
ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om
oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in
staat deur Christus wat my krag gee." Watter kragtige
prediking gaan daar uit van Paulus se voorbeeld ook vir ons
vandag.

Hoe gaan dit met ons roem in die verdrukkinge?
Teenslae druk ons dikwels neer. Teleurstellings, moeilike
ervarings kan ons maklik selfsugtig maak, mistroostig, verdrietig.
In donker dae probeer Satan om die troos van God se beloftes ons
te ontneem en ons tot ongeloof te verlei. Die sonde probeer op
allerlei manier om ons saam te sleur. Waar is die mens wat in sy
ellende in Christus roem? Gelukkig leer God sy kinders om
kruisdraers te wees. Hy leer ons om te verstaan dat die kruis
goed is. Juis deur die verdrukking word die kaf van die koring
geskei, word openbaar hoe swak en sondig ons is, maar ook hoe ryk
God in sy trou en goedheid is.

Die vuurproef is so gevaarlik. Wee die mens wat
alleen, sonder Christus, die storms moet trotseer. Hy sal beswyk.
Maar gelukkig is hy wat in die nood by Christus mag skuil. Want
dan, wanneer eie krag en wysheid beswyk, wanneer alles waaraan
ons ons vashou ons ontval, dan het ons Christus die Weg, die
Waarheid en die Lewe. Dan sien ons ook die nut van die kastyding,
dat die koms van God se koninkryk en die eie saligheid daardeur
uitgewerk word. Wanneer Paulus na die toekoms kyk dan verklaar hy
sy blywende wens (vers 20): dat Christus soos altyd so ook nou,
groot gemaak sal word. Laat die woord "nou" in ons hart
en gedagtes ingegrif wees. Dis nou dat ek moet toon hoe groot
Christus is. Nooit weer kry ek die kans om op hierdie oomblik vir
Hom te lewe, om in hierdie omstandighede Hom te behaag, om in
hierdie beproewing Hom te verbly deur my vertroue op Hom te toon.

Gemeente, Paulus se gevangenskap het ook op
’n tweede manier op die bevordering van die evangelie
uitgeloop, naamlik as ’n stimulans vir die christene. Ons
lees: sodat die meeste van die broeders wat in die Here deur my
boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord
onbevrees te spreek.

Dit kan ook heel anders uitwerk. Wanneer gevaar
dreig dan belet ons swak en sondig natuur ons maklik om te getuig.
In dae van rus en vrede, en onder eie broeders en susters, lyk
dit so maklik om christen te wees. Maar wanneer ons eer in die
gedrang kom, wanneer ons goed en bloed in gevaar kom, dan deins
ons terug. Paulus se voorbeeld het egter die christene gesterk in
hul vertroue in die saak van Christus. Paulus het getoon dat
’n mens daarop kan vertrou dat Jesus Heer is, ook wanneer
dit lyk asof dinge sleg gaan. Hy is in beheer ook wanneer dit lyk
asof sy kneg in die hande van mense val. Die Christene sien
opnuut en skerper hoe betroubaar Christus is en hulle kry meer
vertroue.

Die vertroue wys homself in die manier waarop
hulle hul getuienis uitdra. Hulle waag dit des te meer om die
woord onbevrees te spreek. Dit is opmerklik. Paulus was in die
gevangenis omdat hy moedig en onbevrees vir die Christus getuig
het. Dit lyk juis gevaarlik om die woord van Christus uit te dra.
En van nature is ons geneig om onsself en ons aardse belange
veilig te stel. Maar wat sien ons in ons teks? Die christene gaan
onbevrees die woord van Christus spreek.

Vir die natuurlike oog lyk dit asof die saak
van Christus steeds die nederlaag ly. Sedert die sondeval is daar
op aarde die stryd tussen die slangesaad en die vrouesaad. Satan
gebruik al sy mag en lis om die saak van die Here teen te staan
en die volk van die Here te onderdruk. Ons mag egter altyd in die
saak van Christus vertroue hê. Ook al skyn die uiterlike
omstandighede in stryd met God se woord te wees, die woord sal
tog die waarheid blyk te wees. Die Here Jesus regeer, ook in
donker dae. En Hy maak ook die sonde diensbaar aan die koms van
sy heerlike koninkryk.

Die geloof leer ons om met vertroue ons aan die
saak van die Here te gee, ook in ons persoonlike lewe. Ook as ek
persoonlik swaarkry, as die kruis swaar druk, mag ek glo dat God
geen onreg doen nie, maar dat God se weg goed is. Daarvoor is
nodig dat ek ’n persoonlike band met Christus het. Deur die
genade leer ek om te rus in God, ervaar ek sy guns en gemeenskap,
leer ek om te roem in die verdrukking en ontvang ek die
vrymoedigheid om God se woord onbevrees te spreek.

Paulus wys nog op ’n derde vrug van sy
boeie, naamlik dat selfs sy teenstanders die evangelie verkondig.
In die gemeente van Rome is alles nie rooskleurig nie. Daar is
verdeeldheid. Daar is twee soorte predikers. Die verdeeldheid
sirkel rondom die persoon van Paulus. Die een groep is goedgesind
teenoor Paulus en doen alles uit liefde vir Christus en sy
apostel, omdat hulle weet dat Paulus bestem is tot die
verdediging van die evangelie (vers 17). Die ander groep het iets
teen Paulus en hulle verkondig Christus uit naywer, nie met
suiwer bedoelings nie, met die mening om aan Paulus se boeie
verdrukking toe te voeg (vers 16).

Dis opvallend hoe summier Paulus die laaste
groep beskryf. Paulus wys slegs op hul verkeerde bedoelings. Hy
vertel ons van hul afguns en twis (vers 15) en van hul naywer (vers
16). Waarom was hulle afgunstig? Waarom was hulle daarop uit om
Paulus se lyding te verswaar en om vir hulself te veg? Paulus
vertel ons niks daaroor nie. Daarom sal ons dit nooit te wete kom
nie. Al wat ons weet is dat daar predikers is wat uit afguns en
naywer Christus predik. Hulle is in feite innerlik verdeeld.
Hulle harte is nie afgestem op hul getuienis nie. Terwyl hulle
met die mond die Christus predik koester hulle in hul harte
sondige gevoelens wat stry met die evangelie.

Iets dergeliks kan ook vandag maklik gebeur
onder God se kinders. Eersug en selfsug kan ’n groot rol
speel ook in die kerk. Laat ons die gevaar nie onderskat nie. Dan
kan dit gebeur dat ons onsself probeer verhef ten koste van ander.
Ons wil groot wees en as groot erken word. En dit beteken dikwels
dat ander dan maar klein gemaak moet word, in ongunstige lig
geplaas moet word. Dis op sigself ’n saak wat aangespreek
moet word.

God haat so ’n dubbele lewe. Ons houding
en gedrag, ons werk vir Christus, moet in ooreenstemming wees met
die heerlike evangelie wat ons wil uitdra. En op sy tyd sal
Paulus dit ook wel aanspreek. Maar dit is nie waarvoor hy dit nou
in die teks noem nie. Hy het ’n ander doel voor oë. Hy wil
ons leer om te fokus op die dinge waar dit op aankom.

Hoe reageer Paulus dan op dit alles? Hy
verklaar in vers 18: My teenstanders wil my deur hul prediking
grief, maar wat maak dit? In elk geval, op allerlei wyse, of dit
onder ’n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en
hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.

Gemeente, beteken hierdie woorde van Paulus dat
ons allerlei soorte van Christus predikers maar moet tolereer en
dat ons ook hulle wat ’n halwe Christus verkondig moet
toelaat? Moet ons meer tolerant wees teenoor allerlei opvattinge
oor die Bybel? Moet ons op grond van hierdie woord bly wees met
al die kerklike denominasies wat sê dat hulle die Christus
predik? Wie dit sou beweer negeer die feit dat Paulus nie praat
oor predikers met ’n verkeerde leer nie, maar oor predikers
wat uit onsuiwere bedoelings die Christus predik.

Dit is vir Paulus ’n pynlike saak om in
die gevangenis te moet hoor dat die gemeente verontrus word deur
mense wat sy apostoliese gesag ondermyn. Tog herken hy daarin nog
iets waaroor hy bly kan wees, want met watter bedoelings die
mense die evangelie ook predik, in elk geval word Christus
gepredik "en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly".
Paulus sou hom nie kon verbly as sy teenstanders ’n halwe
Christus sou verkondig het nie. ’n Prediking waarin nie die
volle Christus tot sy reg kom nie, verwoes die gemeente en mag
nie getolereer word nie. Vandaar dat Paulus skerp optree teen die
Judaiste ook in die brief aan die Filippense. Hy noem hulle wat
’n ander Jesus verkondig honde, en slegte arbeiders (3:2).
Dink bv ook aan wat Paulus aan die Galasiërs skryf in hoofstuk 1:8
oor hulle wat die evangelie van Christus wil verdraai: "Maar
al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie
verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom
’n vervloeking wees!" Nee, as daar valse leer in geding
was, sou Paulus nooit in ons teks so gepraat het nie. Paulus
verbly hom oor die prediking van Christus. Sommige predikers mag
dan verkeerde, selfsugtige bedoelings hê. God kan in sy wysheid
ook die woord van onopregte, laaghartige verkondigers van
Christus diensbaar maak aan sy eer en die saligheid van sondaars.

Hoe ruim van hart staan Paulus in die saak van
die Here. Hoewel daar predikers is wat sy ondergang soek en hom
teenwerk, tog verbly hy hom omdat hulle Christus verkondig. As
dienaar van Christus kan hy verby sy teenstanders kyk en sien op
sy Sender, wat ook die verkeerde ten goede laat meewerk. Nie die
ego van die prediker is belangrik nie, maar Christus is belangrik.
As Hy maar gepredik word! Van nature soek ons onsself. Van nature
maak ons ons kwaad oor mense wat ons smaad of verdruk.

Alleen ’n hart wat deur die Gees van God
vernuwe is kan afsien van homself en so op Christus fokus. Solank
as Hy maar gepredik word verbly ek my en sal ek my verbly. ’n
Mens wat vernuwe is besef eie onwaardigheid en skuld en weet dat
Christus vir sondaars gesterf het. Dan sal die liefde my beheers,
die liefde wat vergeef, wat help en red. Dan stel ek myself aan
my Verlosser ter beskikking en dan sal ek in lydsaamheid die pad
loop wat Hy voor my gestel het, my oog op Hom gerig.

Kan u nou verstaan waarom Paulus hom kan verbly
in sy gevangenskap? Onder God se voorsienigheid is elke situasie
’n geleentheid om Christus te verheerlik. Hy gryp die
geleentheid aan deur self met woord en daad die mense op Christus
te wys.

Dit het weer ’n positiewe effek op die
broeders. Hulle kry daardeur meer vertroue om onbevrees van
Christus te getuig.

Selfs Paulus se persoonlike teenstanders
verkondig Christus. En dit gaan in ons lewe tog hieroor dat
Christus groot gemaak word?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)