Paulus se bede vir die voortgaande groei van die liefde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-06-20
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Filippense 1:9-11

Ds C Kleyn - Sondag 20
Junie 1999

Lees: Kolossense 1:1-14;
Filippense 1:1-11.
Sing: Ps 95:1, 2; Ps 95:4-6; Ps
50:7, 11 (na kollekte); Ps 119:5, 6, 60, 62; Ps 73:10,12.

Tema: Paulus se bede
vir die voortgaande groei van die liefde.

  1. die liefde moet groei;
  2. die liefde leer om te onderskei;
  3. die liefde maak die lewe mooi.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die gebed is baie belangrik in die lewe van
’n Christen: die gebed vir ander en die gebed vir onsself.
Maar wat moet ons bid vir mekaar? Wat moet ek vir myself van die
Here vra? Wil u weet hoe u moet bid dan moet u eers luister na
God se Woord. Sonder woorddiens kan daar geen gebedsdiens wees
nie. Om op die regte manier te kan bid moet u eers luister na wat
God sê oor wat u die meeste nodig het. As kind van God moet u
steeds in die leer by die Heilige Gees. Hy onderwys u hoe om te
bid, hoe om te stry vir die vrede van Jerusalem. Daarom wil ons
nou luister na wat die Gees vir ons te sê het in die woorde van
ons teks.

Ek verkondig u: Paulus se bede vir die
voortgaande groei van die liefde

  1. die liefde moet groei
  2. die liefde leer om te onderskei
  3. die liefde maak die lewe mooi

Vanuit die gevangenis skryf Paulus sy brief aan
die Filippense. Sy gevangenskap het Paulus nie uitgeskakel nie.
Ook in die tronk is Paulus aktief in diens van die Here. Onder
andere deur middel van gebed en die skryf van briewe aan die
gemeentes.

In sy worsteling vir die gemeente van Filippi
bid hy tot die Here. Let maar op wat hy bid. "Dit bid ek dat
julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en
alle ervaring." Dit is die nood wat ek aan die Here voorlê:
dat julle liefde mag groei.

"Julle liefde." Wat word hiermee
bedoel: hul liefde vir God of hul liefde vir mekaar? Paulus gee
geen nadere omskrywing nie. Ons mag aanneem dat hy beide bedoel:
die liefde vir God en vir die naaste. Die liefde moet groei. Dit
is wat die gemeente van Christus nodig het. Paulus bid daarvoor.
Daarmee spoor hy die gemeente ook aan om dit na te jaag.

Is dit werklik wat die gemeente nodig het? Moet
die groei van hul liefde nou werklik Paulus se eerste sorg wees?
Die Filippense staan tog bekend vir hul liefde? Die bede vir die
Filippense word voorafgegaan deur Paulus se danksegging vir hulle.
Hy dank God vir hul liefde en sorg. Paulus dra hulle in sy hart.
Hulle het Paulus groot blydskap en bemoediging gegee. Vanaf die
begin het hulle Paulus en sy helpers gasvry in hul huise ontvang.
Waar moontlik het hulle Paulus ondersteun, met geldelike en
geestelike steun. Selfs tydens sy gevangenskap. So het hulle die
evangelie nie slegs in geloof aangeneem nie, maar het hulle ook
self medewerkers in diens van die evangelie geword. Dit geld vir
die hele gemeente. In vers 7 praat Paulus uitdruklik van "julle
almal."

Die Filippense het dus reeds groot liefde vir
God en hul naaste getoon. Hoe kan Paulus dan as eerste nooddruf
noem dat hulle liefde nog meer en meer oorvloedig moet word?

Waarom so ’n nadruk op die liefde? Liefde
is die vrug van die Gees. Liefde is die uitgangspunt van ’n
christelik lewe. Die voortgang van jou lewe as Christen staan of
val met die liefde. Liefde is as dit ware die saad wat moet groei
en kulmineer in oorvloedige vrugte. Omdat liefde so belangrik is
kan ’n mens nooit genoeg daarvan hê nie. Kan ek nooit maak
asof ek die volle maat van liefde bereik het nie. Die liefde moet
bly groei. Die liefde is ook kwesbaar. Ek kan geen oomblik daarop
teer nie. Ek moet altyd daarmee bly deurgaan.

Hoe trou die Filippense oor die algemeen ook
mag wees, daar is ook by hulle ’n gevaar wat dreig. Daar is
onder hulle ’n sekere wedywer. Die lidmate werk nie saam
soos dit hoort nie. Hulle dink nog te veel aan hul eie eer en
posisie. Pleks van om in goeie harmonie saam te stry vir die saak
van Christus, probeer hulle om hul eie saak te bevorder.

In die gevangenis sien Paulus die gevaar.
’n Gemeente waarin die liefde kil word, word van binne uit
kragteloos gemaak. So ’n gemeente staan straks magteloos in
die stryd. En Paulus sien dat die stryd aan die kom is.
Dwaalleraars stel belang in die gemeente. Judaiste. Mense wat die
godsdienstige mens vlei maar tegelykertyd tekort doen aan die
boodskap van verlossing in Christus alleen.

Paulus voel homself geroepe om die Filippense
daarvoor te waarsku. Hy gaan daarvoor op die knieë. Hy bid dat
hulle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word. Hul liefde vir
God en vir mekaar. As die liefde oorvloedig is dan sal hulle die
stryd kan hanteer. Dan sal satan geen vat op hulle kry nie. Dan
sal die valse leer by hulle geen ingang vind nie.

Paulus bid vir die groei van die liefde.
Daarmee spoor hy hulle ook aan om daarna te jaag. Want God wil
die groei gee, langs die middellike weg. Dit is ’n kwessie
van bid en werk. Die liefde groei nie vanself nie. Hoe dikwels
kwyn die liefde nie weg nie en dat selfs onder getroue lidmate
van die kerk. Lidmate wil mekaar vriendelik bejeën solank dit
goed gaan. Maar as daar iets gebeur, as daar spanninge en
verskille openbaar word? Is dit nie so dat die liefde juis dan
moet blyk nie? Juis dan sal moet blyk wat julle liefde werd is.

Ware liefde is nie passief nie. Ware liefde
soek die ander, wil die beste vir die ander soek. As jy iemand
liefhet dan soek jy hom op, dan wil jy hom steeds beter leer ken,
sy gedagtes, sy node en sy wense. Om daarmee rekening te hou.

So kom ons dan by die tweede gedagte: die
liefde leer om te onderskei.

Paulus skryf: "dit bid ek dat julle liefde
nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring
om die dinge waar dit op aankom te onderskei." Die groei van
die liefde moet begelei word deur kennis en alle ervaring. Die
liefde waarvoor Paulus bid is nie vaag nie. Die liefde verag nie
die kennis nie. Paulus stel geen belang in oppervlakkige liefde
of goedkoop godsdienstige sentimentaliteit nie. Nee, Paulus bid
dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis
en alle ervaring. Die liefde waarvoor Paulus bid moet
onderskeidend wees. Dit moet begrens en vergesel word deur kennis
en alle ervaring. Sonder die eienskappe verval die liefde maklik
in mislike sentimentaliteit of in slaperige onverskilligheid
waarby jy alles goedvind wat die wêreld dikwels verwar met
liefde.

Christelike liefde moet begelei word deur
kennis. Dit is geen vae of oppervlakkige kennis nie, maar ’n
grondige kennis. Dit dui op ’n ryp verstaan van die
evangelie as gevolg van onderrig en ervaring. Paulus spreek van
kennis en alle ervaring. Die nuwe vertaling praat van begrip en
fyn aanvoeling. Die ware liefde skerp jou waarneming. Jy merk die
dinge beter op. Jy voel die dinge beter aan. Soos ’n liewe
ma haar kind aanvoel. Sy hoef slegs na haar kind te kyk om te
weet hoe hy hom voel of wat hy wens.

Soms word daar gesê dat liefde blind is. Hier
blyk die teendeel waar te wees. Liefde gee juis ’n
verskerpte blik, laat ’n mens dinge of persone noukeuriger
opmerk. Jy ontwikkel ’n antenne vir wat die ander voel en
dink.

So bid Paulus "dat julle liefde nog meer
en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die
dinge waar dit op aankom te onderskei." Hoe meer jy God
liefhet, hoe meer kan jy op allerlei gebiede aanvoel wat God wil,
wat goed of verkeerd is. Want die liefde soek God en sy Woord.
Die liefde soek na geleenthede om Hom steeds beter te leer ken en
gryp die geleenthede van harte aan. Dit doen ek tog ook as ek
’n ou of meisie liefhet? Ek wil elke geleentheid soek en
aangryp om hom of haar beter te leer ken.

Deur dig by die Here en sy Woord te lewe kry ek
’n fyn aanvoeling. Sodat ek amper intuïtief aanvoel wat God
wil hê dat ek sal doen, ook in die situasies waaroor God geen
uitdruklike woord gespreek het nie. Paulus praat van ’n
onderskeiding van die dinge waar dit op aankom. Daarvoor het jy
die liefde, wat gepaard gaan met kennis en fyn aanvoeling, nodig.
Dit stel jou in staat om te toets en goed te keur die dinge waar
dit op aankom. Onkunde en slegte onderskeiding lei tot verkeerde
leer en verkeerde praktyke. Om die goeie leer en lewe te aanvaar
het jy kennis en onderskeidingsvermoë nodig. Sonder dit sal jy
nie mondig word nie, geestelik volwasse nie. Elke christen moet
daarom ’n student wees. Die kennis van die waarheid is
onmisbaar vir die christelike ervaring. m as ’n Christen te
groei beteken dat ek die waarheid steeds meer en meer leer
verstaan en aanvaar.

Gemeente, in ons daaglikse lewe kan ons maklik
bly steek in dinge van ondergeskikte belang. Die bykomstige dinge
kan vir ons so belangrik word dat hulle ons hele lewe en houding
gaan bepaal. Dit kan bv wees dat ek bitter teleurgesteld is in
’n sekere persoon of ontwikkeling. Ek kan so besete daarvan
wees dat ek self die koers kwyt raak. Oorvloedige liefde vir God
en vir my naaste kan my bevry van so ’n obsessie. Dan leer
ek weer om die dinge waar dit op aankom te onderskei, wat werklik
belangrik is en wat werklik die beste is. Dan sien ek die dinge
weer in die regte perspektief en dan skat ek hulle na waarde. Ek
verstaan weer en beter wat die wil van die Here is.

Paulus weet hoe moeilik die situasie soms kan
wees, hoe slu die verleiding kan wees. Paulus weet hoe satan hom
dikwels voordoen as ’n engel van die lig. Hy ken die stryd
van die getroue Filippense. Daarom bid hy dat hulle liefde meer
en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring. As hulle
daardie liefde het dan staan hulle nie weerloos nie. Dan kan
hulle onderskei waar dit op aankom.

In die geestelike stryd is
onderskeidingsvermoë onmisbaar vir ons as christene. Tog
word dit slegs gevind daar waar die liefde is, waar die harte nog
in vlam is vir God en die naaste. Wil u ’n voorbeeld hê van
so ’n onderskeidingsvermoë? Dink maar aan die
belydenisgeskrifte wat ons geestelike vaders vir ons nagelaat het.
Hul liefde vir God en sy kerk het hulle die geeste laat beproef.
Die liefde het hulle die waarheid laat onderskei van die leuen.
Die liefde het hulle in staat gestel om die waarheid te bely
teenoor die Rooms katolieke en doperse dwalings. Ook teenoor die
arminiaanse dwaling wat in feite ’n vorm van humanisme is.
’n Onderskeiding wat ook vir vandag waardevol is. Want
dieselfde dwalings is vandag nog vol lewe, ook al kom dit na ons
toe in ’n ander jassie.

Hoe nodig is die onderskeidingsvermoë ook
vandag. Die verleiding is gevaarlik en geraffineerd. Juis die
dinge waar dit op aankom word vandag verdoesel. In die praktyk
van die lewe word byvoorbeeld die tweede gebod (dat jy jou naaste
moet liefhê soos jouself) dikwels gehanteer as die eerste en
vernaamste gebod. En liefde word dan vertaal as mensliewendheid.
Met die magiese woord liefde word die wet van God dikwels aan die
kant gesit. Liefde word die vervanging in plaas van die
vervulling van die wet. Die nuwe etiek gooi so God se norme
oorboord om daarvoor in die plek die wense van mense te plaas.

Ja, gemeente, ons leef in ’n tyd wat
gekenmerk word deur die menslike outonomie, die mens is ’n
wet vir homself. Mense beskou hulself as mondig. Hulle het daarby
niemand nodig nie. Hulle het ook geen kritiek of korreksie nodig
nie. Hulle het self die wysheid in pag.

Maar nou die woorde van die teks. Paulus bid
"dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in
kennis en alle ervaring om die dinge waar dit op aankom te
onderskei." Paulus praat dus van ’n groeiproses. As jy
liefde het en ’n sekere onderskeidingsvermoë dan het jy nog
nie die eindpunt bereik nie. Dan kan jy nie op jou louere rus met
’n beroep op jou mondigheid nie. Die liefde en die
onderskeidingsvermoë moet steeds toeneem.

En daarvoor het jy God en mekaar nodig. God se
woord en die onderlinge bemoediging en tug. Deur steeds maar weer
gehoorsaam te lees en te luister na die Woord van God gaan jy
steeds fyner aanvoel wat die wil van God is, wat goed en wat sleg
is. Waar liefde tot God toeneem, voel jy steeds beter aan wat jy
in die konkrete situasie van jou lewe moet doen of nie moet doen
nie, waar jy wel of nie tuishoort nie, met wie jy wel of nie moet
omgaan nie, hoe jy met mense moet omgaan, hoe jy jou tyd bestee,
na watter musiek jy luister ens.

Ja, gemeente, julle hoef nie self te bepaal
waar julle jul grense sal stel nie. Julle hoef die grense nie te
stel nie. Al wat julle hoef te doen is om te onderskei waar die
grense is wat God gestel het. En daarvoor het julle die liefde en
fyngevoeligheid waarvoor Paulus bid nodig. Die feit dat ons leef
in die mondige N.T. bedeling wil nie sê dat dit nou minder
daarop aankom nie. As God ons, meer as in die O.T., self laat
onderskei waar dit op aankom dan word ons verantwoordelikheid nie
minder nie maar groter. Dan word dit vir ons nie makliker of
vryblywender nie. Maar dan word daar juis ’n groter
inspanning van ons gevra. Wie God liefhet wil en kan nie volstaan
met die vraag: waar verbied God dit of wat is net aanvaarbaar vir
gereformeerde gelowiges? As jy God liefhet dan wyk jy af van die
kwaad en jaag jy die goeie na. Jy vuur dan jou broeders en
susters aan tot liefde en goeie werke.

Toenemende mondigheid beteken dus nie dat jy
minder nougeset kan lewe nie. Dit beteken juis dat jy fyner
aanvoel wat God wil. En dat jy dit met vreugde doen. Daarom die
persoonlike vrae: is jy besig om geestelik te groei? Sien jy die
vrugte van die Gees in jou lewe? Het jy jou die laaste tyd bekeer
van enige sondes? Het jy die laaste tyd iets gedoen suiwer omdat
jy God liefhet?

Hiermee het ons gekom by die derde punt: die
liefde maak die lewe mooi.

Paulus skryf: "sodat julle rein en vir
niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van
Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur
Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.". Hoe meer jy
leer onderskei, hoe meer christelik gaan jy lewe. Jy wil rein
wees en onberispelik.

Rein- die woord beteken letterlik: in die
sonlig getoets. Baie dinge lyk mooi solank die son nie daarop
skyn nie. Wanneer jy die sonstrale in jou huis laat skyn dan sien
jy bv eers goed al die strepe en krasse op die vensters, dan sien
jy eers al die stof op die meubels. So kan dit soms lyk asof ons
eie lewe nogal goed is. Totdat God sy volle lig daarop laat skyn.
God se lig skyn deur alles heen, tot ons diepste gedagtes en
motiewe toe. Daarmee moet ons dan ook rekening hou. Ons moet
immers daardie toets deurstaan. Daarom jaag ons daarna om rein te
wees en vir niemand ’n aanstoot te wees nie.

"Tot op die dag van Christus" wil
eintlik sê met die oog op die dag. Die dag sal inderdaad die dag
van oordeel wees, maar ook die dag waarop die gelowiges met
Christus verheerlik sal word. Op die dag sal daar ’n nuwe
hemel en nuwe aarde wees waarop geregtigheid woon, waarop ons
lewe volkome regverdig sal wees, volkome in ooreenstemming met
God se wil. Die lewendige verwagting van die dag bemoedig ons
daarom om nog heiliger te word. Ons wil afgestem wees op die
groot dag.

Vervul met die vrug wat bestaan in geregtigheid.
Soos ’n boom belaai met vrugte. ’n Lewe wat oorvloei in
goeie werke na die wil van God.

Voel jy oorweldig deur so ’n bestemming?
Vind jy jou verantwoordelikheid te swaar? Buite jou bereik?
Onthou, dit is nie ’n vrug van menslike inspanning nie. Dit
is slegs deur Jesus Christus. Hy is diegene wat die gelowiges in
staat stel om dit te bereik. Hy werk dit in ons. Bly jy in
Christus, dan sal jy veel vrug dra. Dit is wat Christus self
belowe het in Joh 15:5. Sal ons dan opgee om daarna te jaag? Die
sien van Jesus Christus motiveer ons om opnuut te jaag na die
einddoel.

Wat nou onbereikbaar lyk, is deur Jesus
Christus ’n sekere uitkoms. Die volmaaktheid sal daar wees
as eindproduk van God se genade. God sal sy werk tot voltooiing
bring, ook die werk wat Hy in ons begin het.

Gemeente, waarom wil julle so mooi wees? Is dit
om self beter daarvan te word? Om gered te word? Om die oordeel
te ontgaan en om in die hemel te kom? Is dit die taal van die
liefde? Nee! Ware liefde soek nie homself nie. Liefde soek die
welsyn en eer van die ander. As jy God liefhet dan soek jy sy eer.
Dit gaan nie in die eerste plek oor myself en my heil nie, maar
oor my God. Ek wil Hom verheerlik. Hy het my gered vir die doel.
Daarom het Hy sy werk in my begin. In alles gaan dit oor sy
verheerliking. Daarom besluit die teks met die woorde: "tot
heerlikheid en lof van God." As ek God liefhet dan beskou ek
nie myself as die belangrikste nie. Nee, God my almagtige Skepper
en Verlosser is die belangrikste. Alles is uit Hom, deur Hom en
tot Hom. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Gemeente, sê ek te veel as ek sê dat ons
almal veral ’n groei in die liefde nodig het? ’n Groei
in liefde vir God en vir mekaar?

Dit is tog die liefde wat ons leer om te
onderskei en ons lewe mooi maak?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)