Paulus benader die Filippense met danksegging en vertroue.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-06-13
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Fillipense 1:3-7

Ds C Kleyn - Sondag 13
Junie1999

Lees: Fillipense 1.
Sing: Ps 31: 1,5; Ps 126: 1,2; Ps
31:15-17 (na kollekte); Ps 138:1,4; Ps 121:2,4.

 

Tema: Paulus benader
die Filippense met danksegging en vertroue
.

  1. Paulus se danksegging
  2. Die rede vir sy danksegging
  3. Paulus se vertroue

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe benader julle die gemeente waarvan julle
lidmate is? Hoe benader julle mekaar binne die gemeente? In die
gemeente is daar altyd dinge wat aangespreek moet word. Die kerk
van Christus is verre van volmaak. Daar kan selfs groot
bekommernis wees, vir ons as lidmate en vir die ampsdraers.

Maar nou opnuut die vraag: hoe benader u die
gemeente waarvan u ’n lidmaat is? Hoe benader u die
medelidmate wanneer u negatiewe dinge ontdek wat aangespreek moet
word?

Gemeente, in sy briewe aan die kerke spreek
Paulus ook sy bekommernis uit oor bepaalde sondes en tekorte. Dis
egter opvallend hoe Paulus dit benader. Voordat hy die sake
aanspreek gee hy uiting aan sy dankbaarheid. So begin hy sy
briewe, met danksegging en vertroue.

Ek verkondig: Paulus benader die Filippense met
danksegging en vertroue

  1. Paulus se danksegging
  2. Die rede vir sy danksegging
  3. Paulus se vertroue

Hoe aangenaam is dit om in jou lewe dankbare
mense te ontmoet. Daar word so baie gekla. Soms tereg, dikwels
ook ten onregte. Menigeen sien altyd alleen op die dinge wat
ontbreek, terwyl hulle verby sien aan die baie seëninge wat
hulle elke dag nog mag ontvang en geniet. Ons kan mekaar
verskriklik belas en neerdruk deur steeds weer uit te wy oor ons
die negatiewe dinge: hierdie is nie goed nie, daardie ook nie,
dit lyk asof niks goed is nie. Op hierdie manier kan ons mekaar
se lewe versuur.

Dit sou verstaanbaar wees indien Paulus in sy
omstandighede ook begin het om oor sy moeilikhede te kla. Hy was
mos in die gevangenis. Hoe graag sou hy nie vry wees nie. En in
die gevangenis is daar ook nog mense wat probeer om sy lewe en
werk te bemoeilik. Maar wat doen Paulus? Hy begin sy brief nie
met klagtes nie, maar met danksegging. En as hy wel praat oor sy
situasie in die gevangenis dan benadruk hy die positiewe aspekte
van sy gevangenskap: wat hy wedervaar het, het die evangelie
bevorder (1:12). Selfs waar mense dit vir hom persoonlik moeilik
maak, kyk hy nog na die positiewe aspekte van hul dade: in elk
geval word Christus verkondig (1:15-18).

Ondanks die omstandighede begin Paulus met
danksegging vir ander. Hy skryf: Ek dank my God elke keer as ek
aan julle dink. Hoewel Paulus ver weg van die Filippense verwyder
is, is hulle tog nie uit sy gedagtes. Telkens as hy aan hulle
dink, is sy hart vol dank aan God. Hy onthou wat die Here in sy
genade aan die Filippense gedoen het. Dit was genade dat die Here
die hart van Lydia geopen het. Dit was genade dat die
tronkbewaarder met sy gesin in een nag tot geloof gekom het. Dit
was genade dat ondanks die hewige teenstand, wat uitgeloop het op
die gevangenskap van Paulus en Silas, die werk van die Here
voortgegaan het. In Filippi kon die ampte ingestel word en die
gemeente het met groot liefde tot die diens van die Here gekom.
Paulus sien die genade, elke keer as hy aan die gemeente in
Filippi dink. En hy dank sy God daarvoor.

Broeders en susters, ons is daaraan gewoond om
te dank vir gewas en arbeid. Ons dank God vir ons voedsel en
drank, vir die vrug van die arbeid. Vir werk, vir klere en vir
ons huis. Alles kom van God af. Maar dank ons God wel vir gewas
en arbeid in die gemeente? Vir die bewyse van sy genade? Vir die
vrugte van geloof en bekering? Vir die vrugte van liefde en
gemeenskap? U moet ook daarvoor dank. Dit is die taak van elke
lidmaat. En seker vir die ampsdraer. Om te dank is ’n
noodsaaklike element in die amp.

Die probleem is dat stoflike sake maklik
toonbaar is. Jy ontvang jou loon in jou hande of op jou
bankrekening, swart op wit, tasbare resultate van jou werk. Jou
daaglikse kos is ook iets wat sigbaar en tasbaar is. Probeer
egter om die vrugte van die geloof aan te wys! Dit is baie
moeiliker. Dit is makliker om aan te wys wat nie aanwesig is nie.
Die foute en gebreke. Wat jy fout doen word dan ook dikwels
genoem. Is dit korrek? Mag ons alleen praat oor die gebreke van
die gemeente? Mag dit: alleen stil staan by die tekortkomings van
die gemeentelede of van die jeug?

Niemand sal ontken dat daar by die jong mense
tekortkomings en sorge is nie. Trouens is dit nie die geval by
elke leeftydsgroep nie? Ons moet egter oppas dat ons nie
generaliseer en slegs praat oor die tekortkomings nie. Is daar
dan niks onder die jeug waarvoor ons God moet dank nie? Is daar
geen geloof en geen liefde vir die Here nie? Is daar geen
gewilligheid om te luister na Skriftuurlike onderrig nie? U weet
dat dit nie so is nie! Dit gebeur soms dat ’n mens wens dat
die ouers net so gewillig en getrou sou wees as die jongeres.
Laat ons daarom nie generaliseer en die positiewe vrugte wat God
bewerk negeer nie. Dank God vir die positiewe dinge. Eers as jy
dit doen het jy die reg om die negatiewe dinge, die tekortkomings
aan te spreek.

Ook vir die ampsdraer is dit baie belangrik hoe
hy oor die gemeente praat. Hoe waardeer hy wat daar gebeur? En
hoe dra hy die gemeente aan die Here op? Die ampsdraer kan soms
sug en kla. Dit is begryplik. Steeds weer loop jy as ampsdraer
dinge raak wat eintlik nie in die kerk van Christus onder God se
kinders behoort te gebeur nie. ’n Sondige mentaliteit, wêreldse
gedrag, slapheid, selfsug, eiesinnigheid, volharding in die kwaad
kom jy teë. Jy kan soms wakker lê daarvan. Jy moet dit
aanspreek.

Om voortdurend besig te wees met dit wat in die
gemeente ontbreek kan gevaarlik wees. Jy kan jou daarop blind
staar. Sodat jy die baie seëninge wat God nog in die gemeente
gee nie meer raaksien nie.

Die apostel Paulus leer ons om met die gemeente
mee te lewe, met hul node, sorge en gebreke. Hy dra die gemeente
steeds weer aan die Here op. In sy gebede bid hy telkens vir alle
gemeentelede. Heel die gemeente is sy sorg. Niemand uitgesonder.
Die gemeente gaan hom ter harte. Hy dra haar daagliks op aan die
troon van God se genade. En hy doen dit met blydskap. So kan hy
nog baie beteken vir die gemeente. So kan hy nog meelewe en
meestry.

Wat sou dit die Filippense bemoedig en versterk
het om in die begin van die brief aan hulle te kon lees dat
Paulus voortdurend hulle aan die Here opdra in gebed. Wat ’n
bemoediging om direk aan die begin van die brief te lees oor
Paulus se danksegging vir hulle. Paulus smeek wel vir hulle
– die woord wat hy vir "gebed" gebruik beteken
letterlik smeekbede – maar hy vergeet nie om te dank nie. Hy
begin daarmee. Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.

Ons word as ampsdraers en gewone lidmate geroep
om met die gemeentelede mee te lewe. Hulle op ons hart dra.
Daarby behoort voorbede. Voorbede vir die siekes, die oueres,
mense in rou, jong gemeentelede ens. Ons bid veral aanhoudend vir
hulle wat dreig om te vervreem van God en sy kerk. Skielik kan ek
dan soms tot die ontdekking kom: ek bid wel maar dank ek nog wel.
Dank ek nog wel vir die gemeente. Dit is ook nodig. Dit is ’n
onmisbare onderdeel in die amptelike diens. ’n Belangrike
uitgangspunt. So leer ’n mens om die gemeente anders raak te
sien. Op ’n ander manier word dan daaraan gewerk.

Maar, sal u sê, daar moet wel ’n rede
wees waarvoor gedank moet word. Dit is die tweede gedagte: die
rede van Paulus se danksegging.

Dat Paulus vir die gemeente in Filippi dank lyk
nogal logies. Filippi was ’n aangename gemeente. Meelewend.
Offervaardig. Luister na wat Paulus self as motief noem: "ek
bid altyd met blydskap oor julle gemeenskap aan die evangelie van
die eerste dag af tot nou toe." Die Filippense het altyd
hulle ingesit vir die verbreiding van die evangelie. Dink maar
aan hul gasvryheid teenoor Paulus en sy helpers wat genoem word
in Hand 16. Hulle het nie slegs die evangelie aangeneem nie, maar
hulle het self ook aktief deelgeneem in die diens van die
evangelie. Hoewel die gemeentelede nie ryk was nie, het hulle
verskillende kere geld na Paulus gestuur. Vir sy lewensonderhoud.
Vir die verbreiding van die evangelie. Ook nou is Epafroditus
deur hulle na Rome gestuur met die opbrengs van ’n kollekte
om Paulus daarmee te help.

Paulus het dit alles op die oog wanneer hy
skryf oor hulle gemeenskap aan die evangelie. Hulle het
daadwerklik getoon dat hulle weet wat die evangelie werd is. Dit
het Paulus verkwik in sy boeie. Soos hy skryf in vers 7: "aangesien
julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en
bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is."
In Paulus se gevangenskap en verdediging is hulle dus deelgenote
in die genade. Die Filippense deel nie slegs in die genade van
God waardeur sondaars gered word nie. Hulle deel ook in die
genade om vir die evangelie werksaam te wees en daarvoor te ly.
Vergelyk Fil 1:7 met Fil 1: 29. Daar lees ons: omdat dit aan
julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in
Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde
stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.

U sien: oor die gemeente in Filippi was daar
baie goeds te sê. Hulle was meelewend, offervaardig. Hulle het
die evangelie aangeneem en hulle het dit as ’n eer gesien om
saam te werk aan die verbreiding van die evangelie.

Dit is waar. Maar daar was ook swak plekke in
die gemeente, tekortkomings. Paulus stel selfsug en eersug aan
die kaak. Pleks van om saam te stry vir die saak van Christus
verhef die een hom bo die ander. In feite is daar ’n veg vir
eie koninkryk. Let bv maar op die vermaning van hfdstuk 2:1-4 (Laat
ons dit saam lees). En Fil 4:2.

Daar is dus ook wel iets aan te merk oor die
gemeente in Filippi. Dis waar: Paulus het baie meer kritiek op
die gemeente in Korinte. Growwe dwaalleer. ’n Onchristelike
lewenstyl. Tog sê Paulus ook in daardie situasie aan die begin
van sy brief: Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van
God wat aan julle in Christus Jesus gegee is (1 Kor 1:4).

Ja, gemeente, dit is regtig verkeerd wanneer
ons God alleen maar dank as daar geen probleme in die gemeente is
nie. Trouens, het u ooit ’n gemeente geken wat geen probleme
het nie?

Moenie my misverstaan nie. Dit is nie so dat ek
probeer om die erns van die sonde te verdoesel nie, asof ons ons
daaroor nie hoef te bekommer nie. Wie dit beweer laat die kwaad
voortwoeker in die gemeente. Dit het Paulus nooit gedoen nie. Hy
het die vinger op die wond gelê. Ons moet dit ook doen.

Maar ons moet ook nie die ander kant van die
saak negeer nie. Die Here gee ook onnoemlike mooi, positiewe
dinge in die gemeente. Dit moet ons bly maak. En ons moet
daarvoor dank. Doen jy dit nie dan sal jy die gevolge daarvan
ondervind. Jy sal dan ’n slagoffer word van jou negatiewe
gevoelens. Jy sal jouself magteloos en hopeloos voel. Nie in
staat om jou werk in die gemeente te doen nie. Nie in staat om
die kwaad waaroor jy jou bekommer te bestry nie.

Laat ons daarom nie vergeet dat daar in die
gemeente van Christus altyd redes is om God te dank. Die gemeente
behoort immers aan Christus. Wat ’n wonder van genade!
Christus is hier aktief. Met sy woord van versoening. Hy is besig
om geloof en bekering te bewerk. Vrugte van geloof te voorskyn te
bring. Laat ons ons oë daarvoor oop hou en God daarvoor dank.
Ookal is daar in die gemeente dinge wat ons bekommer, tog bly
daar alle rede om te dank. Die Here bewerk nie slegs dat jong
mense en oueres die evangelie aanvaar nie – wat al ’n
groot wonder is – Hy sit hulle ook daarmee aan die werk. Hy
bewerk liefde en gemeenskap. Dis waar, daar is nog baie ruimte
vir verbetering. Maar moet ons dan nalaat om te dank vir wat God
reeds bewerk het. Waaroor dank Paulus in sy brief aan die
Korinthiers, wat hy so skerp moes vermaan? Selfs in daardie
situasie het Paulus God gedank vir die genade van God wat aan
julle in Christus Jesus gegee is. Sou ons nie in ons gemeente vir
dieselfde genade kan dank nie?

Daar is inderdaad sorg oor die geloof en lewe
van sommige lidmate, maar maak dit alles sleg? Dank God dat dit
nie die geval is nie. Is dit nie verbasend dat jong mense hulle
nog laat onderrig deur die Here en dat hulle hul in aksie laat
bring vir die saak van die Here en sy kerk? Laat ons God dank vir
die genade wat aan hulle gegee is. En laat ons daarop voortbou en
hulle bly bemoedig.

Daar is miskien lidmate wat op die oog af min
insette toon vir Christus en sy kerk. Hulle is min betrokke by
die weeklikse aktiwiteite van die kerk. Ons sien hulle slegs
sondags in die eredienste. Maar by die huis is hulle na hul vermoë
besig om hul kinders tot eer van God op te voed. Moenie sulke
lidmate benader asof hulle niks doen nie. Daarmee sou ons hulle
vantevore afskryf. Jy hoef dan ook niks te verwag van jou kontak
met hulle nie. Nee, let maar eers goed op wat wel aanwesig is.
Dank God daarvoor en probeer hulle vandaaruit te stimuleer om
verder te kom.

God gee aan sy gemeente ampsdraers. Hulle doen
hul werk met gebreke. Maar nietemin doen hulle dit. Hulle gaan in
die aande uit om lidmate te besoek. Terwyl tyd skaars is. Laat
ons dit nie miskyk nie en God daarvoor dank dat Hy mense gee wat
vir Hom wil arbei. Dit is nie vanselfsprekend nie. Daarna kan ons
praat oor die invulling van die ampsdiens. Ons kan baie van
mekaar leer, as ons dit maar in die juiste gesindheid doen, in
dankbaarheid en onder erkenning van wat God reeds gee.

Nou die derde punt: Paulus se vertroue. Paulus
spreek ten slotte van sy vertroue in die toekoms: "omdat ek
juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin
het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus."

Hoe kan Paulus so seker wees van die toekoms?
Is dit op grond van sy vertroue in die Filippense? Dink hy by
homself: julle is so ’n goeie gemeente, dit sal reg kom, dit
kan nie verkeerd gaan nie?

Nee, Paulus se vertroue is nie op grond van die
goedheid van die Filippense nie, maar op grond van die grootheid
van God. Wanneer Paulus die geloof en die geloofsaktiwiteit van
die Filippense sien, dan herken hy daarin God se werk. God het in
en onder hulle ’n goeie werk begin. En met daardie werk sal
God voortgaan tot op die dag van Jesus Christus, tot op die dag
waarop Christus sal verskyn om die lewendes en die dooies te
oordeel.

As dit verkeerd gaan sal dit nie God se skuld
wees nie. God is getrou. Hy doen sy werk nie half nie. Hy voltooi
wat Hy begin het. Wie in geloof alles van Hom verwag, sal nie
beskaamd wees nie. God gaan voort met die vergadering van sy kerk.
Niemand kan dit keer nie. Dit gaan verder. Want God gaan verder,
onversetlik en onoorwinlik. Hy bring sy werk tot die einde, tot
die doel wat Hy met al sy werke voor oë het.

Dit sou vir die gelowiges van Filippi nie altyd
maklik gewees het nie. Paulus, hul apostel, sit in die tronk.
Hulle moet ook ly vir die evangelie. Wat doen die apostel dan? Hy
rig hul geloof op God. Hy wys hulle op God wat hulle sy genade
getoon het en wat hulle sal bewaar tot op die dag van Christus.
Dan sal die kerk as ’n reine bruid aan Christus die
Bruidegom gegee word.

Wat ’n ryke vertroosting vir die kerk wat
onderweg is na die dag. Wat ’n ryke troos vir almal wat aan
Christus behoort. Almal wat God se belofte van genade en trou in
geloof aanneem.

Sien u op God dan mag u daarvan seker wees dat
Hy sy werk tot die einde toe sal voortsit, tot aan die dag van
Christus. Want God is getrou. Hy laat nie vaar die werke van sy
hande. Hy is die rots, wie se werk volkome is.

Gemeente, laat ons die troos en die lering
ontvang uit die aanvang van Paulus se brief aan die Filippense.
Lering vir die onderlinge omgang. Laat die basis van ons
onderlinge omgang wees: danksegging en vertroue. Laat ons daarmee
begin. En vandaaruit mekaar aanspreek op die gemeenskaplike diens
aan God. Dit skep vertroue. Dit bou op. En wat veral belangrik is:
daarmee ontvang God die eer wat Hom toekom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)