Ons Here is die eniggebore Seun van God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-06-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

Sondag 13

Ds C Kleyn - Sondag 6
Junie 1999

Lees: Romeine 14:1-12; Sondag 13.
Sing: Ps 100:1.4; Ps 111:1,2; Ps
2:4,6 (na kollekte); SB 33; Ps 28:6-8.

Tema: Ons Here is die
eniggebore Seun van God.

  1. Ons is sy kosbare besit
  2. Hy is Vader se enigste geliefde Seun

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand behandel ons die laaste Sondag wat
praat oor die name van ons Verlosser. Eers was daar die naam
Jesus wat praat oor die werk van ons Middelaar: Hy verlos van die
sondes. Daarna was daar die naam Christus, wat praat van sy
salwing, sy goddelike roeping. Nou het ons die name: die
eniggebore Seun van God, ons Here. Name wat sy verhouding tot God
die Vader aangee- Hy is die Seun van God die Vader- en sy
verhouding tot ons – Hy is ons Here.

Wanneer die Kat die name bespreek dan vergeet
hy nie om ’n troosboek te wees nie. Ons kry geen
onpersoonlike verhandeling, geen wetenskaplike betoog nie. Ons
kry ’n aktuele verkondiging van die werklikheid van Jesus
Christus as ons Verlosser. Die Kat is gerig op die praktyk van u
daaglikse lewe. U lees daar wat u aan Jesus Christus het. Wat u
aan Hom het in u lewe en stryd van elke dag. Dit Kat laat sien
hoe ryk u is juis deurdat Jesus Christus die eniggebore Seun van
God en ons Here is. Die Kat wil immers niks anders doen as om te
verwoord wat die evangelie tot u troos oor Christus sê.

So verkondig ek u: Ons Here is die eniggebore
Seun van God.

  1. Ons is sy kosbare besit
  2. Hy is Vader se enigste geliefde Seun

As ons praat oor ons Verlosser dan gebruik ons
dikwels die aanduiding Here. Die Bybel gaan ons daarin voor. Hoe
dikwels loop ons nie die woord-kombinasie: ons Here Jesus
Christus raak nie. Dink maar aan die seengroet: die genade van
ons Here Jesus Christus. Ons bid ook dikwels in die naam van ons
Here Jesus Christus. Om ons te onderskei van vrysinniges wat ons
Verlosser slegs as mens beskou en steeds net oor Jesus praat,
praat ons liewer van die Here Jesus.

Waarom die toevoeging Here? Daarmee maak ons
duidelik dat Jesus Christus nie sommer enigiemand is nie. Hy is
Heer. Hy voer heerskappy. Hy het alle mag ontvang in hemel en op
aarde. Die naam Heer sien op die mag, die heerlikheid van Jesus
Christus as koninklike vors, as Gebieder van alles.

So is Hy ook ons Heer en Meester. As gelowige
bely ek dat Jesus Christus my Gebieder, ja my Eienaar is. Skryf
Paulus nie: "of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort
aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en
opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te
heers." (Rom 14:8b,9). Ons behoort dus aan die Here, sê
Paulus. Hoekom? Omdat Christus gesterwe en opgestaan het. Deur sy
dood het Hy ons tot sy eiendom gemaak.

Die Bybel gebruik dikwels die woord slaaf of
kneg om ons verhouding tot die Here aan te dui. U word slaaf,
kneg van Jesus Christus genoem. Wat beteken dit om slaaf van
Jesus Christus te wees? Wat was die posisie van slawe? Hulle was
volkome die eiendom van hul heer. Hulle was heeltemal tot die
beskikking van hul heer. Hy het die seggenskap oor hulle gehad.

So kan nou gesê word: die Here Jesus is u
eienaar. U is sy wettige besit. Het Hy u nie regmatig gekoop nie?
Soos here hulle slawe gekoop het? Maar nou nie met geld nie. Dit
sou nie toereikend gewees het nie. Wat het God aan geld as die
prys wat betaal moet word die lewe is, die lewe van die mens wat
gesondig het? So het Jesus sy lewe gegee vir sy slawe. Bloed was
die prys wat betaal moes word. En dit is die prys wat Hy betaal
het. Onvoorstelbaar! Hy het die hoogste prys wat iemand kan
betaal, betaal, sy eie lewe om u en my in sy besit te kry.

Wat beteken dit vir u? Tog dit: U behoort
heeltemal aan Hom. Hy beskik oor u. U het nie self die seggenskap
oor u lewe nie. Hy het die seggenskap. U kan nie sommer doen of
nalaat wat u wil nie. Dit bepaal Hy.

Die apostel Paulus werk dit uit in die gelese
Skrifgedeelte. Hy skryf: "Want niemand van ons leef vir
homself nie en niemand sterf vir homself nie." Waarom nie?
"Want of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here."
Die feit dat die Here Christus ons eienaar is, het dus tot gevolg
dat ons nie meer lewe vir onsself nie, maar vir Christus. Ons is
in lewe en sterwe van en vir Hom.

Dit is nogal wat. Alles moet dan op die Here
Jesus gerig wees. Ek leef nie vir myself, vir my eie plesier en
vermaak nie. Ek leef vir Hom en ek wil Hom plesier gee. Al my
doen en late word bepaal deur my verhouding tot Hom, my Eienaar.
Hy staan in die middelpunt. Ek leef Christo-sentries. Dit is
verstrekkend. Dit geld vir alles wat ek doen. My vriendskap, my
omgang met mense, my werk, my sake doen, my huwelik en gesin ens
ens. Ek is van die Here. Dit is die allesoorheersende werklikheid
. Van daaruit soek ek my kontakte. Van daaruit bepaal ek my
omgang met mense. Omdat ek aan Hom behoort soek ek na gepaste
werk om Hom met my gawes te dien. As eiendom van Christus neem ek
my plek in in huwelik en gesin. Ek erken en aanvaar sy seggenskap.
Daarom is God se Woord en ons gebed, dus ook die huisgodsdiens,
die hart van die christelike huwelik en gesinslewe. Dit is die
motor en kragbron vir ons lewe van elke dag. Is dit so by u? Neem
u tyd daarvoor, vir Skriflesing en gebed?

Christus se heerskappy is allesomvattend. Hy
heers ook oor die dooies. Ook as ek sterf, sterf ek tot eer van
die Here. Ook daar het Hy die seggenskap. Daar bly dus geen
enkele privaat terrein oor waar ek my reg op seggenskap kan laat
geld nie. Selfs in die kleine en gewone dinge van die lewe het ek
met Hom die Beskikker te doen.

Dink maar aan die sake wat onrus veroorsaak in
die gemeente te Rome. Dit gaan daar oor eet en drink gewoontes en
oor die onderhouding van bepaalde feesdae. Daar is lidmate wat
uit reaksie teen die uitbundige lewe van die heidene heeltemal
geen vleis en alkohol wil gebruik nie. Ander lidmate het geen
enkele probleem daarmee nie, as die dinge maar matig gebruik word.
So was daar ook die verskil oor die onderhouding van feesdae.

Ons sou sê: waarom maak hulle hul druk oor
sulke sake. Laat elkeen maar doen wat hy self goed vind. Dit lyk
vir ons ’n onbelangrike neutrale saak of ’n mens
geheelonthouer wil wees of nie.

Tog is dit beslis nie die geval nie. Wat sê
Paulus hieroor? Dit gaan ook in die dinge oor die Here. Wat jy
ook doen, watter lewenstyl jy ook al kies, dit moet tot eer van
die Here wees. Jy is heeltemal sy eiendom. Luister maar: "Hy
wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy
wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van
die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God;
en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God."
(Rom 14:6). Daarna noem Paulus as die motief: "Want niemand
van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.
Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe,
sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here." (14:7,8).

Christus se heerskappy omvat dus ons hele doen
en late. Daar is geen neutrale, privaat gebied nie. Ook ons eet
en drink en ons feesvier behoort daarby. En ons sterwe.

Is dit, broeders en susters, nie verskriklik
benouend nie? Word jy hiermee nie belemmer in jou lewe en
ontwikkeling nie? Jy kan immers nooit meer doen en nalaat wat jy
self wil nie. Christus se allesomvattende heerskappy staan haaks
op die moderne lewensgevoel. Geld vandag nie die motto nie: jy
moet opkom vir jouself. Jy moet jouself verwerklik. Jy moet
daarvoor sorg dat jy jou deel kry. En word mbt die sterwe ook nie
gepleit vir die reg op selfbeskikking nie. Waarom sou jy nie self
die uur van jou dood mag bepaal nie? Waarom sou jy nie self mag
ingryp by ondraaglike of sogenoemde sinlose lyding nie?

Kan ons dan wel iets doen met Paulus se woorde:
niemand leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie,
want as ons lewe, lewe ons tot eer van die Here; en as ons sterwe,
sterf ons tot eer van die Here? Is dit nie ’n knellende band
wat jou ontplooiing in die pad staan nie en wat jy dan maar so
vinnig as moontlik moet afwerp nie?

Ek wil hier nog op iets anders wys. Teenwoordig
word sterk nadruk gelê op die christelike vryheid en die
persoonlike verantwoordelikheid. As daar verskille is in dink en
doen dan word al vinnig ’n beroep gedoen op die christelike
vryheid en die persoonlike verantwoordelikheid. Hoekom? Sou die
benadrukking van die christelike vryheid soms ook nie ’n
versluiering kan wees van die selfbeskikkingsgedagtes nie? Sou
dit nie soms ’n verkapte vorm van selfhandhawing kan wees
nie, so van: ek sal self bepaal hoe ek my lewe wil inrig?
Daarvoor het ek niemand nodig nie.

Gemeente, sulke gedagtes pas beter by die
moderne lewensgevoel as by die christelike vryheid. Hulle het
niks met die christelike vryheid te doen nie. Hulle is allermins
christelik. Want wat is christelik? Dit: niemand leef vir homself
nie en niemand sterf vir homself nie, want of ons lewe en of ons
sterwe, ons behoort aan die Here. Dit gaan by alles wat jy kies
en doen oor die Here. Hy het die seggenskap. Hy bepaal vir my hoe
ek my lewe sal inrig. As christen leef ek Christo-sentries, met
Christus in die middelpunt, en nie ego-sentries, met my eie ek in
die middelpunt nie.

As Paulus skryf oor verskille in lewenstyl dan
sê hy nie: julle moet almal self bedink wat julle wil doen nie.
Nee, wat sê hy: julle moet alles op Christus rig, in alles Hom
soek. Julle moet alles in geloof doen. Wat nie uit geloof gedoen
word nie is sonde. Jy moet daarom in eie gemoed ten volle oortuig
wees dat wat jy doen tot eer van die Here Jesus Christus is. Dit
moet ’n geloofskeuse wees, ’n geloofoortuiging.

Eers as dit die geval is mag verskille binne
die gemeente geaksepteer word. Die broeder te Rome wat vleis eet
en die broeder wat uit prinsipe geen vleis eet nie, doen dit
beide tot eer van die Here (vers 6). Ook rondom die eet of
feestafel is hul lewe op die Here Christus gerig. Dit moet ons
dan ook van mekaar aanvaar. Dit is wat ons aan mekaar verbind.
Julle behoort saam aan die Here en julle wil saam tot eer van die
Here lewe. Dit is tog so? Of soms nie?

Maar nou terug na die vraag: is die
allesomvattende heerskappy van Christus geen knellende juk nie?
Word jou lewe op hierdie wyse nie verskriklik benoud nie? Vorm
dit geen belemmering vir jou persoonlike ontplooiing nie?

Dit hang daarvan af, broeders en susters, wie
nou die Heer is. Jy kan ’n goeie maar ook ’n slegte
heer hê. Dit het die slawe uit die verlede wel gemerk en dit
merk knegte vandag nog wel. Daar is ’n groot verskil tussen
die een heer en die ander. Wie is dan ons Heer?

Dit sien ons in die 2e punt: ons Here is God
die Vader se enigste geliefde Seun.

Gemeente, u mag u Heer, met wie u so ’n
nuwe relasie het, ken as God se eniggebore Seun. Dit is iets
geweldigs! Wat hou dit dan in? U sal begryp dat ons hier nie
aards en menslik oor die geboorte moet dink nie. God gebruik
menslike woorde om iets van sy verhouding met sy Seun duidelik te
maak. Die woorde is nie toereikend nie, maar gee slegs aan wat
ons tot ons saligheid moet weet. Hier staan ons voor die grens
van ons voorstellingsvermoë. Wat hou dit dan in dat ons Here
Jesus Christus God se eniggebore Seun is?

Ander uitdrukkings uit die Bybel kan vir ons
die betekenis van die naam ietwat verduidelik. Christus word in
die Evangelies die geliefde Seun van God genoem. Dink maar aan
Christus se doop waarby Vader sy stem uit die hemel laat hoor het:
dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. (Mt 3:17).
Die apostel Paulus spreek van God se eie Seun. Dink maar aan die
bekende woorde wat ons by elke nagmaalsviering hoor: Hy wat selfs
sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee
het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk
nie? (Rom 8:32).

Julle Heer word God se eniggebore Seun
genoem. Hy is God se eie, sy natuurlike Seun. God uit God. Een in
wese met die Vader. Ware God. Julle Heer is dus ook self God.

Hy is die eniggeborene van die Vader. Hy
is die enigste Seun van God. In die verhouding staan Hy heeltemal
alleen. Daar is maar een so ’n Seun. So is Hy die geliefde
Seun. Wat beteken ’n eersgebore seun nie vir ’n vader
nie! Hoeveel te meer die enigste seun! Hy beteken alles vir God
die Vader. Vader se volle liefde gaan na Hom uit. Hy is die Seun
van God se liefde.

Hier kom nog iets by. Watter plek het die
eersgeborene in Israel ingeneem? Hy was die erfgenaam. Vader se
besit was vir Hom bestem. So ook hierdie enigste Seun van God. Hy
is die erfgenaam, erfgenaam van hierdie wêreld. So het Hy die
eindes van die aarde tot sy besit gekry.

Gemeente, hoe skitter hier God se liefde vir sy
skepping, vir u en vir my. Hy het sy mees kosbare besit, sy
eniggebore Seun oorgegee, sodat elkeen wat in Hom glo, nie
verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Besef u wel hoe ryk u is met so ’n Heer?
Julle Meester is nie sommer enigiemand nie. Hy is die eie Seun
van God. Hy is Vader se enigste geliefde Seun. Hy is erfgenaam
van die wêreld. Sou julle dan werklik sleg af wees met so ’n
eienaar? Sou sy beskikkingsreg oor julle knellend en belemmerend
wees?

Vergelyk hierdie heer maar met die owerste van
hierdie afvallige wêreld, met satan, die aartsleuenaar, die
mensemoordenaar. Buite die Heer Christus is daar slegs die
slawerny van satan. En dan verkeer julle onder ’n
verskriklike bewind. Chaos, leuens, bedrog, ontbinding en dood
kenmerk sy bewind. ’n Mens kan dan dink dat hy vry is, maar
hy sal uiteindelik ontdek dat dit beslis nie die geval is nie. Hy
kom bedroë uit.

Hoe heerlik is dit dan met die Heer Jesus
Christus, God se eniggebore Seun. Geen mens of mag kan doen wat
Hy doen nie. Geen mens of mag kan gee wat Hy gee nie. Wat ander
nie kan nie, dit doen Hy: jou bevry uit die geslote sirkel van
die ego-sentriese lewe van volstrekte eensaamheid. Hy alleen kan
jou tot God bring. Hy alleen gee jou weer die egte lewe in
gemeenskap met God.

Dit lyk miskien wel heerlik om te lewe sonder
die Here Jesus Christus. Jy kan dan oor jou eie lewe en sterwe
beskik. Jy kan doen net wat jy wil. Maar dit is selfbedrog. Jy
staan dan alleen in jou skuld. Jy het geen Redder nie. Jy bly
eensaam agter. Jy het miskien wel baie mense om jou heen, baie
vriende wat jou vandag ondersteun, maar hulle kan jou geen
blywende houvas gee nie. Hulle waarborg vir jou geen geluk nie,
geen beskerming, geen toekoms nie.

By jou sterwe kan daar verskillende mense
rondom jou sterfbed staan, maar jy gaan alleen die dood in. Jy
sterwe eensaam. En jy is nie is staat om jouself deur die dood
heen te slaan na die ewige lewe nie. Jy leef en sterf vir jou eie
rekening, maar jy kan die rekening nie betaal nie.

Gemeente, hoe heerlik is dit dan om in lewe en
sterwe aan die Here Jesus Christus te behoort. Jy kom dan nooit
meer vir jou eie rekening te staan nie. Jou Heer is jou Redder.
En Hy sorg daarvoor dat jy die lewe kry, die lewe voor die
aangesig van die Here God. Hy, God se eniggebore Seun, bring jou
tuis by Vader. Dan is jy ryk!

Hier kom nog iets by. Jou Heer Jesus Christus
is erfgenaam. Hy laat jou deel in die erfenis. Jy word mede-erfgenaam
saam met Christus. Jy ontvang alle dinge. Immers: Hoe sal Hy wat
selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar vir ons almal
oorgegee het, nie saam met Hom alles genadiglik skenk nie?

Wat het ons broeders en susters tog ’n
pragtige belydenis. Die name van ons Heiland beteken alles vir
ons. Daarin besit u die saligheid nou en tot in ewigheid. Jesus
Christus is u Heer: u is sy kosbare besit. En Hyself is die
eniggebore Seun van die Vader, sy enigste geliefde Seun. So is u
ook kosbaar in Vader se oë, skatryk as mede-erfgename van
Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)