Deur middel van sy verskyning by die see van Tiberias berei Christus sy dissipels voor op hul swaar taak.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-04-18
Teks: 
Johannes 21
Preek Inhoud: 

Johannes 21:1-14

Ds C Kleyn - Sondag 18 April 1999

Lees: Lukas 5:1-11; Johannes 21:1-14.
Sing: Ps 93:1,2; Ps 15:1,2; SB 14:1,2; SB 42:1,2; Ps 67:1-3.

Tema: Deur middel van sy verskyning by die see van Tiberias berei Christus sy dissipels voor op hul swaar taak.

  1. Hoe Hy aan hulle verskyn
  2. Wat Hy aan hulle toon

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons word almal geroep tot bepaalde take. Take wat soms swaar kan wees. Ons ervaar dat ons die Here nodig het. Ons kan dit nie uit eie kragte nie. Dink maar aan die taak van die opvoeding van ons kinders. Dit kan by tye moeilik wees, ontmoedigend. Dink maar aan die werk van evangelisasie. Dit lyk soms na ’n vrugtelose besigheid. Dink maar aan die werk van die besondere ampsdraers. Ons kan soms so magteloos voel. Op alle terreine kan teleurstellings en teenstand ons die gevoel gee dat ons werk vrugteloos is. Ons het die Here, wat nooit ’n tekort aan kragte het nie, nodig. Maar die Here lyk so ver weg, in die hemel.

Die geskiedenis van die teks sê ons almal iets mbt die take waartoe die Here ons roep. Die dissipels staan voor ’n kolossale taak. Christus het by die eerste verskyning na sy opstanding aan hulle gesê: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Hulle moet uitgaan met hul getuienis. Maar die Here self sal na die hemel gaan. Hoe moet dit dan as die Here weg is? Sal hulle dit wel kan hanteer?

Gemeente, in die 40 dae tussen Pase en hemelvaart is die Here besig om hulle daarop voor te berei. Dit sien ons ook duidelik in ons teks, die derde verskyning van die Here aan sy dissipels.

Ek verkondig u: deur middel van sy verskyning by die see van Tiberias berei Christus sy dissipels voor op hul swaar taak.

  1. Hoe Hy aan hulle verskyn
  2. Wat Hy aan hulle toon

Sewe dissipels gaan visvang. Hulle neem weer hul ou beroep op. Hoekom? Dit word nie genoem nie. Hul motiewe is nie belangrik nie. Wat wel genoem word en wat wel belangrik is, is dat Christus die geleentheid gebruik om hom te vertoon aan sy dissipels. Christus lê beslag op die situasie, ja, in feite het Hy die situasie self geskep. Die dissipels met hul motiewe en handelinge staan nie sentraal nie, maar Jesus Christus staan in die middelpunt. Alle aksie gaan van Hom uit. Hy wil Homself openbaar. Daaroor gaan dit. Ons lees daarvan in vers een en veertien. Alle handelinge van mense is daaraan ondergeskik en moet in die lig daarvan verklaar word.

Nadat die dissipels ’n hele nag tevergeefs visgevang het, verskyn Jesus in die vroeë môre op die strand. Die dissipels sien Hom staan. Dit is egter merkwaardig dat hulle Hom nie herken nie. Selfs nie as Hy hulle aanspreek en hulle vra om iets om te eet nie. Hulle kan hom duidelik sien staan en hulle hoor sy stem duidelik, hulle weet presies wat Hy vir hulle vra, tog herken hulle nie sy gestalte of sy stem nie. Hoekom nie? Hulle het tog drie jaar lank saam met Hom opgetrek? Dan moet hulle Hom tog kan herken? Dan moet hulle sy stem tog kan onderskei?

Hier is iets besonders gaande. Dit word bevestig deur die feit dat dit na Pase herhaaldelik gebeur het dat sy volgelinge Hom nie herken het nie. Op die Paasmôre het Maria Magdalena Jesus sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Sy het gemeen dat dit die tuinier was.

Jesus verskyn ook aan die Emmaüsgangers en loop met hulle saam maar hulle oë is weerhou, lees ons in Lukas 24:16, sodat hulle Hom nie kon herken nie. Eers later, toe Hy met hulle aan tafel was, is hulle oë geopen en het hulle Hom herken (vers 30,40).

Gemeente, uit daardie geskiedenis blyk dat ons nie na ’n natuurlike verklaring van die gebrek aan herkenning moet soek nie. Hier is meer gaande. Om Jesus te sien met die natuurlike oog blyk nie voldoende te wees nie. Eers moet daar iets oorwin of oorbrug word, voordat die herkenning kan plaas vind. Die natuurlike oë moet eers deur God geopen, verlig word. Dit sien ons ook in ons teks. Christus verskyn in omsluiering. Die herkenning vind nie onmiddellik plaas nie.

Waarom die omsluiering? Waarom nie meer direkte, oop kontak nie? Christus wil sy volgelinge voorberei op sy definitiewe afskeid by sy hemelvaart. In die tyd tussen Pase en Hemelvaart moet hulle alreeds daaraan gewoon raak dat Hy nie langer met hulle kan omgaan soos tydens sy omwandeling nie. Oor ’n kort tydjie sal Hy na die hemel gaan. Dan sal hulle dit sonder sy liggaamlike verskyning, sonder die direkte omgaan moet doen.

Waarmee sal hulle dan na sy hemelvaart moet volstaan? Hulle sal met sy Woord en werk moet volstaan. Geen persoonlike verskyning meer nie, slegs sy woorde en sy werke. Die opgestane Heiland wil sy volgelinge daarop voorberei. U moet, broeders en susters, goed let op die tydstip waarop Christus die oë open sodat hulle Hom herken. Wanneer breek die herkenning deur? Eers na Christus woorde en dade. Eers na sy instruksie: "Gooi die net aan die regterkant van die skuit" en na sy daad van die wonderbare visvangs. Eers dan gaan die oë van Joh oop sodat hy aan Petrus sê: dit is die Here!

Ons sien dieselfde in die geskiedenis van die Emmaüsgangers. Na Christus se woorde en dade breek die herkenning deur. Christus stel die herkenning uit om alle aandag te rig op wat Hy sê en wat Hy doen. Sy persoonlike verskyning moet eersdaags verdwyn. Dit kom nou in die tweede plek. Voorop staan sy woorde en dade. Daarmee sal die dissipels en alle gelowiges binnekort moet volstaan.

So sien u, gemeente, die wyse bedoelings van Christus met sy verskyning in omsluiering. Hy berei sy volgelinge voor op die aard van die nuwe bedeling. Na sy hemelvaart sal jy Christus tog nog kan herken hier op aarde. Die afstand word oorbrug deur sy woorde en deur sy werke. Hulle bly, ook al is daar geen persoonlike verskyning meer nie. Daaraan mag julle weet dat Christus naby is. Julle kan Hom ook vandag herken in wat Hy sê en in wat Hy doen. Ons het geen enkele rede om te kla oor sy afwesigheid nie. Hy is aanwesig. Let maar op sy woorde en sy werke: Dit is die Here. Daarop het die Here ons voorberei deur sy verskyning in omsluiering.

Ons wil nou let op die tweede punt: wat Christus aan sy dissipels toon.

Christus vestig alle aandag op sy woorde en werke. Maar waarom daardie spesifieke woorde en werke van ons teks? Waarom verskyn Jesus aan die dissipels juis in daardie situasie en op so ’n wyse?

Die dissipels het hul ou beroep weer opgeneem. Hulle gaan weer visvang. In daardie werksituasie verskyn Jesus aan hulle. Dit het Jesus al eerder gedoen, drie jaar gelede. Ons het daarvan gelees in Lukas 5. Die situasies is duidelik vergelykbaar. Toe het hulle ook die hele nag visgevang, sonder om iets te vang. Maar nadat hulle die instruksie van die Here opgevolg het, het hulle ’n groot menigte visse gevang sodat hulle net wou skeur. Dit was ’n baie belangrike keerpunt in die lewe van Petrus, Joh en Jakobus, drie van die sewe wat in ons teks genoem word. Christus ontmoet hulle in hul werksituasie en spreek hulle aan in hul eie taal: van nou af sal jy mense vang. Vanaf daardie oomblik het hulle hul skuite verlaat en Jesus gevolg. Dit was vir hulle ’n definitiewe lewenskeuse.

Nou, drie jaar later, ontmoet Christus hulle weer by dieselfde see van Tiberias. Dit moet hulle wel herinner aan die geskiedenis van drie jaar gelede. Die taal van die situasie moet hulle wel aanspreek. Christus het toe verklaar: van nou af sal jy mense vang. Die verklaring is nou nie meer nodig nie. Dit spreek vanself. Die woord van drie jaar gelede word nou volle werklikheid vir hulle. Op die Paasaand het hulle die opdrag ontvang: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Hulle moet uitgaan die wêreld in, vissers van mense word. Christus herinner hulle aan hul oorspronklike opdrag. Hy spreek hulle opnuut en vir oulaas aan in hul eie taal. Hulle was daaraan gewoond om visse te vang, nou moet hulle mense vang.

Die dissipels staan voor ’n sware taak. Om mense te vang sal baie van hul eis. En hulle is slegs swak mense. Soms sal dit lyk asof die werk tevergeefs is, vrugteloos. Hulle sal teleurstellings moet verwerk. ’n Onmoontlike taak!

Daarom berei Christus deur hierdie derde verskyning sy dissipels voor op hul moeilike taak. Hy wil hulle bemoedig en toerus deur aan hulle sy mag te toon. Ja, dit is ’n wyse beskikking van God dat hulle daardie nag niks vang nie. Hulle kom voor hul eie onmag te staan. In die vroeë môre moet hulle die vrugteloosheid van hul werk erken teenoor Jesus wat om kos vra. Hulle het niks om Hom aan te bied nie.

Maar dan gebeur die wonder. Waar mense onmagtig is, sorg Christus vir ’n net vol visse. Die dissipels hoef nie bang te wees nie. Wat hulle self nie kan nie: vissers van mense wees, dit doen Christus vir hulle. Hy maak hulle vissers van mense. Hy jaag die visse in hul net in. Hy sal die vrugte op hul prediking gee, op sy tyd en wyse. Soos Hy op daardie oggend visse in die net gedryf het, so sal Hy mense in die net van die prediking indryf en hul harte oopmaak vir die prediking. Hy kies die synes uit, Hy roep hul almal. So vergader Hy sy kerk van land tot land. Let maar op sy verskyning by die see van Tiberias. Christus toon sy mag.

Daarby maak Christus wel gebruik van mense: soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies. Daarin is die apostels en al Christus se dienaars egter afhanklik van Hom. Sonder Hom kan hulle niks nie. Hy alleen is magtig. Hy alleen kan harte oopmaak. Hy alleen kan bekering skenk. As jy vrug op jou evangelie-arbeid sien dan kom alle eer aan Hom toe. Hy skenk vrugte. Hy toon sy mag. Hy sorg vir vol nette.

Wat ’n sterk bemoediging vir die dissipels vir hul moeilike taak. Hulle hoef nie terug te skrik vir vyandskap, vir die haat van eie volksgenote en van die wêreld nie. Hulle hoef ook nie terug te deins vir die teleurstellings en die skynbare vrugteloosheid nie. Hulle ken die opdrag van die Here: julle sal mense vang. Hulle ken ook die mag van die Here: Hy sorg vir die vangs. As hulle maar trou die opdrag opvolg dan mag hulle die res aan die Here oorlaat. Hy bewerk en skenk die vrugte op sy tyd en wyse.

Broeders en susters , wat ’n bemoediging by al die werk wat ons in die diens van die Here moet verrig. In u amptelik werk mag u weet dat die Here u stuur. Hy gaan met u saam met sy opdrag en met sy mag. U kan die vrugte van die arbeid nie teweegbring nie. Dit kan Hy alleen. By alle teëwerking en teleurstelling herken u Hom in sy woorde en in sy werke, ook al het u miskien anders verwag. Elke knie wat buig voor die Here, elke daaglikse bekering is ’n wonderwerk van Hom, wat mense deur sy Gees en woord vang. Sien u dit nog wel, in verwondering? Die voortbestaan van die kerk is ’n lewende bewys van Christus se mag. Ook die feit dat jong mense die Here liefhet en wil dien.

U word, broeders en susters, ook bemoedig vir die werk van evangelisasie. U herken die Here aan sy opdrag. Daarom aarsel ons nie, skrik ons nie terug nie. Ons let nie eers op die vrugte nie en ons laat ons gehoorsaamheid nie afhang van die vrugte nie. Ons gaan gewoon aan volgens die opdrag van ons Sender. Ons kan die harte nie bekeer nie. Maar Christus is magtig. Ons laat dit dan ook aan Hom oor. Dan is ons werk nie ydel in die Here.

Ons word ook bemoedig vir ons opvoedingstaak. God roep ook tot die diens. Bly trou aan sy opdrag, hoe die uitkoms ook mag wees. Die uitkoms lê in sy hand. Julle kan die harte van jul kinders nie bekeer nie. Wat julle wel kan en moet doen is om trou op julle pos te bly. Soms lyk dit miskien na ’n hopelose saak, ’n onmoontlike taak. Maar laat jou nie aan die kant sit nie. Los nie jou taak nie, hoe ontmoedigd jy ook mag wees. Gee die opdrag nie terug aan die Here nie. Gaan gewoon aan, na jou vermoë. Bid aanhoudend vir krag en wysheid. Ja, juis as jy merk dat ’n kind ontrou is aan die Here, sal jy des te meer wysheid en krag van die Here nodig hê. Jou omgang met die Here in gebed sal des te intensiewer moet word sodat jy nie verslap nie en jou nie onttrek aan jou taak nie. Op hierdie wyse kan God jou geloof op die proef stel. Doen jy alles in afhanklikheid van Hom of dink jy dat jy dit tog in eie hande het, ’n gevaar wat ons voortdurend bedreig. Ons wil immers self in beheer wees.

Daarom broeders en susters verwag julle die vrugte van jou arbeid werklik van die Here alleen? Kan julle dit wel aan Hom oorlaat? So ja, dan hoef dit vir jou ook geen obsessie te wees as jy nog geen vrugte sien nie of as jy gekonfronteer word met jou eie swakheid nie. Dan sal jy inteendeel juis tot God gaan met die bede vir vergewing en vir wysheid en krag om jou diens trou te bly vervul. Dan sal jy ook rus vind in die wetenskap dat die vrugte in die hande van die Here is. Dit sal jou bevry van senuagtigheid en jou in staat stel om op ’n ontspanne wyse jou goddelike roeping te vervul.

Gemeente, as die dissipels by die strand kom, dan sien hulle ’n vuur op die grond en vis daarop lê en brood. Die Here het reeds vis klaargemaak, voordat die dissipels met hul visse te voorskyn kom. Hy self het ’n maaltyd berei vir sy vermoeide dissipels. Die Here laat sien dat Hy sy dienaars sal voorsien van alles wat hulle nodig het vir die diens in sy koninkryk. Hy is daarin nie afhanklik van hul dienste nie. Let daarop, Hy is hulle voor. Christus tree op as Gasheer. Dit word ’n pragtige fees op die strand van die see van Tiberias. Alles getuig van die heerlikheid van die verhoogde Christus. Dit is nie nodig om daarna te vra of daaroor te praat nie. Dit spreek vanself: dit is die Here. Sy woorde en werke speek ’n duidelike taal. Die dissipels en via hulle alle gelowiges word voorberei op hul take in diens van die evangelie van Christus. Ook na Christus se hemelvaart het hulle, het ons, nog sy Woord en sy werke. So gaan Hy met hulle en met ons saam. So sal die vrugte op die prediking te voorskyn kom, deur sy mag. Vrugte van geloof en bekering, na sy welbehae.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)