God gee owerhede op sy tyd en wyse.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-06-06
Teks: 
Romeine 13
Preek Inhoud: 

Romeine 13:1-7

Ds C Kleyn - Sondag 6
Junie 1999

Lees: 1 Petrus 2:11-25;
Romeine 13:1-7.
Sing: Ps 136:1,2,3; Ps 66:2,7; Ps
47:1,4 (na kollekte); Ps 72;1,2,10,11; Ps 97:1,6,7.

Tema: God gee owerhede
op sy tyd en wyse.

  1. die hoë posisie van die owerheid
  2. die houding van ons as onderdane.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die tweede demokratiese verkiesing het nou
plaasgevind. Die burgers van ons land kon ’n kruisie trek by
die party van hul voorkeur om deel te neem aan ons parlementêre
demokrasie. Soos verwag het die ANC ’n oorweldigende
meerderheid behaal. Hulle kan nou die nasionale regering vorm. In
sommige provinsies is dit anders, daar sal partye eers met mekaar
moet onderhandel om ’n koalisie te vorm. Die kiesers het
gepraat. Nou is dit die beurt van die gekose leiers om te regeer.

Gemeente, hoe moet ons kyk na hierdie
ontwikkeling in ons land? Hoe moet ons die regering wat gevorm
word, beskou? Is dit slegs ’n menslike instelling wat ons
noodgedwonge en teen wil en dank maar moet aanvaar? Of is daar
meer wat ons moet sê? Is dit slegs menslike kiesers wat gepraat
het? Vanuit die Skrif moet ek met nadruk stel: dit is God wat
gepraat het!

Ek verkondig aan u die woord van die Here: God
gee owerhede op sy tyd en wyse.

  1. die hoë posisie van die owerheid
  2. die houding van ons as onderdane.

Die woorde van Rom 13 is verrassend. Kyk maar
na vers 1 "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat
oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en
die wat daar is, is deur God ingestel." Verrassend, sê ek,
want Paulus leef in daardie tyd onder die Romeinse owerheid. En
Paulus weet baie goed dat die Romeinse mag geen voorbeeldige mag
is nie. Hul swaard drup van bloed. Deur middel van geweld en
onreg het hulle ander volke aan hulle onderwerp. Die keisers het
ook dikwels die swaard gebruik om hulle eie belange te beveilig
in plaas van die reg te handhaaf.

Paulus was self ook meermale ’n slagoffer
van magsmisbruik. Hy het ervaar dat owerhede die goeies soms
vervolg pleks van beloon. In Damaskus het die goewerneur van
koning Aretas die stad van die Damaskeners laat bewaak om hom te
vang (2 Kor 11:32). Paulus het verskillende kere in die
gevangenis gesit en is meermale gemartel. Paulus laat hom egter
nie deur sy emosies en deur sy pynlike ervarings lei nie. Hy laat
hom deur God lei. Hy beskou die situasie vanuit sy geloof in God.
So kan hy sê dat daar geen mag is behalwe van God nie en die wat
daar is, is deur God ingestel.

Paulus sê niks oor die vorm van die regering
nie, ook nie oor hoe die maghebbers aan die bewind gekom het nie.
Dit is vir hom nie tersake nie. Hy gaan daarvan uit dat die
bestaande magte onder die voorsienigheid van God daar is en dat
ons ons almal aan hulle moet onderwerp. Is daar dan geen
uitsonderings op die reël nie? Dit is moontlik, maar wie te gou
oor uitsonderings praat verswak die reël. En die reël is dat
ons ons nie slegs hoef te onderwerp aan gematigde of christelike
owerhede nie, maar aan die owerhede wat daar is.

Die woord wat in ons teks met "magte"
vertaal word, dui op die bevoegdheid om mag uit te oefen, die reg
om op te tree. Daardie woord laat reeds sien dat Paulus nie slegs
owerhede op die oog het wat op ’n wettige manier aan die mag
gekom het of wat hulle goed gedra nie. Dieselfde woord word in
die N.T. naamlik ook vir die mag van die antichris en van satan
gebruik.

Maar, gemeente, wat van die slegte magte wat
aan die bewind kom of die magte wat deur middel van rewolusie die
seggenskap verkry? Kan ons ook van hulle sê dat hulle deur God
ingestel is? Ja, God is daaroor duidelik in die Bybel. Laat ek
verskillende Skrifgedeeltes noem. Koning Nebukadneser, die wrede
koning van Babel, wat Jerusalem verower het en die Judeërs in
ballingskap weggevoer het, word in Jer 43:10 God se kneg genoem.
God het hom geroep en uitgestuur. Kores, die koning van Persia,
wat nasies en konings neergewerp het, word in Jes 44:28 en 45:1
God se herder, God se gesalfde genoem.

In Hosea 13:11 sê die Here: Ek gee jou ’n
koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid. In
Daniel 2:21 lees ons oor die Here: Hy tog verander die tye en die
geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan. In Dan 4:17
staan daar dat die lewendes moet erken "dat die Allerhoogste
mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil".
Ten slotte ’n aanhaling uit Spreuke 8:15,16: Deur my regeer
die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers
die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.

Broeders en susters, dit gaan hier konkreet oor
die geloof in God se voorsienigheid. Ons glo in die almagtige en
oralteenwoordige krag van God waardeur Hy al die skepsels asof
met sy hand nog onderhou en regeer. Dit is vir ons ’n sterk
bemoediging. Wat daar ook in die wêreld of in ons land gebeur
dit is die hand van God die Vader wat ontsluit en Hy ontsluit sy
hand met die oog op die jongste dag, die koms van sy Koninkryk.
Ons is dus nie oorgelewer in die hande van mense nie, maar in die
hande van God. Daarom sê ons na die verkiesing in die eerste
plek nie: die kiesers het gespreek nie, maar God het gespreek.
God gee ons deur middel van die verkiesing ’n nuwe regering.
Wat ons ook van die verkiesing of van die oorspronklike
aanleiding tot die verkiesing mag dink, dit is God wat ons die
huidige en die komende owerheid gee. God het gespreek.

Let maar op die woorde van die teks: daar is
geen mag behalwe van God nie en die wat daar is, is deur God
ingestel. "Van God" wys op die oorsprong van die gesag.
"Deur God" wys op God se aktiewe betrokkenheid by die
konkrete owerheidspersone. Deur God ontvang ons die owerheid. Ons
praat wel van ’n demokrasie en van ’n demokratiese
verkiesing. Dit beteken dat die owerheid deur die volk gekies
word. Tog is dit die Here wat die regering deur middel van die
stemme vir ons gekies het. Vergelyk dit maar met die verkiesing
van ampsdraers. Die gemeente kies maar ons verklaar daarna dat
God self ons tot hierdie diens geroep het.

Dink u die vergelyking met ampsdraers is
ontoepaslik? Let maar op die hoë titels wat die owerheid van die
Here ontvang in Rom 13. In vers 4 word die owerheid ’n
dienaar van God genoem, letterlik staan daar ’n diaken van
God. En in vers 6 staan daar dat die owerhede letterlik liturge
is, ’n woord wat juis vir die diens van priesters gebruik
word. Hulle is dus dienaars van God. Hulle staan in diens van God
ten behoewe van die volk waaroor God hulle gestel het.

Beteken dit dat ons maar onmiddellik ’n
maghebber wat met wapengeweld aan die mag gekom het of ’n
gekroonde rower sou moet erken as dienaar van God? Nee. Rom 13:1
se uitgangspunt is die van ’n gestabiliseerde situasie.
Vergelyk die uitdrukking: "die wat daar is, is deur God
ingestel." Die werkwoord wat in die grondteks gebruik word
bevat die element van gestabiliseer wees, van iets wat in die
loop van tyd vas gevestig is. Daarmee word ’n rewolusie wat
gepleeg is, nie goedgepraat nie. Na ’n historiese
ontwikkeling kan dit egter gesien word as ’n impuls vir
’n nuwe situasie wat ons moet erken en aanvaar. So moet ons
in ons eie land konstateer dat die ANC regering ’n
gevestigde owerheid is wat deur God ingestel is.

Maar, gemeente, aan wie is die owerheid
verantwoording skuldig? Aan haar kiesers? Moet die ANC regering
nou veral die belange van die ANC kiesers behartig en hulle
tevrede stel? Al het die regering ook via ’n volksverkiesing
aan die bewind gekom, as hy eenmaal aan die bewind is, dan is hy
verantwoordelik teenoor God. Hy is God se dienaar wat teenoor Hom
verantwoording sal moet aflê.

Dit beteken dat die regering in sy beleid aan
God se norme, aan God se wet gebind is. God weet wat goed is vir
’n nasie! Hulle moet die reg van God handhaaf en bevorder.
Daarom moet hulle ook die heilige diens van die kerk beskerm. Tot
ons verdriet sien ons dat die ANC nie die gesag van God en sy
woord erken nie. God sal hulle daaraan hou en daarna oordeel. Ons
bid dat hulle tog mag buig vir die gesag van Koning Christus en
dat hulle mag insien dat God se wette die beste is wat ’n
volk kan hê.

Om owerheid te wees is nie ’n ereposisie
nie. Die owerheid mag nie agteroor sit en alles maar sy gang laat
gaan nie. Die owerheid ontvang ook nie so ’n posisie om
hulself daarmee te verryk nie. Nee, om owerheid te wees is ’n
dienende posisie. Hulle moet in God se naam die welsyn van die
volk behartig, reg en orde handhaaf en bevorder. Sodat die lewe
kan ontplooi en blom en die burgers rustig kan voortgaan met hul
lewe en hul werk ooreenkomstig die gawes wat God hulle gegee het.
Dit beteken dat daar baie werk vir die owerheidspersone is. Dit
is ’n moeilike taak. Wie is daartoe in staat, in die huidige
Suid Afrika? Daarom sal ons gebed vir die owerheid vermenigvuldig
moet word sodat hulle werklik kan wees wat hulle moet wees: God
se dienaars ten behoewe van die Suid Afrikaanse nasie. Ons moet
bid vir wysheid en krag, vir onderskeidingsvermoë en moed.

Om orde en reg te handhaaf het God die owerheid
die swaard in die hand gegee om kwaaddoeners te straf en die
deugsames te beskerm. Ja, God het die swaardmag aan die owerheid
gegee. Die owerheid is immers ’n dienaar van God, ’n
wreker om die een wat kwaad doen te straf. Uit Rom 12:19 blyk dat
ons onsself nie mag wreek nie, maar plek moet gee vir die toorn,
want aan God kom die wraak toe, Hy sal vergeld. Hoe gaan God die
kwade dan vergeld? Uit Rom 13:5 blyk dat Hy daartoe die owerheid
aangestel het.

Die swaard is die instrument om die dood toe te
pas. Dit is die simbool van die bevoegdheid oor lewe en dood.
Daarmee word op die uiterste straf, die doodstraf, gesinspeel.
Dit sluit natuurlik alle ligter strawwe in. Wanneer die owerheid
selfs die doodstraf mag toepas, hoeveel te meer het sy die reg om
geringer strawwe op te lê?

Die owerheid dra die swaard. Waar daar ’n
owerheid is, daar moet ook die swaard wees. ’n Owerheid
sonder swaard is magteloos, weerloos en kan nie funksioneer nie.
Die owerheid is verplig om die swaard te dra en te gebruik. In
ons land is daarvoor meer as voldoende redes. Dink maar aan die
geweld, die misdaad, die korrupsie wat so baie in ons land
voorkom. Die owerheid is verplig om dit op ’n gepaste wyse
te bestraf as wreker van God. Vir solank die sonde nog in die wêreld
is, geld die noodsaak en roeping. Daarom moet ’n bekwame en
goed toegeruste polisiemag in stand gehou word. Daarom moet daar
’n goed funksionerende regsstelsel wees. Daarom is selfs
’n sterk weermag nodig. Die kwaad kom mos nie slegs voor in
ons eie land nie, maar bedreig ons ook van buite ons grense. Op
so ’n manier kan die losbandigheid van die mense in bedwang
gehou en bestraf word en die lewe van alle volksgenote tot
ontplooiing kom.

Gemeente, wanneer mense praat oor die owerheid
of oor die arm van die owerheid soos die polisie, dan gebeur dit
dikwels in ’n negatiewe sin. Hulle word dikwels afgekraak en
verneder. Ons kan dit verstaan dat daar kritiek is. Maar,
broeders en susters, pas so ’n negatiewe houding wel by
’n christen? Dank ons God nog wel vir die owerheid? Sien ons
nog wel dat dit ’n wyse beskikking van God is ons ten goede?
Sien en bely ons nog wel die hand van ons goeie God agter die
owerhede soos art 36 van ons NGB ons daarin voorgaan? "Ons
glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike
geslag konings, vorste en owerhede aangestel het."

Hoe sou ons land wees sonder owerheid? Dan was
dit hier reeds ’n hel. Ons kan altyd wens vir ’n beter
en meer bekwame owerheid, maar ook wat ons het, is tog nog ’n
gawe van ons goeie God. Dink maar aan die vreedsame verloop van
die verkiesing. Vergelyk dit maar met die vorige verkiesing en
met die lande om ons heen. God gee ons nog ’n owerheid wat
ons die ruimte gee om te lewe en werk en veral wat ons die ruimte
gee om voort te gaan met die bediening van die evangelie.

Hiermee het ons by die tweede punt uitgekom:
ons houding as onderdane.

Paulus begin onmiddellik al om daarop te wys
dat elke mens, dus die gelowige en die ongelowige hom moet
onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is. Ons moet ons
gewillig skik onder hulle gesag. Dit veronderstel ’n houding
van gehoorsaamheid. Dit blyk ook uit vers 7: Betaal dan aan almal
wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol
aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer
toekom. Dit staan teenoor ongehoorsaam wees, jou teen die
owerheid versit. "Hy wat hom teen die owerheid versit,
weerstaan die instelling van God en hulle wat dit weerstaan, sal
hulle oordeel ontvang," lees ons in vers 2. God sal oordeel.

Waarom moet ons die owerheid gehoorsaam wees?
Nie vanweë hul goeie eienskappe nie. Nie vanweë hul goeie
beleid nie. Nie vanweë ons persoonlike simpatie vir hulle nie.
Nee, ons moet gehoorsaam wees omdat God hulle aangestel het. Of
hulle goed of sleg is, maak hier nie saak nie. Hulle is dienaars
van niemand minder as God nie, daarom sal ek my nie teen hulle
versit nie. Let daarop dat ons nie in die teks lees dat ons
gehoorsaam moet wees vir solank as hulle goed doen nie. Die
nadruk val daarop dat ons die goeie moet doen. "Maar wil jy
nie die mag vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom
ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede."
(vers 3,4).

Waarom moet ons ons dus onderwerp? In vers 5
skryf Paulus: "Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp,
nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die
gewete." Hier sien u ’n verskil tussen die gelowiges en
die ongelowiges. Ook op hierdie gebied geld dit dat ons as
christene geheel anders moet wees. Hoe dan? Wel, hulle wat sonder
God lewe onderwerp hulself aan die owerheid omdat dit sinvol lyk
of omdat hulle bang vir straf is. Hulle sal hul onderwerp teen
wil en dank. Die christen daarenteen, sal hom nie alleen
onderwerp omdat dit die veiligste is nie, maar veral terwille van
die gewete, om voor God ’n goeie gewete te hou.

Om my te onderwerp aan die gevestigde owerheid
het alles te doen met my verhouding tot God. Ek weet as christen
dat dit God se wil is dat ek my onderwerp aan die owerheid wat Hy
in sy voorsienigheid oor my gestel het. Die apostel Petrus
bevestig dit as hy skryf: "Wees dan onderdanig aan elke
menslike verordening ter wille van die Here – of dit die
koning is as opperheer of die goewerneurs as sy gesante." (1
Pt 2:13). Ons moet dus onderdanig wees ter wille van die Here.

Hierdie houding van gehoorsaamheid is so
wesenlik vir die christen dat hy in moeilike situasies liewer sal
ly as om te skel of te dreig. Wanneer Petrus ons oproep om God te
vrees en die koning te eer (2:17), laat hy onmiddellik daarop
volg dat diensknegte hulle here onderdanig moet wees, nie alleen
aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat
verkeerd is (2:18). Dit word gesien as navolging van Christus,
wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy
gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat
regverdig oordeel (2:23).

Beteken dit dan dat blinde gehoorsaamheid van
ons gevra word? Nee, die feit dat ons gehoorsaam moet wees ter
wille van die gewete en ter wille van die Here gee al die grens
van die gehoorsaamheid aan. Soos dit staan in Hand 5:29 "Ons
moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense." Voordat
Petrus ons opdra om die koning te eer sê hy: vrees God. Dit is
in die volgorde: vrees God en eer die koning. As die owerheid
dinge van ons vra wat teen die woord van God ingaan dan moet ons
gehoorsaamheid weier ter wille van die gewete, ja, ter wille van
die Here. Dink aan die geloofsmoed van Daniel en sy vriende om
die bevele van die koning, wat strydig was teen die wet van God,
te weier. Die apostels het altyd geweier om gehoor te gee aan die
verbod om Christus te predik. So het hulle ook altyd geweier om
die keiser as Heer te aanbid. Nooit sou hulle toegee aan sulke
eise wat teen God se wil ingaan nie.

Wat kan ons doen as ons onreg ly of as ons sien
dat die regering ontrou is in die uitoefening van sy goddelike
amp? In elk geval nie uitskel, dreig of kla nie. Nog minder: in
opstand kom. Dit beteken nie dat ons alles gelate oor ons heen
moet laat gaan nie. Waar moontlik mag ons protesteer. Paulus het
nie geaarsel om kragtig te protesteer toe hy sonder regs-proses
in die openbaar geslaan is en in die gevangenis gewerp is nie(Hand
16: 37 ev). Ons moet stry met die wapens van ons Koning Jesus
Christus. Watter wapens is dit? Die gebed en die woord. En as ons
ten onregte moet ly laat ons dan kalm en gelowig ons beroep op
die Hoogste Owerheid, naamlik die Here God. Ons sal eerder deur
geestelik krag die slegte owerhede oorwin as deur geweld. En die
oorwinning sal meer duursame vrugte afwerp.

Laat ons, broeders en susters, seuns en dogters,
dan oppas vir ’n negatiewe houding teenoor die owerheid. Ons
mag ons nie laat lei deur ons emosies of deur pynlike ervarings
nie. Laat ons eerder ’n christelike houding toon, ’n
positiewe en opbouende houding. Dit is nie genoeg om slegs ons
belastings te betaal nie. Ons moet hulle ook respek en eer betoon
(Rom 13:7). Hoe doen ons dit? Deur ons met die verskuldigde
gehoorsaamheid aan hulle te onderwerp. Deur die hoë posisie wat
God aan hulle gegee het, te erken en te eerbiedig. Deur as
profete hulle te herinner aan die hoë amp en plig en hulle te
ondersteun vanuit die woord van God. En deur as priesters
voorbidders vir hulle te wees sodat hulle kan wees wat hulle moet
wees. En deur as konings in ons eie gesinne en lewens te
demonstreer wat dit is om werklik in beheer te wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)