die verband tussen Christus en die Christene

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

Sondag 12

Ds C Kleyn - Sondag 30
Mei, 1999

Lees: Lukas 4:14-21; 1
Johannes 2:18-27; Sondag 12.
Sing: Ps 25:1,2; Ps 88:1,2; Ps 23:1,3
(1e beryming – na kollekte); SB 14; Ps 88:9,15.

Tema: die verband
tussen Christus en die Christene

  1. Christus is die uitsonderlike ampsdraer
    vir ons.
  2. Hy maak ons weer tot ampsdraers.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die name "Christus" en "Christen"
word baie gebruik. Hoe dikwels word die Here Jesus nie Christus
genoem nie? Ons gebruik die naam dikwels asof dit Jesus se
persoonsnaam is, sy noemnaam. Wie staan nog daarby stil dat
Christus Jesus se ampsnaam is?

Baie mense laat hulself Christene noem. Met die
naam word die aanhangers van die christelike godsdiens onderskei
van die aanhangers van ander godsdienste van die wêreld. In die
verlede is selfs die stryd in Libanon aangedui as ’n stryd
tussen Christene en Moslems. Vra jy egter wat die christendom
inhou dan kry jy uiteenlopende antwoorde. Wie besef nog wat die
naam christen werklik beteken?

Dit is duidelik dat daar ’n nou verband
tussen die naam christen en die naam Christus is. ’n
Christen behoort by Christus. Daar is ’n baie hegte band
tussen Christus en die egte Christen. ’n Lewenseenheid. Maar
daarmee het ons nog nie alles gesê nie. Wat beteken immers die
naam Christus? Die naam beteken gesalfde. Wel, as die naam
Christus op salwing dui dan klink die salwing ook deur in die
naam christen. Christen wil dus nie slegs sê: "jy behoort
by Christus" nie, maar ook: "jy het deel aan sy salwing".
Christus is die gesalfde van die Here. As Christen is jy ’n
gesalfde van die Here.

Maar wat beteken dit om gesalfde van die Here
te wees? Kyk maar na wat die OT daarvan sê. Wie was daar gesalf?
Die kinders kan wel verskillende voorbeelde noem. Samuel het bv
Saul tot koning gesalf en later ook Dawid.. Ons lees ook in die
OT van die salwing van die profeet Elisa en van die salwing van
priesters.

Wat het die salwing beteken? Die salwing het
aangedui dat iemand deur God geroep en toegerus was tot ’n
besondere amp. Die gesalfde van die Here was ’n ampsdraer.
Hy het ’n spesiale opdrag en bevoegdheid van God ontvang.
Wel, die Seun van God word Christus genoem: Hy is die gesalfde,
die groot ampsdraer. En ons word Christene genoem, gesalfdes van
die Here, ampsdraers.

Vanoggend wil ek vir u die verband tussen
Christus en die Christene verkondig

  1. Christus is die uitsonderlike ampsdraer
    vir ons.
  2. Hy maak ons weer tot ampsdraers.

By die eerste geboorteberig van die Here Jesus
word die naam Christus reeds genoem. Die herders in die veld
ontvang die berig: "dat vir julle vandag in die stad van
Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is."
(Lk 2:11). Later as die Here in die openbaar optree dan haal Hy
self die naam aan. In die sinagoge van Nasaret stel Hy Hom voor
as die Christus. Hy lees daar die woorde van die profeet Jesaja:
"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het".
En Hy pas dit op Homself toe as Hy sê: "Vandag is hierdie
Skrif in julle ore vervul". Die Here wys Homself aan as die
Gesalfde van die Here, as die groot ampsdraer.

Wat na die OT egter opval is dat Hy nie slegs
een van die drie afsonderlike ampte beklee nie. Hy is nie net
koning nie, maar ook profeet en priester. Hy is al drie
tegelykertyd: profeet, priester en koning. Hierdie seun van Dawid
is wel ’n baie besondere koning. Hy is priester op sy troon.
Hy is tewens ook profeet. Die woorde wat Hy aanhaal in die
sinagoge van Nasaret lê veral die klem op sy profetiese amp:
"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om
die evangelie aan die armes te bring. Hy het my gestuur om die
wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes
vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die
wat gebroke is in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van
die Here aan te kondig." Tog sien ons ook in hierdie
profesie priesterlike en koninklike aspekte. As profeet verkondig
Hy die evangelie van bevryding. As priester genees Hy die wat
verbryseld van hart is en as koning gee Hy vir mense hul vryheid.
Ja, op grond van sy priesterlike en plaasvervangende offer
verkondig Hy en gee Hy bevryding aan hulle wat sug onder die las
en die ban van die sonde.

Christus is dus profeet, priester en koning in
een persoon. ’n Opvallende saak na die skeiding van die
ampte in die OT. Tog is dit nie heeltemal nuut nie. Dink maar aan
Melgisedek wat Abraham, na sy verslaan van die konings en na sy
bevryding van Lot, tegemoet gekom het. Van die Melgisedek word
gesê dat hy koning van Salem en priester van God, die
Allerhoogste was. Hy was dus gelyktydig priester en koning. Jesus
Christus word in die Bybel vergelyk met Melgisedek. In Ps 110 sê
die HERE reeds aangaande Hom : "Sit aan my regterhand …
en heers te midde van u vyande." En : "U is priester
vir ewig volgens die orde van Melgisedek." (Ps 110: 1,2,4).

Ons kan egter verder in die geskiedenis
teruggaan. Wat dink u van Adam in die paradys. Hy was na die
beeld van God geskep om God op aarde te verteenwoordig. Hy mog
voluit ampsdraer genoem word, geroep om God se saak hier op aarde
waar te neem. By sy ampsdiens het die koninklike aspek ’n
sekere nadruk gekry. Hy moet as God se onderkoning oor die
skepping heers. Tog ontbreek die profetiese en priesterlike
elemente nie. Adam is geskep in die ongedeelde amp van profeet,
priester en koning. As profeet moet hy God se heerlikheid oor die
skepping uitroep. Sy woorde moet soos die woorde van God wees. As
priester moet hy hom volledig aan God toewy. Dit is tog wat
’n mens verwag van die beeld van God. En as koning moet hy
oor God se skone skepping regeer.

Maar, gemeente, wat het daar uiteindelik van
die pragtige ongedeelde amp geword? Hoe gedra die ampsdraer Adam
hom as die duiwel in die paradys verskyn? ’n Pragtige
profeet! Terwyl hy geroep was om God se woorde oor die aarde uit
te roep, het hy in stryd met die woorde van God gehandel. Die
profeet van die Here heg meer geloof aan die woorde van Satan as
aan die woorde van die Here. So eet hy van die verbode vrugte. En
wat ’n pragtige priester! Terwyl hy geroep was om hom
volledig aan die Here te gee, hom heeltemal op die Here te rig,
volg hy sommer die aartsvyand, satan. Die priester van die Here
stel hom ter beskikking aan satan pleks van aan die Here.

En wat ’n pragtige koning! Pleks van te
heers oor die situasie, laat hy hom beheers deur satan. Hy
verkies om slaaf van die satan bo onderkoning van die Here te
wees. As koning moes hy waak oor die welsyn van die skepping.
’n Koning moet tog die beste soek vir dit waaroor hy regeer?
Maar wat doen koning Adam? Deur sy ongehoorsaamheid stort hy die
hele skepping in die verderf. ’n Pragtige ampsdraer!

Hoe anders is dan die ampsdraer Jesus Christus.
Sy lewe is een en al ampsdiens, troue ampsdiens aan die Here. Hy
bewys homself as ’n egte gesalfde van die Here. Hier het ons
eindelik iemand wat op ’n suiwere wyse profeet, priester en
koning is.

Wie kan ’n beter profeet wees as Hy wat
van ewigheid by die Vader was. Hy was by alle goddelike
beraadslaginge aanwesig. So ken Hy God se planne en kan Hy die
planne bekendmaak soos geen ander dit sou kan doen nie. Hy laat
ons werklik God se hart sien.

Ons kan dieselfde sê mbt sy priesterskap. Wie
kan ’n beter priester wees as Hy, God se eniggebore Seun. Sy
lewe is volkome op die Vader gerig. Die Evangelies maak duidelik
dat Hy niks anders wil doen as die wil van die Vader nie. Dit is
sy lus en sy lewe om die wil van die Vader te doen.

Sy koningskap is eweneens ’n volmaakte
koningskap. Hier is Iemand wat werklik in beheer is. Hy wys die
versoeking van die duiwel af. Hy beheers die situasie, selfs
tydens sy diepste lyding. Die soldate wat hom gevange wil neem in
Getsemane val sommer as dooies op die grond, terwyl Hy kort
daarna Homself vrywillig oorgee. Nie as slaaf nie, maar as koning
wat langs die pad die heil van sy onderdane soek. Wat ’n
Koning!

Ja, daaroor gaan dit vir Hom, om sy onderdane.
As ’n egte koning behartig Hy hulle belange. Hy soek hulle
welsyn. Sedert die sondeval moet een en ander gebeur. Vyande van
God word nie sommer kinders van God nie. ’n Mens verander
nie sommer rebelle in ampsdraers nie. Daarvoor moet eers die
straf vir ampsversuim gedra word. En daarvoor moet die mense ook
radikaal verander word.

Daarom word Christus se ampsdiens ook bestempel
deur hierdie verlossingswerk. As profeet spreek Hy nie sommer
enige woorde nie. Hy maak die wil van God aangaande ons
verlossing bekend. As priester wy Hy nie sommer sy lewe aan die
Here nie. Nee, Hy offer Homself vir die sondes van sy volk. Hy
doen as priester versoening vir die sondes. Aan die kruis, maar
ook daarna in die hemel met sy voorbede. As koning regeer Hy nie
slegs oor die skepping nie. Hy lei mense weer terug tot die Vader.
Deur sy Gees en woord maak Hy die opstandelinge weer tot konings
en priesters. En hy sorg daarvoor dat die vyande hulle nie weer
heeltemal in hul greep kry nie. As ’n goeie koning beskerm
en bewaar Hy ons by die verlossing wat verwerf is.

So word God se skepping uiteindelik weer gered.
Deur die opstand van die ampsdraer Adam was die hele skepping in
die verderf gestort. Deur die gehoorsaamheid van die Ampsdraer
Jesus Christus word opstandige mense en, saam met hulle, die
skepping weer gered.

So kan ons sê dat Christus die uitsonderlike
ampsdraer vir ons is. Terwille van u en my het Hy as die Christus
op aarde gekom. Terwille van rebelle het Hy hom verneder en het
Hy, God se Seun, die gestalte van ’n dienskneg aangeneem.
Sien u die groot genade van God? Hy wou u ampsversuim vir u
regmaak. En wou u opnuut tot ampsdraer maak.

Dit bring ons by die 2e gedagte: Christus maak
ons weer tot ampsdraers.

Gemeente, dat ons almal ampsdraers genoem mag
word blyk uit die salwing van die Heilige Gees waarvan die N. T.
spreek. Alle gelowiges beklee die drievoudige amp van profeet,
priester en koning. Hierdie amp van alle gelowiges vloei voort
uit die geloof. Om te glo wil immers sê dat jy een met Christus
is, in Hom ingelyf. Dit beteken dat jy aan sy beeld gelyk word.
Jy gaan jou Voorganger, jou Hoof Jesus Christus weerspieël.

Hy is die gesalfde van die Here. Ons mag in
navolging van Hom gesalfdes van die Here genoem word. Let maar op
die Skrifgedeelte wat ons gelees het. Die apostel Johannes skryf
tot die gemeente: "Julle het die salwing van die Heilige en
weet alles." (1 Joh 2:20). Kort daarna skryf hy: "En
die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle
het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde
salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen
leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly."
(2:27).

Johannes herinner sy lesers daaraan dat hulle
die salwing van die Heilige Gees ontvang het. Waarin bestaan die
salwing dan? Is dit iets wat bo die geloof en bo die Skrif
uitgaan? Is dit ’n mistieke krag? Is dit ’n ekstatiese
ervaring? ’n Bonatuurlike belewing wat sommer oor jou kom?

Nee, niks van dit alles nie. Die salwing staan
nie teenoor die onderwys van die apostels nie. Hoe het hulle die
salwing ontvang? Ja, hoe ontvang jy vandag die salwing van die
Heilige Gees? Juis deur middel van die onderwys van die apostels,
die geskrewe woord van God. Daarom herinner Johannes hulle aan
wat hulle van die begin af gehoor het (2:24). Deur die Woord het
die Gees na hulle gekom. En met daardie woord was hulle as ‘t
ware gesalf.

So kan Johannes ook skrywe: "Julle het die
salwing van die Heilige en weet alles" en "julle het
nie nodig dat iemand julle leer nie." Merkwaardige uitsprake.
As hulle alles weet en nie nodig het dat iemand hulle leer nie,
waarom skryf Paulus dan daardie brief aan hulle? As dit so is met
ons wat deur die Gees gesalf is, waarom sit ons dan nog in
hierdie kerkgebou? Is dit dan nog wel nodig om kerk toe te gaan?
Is ons dan nie verby die tyd van leer nie? Is ons dan geestelik
volwasse sodat ons ons eie pad wel kan vind en volg?

Dit lyk wel een bietjie op die seuntjie wat na
die lees van Openbaringe 22 aan die tafel, vra: pa, hoef ons nou
nooit meer uit die Bybel te lees nie? Ons het die Bybel tog
klaargelees? Vir hom beteken klaargelees ook klaargeleer.

Sou dit Johannes se bedoeling wees? Johannes sê
inderdaad dat hulle mondig is: julle is met die Heilige Gees
gesalf en weet alles. Julle besit reeds alle kennis. Beteken dit
dat jy nou self kan bepaal wat jy glo en hoe jy sal lewe? Nee,
dit is hier die Gees van God wat dit bepaal. Die salwing van die
Heilige het jou immers mondig gemaak. Gesalfdes, Christene laat
hulle lei deur die Gees van Christus. Die Gees maak vir jou
duidelik wat jy moet glo en hoe jy moet lewe. Die Gees leer jou
hoe om te onderskei wat belangrik is. Deur die Woord van Christus
aan jou te gee. So beskerm die Gees jou teen dwaalleer. Jy het
die Woord van Christus en daarin het jy alle nodige kennis.
Daarmee kan jy beproef wat waar is en wat nie. So bewaar die Gees
jou ook vir ’n wêreldse lewenstyl. Mondigheid beteken dus
nie dat jy nou self kan bepaal wat jy sal glo en hoe jy sal lewe
nie. Dit beteken juis dat jy eers wil luister voordat jy wil
praat: wat sê die Gees in die Woord?

Gemeente, dit is asof Johannes wil sê: julle
het die Bybel. Met die Bybel kan voortaan elke gemeentelid proe
wat uit God is en wat uit satan is. Met die Bybel kan elke
gelowige nagaan wat christelik is en wat antichristelik is. Die
Woord is nie slegs aan die teoloë gegee nie, maar aan die hele
gemeente. Op grond daarvan het die gewone lidmate
onderskeidingsvermoë.

Daarom maak dit die Heilige Gees baie hartseer
as die Bybel gesluit bly. Die Gees wil juis hê dat ons die Bybel
oopmaak, lees, oordink. Die salwing beteken onder meer: die
Skrifte ken en daaruit lewe. In leer en lewe uitkom vir die Woord
van God.

Hoeveel Christene besef dat hulle naam,
christen, dit inhoud? Hoeveel besef nog dat hulle deur die naam
christen aan die openbaring van Christus gebind is? Aan die
voltooide openbaring soos ons dit in die Bybel deur Christus se
Gees ontvang het? Christene, gesalfdes moet tog bly by hulle
salwing? As jy buite jou salwing deur God se Gees en Woord leef,
kan jy dan nog wel met reg ’n Christen genoem word?

Die salwing leer jou alle dinge aangaande God,
die Here Christus, sy versoenende sterwe, sy opstanding en
heerlikheid, die Heilige Gees, sy persoon en werk, die sondige
mens, die vergewing van sondes en die heiligmaking ens ens. Dit
is die waarheid wat julle van die begin af gehoor het. Dit is
geen leuen nie. "Laat dit dan in julle bly", sê
Johannes in 2:24. "As in julle bly wat julle van die begin
af gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly."
Julle het geen addisionele geheime kennis nodig, geen direkte
openbarings van God in jou hart nie, soos sommiges suggereer. Nee,
jy het reeds die waarheid. Al wat jy moet doen is om in die
waarheid te bly en die waarheid in jou te laat bly. Die
objektiewe waarheid van God moet in jou verstand en hart woon en
werk. Wanneer jy God se woord in jou hand en God se Gees in jou
hart het dan het jy alles wat nodig is om die waarheid te
verstaan en om in Christus te groei.

Wanneer jy egter met jou menslike verstand los
van die salwing gaan optree dan kom jy in die gebied van die
leuen tereg. Laat jy jou lei deur jou subjektiewe gevoelens pleks
van deur die objektiewe waarheid van God dan kies jy vir die
duisternis, buite Christus om. So is baie sogenoemde verligte
Christene in feite verduister in hul verstand. Terwyl hulle
voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword (Rom 1:22).
Pleks van gesalf te wees deur die Gees en Woord van Christus sit
hulle gevang in die mag van die duisternis. En wat word dan van
die drievoudige amp van profeet, priester en koning? Die
ampsdraer van die Here blyk dan slaaf van satan te wees.

Maar, gemeente, wie werklik christen wil wees,
sal homself met vreugde gewonne gee aan die volkome openbaring
van Christus. Jy weet dat jy daaraan gebind is. Dit hang saam met
jou salwing. Jy gaan dan as profeet God se Woord uitroep in
hierdie wêreld. Jy kan weer profeteer. Want die Gesalfde Jesus
Christus het jou oë, jou hart en jou mond oopgemaak en toegerus.

As priester gaan jy jou weer rig op God. Jy
leer jou plek ken in Vader se wêreld. Jy leer jouself ken as
dienaar of dienares van God, geskep na die beeld van God om Hom
te weerspieël in al jou doen en late, om sy sake hier waar te
neem.

Die salwing laat jou ook weer jou taak as
onderkoning van God aanvaar. Jy wil die situasie beheers pleks
van self beheers te word deur sondige magte. Jy wil jouself
beheers, geen slaaf van jou emosies of begeertes wees nie. Dit
kos moeite en stryd. Die sonde laat hom nog steeds geld. Daarom
maak die salwing ons tot soldate, soldate van Christus. Soldate
wat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God, ter hand
neem. Soldate wat veg om die bose te oorwin, om te begin by jou
eie lewe. God se heerskappy moet hier op aarde weer sigbaar word.

Dit alles kan net in die krag van die salwing
gebeur. Dit kan net gebeur deur God se Woord en Gees. Dan ontdek
ek dat dit slegs in beginsel gerealiseer kan word. Om vernuwe te
word na die beeld van God is ’n lewenslange proses. Ek moet
daagliks weer vernuwe word. Eers na hierdie lewe sal ek God se
beeld ten volle kan vertoon. Gelukkig is daar egter reeds ’n
begin hiervan deur Christus se Gees. So mag u en ek weer in
beginsel die drievoudige amp beklee as gesalfdes van die Here.
Die uitsonderlike ampsdraer Jesus Christus maak ook u tot
ampsdraers, tot profete, priesters en konings in diens van God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)