Die Here bewaar die drie vriende in die vuuroond

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-29
Teks: 
Daniël 3
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 3:20-30

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 75: 1,6; Lesing van die Wet;
Psalm 34: 4,6; Skriflesing: Jesaja 43: 1-8; Gebed; Kollekte

Psalm 72: 1,5,6,7; Teks: Daniël 3: 20-30; Preek; Psalm 66:
5,6; Dankgebed; Psalm 91:1,6; Seën

PREEK

Gemeente van Jesus Christus, broers en susters

Mense wat mag het, hou in die algemeen nie van spelbrekers
nie. Altyd sien ons weer in die geskiedenis dat mense wat nie oor
mag beskik nie, belowe dat as hulle die mag kry, hulle mense nie
sal dwing nie maar juis vryheid sal gee. Dikwels verander dit as
daardie mense self magtig geword het. Dan wil hulle doen wat
hulle kan doen en hulle geen beperkings laat oplê nie. Die sonde
wat in ‘n mens is, kom ook op hierdie terrein steeds weer na
vore.

Nebukadnesar is hierop geen uitsondering nie. Hy soek mag en
selfs die verering asof hy God is. Hy begeer dat die hele ryk
waaroor hy regeer, met al die verskillende volke, hom so eer. Die
ryk moet die eenheidsgodsdiens ken wat hom vereer. As
Nebukadnesar dit probeer afdwing deur die verteenwoordigers van
al die volke voor sy beeld te laat kniel, is daar 3 spelbrekers.
Drie wat die eenheid verbreek. Drie wat in hulle weiering om voor
die goue beeld te buig, van die HERE bely: "U alleen, U loof
ons bly – ja, ons jubel tot u eer." Hulle gee aan
niemand anders die lof en eer asof hy God was of is nie.

Die spelbrekers moet òf oorgee òf vernietig word. Hierdie
drie gee nie oor nie omdat hulle alles van die HERE verwag en die
HERE vir hulle krag gee om ondanks alles die HERE as die enigste
God te bely. Nou word die vuuroond opgestook. Alles is reg vir
die vernietiging van hierdie lastige getuies van die HERE. Juis
dan wys die HERE dat Hy regtig die enigste God is. Ons sien dit
in die preek as ek vir julle die evangelie onder hierdie tema
verkondig:

DIE HERE BEWAAR DIE 3 VRIENDE IN DIE VUUROOND

  1. Terwyl redding onmoontlik lyk
  2. Terwyl redding tog kom
  3. Tot verheerliking van Sy Naam

Terwyl redding onmoontlik lyk

Nebukadnesar laat die staatmakers, die sterkstes in sy leër
kom. Hulle moet daarvoor sorg dat Sadrag, Mesag en Abednego nie
kan ontvlug nie. Alles moet gedoen word om hierdie opstandelinge
te straf. Hulle is ‘n gevaar vir die eenheid van
Nebukadnesar se ryk. As Nebukadnesar hulle nou nie met krag straf
nie, begin die verteenwoordigers van die volke dalk dink dat
‘n mens maar teen die koning kan opstaan en dit nie nodig is
om aan hom gehoorsaam te wees nie.

Daniël se drie vriende word deur die sterkste manne geboei en
bewaak. Hulle word na die vuuroond gelei wat ‘n vreeslike
hitte uitstraal. So warm! Selfs so warm dat as die sterkste manne
van Nebukadnesar se ryk die drie vriende in die vuuroond gooi,
hulle vanweë die hitte sterf. Die sterkste manne val dood neer.
As dit al met hierdie manne gebeur, is dit onmoontlik dat die 3
vriende dit kan oorleef. Dan is geen mens teen hierdie hitte
bestand nie.

Hierdie vuuroond met sy vreeslike, dodelike hitte wys hoe die
duiwel God se volk, God se kinders vervolg. Dis nie so dat hy ons
net ‘n bietjie lastig val nie. Dis nie so dat hy en sy mag
eintlik nie gevaarlik is nie. Die kragte wat die duiwel teen God
se volk in die Ou Testament ontwikkel om daarvoor te sorg dat die
Verlosser nie kan gebore word nie, is regtig groot en
lewensgevaarlik. Dit bedreig werklik die bestaan van God se volk
en die koms van die Christus en is daarom doodsgevaarlik. As 'n
mens die kragte sien wat die duiwel teen die kerk ontwikkel,
besef ‘n mens dat ons nooit in eie krag gehoorsame kinders
van God kan wees en bly nie. Dis later Petrus wat vir ons skryf:
"Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van
vervolging onder julle wat tot beproewing dien, asof iets
vreemd oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan
die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by
die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel" (1
Petrus 4:12,13).

Let hier op die woord vuurgloed. Hierdie woord herinner
ons aan die vuuroond waarin die drie vriende vanweë hulle
verering van die HERE alleen beland het. Die woord vuurgloed wys
hier op silwer of goud wat in vuur gesmelt word. Die vuur is
warm, die temperatuur so hoog dat goud of silwer van die res
geskei kan word. Die temperature wat daarvoor nodig is, kan geen
mens weerstaan en oorleef nie. Die vuurgloed waarvan Petrus
skryf, wys op verleidinge, vervolginge wat God se kind nie in eie
krag kan weerstaan nie. As ‘n mens net op die vuuroond let,
as ‘n mens net let op die kragte wat die duiwel op God se
kinders laat neerkom, lyk dit asof die kerk, asof elke gelowige
reddeloos verlore is. Lyk dit asof hy vir die duiwel en sy mag op
die knieë moet gaan, dan lyk dit asof die poorte van die hel ook
Christus se gemeente oorweldig.

As ons nou aan ons eie tyd en omstandighede dink, dan brand
nie een of ander vuuroond waarin ons gegooi sal word as ons die
HERE alleen dien nie. Ons lewe, ons dank die HERE daarvoor, in
vryheid. Nogtans kom die verleiding van die duiwel na ons toe.
Dikwels is die vuurgloed, die vuuroond wat ons bedreig, dit wat
die meerderheid van ons verwag. Dit voel vir ‘n mens veilig
om dit te doen wat die meerderheid doen en dink. Dan is dit nie
nodig om jou te verantwoord nie. Dan kan jy saam met die
hoofstroom stap. As die meerderheid se siening of die owerheid se
wette aborsie toestaan, as jy klas draf en jou dosent wys
duidelik dat hy kritiek op die Bybel het en die meerderheid van
die studente luister asemloos na hom, as jy in ‘n staatskool
is en dit word in gesprekke duidelik dat die meerderheid geen
beswaar daarin sien om seks voor die huwelik te hê nie, hoe
reageer ons dan? Dis duidelik ‘n vuurgloed van beproewing,
‘n vuurgloed wat die duiwel wil gebruik om jou as God se
kind dood te brand, om die lewe van die Gees in jou lewe te blus.
Die enkele voorbeelde wat ek nou genoem het, is onlangse
voorbeelde uit ons samelewing, voorbeelde waarmee mense in ons
gemeente, waarmee ook ons kinders werklik te doen kry.

As ‘n mens kyk na die samelewing wat verander, as ‘n
mens daarop let hoe al hoe meer mense vir hulle daaglikse lewe
nie meer hulle siening volgens die HERE se Woord wil laat bepaal
nie, wonder hy of Christus se kerk, of God se kind die vuurgloed
van beproewing kan deurstaan. Kan ons kerk van Christus bly, kan
jy werklik as God se kind staande bly, as die meerderheid so
anders dink? As die samelewing jou baie keer as ‘n
spelbreker ervaar? Dit lyk asof dit onmoontlik is. As ons dit vir
onsself vra, het die tyd gekom om op die tweede punt te let.

Tog kom redding

Nebukadnesar het rus gevind. Die drie is in die vuuroond
gegooi. Die sterkste manne het al buite die oond dood neergeval.
Dis vir hom nie nodig om te wonder of die 3 Joodse manne dood is
nie. Hy kyk nog weer na die vuur in die vuuroond.

Hoe skrik die koning wat dink dat hy deur sy mag onaantasbaar
is. Hy kan amper nie glo wat sy oë sien nie. Is dit wat hy sien
nie een of ander waanbeeld nie? Hy sien iets wat hom verontrus.
Hy vra sy belangrikste raadgewers of hy dit reg sien. Hy vra
selfs of drie manne in die vuur gegooi is. Sy raadsmanne antwoord
met ‘n bevestiging en as hulle nou almal na die vuur kyk
sien hulle dat vier manne los in die vuuroond stap.

Drie dinge val hier op. Die eerste is dat daar 4 manne en nie
drie in die vuuroond is nie. Hoe kom die vierde een daar? Is dit
een van die bewakers wat met die drie saamgesleep is? Dit word al
dadelik duidelik dat dit nie so is nie want die vierde een lyk
anders. Hy lyk anders as ‘n gewone mens. Nebukadnesar self
sê dat die vierde soos ‘n godeseun lyk.

Die tweede wat opval is dat almal wat in die oond is, los is.
Nie net die vierde een nie maar ook die drie ander wat geboei
was. Hulle is geboei in die oond gegooi maar nou het hulle boeie
verdwyn. Die vuur is so warm dat dit hulle boeie laat verbrand of
weggesmelt het. Hoe merkwaardig is dit. Die HERE het daarvoor
gesorg dat die vuur dit van hulle wegneem wat hulle vryheid
inperk sonder dat dit hulle klere of hulle liggaam maar op
‘n enkele manier aantas. Hoe groot is die HERE!

Die derde merkwaardigheid is dat die vier manne in die
smeltoond wandel. Dis nie so dat hulle dooie liggame daar lê en
dat die onverklaarbare is dat daar vier manne is wat nie meer
geboei is nie. Nee, ondanks die geweldige hitte in die vuuroond
stap hulle, hulle leef, hulle stap daar asof niks gebeur het nie.

Hoe is dit moontlik? Die geheim daarvan lê in die HERE en in
die engel wat Hy by die drie vriende gevoeg het. Wie was hierdie
engel? ‘n Mens kan hier aan twee verklarings dink. Dit kan
‘n gewone engel wees wat die HERE gestuur het om te wys dat
Hy by die drie vriende is en Hy hulle red. Hierdie engel wys dan
vir Nebukadnesar en al die verteenwoordigers dat die HERE alleen
God is. Hy wys hoe die drie in die massa mense in die dal van
Dura reg was toe hulle deur te bly staan trou gebly het aan die
enigste goeie belydenis: "U alleen, U loof ons bly, ja ons
jubel tot U eer."

Nou kan dit ook wees dat ons by hierdie engel aan die Engel
van die HERE moet dink. God die Seun wat hier al wys hoe Hy Sy
Kerk bewaar en beskerm. Dis moeilik om hier ‘n keuse te
maak. Die woord godeseun sou op God die Seun kan wys, maar ons
moet in gedagte hou dat dit Nebukadnesar is wat hierdie woord
gebruik en dit doen binne sy eie heidense raamwerk. Boodskappers
van gode word in die Babiloniese godsdiens as godeseuns gesien.
Hoe dit ook al sy, een ding is duidelik dat die HERE deur hierdie
engel wys dat Hy die enigste God is, dat Hy magtiger as Sy hele
skepping is en dat Hy Sy volk op pad na die Christus bewaar.

Die HERE wys hier vir ons, hoe ons met moed en krag in hierdie
wêreld mag staan. Hoe die smeltoond van beproewing ook al oor
ons lewe gaan en ons tref. Jy en ek moet leer om nie ons moed vir
die lewe, vir die bestaan van Christus se gemeente in die
omstandighede te soek nie. As ‘n mens sy uitsig en moed in
die omstandighede, in die politieke omstandighede, in mense soek,
dan word ‘n mens so gou moedeloos, dan verdwyn die lewe en
regte Geesdrif, die egte lewe uit die kerk. Dan breek ons mekaar
af deur na mekaar op ‘n menslike manier te kyk.

Hoe belangrik is dat ons op die HERE, op Jesus Christus let.
Dat ons let op Sy mag en Sy heerlike beloftes ook vir ons. Hy het
vir Israel, wat moedeloos in die ballingskap was, wat moedeloos
was in daardie vuuroond van beproewing, en vir ons gesê:
"Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou
Formeerder, o Israel: wees nie bevrees nie, want Ek het jou
verlos; Ek het jou by jou naam geroep, jy is myne! As jy deur die
water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal
jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie
skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie" (Jes 43:1.2).

Hierdie belofte het die HERE voor die ballingskap gegee omdat
Hy geweet het hoe die volk in ballingskap sou voel. Nou sien ons
in ons teks hoe die HERE in die tyd van die ballingskap, in die
begin daarvan, wys hoe Hy letterlik waarmaak wat Hy belowe het.

Want wat sien en ruik elkeen as Nebukadnesar die bevel vir die
drie vriende gee om uit die oond te kom? Dat selfs geen haar van
hulle koppe weggebrand is nie, dat selfs hulle klere nie na die
vuur ruik nie, niks in hulle liggame het merke van die vuur nie.
Dit terwyl die vuur so geweldig warm was. Die HERE is meer as die
grootste vuur en hitte, alles staan onder Sy beheer.

Alles staan onder Christus, onder die Verlosser se bestuur.
Selfs as ons in groot moeilikhede beland omdat ons Christus as
die enigste Verlosser bely, selfs as God se kinders ter wille van
Christus sterwe, is dit vir ons geen rede om doodsbang te word
nie. Hoe belangrik is juis dan die vertroue op Koning Christus.
Die Here Jesus self het vir ons in Mat 10 gesê: "En moenie
vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan
doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die
liggaam kan verderwe in die hel. Word twee mossies nie vir
‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die
aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare
van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer
werd as baie mossies" (28-32).

Angs is in ons lewe nie nodig as ons op die HERE let nie. Hoe
kleingelowig, hoe bang is ons partykeer. Die oorsaak daarvan is
nie in die eerste plek die omstandighede nie maar ons
kleingeloof, ons lewe in gebrek aan vertroue op Christus. Ons
moet leer om ook steeds weer tot die HERE te bid om ons van angs
te verlos wat die opbou van Christus se kerk en ons eie lewe met
die HERE in die pad staan.

Dit wat Nebukadnesar gesien het, is vir hom genoeg. Hy roep
die drie vriende uit die vuuroond. Hy moet sy neerlaag toegee.
Die HERE dwing Nebukadnesar om te bely dat nie hy die magtigste
is nie. Hy moet erken dat dit wat hy in vers 15 gesê het:
"en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?"
‘n leuen was. Hy staan onder God en nie langsaan of bo Hom
nie. Dan word ook duidelik dat hierdie heerlike daad van God tot
verheerliking van Sy Naam lei. Ons sien dit in die derde plek.

Tot verheerliking van Sy naam

Nebukadnesar kom tot ‘n loflied aan die HERE. Hy kan nie
anders nie as om die HERE te vereer wat so baie meer as hy kan
vermag en wat Homself as die Almagtige getoon het. Hy moet selfs
lof vir Sadrag, Mesag en Abednego toeswaai omdat hulle
ongehoorsaam aan hom was en gehoorsaam aan die HERE. Dit alles
gebeur onder die druk van die omstandighede. Nebukadnesar kan
amper nie anders nie.

As hy die lof aan die HERE en aan God se krag in die drie
vriende gesing het, vaardig hy oor sy hele ryk die bevel uit dat
die naam van die HERE nie oneerbiedig, nie ydel gebruik mag word
nie. Die straf wat op oortreding van hierdie wet staan, is die
doodstraf. ‘n Heidense koning vaardig hier oor ‘n groot
deel van die wêreld ‘n wet uit wat in ooreenstemming met
die derde gebod is en met die straf wat die HERE op die
oortreding daarvan gestel het.

Die HERE sorg daarvoor dat die verteenwoordigers van alle
volke in Nebukadnesar se ryk sien en hoor dat nie Nebukadnesar en
sy beeld vereer moet word nie, maar Hy! Dit wat tot die
verheerliking van die ryk van die mens moes lei, wat tot ‘n
eenparige verering van ‘n mens in diens van die duiwel moes
lei, het in sy teendeel verander. Die HERE het gewys wie Hy is.

Dit wil nie sê dat Nebukadnesar nou ‘n ware gelowige
geword het nie. Dis ook nie so dat hy die inwoners van sy ryk nou
tot die ware diens aan die HERE oproep nie. Hy het nog nie vanuit
sy hart aan die eerste en tweede gebod gehoorsaam geword nie.
Nebukadnesar erken die HERE as die magtigste maar nog nie as die
enigste God nie. Hy praat nog steeds van die God van Sadrag,
Mesag en Abednego. Nebukadnesar beveel dat in sy ryk nie
oneerbiedig oor die HERE gepraat mag word nie omdat "daar
geen ander god is wat so kan verlos nie". Let daarop dat hy
nie bely dat daar geen ander God is nie, maar net op hierdie God
se uitsonderlike mag wys.

Nebukadnesar is deur God se mag beïndruk sonder dat by hom
skuldbesef en skuldbelydenis is. As ‘n mens net deur God se
mag beïndruk is en nie met hartseer in sy hart sy skuld teenoor
Hom bely nie, leer ons die HERE nooit werklik ken nie. Dan leef
jy nie vanuit die verlossing deur Christus nie. Dan roep die HERE
jou tot egte bekering.

Nebukadnesar het nog geen ware gelowige geword nie. Nogtans
kry die HERE deur dit wat gebeur het, meer eer. Sy Naam word deur
die volke meer na waarde geskat. Die ontsag wat dit in
Nebukadnesar gewek het, sorg daarvoor dat hy die drie vriende met
respek en ontsag behandel. Hulle loopbaan aan sy hof verloop
voorspoedig. So beskerm die HERE Sy volk ook in die smeltoond van
die ballingskap. Hy sorg daarvoor dat hulle daar nie met die
wêreld, die heidene saamsmelt nie. Hy sorg daarvoor dat in
hierdie vuuroond ‘n deel so deur beproewing gelouter word
dat hulle eendag in geloof, in vertroue op die enigste God na die
beloofde land sal terugkeer en die Verlosser sal voortbring.

Die HERE is trou en Almagtig. Sy verlossing is seker. Christus
het gekom. Ons het nog meer rede om vanuit die vergifnis van die
sondes wat Christus in ons plek vir ons verdien het, nie
kleingelowig en angstig te wees nie maar openlik sonder vrees God
se Naam te verheerlik.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)