Daniël gee vir God die eer vanweë die openbaring wat hy ontvang het

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-29
Teks: 
Daniël 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 2:19b-28

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 67:1,2; Geloofsbelydenis;
Psalm 36: 2,3; Skriflesing: 1 Kor 2: 1-10; Psalm 44:2,7

Viering van die Heilige Nagmaal; Terwyl tafel gereed gemaak
word en aan tafel gegaan word: Psalm: 111:1,2;

1. Skriflesing: 1 Kor: 2: 11-16 Psalm: 111:3; Terwyl ons van
tafel af beweeg: Psalm: 111:4,5; Slot Formulier

Kollekte; Psalm 42: 1,7; Teks: Daniël 2:19b-28; Preek; SB.
35: 1,3; Dankgebed; SB. 9:2,3; Seën

PREEK

Broers en susters, gemeente van ons geliefde heiland Jesus
Christus

Die HERE het vir Daniël gewys wat Nebukadnesar gedroom het.
Daniël en sy 3 vriende het tot die HERE gebid, hulle het Hom
gesmeek om dit aan Daniël te openbaar. Hulle weet en glo dat
geen enkele mens deur eie kragte dit kan doen nie. Hulle wil
regtig van die HERE afhanklik wees.

As Daniël in ‘n visioen gesien het wat Nebukadnesar
gesien het en die Here God het vir hom gewys wat hierdie droom
beteken, gaan Daniël weer bid. Juis dan het hy weer baie om met
die HERE te bespreek. Hy dank die HERE, Hy maak die HERE se Naam
in Sy dankgebed groot. Dis Daniël se reaksie op die goedheid wat
Hy vir Daniël en sy vriende gewys het. As die HERE dit nie vir
hom gegee het nie, sou dit verseker sy dood en die dood van sy
drie vriende beteken het. Dan sou die toekoms van God se volk
baie duister gewees het en sou die kans baie groot wees dat God
se volk volledig in die ander volke sou opgaan en nie meer die
HERE sou dien nie.

Die HERE wys Sy goedheid en daarom praat Daniël nou weer met
die HERE. Hy dank die HERE en wys met woorde hoe groot, hoe
wonderlik God in die hemel is. Daniël het God se goedheid
gesien. Ons het dit vandag ook op ‘n heel besondere manier
gesien. Die HERE het gewys dat Hy al ons sondes, al ons verkeerde
dinge wil vergewe. Elkeen wat die HERE liefhet en regtig jammer
oor sy sondes is, mag weet: My sondes is vergewe. Die Here Jesus
het Sy lewe ook vir my gegee. Dis ‘n wonder, hoe groot is Sy
liefde dat Hy daarvoor sorg dat ons nie vir altyd saam met die
duiwel in die grootste ellende moet lewe nie! Hy red ons van die
dood. Daarby hoort dat ons die HERE dank en Sy Naam grootmaak.
Ons sien hoe Daniël dit in ons teks doen.

Ek verkondig aan julle die evangelie van God se goedheid onder
die tema:

DANIëL GEE VIR GOD DIE EER VANWEë DIE OPENBARING WAT HY
ONTVANG HET.

  1. Hy loof die HERE in sy gebed
  2. Hy wys opdie HERE as die enigste wat geheime kan
    openbaar.

Hy loof die HERE in sy gebed.

Die gebed van Daniël en sy vriende is verhoor. Die reaksie is
dat Daniël die God van die hemel loof. In die omgewing waarin
Daniël nou bly, is dit opvallend. Hy leef in ‘n omgewing
waar die hemelligame en die sterre as gode vereer word. Die God
van die hemel is nie een of ander hemelliggaam nie. Een of ander
hemelliggaam of die sterre saam vorm nie God of gode nie. Die
lees van die sterre gee geen openbaring nie. Dis die HERE wat in
die hemel woon, wat alles gemaak het, wat die heelal deur die
bevel van Sy mond in een oomblik tot stand gebring het, wat
vandag en elke dag van die geskiedenis die loop van elke ster
bepaal en in een keer kan verander, wat vir Daniël Nebukadnesar
se droom gewys het. Hy wat alles gemaak het en steeds volgens Sy
plan alles regeer, maak hier iets bekend van Sy plan wat in die
toekoms werklikheid sal word.

Hoekom loof Daniël hierdie enigste God? Hoekom sê hy dat die
HERE van ewigheid tot ewigheid geprys moet word? Die eerste rede
wat Daniël in sy gebed noem, is dat: "die wysheid en die
krag syne is". Wysheid en krag is van God, is Sy besitting,
dit staan regtig heeltemal onder Sy beheer. Hy is die bron
daarvan en Hy deel dit volgens sy bevoegdheid uit.

‘n Mens wat dit weet, besef hoe belangrik die gebed is.
As ‘n mens krag en wysheid wil ontvang, moet hy by God wees.
Sonder God kry niemand krag en wysheid nie. ‘n Mens het elke
lewenskrag, elke stukkie wysheid en verstand aan God te danke.
Ook die mens wat die HERE nie vereer en erken nie. Dit geld ook
by die bestuur van ‘n land, dit geld ook vir die
wêreldpolitiek. Hoe erg is dit as mense wat wysheid en insig
ontvang, daarin die HERE nie wil erken nie en dit heerlik vind as
mense hulle roem en eer vanweë hulle mag en wysheid. Daniël
weet waar sy wysheid en krag vandaan kom, hy leef nie vir sy eie
eer nie maar vir God se eer en wys dan ook op die HERE as die
bron van alle wysheid en krag.

Daniël eer die HERE dan ook as die Koning van die wêreld. As
die Koning wat die hele geskiedenis, ook die hele politiek stuur.
Sê ons nie te veel van die HERE as ons dit sê nie? Is dit
werklik so dat niks Hom in die wêreldpolitiek ontgaan nie? Let
op dit wat Daniël in sy lof op die HERE in sy gebed van Hom sê:
"Hy tog verander die tye en geleenthede; Hy sit konings af
en stel konings aan." (22)

Hier sien ons hoe ver die HERE, die God van die hemel, bo die
mens, bo elke menslike mag, bo elke skepsel uitstyg. Die HERE
verander selfs tye en geleenthede. Dit beteken dat God bo die tyd
staan. Hy is nie aan die tyd gebind nie, die tyd is God se
skepping. Daarom kan Hy tye en geleenthede verander. As dit vir
die uitvoering van Sy plan wat op die verlossing deur Christus en
die koms van die nuwe aarde en hemel gerig is, nodig is, verander
Hy tye. Dan laat Hy ‘n dag langer duur soos ons in Jos 10
lees. Dan laat Hy selfs die son teruggaan soos ons in Jes 38:8
lees. Die HERE kan geleenthede verander. Hy kan sommer heeltemal
onverwags gebeurtenisse ‘n ander loop laat neem. ‘n
Mens sien dit later in Nebukadnesar se lewe. As hy nog magtiger
geword het en die stad Babel deur allerhande bouwerke tot ‘n
pragtige stad gemaak het, roep hy uit: "Is dit nie die groot
Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die
sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit
nie? " (4:30)

As Nebukadnesar homself die eer toeken wat net die HERE
toekom, verander die geskiedenis deur God se ingryping dadelik.
Dit het gelyk asof Nebukadnesar as wêreldheerser niks kan gebeur
nie en dan word die groot koning eensklaps mal en begin om soos
‘n dier gras te vreet.

Ons sien iets soortgelyk lyk ook by koning Herodes gebeur. Dis
dieselfde Herodes wat Jesus net voor Sy kruisiging ontvang. Hy
laat later Christus se gemeente vervolg en sorg daarvoor dat die
apostel Jakobus gedood word. Hy dink dat hy magtiger as Christus
is. Hy geniet dit as die volk by ‘n sekere geleentheid vir
hom sê: "’ Stem van ‘n god en nie van ‘n
mens nie" (Hand 12:22). Dan wys die Here dat Hy die Koning
is en dat Hy konings afsit en aanstel. Want dadelik nadat Herodes
homself as god laat vereer het, gebeur die volgende: "En
onmiddelik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy
die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en
het gesterwe."

Die HERE is die Koning. Maria het dit in die geloof bely as sy
die wonderlike boodskap van die engel ontvang dat sy die Here
Jesus sal voortbring. Dan sing sy vol verwondering oor God se
daad in haar loflied o.a: "Hy het deur sy arm kragtige dade
gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy
verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges
verhoog" (Luk 1:51,52).

Die HERE se koningskap is die enigste wat nooit vergaan nie,
wat nooit omvergestoot word nie. Hy is die ewige Koning, Wie se
Koningskap ewig is. Ons mag onder Christus se regering lewe van
Wie ons vandag mag bely: "Aan sy koningskap sal daar geen
einde wees nie" (Geloofsbelydenis van Nicea). Hy regeer! Dit
moet elkeen weet. Dis nie een of ander koning of president, dis
nie een of ander wêreldmag wat die toekoms van die wêreld, van
Suid-Afrika bepaal nie. Dis die HERE wat dit doen. Vir sekerheid
oor jou toekoms moet jy en ook elke maghebber op hierdie wêreld
op koning Christus vertrou. Jou toekoms is net by Hom seker en
vir ewig ‘n geredde, ‘n goeie toekoms.

Die HERE wat Koning is, beskik oor wysheid, kennis en insig.
Ons het dit al eerder in hierdie preek gesien.

Hy weet wat in elkeen se hart is, hy weet wat elkeen van ons
doen. Hoe donker dit ook rondom ons is, al sien geen enkele mens
jou nie, nogtans is vir die HERE die duister lig. Sy lig
deurdring die duisternis. Ons sien dit later in Daniël se lewe
ook baie duidelik. Die HERE weet hoe Daniël se vyande in die
donker duistere planne beraam as hulle vir koning Darius voorstel
om ‘n periode van 30 dae in te stel waarin versoeke net tot
die koning gerig mag word. Geen god mag in daardie tyd aanbid
word nie. Die gevolg daarvan is dat Daniël in die leeukuil
gegooi word. Die HERE het presies geweet wat Daniël se vyande
doen en daardeur kan Hy dit tot redding van Daniël gebruik.
Selfs so dat hy daardeur in nog groter aansien kom (Dan 6). Die
HERE is die bron van die lig, sonder Hom is alles donker, het
alle lig verdwyn. ‘n Lewe sonder Christus loop dan ook op
die ewige duisternis uit.

Hy is die Lig en Sy lig is vir ‘n mens so oorweldigend
dat ‘n mens nie tot die HERE kan deurdring nie. Daarom bly
Sy plan vir die mens verborge. Sy wysheid is so groot, en Sy plan
is deur Sy wysheid so ver bo ons vuurmaakplek dat dit vir ons
ondeurgrondelik en verborge is. ‘n Voorbeeld daarvan is die
verlossing deur die Here Jesus. Die Verlosser moes God en mens
wees om God se kinders werklik te kan red. Dit is die grootste
voorbeeld van ‘n geheim, ‘n verborgenheid wat die HERE
aan ons bekendgemaak het. Ons sou nooit op die idee gekom het dat
ons op daardie manier gered kon word nie. Daarom skryf Paulus
daarvan aan Korinthe se gemeente: "Wat die oog nie gesien en
die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom
het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het
dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle
dinge, ook die dieptes van God" (1 Kor 2:9,10). Sien ook Rom
11:25.

Hoe groot is die HERE. Hoe heerlik is dit dat Hy ons Vader,
ons Redder, ons God wil wees. Daniël loof die HERE wat die God
van die verbond is. Daniël wys op die verbond as hy die HERE,
die God van sy vaders noem. Die HERE soos Hy Hom in die verlede
bewys het, is Daniël se God. Hy is en bly altyd dieselfde! Dis
hierdie God wat nou vir hom wysheid en krag gegee het. Wysheid en
krag in hierdie moeilike situasie. Wat vir hom ondeurgrondelike
en verborge dinge bekend gemaak het. Die droom was vir Daniël
verborge. As hy net die droom sou gesien het, sou dit vir hom
ondeurgrondelik wees; maar die HERE het ook die uitlegging aan
hom gegee. Hy is die hoorder en verhoorder van die gebed van Sy
kinders. Broers en susters, hierdie geweldige God is deur die
Here Jesus se werk ons God. Hy is nie ons besitting nie, ons kan
nie oor Hom heers nie. Hy het Hom in Sy liefde aan ons verbind as
ons Vader en ons Redder. Hy het ons die geheim van Christus se
verlossing en dat ons as nie-Israeliete daarin mag deel, bekend
gemaak. Hom kom die lof en die eer toe!

Daniël bly van homself afwys as hy voor Nebukadnesar verskyn.
Dit sien ons in die tweede punt.

Hy wys die HERE aan as die enigste wat geheime kan
openbaar.

As Daniël die droom en sy uitlegging ken, gaan hy na Ariog om
vir hom te vertel dat hy hom by die koning kan aandien. Dit word
dadelik duidelik dat Daniël nie sy eie eer en posisie soek nie.
As hy Ariog opsoek, is die eerste wat hy sê dat Ariog die
geleerdes van Babel wat hy versamel het om dood te maak, nie dood
moet maak nie. Daniël sien die ander geleerdes nie as sy
konkurrente nie. Dis nie so dat hy hoop dat hulle gou doodgemaak
word en dat hy daardeur ‘n vooraanstaande plek aan die hof
kan inneem nie. God se kind is vol ontferming oor ander mense, hy
is met hulle bewoë en soek ook vir hulle die goeie. Daniël soek
nie sy eie redding ten koste van ander nie.

Ariog maak haas om Daniël by die koning te bring. Dit moet
nou gou duidelik word of die gespanne verhouding aan die hof
‘n einde kan kry. Ons het verlede week al gesien wat die
woorde beteken waarmee Ariog Daniël by die koning aankondig.
Daniël is nog ‘n leerling, hy het nog geen graad of hoë
posisie ontvang waarby ‘n titel hoort nie. Hierdie jong seun
sonder graad of titel kom om die droom en sy uitlegging te gee.

Daniël word hier aan die hof met sy naam Beltsasar
aangespreek. Hierdie naam wys op die Babiloniese god Bel. Nogtans
eer Daniël op geen enkele manier hierdie afgod nie. Beltsasar
sal vir Nebukadnesar wys dat Bel en al die ander Babiloniese gode
magteloos is, geen geheime kan openbaar nie. Dit wys ook dat nie
hierdie gode die droom vir Nebukadnesar laat droom het nie. Die
enigste wat dit kan doen en daardeur ook die uitlegging kan gee,
is die HERE, die enigste God in die hemel. Al die geleerdes wat
in diens van die Babiloniese gode staan, kan dit nie doen nie.
Die oorsaak daarvan is nie hulle onkundigheid nie maar die feit
dat die Babiloniese gode nie bestaan nie. Hoe hoogmoedig kan die
wetenskap en wetenskaplikes ook vandag nog altyd wees. Hulle sal
nie na gode wys nie. Hulle is baie keer so opgeblase dat hulle
maak asof die toekoms in hulle hande is. As mense na hulle
luister, kan hulle sê hoe die toekoms sal verloop. Wetenskaplike
hoogmoed is een van die afgode van ons tyd en eeu. ‘n
Christen mag ook sy plek in die wetenskap wil volstaan, maar sal
alle wetenskaplike hoogmoed vanuit die erkenning dat net die HERE
die toekoms ken en regeer en vanuit die erkenning dat sy eie
kennis nog so gebrekkig is, verwerp en bestry.

Daniël se reaksie is nou nie dat hy sê: Ek oortref al u
geleerdes, koning Nebukadnesar, en luister nou na my nie. Hy
vergelyk homself nie met die geleerdes nie. Hy wys dat openbaring
geen menslike saak is nie.

Ook Daniël beskik nie oor die openbaring nie. Hy is nie God
nie. Hy kan God se geheime nie vir Nebukadnesar of enigiemand wys
nie. Hy is in homself in hierdie saak net so magteloos as al die
Babiloniese geleerdes. Hy het die openbaring van die enigste God
nodig. Ook u, koning Nebukadnesar, is van hierdie God afhanklik.
Die toekoms lê nie in u hande nie, nie in die hande van die
Babiloniese gode nie, nie in die hande van gode wat mense op een
of ander manier kan beheer nie. Die toekoms lê in die hande van
die God van die hemel. Daarom kan Daniël vertel wat in die
toekoms gaan gebeur. Nebukadnesar se droom het juis oor die
toekoms gegaan. Ons lees in vers 28 dat Daniël vir Nebukadnesar
gaan bekend maak "wat aan die einde van die dae sal
gebeur."

Dit kan by ons die indruk wek dat dit wat Nebukadnesar gedroom
het en wat Daniël gaan verklaar, oor die tyd na Christus se
sterwe gaan. Daardie tyd word in die Bybel meerdere kere die
laaste dae genoem. Nogtans is dit nie die geval nie. Letterlik
sê Daniël dat Nebukadnesar se droom gegaan het oor die tyd wat
agter die nabye toekoms lê. Dit gaan dus oor die toekoms maar
wel ‘n toekoms wat meer naby is. Dis nie so dat ons die
begin van die vervulling van hierdie droom na Christus se
opstanding en hemelvaart moet begin soek nie.

Sonder om nou al na die uitleg van die droom te kyk, is dit
duidelik dat die HERE se boodskap aan Nebukadnesar is dat die
toekoms nie in Nebudadnesar se hande lê nie maar in die HERE se
hande as die enigste God. As hy van sy onrus verlos wil word,
moet hy sy lot, sy lewe in die HERE se hande lê. Daar is een God
en Hy woon in die hemel en Hy regeer vanaf die hemel en alles is
in sy hande. Alles lê in die hande van die Vader van die Here
Jesus Christus. Hy het in die Nagmaal weer sy hand na ons
uitgesteek en gesê: My kind, leef van My genade. Ek het julle
die heerlike geheim van Jesus Christus die Verlosser geopenbaar.
Lê julle lewe in Sy hande. Dan vind jy rus, ook vir die toekoms.
Dan vind ook ‘n onrustige hart, ‘n hart wat onrustig is
oor die toekoms, in die HERE rus.

As ek in al my onrus my God en Heiland sien, Hom sien soos Hy
Hom in die Nagmaal, in die geskiedenis met Daniël gewys het,
leer ek om saam met die digter van Psalm 42 sê: "Wat buig
jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God,
want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en
my God" (12).

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)