Christis se koninkryk oorwin die hele wêreld

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-29
Teks: 
Daniël 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 2:29-49

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 48:1,4; Lesing van die wet;
Psalm 1:1,3; Skriflesing: Lukas 3:15-20; Gebed;

Kollekte; Psalm 2: 1,2,3,4; Teks: Daniël 2:29-49; Preek;
Psalm 24: 4,5; Dankgebed; Psalm 96:1,2; Seën

PREEK

Broers en susters, geliefdes in die Here Jesus Christus

Nebukadnesar sit op sy troon. Hy is in afwagting van dit wat
Daniël vir hom sal vertel. Sal dit regtig die droom wees wat hy
gedroom het? Hy sal gou weet of Daniël werklik ‘n kneg van
God is of dat hy net soos die topgeleerdes en topteoloë aan sy
hof ‘n magtelose mens is.

Dit moet nou duidelik word of Goddelike openbaring bestaan of
dat dit niks anders as ‘n bedenksel van mense is nie.

‘n Ander ding wat nou ook duidelik moet word, is of die
HERE in dit wat Hy belowe het, betroubaar is. Die HERE het vir
Dawid se huis die belofte gegee dat daaruit die Verlosser sal
voortkom. Dat uit daardie huis die ewige Koning en Redder sal
voortkom. Dit lyk asof Dawid se huis magteloos geword het.
Nebukadnesar is die groot maghebber en Dawid se huis beteken
amper niks nie. Sal dit so bly? Sal dit so bly dat groot
wêreldryke die aarde bly beheers? Eers die Babiloniese Ryk met
Nebukadnesar en sy opvolgers, daarna die Medies-Persiese Ryk met
Kores en sy opvolgers, daarna die Griekse Ryk van Alexander die
Grote en wat daarna volg en ook nog die Romeinse Ryk. Al hierdie
Ryke het op een of ander tyd Israel oorheers. Waar is Dawid, waar
het die ewige Koning gebly? Die HERE gee op hierdie vraag in
Nebukadnesar se droom antwoord. Laat ons sien wat Nebukadnesar
gedroom het en wat hierdie droom ook vir ons vandag in 1999
beteken.

Ek verkondig vir julle die goeie boodskap van die ewige Koning
onder die tema:

CHRISTUS SE KONINKRYK OORWIN DIE HELE WêRELD

Ons let op

  1. die verganklikheid van elke aardse Ryk
  2. die oorwinning van Christus se Koninkryk
  3. Nebukadnesar se reaksie daarop.

Die verganklikheid van elke aardse Ryk

Daniël neem die woord. Hy gaan nou Nebukadnesar se droom
vertel. Hy kondig dit in vers 28b aan. Voordat hy nou regtig met
die droom begin, beklemtoon hy nog ‘n keer dat dit net die
werk van die HERE is. Daniël is uit en in homself onmagtig om
dit te doen. Hy wys dan ook weer op die HERE wat as enigste dit
kan wys. Hy noem God die Openbaarder van die geheime. Dis hierdie
God wat hierdie droom vir Nebukadnesar sal wys. Hy sal wys dat Hy
God is en niemand anders nie. Dis die HERE wat vir die magtige
aardse koning sal wys wat in sy hart lewe en wat die HERE se
antwoord daarop is.

Nebukadnesar het toe hy oor die toekoms en die toekoms van sy
eie mag en ryk nagedink het, hom daaroor sorge gemaak het, in sy
droom ‘n geweldige groot beeld gesien. Hierdie beeld het in
sy droom so groot gelyk dat dit hom regtig bang gemaak het. Ons
lees dit in vers 31: "dit het voor u gestaan en sy voorkoms
was vreeslik." Die beeld het van ‘n groot majesteit en
heerlikheid getuig. Die beeld het op ‘n besondere manier
geglans. Hierdie beeld was vir hom baie oorweldigend.

As Nebukadnesar bly kyk, sien hy dat die kop van hierdie beeld
van goud is, die bors en die arms van silwer, die maag en heupe
van brons, die bene van yster en die voete en tone van yster en
klei. Voordat ons nou gaan kyk na wat al hierdie onderdele van
hierdie beeld beteken, is dit nodig om na die geheel te kyk.

Hierdie beeld is ‘n eenheid. Ons moet by die uitleg van
hierdie droom ook hierdie eenheid eerbiedig. Die beeld wys op die
geskiedenis van die wêreld van Nebukadnesar tot Christus se
terugkeer.

Die geskiedenis van die wêreld is ‘n eenheid en word van
die mense se kant na die sondeval ook steeds weer deur ‘n
bepaalde gedagte gedryf. Dis die gedagte wat ons in die
geskiedenis van die heil juis in Babel sterk sien opkom. Dis nie
toevallig dat die HERE hier Babel as die hoof van die geskiedenis
van die mens teken nie. Die mens soek na die sondeval eenheid,
mag, om juis teen die HERE en Sy wil eie selfstandigheid te
bewys. Die mens wil in sy geskiedenis nie aan God onderworpe wees
nie, en wil bewys dat hy sy eie heilstaat, sy eie ewige lewe kan
bou. Die koninkryk van die mens kom so teenoor die Koninkryk van
God te staan. Die eenheidsbeweging en die eenheidstaat wat teen
God opstaan, sien ons die eerste keer in Genesis 11 as die mense
hulle op God se bevel nie oor die aarde wil versprei nie. As
straf daarop verwar die HERE hulle taal en so ontstaan meer tale.
Die stad waar dit gebeur word Babel genoem, wat verwarring
beteken. Die geskiedenis van die mens na die sondeval word deur
opstand teen die HERE gekenmerk. Steeds weer ontstaan groot ryke
wat nie in diens van God wil staan nie maar wat menslike
grootheid en mag soek.

As ons nou verder na die beeld kyk, moet ons daarop let dat
die HERE hier ‘n globale prentjie van die wêreldgeskiedenis
van Nebukadnesar tot en met Jesus se terugkeer gee. Dis nie die
HERE se bedoeling om hierin allerhande besonderhede in die
geskiedenis vir ons te wys nie. Daarom gaan ons in hierdie preek
nie ‘n lang bespreking gee oor sekere verskille wat die
verskillende ryke kan wees waarna verwys word nie. Selfs as
iemand daarvan ‘n enigsins ander uitleg het, is dit nog
duidelik dat die HERE se bedoeling is om te wys dat ‘n
opeenvolging van Ryke sal kom en dat eendag elke menslike ryk
deur die klip vernietig sal word.

Dit het vir Nebukadnesar goed geklink toe Daniël vertel dat
die goue kop van die beeld op Nebukadnesar en sy ryk wys. Hy, die
kop wat die meeste skitter en glans. Die verdere opbou van die
beeld is dat die bors en die arms van silwer is. Dis die Ryk wat
na die Babiloniese Ryk kom en dis die Medies-Persiese Ryk.
Sommiges onderskei nog tussen die Mediese en die Persiese Ryk en
dit beteken dan dat die Persiese Ryk die maag en en heupe van
brons is. Dan skuif alles een Ryk op. Hierdie uitleg is
onwaarskynlik omdat die Mediërs nie werklik ‘n groot
selfstandige Ryk gehad het wat die Babiloniese Ryk opgevolg het
nie. Dit was Kores die Pers wat Babel met hulp van die Mediërs
ingeneem het.

Na die Medies-Persiese Ryk verskyn die Griek Alexander die
Grote. Hy vorm die maag en heupe van brons. Hy steek met 30000
soldate en 5000 ruiters die see oor en ontmoet die
Persies-Mediese leër wat uit 600 000 soldate bestaan. Hy
verslaan in 333 voor Christus hierdie leër. Die dan 23 jarige
Alexander behaal hierdie oorwinnings deur sy strategiese kennis.
Deur sy skitterende oorwinning ontstaan ‘n groot Ryk.

Hierdie ryk het hom van Griekeland tot Egipte en Indië
uitgestrek. ‘n Ryk waaroor hy 13 jaar regeer, dan sterf hy
en val die Ryk in 4 dele uiteen.

Die Ryk wat daarna die grootste deel van die bekende wêreld
oorheers, is die Romeinse Ryk. Dis die bene van yster. Die
Romeinse Ryk sal hard soos yster wees, sê Daniël in vers 40.
Hierdie Ryk is sterk en hard. Hierdie Ryk bly dan ook honderde
jare bestaan en oefen ‘n groot mag uit.

As die Romeinse Ryk in die vyfde eeu na Christus heeltemal
verdwyn het, kom daarna nie meer ‘n Ryk wat so en solank die
grootste deel van die bekende wêreld oorheers nie. Daarna
ontstaan Ryke soos die Frankiese en die Turkse Ryk maar altyd is
die omvang kleiner en is in die Ryke onderlinge twiste waardeur
hulle uit mekaar val. Let ook daarop dat van hierdie tyd in vers
44 as van die tyd van konings in die meervoud gepraat word.
Steeds weer is daar verdeeldheid en val ryke uitmekaar. Dit is
ook waarop die voete en die tone van die beeld dui wat van yster
en klei is. Yster en klei is twee grondstowwe wat nie meng nie en
wat geen regte en vaste eenheid vorm nie. Die periode na die
Romeinse Ryk tot aan Christus se terugkeer word deur yster en
klei getipeer. Konings en regeerders sal in daardie tyd probeer
om groot ryke te stig. Hulle sal met hardheid probeer regeer om
dit reg te kry. Ons lees dit in vers 41. ‘n Ander manier
waarop hulle dit sal probeer, lees ons in vers 43. Hulle sal
probeer om deur vermenging lande en volke bymekaar te voeg. Ons
moet hierby aan ondertrouery tussen koningshuise en regeerders
dink.

Sowel die politiek van hardheid as die van ondertrouery sal
nie werklik tot een Ryk lei nie. Yster en klei bly nie heg nie.
Steeds weer breek die eenheid wat opgelê is stukkend. Ons sien
dit in ons tyd in Rusland, die vroëre Joegoslawië en in
verskillende lande in ons eie wêrelddeel gebeur. Dit sal die
wêreldpolitiek tot Christus se terugkeer tipeer. Hoe duidelik
word dit dat elke menslike mag en ryk nie die ewige lewe, nie die
heilstaat kan bring nie. Ons is vir die heilstaat afhanklik van
die ewige Koninkryk wat kom. Ons sien dit in die tweede punt.

Die oorwinning van Christus se Koninkryk

As Daniël vir Nebukadnesar sy droom en die opeenvolging van
die ryke vertel het, volg die deel van die droom waarin die klip
wat op ‘n berg lê losraak en ondertoe rol en dan in botsing
met die beeld kom.

Die besondere is dat die klip losbreek sonder dat ‘n mens
daarby betrokke is. Dis geen menslike handeling wat die oorsaak
van die losbreek van hierdie klip is nie. Die klip lyk in die
begin eintlik ook nie baie groot nie. Hierdie klip lyk in die
begin geensins na ‘n werklike bedreiging vir die beeld nie.
Dit lyk asof menslike magte teen hierdie klip staande kan bly.
Hoe anders is dit! As die klip met die beeld in botsing kom,
stoot dit die hele beeld om en blyk die klip so groot dat hy die
hele beeld selfs verpulwer. Niks van enige menslike mag en ryk
bly oor nie.

Hoe moet ons dit nou verstaan? Wat of nog beter wie is die
klip in Nebukadnesar se droom? Ons moet hier aan die Here Jesus
dink. Dit gaan hier om God se Seun wat in die wêreld kom, wat
mens word.

Hoe het die Verlosser in die wêreld gekom? Hoe is Hy verwek?
Sonder dat ‘n mens daarin ‘n hand gehad het. Dis die
HERE self wat die Here Jesus in die maagd Maria verwek het.
Sonder toedoen van mensehande het dit gebeur. Sonder toedoen van
mensehande word die Koning van die konings verwek. Hoe
onbetekenend lyk Hy as Hy gebore word. Sy pa en ma is maar
eenvoudige mense in Israel. Hoe klein lyk die klippie. Ook later
as die Here Jesus in die openbaar optree, lyk dit asof Hy geen
enkele gevaar vir menslike magte en heersers is of sal wees nie.
Sowel die Joodse raad as Herodes en Pilatus behandel vir Jesus as
‘n magtelose. Wat beteken hierdie klippie in die
wêreldgeskiedenis en wêreldpolitiek?! Aardse maghebbers laat
Hom bespot, gesel en selfs aan ‘n kruis spyker. Jesus lyk
soos niks meer as ‘n goeie maar magtelose mens nie. Die
Romeinse Ryk spot met Hom as hulle bo Sy kruis ‘n bordjie
ophang waarop geskryf staan: "HY IS DIE KONING VAN DIE
JODE" (Luk 23:38). Pilatus se bedoeling met hierdie teks is
om te wys hoe magteloos die Jode en ook Christus is.

Hoe het elke aardse mag hom misgis as hulle nie in hierdie
Christus se diens wil staan nie maar hulle teen Hom verhef, Hom
bespot, hulle heil en mag in hulleself soek. Die klein klippie
word juis na Sy sterwe groter. Sy lewe is regtig deur lyding tot
heerlikheid. Die dood wat elke menslike heerser eendag oorwin en
vir altyd die swye oplê, kan Jesus Christus nie vashou nie. Hy
staan uit die dood op. Hy vaar 40 dae daarna as ‘n magtige
koning na Sy troonsaal in die hemel op. Hy regeer vanuit die
hemel as die Koning van alle konings oor die hele geskiedenis.
Hoe groot het die klippie al geword.

Hy bly nie vir altyd die Koning wat mense en magte op aarde
nie kan sien nie. Hy laat dit nie vir ewig so bly dat dit nog so
kan lyk asof aardse magte die wêreld en sy geskiedenis regeer
nie. Hy laat dit nie vir altyd so wees dat dit lyk asof magte en
ryke wat Hom nie van harte aan sy voete val die mag op aarde in
hande het nie.

Die dag kom dat Hy sigbaar vir elke mens wat op hierdie aarde
gelewe het van die berg afrol en vir elkeen sigbaar tot ‘n
rots word. ‘n Rots wat so groot is dat dit die hele aarde
sal vul. Dit beteken dat as die Here Jesus as die Regter en
Koning van die hemel na die aarde kom, Sy Koninkryk, Sy
heerskappy die hele aarde, die hele skepping sal vervul. Dan kan
geen enkele teenstand en teenstander teen Hom staande bly nie. As
die groot oordeelsdag kom, sal elke menslike mag wat Christus nie
in dankbaarheid volg nie, totaal vernietig word. Die groot
Babilon waarvan ons in Openbaring 17 en18 lees sal dan val en sal
niks anders kan doen as kla en bang wees nie. Niks sal van
hierdie anti-christelike mag wat so magtig, so pragtig en
aanloklik gelyk het, oorbly nie. Want Christus se Koninkryk sal
die hele aarde vul. Elke sondige, onregverdige menslike mag sal
vir ewig van die aarde uitgeroei word. Niks bly daarvan oor nie.
Elke menslike mag sal dan soos kaf word wat die wind wegwaai. Die
mens is stof, ook die grootste menslike mag. Dit sal as hulle nie
van harte in Christus se diens gestaan het nie, tot stof
terugkeer. Dis Jesus Christus wat dit doen. Hy maak op die dag
van Sy terugkeer as die groot Koning vir elkeen sigbaar wat
Johannes die Doper van die Here Jesus in Lukas 3:17 gesê het:
"Sy skop is in Sy hand, en Hy sal Sy dorsvloer deur en deur
skoonmaak en Sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met
onuitblusbaar vuur verbrand."

Hierdie Koninkryk, wat God se eie Koninkryk is, is die ewige
Koninkryk. Dis die Koninkryk wat nooit kan vernietig word nie,
wat niemand, wat selfs nie alle menslike magte van die hele
menslike geskiedenis saam kan vernietig nie. Daniël mag dit vir
Nebukadnesar met hierdie woorde sê: "Maar in die dae van
die konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek
wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy
daarvan sal aan geen ander volke oorgelaat word nie." God se
kinders wat uit alle volke en tale kom, sal dan saam met Christus
as konings heers.

Hierdie Koninkryk bots by die wederkoms met alle menslike,
sondige mag en sal dit verpulwer. Hoe heerlik is hierdie
perspektief vir God se kinders! Hoe kan ons gepla word deur dit
wat ons as onreg en bedreiging belewe? Hoe kan ons gepla word
deur ons verwagtings van die toekoms? Hoe kan ons pessimisties
wees as ons na die wêreldpolitiek kyk? Hoe kan mense
pessimisties wees as hulle na politieke ontwikkelinge in ons eie
land kyk? As ons daarna kyk, moet juis ons as God se kinders, as
God se volk nooit moedeloos word nie. Want die wêreldpolitiek en
ook die politiek van ons eie land lê nie in die hande van mense
nie. Nie die menslike mag gee rus, stabiliteit en uitsig nie maar
Jesus Christus wat regeer en met Sy Ryk oorwin. As ons
pessimisties praat en net negatief is maar nie tot God bid en Hom
nie vra vir uitsig en egte vrede nie, staan ons as mense in die
wêreld wat in ongeloof lewe, wat op menslike mag vertrou. Bid
ons werklik vir ons land en ons regering? Is dit ‘n deel van
ons gebed wat altyd weer terugkom? Bid ons om Christus se koms
wat elke menslike mag sal beskaam, sien ons werklik na Sy
terugkeer uit of vertrou ons maar op menslike magte? As ons op
menslike magte bou, moet ons bedink dat ons dan met hierdie magte
op Christus se dag vir ewig verpulwer word en nooit in die egte
vrede sal leef nie. Hoe belangrik is dit om regtig ons lewe in
God se hande te lê. Ons sien dit in die derde punt

Nebukadnesar se reaksie daarop

Hoe reageer Nebukadnesar op die droom se uitlegging? Hoe
reageer hy daarop dat God vir hom aanwys dat hy en sy ryk nie
ewig is nie maar dat een dag Christus se Koninkryk, die Koninkryk
van Dawid se groot seun Jesus Christus alles en almal sal oorwin?

Dis duidelik dat Nebukadneser beindruk is. Hy besef dat
hierdie boodskap van God kom. Dit beteken nou nie dat
Nebukadnesar hom van sy heidense gedagtes bekeer nie. Die eerste
waaraan ‘n mens sien hoe heidens die koning nog dink, is dat
hy vir Daniël ‘n offer wil bring. Ons lees nie of dit
werklik gebeur het nie. Soos ons Daniël leer ken het, sal hy die
koning daarop gewys het om dit nie te doen nie en as hy wil
offer, om dan vir die HERE die offer te bring.

‘n Ander element waaraan ons kan sien dat Nebukadnesar by
sy erkenning van die God van die hemel nog heidens dink, is dat
hy God in vers 47 die God van die gode noem. Die HERE is vir hom
nie die enigste God nie maar op daardie oomblik die magtiste, die
Oppergod. Nebukadnesar is daarvan oortuig dat Daniël se God, dat
Juda se God die magtigste is, dat Hy die God is wat geheime vir
mense openbaar en daarom eer hy Hom sonder om die HERE as sy God
aan te neem en te volg.

Nebukadnesar bly ‘n heiden. Hy is ‘n magtige heiden.
God gebruik hom om sy volk vanweë hulle sondes te straf. Nogtans
het die droom vir ons gewys dat Israel en ook Dawid se huis nog
baie verdruk sal word maar al lyk dit dat Dawid se huis magteloos
geword het, die HERE daarvoor sal sorg dat die ewige Koninkryk
kom. Dit het in Christus, die groot nakomeling van Dawid, gekom
en Hy lê al die koninkryke en magte aan Sy voete.

Die HERE lei die geskiedenis so dat Daniël Nebukadnesar se
droom kan uitlê en dat hy, ‘n seun van om en by 15 jaar,
daardeur tot ‘n hoë posisie aan Nebukadnesar se hof verhef
word. Hy word die heerser oor die sentrale deel van die
Babiloniese ryk, die provinsie Babel. Hy word die hoof van al die
raadgewers aan die hof. Daniël word aan Nebukadnesar se hof, aan
die hof van die wêreldheerser een van die belangrikste en
invloedrykste persone. Daniël sorg daarvoor dat sy drie vriende
ook belangrike poste by die regering van die provinsie Babel kry.
Daniël bly aan die hof in Nebukadnesar se nabyheid, sy drie
vriende neem belangrike posisies by die daaglikse bestuur van die
provinsie in. Dis die manier waarop die HERE daarvoor sorg dat
die belang en beskerming van Sy volk, van die koms van die
Verlosser bewaak word. Hoe goed en wys is die HERE. Alles wat nou
gebeur het, sorg daarvoor dat die opleiding van hierdie vier
gelowige jong seuns kortgeknip word. Hulle opleiding is in God se
oë nou genoeg, hulle is nou genoeg toegerus om in diens van die
Babiloniese owerheid te staan en so in diens van Christus se
Koninkryk te staan.

Hoe heerlik sien ons hier weer God se sorg vir Sy volk en vir
ons verlossing. Laat ons dan ook regtig in alles, ook in die
wêreldpolitiek op Hom vertrou en Hom eer en ook ons plek
volstaan as ons tot verantwoordelikhede in die samelewing geroep
word en nie daarvan wegskram nie. Ook as ons daartoe geroep word
deur ‘n owerheid waarop ons ernstige kritiek het. Laat ons
ons volle verantwoordelikheid as Christus se onderdane neem om in
diens van Sy Koninkryk te werk.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)