Die Here maak 'n deel van die kerkjeug trou in Babel

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-29
Teks: 
Daniël 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 1:8-21

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 148:4,5; Lesing van die wet;
SB 34:1,3; Skriflesing: Spreuke 26: 12-26;

Gebed; Kollekte; Psalm 110:3,4,5,6; Teks: Dan 1:8-21; Preek;
Psalm 18:1,11; Dankgebed

Psalm 84:5,6; Seën

PREEK

Broers en susters, jongmense, gemeente van ons Here Jesus
Christus:

Ons het in die vorige preek gesien hoe ernstig en gevaarlik
die situasie vir God se kerk in Babel is. Nebukadnesar en agter
hom die duiwel probeer om deur die mees invloedryke jeug God se
volk te Babiloniseer, te verwêreldlik.

‘n Groot aanslag word daar in Babel op die verbondsjeug
gedoen. As die jongmense daar in eie krag en vanuit allerhande
menslike tradisies staande moes bly, sou hulle dit nooit kon
regkry nie. Dan sou hulle gebreek het, dan sou niemand koning
Nebukadnesar op die ou end bly weerstaan het nie. As ons vandag
die groot aanslag van die wêreld op ons en veral op julle
jongmense sien, kan niemand Christus se pad bly stap nie, sal
niemand van julle by die kerk bly behoort wat in alles die HERE
wil volg nie. As ons op ons eie krag en tradisies moet staatmaak,
is die toekoms van Christus se Kerk in Suid-Afrika ‘n kerk
wat oor 40 jaar nog net uit ou mense sal bestaan en wat dan
stadig maar seker sal uitsterf. Dan behaal die wêreld en die
duiwel die volledige oorwinning.

So gaan dit as ons op eie krag sou moet steun. Die HERE wys
ons in die vervolg van hoofstuk 1 dat dit nie nodig is nie. Dat
Hy Sy kerk, ook die kerkjeug, nie in eie krag laat voortploeter
nie. Die HERE Christus werk ook as die duiwel so ‘n groot
aanval op die jeug van Sy volk doen. Christus wil ook met julle
wees, jongmense. Ook dit mag ons vanoggend sien as ons Christus
se evangelie onder hierdie tema hoor:

DIE HERE MAAK ‘N DEEL VAN DIE KERKJEUG TROU IN BABEL

  1. deur God se werk in Daniël en sy vriende
  2. deur God se sorg vir Daniël en sy vriende
  3. deur God se bewaring van Daniël tot die eerste jaar
    van Kores

Deur God se werk in Daniël en sy vriende

Daniël is duidelik die woordvoerder en leier van die groep
van vier. Ons moet mooi daarop let dat dit net 4 seuns is
wat weerstand teen Nebukadnesar se Babiloniseringsproses bied.
Ons lees in vers 3 dat Aspenas nie net uit die stam van Juda
seuns moes kies wat opgelei kon word nie. Net 4 Judese seuns uit
‘n groter groep kerkjeug wil nie van die kos van die koning
se tafel eet nie.

Dis nie die hele verbondsjeug, die hele kerkjeug wat nee vir
die verwêreldliking en vir die deelname aan die verering van die
Babiloniese gode sê nie. Die meeste neem deel. Hulle sien nie
‘n werklike probleem nie. Hulle is nou in Babilonië, dis
selfs gevaarlik om teen die koning se voorskrifte te protesteer.
Hulle het deur hulle opleiding ‘n kans om ‘n goeie
posisie in die Babiloniese ryk te bekom; moet hulle nou hierdie
mooi toekoms vanweë die geloof op die spel sit? Is dit nou nodig
om vanweë sekere voorskrifte in die Bybel hulle loopbaan te laat
verongeluk? Die grootste deel van die kerkjeug is al so
verwêreldlik, hulle ouers was al so verwêreldlik dat hulle nie
meer slegs vir die HERE en sy diens wil lewe nie. Dat hulle nie
alles vir die diens aan Hom wil opoffer nie.

Dit is ‘n ding wat altyd weer ‘n groot gevaar en
verleiding vorm vir elke gelowige en verseker vir elke jong
gelowige. As jy in alle erns vir Christus wil lewe en jy is saam
met ‘n groep kerkjeug en die meeste wil ‘n ding doen of
‘n plek besoek waarvan jy weet dat dit in die Here se oë
nie reg is nie of dat ‘n mens daarby duidelike vrae kan vra,
kan dit so moeilik wees om vanuit die geloof te bly lewe op
hierdie punt. Veral as hulle met wie jy saam elke Sondag in die
kerk sit vir jou sê: Moenie so moeilik wees nie, hoekom is dit
nou so erg, ‘n mens mag tog wel ‘n bietjie ontspan. As
‘n mens nie doen wat die groep doen nie, kan dit ook maklik
gebeur dat jy buite die groep te staan kom. Hoe belangrik is dit
dat julle as jongmense vir wie die HERE gesê het: Ek het julle
afgesonder van die wêreld; Ek soek julle in My goedheid op en
wil vir julle sorg, Ek wil julle verlos uit ‘n lewe wat in
die duiwel se hand is; Ek, die Almagtige God, Ek wat meer liefde
het as enigeen, wil jou Vader wees -- hoe belangrik is dit nie
dat julle saam as groep in alles werklik die HERE Jesus Christus
in alles wil volg; wanneer sekere dinge vrae kan oproep of een
van julle op die verkeerde pad kan laat loop, saam te sê ons
neem nie hieraan deel nie.

Ons sien dat Daniël en saam met hom sy drie vriende ondanks
die ander deel van die kerkjeug en ondanks die groot druk van die
wêreld nogtans die HERE volg. Hoe is dit moontlik?

Ons moet mooi daarop let wat ons letterlik in vers 8 lees.
Letterlik staan daar: "En Daniël het in sy hart
voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning
of met die wyn wat hy gedrink het nie."

Daniël se weiering om daardie kos te eet en daardie wyn te
drink het niks met ‘n gewoonte of met menslike tradisies te
doen nie. Dis ‘n saak van sy hart. Die jong seun Daniël wat
14 jaar oud is, wil vanuit sy hart, vanuit egte liefde die HERE
volg. Hy het die HERE lief. Die HERE is vir hom alles. Sy hart
wat die Here liefhet, beheers sy lewe en die lewe van sy 3
vriende. Hoe belangrik is dit om jou hart steeds weer in liefde
vir die HERE te gee, om jou hart steeds weer teen verkeerde
invloede te bewaak. Die hart is die sentrale punt in ‘n mens
se lewe wat elke ding wat jy dink, voel en doen, stuur en
beheers. Ons lees dit o.a. in Spr 4:23: "Bewaak jou hart
meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die
oorspronge van die lewe."

Later roep die Spreukedigter wat regtig in God se weë wandel,
die volgende uit: "My seun, gee my jou hart, en laat jou oë
‘n welgevalle hê in my weë" (23:26). Agter hierdie
spreuk wat deur die Heilige Gees geinspireer is, staan Vader in
die hemel wat jou en my as Sy kind oproep om jou hart aan Hom te
gee.

Dis die HERE wat in die jong seuns van 14 jaar gewerk het. Hy
het hulle tot Hom getrek. As Hy trek, as die Heilige Gees beslag
op ‘n mens se hart lê, dan het Jesus Christus regtig die
belangrikste persoon in jou lewe geword. Dan is Hy vir jou die
Koning, dit wat Hy wil hê, is vir jou dan belangriker as al die
dinge wat mense wil hê. Jy wil dan nooit in stryd met Sy wil een
of ander mens, hoe belangrik, hoe magtig ook al, gehoorsaam nie.
Jy wil ‘n ander dan nie teen Christus se wil in behaag nie.

Hoe kan ‘n mens op hierdie manier lewe? Gebeur dit net as
die HERE op een of ander oomblik beslag op jou lewe lê en jy kan
niks daaraan doen nie? Kan ‘n mens van die jongmense van 14
tot 23 jaar sê: Ag hulle is ‘n bietjie wild, dis nou
eenmaal ‘n stadium wat hulle moet deurmaak en dit sal
vanself later weer regkom?

Hier sien ons die heerlike rykdom van die verbond. Hoe ‘n
voorreg is dit dat ons, dat ook julle jongmense deur God in Sy
verbond opgeneem is. Dit beteken dat die HERE vir jou gesê het
dat Hy jou Vader, jou Verlosser, wil wees en dat die Heilige Gees
in jou, in jou hart wil woon. Dit beteken dat as jy op jou knieë
gaan en vir die HERE in liefde vra dat Hy jou lewe in beslag
neem, die HERE dit dan vir jou sal gee. Dis nie so dat as jy
Christus nie met jou hart volg nie, dat jy dan kan sê dat dit
die HERE se skuld is dat Hy jou hart nie in beslag geneem het
nie. Vader nooi jou op grond van Sy belofte vir jou: My seun, my
dogter, gee My jou hart. Wie dit leer sien het, sal ook nooit sê
dat jongmense maar wild en onverskillig, slordig kan lewe want
dit sal later vanself weer reg kom nie. Onverskilligheid en
slordigheid teenoor die HERE is sonde. Sonde roep om die ewige
dood. Ook as jy 14 jaar is, sê die HERE vir jou: My seun, my
dogter, gee My jou hart. Laat Christus die koning van jou hart,
van jou lewe wees. Dan kan ‘n mens deur die Heilige Gees se
krag wat in jou hart woon, sterk staan.

Daniël, die 14 jarige seun, ontvang die krag en moed om teen
die groot maghebber Nebukadnesar en sy gode ‘n duidelike nee
te laat hoor. Hy eet nie van die koning se kos nie, al het die
koning daartoe bevel gegee. Hy sê ook nee vir die Babiloniese
gode. Want dis nie so dat op die tafel waarvan Daniël en sy
vriende moet eet, slegs kos staan wat hulle volgens God se wette
oor rein en onrein voedsel nie mag eet nie. Op hulle tafel
verskyn ook dinge wat hulle verseker mag eet of drink, soos wyn.
Nêrens verbied die HERE in gewone omstandighede die drink van
wyn nie. Ons moet daarop let dat dit bekend is dat in daardie tyd
die kos wat aan die Babiloniese hof op die konings se tafel gekom
het, aan die Babiloniese gode gewy was en dat die eet daarvan as
‘n offer aan daardie gode beskou is. Dit beteken dat elkeen
wat die kos van die koning se tafel eet daarmee wys dat hy die
Babiloniese gode vereer en nie net die HERE nie. ‘n Mens kan
dan verstaan dat Daniël en sy vriende regtig niks van die koning
se tafel se kos wou eet nie. Die HERE alleen wil hulle aanbid en
vereer en niemand anders nie.

Dis die manier waarop die HERE ‘n deel van die kerkjeug
bewaar. Dis die manier waarop Hy Sy volk vir volledige
Babilonisering bewaar. Dis die manier waarop die HERE deur die
werk van die Gees in Daniël en sy vriende die pad na Jesus
Christus in die geskiedenis oop hou. Die Satan kan nie daarvoor
sorg dat die Verlosser nie sal kom nie. Die HERE bly altyd trou
aan Sy belofte. Hy wys dit nou ook in die vervolg van die
geskiedenis. Ons sien dit in die tweede punt.

Deur God se sorg vir Daniël en sy vriende.

Daniël skep moed in die geloof. Hy gaan na die owerste van
die hofdienaars. Ons weet uit vers 3 dat dit Aspenas is. Hy vra
vir Aspenas of hy vir hom en sy vriende ‘n uitsondering wil
maak. Aspenas gee nie vir Daniël toestemming nie! Ons lees dit
in vers 10. Aspenas is te bang. Hy is bang vir koning
Nebukadnesar. Wat sal gebeur as die koning hoor dat hy die koning
se voorskrifte vir hierdie vier Judese seun verander het? Wat sal
die koning doen as hierdie Judese seuns nie so goed soos die
ander lyk nie, en hy vra vir Aspenas na die oorsaak daarvan?

Aspenas weet hoe streng dan teen hom opgetree kan word. Dit
sou verseker nie vreemd of ‘n uitsondering wees as die
koning hom dan dood sou laat slaan nie. Aspenas weier Daniel se
versoek.

As ‘n mens dit lees, wonder jy oor vers 9. Ons lees daar
voor Aspenas se weiering: "En God het aan Daniël guns en
barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars."

Hierdie guns en barmhartigheid beteken dus nie dat Aspenas
Daniël se versoek toestaan nie. Nogtans het die HERE op ‘n
besondere manier vir Daniël gesorg in sy ontmoeting met Aspenas.
Aspenas kon Daniël se versoek sommer as ‘n rewolusionêre
daad van hom en sy vriende opgeneem het. Dit sou in daardie tyd
geen vreemde ding gewees het nie. Ondanks Daniël se vraag bly
Aspenas vriendelik teenoor hom en straf hom nie. Die HERE sorg
daarvoor dat Daniël in die belang van God se volk en die
verlossing deur Christus aan die hof kan bly.

Daniël gee nie moed op nie. Die band met God laat hom volhou.
Die HERE werk die volharding van die geloof in hom. Hy waag dit
om na Aspenas se weiering vir die man wat in die besonder vir
Daniël, Hananja, Misael en Asarja moet sorg en verantwoordelik
is, te vra om vir 10 dae ‘n toets met hulle te doen.

Jy moet eers daarop let dat die Heilige Gees nie die
Babiloniese name begin gebruik nie maar hulle doopname bly
gebruik. Dit wys daarop dat die Gees sê: Ek sal daarvoor sorg
dat hierdie 4 nie gebabiloniseer word nie, dat hulle nie in die
hande van die wêreld val nie.

Dit lyk asof die kans baie skraal is dat hierdie kneg van
Aspenas sal instem om hierdie proefneming met die vier vriende te
doen. Hoe gevaarlik is dit vir hom as Aspenas of die koning dit
ontdek! Nogtans sien ons dat die HERE die Almagtige is. Hy sorg
daarvoor dat hierdie man bereid is om hierdie 4 gelowige seuns te
help.

Hoe duidelik sien ons in dit wat daarna gebeur die HERE se
sorg en seën. Ons sien hier gebeur wat ons in Spreuke 29:25
lees: "Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy
wat op die HERE vertrou, sal beskut word."

Hierdie 4 jong seuns moet, terwyl hulle groente en water kry
in plaas van die voedsel wat op die koning se tafel staan, hard
werk. Hulle opleiding gaan verder en dit beteken dat hulle moet
studeer. Hulle moet die boeke wat vol van die wetenskap van
daardie tyd staan, bestudeer. Die HERE sorg daarvoor dat hulle
dit regtig met groot aandag bestudeer. Hy werk so in hulle
verstand dat hulle die kennis wat in daardie boeke staan tot
hulle neem. Dat hulle dit regtig verstaan en dit deur en deur
ken.

Ons het in die vorige preek al gesien dat hierdie Babiloniese
wetenskap en geskrifte vol van verkeerde sieninge en
veronderstellings was. Die HERE hou hierdie jong seuns nie daarby
weg nie, maar sorg daarvoor dat hulle dit ken. Dis die manier
waarop die HERE hierdie jong seuns oplei om later belangrike mans
te kan wees wat God se volk in die wêreld kan lei. Hulle moet
die wysheid van die wêreld ken om dit regtig te kan weerlê. As
daar in vers 17 gesê is dat die HERE daarvoor gesorg het dat
hierdie 4 vanuit die geskrifte die Babiloniese wetenskap leer ken
het, lees ons dat die HERE hulle wysheid gegee het. Dis God se
wysheid, die wysheid van die geloof. Daniël en sy vriende leer
om vanuit die Gees se wysheid die wysheid van die wêreld te
beoordeel. Sien ook 1 Kor 1:17-31.

Die HERE sorg daarvoor dat hulle die wysheid van die wêreld
ken om dit te deurdink en vanuit die HERE se Woord en wysheid te
beoordeel en te kan onderskei. Ons lewe vandag ook in die
wêreld. Hoe noodlottig en sondig sou dit wees as ons, as julle
jongmense nie die wysheid van die wêreld sou leer ken nie. As
julle studeer, is dit nodig dat julle ook regtig grondig die
teorieë en veronderstellinge ken wat op jou vakgebied belangrik
is en aanvaar word. Jy moet dit regtig grondig ken om dit dan
vanuit God se Woord en wysheid te kan toets. As julle dit doen,
kan julle ander mense help, dan kan julle werklik grondig die
wysheid van wêreld weerlê waar dit met die HERE se Woord in
stryd is. Dan kan julle God se volk op julle vakgebiede goeie
leiding gee. Daar waar gereformeerde onderwys moontlik is, is
juis dit ons roeping. Gereformeerde onderwys mag nooit net
‘n skool van gereformeerde ouers wees waar trou uit die
Bybel vertel word nie, waar onderwys gegee word sonder dat die
leerlinge ook grondig met die wysheid van die wêreld in
aanraking kom en vir hulle geleer word hoe om dit te beoordeel
nie. Ook moet daar geleer word hoe ‘n mens vanuit God se
wysheid positief moet dink en wetenskap moet ontwikkel. Ons moet
mekaar help om iemand wat die talent daarvoor het, as egte
christelike wetenskapper op te lei om egte christelike wetenskap
te kan ontwikkel. So werk ons tot eer van Christus en daarmee tot
heil van God se volk en selfs van die hele wêreld.

Die HERE is goed vir die 4 jong seuns wat hard studeer en in
alles Hom wil gehoorsaam. Die HERE gee Sy seën vir hierdie 4
gehoorsame seuns. Ons sien Sy sorg en seën vir hulle nog in
hierdie sake:

  1. Na die 10 dae van die proefneming, lyk hierdie 4 seuns
    baie goed. Selfs beter as al die seuns wat van die koning
    se tafel geëet het. (15)
  2. Hy gee vir hierdie seuns, soos ons al gesien het,
    wetenskap, verstand en wysheid. Hy gee vir Daniël nog
    iets ekstra. Daniël ontvang van die HERE die gawe om
    allerhande gesigte en drome te kan uitlê. Hy ontvang
    deur God se openbaringe aan hom profetiese gawes. Ons sal
    hierop nog uitgebreid terugkom as ons ander dele van die
    boek Daniël behandel.
  3. Die HERE sorg daarvoor as hulle voor koning Nebukadnesar
    moet verskyn, dat hulle die kennis wat hulle het ook vir
    hom kan wys. Hulle is deur God se Gees vrymoedig en kan
    die kennis wat hulle het ook voordra. Dis duidelik dat
    die HERE daarvoor sorg dat Sy kinders op die regte tyd
    dit kan sê wat nodig is. Dit wat nodig is vir die
    voortgang van Sy koninkryk.
  4. Dis vir die voortgang van God se Koninkryk, vir die
    bewaring van Sy volk nodig dat hierdie 4 vriende hoë
    posisies in die Babiloniese Ryk gaan inneem. As
    Nebukadnesar vir hulle allerhande vrae vra, is dit
    duidelik dat hierdie vier in kennis en insig en wysheid
    ver bo al die ander geleerdes uitstyg. Bo die geleerdes
    wat op afgode vertrou, wat ook vertrou op allerhande
    beswerings en op die wysheid wat hulle by die sterre
    soek. God se wysheid is die egte wysheid. Dit word selfs
    duidelik aan die hof van ‘n totaal heidense koning.
    Hulle wysheid is soveel groter dat dit alle mense opval.
    Tien keer soveel beteken dat hulle wysheid die ander se
    kennis en wysheid baie ver oortref.

Die HERE het op ‘n wonderlike manier vir Daniël en sy
vriende gesorg en so in sy genadige trou vir sy volk en ook vir
ons vandag gesorg. Hy het die pad na die koms van Jesus Christus
oopgehou om so daarvoor te sorg dat ook jy en ek in Sy verlossing
mag deel. Die bewaring van ‘n deel van die kerkjeug lei na
70 jaar selfs tot die terugkeer van ‘n deel van die volk na
Israel. Die HERE gebruik daarvoor ook Daniël. Ons let daarop in
die derde plek

Deur God se bewaring van Daniël tot die eerste jaar van
Kores.

Die HERE bewaar die jeug van die kerk en daarmee die toekoms
van die kerk nie vir ‘n kort rukkie nie. Die HERE is die
ewige Koning wat steeds van die begin tot die dag van Jesus se
terugkeer Sy volk bewaar. Dis Jesus Christus wat die skuld van
God se volk, hul sondes gedra het, wat deur die hele geskiedenis
daarvoor sorg dat daar kerkjeug is en sal wees.

Daniël wat as seun van 14 jaar aan Babel se hof gekom het,
bly sy lewe lank ‘n belangrike figuur aan die hof. Konings
verdwyn maar die HERE sorg daarvoor dat Daniël bly. Die
Babiloniese Ryk gaan selfs onder en word deur die Perse onder
leiding van Kores verower. Selfs dan sorg die HERE daarvoor dat
Daniël ‘n belangrike posisie aan die hof bly inneem.
Daniël het die begin van die ballingskap self meegemaak. Hy is
dit wat nog lewe, nog aktief aan die hof is in die eerste jaar
dat Kores ook koning van Babel is. Die hele sewentig jaar van die
ballingskap sorg die HERE daarvoor dat Daniël sy invloed in die
voordeel van God se volk, van die kerk kan uitoefen.

Daniël mag nog sien en hoor dat koning Kores die maatreëls
neem waardeur God se volk na Israel mag terugkeer. Hy mag die
vervulling van God se belofte sien en hoor, dat na 70 jaar die
ballingskap verby sal wees. Hy mog sy bydrae lewer tot behoud van
die kerk, dat ‘n deel van God se volk nie gebabiloniseer is
en die geloofsmoed gehad het om na Jerusalem terug te keer om
daar die tempel te herbou. Om so daarvoor te sorg dat Jesus
Christus sal kom, wat die ewige Koning is wat Sy kerk bewaar, wat
daarvoor sorg dat tot die dag van Sy terugkeer ook jong seuns en
dogters vol oortuiging Sy soldate wil wees. Wat hulle krag en
entoesiasme vir Hom wil inspan.

Broers en susters, laat ons regtig soldate van Jesus Christus
wees. Jongmense, staan julle plek in hierdie wêreld as soldaat
en volgeling van Koning Christus vol. Daar is geen rede tot
moedeloosheid nie, maar alle rede tot moed! Sy krag is
onoorwinlik!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)