Babilonisering bedreig God se volk

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-29
Teks: 
Daniël 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 1:1-7

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 71: 3,4; Lesing van die wet;
Psalm 111: 3,5; Skriflesing: 2 Konings 24: 1-9;

Joh 17:9-21; Gebed; Kollekte; Psalm 87; Teks: Daniël 1:1-7;
Preek; Psalm 119:4,5; Dankgebed;

Psalm 16:1,4; Seën

PREEK

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus:

Koning Nebukadnesar het besef hoe belangrik dit is dat hy die
jeug vir hom en vir Babel sou wen. Hoe belangrik dit vir die
toekoms is dat die jeug van die volke wat hy oorwin het, Babel se
kultuur en gewoontes sou aanneem. Dat dit juis die volke wat hy
oorwin en later in ballingskap weggevoer het, soos regte
Babiloniërs sou laat begin voel.

Babilonisering via die jeug is Nebukanesar se program. Die
jongmense wat deel van God se volk is, die kerkjeug, kan hulle in
daardie tyd nie terugtrek nie. Hulle lewe nie in afsondering nie.
Hulle lewe nie op ‘n eiland nie. Die wêreld, die
Babiloniese kultuur kom met krag, met groot krag van verleiding
tot hulle.

As ons dit nou met ons eie situasie vergelyk, sien ons
ooreenkomste. Ons en veral ons jeug lewe in ‘n samelewing
waarin lewe met die HERE, waarin die aanvaarding van die Bybel as
die HERE se onfeilbare Woord, al hoe moeiliker geword het. Julle
jongmense groei in ‘n samelewing op waar lewe in liefde en
gehoorsaamheid baie minder gewoon is as vroeër. Die openlike
aanvalle op die HERE en die Bybel is baie sterker as 20, 30, 40
jaar gelede. Ons lewe in ‘n samelewing waarin dit geen
uitsondering meer is dat die Bybel op allerhande punte
bekritiseer word en verseker nie meer die uitgangspunt vir elke
ding in die lewe is nie. Ons hoor en sien dit in die kontakte met
mense rondom ons.

Julle jongmense sien en merk dit as julle in die hoërskool,
by die Technikon of Universiteit studeer. Hoe moeilik kan dit
wees om dan raak te sien wat nie reg is nie en om regtig in alles
die HERE te bly volg. Die Here Jesus het geweet dat Sy volgelinge
in ‘n omgewing sal lewe waarin gehoorsaamheid aan Hom vir
baie mense ‘n vreemde ding is. Die Here Jesus het nie gebid
dat ons op ‘n Christelike of gereformeerde eiland sou
opgroei en lewe nie. Sy gebed vir Sy kerk was die volgende:
"Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar
dat U hulle van die Bose bewaar" (Joh 17:15). Jesus se gebed
beteken dat Hy ons geen krag gee om ons terug te trek nie maar
dat God se krag vir ons gereed lê om in die wêreld
Christus se getuies te wees en te bly. Hoe sterk die aandrang ook
is om ons by die wêreld aan te pas, by God is altyd genoeg krag
om werklik as God se kind te bly leef. Julle jongmense mag altyd
goeie moed hê, as julle op Christus let. Ons sal dit o.a. sien
as ons die evangelie vanuit Dan 1:1-8 hoor.

Ek verkondig Jesus Christus se goeie boodskap vir julle onder
die tema:

BABILONISERING BEDREIG GOD SE VOLK

  1. Die HERE laat Babel oor Jerusalem heers (1,2)
  2. Babel doen ‘n groot aanslag op die kerk se jeug
    (3-8)

Die HERE laat Babel oor Jerusalem heers.

Wat is die historiese agtergrond van die boek Daniël?. Hoe
het dit nou sover gekom dat kon gebeur wat ons in vers 1 lees?

Die laaste gelowige koning van Juda was koning Josia. Toe hy
geregeer het, was die 10 stamme al in ballingskap weggevoer.
Koning Josia het met groot ywer die HERE gedien en allerhande
afgodediens onder God se volk bestry en vernietig. Hy het in 609
voor Christus gesterf. Dit het gebeur toe hy met sy leër teen
Farao Nego van Egipte geveg het. Sy seun Joahas volg sy pa op,
maar nie vir lank nie want na drie maande is dit Farao Nego wat
Joahas as koning afsit. Farao Nego is die maghebber, die koning
van Juda moet hom gehoorsaam, in sy diens staan. Farao Nego stel
in 608 Joahas se broer Eljakim as koning aan. Die Farao wys sy
mag deur Eljakim se naam in Jojakim te verander. Daarmee sê
Farao Nego: jy mag hier regeer maar hou in gedagte dat ek die
baas is. Egipte was in daardie tyd dus die magtigste land in Juda
se omgewing. Dit verander 3 jaar later. Want wat gebeur? By
Karkemis ontmoet die Egiptiese en die Babiloniese leër mekaar.
Farao Nego en Nebukadnesar staan daar teenoor mekaar. Die Farao
en Egipte ly daar ‘n verpletterende neerlaag. Egipte kan sy
eie selfstandigheid nog behou maar moet verder alles in Babel se
mag laat. Jojakim het vanaf daardie oomblik Nebukadnesar se
vasaal geword. Die boek Daniël begin op die oomblik dat
Nebukadnesar na sy oorwinning by Karkemis vir ander vorste en
lande duidelik maak dat hy nou die groot maghebber is. Daarom
verskyn hy in 605 ook voor Jerusalem se poorte. Hy beleër
Jerusalem. Jojakim besef dat hy Nebukadnesar as sy baas moet
erken. Hy laat Nebukadnesar binne en daardeur mag hy koning bly
solank hy hom as sy meerdere erken en belasting aan Nebukadnesar
betaal.

Dit lyk daarop dat God se stad teen Babel verloor het. Dit lyk
asof die wêreld die kerk oorwin het. Dit lyk asof die situasie
uitsigloos geword het. Ons moet nie te vinnig hierdie
gevolgtrekking maak nie. Die agtergrond van hierdie situasie word
ons in vers 2 vertel. Ons lees daar dat dit juis die HERE is wat
agter al hierdie gebeurtenisse staan. Hy het so geregeer dat
Nebukadnesar vir Jerusalem kon inneem. Sonder God se hand, sonder
dat Hy dit so gelei het, kon dit nooit gebeur nie. Die HERE is
hier nie die magtelose wat staan en kyk hoe Sy volk, Sy stad, Sy
tempel in hande van die heidene val nie. Hy is juis die Almagtige
wat daarvoor gesorg het dat Sy volk, Sy tempel, Sy stad in Babel
se hande val. Die HERE wys hier juis die trou aan Sy verbond.

Hy het gesê dat as Sy volk ontrou aan Hom word en bly,
vreemde konings oor hulle sal heers en as hulle dan nog nie na
Hom terugkeer nie, ballingskap sal volg (Lev 26:25-35).

Nebukadnesar het Jojakim in sy mag. Hy bewys dat hy die
maghebber is deur ‘n gedeelte van die voorwerpe wat in die
tempel is te neem en na Babel saam te vat. Hy laat hierdie
voorwerpe na die tempel van een van die Babiloniese gode bring.
Dit sou vir Nebukadnesar die oortuiging gegee het dat sy god,
dalk Mardoek of Bel, Juda se God Jahwe oorwin het. So het die
heidene in daardie tyd gedink. Nebukadnesar sien nou nog nie dat
dit die HERE is wat hom mag oor Jojakim, oor Dawid se huis en oor
God se volk gegee het nie.

Dis weer die HERE wat dit so bestier. Hy sorg op hierdie
manier daarvoor dat die voorwerpe uit die tempel op ‘n goeie
en veilige plek bewaar word om later weer in die nuwe tempel
gebruik te kan word. As Juda in ballingskap gegaan het en later
weer terugkeer, lees ons in Esra 1:7: "En koning Kores het
die voorwerpe van die huis van die HERE uitgelewer wat
Nebukadnesar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god
gesit het." Die HERE voorsien ook as dit lyk dat Hy die
magtelose is.

Die HERE straf Sy volk. Dit wat ons in vers 1 en 2 lees is die
teken dat die ballingskap gou vir amper die hele volk ‘n
werklikheid sal wees. Die HERE straf Sy volk sonder dat dit
beteken dat die hele volk onder sal gaan. Dit wil nie sê dat
daar nou nie groot gevaar vir God se volk dreig nie. Die duiwel
wil van hierdie situasie gebruik maak. Hy sal probeer om hierdie
situasie so uit te buit dat die hele volk ondergaan, dat die
Christus nie meer uit Dawid se huis gebore kan word nie. Die
Satan sal probeer om die hele verlossing in en deur die
ballingskap te laat verongeluk.

Ons lees in vers 2 een aanduiding waarin die Heilige Gees
daarop wys dat in Babel ‘n groot stryd, ‘n hewige
geestelike stryd gestry moet word. Ons lees daar ‘n
opvallende naam vir Babel. Babel word daar die land Sinear
genoem.

Sinear is die gedeelte van die wêreld waar die mensheid gaan
woon het toe hulle nog een taal gepraat het. Die mensheid het
daar sy opstand teen God gewys deur ‘n toring te bou wat tot
aan die hemel moes reik. Die mens wou wys dat hy magtiger as God
is. Die naam Sinear is in die Bybel die naam wat wys na ‘n
omgewing waar die opstand teen die HERE sterk is en ‘n groot
bedreiging vorm. Gen 11:2; Sag 5:5-11! vgl Openb 17 veral vs 5.

Ons lees in Sag 5 dat juis die goddeloosheid na Sinear gebring
en losgelaat word. Die stad wat in Sinear gebou word en die
simbool van die teenstand teen die HERE is, kry die naam Babel.
Die stryd tussen Jerusalem en Babel, tussen die diens aan die
HERE of die opstand teen Hom sal in Babel in alle hewigheid
losbars. Ons sien daarvan al iets in die tweede punt, in die vers
3-8.

Babel doen ‘n groot aanslag op die kerk se jeug

Nebukadnesar het in 605 nie alleen voorwerpe uit die tempel
saamgeneem nie. Hy het ook ‘n deel van die kinders van die
mees vooraanstaandes na Babel laat bring. Dis nie net seuns uit
die stam van Juda nie maar ook uit die ander stamme. Die 10
stamme was toe al in ballingskap maar nogtans het nog ‘n
klein deel van die 10 stamme in Israel of Juda gebly. Sien 2 Kron
30:1 e.v; 34:9. Sowel seuns uit die huis van Dawid as seuns van
die vooraanstaandes onder God se volk word na Babel gebring. Een
van die belangrikste persone aan Nebukadnesar se hof, Aspenas,
moet daarvoor sorg. Aspenas kry ook aanwysings watter seuns hy
moet uitkies. Nie elke seun van die vooraanstaandes kom in
aanmerking nie. As ‘n mens na vers 4 kyk, gaan dit nie
daarom om aan elke eienskap wat daar genoem word apart aandag te
gee nie. Die bedoeling daarvan is dat Aspenas daardie seuns uit
Israel moet laat kom wat sowel liggaamlik as verstandelik
uitstaan. Dit gaan om die seuns uit die vooraanstaande families
wat die sterkstes en die slimstes is. Dit moet ook seuns wees wat
van ‘n verantwoordelikheidsbesef blyk gee want hulle moet in
die paleis van die koning kan dien. Hulle moet later
verantwoordelike poste in Nebukadnesar se diens kan inneem.

Nebukadnesar besef hoe belangrik dit vir sy ryk is om juis die
mees invloedryke jongmense hulle eie kultuur, godsdiens en taal
al hoe meer te laat vergeet. Hy wil daarom alles moontlik doen om
hulle regtig te Babiloniseer, dat hulle soos Babiloniërs begin
voel en so later hulle volk daarin kan en sal lei. Dit gaan hier
om jong seuns. Seuns wat nog op ‘n leeftyd is dat hulle vir
baie invloede oopstaan. Ons moet hier aan seuns van omtrent 14
jaar dink. Dis bekend dat aan die Assiriese en Babiloniese hof
seuns van 14 jaar met hulle opleiding begin het. Hulle moes dan
‘n driejarige opleiding volg. Dit kom heeltemal ooreen met
wat ons in ons teks lees. Ons lees in vers 5 ook van ‘n
driejarige opleiding wat hulle moes kry "om aan die einde
daarvan voor die koning te kan dien".

Hierdie poging om die mees invloedryke jongmense onder God se
volk te babiloniseer, was ‘n geweldige wapen in Satan se
hand. As hy dit kon regkry en as onder leiding van hierdie
jongmense later die hele volk soos Babiloniërs sou voel en die
Babiloniese gode sou dien, sou God se volk nie meer bestaan nie.
Sou God hulle volledig verwerp en die Verlosser nie meer kom nie.
Dis die stryd waarom dit hier gaan. Dis die stryd wat agter die
sigbare front gestry word.

Hoe sterk word die kerk, die verbondsjeug hier op die proef
gestel. Nebukadnesar gebruik 3 middele om sy doel te bereik:

  1. Onderwys
  2. Voedsel
  3. Ander name.

1. Die onderwys is daarop gerig dat hierdie jongmense die
wetenskap en godsdiens van Babel leer in plaas van die vrees vir
die HERE se naam. In plaas van die wysheid wat die HERE in Sy
Woord wys. Hulle moet Babel se godsdiens leer en kennis van
allerhande okkulte praktyke leer. Hulle moet leer wat die sterre
vir hulle sê. Die onderwys wat hulle daar ontvang, stry in baie
opsigte met wat die HERE vir Sy kinders wil inprent.

Hierdie seuns staan aan groot verleiding bloot. Wat is die
wysheid wat hulle in hulle hart toelaat? Hoe toets hulle dit wat
hulle daar in Babel leer? Hoe maak hulle onderskeid tussen dit
wat egte wysheid is en dit wat dit nie is nie?

Julle seuns en dogters wat in die hoërskool, by die Technikon
of die Universiteit studeer, kom al hoe meer met hierdie selfde
probleem in aanraking. Hoe moeilik is dit somtyds vir julle om te
kan onderskei of ‘n ding wat julle as wetenskap, as wysheid
leer regtig goed is! Ek ken van julle wat sê: Ek leer dit omdat
dit nodig is en ek sal dit later by my werk toepas maar ek weet
nie of dit nou eintlik die toets van God se Woord kan deurstaan
nie. Hoe belangrik is dit in ‘n samelewing waar geen
Universiteit of Technikon is wat alles aan God se Woord toets
nie, om saam met ander manne of vroue wat God se Woord en die
wetenskap van die wêreld ken, dit te toets en so aan waarlik
Christelike wetenskap te werk. Hoe nodig en belangrik is deesdae
vir julle seuns en dogter wat by tersiëre opleidings studeer en
met hierdie dinge in aanraking kom om ‘n waarlik
gereformeerde studentevereniging te hê waar hard gewerk word.

Die duiwel lag as ons die gevare van beïnvloeding deur valse
wetenskap nie raak sien nie. Hy wil juis julle wat nog jonk is en
studeer op ‘n pad stuur waar dit vir julle al hoe moeiliker
word om te kan onderskei wat in die wetenskap reg en verkeerd is.
Hy is dit wat steeds weer sal uitroep: wetenskap en geloof het
nie met mekaar te doen nie. Die Bybel is vir jou geloofslewe maar
het niks met jou studierigting te doen nie. So probeer hy ons
swak maak en die egte wetenskap te kelder.

Ons moet ook by ons studie en by die wetenskap steeds weer
leer wat ons in Spreuke 1:7 lees: "Die vrees van die HERE is
die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug."
Vgl Ps 111:10.

2. Die tweede wapen wat Nebukadnesar gebruik om die Joodse
seuns te babiloniseer, is dat hulle kos van sy tafel kry. Hulle
kry dieselfde kos as wat die koning eet. Die beste, die duurste
en die lekkerste. Hoe bederf die koning hierdie seuns! Hoe
aantreklik is dit om dit te mag eet. ‘n Mens sou tog baie
dom wees om dit te weier! As ‘n mens die lekkerste in die
lewe aangebied kry en dit sommer gratis en vir niks kan geniet,
wie sou dan nie eet en geniet nie. Al hierdie aantreklikheid is
van gif deurtrek. Die gif is dat baie van die dinge wat op die
koning se tafel staan vir God se volk onrein is. Allerhande
voedsel wat hulle op hulle bord kry mag hulle volgens die HERE se
wet in die Ou Testament nie eet nie. As die Joodse seuns hiervan
eet, gaan hulle op die pad van die wêreld, op die pad waarop die
kerk al hoe meer aan die wêreld gelykvormig word.

Dis ‘n gevaar wat ons ook op allerhande terreine van die
lewe bedreig. Ons mag vandag alle voedsel eet. Ons ken nie meer
onreine voedsel nie. Dis die HERE self wat na die Pinksterdag die
wette vir die voedsel wat rein of onrein is, opgehef het. Hy het
dit vir Petrus gewys toe hy in Joppe op die dak van Simon die
leerlooier se huis gelê het. Hand 10.

Voedsel kan vir ons nie meer onrein wees nie; nogtans is dit
die wêreld wat jou en my, en ook verseker julle jongmense dinge
wys en aanbied wat so aantreklik en lekker lyk maar waarvan die
HERE sê dat dit sondig is om te doen of te geniet. ‘n Mens
kan iewers beland, ‘n mens kan vanweë sy werk êrens
beland,‘n mens kan saam met medestudente of skoolmaats in
omstandighede beland dat dit so aantreklik is om aan dinge deel
te neem waarvan jy weet dat die HERE dit nie wil hê nie. Hoe
groot kan die portuurdruk dan wees.

Het ons dan geleer en staan ons daarvoor, deur die krag van
Christus se Gees, om dit dan ter wille van die Koninkryk, ter
wille van Christus nie te doen nie?! Lewe jy en ek dan so dat jy
Christus, die enigste Verlosser, bly wil maak? Is die verwyte en
opmerkings van ons skoolmaats en vriende vir ons dan van meer
waarde as om Christus as jou Verlosser en Koning te volg? Of lewe
ons vanuit die liefde vir Christus wat selfs vir jou aan die
kruis wou hang? Is Hy, is Sy liefde vir ons meer werd as die
vriendskap en mooi woorde van mense? Die krag van die geloof wat
die HERE in jou en my wil werk, is groot. So groot dat ons
daarvan in Hebr 11:25,26 lees: "omdat Moses verkies het om
liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om
‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van
Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy
het uitgesien na die beloning."

Hierdie verleiding om ‘n wêreldse lewe te lei, is groot.
Hoe ons hierdie verleiding kan en moet weerstaan, sal in die
volgende preek meer aandag kry. Die laaste waar ons sien dat
Nebukadnesar met ‘n indoktrinasieproses besig is, sien ons
in die name wat hy vir die 4 Israelitiese seuns gee.

3. Vier van die jong seuns uit Israel wat vir die opleiding
aan die Babiloniese hof uitgekies is, se name word genoem. Dit is
Daniël, Hananja, Misaël en Asarja. Die name wat hulle dra,
getuig almal van God se werk. Aspenas gee hierdie seuns in naam
van die koning ander name. Hierdie seuns moet die verlede
vergeet. Hulle moet ook die God van hulle vaders en hulle jeug
vergeet. Hulle moet besef dat hulle nou onder Babel se gesag en
onder Babel se gode se gesag staan. Die HERE is nie meer hulle
God nie maar die gode van Babel. Ons sien dit duidelik in die
name wat hulle kry. Laat ons daarna kyk:

Daniël: My regter is God word: Beltsassar: Bel beskerm
die koning se lewe

Hananja: Die HERE is genadig word: Sadrag: Dienaar van
Mardoek

Misaël: Wie is dit wat God is! word: Mesag: Wie is
Agu?

Asarja: Die HERE is die Helper word: Abednego: Dienaar
van Nebo

Bel, Mardoek, Agu en Nebo is al vier name van Babiloniese
gode.

Nebukadnesar tel hierdie Israelitiese seuns as by Babel
ingelyf pleks dat hulle by die HERE en Sy volk behoort. Altyd
weer sal die duiwel in die stryd teen Christus en Sy kerk die
wapen gebruik om mense daartoe op te roep om met die HERE as die
God van hulle voorgeslag te breek. Die diens aan die HERE, die
lewe volgens Christus se Woord is maar outyds. Dit pas nie meer
by die moderne wêreld en lewensbeskouing nie. Dit pas nie meer
by die moderne samelewing nie. ‘n Mens wat vandag iets wil
bereik en beteken, moet met die outydse geloof breek en hom by
die moderne samelewing laat reken.

Dis die verleiding wat in ons verse op seuns van 14 jaar in
‘n vreemde land en omgewing op hulle afkom. As hulle nie
doen wat vir hulle gesê word nie, kan dit vir hulle groot
nadelige gevolge hê. As ons nie met die stroom van die tyd
saamgaan nie, kan dit ons baie simpatie, baie geld en welvaart
kos.

Christus weet dit. Hy het vir elkeen juis as hierdie dinge so
sterk op jou afkom, tot Vader in die hemel gebid: "Ek bid
nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van
die Bose bewaar." (Joh 17:15) As hierdie dinge jou lewe
bestook, as jy voel hoe die duiwel jou probeer Babiloniseer,
probeer om jou te laat verwêreldlik, jou probeer vervreem van
die diens aan Christus alleen, is die gebed so ‘n belangrike
wapen in ons hande! Bid dan, smeek die HERE om Sy beskerming en
wysheid in hierdie wêreld. Die HERE gee dit dan vir jou omdat
Christus wat alles vir die gelowiges verdien het, dit
gebid het. Christus gee deur Sy krag dan die krag om in die
wêreld regtig gelowig, vroom te lewe.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)