Die naam Jesus wat letterlik beteken: die Here verlos

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

Sondag 11

Ds C Kleyn - Sondag 23
Mei 1999

Lees: Mattheüs 1:18-25; Handelinge
4:1-12; Sondag 11
Sing: Ps 56:1.4; Ps 130:2,4 (na
belydenis); Ps 107:1,10 (na kollekte); Ps 118:7,12; Ps 118:13,14.

Tema: Die naam Jesus
wat letterlik beteken: die Here verlos
.

  1. Jesus is die egte Verlosser
  2. Jesus is die enigste Verlosser
  3. Jesus is die volkome Verlosser

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat beteken vir u die naam Jesus? Wat sê die
naam vir u in die praktyk van u lewe? Jesus beteken soveel as
Verlosser. Maar wat beteken dit vir my? En wat beteken Hy vir
ander mense? Daar is baie mense wat nie in Jesus glo nie. Ook
baie wat nog nooit werklik van Hom gehoor het nie. Die evangelie
van verlossing in die Here Jesus het immers nie almal bereik nie.
Gaan al die mense wat nie in Jesus glo vir ewig verlore? Dit is
’n vraag wat verlede jaar in die dagbladpers ’n
lewendige bespreking gekry het. Die bespreking het begin met die
stelling van ’n bekende NG teoloog dat heidene, wat nie in
Christus glo nie, ook salig kan word.

Die teoloog redeneer soos volg: die aanhangers
van ander godsdienste is sowat 66% van die mensdom. As jy die
Christene bytel wat nie toegewyd is nie, praat ons van ten minste
90%. Kan ons aanvaar dat die God van liefde so ’n breë
stroom mense in die hel laat stort? Word volgens die Bybel God
nie in die besonder deur mensliewendheid gekenmerk nie. Dan kan
dit tog nie wees dat Hy soveel mense ewig verlore laat gaan nie?
Volgens hierdie teoloog kan ons nie anders as om te glo dat daar
buiten Christus om ’n misterie van genade oorbly waardeur
die heidene gered kan word. Om vol te hou dat sulke heidene of
Moslems wel verlore gaan sou verraai dat ’n kerk hoogmoedig,
dominerend, hardvogtig of selfs fanaties is.

Met betrekking tot die Moslems stel die teoloog
die retoriese vraag: Hoe menslik is dit om ’n streep te trek
deur die hele ryk erfenis van die Islam en hulle op te roep om
dit alles te los en net soos ons te word? Daaraan voeg hy dan die
woorde toe: dominerende godsdiens maak mense minder menslik.

Wat maak ons hiermee, gemeente? Kan mense
buiten die geloof in Jesus gered word? Is daar ook ander weë
waarlangs mense verlos kan word? Kan ’n mens die heidense
godsdienste met die Christelike godsdiens gelykstel en Jesus met
ander verlossers gelykstel?

Ek verkondig die naam Jesus wat letterlik
beteken: die Here verlos

  1. Jesus is die egte Verlosser
  2. Jesus is die enigste Verlosser
  3. Jesus is die volkome Verlosser

Die Seun van God moet en sal Jesus genoem word.
Los van mekaar ontvang beide Maria en Josef die bevel om Hom
Jesus te noem. Maria en Josef mag nie self bepaal watter naam
hulle Hom sal gee nie. God bepaal dit vir hulle. Sy Seun moet
Jesus genoem word.

Waarom die naam? Ja, waarom gee ons ons kinders
bepaalde name? Ons doen dit omdat die naam vir ons mooi lyk of
ons aanspreek of ons kies ’n naam omdat die naam in die
familie voorkom. Maar waarom kies God so nadruklik die naam
Jesus? God kies ’n naam wat presies by sy Seun pas. Sy naam
tipeer Hom heeltemal. So is Hy. Hy heet Jesus en Hy is Jesus dws
diegene deur wie die Here verlos. Daarom sê die engel ter
verklaring "want dit is Hy wat sy volk van hul sondes sal
verlos." (Mt 1:21). Met nadruk word Hy aangewys as die
persoon wat sal verlos.

Gemeente, dit moes in daardie tyd baie beteken
het. In die tyd het die keiser homself die redder van die wêreld
laat noem. Mense het hom as redder aanbid. Alle onderdane moes
bely dat hulle vir hul saligheid en heil van die keiser afhanklik
was. Die keiser het homself selfs laat vereer as ’n god wat
in die vlees verskyn het. In daardie tyd kry Josef die instruksie
om die seun Jesus te noem "want dit is Hy wat sy volk …
sal verlos." Hier sien u alreeds ’n duidelik
teenstelling met die gangbare gedagte dat ander persone of magte
wel kan verlos. Nee, hierdie persoon is die Verlosser.

En wie sal hierdie Redder verlos? Hy sal sy
volk verlos. Daar staan nie die volk Israel of een of ander volk
van hierdie wêreld nie. Daar staan ook nie dat Hy dit vir alle
mense moontlik sal maak om gered te word nie. Nee, daar staan dat
Hy sekere mense sal verlos. Wie dan? Sy volk. Die volk wat by Hom
behoort. Die volk wat Hy tot sy eiendom sal maak. In die lig van
andere gegewens uit die Bybel weet ons dat Hy sy skape, sy kudde
, sy kerk sal red. Dink aan Joh 10:11 waar Jesus sê: "Ek is
die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir sy
skape." Vir wie lê Hy sy lewe af? Vir bokke? Nee, vir sy
skape. Joh 6: 37-40 is ook ’n duidelike Skrifgedeelte. Laat
ons dit saam opslaan en lees. Let daarop dat die liefde van die
Vader nie breë is as die liefde van Jesus nie. Jesus red almal
wat die Vader gered wil hê, wat die Vader Hom gee. Wie sal nie
verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê? Dit is hulle wat die
Seun aanskou en in Hom glo (vers 40).

Nou terug na Mt 1:21. Wat is die mees
verrassende van die teks? Dit, dat daar staan dat Hy sy volk van
hulle sondes sal verlos. Hy sal sy volk uit die greep en mag van
die sonde verlos. Hy sal ’n einde aan die sonde maak. Dit is
wat geen ander verlosser ooit gedoen het en kan doen nie. In die
mensewêreld was daar altyd al die poging om verlossing te
bewerk. Mense het daarby ook allerlei gode en verlossers
uitgedink en geëer.

Weet u wat kenmerkend vir al die heidense
godsdienste is? Dit, dat ’n mens in feite homself moet red,
dus die selfverlossingsleer. Dit is ook kenmerkend vir die Islam.
Die Moslems moet deur hul eie doen en late opklim tot god toe.
Hulle moet hulself red en dan maar hoop dat hul god tevrede
gestel is deur wat hulle doen.

Dit is afgodery wat God in die Bybel deurlopend
afwys. Die Here alleen is God en die Here alleen kan red. Daarom
ook die eerste gebod: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê
nie. Sal God wat sy volk oor afgodery so swaar gestraf het, die
heidenvolke, wat swelg in die diens van afgode, in breë rye die
hemel laat inskuif? Nee, ook die heidene moet hulle bekeer van
hulle nietige afgode tot die lewende God. Ja, ook heidene moet
van hul sondes gered word.

Redding van sondes is egter nie iets wat die
mens self kan doen nie. In sekere sin was die Ou-Testamentiese
konings en priesters ook redders vir die volk. Hulle kon egter
nie werklik red nie. Hul werk het doodgeloop. Kyk maar na die lys
van name in Mt 1:1-17. Pragtige redders, die konings uit die huis
van Dawid! Hulle het die volk daartoe gelei dat God hulle in
ballingskap moes stuur, na Babel toe. En na die ballingskap het
die koningshuis nie weer tot glorie gekom nie. Dawid se huis het
as ‘t ware tot niks geword. Waarom kon die konings en die
priesters nie red nie? Omdat hulle self sondaars was. Van onder
af kan geen egte redding kom nie. Dit het geen enkele sin om jou
saligheid en heil te soek by mense nie – hoe groot en magtig
hulle ook mag wees – of by enige skepsel of afgod wat die
mens sou bedink. Geen mens of skepsel kan werklik red nie.

Wel, wat geen skepsel kan doen nie, dit doen
God in Jesus Christus. Redding moet van bo kom. God alleen kan
dit weer reg maak tussen die sondaar en Homself. Daarom gryp God
in, in die tweede helfte van Mt 1. God se Seun word mens, ontvang
van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria. Geen man is
daarby nodig nie. Redding moet van bo af kom en dit kom van bo.
Hierdie Seun van God en seun van Maria moet Jesus genoem word:
"die Here verlos". Want Hy is die egte Verlosser. Dit
is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Waarom word die samelewing, ondanks allerlei
politieke of maatskaplike veranderings, steeds weer ontwrig? Is
dit nie vanweë die sonde nie? Die sonde breek steeds weer af.
Dit veroorsaak ’n opstapeling van ellende. Daaraan werk
Jesus die egte verlosser. Hy kom om te bevry van die sonde. U kan
dit in beginsel reeds sien. Kyk maar na die lewens en die
lewensverbande wat Hy besig is om te vernuwe, huwelike, gesinne,
kerkgemeenskappe. Ek het gesê ons sien dit in beginsel. Dit is
slegs ’n begin. Maar netnou sal dit kompleet wees. Dan sal
die sonde geen enkele seggenskap meer hê nie. Dan sal ook alle
gevolge van die sonde verdwyn. Langs die weg sal die paradys
herstel word, waar God en mens weer vry met mekaar kan omgang.
God by ons en ons by God. Geen stad van die mens, vol sonde en
gebrokenheid, wat uitloop op die dood nie. Maar die stad van God
waar alle ellende vir goed verby sal wees.

Gemeente, die Here Jesus is nie slegs die egte
Verlosser, maar ook die enigste Verlosser. Dit is die tweede
gedagte.

Die Kat is radikaal op hierdie punt. Die Seun
van God word Jesus genoem. Waarom? "Omdat Hy ons van al ons
sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te
vind is nie." Hulle wat dit iewers anders soek word by
voorbaat gewaarsku: dit is ’n ydele besigheid. Jy sal dit by
niemand anders vind nie. Die soekende siele moet hul pogings maar
staak. Jy kan alleen by Jesus Christus tereg.

Gemeente, hierdie radikale standpunt pas nie
baie in hierdie tyd van versoening, gelykheid en broederskap
tussen die godsdienste nie. Dit lyk baie hoogmoedig. Wat gee ons
die reg om te sê dat Jesus die enigste Verlosser is? Kan die
andere godsdienste nie dieselfde sê oor hul verlossers. Mense
wil Jesus liewer op een lyn plaas met Boeddha, Mohammed en ander.
Waarom kan ons hulle nie broederlik langs mekaar plaas nie? Is
ons nie baie hoogmoedig nie om vol te hou dat Jesus die enigste
Verlosser is?

Die uitspraak van die Kat is radikaal en
eksklusief. Nie omdat ons hoogmoedig of hardvogtig wil wees nie,
maar omdat ons ootmoedig God op sy Woord wil aanneem. Wil u in
die wirwar van allerlei godsdienstige opvattings u weg vind, dan
moet u na die Bybel teruggaan. Daar het u die Woord van God self.
Laat u dit los dan lewer u uself oor aan die subjektiewe en
feilbare menings van mense.

Die antwoord van die Kat is so simpel, suiwer,
skriftuurlik en ter sake. Daar word beide die verlossing van
sondes genoem en die eksklusiwiteit van Jesus. Beide word vandag
deur baie mense, waaronder leidinggewende teoloë, ontken. Laat
ons gewoon die eenvoudige en skriftuurlike antwoord van die Kat
vashou. Want so is dit volgens God self. Lees maar Hand 4:12:
"En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook
geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is,
waardeur ons gered moet word nie." Of wil ons wyser as God
wees?

Wat sê Christus aan die samaritaanse vrou?
"Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons
weet, want die saligheid is uit die Jode." (Joh 4:22).
"Die saligheid is uit die Jode"; moenie probeer om
vandag sulke woorde te besig nie. Daarmee word alle godsdienste
van die heidene as vals veroordeel. Paulus verklaar later ook in
Ef 2:12 dat alle heidene sonder hoop en sonder God in die wêreld
was. Tydens sy bediening op aarde het Jesus self gesê: "Ek
is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader
behalwe deur My nie." (Joh 14:6).

Die naam van Jesus is die enigste naam onder
die hemel wat aan die mense gegee is. Ja, onder die hemel, dws,
hier op aarde, die gebied wat teen God in opstand gekom het. In
hierdie opstandige wêreld is daar geen ander Verlosser nie.

En die Verlosser is aan die mense gegee. Hy
moes gegee word. Geen mens kon immers na God opklim nie. Die
aarde het homself juis van die hemel losgemaak. Van onder af kon
niks verwag word nie. Hoe groot is God se genade dat Hy ons van
bo af die Verlosser gegee het. Mense hier op aarde is almal van
die een reddingsaksie vanuit die hemel afhanklik. Hy heet Jesus:
die Here red.

Die een naam is onder die mense gegee,
"waardeur ons gered moet word". Ons moet almal gered
word. Elk mens het redding nodig. En wil iemand gered word dan
moet hy na Hom gaan. Dit is geen vryblywende saak nie. Niemand
kan hier verby nie. God self het dit bepaal as die enigste weg na
lewe.

Gemeente, hierdie eksklusiewe boodskap is
’n boodskap vir alle mense. Daarom moet die een naam
verkondig word. Daarom het God ook met Pinkster sy Gees
uitgestort. Daarom moet die kerk ook so gefokus wees op sending
en evangelisasie. Die evangelie moet gaan na die mense. Vir hul
redding is alle mense afhanklik van Jesus Christus. Hul
self-uitgedinkte verlossers deug nie. Hul godsdienste en
ideologieë is ydelhede. Egte verlossing is daar alleen by die
een persoon Jesus Christus.

Dit is broeders en susters, die radikale en
eksklusiewe boodskap wat ons vir die wêreld het. Daar is geen
plek vir vryblywende dialoog nie, ’n tweegesprek tussen die
godsdienste, waarby daar ’n sekere erkenning gegee word aan
die andere godsdienste. Dit gaan om die een naam waardeur ons
gered moet word. Daar is geen plek vir uitsprake soos: elkeen het
sy eie godsdiens, laat elkeen maar gelukkig wees by sy eie
geloof. Kan iemand buite Christus gelukkig wees ? Nee, buite
Jesus Christus is daar geen werklike en blywende geluk nie. Dit
is slegs bedrieglike skyn. Daar is maar een weg. Jesus Christus
die weg en die waarheid en die lewe. Elke ander weg is ’n
doodlooppad. Elke ander geloof is ’n leuen.

Mense is nie gebaat by die mooi-klinkende
woorde van modernistiese teoloë en christene nie wat sê dat jy
ook buite Christus gered kan word. Dit klink miskien mensliewend.
En dit wil mense van nature ook graag hoor. Daarom is die gedagte
so populêr in die Nuwe Suid Afrika. Maar so ’n boodskap is
verskriklik onbarmhartig. God is inderdaad liefde. Maar waarin is
sy liefde openbaar? In sy seun Jesus Christus. "Want so lief
het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê." (Joh 3:16). In vers 18 van dieselfde
hoofstuk lees ons: "Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel
nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie
geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie."
Hy wat nie in Hom glo is dus reeds veroordeel. Laat ons dit nie
verdoesel nie.

Die Bybel leer ons met groot erns dat daar
redding is vir die wat in Christus glo, maar ’n ewige
oordeel vir hulle wat nie in Hom glo nie. Nou kan teoloë met
allerlei humanistiese en slim redenasies probeer om hierdie harde
Skrifwaarheid te omseil. Maar daarmee kan hulle niks afdoen aan
die woorde van Jesus nie: "dit is die ewige lewe: dat hulle
U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur
het." (Joh 17:3). Daarom is hulle boodskap in feite
verskriklik onbarmhartig en skadelik. Dit skep ’n valse
gerustheid en laat mense lê in hul oordeel. Dit is nie meer die
evangelie nie, maar ’n verloëning van God se liefde in
Christus Jesus en dit in naam van ’n oppervlakkige en
humanistiese liefde en menslikheid.

Daarom broeders en susters, seuns en dogters,
laat ons die volle evangelie van Jesus Christus vashou, glo en
deurgee. Dit is miskien nie wat mense wil hoor nie, maar dit is
wel wat mense moet hoor. Want daar is geen ander naam waardeur
ons gered moet word nie.

Nou die 3e gedagte: Jesus Christus is ook die
volkome Verlosser. Die verlossing is by Hom totaal, vir elke
terrein van die lewe. Daarom voeg die Kat daaraan toe dat dit
’n verloëning is van die enigste Verlosser Jesus as mense
hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers
anders soek.

Die formulering van die Kat verraai die tyd
waarin dit opgestel is. Ons gedagtes gaan al gou uit na die
roomse praktyke. Met as gevolg dat ons buite skot bly. Ons soek
ons heil tog uitsluitend in Jesus Christus? As dit maar so was!
Ja, dit is maklik om met die mond te bely dat Jesus die volkome
verlosser is. Maar nou die praktyk. Durf u volhou dat u in die
daaglikse lewe u saligheid en welvaart altyd en uitsluitend by
Jesus soek? Hoe dikwels gebeur dit nie dat ek dink: ek kan myself
red, ek het hierby niemand nodig nie? Met my eie verstand en
inspanning sal ek dit wel reg kry. Verwag u, as dit daarop
aankom, u toekoms, u welvaart werklik van Jesus Christus of van
uself?

Hoe gaan dit met u huwelik en gesin? Ook die
omgang tussen man en vrou en tussen ouers en kinders moet van die
ontbindende kragte van die sonde verlos word. Soek u werklik saam
in Jesus Christus u heil sodat u in die geloof saam sterk staan?
Hoe gaan dit as u u daaglikse werk verrig of as u u sake doen.
Ken u daarin u Verlosser? Is Hy alles vir u? Laat u blyk dat u
alles van Hom verwag, deur u deur Hom alleen te laat lei in u
doen en late, watter gevolge dit ook mag hê? Ook al beteken dit
miskien dat u u werk of die vriendskap van u kollegas verloor? Is
dit so dat u geen diploma, geen sent, ja geen brood begeer buite
Jesus Christus om nie?

Teenwoordig word Jesus Christus deur baie uit
die daaglikse lewe weggelaat. Jesus word dan gereserveer vir die
kerk en vir die siel. Vir die breë terrein van die maatskaplike
lewe sou ’n mens egter weinig of niks van Jesus Christus kan
verwag. Gedoen word asof Jesus daar nie relevant is nie. Daarom
verswyg ons Hom maar in die publieke lewe of negeer ons Hom maar
in die daaglikse jag van die lewe.

Gemeente, as ons dit doen dan verloën ons met
die daad die enigste Verlosser Jesus, alhoewel ons hier in die
kerk met die mond in Hom roem. Wie hier in die kerk Jesus bely,
maar môre brood eet buiten Hom, die verloën sy Verlosser. Wie
hier netjies bely dat Jesus sy Redder is, maar môre feesvier
sonder Hom, die sê met die daad nee vir die enigste Verlosser
Jesus.

Die Kat stel sulke huigelary aan die kaak. So
’n lewenshouding vloek met die suiwere belydenis. Die Kat is
helder en skerp: dit is een van twee dinge. Daar is maar twee
moontlikhede: of Jesus Christus is nie ’n volkome Verlosser
nie – en dit sou ’n godslastering wees en duidelik
ingaan teen God se eie woorde – of die wat hierdie Verlosser
met ’n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle
saligheid nodig is. Jesus se werk is volkome of dit is nie
volkome nie. Is dit nie volkome nie, dan het u niks aan Hom nie
en staan Hy op een lyn met al die andere sogenaamde verlossers.

Is Jesus se werk wel volkome – en dit is
duidelik die leer van die Skrif – dan is Hy vir ons alles.
Ek kan dit ook so sê: Jesus beteken vir my alles of niks. Ek
word voor ’n radikale keuse geplaas. Daar is geen middeweg
nie. U moet weet waar dit op aankom. U moet weet waarom God se
Seun Jesus heet en wat dit vir u beteken. U kan dit ook pragtig
met die mond bely hier in die kerk. Maar dit moet ook met die
daad getoon word in die praktyk van u lewe. Die boodskap van
redding in Jesus Christus moet gehoor en gesien word. Dit is die
boodskap wat ons en alle mense die meeste nodig het. Want daar is
geen ander naam waardeur ons gered moet word nie. Wie werklik in
Hom glo sal gered word.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)