Die voorsienigheid van onse God en Vader.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-16
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

Sondag 10

Ds C Kleyn - Sondag 16 Mei 1999

Lees: Ps 147, Sondag 10
Sing: Ps 136:1,2,3; Ps 136:19,20; Ps 105:5 (na die doop); Ps 147:1,3; Ps 43:4,5; Ps 74:12,15,16.

Samevatting:

Dit gaan in Sondag 10 nie oor die voorsienigheid van ’n vreemde nie, maar oor die voorsienigheid van onse God en Vader (Sondag 9). Buite die geloof in God die Vader kry ’n mens slegs verkeerde voorstellings van God se voorsienigheid.

Tema: Die voorsienigheid van onse God en Vader.

Die voorsienigheid:

  1. bely;
  2. bestry;
  3. belewe.

Sondag 10 staan in die midde van die daaglikse lewe met sy lief en leed. Die woord voorsienigheid beteken dat God vir alles sorg dra, ja dat Hy selfs alles tot stand bring. Ons onderskei tussen sy onderhouding en regering. Hy hou alles in stand. Die natuurwette funksioneer slegs in soverre en solank as God dit bepaal. Sien Josua 10:13. Baie Psalms besing God se oralteenwoordige krag. Sien Ps 147. Dat God regeer wil sê dat Hy alles doen volgens sy plan en met die oog op sy doel. God is nie grillig of willekeurig nie. Hy werk na vaste lyne. Ook al sien ons nie altyd die lyne nie. Dink aan Josef toe sy broers hom verkoop het en toe hy jarelang in die tronk moes vassit. Pas later is die lyne vir hom duidelik geword. Daar bly vrae. Maar vir wie glo is dit geen vraag of God alles wel onderhou en regeer nie. Die geloof is mos ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (Hebr 11:1). Daarom sing ons met Ps 93:1,2 oor sy regering en onderhouding van alles.

Beteken dit dat ook die kwaad uit sy hand kom? Pas dit wel by sy Vaderskap? Dit is veral sedert die verskrikkinge van die laaste wêreldoorlog dat die geloof in God se voorsienigheid vir baie in die krisis gekom het. Die gruweldade van die oorlog word gesien as ’n duidelike bewys dat ’n mens nie kan sê dat God oor alles regeer nie. Die konsentratiekampe was volgens hulle eerder ’n plek van uiterste godverlatenheid. Baie mense het ’n afkeer gekry van die God van ons belydenis en Hom geteken as ’n wrede tiran wat daar plesier in het om sy kinders te laat ly. Ons moet ons volgens hulle nie laat troos deur geloof in ’n God wat agter en bo die lyding staan nie, maar deur geloof in ’n God wat saam met ons ly. God het hier ’n lydende God geword wat self niks aan die lyding kan doen nie. Hulle dink dat hulle daarmee God se goeie naam gered het. Ondertussen het hulle die God van die Bybel verloor. Hul God is nie meer die almagtige Vader, maar ’n magtelose toeskouer. Die Bybel is egter duidelik daaroor dat God regeer ook oor die lyding. Sien Amos 3:6; Jes 45:7; Ps 30:8; Ps 42:8. Is dit dan nie in stryd met sy vaderliefde? Absoluut nie as ons weet dat God die skepping aan die nietigheid onderworpe het vanweë onse sonde (Rom 8:20).

Die geloof in God se voorsienigheid leer ons om in alle teëspoed geduldig te wees en in voorspoed dankbaar en gee ons ’n vaste vertroue vir die toekoms. By teëspoed is daar wel die stryd en vrae. Sien Ps 10:1; Ps 42:10. Beslissend is in welke houding ons die vrae stel. Met ’n opstandig hart of as ’n kind wat in vertroue op God worstel met sy leiding? In hul stryd erken die Psalmiste God nog steeds as hul Verbondsgod en hul rots. God kan die teenspoed gebruik om ons aan bepaalde sondes te ontdek, om ons te beproef, te doen groei in geloof, vir die verbreiding van sy evangelie ens. Die geloof maak ons nederig. Ek het die hel verdien en nou is God juis met my redding van die hel besig, ook dmv die teenslae. Die geloof maak ook geduldig. My huidige lyding is soos barensnood. Vergelyk Rom 8: 18-25. Daar is lewe, volkome verlossing, op koms, daarom kan ek die tydelike pyn verdra. Die lyding van die teenwoordige tyd weeg nie op teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (Rom 8:18). Dit is vaderhande wat hulle open en sluit. Vaderhande wat alles lei na die voltooiing van sy verlossingsplanne. Dit gee rus aan ’n worstelend hart. So gee Sondag 10 in ’n wêreld vol stryd en verdriet ryke troos. So kan ons Ps 43:4,5 sing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons praat nou oor die voorsienigheid van God. Dan is dit belangrik dat ons onthou dat ons besig is met die belydenis artikel: ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Sondag 9 & 10 behoort by mekaar. In sondag 9 het ons bely dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, wat alles geskep het en nog onderhou en regeer, ter wille van sy Seun Christus my God en my Vader is. U het dus nie te doen met die voorsienigheid van ’n vreemde nie, maar met die voorsienigheid van u God en Vader.

Om oor die voorsienigheid te kan praat moet u God ken as u Verbondsgod, as u Vader. Buite die geloof in God die Vader kan niemand ’n wyse woord oor die voorsienigheid sê nie. Dan kry ’n mens slegs verkeerde voorstellings daarvan. Alle geteoretiseer oor die voorsienigheid sonder dat jy ’n lewende band met God het kom neer op ydele praatjies en ’n skending van die majesteit van die Here ons God.

Ek verkondig u: die voorsienigheid van onse God en Vader.

Die voorsienigheid:

  1. bely;
  2. bestry;
  3. beleef.

By elke woord van sondag 10 staan u midde in die praktyk van die lewe. U ontmoet daar die mens in sy daaglikse lewe, met sy lief en leed, voorspoed en teenspoed, reën en droogte, gesondheid en siekte. En midde in die daaglikse praktyk en alledaagse praat gaan die mens, gaan ons, onse God en Vader bely.

Ons bely die voorsienigheid van onse God en Vader. Maar, wat bedoel ons dan met die woord "voorsienigheid"? In elk geval nie dit: dat God alles vooruit sien nie, dat Hy alles van te vore weet nie. Dit is vir seker waar dat God alles vantevore sien en weet, maar daaroor gaan dit nie met die woord voorsienigheid nie.

Voorsien beteken hier: in iets voorsien, sorg dra vir. Soos ’n pa sy kinders van kos voorsien en so sy gesin onderhou. Maar God se voorsienigheid is nog meer. Hy bring tot stand. Alle skepsels, selfs die duiwels bestaan alleen deur Hom. En hulle bly bestaan solank as Hy dit wil.

Die Kategismus praat van die krag van God waardeur Hy alles asof met sy hand onderhou en regeer. Hier word twee dinge genoem: onderhou en regeer. In 6 dae het God die hemel en die aarde geskep. Hoe gaan dit daarna? Baie dinge wat in die natuur gebeur lyk so vanselfsprekend. Ons praat van natuurwette. Die son kom op en gaan aan die einde van die dag weer onder. Elke jaar volg die seisoene mekaar op: na die somer kom die herfs, na die herfs die winter, na die winter die lente en na die lente die somer. Reën en droogte wissel mekaar af. Die skepping lyk net soos ’n klok, wat opgewen word en dan reëlmatig aanloop.

Tog is dit, gemeente, nie die regte vergelyking nie. Want God is aktief betrokke by al die dinge wat gebeur. Die skepping is nie iets wat homself, buite God om kan red nie. God se almagtige krag is nodig om die skepping in stand te hou. Sonder Hom kan dit nie ’n oomblik voortbestaan nie. Die skepping is in al sy dele volkome van God afhanklik. God gee reën en vrugbare tye. Deur Hom kom die herfs na die somer. Alle skepsels lewe van oomblik tot oomblik alleen deur Hom.

Die sogenaamde natuurwette funksioneer nie uit hulself nie, maar alleen omdat God hulle so laat funksioneer. Dink maar aan die gemak waarmee God die wette verbreek in die geskiedenis van die verowering van Kanaän. Op die gebed van Josua het die son by Gibeon in die middel van die hemel bly staan en hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ’n volle dag (Josua 10:13). Die natuurwette funksioneer slegs op God se bevel.

Die Bybel raak nie daaroor uitgepraat nie. Baie Psalms besing daardie oralteenwoordige krag van God. Dink maar aan die Psalm wat ons gelees het, Ps 147. Ons lees daar dat Hy die sterre in sy hand het. Probeer jouself dit indink. Hy gee hulle almal name. Die reën is in sy hand, die wolke word deur Hom bestuur. Hy laat die gras uitspruit. Hy bring storms en strome.

Hoor maar hoe die Psalmis dit verwoord: Hy wat sy bevel na die aarde stuur – sy woord loop baie vinnig. Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke – wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai- die waters loop. (Ps 147:15-18). Wat ook al in die skepping en met die skepsele gebeur, dit is werke van God, Hy doen dit. Sy aktiewe hand is in alles aanwesig.

Gemeente, naas sy onderhouding van die skepping is daar ook sy regering van alles. Alles gebeur soos Hy dit wil. Soos ’n wyse argitek het Hy die hele ontwerp van sy bouplan vantevore klaar om alles daarvolgens uit te voer. Hy sorg daarvoor dat alles sy bestemming bereik, die einddoel wat Hy vantevore bepaal het. Die Here gaan dus planmatig aan die werk. Hy is allermins ’n wispelturige God soos baie beweer, ’n wispelturige God wat volstrek willekeurig handel, die een keer sus en die ander keer so. ’n Mens sou op Hom geen peil kan trek nie. Alles sou kris kras deurmekaar loop.

Die Kategismus maak ’n radikale einde aan hierdie misvatting deur daarop te wys dat die Vaderhand alles regeer. Dit sluit alle willekeurigheid en wispelturigheid uit. God regeer nie volgens willekeurige gedagtes nie, maar na sy ewige raad, die altyd wyse raad van die Here. God werk in alle dinge volgens ’n vastgestelde plan.

Dit wil nie sê dat ons die plan altyd kan sien of verstaan nie. Wat dink u: kon Josef God se plan begryp toe sy broers hom aan die handelaars verkoop het of toe hy later in die tronk gesit het vanweë sy weiering om toe te gee aan die verleiding van Potifar se vrou? Natuurlik nie. Eers later het dit vir hom duidelik geword. Dikwels bly die plan tydens hierdie lewe vir ons verborge. Baie dinge wat God doen gaan ons menslike verstand te bowe. Daar bly vrae. Maar vir die wat glo is dit geen vraag of God alles nog wel onderhou en regeer nie. God is reg in al sy weë en werke. Dit is nie in die eerste plek iets wat ons sien nie, maar iets wat ons glo. Die geloof word in die Bybel genoem ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (Hebr 11:1). En die geloof bring ons daartoe om die voorsienigheid van onse God en Vader te bely.

Daarom sing ons:

"Die Heer regeer. Die kleed van heerlikheid
Wat Hom omstraal, is enkel majesteit.
En deur sy krag, wat enkel triomfeer,
Hou alles stand, dit wankel nimmermeer."

En:

"U troon, o Heer, het ewig vasgestaan,
U is die Heer van ewigheid af aan."

(Ps 93:1,2a)

Daarom sal alles en almal Hom dien met die oog op die doel wat Hy bepaal het.

Gemeente, die voorsienigheid van onse God en Vader word nie slegs bely nie, maar ook bestry. Dit is die tweede gedagte.

Ons bely dat God alles asof met sy hand onderhou en so regeer dat alles ons nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand toekom. Beteken dit dat ook die kwade uit God se vaderhand kom? Moet ek as iets verskrikliks my oorkom sê: dit is uit Vader se hand? Het God dan sy hand in die lyding van sy kinders? Pas dit wel by sy Vaderskap? As ons om ons heen kyk in hierdie chaotiese wêreld dan lyk dit meer op die woeste plan van die duiwel as op die wyse raad van die Here. Via die moderne kommunikasie middele word ons gekonfronteer met allerlei ellende in die wêreld. Het God dan sy hand in die nood van die miljoene wat omkom deur honger en geweld?

Gemeente, dit is vrae wat ook die gelowiges kan pla. As jy deur ’n verskriklike ding getref word, dan is die eerste gedagte dikwels: hoe kan ’n almagtige God en Vader sulke dinge toelaat? Hoe kan Hy dit aanskou sonder om in te gryp?

Dit is veral sedert die verskrikkinge van die laaste wêreldoorlog dat die geloof in God se voorsienigheid vir baie in gedrang gekom het. As God liefde is en tegelykertyd almagtig dan kan Hy tog nie die gruweldade waarby miljoene mense vermoor is toelaat nie?. Dan kon Hy dit tog verhinder het? Die gruweldade van die oorlog word gesien as ’n duidelike bewys dat ’n mens nie kan sê dat God oor alles hier op aarde regeer nie. Nee, sê baie mense, dit kan nie wees dat God in die konsentrasie kampe geregeer het nie. Dit was eerder ’n plek van uiterste godverlatenheid.

So wil baie moderne christene niks meer weet van God se hand in die lyding nie. Die Nederlandse skrywer Maarten ‘t Hart het vertolk wat in hul harte leef. In een van sy boeke het hy beskryf hoe sy moeder deur kanker getref was. Die siekte het ’n vreeslike verloop gehad en het gepaard gegaan met ’n verskriklik lyding. Dit het die jong Maarten geskok. Hy het toe ’n afkeer gekry in die God wat vanaf die hemel-troon alle dinge bestuur, ’n God wat ook onvoorstelbare lyding in die lewe van sy kinders bring. So ’n God kon Hy nie as ’n liefdevolle Vader sien nie. So ’n God het vir hom eerder gelyk na ’n wrede tiran, wat plesier daaruit put om sy kinders te laat ly.

So het hy en baie met hom die voorsienigheid van onse God en Vader verwerp. In sy verwerping gee hy ’n giftige wanvoorstelling van die christelike leer. God word voorgestel as ’n beul wat mense verag. Die God van onse belydenis word wanvoorgestel as ’n God wat êrens ver weg in die heelal satanies lag oor ons verdriet. Deur middel van die verdraaiing word met ons God en Vader afgereken.

Baie mense, wat hulself nog christene noem, dink in dieselfde gees. ’n God wat alles regeer is vir hulle onaanvaarbaar. Modernistiese teoloë dink dan ook dat die beeld van ’n albesturende God, wat agter en bo die lyding staan, stukkend geslaan moet word. Ons moet ons volgens hulle nie langer laat troos deur die wete dat ’n voorsienig God agter die lyding staan nie. Ons troos sou inteendeel wees dat God saamly en ons bondgenoot in die lyding is. Een teoloog skryf bv : "Daar gebeur te veel dinge teen en sonder God se wil. Maar nie die kleinste ding kan gebeur nie of Hy trek hom dit aan". God het hier ’n lydende God geword, ’n saamlydende God wat self niks daaraan kan doen nie.

Mense dink dat hulle op hierdie wyse God gered het van al die ongerymdhede wat oor Hom tydens swaar lyding opkom. Maar broeders en susters, wat hou hulle oor? Hulle het ondertussen onse God en Vader verloor, onse God soos Hy Hom in die Bybel bekend gemaak het. Hulle sien die vaderliefde as die kenmerkende eienskap van Vader en hulle dink dat hulle die vaderliefde so gered het. Maar hulle het daarvoor die belydenis van sy almag prysgegee. God het ’n magtelose toeskouer geword, by al die goddelose dade van mense. Hy kan al die misdaad en geweld, al die ellende nie verhinder nie. Hy is nie meer die almagtige God nie.

Die Bybel spreek duidelik anders. Die Skrif is vol van God se regering, ook met betrekking tot die lyding. Hy het wel deeglik ’n hand daarin. In Amos 3:6 lees ons: "Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die Here dit nie bewerk het nie?" Die profeet Jesaja gee die Woord van Here deur: "Ek is die Here, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die

heil bewerk en die onheil skep: Ek, die Here, is dit wat al hierdie dinge doen." (Jes 45:7).

Die lyding van die mensekinders staan wel deeglik onder God se voorsienige bestel. Wie het die plae oor Egipte gestuur? Mos die Here! Wie het Israel met teëspoed gestraf vanweë sy sonde? Mos die Here! Hy het sy volk in ballingskap laat gaan.

In die Psalms hoor ons telkens dat God se kinders hul teenspoed en lyding met God se hand in verband bring. Dawid het dodelik siek geword. Hy sien daarin God se hand en bely: U het u aangesig verberg – ek het verskrik geword (Ps 30:8). In Ps 42 sê die Psalmis: al u bare en u golwe het oor my heengegaan (vers 8). Die Skrif laat daaroor geen enkele onsekerheid bestaan nie: God se hand is in die lyding, in die lyding wat in die breë wêreld plaasvind en in die lyding wat God se eie kinders soms oorkom.

Maar, is dit broeders en susters dan nie in stryd met God se vaderliefde nie? Kan ’n liefdevolle Vader dit oor sy hart kry om so iets te doen? U sal dit nooit begryp as u nie eers die sonde in u lewe raak sien nie. Daarom is die modernistiese teoloë en die afvalliges nie in staat om sinvol te praat oor God se regering in die lyding nie. Hulle weier immers om die opstand van die mens in paradys en die totale verdorwenheid daarna te aanvaar. Die lyding het nie met die skepping saamgekom soos gesuggereer word nie. Na die skepping sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed (Gen 1:33). Die lyding het hier gekom as gevolg van die sondeval.

Dit is deur die sonde van die mens dat die vloek op aarde sy intrede gedoen het. In Rom 8 hoor ons ’n weerklank daarvan wanneer Paulus sê dat die skepping deur God aan die nietigheid onderworpe is (Rom 8:20). God het haar daaraan onderwerp vanweë die sonde.

Wanneer ons met lyding te doen het word ons herinner aan ons sondeval. God bepaal ons by ons ontrou in die paradys. By siekte en teenspoed staan ons voor die vloek wat ons self oor God se skone skepping gebring het. En God se kinders deel in die nietigheid waaraan die skepping onderwerp is.

Gemeente, wat nou belangrik is, is hoe u op die lyding reageer. Dit bring ons by die laaste gedagte: die voorsienigheid van onse God en Vader belewe.

Die leer van die voorsienigheid is nie slegs ’n saak van die verstand nie. Nee, u moet dit ook belewe. Oor die ervaring praat die Kategismus in die 2e vraag en antwoord. Die geloof in God se voorsienigheid leer ons om in alle teëspoed geduldig te wees en in voorspoed dankbaar en gee ons ’n vaste vertroue vir die toekoms.

By teëspoed is daar die stryd en die vrae. God se kinders kan dit daarmee baie moeilik hê. Die waaroms kom vanself na bowe. Soos ons dit ook in die Psalms teenkom. Bv Ps 10:1: "O Here, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?" Ps 42:10: "My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?"

God se kinders mag regtig worstel met die vraag na die waarom. Beslissend is egter hoe ons die vraag na die waarom stel, met welke houding. Doen ons dit met ’n opstandige hart, of as ’n kind wat gelowig worstel met God se leiding. Let daarop dat in die beide tekste wat ek aangehaal het uit die Psalms die Psalmis vra na die waarom vanuit sy vertroue in die Here. Hy erken die Here as sy Verbondsgod en as sy Rots.

God kan allerlei bedoelings met die teenspoed hê. Hy kan dit aan jou gee om jou aan bepaalde sondes te ontdek. Hy kan dit gebruik om jou te beproef en om jou te laat groei in jou geloof. Hy kan dit gebruik vir die verbreiding van die evangelie en tot verheerliking van sy naam. Die gelowige sal worstelend vra: Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie (Ps 25:4).

Gemeente, die feit dat ons God se regerende vaderhand erken en sien laat die opstand teen God se leiding bedaar. Die geloof maak ons nederig en geduldig. Nederig, ek word immers herinner aan my sondeval in die paradys en aan my baie sondes daarna. Daardeur het ek die hel verdien. Ek het niks om God oor te verwyt nie. Inteendeel, Hy het die hel uitgestel en Hy soek juis my redding van die hel, ook dmv die teenslae.

Die geloof maak ook geduldig. Ek aanvaar dit uit God se vaderhand. Daar is nou nog die sonde en gebrokenheid in my lewe. My lyding in die teenwoordige tyd is soos barensnood. Vergelyk Rom 8:18-25. Die barensnood staan nie op homself nie. As dit so was dan sou moeders dit nie kan verdra nie. Maar die pyne by die geboorte het ’n positiewe doel, naamlik om ’n kind in die wêreld te bring. Daarom verdra die moeder die pyn.

So gaan dit met ons lyding van die teenwoordige tyd. Dit is nie slegs negatief nie. Dit dien ’n positiewe doel, naamlik ons volkome verlossing. Daar is iets goed aan die kom, daarom dra ek dit geduldig. Daar is lewe aan die kom, ewige lewe, die ewige herstel van alle dinge, die ewige heerlikheid van die kinders van God. As ek ly dan ly ek daarom nie sonder hoop nie maar juis in hoop. Die hoop van die geloof stel my in staat om geduldig die lyding te dra wat God vir my nodig ag. Ek weet wat kom. Dit maak die lyding baie ligter. Soos Paulus skrywe in Rom 8:18: Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Christus se kruis het hier op aarde gestaan. Daar het God sy liefde en geregtigheid getoon. Ek kan op sy liefde staatmaak. Dit is ’n ewige liefde van die God wat ons Vader wil wees. As ek Hom sien dan kom my worstelende hart tot rus. Dit is vaderhande wat hulle open en sluit. Vaderhande wat vir sy kinders die vloek uit die lyding weggeneem het deur sy Seun die vloek te laat dra. Vaderhande wat alles in beheer het. Vaderhande wat alles lei na die ontvangs van sy kinders in die ewige vaderhuis. Geen mag of vyand kan dit keer nie.

So gee Sondag 10 vir ons, in ’n wêreld vol stryd en verdriet, ryke troos. Ons lewenspad word uit die dode dal na bo toe gebuig, na die Vader van die ligte. Met hierdie belydenis kan ek lewe in voorspoed en teenspoed, by vreugde en verdriet, by siekte en dood. Dan kan ek sing, selfs met ’n stem wat amper geen krag meer het nie:

Dan gaan ek in na Gods altare,
Tot God, my God, my vreugde en lied,
Dan speel ek met die harpenare,
Dan ruis vir U my blye snare –
Vir U wat my, na kort verdriet,
’n eewge vreugde bied.

En:

My siel, wat treur jy nog verslae
En is onrustig in jou lot?
Berus slegs in Gods welbehae;
Strek uit jou hoop na beter dae.
Verrys, herleef op sy gebod –
My redder is my God!

(Ps 43:4,5)

 

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)