As jy weet hoe baie God vir jou vergewe het, sal jy baie liefhê.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
Johannes 7
Preek Inhoud: 

Lukas 7:47

Ds C Kleyn - Sondag 9 Mei 1999

Lees: Lukas 7:36-50
Sing: Ps 111:1,2; Ps 111: Ps 103:1,2; Ps 105:1,2 (voor Heilige Nagmaal); Ps 65:2,3,4,5 (aan die nagmaals tafels); Ps 118:7,14 (na die kolekte).

Tema: As jy weet hoe baie God vir jou vergewe het, sal jy baie liefhê.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die geskiedenis van die teks gee die Here vir ons ’n pragtige les. Hierdie les naamlik: as jy weet hoe baie God vir jou vergewe het, sal jy baie liefhê.

Simon , ’n Fariseër, nooi Christus om by hom te eet. Die Here aanvaar die uitnodiging. Hy maak homself beskikbaar vir allerlei soorte mense, watter posisie of agtergrond hulle ook het. Tydens die maaltyd kom daar ’n vrou binne wat bekend staan vir haar sondig lewe. Miskien wel ’n prostituut of ’n egbreekster. Sy loop onmiddellik na Jesus toe met ’n albaste fles met salf. Dis duidelik dat sy die Here daarmee wil eer. Sy kan haar trane egter nie bedwing nie. Voordat sy dit besef val haar trane op Jesus se voete en maak dit hulle nat. Sy het egter geen doek om die trane van sy voete af te droog nie. Daarom maak sy haar hare los en droog sy daarmee die trane af. Dan soen sy sy voete en salf hulle met die salf.

Ons sien dit gebeur daar in die huis van die Fariseër. ’n Pynlike verleentheid vir Simon, so ’n sondares in sy huis. En dan nog al die trane, die los hare in deftige geselskap en die salf op Jesus se voete. Hoe kan Jesus dit van so ’n sedelose vrou aanvaar? Die Fariseër kan dit nie begryp nie. Hy begin om Jesus met ander oë te sien. As Jesus ’n profeet was, dink hy by homself, dan sou hy moet weet dat hierdie vrou ’n verworpene is en dat haar gawes met sonde besoedeld is. Geen respektabele profeet sou toestaan dat hy deur so ’n vrou van slegte reputasie onrein gemaak word nie. Want die vrou het nie alleen sy voete aangeraak nie, maar dit ook herhaaldelik gesoen.

Hoekom laat Jesus dit aan Hom gebeur? Jesus se houding word bepaal deur die evangelie van genade en verlossing. Jesus herken by die vrou geloof en berou. Die fles met kosbare salf, die trane en die feit dat sy daarmee na Hom toegaan spreek ’n duidelike taal. Hier is ’n sondares wat berou het oor haar sondes en wat haar vertroue stel in Jesus Christus, die Redder van die wêreld. In sy hoogmoed en eiegeregtigheid sien die Fariseër dit nie. Vir hom is die vrou slegs ’n verlore sondares, iemand waarop jy moet neersien, nie iemand waarna jy moet uitreik nie. Hy het geen tyd of agting vir haar nie.

Jesus ken Simon se gedagtes en wys hom dmv ’n gelykenis tereg. Daar was ’n geldskieter wat twee skuldenaars gehad het. Die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig. ’n Penning was die dagloon van ’n soldaat of arbeider. Die een het dus ongeveer 1 3/4 jaar loon geskuld en die ander een ongeveer twee maande se loon. Hulle het niks om te betaal nie. Dan gebeur ’n ongelooflik iets: die geldskieter skenk kwytskelding aan altwee. "Sê nou" vra Jesus aan Simon, "wie van hulle sal hom die meeste liefhê?" Simon antwoord en sê: ek veronderstel die een aan wie hy die meeste geskenk het.

Jesus pas dan die gelykenis toe op die huidige situasie. Hy vra Simon se aandag vir die vrou. Wat ’n ironie! Hierdie sondares, wat deur Simon verag is, word nou deur Jesus aan hom voorgehou as ’n voorbeeld waarvan hy moet leer. Sy het aan Jesus gedoen wat Simon as gasheer nagelaat het om te doen. Sy het baie liefde getoon, terwyl hy, die gasheer, min liefde getoon het. Deur haar baie liefde bewys sy dat sy weet van die vergewing van baie sondes. Vergewing van God se kant produseer liefde van ons kant. Daarom sê Jesus in die teks: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

Gemeente, ons moet oppas dat ons die woorde: want sy het baie liefgehad nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie so dat haar sondes vergewe is omdat sy eers baie liefgehad het. Nee, dit is die omgekeerde volgorde. Omdat haar sondes eers vergewe is, daarom het sy baie liefgehad. U kan die woorde van die teks vergelyk met die sin: dit reën want die vensters is nat. Dit wil nie sê dat die nat vensters die oorsaak is van die reën nie. Nee, die water op die vensters is ’n bewys daarvan dat dit reën.

So is dit met hierdie vrou. Haar liefde vir die Here is ’n bewys daarvan dat haar sondes vergewe is. Die feit dat sy haar trane nie kon bedwing nie en dat sy nie opgehou het om Christus se voete te soen nie en dat sy sy voete gesalf het is ’n bewys van haar redding wat God bewerk het.

In teenstelling daarmee sê Christus: Maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. Beteken dit dat die sondes van Simon weinig is en dat hy dan weinig liefhet omdat hy maar weinig sondes gehad het wat vergewe moes word? Dit kan moeilik die geval wees. In God se oë moet vir hierdie Fariseër ook baie vergewe word.

Dit gaan daaroor dat jy eers moet weet dat jy baie sondes het en dat die baie sondes vergewe is, voordat jy baie kan liefhê. As jy dink dat jy nie so sleg gedoen het nie en dat God jou nouliks hoef te vergewe dan sal dit sigbaar wees in jou houding teenoor Jesus en ander mense. "Hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief." Simon die fariseër moet sy baie sondes gaan sien en bely. Dan sal hy ’n nuwe mens wees. Alleen dan sal hy ervaar die volle vreugde wat saamkom met die herskeppende krag van God se genade. Slegs dan sal hy baie liefde vir God en sy volk toon.

Gemeente, dieselfde geld vir ons vandag. In die gemeente het God ons naas mekaar geplaas. Hy het ons deur sy Woord en Gees tot ’n verbonds-gemeenskap gevorm. Hy het ons aan mekaar verbind in Christus. Wat is dit dan wat julle houding en gedrag teenoor mekaar bepaal? Wel, onthou dit: julle houding teenoor ander mense weerspieël in die reël julle houding teenoor God. Hoe kan jy jou naaste werklik en van harte liefhê en aanvaar? Dit kan as jy weet dat Christus jou vergewe het en jou aanvaar het. Jesus het gesê: hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

Ervaar U, ervaar jy die groot genade van God in u of jou lewe – dat Hy jou ontelbare sondes vergewe het? Indien jy dit nie of nouliks ervaar nie, dan sal dit hom wys in jou houding na ander toe. Dan sal jy waarskynlik weinig barmhartigheid toon. ’n Kritiese en negatiewe gees gaan dan maklik die verhoudings domineer. Dan sal daar weinig vergewensgesindheid wees en weinig geduld met die gebreke van ander, veral van hulle wat die digste by jou is. As daar dan moeilikhede kom, sal die skuld vinnig by die ander gelê word. "Hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief."

Aan die ander kant: hy vir wie baie vergewe is, het baie lief. Hoe meer jy verstaan wat vergewing is en hoe meer jy God se vergewing ervaar, hoe meer jy in liefde vir Hom en sy volk sal groei. Daarom broeders en susters, aanvaar en geniet God se groot genade in julle lewe. Hy het baie vergewe, of soms nie? Laat hierdie werklikheid julle houding teenoor mekaar bepaal. Vier dan as verloste sondaars julle eenheid in Christus. En bly die eenheid toon en bewaar, in geloof wat deur die liefde werk.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)