Die Here beskaam die wysheid van die wêreld voor die oë van een van die maghebbers van die wêreld

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
Daniël 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 2:1-19a

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 25: 7,8; Lesing van die wet; Psalm 35: 15,17

Skriflesing: Johannes 1:1-14; Gebed; Kollekte; Psalm 105: 1-5; Teks: Daniël 2:1-19a

Preek; Psalm 145: 10,11; Dankgebed; SB 5; Seën

PREEK

Broers en susters, geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Daniël en sy vriende is in opleiding. Dis vir hulle moontlik omdat die HERE daarvoor gesorg het dat dit vir hulle nie nodig is om hulle aan die voedsel van die koning se tafel te verontreinig nie. Die HERE wys Sy almag en trou vir Daniël en Sy volk en daarin ook vir ons.

4 jong seuns dien aan die hof die HERE en nie die babiloniese gode nie. 4 Jong seuns moet in hierdie omgewing, midde in die Godvyandige wêreld staande bly.

Hierdie vier is vir die duiwel ‘n groot gevaar. ‘n Ander deel van God se volk, wat later aan die ballingskap na Babel ontkom het deur na Egipte te vlug, is vir die duiwel nie gevaarlik nie. Ons sou dink dat hierdie deel van die HERE se volk vir Hom sou bly dien. Hulle het die profeet van die HERE, Jeremia gedwing om met hulle na Egipte te vlug. Ondanks dit wil ook hierdie deel van die verbondsvolk, van die kerk nie alleen die HERE dien nie. As Jeremia hulle bestraf omdat veral die vroue die koningin van die hemel vereer, is die teenstand groot en brutaal. Hulle glo selfs dat die hemelkoningin meer as die HERE is want toe hulle die hemelkoningin gedien het, het dit met hulle goed gegaan maar toe hulle daarmee opgehou het, het volgens hulle die ellende oor hulle gekom. Hierdie deel van die kerk is al so verwêreldlik dat hulle selfs na die HERE se profeet, na die HERE se Woord wat hoorbaar tot hulle kom nie wil luister nie. Brutaal sê hulle dat hulle met die verering van die hemelkoningin sal voortgaan. Hulle sal die satan bly volg. Die gevolg daarvan is dat die HERE vir hierdie deel van die kerk sê: "Nooit sal My Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda in die hele Egipteland nie, met die woorde: So waar as die Here HERE leef!" (Jer 44:26)

Die deel van die verbondsvolk wat in Egipte gaan bly het, is vir die Satan in die tyd van die ballingskap geen bedreiging nie. Hoe anders is dit met die 4 jong seuns aan Nebukadnesar se hof. Dit sou vir die duiwel ‘n groot oplugting wees as hierdie 4 jong seuns sou sterwe nou hulle weier om gebabiloniseer te word. Dit wat in ons teks gebeur, gebeur onder die HERE se hand en regering en nogtans probeer ook die duiwel daarvan gebruik te maak. Om God se volk te babiloniseer is dit nodig dat Daniël en sy vriende sterf. Die HERE wys in dit wat gebeur juis Sy almag en Hy beskaam die wysheid van Babel, die wysheid van die wêreld.

Ons let daarop as ek vir julle die Woord van die Drieenige God onder die volgende tema verkondig:

DIE HERE BESKAAM DIE WYSHEID VAN DIE WêRELD VOOR DIE Oë VAN EEN VAN DIE MAGHEBBERS VAN DIE WêRELD.

  1. Die magteloosheid van Babel se geleerdes
  2. Daniël en sy vriende vertrou op die Almagtige

Die magteloosheid van Babel se geleerdes.

Nebukadnesar het ‘n magtige koning geword. Hy is een van die magtigste manne op aarde. Hy het hierdie mag gesoek. Hy is nog maar net twee jaar koning en is nou al ‘n wêreldheerser. As hy in sy bed klim is sy kop vol van wat in die toekoms sy beleid en sy mag sal wees. Mense wat in kort tyd baie mag gekry het is dikwels baie bang om iets van hulle mag te verloor en is honger na nog meer mag. As Nebukadnesar so in sy bed woel en aan die slaap raak, droom hy. Die droom wat hy sien maak hom onrustig. Dis vir hom nie ‘n lekker droom nie. Hierdie droom stel hom vir die toekoms verseker nie gerus nie. Veral die klip wat die groot beeld wat hy gesien het heeltemal stukkend breek het hom angstig en onrustig gemaak. Wat beteken hierdie droom, wat wil die gode daarmee sê. Dis die vrae waarmee hy na die droom onrustig worstel en waardeur hy die slaap nie meer kan vat nie.

As Nebukadnesar uit sy bed geklim het gee hy bevel om al die geleerdes te roep wat hom kan vertel wat hierdie droom vir hom beteken. Hy wil weet wat kan of gaan gebeur. Hy wil sy onrus, sy paniek kwytraak. Ons lees in vers 2 van 4 groepe wat voor koning Nebukadnesar verskyn. Die mense wat aan die hof hulle adviese gegee het, het uit 4 afsonderlike groepe bestaan, al vier met hulle eie bekwaamheid.

  • Die geleerdes. Dit is hulle wat veral uit die boeke hulle wysheid geleer het. Dit was hulle wat die koning in staatsdiens op verantwoordelike poste moes dien. Hierdie mense het ook met die okkulte wêreld in verbinding gestaan want die towenaars aan Farao se hof wat ook ‘n stok in ‘n slang en water in bloed kon verander word met dieselfde Hebreeuse woord genoem. Eks 7:11,12
  • Dan was daar die besweerders. Ons moet by hulle veral dink aan mense wat allerhande kruie of kruiedrankies klaargemaak het. Dit aan die gode gewy het en wat hierdie godedranke in allerhande situasies voorgeskryf het.
  • Dan is daar die towenaars. Dis die toordokters wat met allerhande toorspreuke werk. Wat beweer dat hulle met hulle spreuke die gode en hulle kragte kan stuur.
  • Die laaste wat genoem word is die Chaldeërs. Somtyds word die naam Chaldeërs vir die Babiloniëers gebruik maar hier is dit duidelik ‘n naam vir ‘n sekere groep. Die Chaldeërs was die manne wat veral op die terreine van astronomie en astrologie geleerd was en hulle was die priesters van die statsgodsdiens in daardie tyd.

Nebukadnesar het alle soorte geleerdes by hom laat kom. Hy wil hoor wat hierdie droom beteken. Hy maak vir sy geleerdes duidelik dat hy sy droom uitgelê wil sien. Dan neem die Chaldeërs die woord. Hieruit blyk dat hierdie groep die eerste plek onder Babel se geleerdes in daardie tyd ingeneem het. ‘n Mens kan dit ook verstaan as jy weet dat Nebukadnesar se pa ‘n Chaldeër was en hierdie mense ook die priesters vir die staatsgodsdiens was. Hulle vra nou in die Aramees vir die koning om vir hulle sy droom te vertel. Hoekom doen hulle dit in die Aramees en nie in Babel se eie taal nie?. Ons moet daaraan dink dat die geleerdes aan Nebukadnesar se hof uit allerhande volke en lande gekom het. Aramees was in daardie tyd die internasionale taal wat in die hoër kringe deur baie verstaan kon word. Sien ook 2 Kon 18:26.

Nebukadnesar weier om sy droom vir hulle te vertel. Hy dra hulle op om sy droom te vertel en die uitlegging daarvan te kan gee. So probeer hy om ‘n waarborg te ontvang dat die uitlegging wat hulle gee werklik reg sal wees. Was dit van Nebukadnesar in daardie tyd en binne daardie kultuur en godsdiens so ‘n vreemde besluit?

As ‘n mens daaroor mooi nadink was dit nie so nie. Die mense het toe geglo dat drome van die gode kom, dat dit boodskappe van die gode is. Die geleerdes het steeds weer gesê dat hulle met die gode in kontak staan en dat hulle daardeur ook so baie wysheid het. As die geleerdes met die godewêreld in kontak staan moet hulle so ver kan kom dat die gode ook vir hulle vertel watter droom een van hulle vir Nebukadnesar gestuur het.

Dis vir Nebukadnesar erns. As sy geleerdes sy droom nie kan vertel nie kos dit vir hulle almal hulle kop. Hulle moet hulle onwetendheid dan met die dood betaal. Die geleerdes probeer om Nebukadnesar tot ‘n ander houding te beweeg. Hulle probeer om hom sover te kry dat hy die droom self vir hulle vertel. Die HERE sorg daarvoor dat Nebukadnesar nie toegee nie. Hy wil op hierdie manier die wysheid van Babel teenoor die wysheid van Jerusalem ontmasker. Hy wil so die bedrieglike wysheid van die duiwel teenoor die wysheid van die Gees wys. Die duiwel wil van hierdie situasie ook gebruik maak want hy soek die dood van Daniël en sy vriende. As Nebukadnesar met die dood vir die geleerdes dreig is Daniël en sy vriende by die geleerdes in opleiding. Hulle opleiding is nog nie klaar nie.

Ons het in hoofstuk 1 gelees dat hulle opleiding in die eerste jaar van Nebukadnesar begin het en dit wat in ons teks gegebeur, gebeur in die tweede jaar dat Nebukadnesar koning is. Hulle opleiding was 3 jaar. Daniel en sy vriende word by die geleerdes gereken omdat hulle hul leerlinge is. Later in ons hoofstuk word ook duidelik dat Daniël nog nie as ‘n volledige geleerde gereken word nie. As Ariog in vers 25 Daniël vir Nebukadnesar aankondig ontvang hy nog nie die titel van een of ander geleerde nie. Ariog sê nie: Hier kom die geleerde of die Chaldeër Daniël nie. Dis duidelik dat Daniël nog nie een of ander graad verwerf het nie want Ariog kondig vir Daniël so by die koning aan: "Ek het ‘n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak."

Daniël en sy vriende word nou omdat hulle leerlinge van die geleerdes is ook met die dood bedreig. Die duiwel wil van hierdie 4 manne ontslae raak. Dit sal dit vir hom makliker maak om Israel te babiloniseer, om die kerk totaal te verwêreldlik.

Die HERE wys dat Hy bo alles staan. Die eerste wat hy doen is om die geleerdes, die mense wat sê dat hulle in kontak met die gode staan te laat erken dat hulle magteloos is. Nebukadnesar wys duidelik vir al die geleerdes wat voor hom staan dat hy sy droom nie sal vertel nie. As ‘n mens dan na die antwoord van die Chaldeërs in vers 11 kyk, lees ‘n mens die totale bankrotskap van alle okkulte kennis en kennis van voorouergeeste, toorspreuke, toordokters en alles wat daarmee te doen het.

Die topgeleerdes, die uitstaande wetenskaplikes wat beweer dat hulle oor goddelike kennis beskik moet nou sê: "Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie."

Hulle wat sê dat hulle in kontak met die gode staan moet nou sê: Die gode in wie se diens ons staan het geen werklike belangstelling vir die mense nie. Hulle woon nie by die mense, by die vlees nie en werklike kontak kan selfs ons en kan geen mens met hulle maak nie. Hulle het volgens eie insigte sekere tegnieke aangeleer waardeur hulle dink dat hulle drome kan uitlê maar ‘n egte kontak, ‘n egte openbaring vir die mense gee daardie gode nie. Hierdie geleerdes moet nou erken dat hulle kennis nie op vaste grond en verseker nie op goddelike grond rus nie. Die gode van wie hulle praat is so ver weg en stel geen werklike belang in die mense nie. Hier wys hulle dat hulle kennis duiwelse kennis is. Hulle kennis is bedrieglik, die gode in wie se diens hulle staan is geen gode wat liefde vir die mense het nie. So is die duiwel. Hy soek met die kennis wat hy vir die mens in allerhande okkulte kennis en wetenskap gee nie die goeie vir die mens nie maar soek die mens se ondergang en ellende en hy skaterlag as hy dit reg kry.

Hoe anders is die enigste God wat werklik bestaan, wat die Skepper van alle dinge is. Hoe lief het Hy Sy skepping, hoe lief het Hy die mense. Hy soek juis die kontak, die gemeenskap met ons. Hy het homself vir ons bekendgemaak, Hy staan nie ver van ons nie, hy soek in Sy openbaring jou en my hart, Hy wil selfs in jou hart woon. Hy wil jou deur die Bybel die onbedrieglike en belangrikste kennis gee wat jou werklik gelukkig, werklik salig maak. Hy is vir die gelowiges so naby dat Hy hulle altyd help. Ons lees in Psalm 34:19: "Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gee."

Psalm 145:18 "Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid."

Hoe is dit moontlik? Omdat die HERE, die enigste God juis die God is wat vol van liefde naby die mense wil wees. Hy het selfs nie net by maar in die vlees, en dan word hier bedoel die mense as skepsels, woning gemaak. Hy het dit deur en in ons Verlosser Jesus Christus gedoen! "En die die Word het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid." (Joh 1:14) Dit alles kom uit God se ewige liefde voort: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe hê." (Joh 3:16)

Elkeen wat by Jesus Christus, by God wat mens geword het sy lewe, sy heil soek, wat Hom volg mag weet en ervaar dat die HERE tot sy verlossing naby is. Dat God eendag selfs sigbaar onder hulle wat by Hom hulle redding gesoek het, as Sy volk sal woon. Openb 21:3.

Die HERE is naby en Hy gee vir Sy volk sy betroubare en verstaanbare openbaring. Dit wys Hy ook vir Daniël en sy vriende. Voordat dit gebeur is die omstandighede vir hierdie gelowige vroom seuns van omtrent 15 jaar baie kritiek. Ons let daarop in die tweede plek.

Daniël en sy vriende vertrou op die Almagtige

Na die Chaldeërs se antwoord dat hulle nie werklik kontak met die gode het nie is Nebukadnesar woedend. Hy voel homself bedrieg. Daarom gee hy die bevel om die geleerdes in die hele land ‘n kop kleiner te maak. Dis nie so dat die geleerdes wat voor Nebukadnesar staan dadelik doodgemaak word nie. Die woord wat in die Aramees gebruik word maak duidelik dat al die geleerdes in die land versamel, gevangegeneem moet word en dan sal die doodvonnis uitgevoer word.

Die soldate wat onder Ariog se leiding die kaserne verlaat het, soek ook Daniël en sy vriende. Ook hulle moet gevangegeneem word. As Ariog by hulle kom sien ons die wysheid wat die HERE vir hom gegee het. Hy vra eers op ‘n eerbiedige toon wat eintlik gaande is. Ariog vertel vir Daniël wat gebeur het. Nou kan Daniël reageer en hy aarsel nie ‘n oomblik nie. Hy maak vir Ariog duidelik dat hy na die koning wil gaan om vir hom te vra om vir Daniël nog tyd te gee sodat hy vir die koning die droom en die uitlegging daarvan kan gee. Ariog gee vir Daniël daartoe die vryheid en hy gaan die paleis binne om dit vir Nebukadnesar te vra en Nebukadnesar staan dit toe. Dis die HERE wat die koning se hart neig. Die HERE sorg vir Daniël en sy vriende, hulle moet bly lewe en hoë posisies in Nebukadnesar Ryk gaan inneem.

Hoe was dit vir Daniël moontlik om hierdie versoek te doen? Hoe kon hy maar dink dat hy sou kon doen wat al die geleerdes van die wêreld nie kon doen nie? Dis nie omdat Daniël so hoog van homself dink nie. Dis juis omdat hy die enigste God, die HERE ken en op Hom vertrou. Ons sien dit ook as Daniël van die paleis weer by die huis kom. Dan sê Daniël nie in hoogmoed vir sy vriende dat hy nou die droom gaan vertel en uitlê nie.

Nee, hy vertel dit wat hy van Ariog gehoor het en hoe ernstig die situasie is en vra vir sy vriende om saam met hom te bid. Die enigste redding in hierdie situasie kan van die HERE kom. Openbaring is moontlik weet hierdie jong seuns wat in die verbond opgegroei het. Die HERE kan vir hulle wys watter droom Hy as die God van die hemel vir Nebukadnesar gewys het. Dis nie ontmoontlik nie. Dis die HERE wat deur Dawid gesê het: "Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak." Psalm 25:14.

Daniël en sy vriende gaan nie die sterre bestudeer nie. Hulle trek geen horoskope nie, hulle soek geen kontak met voorouergeeste nie. Hulle maak ook nie een of ander plan om die koning te mislei nie. Nee, hulle gaan in hulle nood en in die nood vir God se volk net een pad en dit is die gebed tot die HERE. As die HERE na hulle gebed hoor en wys watter droom Hy vir Nebukadnesar gewys het word ook die ander wyse manne van Babel gered. Hulle word dan ondanks hulleself en ondanks hulle verkeerde, afgodiese siening van die dood gered. Ons sien hier hoe die wêreldgeskiedenis werk. Hoekom bestaan hierdie wêreld nog met daarop allerhande mense en magte wat Jesus Christus die Koning van die konings nie volg nie? Hoekom bestaan die sondige wêreld nog?

Ter wille van Christus se kerk, ter wille van God se uitverkorenes. Hulle moet vanweë God se ewige liefde gered word, Jesus Christus het vir hulle, vir jou en my as ons glo, gebid. Daarom bly die wêreld en ook die ongelowiges bestaan totdat die laaste uitverkorene gebore of tot geloof gekom het. Die kerk is deur God se regering en Christus se werk die kurk waarop die wêreldgeskiedenis dryf.

Omdat Christus nog moes kom, omdat jy en ek nog tot geloof moes kom het die HERE die gebed van Daniël en sy vriende verhoor. Die HERE maak Daniël tot Sy profeet. Hy wys Daniël in ‘n visioen wat Nebukadnesar gesien het en wys vir hom die uitleg van die droom. Daniël se uitleg is nie die resultaat van een of ander tegniek nie maar God se openbaring vir hom.

Ons word vandag geroep om op hierdie enige God te vertrou. Sonder hierdie vertroue behoort jy by die wêreld wat net ter wille van God se kinders bestaan en eendag die ewige verlorenheid binnegaan. Die HERE roep jou en my, roep ons as Christus se kerk om vanuit die openbaring, die Bybel wat Hy vir ons gegee het ook profeties in hierdie wêreld te staan. Hy wil ons vanuit die gebed leer om dit wat in die wêreld gebeur vanuit Sy openbaring te beoordeel en Christus se pad te wys.

Die wysheid van die wêreld is bedrieglik en vergaan. Die wysheid van die wêreldbeheerser, die duiwel, vergaan soos hy vergaan. Die wysheid van die Konings van die koning Jesus Christus is die waarheid en bly tot in ewigheid.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)