Christus se kerk ontvang heerlike erename

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:9a

1 Petrus 2:9a: "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry."

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 65:1,2,3; Lesing van die wet; Psalm 147:1,7; Skriflesing: Eksodus 19:1-9

Lukas 19:1-10; Gebed; Kollekte; S.B. 1:1,2,3,4; Teks: 1 Petrus 2:9a; Preek; Psalm 89:1,7; Dankgebed

Psalm 135:1,2; Seën

PREEK

Geliefdes in die Here Jesus Christus, priesters in diens van Koning Christus:

Die Heilige Gees het Christus as die hoeksteen van die gemeente aangewys. Hy het ons daarop gewys hoe ons as lewende stene in Sy huis ingebou kan word; hoe Hy ons daartoe oproep. Hoe kosbaar is Christus, die steen waarop die kerk gebou is, vir enigeen wat glo. Hulle wat nie glo nie, hulle wat aanstoot neem aan Christus as die Verlosser en hulle aan Hom stamp, struikel vir ewig. Hulle ewige verlorenheid is hulle eie skuld. Hulle kan die skuld daarvan nie op die HERE afskuif nie. Niemand kan sê dat hy daarop reg het dat God hom of haar uitkies nie. As die HERE mense wat hulleself onder God se toorn in die ewige dood gebring het (en dit het die mens vanaf die sondeval gedoen) nie uitkies nie, kan hulle nie kla as die HERE by hulle verbygaan en hulle bly verwerp nie.

Hoe groot is die wonder as jy by God se volk mag behoort! Hoe heerlik is dan die bewys van God se onverdiende uitverkiesing. Dit is waarop die eerste woord van ons teks wys. Die ongehoorsames is daartoe bestem om hulle aan Christus te stamp, maar julle is ‘n uitverkore geslag. God se verkiesing is die grond waarop die kerk gebou is. Die hoeksteen Christus is deur God as die fondament uitgekies en die lewende stene wat daarop gebou word, is deur Hom daartoe uitgekies om op Christus gebou te word. Die vastheid van God se gebou, van Sy huis, lê in Sy verkiesing. Sy ewige liefde vir Sy volk sorg dan ook daarvoor dat Sy gemeente heerlike name ontvang.

Ek verkondig vir julle die heerlike evangelie onder die tema:

CHRISTUS SE KERK ONTVANG HEERLIKE ERENAME

  1. ‘n Uitverkore geslag
  2. ‘n Koninklike priesterdom
  3. ‘n Heilige volk
  4. ‘n Volk as eiendom verkry

‘n Uitverkore geslag

Petrus verwys nou na die gemeente wat uit die heidendom, uit die ongeloof elke week na die verkondiging van die evangelie luister en in liefde vir Christus wil lewe. Hy noem hulle nou met vier erename. Die HERE maak daarmee duidelik dat die gemeente ook kosbaar in Sy oë is. Kosbaar omdat Christus se kosbare bloed vir die gemeente gevloei het. Die kosbaarheid van die gemeente word vir ons duidelik sigbaar as ons op die vier erename let.

‘n uitverkore geslag. Dit wys al dadelik daarop dat Sy volk deur Hom tot ‘n volk, tot ‘n geslag gemaak is. Op hierdie aarde bestaan baie geslagte, nasies en volke. Dit is eintlik altyd so dat die bestaan van geslagte, nasies en volke grotendeels deur die bloedband bepaal word. Dit is sonder twyfel by geslagte die belangrikste faktor. Dit is egter nie die geval by die gemeente, by die kerk nie. ‘n Mens behoort nie aan die kerk omdat hy afstam van iemand wat lidmaat van die kerk was nie. Hy behoort nie aan die kerk omdat hy ‘n Jood, ‘n Afrikaner of ‘n Venda is nie. Hy behoort nie aan die kerk omdat hy uit ‘n familie stam wat ‘n belangrike en goeie plek in Christus se kerk ingeneem het nie. Dis die HERE wat mense uitgekies het en hulle saamgebring het. Dis die HERE wat mense deur Sy Gees tot mense gemaak het wat Jesus Christus liefgekry het en in gehoorsaamheid vir Hom wil lewe. Hulle wil by Christus, by God behoort. Dat hulle God se volk, Sy geslag wil wees, het die gemeente aan niks anders as aan God se liefdevolle keuse vir hulle te danke nie. Die gemeente is ‘n uitverkore geslag; dit beteken dat die gemeente uit al die ander geslagte deur God gekies en getrek is om ‘n nuwe geslag, ‘n nuwe volk te wees wat deur die trou en liefde aan Christus gekenmerk word.

Koninklike priesterdom. As die volk Israel deur God se liefde, deur Sy keuse uit Egipte gelei is, sê Hy vir Moses dat hy o.a. dit vir die volk moet sê: "As julle dan nou terdeë na My stem luister en My verbond hou, sal julle My eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is Myne. En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees." (Eks 19:5,6)

Die volk Israel word deur die HERE toe al ‘n koninkryk van priesters genoem. Dit was toe onder die konings van die volke in die Ooste ‘n gebruik om ‘n groep priesters in hulle diens te hê, mense wat op die bevel van die koning vir die staatsgodsdiens sorg. Die HERE wys nou dat Sy hele volk in Sy diens staan. Hy is hulle Koning en ook hulle God. Hulle lewe word deur die diens aan Hom gekenmerk. Hulle hele lewe moet diens aan Hom wees. Die HERE het uit al die volke een koninkryk van priesters uitgekies. Binne hierdie koninkryk, binne hierdie volk kies hy dan weer ‘n groep mense uit wat priesters in die tempel mag en moet wees. Dit mag net die geslag van Aäron wees. Onder die volke wat op die aarde lewe, is dit Israel wat as volk die priestervolk van die HERE as die groot Koning is. Hulle het daardeur onder die volke ‘n besondere taak. Hulle mag en moet vir die wêreld wys wat lewe in die nabyheid en met die HERE beteken. Sien ook o.a. Lev 20:26; Deut 4;20.

Petrus wys in ons teks dat hierdie groot voorreg op Christus se gemeente oorgegaan het. Om te beklemtoon dat die hele gemeente God se priestervolk is, gebruik hy die onsydige woord priesterdom. Nou is dit die christelike gemeente wat as volk priesters in diens van Koning Christus is. Dis die heerlike voorreg dat jy en ek in Christus se nabyheid mag lewe en Hom as die werklike Koning van hemel en aarde mag dien. Dit kan die uitverkore volk doen en wees omdat hierdie volk ‘n heilige volk is.

‘n heilige volk. Die erenaam heilige volk, heilige nasie, het die HERE ook vir Sy verbondsvolk in die Ou Testament gegee. Ook dit lees ons in Eks 19:6.

Hoekom noem die HERE Israel in die Ou Testament en Sy volk in die Nuwe Testament ‘n heilige volk? Is dit omdat Israel en ons vandag so heilig, so goed lewe? Omdat ons die sondes agter ons gelaat het? Nee en nog ‘n keer nee! Die eerste betekenis van die woord heilig is afgesonder wees. Die HERE het ‘n volk uitgekies en Hy sonder hulle af, skei hulle van ander volke en mense. Hy sorg daarvoor dat hulle bymekaar kom en leer sien dat die gesamentlike band aan Christus meer is as enige bloedband op hierdie aarde. Die HERE het jou en my afgesonder om saam Sy volk te wees. Hy het jou geroep, Hy het jou binne die verbond laat gebore word of binne Sy verbond gebring om van die wêreld, wat net die plesier van die sonde soek, afgesonder te wees. Die HERE sonder Sy volk af met die doel om regtig al hoe meer heilig te leer lewe. Ons sien hier weer God se onverdiende liefde en verkiesing dat Hy ons in Sy genade van die wêreld, wat in sonde en verlorenheid lê, afgesonder het. Die HERE het dit met ons gedoen omdat ons Sy besondere eiendom is.

‘n volk as eiendom verkry. Weer sien ons hoe die Heilige Gees God se volk uit alle volke in die Nuwe Testament dieselfde erenaam gee as die volk Israel in die Ou Testament. Die HERE sê vir Israel in Eks 19: "As julle dan nou terdeë na My stem luister en My verbond hou, sal julle My eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is Myne." Die HERE wys ook in Jesaja 43 met klem daarop dat Israel Sy volk, Sy eiendom is. "Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof verkondig" (vers 21).

Hoe is dit nou moontlik dat die HERE sê dat ‘n sekere volk, dat die kerk Sy eiendom is? Dis tog so dat alles wat ons sien in die skepping aan Hom behoort? Die HERE sê dit self in Eks 19 dat die hele aarde aan Hom behoort. Hy kan regtig met alles en elkeen doen wat Hy wil. Hy het alles gemaak en daarom behoort alles aan Hom (Ps 24:1,2). As ‘n mens dit raaksien, besef hy hoe besonder dit is as Hy Christus se kerk Sy eiendom noem. Alles behoort aan Hom; maar met Christus se kerk, met die gelowiges het Hy ‘n besondere band. Ons mag op ‘n besondere manier Sy eiendom wees. Ons mag die eiendom wees wat Hy in Sy liefde en sorg koester. Sy eiendom wat Hy uit ellende, verdriet, verslawing aan die verkeerde, wat Hy uit die greep van die sonde en die duiwel red.

Hoe kosbaar is die kerk, is elkeen vir die HERE wat by Christus se redding soek. Dis die HERE wat deur die dood van Sy Seun jou, die hele gemeente gekoop het. Hy het daarvoor die hoogste prys betaal wat betaal kon word. Dit wys ons hoe groot God se liefde vir ons, vir jou is. Hoe kosbaar is die gemeente deur die prys wat Hy betaal het. Dit moet groot betekenis vir ons hê. Ook vir ons broeders ampsdraers. Hoor wat die Heilige Gees vir ons as ampsdraers in Hand 20:28 sê: "Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het."

Dit het ook groot betekenis vir ons almal. As ons sien en regtig besef hoe baie die HERE vir ons betaal het om daarvoor te sorg dat ons in Sy besondere liefde as Sy besondere eiendom kan deel, mag ‘n lewe vol dankbaarheid vir die HERE in jou lewe, in ons lewe as gemeente nie ontbreek nie. Paulus skryf vir Titus van Jesus Christus ons Verlosser: "wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as Sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke" (2:14).

Die HERE se volk word as Sy eiendom o.a. herken deurdat ons lewe vol van goeie werke is. Die liefde van Christus skyn deur Sy eiendomsvolk die wêreld in deurdat Sy gemeente graag goeie werke doen, graag in liefde na ander omsien en omgee.

God se kinders straal Christus se lig uit, hulle wys in hul lewens dat hulle anders is. Ek wil dit vanmore net deur middel van een geskiedenis in die Bybel illustreer. Ons kan dit ook op allerhande ander terreine van die lewe duidelik maak. Ek wil nou kortliks julle aandag vir die geskiedenis van Saggeus vra: Lukas 19:1-10. Saggeus was ‘n tollenaar. Hy het vir die Romeine belasting by die mense geëis. Wanneer hy die belasting ingesamel het, het hy meer as die vasgestelde belasting gevra en dit was dan die deel wat hy vir homself mog hou. Saggeus het nes ander tollenaars skandelik te veel vir homself gevra. Hy het deur sy verkeerde manier van lewe skuld teenoor die HERE en die volk opgebou. Saggeus ontmoet die Here Jesus en besef sy skuld. Hy kom tot geloof. Dis nie so dat Saggeus tot geloof kom en dat hy dan sê dat die verlede die verlede is, dat hy toe skuld opgebou het maar niks daaraan kan doen nie. Volgens die wette wat toe in die land van krag was, was hy nie verplig om selfs ‘n deeltjie van sy skuld te betaal nie. Die Romeine sou hom verseker nie daartoe dwing nie. Saggeus leer sien dat die liefde van Christus wat hom oorwin het, ook beteken dat hy sy skuld vereffen al bestaan geen menslike wet wat hom daartoe verplig nie. Die liefde van Christus wat hy leer ken het, bring hom tot belofte: "as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug" (Luk 19:8). God se kinders wat aan Christus behoort, sal hulle nooit agter menslike wette verskuil nie en altyd hulle trou en verantwoordelikheid wys. Hulle sal nooit ‘n ander laat ly onder dinge wat hulle verkeerd gedoen het nie. So straal Christene, God se volk, die kerk van Christus, God se trou en goedheid die wêreld in.

Ons is as Christus se gemeente ‘n volk wat God as Sy eiendom verkry het. Dit is goed om vanuit wat die HERE hier sê van tyd tot tyd onsself weer af te vra en te ondersoek of ons as gemeente so lewe. Dis so belangrik dat ons steeds weer ons oë en harte vir mekaar oopmaak en oophou. Dat ons steeds weer bedink hoe ‘n hoë prys Christus vir Sy gemeente betaal het. Die band wat Hy deur Sy Gees tussen die lidmate van Sy gemeente gelê het, is meer as ‘n familieband, meer as ‘n band wat ‘n groep vriende het.

Daarom kan dit onder ons nie so wees dat ons intense meelewing en betrokkenheid by onsself of by ons familie of by ons vriende in die pad van die liefdevolle betrokkenheid by die res van die gemeente staan nie. Dit mag selfs nie so wees dat ons liefde en betrokkenheid tot die gemeente beperk bly nie. Hoe goed is dit om rêrig te wys dat elkeen van ons in moeite, verdriet en blydskap met mekaar meelewe, mekaar as dit nodig is help, duidelik maak dat ons ook vir mekaar bid.

Die HERE het ons tot Sy volk gemaak. Jy moet mooi daarop let hoe die Gees in ons teks daarop klem lê. Hoe Hy daarop klem lê dat ons as gemeente bymekaar behoort. Dat ons as gemeente een geheel vorm. Let op die woorde: geslag, priesterdom, volk, volk. Ons is in ons tyd en as mense wat veral deur die Westerse samelewing beinvloed is, geneig om baie individualisties te dink en te lewe. Om sterk klem op ons selfstandigheid en vryheid te lê. Die gevaar is groot dat ons glo en nogtans dit najaag wat vir jou as persoon lekker is, en dat jy jou nie in die eerste plek deel van Christus se gemeente, waar Hy jou ‘n plek gegee het, voel nie. Besef ons nog genoeg die verantwoordelikheid wat ons teenoor mekaar as gemeente, as volk van God het? Dis belangrik dat ons individualisme laat staan en regtig as volk vanuit Christus se liefde verantwoordelikheid vir mekaar neem en bly neem. Dan leer ons juis as volk, as gemeente wat die groot doel van ons lewe as Christus se gemeente is. As Paulus in Efesiërs 1 die loflied op die verlossing deur Christus en die genadige verkiesing van God sing, lees ons in vers 14: "Die Heilige Gees wat die onderpand is van ons erfdeel om Sy eiendom te verlos tot lof van Sy heerlikheid."

Ons mag God se volk, Sy eiendom wees en dan is die groot doelwit van jou lewe en van die lewe van die gemeente die lof en verheerliking van God. Of om dit met die vervolg van ons teks te sê: "om te verkondig die deugde van Hom."

Laat ons ons regtig gedra volgens die erename wat die HERE vir ons gegee het. Dan is ons Christus se gemeente, God se huis. Dan is hierdie name nie leë name wat ons in ons mond neem nie. Dan is ons regtig ‘n volk tot eer van God.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)