Jesus Christus die Steen van die beslissing

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:6-8

1 Petrus 2: 6-8: "Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk. Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling – vir hulle wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is."

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 27:1,2; Lesing van die wet; Genadeverkondiging; Psalm 1:1,4

Skriflesing: Psalm 118: 14-29; Jesaja 8:1-16; Gebed; Kollekte; Psalm 36; Teks: 1 Petrus 2:6-8

Preek; Psalm 89:1,7; Dankgebed; Psalm 118: 11,12; Seën

PREEK

Broers en susters, gemeente van ons geliefde Heiland Jesus Christus.

Wie die verse van ons teks lees en dit met aandag doen, sien dat amper al die werkwoorde wat gebruik word in die teenwoordige tyd gebruik word. Die enigste uitsondering is verwerp het in die aanhaling uit Psalm 118.

Die werkwoorde in die teenwoordige tyd wys daarop dat dit waaroor Petrus skryf besig is om te gebeur. Dit is nie iets van die verlede nie. Die dinge wat hy skryf is nog steeds besig om te gebeur. Wie vanuit ons teks rondkyk, sien dit vandag ook gebeur. Die Heilige Gees help ons hier om te sien wat in die wêreld rondom ons besig is om te gebeur.

Hy help ons om ook onsself te ken en onsself en die gemeente te toets. Om onsself te toets of ons nog besig is om ons lewe, om die lewe van die gemeente op Christus as die Hoeksteen te bou. Die belangrikste van die lewe op aarde is of ons op Hom bou. Hy is die Steen van die beslissing.

Ek verkondig vir julle Jesus Christus onder die tema:

JESUS CHRISTUS DIE STEEN VAN DIE BESLISSING

  1. Die Steen van die verlossing vir die gelowiges.
  2. Die Steen van struikeling vir die ongelowiges.

Die Steen van die verlossing vir die ongelowiges.

Petrus begin ons teks met die woord daarom. Daarmee wys hy hoekom ons geroep is om onsself, om as gemeente ons tot ‘n geestelike huis te laat opbou. Hoekom ons geroep is om geestelike offers te bring. Die bewys daarvoor haal Petrus uit die Skrif. Dit val op dat hy hier die woord Skrif gebruik. Dis opvallend omdat mense toe nog geen boeke soos ons hulle vandag ken geken het nie. Alles was op boekrolle geskryf. Die papier wat hulle toe gebruik het was so dat die hele Ou Testament nooit op een boekrol geskryf kon word nie. Daarvoor was baie boekrolle nodig. Daarvoor was baie Skrifte nodig. Petrus gebruik hier vir al die boekrolle, vir al die Skrifte die woord Skrif. Petrus doen dit ook in Hand 1:16 en 2 Pet 1:20. Hy beklemtoon dat elke Bybelboek God se Woord is wat nie verdraai mag word nie. Dieselfde doen Petrus as hy in 2 Pet 3:16 die meervoud Skrifte gebruik. Die meervoud wat hy in ons teks gebruik wys daarop dat die Woord wat uit verskillende boeke bestaan, een boek is, God se boek wat van die Christus, van die Verlosser getuig. Daarom kan Petrus in ons verse ook uit verskillende Bybelboeke tekste aanhaal. Watter gedeeltes uit die Ou Testament gebruik Petrus hier?

In vers 6 is dit Jesaja 28:16. By hierdie vers maak hy ‘n toepassing in die eerste gedeelte van vers 7. Daarna volg ‘n aanhaling uit Psalm 118:22 en een uit Jesaja 8:14. Die toepassing van hierdie tekste volg in vers 8. Eers kom Petrus met ‘n positiewe boodskap en daarna wys hy op die negatiewe. Laat ons nou eers na die positiewe boodskap kyk.

Vorige week het ons al gesien in watter omstandighede Jesaja die woorde van hoofstuk 28 uitspreek. Vir hulle wat toe nie aanwesig was gee ek nou in ‘n enkele sin ‘n opsomming. Israel se leiers gee verkeerde leiding. Dit geld sowel vir die leiers wat die volk regeer as die priesters en die profete. Die leiers vertrou op hulle eie verstand en slimheid. Die HERE wys aan dat dit nie sal help nie. Hulle wil nie na die HERE luister nie en daarom sal die volk juis in die ellende kom. Die leiers kan nie die bou en behoud van die volk, van die kerk waarborg nie. Hulle is juis besig om God se volk in die ongeluk te stort. Dan wys die HERE dat Hy ondanks dit daarvoor sal sorg dat die volk bly bestaan. Hy bou ondanks menslike ontrou Sy kerk. Dis die verband waarin Hy sê: "Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie."

Hier wys die HERE daarop dat die deel van die volk sal bly bestaan wat in daardie hoeksteen glo, wat hulle op daardie hoeksteen laat bou. Wat hulle lewe en bestaan nie op leiers wat verkeerde leiding gee bou nie maar op die leiding wat God deur Sy hoeksteen gee. Dis die steen wat die HERE uitgekies het en kosbaar in Sy oë is. Wie op hierdie hoeksteen sy lewe bou, wie deur hierdie hoeksteen laat bepaal op watter plek jy in God se geestelike huis gebou word, sal ervaar dat sy lewe goed is. Die mens, die gemeente wat op Christus, wat die hoeksteen is, sy lewe bou, deur Christus se leiding laat bepaal waar jy in Sy kerk en koninkryk mag bou sal nooit beskaam word nie.

Dit wil nie sê dat jy nooit moeilike dinge in jou lewe sal meemaak nie. Dit wil nie sê dat dit met ons as gemeente altyd uiterlik voorspoedig sal gaan nie. Hoe dit ook gaan, altyd sal die mens en die gemeente wat op Christus bly bou, wat in gehoorsaamheid aan Hom aktief bly, die HERE se hulp ervaar. Dan sal jy, dan sal ons altyd weer met die digter van Psalm 34 ervaar: "Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. … Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit almal red die HERE hom." (vers 16,20) Die HERE laat elke mens en elke gemeente wat op Christus bou nie in die steek nie. Hy omring hulle altyd weer met Sy liefde, leiding en hulp. As ‘n mens so die Here se goedheid geproe het, is Christus vir hom so kosbaar. "Vir hulle wat glo, is hy kosbaar."

Hoekom is Hy vir hulle so kosbaar? Omdat hulle wat glo, leer sien het wie Jesus Christus is en wat Hy gedoen het. Hulle het ook leer sien wat ‘n lewe sonder Christus beteken. Petrus het al eerder op die kosbaarheid van Christus se werk gewys. Kyk maar in 1:18,19. Jesus Christus, God se Seun, het met meer as alle geld en goed van die hele wêreld die gelowiges se skuld betaal en gedra. God se Seun het met Sy onnoemlik kosbare bloed, met die lewe van God se Seun vir hulle betaal. Hy is die skat van onskatbare waarde. Dit leer ‘n mens net in die lig van God se liefde in Christus raaksien. Dis God die Seun wat ‘n heerlike posisie in die hemel gehad het, wat daar deur al die bewoners van die hemel geeer is en dan die hemel verlaat om op die wêreld uit liefde vir die uitverkore sondaars tot in die diepste diepte van die hel mishandel te word. Hy is dit wat vir die uitverkore sondaars gesterf het. So lief het God die wêreld gehad. Sy liefde strek na sondaars, na ‘n gemeente van sondaars uit. Wie dit sien, wie dit op waarde leer skat, vir hom of haar is die Here Jesus so kosbaar. Hy het vir jou dan die allerlaaste in die lewe geword wat jy wil kwytraak. Hy het vir jou belangriker as jou vrou, as jou man, as wie dan ook op die aarde geword. Juis daarom wil die gemeente in die kader van gemeentebou na Sy stem luister. Sy stem bring die beslissing. Sonder die onverwoesbare band met Christus is geloofsopbou, is gemeentebou onmoontlik. Die HERE se liefde in Christus is so groot dat Sy liefde hom na die gelowiges bly uitstrek tot in en na die dood. Die digter van psalm 116 kan deur die Gees gelei sing: "Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge ……kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote." (Ps 116:1,15) Die liefde vir Sy gunsgenote het die HERE daartoe beweeg om selfs Sy Seun as Verlosser te stuur. Hoe is die hart van die HERE vol van liefde. Wie na hierdie hart van God vlug en by Hom skuil, by Hom vergifnis en lewe soek is ‘n gelowige wat op Christus die hoeksteen gebou word. Dan sal jy nooit meer uit God se gebou gestoot word nie. Die gelowige omhels Christus en God se belofte in sy of haar lewe. Hoe goed is die lewe met Christus, hoe goed is die lewe in God se huis. Hoe anders is dit as mense oor Christus wat die lewende steen is struikel. Ons let daarop in die tweede plek

Die Steen van struikeling vir die ongelowiges.

Petrus teken die teenstelling, die antitese tussen geloof en ongeloof en daardeur tussen gelowiges en ongelowiges sterk. Hy wys aan wat die oorsaak van hierdie teenstelling is. Weer haal hy uit die Ou-Testament aan. Eers psalm 118:22.

Die persoon wat psalm 118 geskryf het, weet van moeilik situasies, van behoudheid in die lewe. Sien vers 5. Dit wat ons in Jesaja 28 gesien het dat nie op mense en hulle krag die kerk gebou kan word nie lees ons ook hier. Ons lees in vers 9: "Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou." Hierdie kind van God skuil en vertrou op die HERE en Sy dade. Hy vertrou so op die HERE dat as mense verwerp, afkeur wat die HERE gesê en gedoen het, hy nogtans daarop bly bou. Daarom kan hy in geloofsvertroue skryf en profeteer: " Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë."

Die digter van hierdie teks het hier van Christus se verwerping geprofeteer. Dis die Here Jesus self wat al eerder daarop gewys het dat Psalm 118:22,23 op Hom wys en op wat met Hom gaan gebeur.

Hy het dit gedoen toe hy die gelykenis van die landbouers vertel. ‘n Man het die grond wat hy geskik gemaak het om daarop druiwe te verbou aan ander mense verhuur. Die huurprys, ‘n deel van die oes, is vasgestel. Hierdie man stuur op die regte tyd iemand om huurprys te haal. Die landbouers weier om te betaal. Hulle mishandel die mense wat dit kom haal en die derde keer maak hulle selfs die heer se kneg dood. Dan besluit die heer om sy seun te stuur. Hulle maak die seun, wat die erfgenaam is, ook dood. As die Here Jesus dit vertel het sê Hy: "Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: "Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword? Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë." (Mark 12:9-11)

Die seun van die eienaar is die Here Christus wat God se Seun is. Die landbouers wat mishandel en doodmaak, is die Jode wat profete mishandel en gedood het en selfs Christus die Steen sal gaan doodmaak. Hulle sal struikel oor Christus die Steen wat deur God tot die hoeksteen van Sy kerk gemaak is.

Petrus wil nou juis beklemtoon hoe Christus ook die Steen van struikeling is en daarom wys hy ook nog op Jesaja 8:14. Wat is die verband waarin dit gesê word? Laat ons saam na Jesaja 8 kyk.

Ons vind in hierdie hoofstuk weer dieselfde verkeerde manier van lewe as in Jesaja 28. Die HERE se groot verwyt aan Sy volk is dat hulle nie op Hom vertrou nie maar op allerhande wêreldse magte. Ons lees dit duidelik in vers 6: "Omdat hierdie volk die waters van Siloa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remalia".

Die waters van Siloa is die simbool van die HERE se krag. Hy sal Sy volk as hulle op Hom vertrou teen die grootste wêreldmag beskerm. Juda lewe nie so terwyl koning Agas regeer nie. Die HERE se hulp is vir hulle nie genoeg nie. Hulle soek hulle beskerming by koning Tiglat-Pileser van Assyrië. Hulle is nou bly omdat hierdie koning Sirië onder leiding van Resin verslaan het. Die vertaling van vers 6 kan maklik 'n misverstand wek. Dis beter om nie te vertaal "en daar is vreugde saam met Resin" nie maar om te vertaal daar is vreugde oor Resin. Juda is bly omdat dit lyk asof hulle steun op Assirië positief gewerk het. Die toekoms sal leer dat dit nie so is nie.

Juda wil nie op die HERE vertrou nie. Dit moet hulle doen, hulle moet Sy almag erken, hulle moet Hom heilig. Daarop wys die HERE in vers 13: "Die HERE van die leërskare – Hom moet julle heilig, en Hy julle vrees en verskrikking wees!" Omdat hulle dit nie doen, omdat hulle nie werklik glo nie gebeur die volgende: "Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem. En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word." (14,15)

As mense, as ‘n gemeente nie by die HERE ,as die heiligdom waarbinne hulle veilig is, skuil nie beteken hulle verwerping van die HERE juis hulle ondergang.

Die kenmerk van die ongeloof, van die ongelowiges is dat hulle Christus as die hoeksteen bly afkeur. Nie een keer nie maar steeds weer. Dis duidelik dat Petrus deur die Gees gelei daarop wys dat Jesaja 8:14 van Christus praat. Net ‘n opmerking tussendeur: Dis weer ‘n bewys van Christus se Godheid. Jes 8:14 praat naamlik van die HERE!

Ongelowiges stamp hulle steeds weer aan Christus. Hulle wil nie erken dat hulle Hom nodig het om gered te word nie. Hulle wil nie erken dat hulle so sondig is dat hulle vir elke dag van hulle lewe vergifnis nodig het nie. Hulle vererger hulle dat een mens vir ander mense gely het. Dis ook ongeloof as ons weier om vanuit Christus se liefde steeds weer ‘n ander te vergewe. Dis ongeloof as ons nie bereid is om steeds weer opnuut in die gemeente met mekaar te begin nie. Dis ongeloof as ons net in ‘n liewe Jesus wil glo en dink dat Hy die ongeloof en die ongelowiges nie sal straf nie. Jesus Christus vra volledige vertroue op Hom. Hy vra van mense dat hulle Hom as die belangrikste in hulle lewe eerbiedig en volg. Juis daarom sê Simeon as hy Jesus as baba in sy arms hou: "Kyk, hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word – ja ‘n swaard sal deur jou (Maria se) eie siel gaan – sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word." (Luk 2:34,35)

Elkeen wat hom vererger aan Christus soos Hy in die Bybel, in die Skrif tot ons kom, stamp hom aan Hom. Hy is besig om oor Christus te struikel en as hy dit bly doen, bly hy vir altyd en ewig in die ewig dood lê. Dan is die ewige straf, omdat hy hom aan Christus stamp en stamp, vir hom onontkoombaar. Wie tot die gemeente behoort maar nie in gehoorsaamheid aan Christus wil lewe nie, wie hom ook as lidmaat van die gemeente steeds weer aan Christus stamp moet weet dat hy ‘n ongelowige is. Hy moet ook weet wat ons in 1 Petrus 4:17 lees: "Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?"

Die ongehoorsaamheid van mense, die ongeloof van mense waardeur hulle juis oor Christus struikel is vir die HERE geen verrassing nie. Dit alles is in die HERE se raad, in Sy plan opgeneem. Die mense wat in ongeloof lewe, wat in blywende ongehoorsaamheid lewe is ook daartoe bestem om oor Christus vir ewig te struikel. (Sien o.a. ook: Hand 1:7; 1 Tes 5:9; 1 Petr 1:2) Die oorsaak van hulle verwerping deur die HERE is hulle ongeloof, hulle ongehoorsaamheid. Dis nie die HERE se skuld nie. Die ongelowiges gaan die pad wat elkeen van ons verdien het, wat elkeen van ons na die sondeval uit homself stap. Hoe heerlik is dit as jy by Christus se gemeente mag behoort. As jy met jou sondes en gebreke tog steeds weer na Christus vlug en by Hom jou lewe soek en jou laat gebruik by die opbou van die gemeente. Dan mag jy daarin God se uiverkiesende liefde vir jou sien. Die Seun van God, die lewende steen, het vir Hom ‘n gemeente tot die ewige lewe uitverkies. Sien Sondag 21. Hoe heerlik is dit om daarvan ‘n lewende lidmaat te wees. Leef dan ook so dat jy jou nie aan Christus stamp nie, dat Hy vir jou nie ‘n val maar die opstanding van jou lewe is. Dat jy mag behoort tot die uitverkore geslag, die koninklike priesterdom wat Christus se gemeente is. Daaroor volgende week, so die Here wil meer.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)