Christus die Lewende Steen en ons as lewende stene

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:4,5

1 Petrus 2:4,5: "Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus."

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/ Seëngroet; S.B. 25; Lesing van die wet; Psalm 51: 6,8; Skriflesing: Jesaja 28: 14-23

Handelinge 4:1-12; Gebed; Kollekte; Psalm 102: 6,7,8,9; Teks: 1 Petrus 2: 4,5; Preek

Psalm 50:7,11; Dankgebed; S.B. 40: 5,6,7; Seën

PREEK

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus

Die Heilige Gees het vir ons in die verse 1-3 opgeroep om die kwaad in ons lewe af te lê en om regtig sterk na die Woord en die groei in kennis en liefde vir die Woord te verlang.

As ‘n mens so vir die HERE lewe beteken dit ook dat ander dinge in jou lewe belangrik word. Dan het dit ook betekenis vir die prioritiete wat ons in ons lewe stel. Dis nodig dat ons daaroor in die kader van gemeentebou besin en ons op hierdie punt ook regruk as dit nodig is. Dat ons ook op hierdie punt wys wat die doelwit en verlange van ons hart en lewe is. Ons kan hierin maklik verswak.

Waarvoor kies ons as ‘n Bybelstudiegemeentevergadering gehou word terwyl, nadat dit bekendgemaak word, jy hoor dat van jou op dieselfde aand verwag word om rugby of sokker te speel? Watter span is dan vir jou belangriker? Die rugbyspan of die span van die gemeenskap van die heiliges? Is die sokker dan belangriker as om as Christus se span saam te groei in die kennis van die Woord? As jy moet kies tussen katkisasie, bybelstudievereniging of die sport wat deur die skool georganiseer word, wat doen jy dan? Kies ons dan vir die groei in Christus of vir die sport en vir die skool omdat die skool dit van jou verwag? As ons op ‘n Sondag iewers lekker kuier en die tyd vir die kerkdiens nader, bly ons dan lekker saam kuier of gee ons gehoor aan Christus se oproep om na Sy stem te kom luister? Al hierdie dinge het alles met gemeentebou te doen, het alles daarmee te doen of ons ons as lewende stene by die bou van Christus se huis wil laat gebruik. Dit is waaroor dit in ons teks gaan.

Ek verkondig vir julle die evangelie van Jesus Christus wat die lewende steen is onder die tema:

CHRISTUS DIE LEWENDE STEEN EN ONS AS LEWENDE STENE

  1. Kom tot die lewende steen
  2. Laat jou as ‘n lewende steen gebruik
  3. Om offers te bring

Kom tot die lewende steen

Petrus het daarop gewys dat ‘n mens wat vanuit die Woord die HERE se goedheid geproe het nie meer van die Woord kan loskom nie. Hy wil al hoe meer die HERE wat vol goedheid is leer ken. Hy wil al hoe intiemer, al hoe vertrouliker met Hom kan omgaan. Om so te kan lewe is dit nodig om nie op jou plek te bly staan nie. Dis nodig om in beweging te kom.

Petrus sê vir ons: "Kom na Hom toe, die lewende steen". Jesus se apostel herhaal met ander woorde die woorde van Sy Meester. Die Here Jesus het naamlik in Matt 11:28 gesê: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee."

Tot wie moet ons kom, na wie toe moet ons ons beweeg? Na Christus wat die lewende steen is. Eintlik is dit ‘n vreemde kombinasie van woorde. ‘n Steen is die teken van iets wat sonder lewe is. Dis ‘n dooie ding. Jy kan ‘n steen in jou hand neem en daarmee maak wat jy wil. Jy kan die steen messel, jy kan hom middeldeur kap, jy kan hom heeltemal stukkend kap en die steen sal nie protesteer nie.

Die Here Jesus word hier die lewende steen genoem omdat Hy vir die wonder van die opstanding gesorg het. Hy was dood, dit het gelyk asof elkeen met Sy liggaam kon doen wat hy wou, dit het gelyk asof Hy magteloos geword het. Dit het gelyk asof Sy liggaam so dood soos ‘n steen, soos ‘n klip geword het maar Hy het uit die dood opgestaan, Hy het die lewe weer geneem. Hy is die lewende steen. Hy is die steen waarop God se huis, waarop Sy kerk gebou word. Hy is die fondament waarsonder die kerk nie gebou kon en kan word nie. Hy is die lewende fondamentsteen wat deurdat Hy lewe nog altyd die bou van die kerk as God se huis bepaal. Hy is die steen waarvan Jesaja meer as 600 jaar voor Christus se geboorte al profeteer. Ons het daarvan in Jesaja 28 gelees. Wat is die situasie waarin Jesaja hierdie woorde uitspreek?

Laat ons na Jesaja 28 kyk. Jesaja wys in hierdie hoofstuk daarop dat God se volk geen goeie leiding kry nie. Die leiers, die ampsdraers wyk van die HERE af en lei die volk daardeur in ‘n verkeerde rigting. Die lewe van die ampsdraers word in daardie tyd meer deur wyn en sterk drank bepaal as deur die liefde vir God. Kyk in vers 7,8: "En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak. Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie." Vanaf vers 14 spreek die HERE veral die politieke leiers van Sy volk aan. Ons lees in vers 15 dat hierdie leiers ‘n verbond met die dood gesluit het en dat hulle die leuen hulle skuilplek gemaak het. Wat beteken dit?

Dis die politieke leiers wat vir die toekoms en die politiek nie op die HERE en Sy leiding vertrou nie. Assirië is die magtige land waarmee ook Israel rekening moet hou. Die leiers speel ‘n diplomatieke vuil spel. Hulle is teenoor die Assiriërs baie vriendlik terwyl hulle in die geheim hulle by ‘n anti-Assiriese koalisie aansluit. Hulle hoop om op hierdie manier aan dood en verdrukking te ontkom. As Assirië wen sal hulle gou aan die anti-Assiriese koalisie onttrek en as Assirië verloor sal hulle hulle openlik by die anti-Assiriese koalisie aansluit. Hoe slim lyk hierdie plan nie. Die leiers van die volk soek hulle sekuriteit by eie berekening en nie by die HERE en Sy bevel nie.

Juis dan maak die HERE duidelik dat die voortbestaan van Sy volk, die kerk nie daarop gebou kan word nie. As ons op eie berekening en slimheid bou gaan dit verkeerd. Die leiers dink dat hulle die dood en ondergang sal afweer. Jesaja moet in God se naam verkondig dat hulle hulleself en die volk bedrieg en bedreig. Hierdie bedrieglike politiek sal juis vir dood en verderf sorg. Die Assiriërs sal juis as ‘n golwende gesel kom wat onder Israel dood en verderf sal saai. Die leiers se vertroue op hulleself kan Israel nie red nie. Hulle is nie die stene waarop God se volk gebou kan word nie. Nogtans sorg die HERE vir die redding en die voortbestaan van die volk, van die kerk. Dit lees ons in vers 16: "daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie."

Die Jode het hierdie teks al so uitgelê dat dit oor die Messias gaan wat sal kom. Dit was net die gemeenskap wat in Qumran gebly het wat by die grondsteen aan die ware volk van God gedink het. Die Heilige Gees maak in 1 Pet 2:6 duidelik dat ons hier aan die Christus moet dink wat gekom het. Die Here Jesus is die grondsteen waarop God se volk gebou is. Hy waarborg deur Sy werk en lewe die voortbestaan van die kerk. As mense op Hom as die lewende steen bou kan hulle rustig wees, dan is dit nie nodig om haastig te wees, dan is dit by bedreiging glad nie nodig om gou te vlug nie. Dan kan ‘n mens die geloofsmoed hê om ondanks bedreiging vir Christus te bly stry. Hy sorg daarvoor dat Sy kerk veilig is. Volgende week hoop ons om nog meer op Jesaja 28 en veral Psalm 118 in te gaan.

Jesus Christus is die lewende steen wat deur die mense verwerp is. Hier haal Petrus Psalm 118:22 aan. Ek gaan vandag op hierdie teks nie verder in nie. Dit moet tot volgende week wag. Die ding wat dadelik duidelik is, is dat hierdie steen die Here Jesus is. Petrus het al eerder daarop gewys, toe Hy voor die Joodse Raad van Jesus as die Verlosser getuig het. Petrus praat dan baie indringend vir hulle en stel hulle voor die keuse en wys daarop hoe erg dit is as hulle nie voor Jesus as die Christus kies nie. Hy sê dan: "laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle , die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." (Hand 4: 10-12)

Petrus wys die Joodse leiers daarop dat hulle saam met God se volk vir Jesus as die Messias verwerp het. As ons nou na ons teks kyk, val iets op. Petrus wys nou nie net daarop dat die Jode die Here Jesus verwerp het nie. Hy skryf hier dat die Heiland deur die mense verwerp is. Niemand kan sê, geen enkele volk kan sê dat hulle beter as die Jode is nie, dat hulle die Here Jesus nie sou verwerp het nie. Dis Pilatus wat as verteenwoordiger van die ander volke die Here Jesus veroordeel het. Sowel Jode as al die ander volke het Jesus verwerp, aan die kruis gebring en Hom nie geeer as die Verlosser waarop die hele nuwe mensheid gebou moet wees nie. Die mense het Jesus nie as die lewende steen geeer nie.

Hierteenoor staan dit wat God gedoen het. Die woord maar in vers 4 wys op die teenstelling tussen God en mense. Die mense het Christus verwerp maar God het Hom uitgekies, Hy is in God se oë kosbaar, Hy word deur God geeer. Die mense se verwerping, hoe eenparig ook maak God se verkiesing nie ongedaan nie.

Wat sê hierdie dinge vir ons vandag? Ons mag God se keuse sien, ons mag sien hoe Hy Jesus Christus as die steen uitgekies het waarop Sy huis gebou moet word. Dit beteken dat Hy ons nou oproep om Sy keuse te volg. Nie die keuse van die meerderheid van die mense nie. Jy en ek bou ons lewe op, ons bou die gemeente as ons oog op die HERE gerig is en ons Sy keuse volg. As ons doen wat die HERE al in Eksodus 23 vir Sy volk sê: "Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie." (vers 2)

Dit gaan daaroor dat ons in ons lewe leer om God se keuse te volg. Om tot Hom te kom wat die HERE as die hoeksteen van Sy gemeente aangewys het. As ons dit leer doen, sien ons ook wat die belangrikste in die lewe is. Dan leer ons om ons prioriteite in die lewe reg te kry. Dan sal ons regtig ons vir die bou van God se kerk laat gebruik. Hierop let ons in die tweede plek.

Laat jou as lewende steen inbou

Die HERE het Christus as die hoeksteen aangewys wat die kerk dra en die bou daarvan bepaal. Hy het ons opgeroep om tot Christus te kom. Tot Christus kom beteken dat jy jou beskikbaar stel om op Christus gebou te word, om ‘n lewende steen in die geestelike huis te wees. Hierdie huis is in aanbou. Nog steeds word daaraan gebou. Om ‘n steen in hierdie gebou te wees is dit nodig dat jy ‘n lewende steen is. As dit nie so is, word jy afgekeur, kan jy nie by die bou van hierdie huis gebruik word nie. Wanneer is jy ‘n lewende steen? As jou lewe nie meer deur die volg van jou eie hart, deur die volg van die meerderheid bepaal word nie maar deur die volg van Jesus Christus. Dan het jy deur Christus uit die dood van die sonde, uit die slawerny van die sonde opgestaan. Dan lewe jy deur Christus se opstandingskrag. Dan is jy wat Sondag 21 noem: "‘n lewende lid van die heilige algemene christelike kerk."

Waartoe dien dit om ‘n lewende steen te wees? Om ons te laat opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterskap. Die geestelike huis is die gemeente. Dit gaan daaroor dat ons saam bou aan die opbou van die gemeente. Hierdie huis is anderste as al die huise wat ons bou en waarin ons woon. Ons huise bestaan uit dooie stene. Die gemeente is ‘n geestelike huis. Dit gaan nie daaroor hoe ons kerkgebou lyk nie. Die gebou waarin ons saamkom is nie die kerk nie. Dit kan wees dat mense ‘n pragtige kerkgebou besit. ‘n Gebou op ‘n mooi plek, ‘n indrukwekkende gebou maar as die gemeente wat daarin saamkom nie vol van die Gees is, hulle nie deur die Heilige Gees aan die brand laat steek nie, is dit nie God se geestelike huis nie. Dis nie meer so dat God se volk geroep is om op een plek op hierdie wêreld die HERE te aanbid nie. Dit was so tot Christus se sterwe. Dis nou so dat oral waar mense in liefde en gehoorsaamheid aan Christus saamkom, daar is die kerk, daar is God se geestelike huis. Die Here Jesus wys daarop in die gesprek met die samaritaanse vrou. Dan sê Hy vir haar o.a. die volgende: "Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die vader soek ook mense wat Hom so aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid." (Joh 4:23,24)

Die ware aanbidders van God vorm die geestelike huis. Die Gees vervul daardie gemeente. Die huis van die Gees is nie leeg nie. Daarin is mense wat lewe, mense wat die bouer van hierdie huis, God dien. Hulle wat in hierdie huis lewe, noem die HERE ‘n heilige priesterdom.

Die Heilige Gees noem hier elkeen wat aan die gemeente bou, wat sy of haar bydrae in die gemeenskap van die heiliges lewer, ‘n priester. Die hele gemeente saam is as God se volk ‘n heilige priesterdom. Dit is wat die vroë kerk en wat later Luther, Calvyn, die gereformeerdes in Nederland en Frankryk die algemene priesterskap van die gelowiges genoem het. Dit teenoor die Roomse kerk wat ‘n aparte groep van priesters gehad het. Petrus noem hier die hele gemeente ‘n heilige priesterdom. As ons die begin van hierdie brief lees word die hele gemeente aangespreek. Dit gaan om al die uitverkorenes. Sien 1:2. Elke gelowige is priester in God se huis. Elkeen mag en moet God offers bring. Deurdat hy of sy, sy of haar lewe in diens van Christus bestee, hulle lewe aan God wy, bring hulle hulle lewe as ‘n offer aan God. Dit wil nie sê dat daarmee man en vrou dieselfde taak in die lewe het nie. Hulle moet as priester die HERE dien elkeen met die taak en posisie wat die HERE hulle as man en vrou gegee het. Dit word nou juis in hierdie brief van Petrus op verskillende punte uitgewerk. Hy wys in 2:11,12 hoe die gemeente as ‘n heilige priesterdom onder die heidene moet lewe en dit word in 13-17 uitgewerk vir die houding teenoor die owerheid, en vanaf vers 18 word veral die dienskengte aangespreek. Petrus wys in hoofstuk 3:1-7 hoe hulle wat in God se diens staan hulle priesterskap moet uitwerk in die verhouding tussen man en vrou. Selfs in die Ou Testament ,en daarop gaan Petrus se woorde hier terug, word die hele volk ‘n koninkryk van priesters genoem. (Eks19:6) Sonder dat dit beteken het dat elkeen priester in die tempel mog wees. As ons daarvan praat dat elke gelowige in Christus se diens staan, as priester in Sy gemeente dien, het dit niks met gelykskakeling van man en vrou te doen nie en wil dit op geen enkele manier sê dat dus vroue ook ampsdraers kan wees nie. Die HERE gee deur Christus elke gelowige die heerlike posisie van priester in Sy huis, wat ook ‘n groot verantwoordelikheid en roeping saambring. Dis dan ook so dat Christus elkeen wat glo en sterf, wat deel het aan die eerste opstanding waardeur hy of sy by die HERE in die hemelse heiligdom kom, priesters noem. Ons lees dit in Openbaring 20:6: "Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank."

Jy en ek, ons almal word geroep om priesters in diens van God te wees. Hierdie diens aan God het ook ‘n duidelik inhoud. Ons let daarop in die derde plek.

Om offers te bring

Die doel van ons lewe moet wees om geestelike offers aan God te bring. Die Heilige Gees wys hier baie duidelik wat die belangrikste in ons lewe behoort te wees. Naamlik om vir die HERE te lewe! Om te bou aan Christus se gemeente! Om in die bou van die gemeente nie onsself en ons eer te soek nie want ons lewe sal ‘n geestelike offer moet wees. Die Gees moet ons lewe regeer sodat ons in Christus se diens staan sonder om te vra wat ons daarmee in die mense se oë verdien of eer vergaar nie. Wat is dan offers wat die HERE vir ons noem? O.a die volgende:

  1. om Christus in eie omgewing te verkondig 2:9
  2. om vir Christus te ly 4:16
  3. ‘n christelike lewenswandel Rom 12:1,2
  4. die lofsang op die HERE. Hebr 13:15

As jy en ek lewe, as ons ons afvra watter aktiwiteit vandag, vanaand voorrang verdien is die groot vraag steeds: "Waarmee plesier ek die HERE, wat is goed, wat is welgevallig in Sy oë." As jy moet kies moet jy nie dink: Die HERE sal dit nie so erg vind as ek vanaand dit gaan doen nie. Ons moet daarvan oortuig wees dat dit wat ons doen die beste in Sy oë is.

Natuurlik is dit so dat ons selfs dan die saligheid nog nie kan verdien nie. Altyd weer kleef aan ons lewe nog die sondes. Selfs ons beste dade is nie volmaak nie. Dit mag ons nooit moedeloos maak nie. Dit mag ons ook nie tot ‘n slordige lewenstyl bring nie. Want wie regtig as priester in God se diens werk en lewe mag weet dat dit wat hy doen deur Christus, deur Christus se offer welgevallig by God is. Sy lyding bedek die sondes wat nog aan jou lewe, aan jou priesterskap op hierdie aarde kleef. Elkeen wat hom deur God by die bou van die gemeente laat gebruik mag weet dat Christus se lyding en lewe jou geheilig het tot ‘n steen wat in God se huis ingebou is. Jou offer is dan deur God aangeneem omdat Jesus Christus die sondes daaruit weggeneem het, hulle weggedra het. Sien Openb 8:3. Hy is die waarborg vir die voltooiing van die bou van die kerk.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)