Petrus roep die gemeente tot geloofsgroei op

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-09
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:1-3

TEKS: "Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is." (1 Petrus 2:1-3)

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 45: 1,4,5; Lesing van die wet; Psalm 79: 5,6,9

Skriflesing: Psalm 34 & 1 Petrus 1: 13-25; Gebed; Kollekte; Psalm 131; Teks: 1 Petrus 2: 1-3

Preek; Psalm 34: 4,6; Dankgebed; Psalm 42: 1,5; Seën

PREEK

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters.

As ons in 1998 van Christus se gemeente en die bou daarvan praat doen ons dit nie op ‘n manier asof ons die eerste christelike kerk is nie. Die Here Jesus vergader Sy kerk deur al die eeue. Die kerk het in al die eeue gebruike geken wat vir ons vandag vreemd is. Een van die gebruike wat in die derde eeue in die kerk van Rome ontstaan het was dat iemand na sy doop ‘n beker met melk kry. Hierdie warm melk was met heuning vermeng. Die dopeling het hierdie beker leeggedrink en daarna die Nagmaal gevier. Die drink van die melk, wat met heuning vermeng was, was ‘n simboliek wat die kerk aan 1 Petrus 2:2,3 ontleen het. Ons lees daar van melk en dat mense gesmaak het dat die HERE goed is. Ons ken nie meer hierdie gebruik wat die kerk in die derde eeu geken het nie. Dis ook nie nodig om daarna terug te keer nie. Dis vir die bou van die gemeente en vir jouself as God se kind wel nodig om mooi te verstaan wat die Heilige Gees in 1 Pet 2: 1-3 vir ons sê.

Ek verkondig vir julle die evangelie van God se goedheid onder die tema:

PETRUS ROEP DIE GEMEENTE TOT GELOOFSGROEI OP

Dit beteken

  1. dat ons die klere van die sonde moet uittrek
  2. dat ons goeie voedsel tot ons moet neem

Ons moet die klere van die sonde uittrek

Petrus skryf vanuit Babel waar hy nou werk aan ‘n brief aan die gemeente in Asië. Hy wys in die eerste gedeelte van hoofstuk 1 daarop hoe groot die rykdom van die lewe met God is. Hoe elke volgeling van Jesus Christus ‘n heerlike erfenis ontvang. Meer en mooier as ons ons kan inbeeld. Hierdie wonderlike geskenk van God maak ‘n mens tot ‘n mens wat regtig volgeling van Christus wil wees. Iemand wat werklik op die HERE let en soos Hy wil wees. Dis waar Petrus in 1:16 op wys: "omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig."

Die liefde vir God en die gemeente, dit beteken in liefde die HERE wil gehoorsaam, kom uit die wedergeboorte voort deurdat die Woord van God heerskappy in jou lewe gekry het. ‘n Mens het dan ‘n nuwe mens geword. Dis die ewige Woord wat jou en my, wat ons as gemeente ook in 2:1 aanspreek.

Petrus sê dat ons dinge moet aflê. Hierdie woord het mense in daardie tyd ook gebruik om aan te dui dat hulle hul klere uittrek. ‘n Mens moet die ou klere uittrek. Dit wat ‘n mens lelik laat lyk moet weggegooi word.

Die mens moet ook alles wat pla, alles wat teveel is weggooi, aflê. Hy moet so wees dat hy deur die noue poort die Koninkryk van God kan binnegaan. (Mat 7:13,14) Niks mag ‘n mens so breed en vet maak dat hy nie deur hierdie poort kan binnegaan nie. Hy moet alles wat oorbodig, wat nie reg is nie aflê.

Wat is nou die dinge wat Petrus noem wat ‘n mens moet aflê? Wat is klere wat ‘n mens dra en wat hom verwerplik vir God maak?

Petrus vat dit in 5 dinge saam. 5 Dinge wat kenmerkend vir ‘n lewe sonder Christus of los van Christus is. Dis baie opvallend hoe die Heilige Gees Petrus hier laat formuleer. As jy nog een keer mooi na vers 1 kyk, sien jy dat 3 keer die woord alle gebruik word. Alle boosheid, alle bedrog en alle kwaadpratery. As ‘n mens ook nog Grieks kan lees, val op dat Petrus by 3 woorde die meervoud gebruik. Hy gebruik die meervoud by geveinsdheid, afguns en kwaadpratery.

Dis duidelik dat deur die woord alle en deur die meervoud die Gees vir ons duidelik maak dat ons nie een of ander vorm van die dinge wat Hy noem, moet nalaat nie maar elke vorm daarvan. Alles moet weg. ‘n Mens kan nie sê dat hy die ergste vorme van sekere dinge in sy lewe ontslae geraak het en dat dit nou genoeg is nie. ‘n Mens se lewe en die gemeente word regtig gebou as ons besig is om elke vorm van kwaad uit ons lewens te ban.

Laat ons nog ‘n bietjie kyk na die dinge wat in vers 1 genoem word.

Boosheid. Die woord wat Petrus hier gebruik, gebruik hy ook in hierdie brief ook in 2:12-14; 3:9-13,17; 4:15. Dit wys in die algemeen op dit wat sleg, wat verkeerd is. Die sondes wat vanuit ‘n slegte gesindheid bedink en uitgevoer word. As jy weet, as jy weet dat die Here dinge verkeerd, sleg vind sal dit vir ons genoeg moet wees om dit te laat, om dit uit ons lewe uit te ban. Die Gees noem nou enkele meer spesifieke voorbeelde van die algemene slegheid.

Bedrog. Sien ook 2:22; 3:10. Die HERE haat elke vorm van bedrog. Sy groot teenstander, die duiwel het juis met bedrog, met ‘n leuen die mens verlei en die wêreld in die ongeluk gestort. Die duiwel is die vader van die leuen. Joh 8:44. Elke vorm van bedrog maak ‘n mens ‘n volgeling van die duiwel. Elke vorm van bedrog maak die gemeenskap, maak die gemeente swakker en breek die gemeente stukkend. As ‘n mens lieg, as ‘n mens geld verduister, as ‘n mens sogenaamd ‘n leuentjie vir eie gewin gebruik. Christus se gemeente sal bekend moet staan as ‘n groep mense wat volledig betroubaar en eerlik is. Dis ook die manier waarop regtig aan gemeentebou gewerk kan word. As ons mekaar nie volledig kan vertrou nie, as ons nie volstrek eerlik is nie belemmer ons die opbou van die gemeente.

Geveinsheid. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik is: hupokriseis. ‘n Hipokriet is ‘n huigelaar, is ‘n mens wat hom anders voordoen as wat hy in werklikheid is of dink. Wie huigelagtig lewe is ‘n gevaar vir homself en vir die gemeente. Petrus weet dit uit sy eie lewe. Hoe het hy sy lewe met die HERE in gevaar gebring in die nag dat die Here Jesus voor die Sanhedrin staan. Dis die diensmeisie wat daar vir hom gesê het dat ook hy by Jesus se leerlinge behoort. Petrus huigel dan, hy speel toneel. Hy maak asof hy die Here Jesus nie ken nie. Hy soek kortsigtig se eie belang en kom nie vol ywer en liefde vir Christus die Heiland op nie. Die ander keer dat Petrus huigel bring hy Christus se gemeente in gevaar. Dit is as hy in Antiochië die vryheid van Christus se kerk uitdra deur saam met gelowiges uit die heidene te eet. Hy eet sonder bekommernis dit wat in die Ou Testament onrein genoem word. Later gebeur dit dat vanuit Jerusalem, vanaf Joodse kant hierop sterk kritiek gekom het. Dan gebeur wat ons in Gal 2:12 lees: "Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was Petrus gewoond om saam met die heidene te eet; maar na hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is." Dit is ‘n huigelagtige houding wat selfs die verkeerde rigting vir die kerk wys. Die waarheid van Christus se Woord moet vir elke christen bo alles gaan. Dis ook daarom dat Paulus vir Petrus openlik vir hierdie verkeerde en huigelagtige manier van lewe vermaan. Ons moet nie huigel nie maar eerlik volgens die Woord met mekaar praat en mekaar opbou.

Afguns. Hoe word ‘n mens se lewe en die lewe van ‘n gemeente deur jaloesie verwoes. Dit gebeur as ons nie in die oog hou dat die doel en die blydskap van die lewe is om te dien nie. Dat die doel en vreugde van ons lewe mag wees om God en ons naaste te dien. Dis die Here Jesus wat ons Meester is, wat nadat Hy die apostels se voete gewas het, gesê het: "As Ek dan, die Here en Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. .….. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen. (Joh 13: 14,15,17)

Jy en ek moet leer om nie na mekaar te kyk nie maar na Christus. Ons vraag of gevoel mag nie wees: Wat is my posisie in die gemeente nie, ek moet in my posisie geeerbiedig word nie, hoe kan ek belangriker in die gemeente word nie. Dis almal wêreldse en duiwelse vrae en gevoelens. Hoe baiekeer ontstaan deur hierdie dinge geen verwydering en daardeur verswakking in Christus se gemeente nie! Dan begin mense om hulle saak te dryf sonder om deur gesprekke as mense wat Christus saam wil dien tot ‘n oplossing te kom. Ons moet leer om nie die ander die ore te wil was nie, om nie ons saak te dryf nie maar in liefde die gemeente te dien. Dan bou ons Christus se kerk op.

Kwaadpratery. Sien ook 2:12; 3:16. Ook dis ‘n groot kwaad wat die bou van die kerk in die pad staan. Die wortel van hierdie kwaad is dat mense mekaar nie regtig liefhê en vertrou nie. As die liefde van Christus in ‘n mens vloei wil jy oor ‘n ander nie kwaad praat nie, dan wil jy selfs die negatiewe dinge wat regtig by ‘n mens gesien word nie vir ‘n ander vertel nie. As ‘n ander negatief oor iemand praat, sê jy dan dat jy dit nie wil hoor nie. Christus se kerk word opgebou as jy self met die persoon gaan praat waarby jy verkeerde dinge en houdings sien. Jy gaan geen wantroue by ander mense teenoor jou broer of suster kweek nie. Die liefde van Christus maak ‘n mens tot ‘n mens wat "sy naaste se eer en goeie naam na sy vermoë verdedig en bevorder." Vgl hier Sondag 43 van die Heidelbergse Kategismus.

Al die boosheid moet ons in ons lewe, in die lewe van die gemeente aflê. Dis gemeentebou as ons mekaar daarby help. Laat ons persoonlik en saam gehoor gee aan wat die Gees in Rom 13:14 sê: "Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie."

Om ons steeds meer met Christus te beklee is dit nodig om steeds goeie voedsel tot ons te neem. Ons let daarop in die tweede plek.

Dat ons goeie voedsel tot ons neem

Die uitdrukking wat Petrus in vers 2 gebruik is baie sterk. Om die regte christelike lewe te ontwikkel is dit nodig om sterk te verlang. Hierdie verlange word vergelyk met ‘n pasgebore baba wat na die moedermelk of, as dit nie daar is nie, na die melk uit die bottel verlang. Hulle is vir hulle lewe van hierdie melk afhanklik, dis vir hulle onmisbaar. ‘n Baba besef dat hy moet suig, as hy dit nie doen nie kos dit sy lewe.

As ons hier van melk lees moet ons bedink dat Petrus dit nie gebruik om ‘n teenstelling tussen melk en vaste voedsel te maak nie. Hierdie beeld lees ons in 1 Kor 3:2 en Hebr 5:12. Hierdie voorstelling van sake moet ons by hierdie teks heeltemal uit ons kop uit kry.

Waarna moet ons so sterk verlang asof ons lewe daarvan afhang? Na die onvervalste melk van die Woord.

Dit gaan om melk wat heeltemal suiwer is, waarin al die voedingstowwe in die juiste verhouding aanwesig is. Hierdie melk sal ‘n mens nooit bedrieg nie. Dit is so voedsaam. Hierdie melk is die Woord, is God se Woord. Wie deur die Woord, deur die luister en lees van Woord tot ‘n ander mens geword het, uit die Woord gebore is, weet dat hy vir die groei van sy lewe van hierdie Woord afhanklik is. Sonder die Woord kan ‘n mens dan nie meer lewe nie. Elke dag weer is jou lewe dan op die eet van die Woord gerig. Ook daarin wil jy dan jou Verlosser en Meester volg. Jesus sê in Joh 4:34: "My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en sy werk te volbring."

‘n Mens, ‘n gemeente wat werklik die smaak van die Woord geproe het. As jy, as ons werklik die smaak van die Woord geproe het, het ons die HERE se goedheid geproe. Hierdie smaak is so soet, so lekker dat jy daarvan dan nie meer los kan kom nie. Dan smaak die Woord altyd na meer.

Dan het jy geproe, dan het jy ervaar hoe dit die HERE self is wat jou, sondige mens, in Sy goedheid vergifnis wil gee. Dan het jy leer sien hoe dit die HERE is wat rondom jou lewe die wag hou en jou ondanks jou eie skuld so baie goeie dinge gee. Dan is dit vir jou heerlik wat ons in Psalm 34 gelees het: "Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil." (vers 8,9)

Wie God se goedheid in Christus gesmaak het en in geloof, in liefde Sy goedheid omhels het, wil groei, wil al hoe nader aan Christus beweeg. Dis ook die doel om steeds weer te wil luister en intensief die Woord te lees. Wie glo en die gemeente wat Christus leer ken het, wil nie bly stilstaan nie, maar groei. Petrus skryf dan ook dat ons die Woord vol verlange moet indrink om daardeur te kan opgroei. Dan kan dit nie gebeur dat ‘n mens na sy aflegging van openbare geloofsbelydenis sê of dink: Nou is ek klaar, nou is dit vir my nie meer nodig om in die kennis van die Bybel te groei nie. Dan sê en handel ons ook nie so dat vir ons een keer op Sondag kerk toekom genoeg is nie. Ek moet die broers en susters wat so dink nou vra: Is daar by julle die sterk verlange, die besef dat jou lewe van die groei in die Woord afhanklik is? Wie die goedheid van die HERE gesmaak het sal elke geleentheid benut om in die kennis van die Woord, in die lewe met die HERE te groei. Dan doen ‘n mens alles om meer as een keer op ‘n Sondag die Woord te hoor. So word jou lewe, so word die gemeente gebou. Dan neem ons toe in kennis en beteken dit dat ons al hoe meer weerstand teenoor verkeerde sienings opbou (sien o.a.: 2 Petr 3:17,18; Ef 6:10 e.v. 1 Kor 15:58), dat ons al hoe meer groei in gehoorsaamheid en liefde vir Christus. Sien ook 3:8,9; 2 Pet 1:5-7. Dan word jy al hoe meer as gelowige volwasse.

Laat ons die mees fundamentele, om as gemeente en as persoon gebou te word, nie nalaat nie. Laat die Woord ons alles wees, omdat die HERE ons alles is.

Laat ek afsluit met die woorde waarmee Petrus sy tweede brief afsluit (3:18) : "Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)