Jesus se herderlike sorg vir die onderherder Petrus terwille van die kudde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-05-02
Teks: 
Johannes 21
Preek Inhoud: 

Johannes 21:15-17

Ds C Kleyn - Sondag 2 Mei 1999

Lees: Johannes 21
Sing: Ps 95:1,2,3; SB 26:1,2,11 (na wet) of Ps 46:4,6 (na belydenis); Ps 95:4; Ps 116: 7,9,10; Ps 139:1,2,12.

Tema: Jesus se herderlike sorg vir die onderherder Petrus terwille van die kudde.

  1. Jesus se sorg vir sy kudde: Hy stel die fondament van die kerk veilig
  2. Jesus se sorg vir Petrus: Hy berei hom voor op sy herderlike taak.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die teks sien ons Jesus besig as die goeie Herder. Hierdie geskiedenis het ’n sterk pastorale kleur. Dit blyk nie slegs uit die taakomskrywing vir Petrus nie: Laat my skape wei. Dit blyk ook uit die manier waarop Christus met Petrus omgaan en praat. Sy herderlike gesprek met Petrus het ’n seldsame krag.

By die see van Tiberias verskyn die Here Jesus aan sy apostels. Daarby is Hy heeltemal gefokus op die taak wat die apostels moet verrig. Die wonderbare visvangs spreek ’n duidelike taal. Hulle sal vissers van mense word. Die taak waaroor Christus reeds drie jaar gelede gespreek het, toe Hy hulle agter Hom aan geroep het, sal nou vir hulle volle werklikheid word.

Deur die wonder by die see van Tiberias berei Christus hulle voor op hul moeilike taak. Wat hulle self nie kan doen nie – visse vang – dit doen Christus. Hy waarborg hulle vrug op hul arbeid. Hy dryf visse in hul nette. Hy gee vrug op hul prediking. ’n Skare van gelowiges sal kom. Die stal van die herder sal vol loop. Die wonderbare visvangs moet vir die dissipels ’n sterk bemoediging gewees het. Ook die maaltyd wat Christus vir hul klaargemaak het. As Herder waarborg Christus die lewensonderhoud van sy dienaars, die onderherders.

Na die ontbyt met sy dissipels hou Christus dan sy herderlik gesprek met Petrus. Ek vat die boodskap as volg saam: Jesus se herderlike sorg vir die onderherder Petrus terwille van die kudde.

  1. Jesus se sorg vir sy kudde: Hy stel die fondament van die kerk veilig
  2. Jesus se sorg vir Petrus: Hy berei hom voor op sy herderlike taak.

Waaroor gaan dit in die teks? Dikwels word gesuggereer dat dit gaan oor die ampsherstel van Petrus. Petrus sou hier weer deur Christus in sy amp van apostel herstel word. Dit is egter die vraag of dit ’n juiste uitleg van ons teks is. Ons lees nêrens dat Petrus vanweë sy verloëning uit sy amp gesit is nie. En was die ander dissipels beter as Petrus? Almal het aan Christus aanstoot geneem, sonder uitsondering. Nie een dissipel het Christus trou gebly nie. Hulle kon Christus in sy lyding nie aanvaar en volg nie. As Petrus in sy amp herstel sou moes word dan sou dit ook by die ander dissipels moes gebeur.

Gemeente, as dit hier oor die ampsherstel van Petrus sou gaan, hoe moet ’n mens dan die eerste verskyning van Christus aan sy dissipels op die paasaand verklaar? Op die paasaand het Christus vir al die dissipels nadruklik verklaar: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. By die geleentheid het Christus sy dissipels amptelik bevestig in hul amp. Christus wys hulle aan as sy betroubare getuie wat in sy diens uitgestuur word. In die lig daarvan sou dit dan eintlik eienaardig wees om in ons teks Petrus se ampsherstel te sien. Petrus is reeds bevestig in die amp op die paasaand.

Waaroor gaan dit dan wel? Gaan dit soms oor die herstel van die persoonlike verhouding tussen Petrus en die Here? Maar sou Christus solank daarmee gewag het? Die relasie moet reeds goed wees voor die offisiële bevestiging op die paasaand. Christus het toe ook begin met die woorde: Vrede vir julle.

Bowendien lees ons dat die Here op die paasdag Petrus persoonlik ontmoet het. Wat Christus toe met Petrus bespreek het bly ’n ampsgeheim. Die evangeliste vertel ons niks daaroor nie. Wat in elk geval wel duidelik mag wees is dat die verhouding tussen die Here en Petrus reeds goed was. Petrus is by die see van Tiberias dan ook weer die persoon wat onmiddellik entoesiasties uit die skuit spring om na Jesus toe te gaan wanneer hy verneem dat dit Jesus is wat op die strand staan.

Maar waaroor gaan dit dan wel in die teks? Om dit te verstaan moet ons let op die feit dat die gesprek in die openbaar is. Dit is nie ’n ontmoeting, soos op die Paasdag, onder vier oë nie, maar ’n gesprek in die aanwesigheid van die ander apostels. Die ander moet dit sien en hoor. Die kerk van alle tye moet dit weet.

Waarom is dit so belangrik? Omdat dit hier gaan oor die fondament van die kerk. Die fondament moet baie goed wees. As oog- en oorgetuies van Christus moet die apostels die fondament van die Christelike kerk vorm. Die gemeente moet gebou word op hulle eenstemmige getuienis. Wanneer daar breuke of skeure in die fondament plaasvind dan staan die toekoms van die kerk op die spel. Daarom wil die Here daarvoor sorgdra dat Satan nie daartussen kan kom nie, dat Satan daarin geen breuk kan bewerk nie. Christus tref maatreëls om te voorkom dat daar verdeeldheid sou ontstaan onder die apostels en om te voorkom dat die kerk self sou twyfel aan die betroubaarheid van haar apostel Petrus.

Petrus moet ’n belangrike plek inneem onder die dissipels. Het Christus nie in die eerste plek tot hom gesê: op hierdie rots sal Ek my gemeente bou nie? En het Christus nie in die nag van die verraad tot Petrus gesê: As jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk? (Lk 22:32). As jy van die geskiedenis lees na hemelvaart en Pinksterfees, dan sien jy dat Petrus in die kring van die apostels ’n leidende rol gespeel het. Hy het die gemeente aangemoedig om Judas die verraaier se leë plek op te vul (Hand 1:14-26). Hy hou sy bekende Pinksterpreek in Hand 2 en so aan. Petrus moet in die kerk van Christus, onder sy kudde, ’n baie belangrike taak vervul.

Sy verloëning van die Here drie keer na mekaar, met vervloekings, is egter geen kleinigheid nie. Dit was ook ’n publieke daad. Die ander dissipels het vantevore al daarvan geweet. Jesus het dit aangekondig. En ander mense was getuie van daardie verloëning. Wel, ook al is sy verhouding met die Here herstel tog is dit belangrik dat die Here daardie saak openlik uit die weg ruim.

Satan is naamlik arglistig. Hy ken die hart van die mens. Die verloëning sou hy mooi kan aangryp om die werk van Petrus en so ook van Christus af te breek. Die apostels sou jaloers op mekaar kan word. Wat kan jy dan maklik sien gebeur? Die vraag kan dan by die ander apostels opkom: moet so ’n verloënaar van Christus onder ons die leiding neem? Mag iemand wat so geval het wel die eerste plek inneem? Die vraag sou ook by die gemeentes kan opkom, by hulle wat liewers nie na sy woorde wil luister nie: mag so ’n verloënaar sommer die leiding in die gemeente neem?

Vergelyk dit gerus met die posisie van ’n predikant of ouderling. Gestel dat dit algemeen bekend sou wees dat julle voorganger heel nadruklik en met vervloekings die Here Jesus verloën het. Sou so ’n predikant nie vir altyd ’n getekene bly nie? En satan sou dit uitbuit om die werk van Christus af te breek, om die gesag van God se woord te ondermyn. Gebeur dit soms nou al nie so onder ons nie? Dit is nie maklik vir ons om ons te onderwerp aan die skriftuurlike vermanings van die ampsdraers nie. Ons wil liewers ons eie gang gaan. Wat sien jy dan gebeur? Mense wys dan op die gebreke van die ampsdraers om te ontsnap aan die gesag van hul woorde. Hoe kan hy dit vir my sê, dit van my eis, hy moet eers maar let op homself. Intussen word die nuwe gehoorsaamheid aan God geweier en Christus se werk verhinder.

Gemeente, Christus ken die swakheid van sy volk en die geslepenheid van satan. Daarom handel Hy voor satan iets kan doen. In aanwesigheid van die ander dissipels word die saak van die verloëning uit die weg geruim. Die verloëning vorm geen enkele belemmering vir Petrus se toekomstige taak nie. Die drievoudige vraag van Jesus na Petrus se liefde en die drievoudige opdrag aan Petrus om Christus se skape te wei laat duidelik blyk dat hierdie Petrus – ondanks sy val – tog die petra, die rots, bly waarop Christus sy gemeente sal bou. Petrus ontvang ’n publieke onderstreping van sy amptelike bevoegdheid. Vir die kerk van alle tye neem Christus elke moontlike twyfel daaraan weg. Christus het sy kudde op die oog. Deur die eenparige getuienis van die apostels moet sy kudde vergader word. Dus mag daar in die fondament beslis geen skeur kom nie. Hier sien ons dus Jesus se sorg vir sy kudde, vir u en my. Hy stel die fondament van die algemene Christelike kerk veilig. Dit is die eerste gedagte van die preek.

Nou die tweede gedagte van die preek: Jesus se sorg vir Petrus.

Die pastorale gesprek van Christus het ’n seldsame krag. Daar kan ons baie van leer. Ons is immers, soos Petrus, dikwels skuldig aan die verloëning van ons Here. Drie keer vra Christus aan Petrus: het jy my lief? By elke herhaling word dit pynliker vir Petrus. Sy verloëning van die Here drie maal kom steeds skerper voor oë te staan. Hier staan Petrus in sy sonde en swakheid. By die derde keer lees ons dan ook dat Petrus bedroef geword het. Dis ’n baie pynlike saak vir Petrus. Is dit dan nie onbarmhartig van Christus om dit so te doen nie? Nee, Christus is besig om sy dissipel op te skerp vir sy toekomstige taak. Indien jy in sonde geval het, moet jy goed besef wat jy gedoen het en daaruit lering trek vir die toekoms.

Christus wil Petrus herinner aan sy droewige val as gevolg van oormoed en die gebrek aan waaksaamheid en gebed. Hoewel Petrus se sonde al vergewe is moet Petrus nie vergeet wat gebeur het nie, maar daarvan bly leer. Hy het drie maal sy Meester verloën. Die droefheid van Petrus by die derde keer laat hom besef hoe ernstig hy Christus bedroef het deur sy verloëning. As hy bedroef word wanneer hy drie maal gevra word: "het jy my lief?", hoeveel te meer moet sy Here bedroef geword het toe hy Hom drie maal verloën het. Petrus word nou gedwing om sy self-oorskatting prys te gee. Self oorskatting maak ’n mens onbekwaam tot ampsdiens.

Dit is opvallend dat Christus Petrus aanspreek met die naam Simon, seun van Jona. Christus gebruik nie die naam Petrus – rotsman – nie, maar sy geboortenaam Simon. Daarmee rig Christus die aandag op wat Petrus van nature is. Kragtens sy natuurlike geaardheid is hy haantjie die voorste. In sy impulsiwiteit het hy homself oorskat. Het hy nie na die nagmaal gesê: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie (Mt 26:33). En: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! (Mt 26: 35). Wat het daar tereggekom van daardie selfversekerde woorde? Om te ontsnap aan gevaar het hy sy meester nog dieselfde nag drie maal verloën.

Juis op die punt spreek Christus Petrus aan. Hy vra hom: Simon, seun van Jona, het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? Durf jy jouself nog uitnemender te ag as die ander? Weet jy nog wat jy gesê het: al sal almal aanstoot neem, ek nooit. Durf jy jouself nog te verhef bo ander? Ken jy nou jou eie swakheid?

"Het jy my waarlik lief?" Christus gebruik ’n woord vir liefde wat in die Bybel beteken: onbaatsugtige liefde, selfopofferende liefde, bereid wees om werklik die beste vir ’n persoon te soek, ook al ontvang jy niks terug nie. So het Petrus dit ook in sy oormoed gesê.

In sy antwoord durf Petrus daardie woord van liefde nie te gebruik nie. Christus bring hom tot opregte ootmoed. Petrus antwoord skugter: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Petrus gebruik hier ’n swakker woord van liefde wat beteken: vriendskapsliefde, lief vir iemand wees. U weet dat ek lief vir U is. Nou hy aan homself ontdek is, laat Petrus na om haantjie die voorste te wees. Hy begin met U: Here U weet dit. Hy doen ’n beroep op Christus se kennis van sy hart. Ek is dalk baie gebrekkig in my kennis, geloof, moed en wysheid. Ek is afhanklik van u genade. Maar U Here weet dat ek met al my foute en gebreke U tog liefhê.

Petrus laat dit na om iets te sê oor die ander dissipels, om homself met hulle te vergelyk, of homself uitnemender te ag as ander. Hy gaan nie in op die deel van Christus se vraag nie. Hy het genoeg aan homself as swak sondaar wat van genade afhanklik is. Hy kan alleen vir homself praat. Hy ken alleen sy eie hart en sy eie tekorte aan volmaakte selfopofferende liefde. Daarom gebruik hy ook die swakker woord van liefde. Hy durf die sterker woord nie op die lippe te neem nie.

By die herhaling van die vraag laat Christus die vergelyking met ander self ook los. Petrus gee dieselfde antwoord as die eerste keer. Wanneer Christus dan vir die derde keer sy vraag stel dan neem hy die swakker woord vir liefde, wat Petrus steeds gebruik het, oor. Simon, het jy My lief? Is jy lief vir My? Dis pragtig hoe die Here Petrus tot ’n opregte en totale verootmoediging bring. So klink daar die geweldige woorde van Petrus: Here, U weet alles, U weet dat ek u liefhet. Ek het inderdaad U drie maal verloën. Ek het U baie seer gemaak, bedroef. Ek laat dit nie altyd duidelik blyk dat ek U liefhet nie, my liefde is onvolkome, maar U ken my hart, U weet dat ek U tog werklik liefhet.

Dis ’n pragtige antwoord waarvan ons almal kan leer en waardeur ons almal getroos kan word. In hierdie geskiedenis het Christus getoon dat dit wat ons veral nodig het, liefde is. As jy wil dien dan is liefde die eerste vereiste. Liefde moet ’n kenmerk van ’n Christen wees. Joh benadruk hierdie element in sy pastorale briewe. Liefde word daar genoem ’n bewys daarvan dat ons uit die waarheid is.

Kom laat ons saam kyk na ’n paar verse uit 1 Johannes 3, die verse 18-20. Daar lees ons woorde wat amper dieselfde is as die woorde van Petrus in Johannes 21, troosryke woorde vir ons as ons deur skuldgevoelens bedruk word. Hoe weet ons of ons uit die waarheid is? Aan die liefde sê Joh. Maar my liefde vir die Here en sy volk is dikwels gebrekkig, nie soos dit behoort te wees nie. Ek staan nie altyd vrymoedig op vir my Heer Jesus nie. Ek verloën Hom dikwels, net soos Petrus. Ek kies nie altyd wat Hy wil hê dat ek moet kies nie. Ek ervaar my tekortkomings op allerlei gebied. My hart veroordeel my. Ek wil goed doen maar die kwaad is by my aanwesig. Voordat ek dit besef, het ek al weer gesondig. Deur sy liefdevolle en ontdekkende woord laat God ons sigbaar staan in ons sondes en ellende.

Wat ’n geweldige troos is dit dan om met Petrus en Johannes (vers 20) te bely: My hart veroordeel my, maar U is meer as my hart en U weet alles. U ken my situasie. U ken my sterk en swak plekke, my suksesse en my mislukkinge, my sondes en my gebreke. U weet dit ook as bepaalde dinge my verhinder om uiting te gee aan die liefde. U weet dat ek U liefhet, ook al kom ek tekort in die uiting daarvan. Dit stel ons verontruste harte weer gerus. Soos Petrus vertrou ons onsself toe aan die genade van ons Here wat alles weet. Dit gee ons weer rus.

Na die antwoord van Petrus gee Christus opnuut die opdrag: laat my skape wei. Petrus moet sy liefde vir sy Here nou gaan toon deur Christus se onderherder te wees. Petrus, jy het my lief. Wel, die beste bewys van liefde is om jouself te wy aan die geestelike sorg vir ander mense se siele. Lewe vir ander. Sorg vir ander. Doen goed aan ander. Bedien ander. Soos ek nie gekom het om gedien te word nie maar om te dien. My kudde moet vergader, beskerm en onderhou word. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie, sê Christus in Johannes 10:16. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

In sy gesprek met Petrus wissel Christus die terme. Eers hoor ons: Laat my lammers wei. Die lammers, die swak en behoeftige kinders van God moet versorg word. Christus spreek hier van tere sorg. Die verlorene moet opgesoek word, die verdwaalde teruggebring, die gewonde verbind en die sieke versterk. So word die sorg van Christus se gemeente aan Petrus toevertrou. Hy moet die skape voorgaan in Christus se naam. Hy moet hulle lei na die grasige weide van die woord van die lewe, hulle bewaar by die waarheid. So is hy die petra, die rots waarop Christus sy gemeente sal bou.

In ons teks sien ons hoe Christus Petrus voorberei op hierdie moeilike taak. Om sy Meester te volg sal nie eenvoudig wees nie, soos dit blyk uit die vervolg van Johannes 21. Totale selfverloening sal daarvoor nodig wees, ’n dra van sy kruis. Christus leer Petrus opregte ootmoed sodat hy homself ken as die swak apostel wat slegs sy sterke Heer moet volg.

Gemeente in hierdie geskiedenis het Christus u uiteindelik op die oog. Dit gaan oor sy kerk wat op die fondament van die apostoliese leer gebou moet word. God se volk moet deur die diens van die apostels die stem van Christus hoor. Laat ons God dank vir Christus se sorg vir ons, die skape van sy kudde. Ons het die woord van Christus ontvang. Ons het ’n eenstemmig getuienis wat nou vir ons vasgelê is in die Bybel. Daar is geen rede om aan die getuienis te twyfel nie. Die evangelie is waar en seker. Dit is die stem van die goeie herder, Jesus Christus. Luister na Hom. Laat jouself deur Hom vergader in die een kudde. By Hom is lewe en oorvloed.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)