Die ware geloof na die Skrifte.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-04-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Sondag 7

Ds C Kleyn - Sondag 25 April 1999

Lees: Hebreërs 11:1-19; Sondag 7.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 27:4; Ps 84:3,4; Ps 89:1,6; Ps 27:6.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Het u almal ’n ware geloof ? Glo u werklik in God? So ja, wat beteken dit, dat u in God glo? Dit is goed om hieroor eers na te dink. U weet: die duiwels glo ook op ’n bepaalde wyse en hulle sidder (Jak 2:19). Hoe is dit dan met my geloof? Wat beteken dit dat ek glo? Ek aanvaar dat God bestaan. Ek neem aan dat Christus vir my gesterwe het en dat daar ’n nuwe wêreld kom. Maar hoe diep sit dit eintlik by my? Is dit werklik ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue? Wat werk daardie geloof uit in my daaglikse lewe?

God het reeds by my doop gesê dat Hy my Vader wil wees. Leef jy bewus as kind van Hom? God het belowe dat Hy my met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van my wil afweer of tot my beswil beskik. God het gesê: die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. (Jes 40:31). Hoe belewe ek die woorde in die praktyk van my lewe? Kry ek werklik nuwe krag? Vaar ek werklik op met vleuels soos die arende? Deurleef ek werklik hierdie woorde? Of is dit tog dikwels ’n kwessie van: ek glo, maar….(jy self moet dit verder maar invul). Ek glo wel, maar dit lyk asof God sy woorde nie nakom nie. Ek glo wel, maar ek kan daardie moeite of teenslag in my lewe nie aksepteer nie, daarmee het ek geen vrede nie.

Gemeente, kom ons geloof nie dikwels ooreen met die betekenis van die woord in die alledaagse lewe nie? Die woord word byvoorbeeld in verswakte betekenis gebruik in sinne soos: "ek glo nie hy sal dit doen nie" of "dit was, glo ek, wat hy gesê het." Ons bedoel dan "ek weet dit nie seker nie, maar ek meen dat dit so is." Geloof is dan nie ’n vasstaande kennis nie maar ’n vermoede.

Sou ons geloof nie dikwels so ’n geloof wees nie? Ons bedoel dan: ek dink wel dat God bestaan en alles vir my doen, maar of dit werklik so is, is iets wat ek nie seker kan weet nie. Of: ek aanvaar dat Christus oorwin het ook vir my, maar dit is iets anders as om seker te wees.

Laat ek aan u dan na die Skrifte die ware geloof verkondig:

  1. Die aard van die geloof - sekerheid
  2. Die voorwerp van die geloof - God se beloftes
  3. Die voordeel van die geloof - die beloofde heil.

Vir ‘glo’ staan in die Ou Testament ’n woord wat as grondbetekenis het: vastigheid hê, seker wees, vas vertrou. Dit staan in verband met ’n woord wat u almal wel ken, naamlik die woord amen. Om te glo beteken soveel as: amen op iets sê. Jy aanvaar iets as waar en seker.

Om te glo is seker wees. So lees ons in Hebr 11: die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Om te glo is: seker wees van die dinge wat ek hoop en innerlik oortuig te wees van die dinge wat ek nog nie sien nie. Ja, daar is nog baie dinge wat ons nog nie sien nie. Selfs die vergewing van sondes is nie iets wat ons sommer sien nie. Die vervulling van baie van God se beloftes is nog iets waarop ons moet wag. Ons sien nog nie dat ons erfgename van hierdie wêreld is nie, dat alles aan ons behoort nie. Maar as ek dit glo dan weet ek seker dat dit so is. Vader het dit gesê en dit is vir my voldoende, dus is dit so. Ook al sien ek op hierdie moment nog niks daarvan nie. Ook al lyk alles selfs daarmee in stryd te wees. God het gespreek. Daarom is dit so. Daarom sal dit ook so wees. Ek weet: wat Vader sê is waar. Daarom vertrou ek daarop dat alles wat Hy belowe het, sal uitkom. Onherroeplik. Dit staan vas.

Vir die hemelse Vader is mos niks te wonderbaar nie. Kyk maar na die skepping. "Die wêreld is deur die woord van God toeberei, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie." (Hebr. 11:3). God skep voortdurend dinge wat daar nie is nie. Hy hoef maar te spreek en dit is daar. Sou iets dan te wonderbaar vir Hom wees? Sou Hy sy woorde dan nie waarmaak nie?

Gemeente, op kritieke momente in die geskiedenis sien ons dat God sy volk na buite bring om hulle op sy almag te wys. Dink maar aan Jes 40 waar die volk kla oor God se afwesigheid tydens die ballingskap. God lyk so ver weg. Dit lyk asof Hy die nood van sy volk nie sien nie en ook nie omgee nie. Wat doen die Here dan? Hy wys op sy almag. Hy doen dit eers deur middel van indringende vrae; daarna deur te verwys na die hemel. Hy sê bv in vers 26 "Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie."

Deur na sy almag te verwys wil God die twyfel, die ongeloof verjaag. Ons dink gou te klein van God, aards, menslik. Ons kry geen antwoord op ons vrae nie, ons verstaan nie die Here nie en dan trek ons menslike konklusies. Dan is die woorde van Jes 40:27 e.v. pragtig. Kom ons soek dit saam op: "Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie. Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie."

In geloof vertrou ons ons heeltemal toe aan hierdie God. Wat God die Vader sê, dit is so en dit kom ook uit, ook al kan ek dit met my verstand nie deurgrond nie. Ek het immers te doen met ’n almagtige God, Skepper van die eindes van die aarde; Hom wat die dinge wat nie bestaan en wat, na menslike berekening, nie kan kom nie, tog tot stand bring.

By die ware geloof pas dus in feite geen twyfel nie. Om te glo is om seker te weet. En twyfel is nie seker weet nie. Dit wil nie sê dat ’n gelowige nooit kan twyfel nie. Was dit maar waar! Ons moet daagliks teen die swakheid van ons geloof en teen ons twyfelmoedigheid stry. Maar die geloof moet steeds weer oorwin.

Gemeente, in die verbond word die vergewing van die sonde en die ewige lewe belowe. Dink maar aan jou doop. Die Seun verseker aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. En die Heilige Gees verseker ons dat Hy ons tot ons eiendom maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. So sal ons eendag volkome rein ’n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.

Om te glo is ook om seker te wees van daardie beloftes. Seker daarvan wees dat God ook my sondes vergewe. Hy het dit tog beloof, heel persoonlik, by my doop? En wanneer ek uit swakheid in sondes val, ook in die sonde van twyfel, dan gaan ek nie aan God se genade wanhoop nie. Nee, God het gespreek en bly spreek: Ek wil al jou sondes vergewe, ook jou sonde van twyfel. My twyfel moet oorwin word en kan oorwin word. Hoe dan? Deur God op sy woord te glo. En dan is niks meer onmoontlik van wat God belowe het nie, selfs nie die vryspraak van ’n groot sondaar as ek nie.

Elkeen wat glo mag dan sê: ek is gered, my sondes is vergewe. Die volkome verlossing, ook van die swakheid van my geloof, is nog nie aanwesig nie. Die mooiste moet nog kom. Dis nie iets twyfelagtigs nie. Dit is ’n vasstaande feit. God het dit gesê, daarom is dit so, daarom sal dit uitkom. Ek bly hoop op sy woord.

Dit bring ons by die tweede gedagte: die voorwerp van die geloof – God se beloftes

Die Kategismus vra na ’n ware geloof. By die vraag gaan dit nie oor die egtheid van die geloof nie. Teen geveinsdheid gaan dit hier nie, dat jy doen asof jy iets het terwyl jy dit nie het nie. ’n Valse geloof is nie ’n onegte geloof nie. Ons mag aanneem dat elkeen wat sê dat hy glo, dit ook eerlik bedoel. In ons omgang met andersdenkendes sal ons dit in ag moet neem. As iemand sê dat hy glo dan mag jy daarvan uitgaan dat hy dit opreg bedoel. Wat saak maak is: waarin glo jy? Nie elke geloof is ’n ware geloof nie. Die vraag moet gestel word: waarop rig die geloof hom? ’n Ware geloof is ’n geloof soos die Bybel daarvan praat. En waar rig ’n ware geloof hom op? Op God se beloftes. Dit is die antwoord op God se woorde. God spreek en die geloof hoor. God belowe en die geloof neem aan. Die geloof sê: amen, dit is waar en seker.

By die ware geloof gaan jy dus nie uit van jou eie ervaring, van wat jy sien of voel nie. Jy bou nie op menslike gevoelens nie, maar jy bou op die Woord van God. Jy lewe by wat God belowe het. Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit glo ek omdat God dit aan my gesê, belowe het.

Gemeente, dat die geloof hom op die belofte rig, blyk duidelik uit die geloof van Abraham. Abraham word met reg die vader van die gelowiges genoem. In sekere sin mag sy geloof voorbeeldig genoem word. Abraham ontvang die woord van die Here. Die Here roep hom weg uit Haran. Dis geen kleinigheid nie. Abram moet uit sy eie land en wegtrek van sy eie familie. En hy moet gaan na ’n ver en vreemde land. Die Here belowe hom ook dat hy tot ’n groot volk sal word. Al die geslagte van die aarde sal in hom geseën word. Abram doen wat die Here sê. Hy glo God se woord, hoe onmoontlik die vervulling ook mag lyk, aangesien Sarai onvrugbaar blyk te wees.

Jare later herhaal die Here sy belofte. Hy lei Abram selfs na buite toe en sê: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. … So sal jou nageslag wees. En Abram het in die Here geglo, lees ons, en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken (Gen 15:5,6). Abram het in die belofte van God sy vastigheid gevind. Lees maar Rom 4, waar steeds weer van die belofte gespreek word. Die een belofte was vir hom voldoende. Want dit was die belofte van God. En Abraham het gestaan voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan (Rom 4:17).

God het belowe om aan hom ’n seun te gee. Wel, dit sal dan ook gebeur. God het belowe om hom tot ’n groot volk te maak. Mag ’n mens dan twyfel? Abraham het teen hoop op hoop geglo. Sy geloof het teen alle menslike verwagtings ingegaan. Sou hy op homself en op Sara sien dan sou daar geen enkele hoop vir hom wees nie. En hy was bewus van die werklikheid. Ons lees immers in Rom 4: en sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. Abraham het dus agtergekom dat hy nie meer kinders kon verwek nie en dat Sara ook nie meer ’n kind kon verwag nie. Hulle was beide op hierdie gebied verstorwe, dood. Maar hoewel daar niks meer was om te hoop het hy tog op hoop geglo. Op hoop, dws, met ’n stellige verwagting. Want God het gesê: so sal jou nageslag wees.

Deur die geloof in God se belofte het Abraham sterk geword en het die moederskoot in Sara lewend geword. Abraham het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie. Hy het aan God die eer gegee, die eer naamlik, dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het. Sou God iets belowe en dit nie doen nie!

So het dit ook gegaan toe Abraham sy seun Isak moes offer. Eindelik het hy dan die beloofde seun ontvang. Maar nou moet hy die enigste seun offer. Wat sal dan van God se belofte teregkom? God het tog belowe dat uit hierdie seun ’n groot volk sou voortkom.

Abraham doen egter wat God van hom vra, vertrouend op sy belofte. Abraham weet: God het gesê: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit sal God waarmaak, hoe dan ook. Ook al lyk sy opdrag aan Abraham daarmee in stryd. Abraham weet dat hy te doen het met God wat dooies lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan (Rom 4:17). Daarom het hy daarmee gereken dat God mag het om Isak selfs uit die dode op te wek (Hebr. 11:18).

Broeders en susters, die voorbeeld van Abraham maak duidelik dat die geloof hom rig op God se beloftes. God het gespreek, in sy Woord, by die doopvont. Dit glo ek. Daarop vertrou ek. Daarop bou ek. Dit is waar en seker.

Sonder die voorwerp is my geloof niks nie. Daarom moet ek myself eintlik nie die vraag stel: het ek wel geloof? Maar die vraag: glo ek wel die beloftes van God? By ons selfbeproewing pas nie die vraag: het ek wel vertroue in my hart. So ’n vraag is te vaag en kan ons juis onseker maak. By die selfbeproewing pas die vraag: vertrou ek wel op God. Met ander woorde: ek moet steeds die voorwerp van die geloof in die oë hou. Dit is bepalend vir ’n ware geloof. Die geloof rig hom op God se beloftes. Jy is seker van alles wat God jou in die evangelie belowe het.

En gemeente so ’n geloof, dit bring ook voordeel. Die derde gedagte: die voordeel van die geloof: die beloofde heil.

Die kategismus stel die vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Daarop word geantwoord: Nee, maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem. Dit kom hierop neer: wil jy die saligheid ontvang dan moet jy glo. Wil jy die vergewing van die sondes en die ewige lewe ontvang dan moet jy deur die geloof aan Christus behoort, dan moet jy in die geloof weet dat jy nou aan Christus verbind is. Dan moet jy Christus en al sy weldade aanneem. Die geloof word soms die hande genoem waarmee ons Christus omhels, die hande waarmee ons Christus na ons toebring. Deur die geloof ontvang jy Christus en al sy weldade, die skatte van sy koninkryk.

Dit blyk dus dat ons nie outomaties die heil ontvang nie. Dit is ook geen erfgoed wat jy as kind van jou ouers erf nie. God kom na ons toe met sy beloftes. Maar wat Hy jou by jou doop belowe kry jy nie outomaties nie. Jy kan die dinge wat Hy belowe ook verspeel. God het gesê dat Hy jou Vader wil wees. Hy het belowe dat Hy jou met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van jou wil afweer of tot jou beswil beskik. Maar wat verwag jy as jy God nie ernstig neem nie, as jy die beloofde heil verwerp. Wat verwag jy as jy dink dat jy Vader nie meer nodig het nie, as jy Hom die rug toekeer. Sal jy dan tog nog mag geniet van die skatte van sy ryk? Nee, dit kan nie bestaan nie. Wie God verlaat kan smart op smart verwag. Dit lyk nou miskien nie so nie, maar uiteindelik sal hy dit, en dan moontlik te laat, ondervind.

Maar wie glo, wie God se beloftes aanvaar, wie op sy woord vertrou, sal omring word met sy vaderlike sorg. Hy mag geniet van die skatte van God se ryk. Deur die geloof word al die skatte geniet, skatte van vergewing van sondes en ewige lewe.

In die inleiding het ons genoem dat dit soms lyk dat God sy woorde nie nakom nie. Hy sê immers: die wat op die Here wag, kry nuwe krag, maar wat ervaar ons daarvan. Ja, wat ervaar ons van al sy beloftes? Ons kan soms maar nie tot rus kom nie. Maar broeders en susters hoe ontvang u al die dinge wat belowe is? Hoe kan u ervaar dat God werklik as ’n Vader u naby is? Alleen deur God op sy Woord te glo. Alleen deur te sê: Vader het dit gesê, dus is dit so. Alleen deur jouself weer volledig aan sy belowende en skeppende woord toe te vertrou.

Nee, al die dinge wat belowe is, is nie onmiddellik te sien nie. Die mooiste moet nog wag op Christus se wederkoms. Maar dan gaan ons wel van krag tot krag steeds voort, ons oog gerig op die hemelse Jerusalem. Die geloof hou ons op die been, vol verwagting, haastig op pad na die koms van die dag van God. Ons hou goeie moed, ook al lyk dit asof die werklikheid in stryd is met die beloofde heil. Want wat God gesê het, dit kom uit, vas en seker.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)