Die Middelaar van die verbond, ons Here Jesus Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-04-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Sondag 6

Ds C Kleyn - Sondag 18 April 1999

Lees: Hebreërs 1:1-4; 2:5-18, Sondag 6
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 8:1,4,5; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand gaan ons opnuut die pad van God se liefde volg. Aan die einde van die vorige sondag is die vereistes van die Middelaar opgesom: Hy moet ’n ware en regverdige mens wees, maar nogtans ook sterker as alle skepsels, dit wil sê terselfdertyd ware God wees. In sondag 6 word vervolgens gevra waarom dit so moet wees?

As jy die antwoorde van sondag 6 lees dan lyk dit nie juis na iets nuuts nie. Waarom is die Kategismus so breedvoerig? Moet hierdie waarheid so uitvoerig uitgepluis en beredeneer word? Gemeente, as jy die kerkgeskiedenis ’n bietjie ken en as jy jou eie tyd ’n bietjie ken, dan sal jy besef dat hierdie aandag geen oorbodige luukse is nie. Immers juis oor hierdie saak was en is daar altyd baie stryd en dwaling. Dit het reeds begin in die tyd van die apostels en dit gaan nog steeds aan. En laat ons eerlik wees: is dit nie ook vir ons dikwels moeilik om te glo dat Jesus Christus God en mens in een persoon is nie? Met my verstand kan ek dit nie bevat nie.

So het mense daartoe gekom om ’n ander Middelaar uit te dink. Sommiges, waaronder die gnostici, kon nie aanvaar dat die Middelaar Jesus Christus ware mens sou wees nie. Die verhewe goddelike natuur sou onmoontlik saam kon gaan met die lae menslike natuur. So het hulle ontken dat Christus werklik mens geword het. Ander mense, waaronder Arius en hedendaags liberale teoloë, kies vir sy mensheid en verloën dat hy terselfdertyd God sou wees. Jesus Christus sou wel ’n besondere persoon gewees het, maar nie God nie. Uit die stryd teen Arius het ons die belydenis van Nicea ontvang. Die kerk was genoodsaak om na die Skrifte te bely dat Jesus Christus ware God en ware mens is.

Met ons verstand kan ons dit nie bevat nie. Moes ons Verlosser noodwendig God en mens in een persoon wees? Kon ons verlossing werklik nie op ’n andere wyse bewerk word nie?

Die Kategismus gee hierop vanuit die volheid van die Skrif antwoord. As jy die tekste, waarna die Kategismus verwys, naslaan dan sien jy dat ons hier nie te doen het met n eienaardigheid van ons gereformeerdes nie. Ons raak nie opgewonde oor hierdie saak omdat ons dit so belangrik vind nie, maar omdat God dit so belangrik vind. Hierdie waarheid is onvoorstelbaar. God self het wat onmoontlik is moontlik gemaak.

En van sy verlossingsweg hang alles af. Jou lewe as gelowige en jou toekoms is nie los te dink van hierdie buitengewone weg van God nie. Kan jy swyg as jy so ’n weg van heil leer sien het? Jy wil daaroor praat om God in sy heilsweg te eer. Jy kan nie anders dan roem in die Here nie, uit wie, deur wie en tot wie alle dinge is. Jy wil die waarheid oordink om jouself steeds weer te oortuig: kyk hoe geweldig God se liefde is en hoe ryk ek is met so ’n God. Jy wil daaroor praat om ander te oortuig sodat die mense nie verlore sal gaan nie maar redding sal vind in die enigste Middelaar Jesus Christus, God en mens in een persoon.

Vanaand wil ek u dan die evangelie verkondig van die Middelaar van die verbond, ons Here Jesus Christus.

  1. Wat Hy moet doen
  2. Wat Hy moet wees
  3. Dat Hy van God gegee is

Ons gaan praat oor die middelaar van die verbond. Maar wat is nou presies ’n middelaar en wat doen hy? ’n Middelaar is ’n tussenpersoon, iemand wat tussen twee partye instaan. Hier gaan dit oor ’n tussenpersoon wat tussen God en die mens instaan. Deur die sonde het daar immers ’n kloof gekom tussen God en die mens. Die Middelaar Jesus Christus staan dus tussen God en die mens in.

Maar, wat doen so ’n Middelaar? Om dit te verduidelik wil ek julle wys op ’n ander middelaar uit die Bybel. In die Bybel word nie alleen die Here Jesus ’n middelaar genoem nie, maar ook Moses. Wat doen Moses dan as middelaar? Moses staan tussen die Here en sy volk in. As die Here sy wet aan sy volk bekend wil maak, dan gee Hy die wet aan Moses. En Moses moet dit deurgee aan die volk. So moet Moses ook die woorde van die volk deurgee aan die Here. Alles gaan via Moses die middelaar.

Kort na die verbondsluiting by die Sinai loop dit egter verkeerd met die volk Israel. Moses bly lank weg op die berg. Wat doen die volk dan? Hulle maak ’n goue kalf en buig daarvoor neer. Die Here sien dit en sê vir Moses dat Hy die volk wil uitroei. Hoe reageer die middelaar Moses dan? Hy probeer om God te weerhou om die volk uit te roei. Hy pleit vir die volk by God. En die Here luister na Moses.

Moses dink dat hy selfs nog ’n stap verder kan gaan. Hy probeer ook versoening te bewerk vir hul sonde. Hoe wil hy dit dan doen? Hy sê tot die Here: "Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het." (Eks 32:31,32). Moses laat hier sien hoe ver ’n middelaar kan gaan. Eers vra hy om vergewing. As God daarmee nie tevrede is nie, dan wil hy homself vir sy volk opoffer. Hieruit blyk hoe lief Moses vir sy volk is. Maar is dit wel moontlik?: Moses uit die boek van lewe uitvee in plaas van die ongehoorsame Israeliete? Nee, dit kan nie. Moses oorskat homself. Hy vergeet dat hy ’n sondig mens is. En ’n sondaar kan nie vir ander mense betaal nie. Daarom aanvaar die Here nie sy aanbod nie. Die Here kan dit nie aanvaar nie.

Gemeente, hoe anders is dit met die beter Middelaar Jesus Christus. Hy pleit nie slegs vir sy volk by God nie, maar Hy offer homself ook op vir sy volk. En God aanvaar sy offer. Wat Moses nie kon en mog doen nie, kan en mag Jesus Christus wel, naamlik sy lewe gee in die plek van sy volk.

Waarom kan hierdie Middelaar Jesus Christus dit wel? Omdat hy nie slegs ’n ware mens is nie, maar ook ’n regverdige mens, ja, selfs God. Dit is die tweede gedagte van die preek: wat die Middelaar moet wees.

Gemeente, as ons so die vereistes van die Middelaar noem, dan moet ons weet dat dit goddelike eise is. Dit is ’n goddelik vereiste. Die Kategismus formuleer dit as volg: die geregtigheid van God eis dit. Dit is in ooreenstemming met die reg van God se liefde dat die Middelaar ’n ware en regverdige mens moet wees.

As eerste geld dat die Middelaar ware mens moet wees. Hebreërs 2 is duidelik daaroor. Dit gaan vir God oor die mens. Hy wil die mens voor Hom hê. Hy wil met die mens omgaan en in heerlikheid lewe. In hierdie verband lees ons die woorde: Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak (2:10). Dit het dus Hom betaam, dit het God gepas, dit was in ooreenstemming met God se heilig wese dat Hy dit so gedoen het. Om baie kinders na die heerlikheid te bring kon Hy dit nie anders doen dan deur die lyding en die verheerliking van Christus nie. God bly trou aan Homself. Hy is dieselfde by die skepping as by die verlossing. In al sy werke is Hy enkel majesteit.

Ja, gemeente, God bly by sy oorspronklike opset, ook na die sondeval. Hy wil met sy kinders in heerlikheid lewe. So het Hy dit aanvanklik bedoel. Hy het die mens geskep in ’n besonder verhouding met Homself. Hy het met die mens wil omgaan. Hy het hom sy liefde verklaar. Hy het die mens heerskappy oor die skepping gegee. Hy het hom met heerlikheid en eer gekroon. Hierdie voorreg was vir geen ander skepsel nie. Ook die engele het nie die liefde en seggenskap ontvang nie. Nee, die verbond was daar spesiaal vir God en die mens. Wat God in die verbond gegee het, het Hy alleenlik vir die mens gegee. En wat Hy van die mens gevra het, het Hy alleenlik van die mens gevra: die wederliefde. Daar staan letterlik alle ander skepsele buite: niemand het soveel ontvang en van niemand is daar soveel gevra nie.

Na die sondeval bly God by sy opset om die mens in sy liefde te betrek. In ’n sekere sin het daar vir God ’n leegte ontstaan deur die verbondsbreuk van Adam. En die leegte kan deur niemand anders as deur ’n mens gevul word nie. Vergelyk dit maar met ’n huwelik, wat ook ’n verbond is. Daardie besondere verhouding is daar slegs tussen ’n man en sy vrou. As een van die twee wegval dan ontstaan daar ’n leegte wat nie deur kinders, familielede of vriende gevul kan word nie. Alleen ’n eie man of vrou kan die plek inneem. So word die sogenaamde leegte by God alleen gevul as ’n mens weer voor God staan. Die besondere verhouding was daar slegs tussen God en die mens. Daarom moet die mens weer voor God kom.

Broeders en susters, dat God aan sy oorspronklike opset vashou blyk duidelik uit Hebr. 2. "Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld nie onderwerp nie" lees ons in vers 5 en dan volg ’n aanhaling van Ps 8. God wil die mens as onderkoning weer voor Hom sien. Hy wil alles aan hom onderwerp. Hy wil hom met heerlikheid en eer kroon. Ps 8 het daarvan geprofeteer. Soos dit in die begin was so sal dit weer word.

Maar, hoe sal dit dan gebeur? Deur die een mens Jesus Christus. Hebr. 2 wys daarop dat ons die heerlikheid van die mens nog nie sien nie. "Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie." (vers 8). Ons mense, ja ons kinders van God lewe nog in vernedering, in moeite en aanvegting. Wat sien ons van ons heerlikheid? Nie baie nie. Maar wat sien ons wel volgens die brief aan die Hebreërs? Ons sien die mens Jesus met heerlikheid en eer gekroon, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak (2:9). Ons sien dus reeds die mens Jesus met heerlikheid en eer gekroon. ’n Mens staan weer voor God, ’n tweede Adam. ’n Tweede mens wat die straf van die eerste mens gedra het, ’n tweede mens wat ook aan God gee wat die eerste geweier het, ’n tweede mens wat die nuwe mensheid verteenwoordig.

En, gemeente, dat Jesus Christus die nuwe mensheid kan verteenwoordig blyk uit wat ons verder lees in Hebr. 2. Sterk nadruk val op die band tussen Christus en die gelowiges, die geslag van Abraham. Kom, ons lees saam verse 11-13: "Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; …en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het."

Om as ons plaasvervanger op te tree moes die Here Jesus werklik een van ons wees, vlees van ons vlees. Sien verse 14 en 15: "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel- en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Hy het in ons menslikheid neergedaal. Hy het mens onder die mense geword, mens vir die mense en so ook mens voor God. God wil mos opnuut die mens voor Hom sien met heerlikheid en eer gekroon. Deur die mens Jesus wil Hy mense tot heerlikheid bring. Sien verse 16 en 17: "Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen."

Opnuut word ’n goddelik vereiste genoem: daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word. Daar was geen ander weg nie. Om ons te kan verlos moes die Middelaar volledig aan ons gelyk wees. Was hy nie werklik mens nie dan kon hy ons nie saamneem uit die dood na die heerlikheid. God wil die mens voor Hom sien. Laat daarom ’n mens hom aan die heilige God gee en sê: Vader, U vra ’n menslike offer, kyk hier is ek, die skuldige wat u soek. Handel met my as een vir almal, as Middelaar vir almal wat in my glo.

Gemeente, wat Moses die middelaar van die Ou Testament nie kon doen nie: versoening bewerk deur homself vir sy volk op te offer, dit kan die middelaar van die Nuwe Testament, Jesus Christus, wel . Moses is self sondig. Hy kan daarom nie vir ander betaal nie. Sy eie skuld is meer as wat Hy kan dra. As

ek self bankrot is kan ek immers nie ander mense uit hul bankrotskap bevry nie. Die middelaar Jesus Christus is egter nie self bankrot nie. Hy is volkome regverdig, sonder skuld. Ons lees in Hebr 7:26, 27: "Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wie nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir die van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het."

Daardie genoemde offer sou, gemeente, vir u nog geen waarde hê nie, as u middelaar nie terselfdertyd ware God sou wees nie. Sou iemand wat enkel mens is die las van God se ewige toorn vir u kan wegdra? Vir die las van God se toorn is menslike skouers te swak. Daaronder beswyk elke mens. Dit is ’n oneindige las. Wie eenmaal as mens in die duisternis van volkome godverlatenheid teregkom, kom nooit daaruit nie. Geen mens kan homself daaruit ophef nie. Wil die middelaar van die verbond dit wel doen dan moet hy terselfdertyd God wees. Wie kan dit immers uithou teen God? Alleen hy wat self God is. Hy moet God wees om daar bowe uit te kom en om tot die lewe terug te keer. Want geen mens het die mag oor die dood nie.

Hy moet ook God wees om aan ons die lewe weer terug te gee. Hy moet God wees om ons weer by God te bring as troue bondgenote. Ja, dit is geen kleinigheid nie. Dit is soveel as: dode lewend maak. En wie kan dit? Alleen God kan dit. Wie kan nuwe harte skep, nuwe mense voor God plaas? Slegs Hy wat terselfdetyd God is. Hy wat as God kan skep. Die Here Jesus, deur wie die Vader die wêreld gemaak het.

Gemeente, dit lyk onmoontlik dat daar so ’n middelaar sou wees, wat terselfdertyd God en mens is. Dit gaan ons verstand te bowe. Daarom struikel baie mense oor hierdie waarheid.

Maar wat dwaasheid vir mense is, is wysheid by God. Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir die wat Hom liefhet. Gelukkig maar, anders was daar geen hoop vir ons mense nie, ons sou vir ewig van God geskei bly, in die duisternis van godverlatenheid. God sy dank, God het self die inisiatief geneem om u en ek weer by Hom te bring. Hy het self voor versoening tussen Hom en ons gesorg. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16). Wat ’n liefde! God het die dierbaarste wat Hy het, daarvoor oor om u en my te red: sy eniggebore Seun.

Probeer in te dink hoe groot God se liefde vir u is. As ’n aardse vader vind ek dit al verskriklik as een van my kinders byvoorbeeld na die hospitaal moet gaan. Indien moontlik sou ek liewer self na die hospitaal gaan. Ek kan dit nie aansien dat my kind so ly nie. So lief is ek vir my kind. Maar dit is nog niks vergeleke met wat God doen nie. God het sy eie Seun, wat self niks verkeerd gedoen het nie, die swaarste straf opgelê, naamlik die ewige straf. En waarom het God so ’n verskriklike ding gedoen? Sodat ons nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Om ons weer by Hom te kry. Wat ’n liefde!

Dit is soos Paulus skryf in 1 Kor 1:30,31 dat Christus deur God vir ons geword het wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom soos geskywe is: die wat roem, moet in die Here roem. Die middelaar van die verbond is vir ons deur God geword, deur God gegee. Ons kon nie self vir so ’n middelaar sorg nie. Hy moes aan ons gegee word. En hy is gegee tot wysheid, geregtigheid en heiligmaking, kortliks tot ’n volkome verlossing.

Hy is gegee om ons verstand, wat deur die sonde verduister is, te verlig. Hy is gegee om ons weer op die pad van God se reg te plaas. Hy is gegee om ons weer heilig te maak sodat ons ons lewe weer in liefde aan God kon wy. Herken u die drie: wysheid, geregtigheid en heiligmaking? Dit is die drie trekke van die beeld van God: wysheid, geregtigheid en heiligheid. Wat ons deur die sonde verloor het, dit is Jesus Christus vir ons, sodat ons dit in Hom opnuut sal besit. Sodat ons weer sou wees wat ons behoort te wees: mense gerig op God, konings en priesters in diens van God.

So word die verlossing in Christus kompleet. Daar is nou nog die stryd en gebrokenheid. Ons sien nog nie dat alle dinge aan ons onderwerp is nie. Ons sien nog nie ons heerlikheid en eer nie. Alles is nog geskonde. Maar ons sien die mens Jesus Christus reeds met heerlikheid en eer gekroon. Hierdie middelaar het ons voorgegaan in heerlikheid. Daardeur weet ons: ons sal volg. Waar die hoof is daar sal die liggaam ook wees. God ontvang weer mense aan wie Hy sy liefde kwyt kan raak. En mense mag weer verkeer in God se teenwoordigheid. Daar kan weer ’n verhouding van liefde wees tussen God en mense. ’n Nuwe verbond. Danksy die middelaar tussen God en mense, ons Here Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)