In die herskepping soek God sy skepping weer terug.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-03-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

Sondag 3

Ds C Kleyn - Sondag 21 Maart 1999

Lees: Genesis 1:26-31; Romeine 5;12-21; Sondag 3
Sing: Ps 115:1,2; Ps 115:8,9; Ps 100:2,4; Ps 8:1-4; Ps 8:4-7; Ps 21:1-3.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As ’n baba gebore word dan bely ons: Hierdie baba is sondig, vuil. Daarom moet die kindjie, daarom moes ook Loïs, gedoop word, simbolies gewas word. So ’n klein kindjie is in sondes ontvang en gebore. Daarom is Loïs uit haarself glad nie in staat om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig.

Kom nou, is dit nie oordrewe nie? As daar iemand is wat onskuldig lyk dan is dit mos so ’n baba. Kan jy werklik van so ’n kind sê dat sy nie in staat is om iets goeds te doen nie? Het sy werklik niks goeds in haarself nie? So ’n kind kan tog opgroei as ’n liewe en gehoorsaam kind?

Tog bly ons die Skrif nasê: selfs die klein baba in die wieg is van nature verdorwe. Reeds verdorwe voordat jy as ouer iets daaraan kan doen. Die verwoesting van daardie skone skepseltjie het reeds ingetree. Daarom die belydenis: nie in staat om iets goeds te doen nie behalwe as hy of sy deur die Gees van God weergebore word. Vanaf die eerste lewens-oomblik is ’n nuwe geboorte nodig, wedergeboorte, ’n geboorte uit die Gees van God. Daar kom werklik niks van ons en ons kinders tereg nie, behalwe as die Gees van God, mede deur middel van ’n christelike opvoeding, die lewe omkeer.

Maar wat dan van die buurkinders wat opgroei sonder ’n christelike opvoeding en dus sonder die Gees van God? Groei hulle nie ook dikwels op as fatsoenlike burgers nie, hulpvaardig en eerlik nie? Kan ons dan wel volhou met: glad nie in staat om iets goeds te doen nie, behalwe as hy deur die Gees van God weergebore word?

Beslis! Want mag dit wat nie tot eer van God onse Skepper gedoen word nie, werklik goed genoem word? Mag dit goed genoem word as skepsels wat gemaak is om God te loof en prys, God in hul lewe negeer? Wat ’n verdorwenheid!

Bowendien, wat die ongelowiges uit burgerlike beleefdheid doen, is nie omdat die mense wil saamwerk met God nie, maar omdat God die samelewing in stand wil hou. In sy lankmoedigheid laat God die kwade nie tot volle ontplooiing kom nie. Die Here beteuel die sonde en die sondaars. Sou Hy dit nie doen nie, sal dit onleefbaar wees hier op aarde, sal dit ’n hel op aarde wees.

Maar, broeders en susters, as ons bely dat elke mens vanaf sy ontvangenis en geboorte ’n nuwe geboorte nodig het, beteken dit dan dat die verdorwenheid vasgeheg is aan die natuur van die mens, dat ons vanaf die skepping dit in ons het om te sondig? Het God dit dan wel goed gedoen by die skepping? Kan die mens iets daaraan doen dat hy so is?

Dit is vrae wat die Kategismus opwerp in Sondag 3. Laat ons hierna kyk as ek u verkondig: In die herskepping soek God sy skepping weer terug.

  1. Ons skepping laat ons die diepte van ons val verstaan
  2. Ons val laat ons die wonder van die herskepping verstaan

Die Kategismus vra na die oorsprong van die sonde. Dan kan die Kategismus nie die 1e hoofstukke van Genesis negeer nie. Daar het God mos die ontwikkeling van die menslike geskiedenis geteken, die ontwikkeling van u geskiedenis. Die uitgangspunt van hierdie ondersoek is die skone werk van God in die paradys. Dit moet voorop staan, anders sal jy nooit ’n verstandige woord oor ons verdorwenheid kan sê nie.

As ek nie weet hoe dit was nie, sal ek nooit kan peil hoe dit geword het nie. Daarom hoef u nie daaroor verbaas te wees dat baie moderne Christene nogal ligvaardig dink oor die bedorwe situasie van die mens nie. Dit sou heeltemal meeval met die mens. Hulle het die eerste hoofstukke van Genesis ontkrag. ’n Christendom wat geen erns maak met die geskiedenis van Genesis 1-3 nie, kom vanself uit by die humanisme of semi-humanisme.

Hoe was dit dan in die begin? God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Toe God op die 6e dag alles wat Hy gemaak sien, sien Hy dat dit baie goed is. Aan die geskape mens was daar geen gebrek of tekort nie. Alles in of aan hom was goed, dws alles het beantwoord aan die doel waartoe God hom geskep het.

Wat was dan die doel? Dit kom uit in die skepping na God se beeld. Wat was dit? By die woord beeld moet ons dink aan iets wat sigbaar is. In ’n beeld kan jy die afgebeelde persoon of saak herken. Die persoon kom in beeld. As Christus in 2 Kor 4:4 die beeld van God genoem word dan gaan dit daaroor dat Christus in sy doen en late wys wie en wat God is. Die heerlikheid van die onsigbare God word in Jesus Christus sigbaar. So kon Christus ook sê tydens sy lewe op aarde: wie My gesien het, het die Vader gesien.

So het God ons geskep as sy beeld. God wou en sou in ons sigbaar wees, sodat gesê kon word: wie die mens gesien het, het God gesien. By ons skepping was alles in ons dus op God gerig, soos ’n beeld gerig is op die afgebeelde persoon. Ons is geskep in ware geregtigheid en heiligheid. In al ons doen en late was ons afgestem op God se reg. Ons lewe was in volkome heiligheid aan God gewy. So was ons dus baie geskik om God te verteenwoordig hier op aarde, om sy saakgelastigdes, sy onderkonings te wees.

God die groot Koning het sy residensie in die hemel. Tegelykertyd het Hy die aarde aan die mens as sy werk en woonplek toegewys. God skakel die mens in in sy werk van onderhouding en regering van die skepping. Die mens moet as onderkoning God se heerlikheid uitstraal. Dit gaan oor die heerlikheid van God, ook as God die mens opdra om vir die lewende wesens name te gee. As Adam name gee dan roep hy God se heerlikheid oor die aarde uit. Ookal is hy uit die stof van die aarde geformeer, God kroon hom met eer en heerlikheid. (Ps 8:6). Sodat die naam van God heerlik sou wees op die ganse aarde. Lees maar die begin en einde van Ps 8. As beeld van God is die mens ’n spieël van God se heerlikheid.

Wel, gemeente, om die hoë posisie en roeping te vervul het die mens niks tekort gekom nie. "Baie goed" het God gesê (Gen 1:31). "Weinig minder gemaak as ’n goddelike wese, met eer en heerlikheid gekroon" (Ps 8:6). Daar was geen gebrek of tekort nie. Alles het volmaak beantwoord aan die doel waartoe God ons geskep het, naamlik om ons Skepper te dien en sy heerlikheid sigbaar te maak. Ons was immers geskep na God se beeld, heeltemal op Hom afgestem.

Hoe het dit egter verander. God het die mens geplaas in die volle weelde van die paradys, as kroon en heerser van die skepping. Ons was ryklik voorsien van alles wat ons nodig gehad het. Die Here het allerlei bome in die hof geplaas, begeerlik om te sien en goed om van te eet. Van alle bome mog hulle vrylik eet, behalwe van een. Nie omdat dit so ’n besondere boom was nie. Die boom van die kennis van goed en kwaad was ’n boom soos alle ander bome. Daarvan moet hulle afbly. Waarom? Slegs omdat die Here dit gesê het. Dit is dus eenvoudig ’n kwessie van gehoorsaamheid.

Met die een verbod toets die Here hul liefde en gehoorsaamheid. Daarom praat ons van ’n proefgebod. Dit moet blyk dat die mens bewus en van harte – en nie outomaties nie – hom rig op sy Skepper. Dit moet blyk dat die mens gewillig as onderkoning hom skik onder die groot Koning God. As Adam en sy vrou verby die een boom loop dan moet hulle weet: geen outonomie, geen onafhanklikheid nie. Die onderkoning op aarde mag geen oomblik selfstandig, los van sy hemelse Koning, optree nie.

Maar wat doen ons eerste ouers, Adam en Eva? Hulle luister na die vyand van God, die Satan. Die mens wat geskep was in sy gerigtheid op God draai teen God. Die mens rig homself op die listige duiwel. Hoewel die mens met alle moontlike gawes getooi was en heerskappy oor die skepping ontvang het, wil die mens nog meer en nog groter wees. Hy is nie tevrede daarmee om beeld van God te wees nie – ’n afspieëling van God – maar wil soos God wees, sy gelyke.

Die mens wil sy eie heer en meester wees. Dit is wat bedoel word met die woorde "kennis van goed en kwaad". Ons sou dit kan omskryf as: selfbeskikking oor goed en kwaad. As God na die sondeval sê: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken (Gen 3:22) dan bedoel Hy dat die mens homself as God se gelyke verhef het. Die kennis sien op mondigheid, selfstandigheid, emansipasie. Die mens wil sy eie pad volg, wil self beslis en negeer God se gebod. Pleks van werklik mens, beeld van God te wil wees en bly, kies die mens die skyn-vryheid in gebondenheid aan satan.

Gemeente, die Kategismus noem die sondeval tereg: ongehoorsaamheid. Ons is nie beklaenswaardige slagoffers, produkte van die omstandighede nie, nie toerekenbaar vir ons dade nie. God het ons juis met eer en heerlikheid gekroon. God het ons juis as verantwoordelik skepsels die heerskappy oor die skepping toevertrou. Ons het alles ontvang wat vir die vervulling van die roeping nodig was. Niks het ontbreek nie. Daarom is die sondeval geen ongeluk nie, maar ’n opsetlike misdaad, moedswillige ongehoorsaamheid. Ons het bewus vir die Satan gekies en teen God. Ons het die woorde van Satan geglo, pleks van die woorde van God.

Daarmee het ons baie diep geval. Dit is ’n val van lewe na dood. Die kind van die lewe – ons mog immers van die boom van die lewe eet – word ’n kind van die dood. Alles is bedorwe. Ons het verander in die teendeel. Die gerigtheid op God het verander in ’n opstelling teen God. Geregtigheid het ongeregtigheid en heiligheid onheiligheid geword. Die spieël van God lê in skerwe.

Miskien dink u: wat het ek te doen met Adam en Eva. Wat het die klein Loïs met hulle te make? Sy is tog nie verantwoordelik vir hul dade nie?

In die Bybel laat God duidelik die verband tussen Adam en ons sien. God het die menslike geslag geskep as ’n organiese eenheid in Adam, ons verbondshoof. Adam beteken ook letterlik mens. In die paradys was daar twee verbondspartye: God en die mens. As die mens dan die verbond verbreek dan het die mensheid dit gedoen. So het die mensheid deur die misdade en die sondes dood geword. In die paradys was dit dus nie slegs twee persone, Adam en Eva, wat skuldig teenoor God te staan gekom het nie, maar die hele mensheid, u en ek en ons kinders. Daarom is ons almal in sonde ontvang en gebore. Die verbreking van die verbond deur Adam is die verbreking van die verbond van die hele mensheid, ook my verbondsverbreking.

Paulus sê dan ook in Romeine 5 dat deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het. Let op die laaste woorde: omdat almal gesondig het. Wanneer het ons dan gesondig? Ons was in Adam ons hoof ingesluit. In hom het ons almal gesondig. Ons is medepligtig.

Broeders en susters, eers as ons die diepte van ons val verstaan kan ons ook sig kry op die wonder van die herskepping. Dit ly ons tot die tweede punt. Die eerste punt was "Ons skepping laat ons die diepte van ons val verstaan." Die tweede punt is: "Ons val laat ons die wonder van die herskepping verstaan."

Ons weet nou uit welke diepte ons gered moet word. Ons natuur is heeltemal verdorwe. Vanaf die begin van my lewe – in sonde ontvang en gebore – is dit ’n verlore saak. Tot in die wortel van my bestaan deug ek nie. Ek is glad nie in staat om iets goeds te doen nie. Uit myself kan ek my onmoontlik weer op God rig. My doen en late is van nature gerig op Satan en op myself. Ek is ook tot alle kwaad geneig. Gelukkig dat God die neiging nog rem, anders sou dit al ’n volkome hel op aarde wees.

Die mag van die sonde in my lewe kan slegs deur ’n wonder gebreek word. Die wonder van wedergeboorte. ’n Reparasie is nie voldoende nie. Ek het nie slegs defekte nie. Ek is tot in die wortel van my bestaan verdorwe. Daarom moet my lewe van die grond af weer opgebou word. Ek moet weer heeltemal opnuut begin. So sleg is ek! Slegs ’n wedergeboorte kan dit weer regmaak.

God sy dank, daardie nuwe begin is moontlik. Dit is geen hopelose of uitsiglose saak nie. Ook nie vir die baba in die wieg van wie ons moet sê: in sonde ontvang en gebore nie. Waarom nie? Ons mag mos Jesus Christus ken. In Hom is daar weer uitsig op herstel, ook vir Loïs. Die eerste doopvraag sê immers: "Bely u dat ons kinders, hoewel hulle in sondes ontvang en gebore is en Daarom aan allerhande ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel onderworpe is, nogtans in Christus geheilig is." Daar is nie slegs die woorde: in sondes ontvang en gebore nie. Daar is ook die woorde: in Christus geheilig, in Christus weer afgesonder om vir die Here te wees. In Christus weer opgeneem in diens van die Here. In Christus weer na God se beeld vernuwe word.

Soos die sonde van die 1e Adam my toegereken word, so is daar ook vir hulle wat glo ’n toerekening van die vryspraak van die 2e Adam, Jesus Christus. Ek kan die toerekening van Christus pas verstaan as ek kennis het van die eerste toerekening. Met Adam het ons in plaas van kinders van God, kinders van die dood geword. Maar op Golgotha het God se eie Seun Homself kind van die dood laat word. Nee, nou nie deur ongehoorsaamheid nie, maar juis in gehoorsaamheid aan die Vader. Deur die wet van toerekening mag ons dan in plaas van kinders van die dood weer kinders van God word.

In Romeine 5 vergelyk Paulus die toerekening van die 1e Adam met die van die 2e Adam. "Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word." (Romeine 5:19). Sien hier die vrysprekende vonnis van God. As gevolg van die misdaad van een het die dood as koning gaan heers. Veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en die gawe van geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Een, Jesus Christus (Romeine 5:17). Hier het u die herstel van die beeld van God, die herstel van die onderkoning wat heers in God se skepping. God wil sy skone skepping terug hê, skepsels wat wandel voor sy aangesig, spieëls van sy heerlikheid. Deur sy Gees skep God die nuwe mens. Hoe doen Hy dit? Ook door middel van julle as ouers, deur ’n Christelike opvoeding, deur ons as gelowiges, deur sy lewendmakende woord. Hy vernuwe wat verdorwe was. Gehoorsaamheid neem weer die plek van ongehoorsaamheid in. Daar is weer mense wat in nuwe gehoorsaamheid lewe, soos die doopsformulier daarvan praat. In Jesus Christus, deur Hom.

So sien u broeders en susters, dat die geskiedenis van Adam en sy vrou in die paradys alles te make het met ons mens-wees nou en in die toekoms. As die sonde ’n gevolg is van ’n natuurlike ontwikkeling soos sommiges beweer, dan sou ons geen hoop hê nie. As die sonde sou teruggaan na die essensie van ons bestaan, na ons skepping, dan sou daar weinig aan gedoen kan word. Dan sou ons inderdaad kan sê: die mens is nou eenmaal so, ons kan daar niks aan doen nie. Dan bly ons ewe sleg en verdorwe soos altyd. Die fiasko van die humanisme bewys dit vir ons.

In geloof weet ons egter: die sonde het eers later die wêreld binnegekom. Die sonde sit nie ingeskep in ons mens-wees nie. Gelukkig nie. Nou mag daar uitsig wees op ’n vernude heerlikheid. Die sonde hoort daar in feite nie by nie. Dit is ’n teennatuurlike saak in die lewe van die mens. Ons was geskep as skepsels wat heeltemal op God gerig was.

Daarom lê ons ons nie neer by die verworde situasie nie, by die skynbaar hopelose situasie asof ons nou eenmaal so is nie. Maar ons verootmoedig ons voor God: "o God wees my sondaar genadig". Ek was oorspronklik nie so nie. Ek was goed, na u beeld geskep, ’n spieël van u heerlikheid. Deur eie skuld in ongehoorsaamheid het ek die spieël stukkend gemaak. Herskep my dan in u genade na u beeld deur u Woord en Gees. Herskep ook hierdie klein Loïs sodat ook sy u beeld weer mag vertoon.

En dan gaan ons aan die slag as vernude mense, as God se onderkonings. As mense wat in beginsel weer ’n afspieëling van God se heerlikheid vorm. So gaan die kleintjies in Christus geheilig aan met hul spel. Spelende as kinders van God, singende tot sy lof. So gaan ons aan met ons studie of werk, tot lof van ons Skepper. As aardse onderkonings van die hemelse Koning.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)