Christus word in sy lyding deur Petrus verloën.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-03-14
Teks: 
Lukas 22
Preek Inhoud: 

Lukas 22:54-62

Ds C Kleyn - Sondag 14 Maart 1999

Lees: Lukas 22:31-53, Lukas 22:54-62
Sing: Ps 100:1,2; Ps 100:3,4; Ps 139:1,12; Ps 116:1-4; Ps 116:7,9,10.

Samevatting:

Dis ’n onroerende geskiedenis. Verskriklik vir Jesus. ’n Spieël waarin ons onsself herken in ons swakheid en tekortkomings. Is ons beter as Petrus? Teks gaan egter nie slegs oor Petrus nie, maar veral oor Jesus Christus in sy lyding.

Tema: Christus word in sy lyding deur Petrus verloën.

  1. Christus se lyding verswaar;
  2. Christus se lyding blyk nodig te wees;
  3. Christus se lyding is vir die verlossing van Petrus en van ons.

Wie is die Petrus wat Christus verloën? Die man wat nie so lank gelede die skitterende belydenis van Jesus as die Christus gegee het; die rots op wie Christus sy kerk sal bou; die sleuteldraer in God se koninkryk (Mt. 16:13-19). Sien ook Johannes 6:68,69. Die man wat Christus se heerlikheid op die berg gesien het en Vader se woord oor Jesus gehoor het: dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het (Mt. 17:1-5). Hierdie Petrus verloën sy Here Jesus drie maal. ’n Diensmeisie bring hom in groot verleentheid en gevaar. Petrus probeer homself uit die gevaarlike situasie te red deur sy Meester te verloën. By die tweede keer bekragtig hy dit met ’n eed. ’n Uur later begin dit egter weer. Dan gaan Petrus daartoe oor om God se vloek oor homself uit te roep (Mt. 26:74). Dit moes baie pynlik vir Jesus gewees het om te hoor hoe sy leidende dissipel, sy intieme vriend, Hom op die wyse verloën. Is al Christus se werk aan Petrus verlore? Waar is die werk van die Vader wat Petrus tot so ’n pragtige belydenis gebring het? Christus word verlaat deur almal, selfs deur Petrus. Ja, so is die kerk, vir wie Hy sy lewe gee. So is ons uit onsself. Christus het vir ons gesterwe toe ons nog vyande was, sondaars.

Petrus verloëning toon dat Christus geen steun van sy kerk kan verwag nie. Dit het al in Getsemane geblyk. Daar het Christus alleen geworstel, terwyl die dissipels geslaap het. As Hy gearresteer word dan vlug hulle almal. Petrus wil egter weet wat met sy Meester gebeur. Uit liefde vir Hom begeef hy homself in gevaar. In selfversekerdheid het hy die waarskuwinge van die Here afgewys (Mt. 26:31-35; Lk. 22:31,32). Hoogmoed kom voor die val (Spr. 16:18). Vanweë sy vertroue in eie krag, liefde en trou maak hy homself ’n maklike prooi van Satan. ’n Diensmeisie laat hom reeds val. En dan gaan hy van kwaad tot erger. Hy toon hoe nodig Christus se lyding is. Christus moet alles regmaak vir hulle wat aan Hom behoort. Hy moet alle geregtigheid vir hulle vervul. Alleen sy selfopofferende liefde tot die bittere einde kan sy volk red. Ons wysheid, moed en krag kan die kerk nie red en haar toekoms verseker nie. Kyk maar na Petrus. Dit is afhanklik van Christus alleen, van sy werk van verlossing. Hy moet die volle prys betaal vir die fondament en vir die opbou van die kerk.

Die haan kraai persies op die tyd wat Jesus voorspel het. Op daardie oomblik draai Jesus om en kyk Petrus aan. Hy dryf Petrus terug na sy woord (Lk. 22:61b). So kom daar die berou van Petrus. Hy is ’n gebroke man. Om te sondig is nooit goedkoop nie. Wanneer jy in ernstige sonde val verloor jy vir ’n oomblik die gevoel van vrede, die gevoel dat God met jou is. Petrus is egter nie sonder troos nie. Die Here gee nog om vir hom, Hy het hom aangekyk. Die Here het ook gebid dat sy geloof nie sou ophou nie (Lk. 22:32). Die Gees van God werk berou en bekering. Tog is daar nog die vervloekinge wat Petrus geuit het. Christus se in feite: Vader vervloek hom nie, maar vervloek My in sy plek. So is ons Verlosser. Hy het aan die kruis gesterwe om jou en my te red van ons sondes, ook van ons sondes van die verloëning van Hom. Sy lewe is ons lewe, want Hy het ons dood gesterf. So wil Hy ons maak tot mense wat sy naam bely. Hy leer ons om al die vertroue op onsself prys te gee en ons vertroue alleen op Hom te stel. Waak en bid in besef van eie swakheid en afhanklikheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die geskiedenis van Petrus se verloëning van Jesus is ’n ontroerende geskiedenis. As jy daaroor nadink dan kan jy nie anders as om geraak te word deur die feit dat die Here Jesus deur Petrus verloën is nie. Dit moes verskriklik vir Jesus gewees het. Dit is wat Christus vir jou en my gely het.

Hierdie gedeelte funksioneer ook as ’n spieël wat voor jou geplaas word. Wat sien jy as jy in die spieël kyk? Jy sien jouself. Jy sien jou eie swakheid, jou gebreke in die hantering van die versoekings. As ek in die spieël kyk dan besef ek dat ek ook dikwels my Here Jesus verloën. Byvoorbeeld, ek is deel van ’n groep. Ek wil nie ’n spelbreker wees nie. Ek wil nie gesien word as ’n heilige nie. Wat doen ek dan? Kom ek dan op vir my Here en sy wil, wat my vriende ookal mag sê of dink? Ek wil my relasie met my vriende, my kollegas, my kliënte of my sakekennisse nie in gevaar bring nie. Gebeur dit dan nie maklik dat ek gerieflikheidshalwe my relasie met my Here Jesus vir daardie aangeleentheid verswyg nie? Dan offer ek op daardie oomblik my relasie met Jesus Christus op terwille van my relasies met mense. In ander woorde: dan verloën ek die Here.

Die spieël van die teks vertoon ons in ons swakheid en tekortkomings. Is ons beter as Petrus?

Gelukkig gaan die teks nie slegs oor Petrus, oor sy verloëning van Jesus nie. Die Here Christus is ook daar, Christus in sy lyding. Hy is selfs die sentrale Persoon. Die lyding van Christus, daaroor gaan dit. En alleen die lyding van Christus kan ons red en genees. Alleen deur geloof in Jesus Christus kan ek ’n nuwe begin maak en kan my lewe verander. In pleks van Jesus Christus te verloën gaan ek Hom dan voor die mense bely.

Ek verkondig u: Christus word in sy lyding deur Petrus verloën.

  1. Christus se lyding verswaar
  2. Christus se lyding blyk nodig te wees
  3. Christus se lyding is vir die verlossing van Petrus en van ons

Christus is in sy lyding deur Petrus verloën. Wie is hierdie Petrus? Petrus is die man wat nie so lank gelede nie so ’n skitterende belydenis van Jesus as die Christus gegee het. In die streke van Cesarea-Filippi het Christus sy dissipels gevra: "wie sê die mense dat Ek die Seun van die mens is?" Hulle het toe geantwoord: "Sommige Johannes die Doper, en sommige Elia en ander Jeremia of een van die profete." Jesus sê toe vir hulle: "Maar julle, wie sê julle is Ek?" Dit was toe Petrus wat spontaan geantwoord het: "U is die Christus, die Seun van die lewende God." U is die beloofde Messias, die beloofde Verlosser van God se volk. Jesus het Petrus toe gelukgewens: "Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is." Vanweë die belydenis noem Jesus Petrus ’n rots op wie Hy sy kerk sal bou: "En ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee." (Mt 16:13-19).

Wie is dit wat Jesus Christus verloën? Petrus, die groot belyder van Jesus as die Christus, omdat die Vader in die hemel dit aan hom geopenbaar het. Petrus, die rots op wie Christus sy onoorwinlike kerk sal bou, die fondamentsteen van die kerk. Petrus die sleuteldraer in God se koninkryk. Dit is die man wat nou sy Here Jesus verloën. Petrus is ook die persoon wat Jesus se heerlikheid en majesteit by die verheerliking op die berg gesien het en wat toe uit die wolk die stem van Vader gehoor het "Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!" (Mt 17:1-5). Petrus is ook die man wat kort gelede, toe baie van Christus se dissipels hom verlaat het, uitdruklik verklaar het: "Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God." (Joh. 6: 68,69). Hierdie selfde Petrus verloën nou die Here Jesus drie maal.

Blykbaar herken ’n diensmeisie Petrus en sê: "Hierdie man was ook saam met Hom." Sy bring Petrus in groot verleentheid, daar in die binneplaas tussen die dienaars van die hoëpriester en die tempel polisie. Hoe kan hy homself red? Gestel dat hulle te wete kom wie hy is; dat hy die man is wat sopas die regteroor van die dienskneg van die hoëpriester getref en afgekap het. As hulle ontdek wie hy is dan sal hy dalk nie lewend hier wegkom nie. Petrus sien slegs een uitweg: om die Here Jesus te verloën, so duidelik as moontlik. "Vrou ek ken Hom nie." Ek weet nie oor wie jy praat nie. Broeders en susters, seuns en dogters, herken julle dit in jul eie lewe? Om my gesig te red doen ek dinge waarvan ek weet dat dit nie goed is nie.

Veiligheidshalwe gaan Petrus na die poort toe. Maar ook daar herken iemand hom en sê: "Jy is ook een van hulle". Dit word gevaarlik vir Petrus. Hoe moet hy homself uit die gevaarlike situasie red? Opnuut verloën hy sy Here. Hierdie keer doen hy dit met ’n eed lees ons in Mt. Hy probeer sy leuen te bedek met ’n eed. Sy Here het hom wel iets anders oor die eed geleer. Petrus slaag daarin om voorlopig die aandag van hom af te hou. Ongeveer ’n uur later begin dit egter weer. Mense het sy Galilese aksent herken en aan hom gesê: waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend. Nou is Petrus regtig bang. Hy gaan nog ’n stap verder in sy verloëning, soos dit blyk uit Mt 26. Die eerste keer het hy slegs ontken dat hy Jesus geken het. Die tweede keer het hy dit bekragtig met ’n eed. Nou, die derde keer, begin hy homself te verwens en sweer: ek ken die man nie. Petrus roep God se vloek oor homself uit: Mag God my vervloek, my straf as ek iets te doen het met hierdie man Jesus.

Is dit nie verskriklik nie? Christus is besig om vir sy volk te ly. Christus word verhoor en gemartel. Christus is op pad na die kruis. Tydens daardie proses verloën Petrus, een van sy leidende dissipels, Hom. Hy doen dit selfs met ’n eed en met vervloekinge. Hier het jy die rots op wie Christus sy kerk gaan bou, die rots waarop die kerk onoorwinlik sal wees. In ’n hoek gedrywe deur ’n diensmeisie ontken hy met ’n eed dat hy Jesus ken. Wat ’n teenstelling met die pragtige belydenis ’n paar maande gelede: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Dit moes baie pynlik vir Jesus gewees het. Dit verswaar sy lyding. Hoe pynlik is dit om ’n intieme vriend te hoor sweer dat hy jou nie ken nie en om te hoor dat hy homself selfs verwens. Petrus het tot so ’n pragtige belydenis gekom. God die Vader het hom sover gebring. Sy belydenis was ’n vrug van God se kragdadige werk in hom. Maar nou verloën hy die belydenis. Waar is God se krag in Petrus nou? Waar is die krag wat Petrus moet ondersteun in moeilike dae nou? Is al Christus se werk aan Petrus skielik verlore, verwoes? Die rots lyk verbryseld te wees. Christus verloor almal. Hy moet die kruis in die oë staar, verlate en alleen. Hy moet die beker van lyding alleen leegdrink. En die inhoud van die beker is nog bitterder gemaak deur die verlating van sy dissipels. Ja, Petrus verloën Hom met ’n eed en met vervloekinge. Hy roep God se oordeel oor homself, indien hy iets met Jesus te doen sou hê.

Gemeente, op hierdie wyse word Jesus verlaat, verwerp, selfs deur Petrus. Ja, so is die kerk, vir wie Hy sy lewe gee. Dit is hoe sy volk vir wie Hy so swaar moet ly is. So is ons uit onsself. Christus se liefde is werklik ’n liefde wat eers van een kant kom. Hy het vir ons gesterwe toe ons nog vyande was, sondaars. Sonder die selfopofferende liefde van Hom was ons vir ewig verlore.

Dit bring ons by die tweede punt: Christus se lyding blyk nodig te wees deur Petrus se verloëning.

Petrus se verloëning toon dat Christus geen steun van sy kerk kan verwag nie. Hy sterf vir mense wat Hom in die kritieke uur verlaat. Selfs Petrus verloën die Here. As hy dit doen, sou ander mense, sou u en ek dit nie ook gedoen het nie? Wie kan dan standvastig wees?

Toe die Here Jesus in Getsemane gearresteer is, het almal Hom verlaat en gevlug. Selfs daarvoor was dit duidelik dat Hy nie op hul steun kon reken nie. Hy het in Getsemane swaar en bitter gestry, so swaar dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Maar sy dissipels het geslaap. Hulle kan nie eers een uur saam met Hom waak nie. Die Here het hulle gewaarsku: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. (Mt 26:41). Jesus het in Getsemane alleen geworstel. Toe die skare kom om Hom te arresteer gryp Petrus impulsief na ’n swaard en tref die dienskneg van die hoëpriester. Dan verlaat die dissipels Hom en vlug. Petrus het egter geen vrede hiermee nie. Hy wil weet wat met sy Heer gebeur. Hy slaag daarin om in die binneplaas van die hoëpriester se paleis te kom. Wat doen Petrus daar? Ons mag aanneem dat liefde vir sy meester hom daar gebring het. Maar hy bring homself wel in gevaar, in ’n leeukuil as ’t ware.

Die Here het hom gewaarsku: waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. (Mt 26:41). Die Here Jesus het hulle ook gewaarsku: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My. (Mt 26:31). Petrus wou dit nie hoor nie. In selfversekerdheid het hy geantwoord: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. (Mt 26:33).

Petrus oorskat homself. Hy verhef homself bo die ander dissipels. Hy sal dieper val. Hoogmoed kom voor die val (Spr. 16:18). Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus gee nog sy selfverversekerdheid nie op nie. "Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie."

Petrus gee geen aandag aan Jesus se waarskuwings nie. Die Here het hom selfs gewaarsku: "Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie" (Lk 22:31,32). Maar Petrus het gesê: Here ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan.

Petrus, ’n man wat Christus herhaaldelik gewaarsku het, plaas homself moedswillig in gevaar. Hy begewe homself so te sê in 'n leeukuil. Hy soek vir moeilikheid. Hy gaan van die een leuen na die volgende. Hy kan die versoeking glad nie hanteer nie omdat hy op homself vertrou. In selfversekerdheid het hy gedink dat iets dergeliks hom nooit sou oorkom nie. Ander mag Jesus verloën, nie hy nie. Nooit! Hy sal altyd trou bly aan die Here.

Maar vanweë sy oorskatting van homself, sy hoogmoed, sy vertroue op eie krag, liefde en trou het hy homself ’n maklike prooi van Satan gemaak. Slegs ’n diensmeisie is nodig om hom te laat val. En dan kan hy nie meer omdraai nie. Hy gaan van kwaad tot erger. Hy voeg ’n eed en vervloekinge toe aan sy verloëning. Dit is wat gebeur as jy in jou eie krag vertrou. Hierdie geskiedenis toon dat Petrus se selfversekerdheid niks werd is nie. As dit daarop neerkom val hy onmiddellik op sy gesig, dan verloën hy sy Heer. Hy kies teen Hom op ’n growwe en goddelose manier, met sweer en vloek. Hy verswaar Christus se lyding. Maar ook: hy toon hoe nodig Christus se lyding is. Christus moet alles reg maak vir hulle wat aan Hom behoort. Dit moet enkel van sy kant kom. Hy moet die sonde van sy volk dra. Hy moet hul skulde betaal. Hy moet alle geregtigheid vervul. Hy alleen. Alles kom op sy skouers neer. Alleen sy liefde, sy selfopofferende liefde tot die bittere einde kan sy volk red.

Die lewe en toekoms van sy volk in nie veilig in die hande van ander mense nie. Selfs nie in die hande van die selfversekerde Petrus nie, die belyder en rots, ’n man vol van moed en krag. Die kerk is nie veilig in sy hande nie. Sal julle dit ter harte neem, broeders en susters. Tydens die uur van Christus se lyding is dit duidelik aangetaan dat jy niks kan verwag van jou eie wysheid, moed en krag nie. Jy kan jouself nie red nie. Jy kan die kerk nie regmaak nie. Jy kan die toekoms van die kerk nie verseker nie. As dit van ons afhanklik sou wees, wat sou dan daarvan teregkom? Petrus se verloëning toon ons waarop oormoed uitloop. Pleks van iets reg te maak, maak dit die situasie nog erger.

Laat ons daarom elke gedagte dat ons dinge kan regmaak en dat ons die lewe en toekoms van die kerk kan waarborg prysgee. Die toekoms van die kerk is nie afhanklik van ons krag, ons wysheid nie. Dit is afhanklik van Christus alleen, van sy werk van verlossing en vernuwing. Petrus se verloëning laat sien hoe ydel die vertroue op eie vermoëns is. Petrus sal dit regmaak. Hy sal vir sy Heer veg. Hy slaan met die swaard en tref die dienskneg van die hoëpriester. Jesus kan altyd op hom staatmaak! Hy is nie bang om risiko’s te neem nie. Hy volg sy meester tot in die leeukuil.

Maar as die versoeking kom dan val hy baie diep. Hy het dit nie nodig geag om te waak en te bid soos Christus hom gewaarsku het nie. Hy was sterk genoeg. Dit sou hom nie oorkom nie. Was dit maar waar! Kyk hoe diep hy geval het in die uur van versoeking. Christus se lyding blyk nodig te wees. Hy moet selfs sterf vir die selfversekerde en voortvarende Petrus. Hy moet sterf vir jou en my, ja, vir sy hele kerk. Hy moet die volle prys betaal vir die fondament en die opbou van sy kerk.

Dit bring ons by die derde gedagte: Christus se lyding is vir die verlossing van Petrus en van ons.

Nadat Petrus sy Heer 3 maal verloën het, kraai die haan. Dit gebeur presies soos Jesus gewaarsku het. Op daardie selfde oomblik het Jesus Hom omgedraai en Petrus aangekyk. Die Here laat sy dissipel nie los nie. Hy het aandag vir hom selfs tydens die uur van lyding. Hy trek hom terug na sy woord. Wanneer Petrus die haan hoor kraai en sien dat Jesus hom aankyk dan onthou hy die waarskuwing van Jesus: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. Petrus besef wat hy gedoen het. Hy besef dat hy in die strik van Satan geval het, net soos Jesus gewaarsku het. Hy besef ook hoe diep hy sy Meester seer gemaak het. Hy stort in een. Hierdie selfversekerde en impulsiewe Petrus gaan buite toe en ween bitterlik.

Petrus het berou. Kyk wat het hy gedoen! Hy het Jesus vir wie hy lief is verloën. Hy het dit kragtig gedoen, met ’n eed en vervloekinge. As die Here sou handel ooreenkomstig daardie woorde dan sou Petrus vir ewig deur God vervloek wees.

Op hierdie oomblik lyk dit asof Petrus weinig troos het. Hy is gebroke. Hy ly bittere smart. Ja, om te sondig is nooit goedkoop nie. Ookal laat die Here jou nie daarvoor deur die hel gaan nie, laat hy jou wel ly. Wanneer jy in ernstige sonde val verloor jy vir ’n oomblik die gevoel van vrede, die gevoel dat God met jou is. Die erns van die sonde breek jou.

Dit lyk miskien asof Petrus sonder troos is, hy is egter nie sonder troos nie. Het die Here hom nie omgedraai en Petrus aangekyk toe die haan gekraai het nie? Die Here gee nog om vir hom. Ja, selfs in die uur van Petrus se verlating is Jesus in beheer. Alles gebeur soos Jesus voorspel het. En Jesus het nie slegs gesê: "Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif" nie. Jesus het ook gesê: "Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie." (Lk. 22:32).

Petrus se trane is ’n pad terug. Hy het sy ware self ontdek, sy sondige en swak self. Hy erken sy skuld. Ja, dit is die Here self wat hom dit laat doen. Die Here bring hom terug. Petrus se sonde van die verloëning van sy Here kos hom nie sy lewe nie, ookal het hy vervloekinge oor homself uitgeroep, ookal het hy daarvoor gevra. Hy hoef sy lewe nie daarvoor te verloor nie. Want die Gees werk berou in hom.

Ja, gemeente, moenie die werk van die Gees vergeet, die werk van die Gees van Christus nie. Christus laat sy Gees vir Petrus op sy knieë bring.

Tegelykertyd is daar nog die vervloekinge wat Petrus geuit het. Die Here kan nie maak asof dit nie gesê is nie. Daarvoor moet betaal word. Wel, dit is waarmee Christus besig is. Hy is besig om Petrus se sonde van verloëning op Hom te neem, Petrus se vervloekinge, en Hy gaan daarvoor sterf op die kruis. Vir Petrus is daar nog ’n pad terug. Deur Jesus Christus. Jesus ly ook om Petrus te red. Daarom is daar ’n plek vir Petrus se berou. God bring dit tot stand op die basis van Christus lyding en dood.

As jy dit sien, dan sien jy Christus se eindelose liefde. Sy leidende dissipel sweer: ek ken hom nie, as ek hom wel ken laat God my vervloek. Jesus sê: Vader, vervloek hom nie, maar vervloek My in sy plek. Vader bring hom terug. Skenk hom geloof en bekering. Ek sal vir hom sterwe. Ek sal die helse smarte wat hy verdien het, ook vanweë sy laaste sondes op my neem. Ek dra hom in my hart as my uitverkore instrument, ookal het hy my in die hart geskop. Ek wil hê dat hy dien as fondamentsteen van my kerk.

Ja, geliefdes, so is jou Verlosser. Dit is hoe groot sy liefde vir sondaars is. Hy het aan die kruis gesterwe om jou en my te red van ons sondes, ook van ons sondes van die verloëning van Hom. Ons is veilig, nie in ons eie krag of trou nie. Sy lewe is ons lewe, want hy het ons dood gesterf. So wil hy ons maak tot mense wat sy naam bely. Hy ontbloot ons natuurlike swakheid en gebreke. Ja, wat word van jou pragtige belydenis in die praktyk van die lewe? Bly jy konsekwent sy naam bely?

Christus leer ons om al die vertroue op onsself prys te gee en ons vertroue alleen op Hom te stel. Waak en bid, het Hy tot sy dissipels gesê. Christus het satan ernstig opgeneem: Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie. Neem jy erns met satan? Is jy altyd waaksaam? Bid jy nog aanhoudend? Satan begeer om julle soos koring te sif. Dink nooit dat dit jou nooit sal oorkom nie. Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Besef julle eie swakheid. Besef Christus se liefde en krag. Omhels die evangelie van genade alleen. Dan kan julle gelukkig en sterk wees. In die Here.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)