Die lewende God verbied Sy volk die gebruik van beelde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-10-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Sondag 35

Ds C Kleyn - Sondag 11 Oktober 1998

Lees: Deutr. 4:1-20; 32-40, Sondag 35
Sing: Ps 33:1,11; Ps 91:1,2; Ps 115:1-4,7; Ps 40:3,4; Ps 93:1,4.

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Die eerste twee gebooie van die wet toon 'n noue verwantskap met mekaar. Dit blyk dat beeldediens eintlik niks anders is dan afgodediens nie. Nietemin is daar 'n duidelike verskil tussen die twee gebooie?

Wat is dan hierdie verskil?

In die eerste gebod word afgereken met alle afgode, want God sê: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Die volk van God moet Hom alleen dien en slegs in Hom al hulle vertroue stel.

In die tweede gebod vervolg die Here dan : Jy mag vir jou geen beeld maak en daarvoor neerbuig nie. In die eksklusiewe diens van die Here mag daar nie beelde gebruik word nie. Die volk van God mag nie gelykvormig word aan die heidene wat wel beelde in die kultiese diens gebruik. Want die moontlikheid het bestaan, dat Israel sodanige beeldediens kon oorneem en dit in sy godsdiens wou gaan toepas. Daarom het die Here in die tweede gebod die manier vasgestel hoe Hy gedien wil word.

In die tweede gebod gaan dit eintlik nie oor afgodediens nie maar oor beelde wat jy van die Here sou wil maak om Hom daarmee te dien. Die inhoud van die gebod word dan ook deur die Kategismus, tereg, soos volg opgesom :

"Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen

ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie".

In die tweede gebod gaan dit oor die wyse hoe die Here onse God vereer wil word.

Vanaand wil ek aan u verkondig :

Die lewende God verbied Sy volk die gebruik van beelde.

Ek wil dit uitwerk onder twee aspekte: hierdie verbod staat in verband met

  1. Die funksie van beelde : Om daardeur seker te wees van die gode se aanwesigheid.
  2. Die spesifieke kenmerk van die ware godsdiens : God is aanwesig met Sy lewende Woord.

Gemeente, indien u die tweede gebod goed wil verstaan, is dit nodig dat u sal weet watter funksie die beelde vroeër gehad het. Wat het die heidene bedoel met hulle beelde?

Onwillekeurig is 'n mens geneig om te dink dat die beeld 'n voorstelling is van die afgod. Die beeld sou 'n afbeelding van die godheid wees: so, op hierdie manier sou die godheid lyk. Dit is egter 'n verkeerde opvatting. Dit blyk uit die feit dat die godsbeeld dikwels 'n afskuwelike misvorming toon - bepaalde liggaamsdele word beklemtoon deur oordrywing en oortolligheid. Die beelde vertoon daardeur abnormale proporsies.

Daarom is sulke beelde geen afbeeldinge nie, geen gelykende portret nie, maar dui dit die tipiese en eiesoortige aan van 'n bepaalde godheid. Dit is nie 'n sigbare voorstelling van die betrokke god nie, maar is veelmeer 'n soort simbool.

Wat was dan die waarde van so 'n simbool?

Dat die godheid veronderstel was om, op een of ander manier, daarin aanwesig te wees. Hulle het gedink dat in die beeld god naby is. Daarby het hulle aangeneem dat op hierdie wyse, die afstand wat daar tussen skepsel en godheid is, oorbrug kon word.

Die verre en vae god is in die beeld naby gebring. Waar die beeld is, daar is ook hulle god aanwesig.

Hierdie veronderstelde aanwesigheid van 'n god in die beeld kan 'n mens miskien vergelyk met 'n elektriese lading. Die beeld is as 't ware elektries gelaai en die elektriese lading is dan die godheid.

Miskien kan ons dit ook vergelyk met die verhouding tussen die menslike liggaam en die siel. Soos ons siel in ons liggaam aanwesig is, so het hulle gedink is die godheid ook aanwesig in die liggaam van die beeld. En soos ons "siel" hier op aarde hom alleen kan laat geld deur ons liggaam, so word aan die godheid geleentheid gegee om hom te openbaar deur die beeld, die beeld wat mense aan hierdie god ter beskikking stel.

Gemeente, as die god aanwesig is in die beeld, dan beteken dit dat die mens terselfdertyd, in 'n mindere of meerdere mate, mag oor sy god ontvang. Die gode is grypbaar en hanteerbaar gemaak. Die mens kan so met gemak sy godheid hanteer of eintlik manipuleer.

Hierdie situasie is ook deur Israel se profete ontmasker, toe hulle spottend beskrywe het, hoe die heidene hulle gode op hulle skouers tel en na willekeur verplaas. In die beeld het die mens hom meester gemaak van sy god. Hy hou hom nou in sy hand, terwyl hy nogtans die indruk skep dat daar nog 'n bepaalde afstand is en hy nie self daardie toestand in beheer het nie.

Want die beeld het 'n eie lewe teenoor hom. Die beeld is dan die instrument waarmee die mens sy God na hom toe kan bring en aan sy hand laat loop. So kan die mens sy god gebruik waar hy dit nodig ag. Die mens kan daardeur sy god aan homself verplig. Want die beeld is die waarborg dat die god aanwesig is.

As jy daardie beeld byvoorbeeld saam geneem het in 'n gevegs situasie, dan moes die god wel saamgaan en saamveg. Deur die beeld is hulle verseker van die aanwesigheid van die godheid. Op hierdie manier was dit dan ook nie nodig om bang te wees dat hulle die godheid sou kwytraak nie.

Gemeente, in die lig hiervan word die verering van die goue kalf in die woestyn vir u duidelik. Want wanneer die volk vir Aäron opdra : Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek, dan is dit regtig nie die bedoeling om ander gode agterna te loop nie. Met hierdie woorde bedoel hulle : maak vir ons beelde. Daardie kalf moes as beeld, die Here hulle God naby bring.

Toe Moses 40 dae weggebly het, het hulle bang geword. Die teenwoordigheid van Moses was vir hulle 'n sigbare bewys dat die Here naby was. Maar toe Moses lank wegbly, soek hulle 'n beeld. Daardie beeld moes in die plek van Moses, 'n teken, 'n simbool wees van God se teenwoordigheid.

Ons sien dit ook in die geskiedenis van 1 Samuel 4, want daar word die ark van die Here deur die Israeliete as 'n beeld gebruik. Hulle het beeldediens beoefen en wou oor die Here eiemagtig beskik. Want toe Israel 'n nederlaag gely het teen die Filistyne, het hulle oorweeg :

wat kan ons tog doen om te sorg dat die Here in die volgende veldslag met ons is?

en hulle besluit:

Laat ons die ark van die verbond van die HERE gaan haal, sodat die ark in ons midde kan wees en ons kan verlos uit die mag van ons vyande.

Israel het van die ark verwag wat die heidene van hulle beelde verwag het. Hulle het gedink dat hulle op hierdie wyse, hulself van God se teenwoordigheid kon verseker, en daarby het hulle gedink dat hulle God so aan hulle kon verplig, dat Hy vir hulle moes stry en aan hulle die oorwinning moes besorg.

Gemeente, as 'n mens hierdie funksie van die beelde sien, kan jy ook begryp waarom die lewende God die gebruik van beelde verbied. Die lewende God kies vrymagtig Sy eie geleenthede om homself te openbaar. Hy sal self bepaal waar en wanneer Hy wil aanwesig wees. Hy is soewerein, onafhanklik van mense. Hy laat nie toe dat mense oor Hom beskik nie.

Hy wag ook nie totdat Hy 'n woord van mense kry nie, maar Hy neem self die woord. Ook dan, wanneer ons dit in eiewaan nie verlang of in ons wanhoop nie meer verwag nie. Hy is tog die lewende God, wat in volkome vryheid alle inisiatiewe neem, die God wat die Eerste en die Laaste Woord het?

Hierdie soewereine God kan homself nie deur 'n mens laat bind, soos die heidene dit met hul gode gedoen het, deur middel van beelde nie. Dit is nie ons, wat God aan ons bind nie maar Hy verbind Homself in die verbond aan ons.

So word dit vir u duidelik broeders en susters dat die tweede gebod nog altyd aktueel is. Natuurlik, u sal nie meer die verleiding ken om letterlik 'n beeld van God te maak nie. Welke blanke maak nou nog beelde van hout of klip?

Maar waarom het die heidene hulle beelde? Dit is tog om hulself te verseker van die teenwoordigheid van hulle God? en om so oor hulle God te kan beskik, nie waar nie?

En wat van ons? Is daar by ons nie dikwels die neiging om God aan onsself te bind nie. Ons stel aan onsself die vraag, of ons genoeg gedoen het om die Here nie te verloor nie. Ons doen allerhande godsdienstige pligte met die gedagte - die Here sal dan wel met ons wees.

Wanneer ons dink, dat ons deur ons getroue kerkgang of ons godsdienstige gedrag, God aan ons kan bind, dan is dit niks anders as beeldediens nie. 'n Kerk sonder verwondering, met 'n selfgenoegsame houding : ons is tog almal in een of ander kerklike diens of aksie betrokke en ons gaan tog almal na die kerk. 'n Kerk sonder verwondering, lewe in stryd met die tweede gebod.

God laat Hom nie verblind deur ons kerklike roetine gedrag nie. Hy laat Hom nie bind aan ons nie.

En hoe dink u oor die beskikking oor God? Ons trek God nader na ons, ons gaan haal Hom en dan dien ons Hom soos ons dit goeddink of soos ons dit gerieflik ag. Hoe dikwels gebeur dit nie, dat ons self wil bepaal wat in hierdie opsig gedoen moet word? Ons sal die Here op hierdie manier dien en geen mens het die reg om daarvan te verskil nie. Wee, die persoon wat dit waag om hierop enige kritiek te uiter.

Byvoorbeeld, moenie praat oor die diens van die Here buite die sondagse eredienste nie. Moenie praat oor dinge wat ons nagelaat het nie. Ons dien die Here tog? Hoe ons dit doen, dit sal ons self wel bepaal.

Maar, gemeente, die tweede gebod beteken 'n doodsteek van alle eiewillige godsdiens. U bepaal dit nie self nie, maar God doen dit. Hy leer aan u, hoe u Hom moet dien. In hierdie diens is niks aan u smaak of willekeur oorgelaat nie. Wie God na eie smaak of behoefte wil dien, dien nie God nie, maar homself.

Dit is hierdie soort van godsdienstigheid waar mense God se Woord nog wel wil aanvaar en hulself ook daaraan onderwerp, solank dit net nie in botsing kom met hul eie begeertes of gedagtes nie. Die openlike goddeloosheid en eiewillige godsdiens verskil alleen hierin van mekaar dat met die laatste die skyn van godsdiens nog behoue bly.

Maar, broeders en susters, is sulke godsdiens, waar ons bepaal wat goed is, nie beeldediens nie? Mense het vroeër oor beelde van klip beskik en deur middel daarvan gedink dat hulle dan ook oor hul gode kon beskik. Maar oor die lewende God kan u nie beskik nie. Hy het die Eerste en die Laaste Woord. Hy is die soewereine God wat vrymagtig Hom verbind aan Sy volk, op Sy tyd en eie manier.

Dit bring ons tot die tweede gedagte : hierdie verbod het nie alleen betrekking op die funksie van beelde nie, maar dit staan ook in verband met die spesifieke kenmerk van die ware godsdiens : God is aanwesig met Sy lewende Woord.

Broeders en Susters, die verbod teen beelde het veroorsaak dat Israel in 'n duidelike uitsonderingsposisie met sy omgewing verkeer het. In die antieke ou wêreld het amper elke volk sy beeldediens gehad. 'n Godsdiens sonder beelde was eintlik ongehoord. Waarom het Israel hierdie uitsonderingsposisie beklee? Moses het uitvoerig in Deuteronomium 4 daaroor geskrywe. Hy wys met nadruk op die geskiedenis van Horeb. Israel se uitsonderingsposisie berus op die uniekheid van God se openbaring te Horeb.

Die volk is geroep om nader te kom tot die berg, vir die bediening van die Woord van God. Die Here het tot Moses gesê: Roep vir my die volk saam dan sal Ek hulle My woord laat hoor. En die Here het met hulle uit die midde van die vuur gespreek; 'n geluid van woorde het hulle gehoor, maar geen gestalte is deur hulle gesien nie, daar was alleen 'n stem. Dit gemeente, is die tiperende vir die ware godsdiens. Want hier lê die verskil tussen die Israelietiese en nie-Israelietiese godsdienste. So 'n woord-openbaring het die heidene glad nie geken nie.

By die heidense godsdienste lê die nadruk op die sien - die gode se teenwoordigheid is kenbaar gemaak deur hulle te sien en nie deur hulle te hoor nie. Die ware godsdiens - die diens van die ware God - is egter 'n godsdiens van die woord. Hoewel God toegelaat het dat Moses Hom op 'n beperkte wyse kon sien, het dit tog eintlik by die verskyning gegaan om die hoor.

God het deur Moses Sy Tien Woorde laat hoor. So sou dit later ook gebeur met die verskynings aan die profete. Aan hulle is die Woord van die Here toevertrou. Kenmerkend vir die ware godsdiens is : Hoor! die Woord van die Here. Dit is die godsdiens van die Woord!

Daarom word in die Nuwe Testament, die koninkryk van die hemele vergelyk met die saad wat uitgestrooi word. Dit is gelykenisse oor die hoor!

Paulus sê later :

"Die geloof is uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God".

Hierdie spesifieke kenmerk van die ware godsdiens word gegrond in die wyse van openbaring op die Horeb:

"Julle het 'n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie - net 'n stem was daar."(Deutr.4:12).

En hiermee word in verse 15 en 16 die tweede gebod gemotiveer:

"Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele - want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die Here by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie - sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle 'n gesnede beeld maak nie."

Die gebeure by Horeb is kenmerkend vir die ware godsdiens. Die Here laat woorde hoor. 'n Stem word verneem. In daardie woord kom die Here na Sy volk. In daardie woord is Hy teenwoordig. Die belangrikste is om te hoor, nie om te sien soos by die heidene nie. Die Here wil geen visuele diens, maar die gehoorsaamheid aan dit wat Hy gespreek het, dus aan die gehoorde woord. Daarom het Hy hom opsetlik weerhou om Sy gedaante te vertoon.

Gemeente, in hierdie verband kan die vraag gestel word, is die volk van God daardeur nie armer dan die heidene met hulle visuele diens nie? Hoegenaamd nie! Want : "Het 'n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly?"(Deutr. 4:33).

Die gode van die volke bestaan nie eens in werklikheid nie. Hulle kan dus ook nie praat nie. Die gode is produkte van die mens se eie hart. Dan tree na vore : menslike ervaring, menslike verbeeldings vermoë en projeksies.

Al die inisiatiewe kom uit die mens. Daarom kan mense ook self beskik oor hul gode deur middel van beelde. Maar so is dit nie met die HERE nie - die lewende God, Hy spreek en dit is daar. Hy wat homself soewerein verbind aan Sy volk. Dit is Hy wat die Tien Woorde van die verbond afkondig. Dit is Hy wat as lewende God ook in aksie kom vir Sy volk.

Nadat Moses die retoriese vraag gestel het :"Het 'n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het? vervolg hy:

"Of het 'n god probeer om vir hom 'n nasie uit 'n ander nasie te gaan neem, deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?"

"Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie."

"Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor." (Deutr. 4:34-36).

Broeders en susters, wanneer jy die lewende God ken, die HERE, die altyd aktief aanwesige verbondsgod, dan kan 'n mens tog nie terug verlang na die magtelose, stomme afgode nie. En wanneer jy sy lewende Woord ken dan verlang jy mos nie na die stomme beelde nie.

Daarom mag die geskiedenis by Horeb nie vergeet word nie. Want met die verlies aan hierdie unieke openbaring, gaan outomaties die kerk se unieke posisie onder die volke verlore. En dit geld ook vir u vandag : vergeet die heilsgeskiedenis nie, vergeet nie die goddelike openbaring : eers deur Moses en die Profete maar in hierdie laaste dae deur die Seun. U is nou baie ryker; want die Nuwe Testamentiese gemeente :

"het nie gekom by 'n tasbare berg en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm nie ....... Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemel opgeskrywe is." (Hebreers12:18,22,23).

Hier is dus nie sprake van 'n kort verskyning van God nie, maar Sy inwoning. Die woord van Christus woon sedert Pinkster ryklik in u midde, die woord van die lewende God. Dit is u rykdom, maar dit verhoog terselfdertyd die erns:

"Pas op dat julle Hom wat spreek nie afwys nie."(Hebr.12:25).

Want wanneer jy geen erns maak met hierdie goddelike spreke nie, dan verloor jy jou unieke en bevoorregte posisie. Dan word jy weer één met die wêreld. Dit word weer 'n afgodiese beeldediens, ondanks alle kerklike skynvertoning.

Broeders en Susters, dit bepaal ons by die erns van die moderne skrif-kritiek. Wie die unieke van die goddelike openbaring op Horeb, wie die unieke van die openbaring deur Christus nie langer aanvaar nie, wie die Skrif nie meer as Goddelike Woord erken nie - hy het die ware godsdiens prys gegee. So 'n skrifkritikus het daardeur die grens tussen kerk en wêreld uitgevee en bedryf afgodediens.

Dit is weer soos by die heidene: dit moet vanuit die mens self kom. Die nadruk word gelê op die ervaring in pleks van op die hoor. Hulle hou hulle nog besig met die Woord van God en dit kan 'n mens beïndruk, maar in feite vereer hulle heidense beelde. Die god van die mens word gemanipuleer om te loop aan die hand van die mens.

Gemeente, laat ons erns maak met die tiperende en spesifieke kenmerk van die ware godsdiens, die goddelike openbaring. God het gespreek! Die lewende God is nie afhanklik van die mens nie. Hy neem soewerein Sy eie inisiatiewe. En aan u, wat van nature vyandig is, wil Hy Homself vrymagtig in die verbond verbind. Hy kom met Sy Woord wat lewend en kragtig is. Daarin is Hy aanwesig, ja kragdadig aanwesig om u te verlos.

Dit is nie nodig om God na jou toe te haal deur beelde nie. Hy het immers in die Woord neergedaal en is daarin aanwesig. Beelde is nie nodig nie, dit is verbode, ook beelde as boeke van die leke. Die lewende Woord is aan die hele gemeente toevertrou. U lewe na Pinkster. Nou woon daardie Woord ryklik in u midde. En daarin mag u God sien. U altyd aktiewe aanwesige verbondsgod.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)