Gee ons vandag ons daaglikse brood

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-02-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Sondag 50

Ds C Kleyn - Sondag 7 Februarie 1999

Lees: Mattheus 6:19-34; Sondag 50
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 67:1-3; Ps 127:1,2; Ps 134:1-3

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Christus leer ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Hy leer ons dit bid in ’n wêreld waarin baie mense God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde vaarwel toegeroep het. ’n Wêreld wat haarself onafhanklik ag. Hou die mens sy toekoms dan nie in eie hande nie? Wat kan nie alles met wetenskap en tegniek bereik word nie? Alles is tog beskikbaar? Alles moet ook hieruit georganiseer word.

Tipiese uitdrukkings van die geëmansipeerde mens is: Jy moet self jou toekoms bepaal; jy moet self sorg dat jy iewers kom; jy moet en kan alles self doen; jy is mondig en onafhanklik. Dit is gesegdes van mense wat geen uitsig na bo het nie, die mens van die geslote wêreldbeeld. Ook u word deur hierdie mens via allerlei kanale aangespreek. U sou die oorsprong en die doel van u lewe, u sekerhede hier op aarde moet gaan soek. Alles is tog hier verkrygbaar? Sorg dat jy ’n goeie bestaan hier opbou.

In so ’n wêreld leer u bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dwaasheid in die oë van mense. Maar wysheid van God. O wee, as u dié gebed vergeet.

Het hierdie gebed dan werklik nut? Dit kan gebeur dat jy opreg en indringend vir jou daaglikse brood gebid het en tog gebrek ly of werkloos raak. Jy bid maar ontvang niks. Is so ’n gebed dan sinvol? Bereik dit dan iets?

Natuurlik, want God word daarmee gedien. Bid beteken immers nie dat jy jouself alles toebid en wanneer dit dan nie gebeur nie jy dit sinloos kan noem nie. Die gebed, ook die gebed vir jou daaglikse brood, is die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van jou eis. Jy gee God die dankoffer van jou lippe en jou hart. God roep jou daartoe op. Hy weet hoe kwesbaar ons is vir die gees van die tyd: materialisme en selfbeskikkingsreg. En met sy gebod vir hierdie gebed beskerm Hy jou teen jouself en laat jou al die aardse dinge weer in die regte verhoudings sien. Hy plaas alles weer op hul regmatige plek. Hy gee bevryding van menslike kortsigtigheid, die blind staar op aardse goed - alles behoort aan Hom. Hy heers daaroor. Jy is in sy hand. Hy bevry jou van jou onversadigbare begeertes - die versamel van aardse goedere is nie die doelwit in jou lewe nie - dit is slegs middele om die voortgang van God se saak in die wêreld te dien.

Vanaand verkondig ek aan u die 4 de bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood:

In hierdie bede bely ons:

  1. dat ons alles van die Vader ontvang
  2. dat ons alles vir die Vader ontvang

Ons bid vir ons daaglikse brood. Is brood alleen dan voldoende? Natuurlik nie, die woord brood omvat hier alle lewensbehoeftes. Onthou wat die verlore seun sê as hy swaarkry: "Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!" Die dagloners het definitief meer as net brood gekry om te eet. Brood, as die mees algemene voedselbron, verteenwoordig hier alle voedingsmiddels. So kom die kategismus daartoe om dit te omskryf as: versorg ons met alles wat vir ons liggaam nodig is.

Ons kan die woord brood nog breër interpreteer. Brood is ’n eindproduk. Voordat die brood die tafel bereik, het daar heelwat gebeur. Die klein kindertjies kan jou vertel. Waar kom brood vandaan? ’n Mens koop dit by die bakkery. Die bakker bak dit van meel. Die meel koop hy op sy beurt by die meule. By die meule maal hulle meel van koring. Waar kom die koring vandaan? Van die landerye wat die boer gesaai en geoes het.

So kan u sien dat brood ’n hele proses neem voordat dit brood is. Landbou, industrie en handel is betrokke. Ook weersomstandighede, arbeid en ekonomie. Al hierdie dinge word in die gebed betrek. Jy bid dus nie net vir brood nie, maar vir alles wat daarmee saamhang sodat jou lewe hier op aarde onderhou kan word.

Gemeente, ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Ons vra vir iets: Gee. Die gebed word egter dikwels gebid by ’n gedekte tafel. Is dit nie vreemd nie: om vir iets te bid wat jy reeds ontvang het? ’n Mens vra mos nie vir iets wat jy reeds het nie?

Dit is te verstaan dat ’n ongeestelike mens dit dwaas vind. Bid vir brood; bid voor ete, hou tog op, my brood is klaar aan beide kante gebotter, ek het alles wat ek nodig het! Eet, drink en wees vrolik.

So het welvaart die bede vir daaglikse brood by vele verdring. Hulle ag dit oorbodig. Hulle het tog alreeds alles. Hulle het God nie daarby nodig nie. Daar is baie skatte versamel, maar weinig mense weet wat dit is om ryk te wees in die Here.

Christus leer ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Die bede is regtig nie vreemd of oorbodig nie, ook nie by ’n swaar gedekte tafel nie. Dit is werklik nie nodig om die skynbare dwaasheid - bid vir brood wat jy reeds het - op te los deur die bede te versmal tot ’n bede om God se seën oor die ete nie. Beslis, sonder God se seën sal sy gawes jou ook nie baat nie. Maar in die volmaakte gebed bid jy in die eerste plek nie vir God se seën nie, maar wel vir jou daaglikse brood: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

In hierdie woorde hoor jy ’n kind tot sy Vader spreek. ’n Kind wat Vader eer as Vader. ’n Kind wat weet dat hy afhanklik is van Vader. ’n Kind wat erken dat Vader die enigste oorsprong is van alles wat goed is. Vader wil daarin erken wees. Hy wil gevra en gedank word.

Gemeente, in ons gesinne geld die reël mos ook dat kinders nie sommer net mag vat nie, hulle moet daarvoor vra? Ook al het jy die goed vir hulle gekoop, hulle moet eers daarvoor vra. Nie dat daar altyd twyfel is of hulle dit wel mag kry nie, maar dit gaan oor die erkenning as vader of moeder. Stel jou voor, jou kind neem vrylik uit die koskaste, sonder om iets te vra. So ’n kind het weinig eerbied vir sy ouers. Die kind maak asof hyself die baas in die huis is.

Broeders en susters, As jy van jou eie kinders eis om eers te vra, voordat hulle iets neem, hoeveel te meer mag die Hemelse Vader dit van ons sy kinders, eis. Hy is immers die enigste bron van alle goeie dinge. Terwyl ons kinders slegs iets van ons vra wat ons self ontvang het, vra ons van ons hemelse Vader dinge waarvan hy die enigste eienaar is. Sal ons dan teenoor ons hemelse Vader nalaat wat ons as aardse ouers van ons kinders verwag?

As jy dan bid, gee ons vandag ons daaglikse brood, bid jy vir die brood uit Vader se hande. Dit wat jy reeds op die tafel of in die koskaste het, wil jy uit sy hand ontvang. Die bede is as’t ware ’n asseblief aan die Vader. Jy wil ryk wees in die Here. Jy erken God as jou Gasheer. Jou voedsel is in die eerste plek nie die vrug van eie inspanning nie, dit is in die eerste plek die vrug van God se liefde. Hy gee dit aan ons. Ons bid tog bewustelik: Gee ons.

Maar, gemeente, vir ’n gedekte tafel - gedek met gawes van God - is inspanning en sorg nodig. Die kos val nie sommer uit die lug nie. Menslike arbeid is daarvoor nodig. God werk met behulp van middels - Hy laat mense met hul verstand en hande werk. Daarom pas die bede vir daaglikse brood nie op die lippe van hulle wat hulle nie deur die Here wil laat gebruik nie. Die wat rêrig nie wil werk nie, sal ook nie eet nie. God wil u werk en inspanning gebruik met die oog op die vervulling van u eie bedes. Daarom sal die een meer verdien as die ander. Daarom sal die een meer besit as die ander. Maar dit wat ons besit het ons uit die hand van die Vader ontvang. God gee lewe, Hy gee gesondheid, verstand en kragte, Hy gee werklus en werksgeleenthede. Hy gee die een meer as die ander. Maar dit is God wat gee, Hy deel uit. As mens is jy volkome op Hom aangewese. Sonder sy seën is en was al jou sorg en inspanning tevergeefs, nutteloos.

Sonder God se seën baat sy gawes ook nie. Iemand wat vir hom skatte op aarde versamel sonder om ryk te wees in die Here, lyk dan miskien wel belangrik en ryk, ryk op aarde, maar sy rykdom sal vir hom tot ’n vloek wees. Hy wat op eie vermoë en aardse rykdom bou kom bedroë uit. Skielik stop die Here dit. Wat bly dan oor van die menslike vermoëns, van die rykdom?

In die vierde bede bely ons dat ons alles van die Vader ontvang. Ons stel ons vertroue nie meer op skepsele nie, maar op Hom alleen. Van dag tot dag verwag ons alles uit sy hand, leef ons uit sy hand. Wat ons ook al verkry, ons ontvang dit uit sy hand.

Dit, broeders en susters, seuns en dogters, het duidelike gevolge vir die manier waarop jy jou geld en besittings verwerf. Ons bid dit alles uit die hand van die Vader. Ons wil dit van die Vader ontvang. Nie uit die hande van Satan met sy slinkse planne nie. Nee, Vader: "gee", bewaar my vir die "neem" waar die hedendaagse samelewing van oorloop. Bewaar my vir skelm neem, vir steel. Bewaar my vir die versameling van skatte buite u om, d.m.v. duistere praktyke, op onwettige wyse. As jy die vierde bede bid, kan jy mos nie onverskillig staan teenoor die vraag hoe jy aan jou besittings en voedsel kom nie. Jy bid mos: Vader, gee. Jy bid mos: "Ek wil alles uit u hand ontvang"? Nie meer nie, maar ook nie minder nie. Wat buite die lyne val, wat ek buite U om vergaar, is vir my vervloek.

Gemeente, in die 4de bede beteuel God ons begeertes. Hy leer ons om te vra vir ons daaglikse brood. Daarmee vra ons ’n beperkte hoeveelheid van die Here. Ons bid slegs vir ons daaglikse nood, vir ons dagrantsoen.

Dit is heeltemal verskillend van die wil om aanhoudend bymekaar te maak. Dit beteken ook nie dat jy jou welvaartspeil moet bly handhaaf nie. Christus leer ons om beskeie te wees.

Dit word nog verder onderstreep deur die woordjie vandag: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Ons vra net vir dit wat ons vandag nodig het. Ons leef in die hede, die hede met sy konkrete vrae en nood. In die hede met sy definitiewe roeping, met sy konkrete take wat vervul moet word. God roep my vandag nog tot sy diens en daarvoor het ek my daaglikse rantsoen nodig. Dit bring ons by die tweede gedagte:

In die 4 de bede bid ons nie alleen dat ons alles van die Vader ontvang nie, maar ook dat ons alles vir die Vader ontvang.

Gemeente, aandag vir die plek van die 4 de bede leer ons watter plek ons aan die broodvraagstuk moet gee. Kyk maar na die volgorde: eers word daar gebid vir die naam van God, sy koninkryk, sy wil. Daarna kom die 4 de bede: gee ons vandag ons daaglikse brood. In ons gebed gaan dit om die werk van die Vader, hier op aarde. Met die oog op die werk van die Vader, bid ons vir ons brood. Waarom het ons brood nodig? As God se werk op aarde moet voortgaan, is daar brood nodig. Sonder brood kan ons God se werk hier op aarde nie langer behartig nie. Sonder brood kan ons nie saamwerk om God se Naam te heilig nie, aan die koms van sy koninkryk nie, aan die universele onderwerping aan sy wil nie. As ons diens op aarde wil verrig - Vader se werk, sy belange behartig, dan het ons brood nodig.

Die verklaring van die derde bede het dit reeds ingelei deur op elkeen se taak te wys: sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die hemel dit doen.

Dit gaan in die 4 de bede dus oor ons ampsdiens teenoor die Here. Ons wil brood vir Hom hê, ter wille van die voortgang van sy werk. Dit gaan dus nie oor wat ek dink dat ek nodig het vir ’n sogenaamde menswaardige bestaan nie. Nog minder oor wat ek dink ek nodig het vir die verwesenliking van my planne en ideale. Nee, ek bid vir dit wat ek as dienaar of dienares nodig het in diens van Vader, dit wat ek nodig het vir my taak in sy koninkryk.

My roeping, nie my begeertes nie, bepaal my bede vir brood. Reeds in die paradys is aan die mens eers ’n opdrag gegee - die kultuur opdrag. En in verband daarmee en dadelik daarna kry hy sy daaglikse brood toegewys. Die mens het voedsel ontvang om te kan dien. So leer Genesis 1 ons die verband tussen voeding en roeping. Die verband vind u ook weer terug in die gebed. Na 3 bedes gerig op ons roeping, volg die bede vir voeding. Roeping en voeding in dié volgorde maar ook altwee saam.

Broeders en susters, wat beteken dit nou vir u daaglikse lewe? Sekerlik tog dat u u brood met alles wat daarmee saamgaan, nooit los sal maak van u amptelike diens as profeet, priester en koning nie. Moet nooit vergeet nie - die ete waarmee u tafel gedek is - God wil daarmee profete se monde vul, priesters se hande vaardig maak en koningsharte versterk.

In die bergrede wys Christus op dieselfde volgorde. Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge (voedsel, klere ens.) sal vir julle bygevoeg word. Gee voorrang aan God se koninkryk. Laat die voortgang van sy ryk die doelwit van u lewe wees. Daarom het Christus al eerder gesê: Moenie skatte op die aarde versamel nie, maar versamel skatte in die hemel. Moenie dat die aardse skatte alles in u lewe is nie. Laat rykdom en die vordering in die samelewing nooit die doelwit van u lewe word nie. God gee nie die dinge as doelwit nie. Hy gee dit as middele om te gebruik vir die belangrikste doel van u lewe: die koms van sy koninkryk. Laat dit wat slegs as ’n middel gegee is, ’n middel bly. Moenie, soos die ongelowiges maak, die middel tot doel verhef nie. Is dit nie wat die heidene doen nie? Hulle het hul in ’n wêreld sonder God opgesluit en konsentreer inderdaad op die aardse bestaan met sy aardse goedere. "Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons". Met so ’n geslote wêreldbeeld kan dit ook nie anders nie, egoisme en materialisme kry die mense in hul greep.

Dit moet by ons nie so wees nie, sê Christus. Soek eers die koninkryk van die Vader en sy geregtigheid. Laat die werk van Vader alles oorheers en dié doel in die lewe wees. Plaas al u werke in diens van die groot werk. U is mos geskape na die beeld van God om God se werk hier op aarde te behartig. Skik ook u broodvraagstuk na hierdie doel van u lewe. Maak al jou strewes, al jou werk, ook jou studie daaraan ondergeskik. Dit is baie mooi as seuns en meisies geskikte opleiding kan volg en goeie punte behaal. Maar dan moet dit wel in diens staan van die doel van ons lewe: God se koninkryk. Sonder daardie doel sal alles uiteindelik vergeefs blyk te wees, ydel.

Daarom: Soek eers die koninkryk van die Vader. Stel alles in diens van Vader se werk hier op aarde en dit alles - brood, kleding, al die nodige - sal u as ’n soort geskenk gegee word.

Vader roep op tot diens. Vader sal ook vir bekwaamheid sorg. Hy sal in al die nodige voorsien. Daarom kan ons glo, ons seker wees: "Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" Sal Hy wat jou tot die werk oproep, jou nie versorg solank as wat dit nodig is nie.

God gaan met elkeen ’n eie pad. Hy gee elkeen ’n eie taak. Hoe lank dit gaan neem, weet ons nie. Ons ken ook nie die omstandighede nie. Maar, by al die onsekerhede is daar die een sekerheid: Vader het beloof om in die nodige lewensbehoeftes te voorsien, solank as wat Hy ons lewensreis laat duur. Het hy dit nie alreeds by u doop aan u beloof nie? Tydens oorlog word geen soldaat tog belas met sy eie lewensonderhoud nie? Hy moet mos net die een tevrede stel in wie se diens hy is. Daarom bid ons vol vertroue: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit beteken nie dat u altyd genoeg te ete en te drinke sal hê nie. God kan in sy goddelike wysheid die brood weerhou. Dan leer ons om, soos Paulus, ons omstandighede te aanvaar in die geloof dat ons alles doen in Christus, wat ons die krag gee.

God kan - volgens sy Goddelike wysheid - ook ons taak hier op aarde beëindig. Dan sal die onderhoud ook nie meer nodig wees nie.

Broeders en Susters, ken u dié kinderlike vertroue in u Hemelse Vader? Waag u dit om daagliks uit sy hand te leef? Besef u nog wat u bid, as u bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood? Laat dit dan ook blyk - nie net in woorde nie, maar ook in dade - dat u alles uit Vader se hand wil ontvang. En ontvang dit dan ook vir die Vader, met die oog op sy werk wat u werk geword het.

Bid en bly bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. In vertroue en bereidwilligheid.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)