Die messiaanse heil word slegs geniet deur hulle wat hulself opreg bekeer

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-02-07
Teks: 
Lukas 3
Preek Inhoud: 

Lukas 3:7-9

Ds. C Kleyn - Sondag 7 Februarie 1999

Lees: Lukas 3:1-20; Lukas 3:7-9
Sing: Ps 92:1,2; Ps 1:1,2; Ps 25:2,4; Ps 51:5,6; Ps 92:5-7.

Samevatting:

As jy kyk na die kerklike lewe dan lyk dit met ons as kerk en as christene redelik goed te gaan. Ons besoek trou die dienste en ons vier trou die nagmaal. Het ons egter almal Christus werklik aangeneem in geloof? Sien Johannes 1:12,13. Is ons almal uit God gebore? Sonder bekering sal niemand werklik deel hê aan die heil in Christus.

Tema: Johannes laat sien dat die messiaanse heil slegs geniet word deur hulle wat hulself opreg bekeer.

  1. Johannes ontmasker met skerpte die sonde
  2. Johannes wys met klem die weg van behoud.

Johannes berei die verbondsvolk voor om die koning te ontvang. Daarom verkondig hy die doop van bekering tot vergifnis van sondes. Mense uit alle range en stande kom na Johannes toe om hulle te laat doop, selfs Fariseërs en Sadduseërs (Mt 3:7). Hoe reageer Johannes op hul versoek om gedoop te word? Hy noem hulle "addergeslag". Wat ’n ontvangs en verwelkoming! Moet Johannes nie bly wees dat selfs Fariseërs en Sadduseërs tot hom kom om gedoop te wees nie? Hulle was besonder godsdienstige mense. Tog het hulle gehoor gegee aan Johannes se oproep tot die doop van bekering. Terwyl die doop beteken dat hulle self onrein is, ongeskik vir die koninkryk van God. Dit moes daarom veral vir die geestelike leiers ’n groot stap gewees het om na Johannes te gaan om hulself deur hom te laat doop. Tog kry hulle so ’n skerp ontvangs: addergeslag. Hoe kan dit? Verlig deur die Heilige Gees sien Johannes deur die uiterlike verskyning heen na die werklike motiewe. Hulle is gedrywe deur self-liefde en eie belange. "Wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?" Hulle wil deel hê aan die messiaanse heil, sonder om hulle werklik te bekeer, in besef van die erns van hul sondes en sonder die opregte begeerte om hul lewe te verander en verbeter. Sien sondag 33 HK. Hulle weier om hul heil te soek buite hulself in Jesus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:29). Die satan, hul vader, het hulle wys gemaak dat die uitwendige teken van die doop, sonder opregte bekering, voldoende was om hulle te beskerm teen die toorn.

Hierdie skerpe prediking moet ons, as gevestigde kerk, wel opskrik. As dinge (soos die doop, belydenis doen, viering van die nagmaal) normaal, vanselfsprekend gaan word, dan dreig die verwondering oor God se genade verlore te gaan. ’n Radikale bekering is nodig. Vier die nagmaal daarom nie uit gewoonte nie, ook nie uit bygelowigheid nie, asof u dan outomaties deel sal hê aan die beloofde heil. Vier in opregte verootmoediging oor u sondes en in groot verwondering oor die heil in Christus.

Johannes laat sy hoorders nie in die koue staan nie. Hy wys ook op die weg van behoud. "Dra dan vrugte wat by die bekering pas." In die verse 10-14 werk hy dit konkreet uit. Ware bekering word sigbaar in jou daaglikse werk en lewe, in jou liefdediens tot God en jou naaste. Moenie vertrou op vleeslike afstamming van Abraham nie, of dat jy uiterlik tot die kerk of verbond behoort nie

Belangriker is dat jy die geloof van Abraham het en dat jy ’n lewende lid van die kerk is. Verbeel jou nie dat God jou nie kan mis nie vir kerk en koninkryk. Hy kan uit klippe kinders vir Abraham verwek. Beslissend is nie die natuurlike vermoëns van die mens nie maar God se kragdadige roeping. Vergelyk die geboorte van Isak. Die voortgang van die heil is nie uit die mens nie maar uit God.

Johannes wys op die komende oordeel (vers 9). Christus kom nie slegs vrede bring nie maar ook gerig. Daar is geen tyd om te verloor nie. Die byl lê gereed om die onvrugbare bome met wortel en tak uit te roei. As jy jou nie bekeer nie en nie goeie vrugte dra nie, dan sal Christus eendag kom met sy oordeel. Neem daarom die skerpe woorde van Johannes ernstig. Dit is nou nog die tyd van genade. Soek werklik jou heil buite jouself in Jesus Christus. In verootmoediging en verwondering.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As jy rond kyk dan sou jy kan dink dat dit met ons as kerk en as christene redelik goed gaan. Dit lyk met die leer in orde te wees. Alle ampsdraers het die ondertekeningsformulier onderteken en kom op vir die leer van die Skrifte. Ons kerk-geboue is meesal redelik vol, veral soggens. Jong en oud gaan kerk toe, 2 keer per Sondag as dit moontlik is. Die jong mense besoek die katkisasieklasse en jeugverenigings. Elke jaar is daar jong mense wat belydenis van hul geloof aflê. In die reël is alle belydende lede aanwesig by die heilige nagmaal. Wat wil ons meer? Ons mag tog dankbaar wees.

Tog moet ons onsself bly beproef. Ons besoek trou die dienste, ons vier trou die nagmaal maar is ons almal opreg gelowiges? Het ons almal ’n persoonlike relasie met Jesus Christus. Het ons almal Hom aangeneem in geloof? In Johannes 1:12,13 lees ons: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is." Is u almal uit God gebore?

Wat ’n vreemde vrae sal u miskien dink. Ons is nie gewoond daaraan om onsself sulke vrae te stel nie. Ons gaan gewoon aan in die kerklike lewe, ons is daarin opgegroei en ons doen gewoon wat van ons verwag word. Dit is deel van ons lewe.

Tog kan niemand van ons die vrae negeer nie. Sonder bekering sal niemand werklik deel hê aan die heil in Christus. As ek nie bekeer is nie dan sal die nagmaalviering geen seën nie, maar ’n vloek wees, ek sal oor myself ’n oordeel eet en drink. Die Here waarsku ons in die Skrifte: Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. (1 Kor 10:12). Die feit dat u gedoop is, dat u betrokke is by die kerklike lewe is nog geen waarborg dat u werklik die heil sal geniet. Bekering is nodig, voortgaande bekering.

Die oproep tot bekering is nie in die eerste plek bedoel vir die ongelowige wêreld nie. Dit is veral bedoel vir die kerk, vir jou en my. Keer tot God en weg van die sonde. Dit is ’n daaglikse opdrag. Sonder bekering sal ons God nie sien nie, nog die heil wat vir ons uitgestal word by die nagmaalstafel nie. Laat ons dan luister na die ernstige woorde van ons teks.

Johannes laat sien dat die messiaanse heil slegs geniet word deur hulle wat hulself opreg bekeer

  1. Johannes ontmasker met skerpte die sonde
  2. Johannes wys met klem die weg van behoud.

Johannes die Doper kondig die koms van die koning Jesus Christus aan. Hy berei die verbondsvolk voor om die koning te ontvang. Alle belemmeringe moet verwyder word. Die harte moet afgestem word op die komende koning. Daarom verkondig Johannes die doop van bekering tot vergifnis van sondes. Johannes het die mense vertel dat hulle hulself moes laat doop om te laat sien dat hulle berou het oor hul sondes. Dit was ’n doop spesiaal vir die tyd.

Honderde jare het die mense uitgesien na die koms van die Messias. Nou moet Johannes die mense wakker skud, hulle uit die droom help dat die Messias êrens ver weg in die toekoms sal kom. Johannes kom om die mense aan die dink te sit. Hy moet hulle in die eerste plek hul diepe nood, hul sonde en ellende, laat sien en hul oproep tot berou en bekering. Dan pas kan hulle gereed wees om werklik na die Messias te verlang en om Hom te ontvang. As ek nie my sonde en ellende sien nie, hoe sou ek verlang na ’n verlosser?

Johannes se optrede maak kennelik diep indruk op die mense. Ons lees in Mt dat Jerusalem en die hele Judea en die hele omtrek van die Jordaan uitgegaan het na hom toe. En hulle het hulle laat doop met die belydenis van hulle sondes (Mt 3:5,6). Mense uit alle range en stande kom in beweging.

In ons teks staan ’n skare voor Johannes. Hulle vra om gedoop te word. Hoe reageer Johannes op hul versoek? Addergeslag, sê Johannes, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan die kom is? Uit Mt 3 blyk dat Johannes homself veral rig tot die Fariseërs en Sadduseërs. Daar was blykbaar ook Fariseërs en Sadduseërs wat tot Johannes gekom het om hulle deur Johannes te laat doop. Johannes rig sy skerpe woorde veral tot hulle. Maar nie slegs tot hulle nie. Hy spreek daarmee ook al die ander aanwesiges aan. Wie ’n oor het, laat hom hoor. Wat Johannes hier afwys sal nie uitsluitend by die Fariseërs en Sadduseërs voorgekom het nie. Dit sal ook onder die gewone volk voorgekom het.

Johannes noem hulle: Addergeslag. Wat ’n ontvangs en verwelkoming! Voldoende om die persone af te stoot en weg te dryf, dink jy nie? Wie sou homself laat aanspreek as addergeslag? Jy laat jou tog nie die jong van adders noem, slange-saad, volgelinge van die duiwel? Gestel jy meld jouself aan by die kerk om gedoop te wees of om jou kind te laat doop en jy kry so ’n antwoord: addergeslag. Gestel jy maak aan die dominee of die ouderlinge van die kerk bekend dat jy belydenis van jou geloof wil doen om so toegang te kry tot die viering van die heilige nagmaal en jy word dan so benader. Jy dink dat jy besig is om ’n positiewe stap te neem en dan hoor jy: addergeslag.

Hoe durf Johannes so skerp te wees? Moet hy nie bly wees dat selfs Fariseërs en Sadduseërs tot hom kom om gedoop te wees nie? Is dit nie geweldig dat selfs die leiers van die volk die moeite doen om na hom toe te gaan by die woeste en eensame Jordaanstreek nie? So iets doen jy nie sommer nie. Getuig hul koms by Johannes en hul aanvraag vir die doop nie voldoende van hul bekering nie?

Weet jy wel wat dit vir die leiers beteken het om hulself deur Johannes te laat doop? Die Fariseërs was in die reël besonder godsdienstige mense. Hulle het die wet van die Here nougeset opgevolg. Hulle het baie gedoen vir die Here hul God. Baie meer as nodig was. Hulle het hul offers gebring, hulle het die godsdienstige feeste gevier en hulle het die diens van die Here trou bygewoon. Hulle het ’n netjiese en respektabele lewe gelei. Moes die Here nie bly met hulle wees nie? Die messiaanse heil moet wel vir hulle bestem wees, sou jy sê/

Maar dan kom Johannes wat niks anders doen as mense oproep tot bekering. "Mense, bekeer julle, keer julle lewe om, weg van die sonde en tot God. En laat julle doop met die doop van bekering tot vergifnis van sondes." Moet hulle, die Fariseërs en Sadduseërs, hul nog bekeer en hulle laat doop? Deur die doop te eis sê Johannes in feite dat hulle nog onrein is. Hulle moet gewas word. Hulle is nog ongeskik om die koning te ontvang. Daarom is die wassing met water nodig tot vergifnis van sondes.

Maar, gemeente moet hierdie Jode wat al die enigste ware God dien en wat hul godsdienstige pligte trou nakom bely dat hul nog onrein is, ongeskik vir die koninkryk van God? Moet hulle daartoe selfs na die woeste Jordaanstreek toegaan, weg van Jerusalem. Staan die tempel nie in Jerusalem nie. Daar moet tog die offers gebring word en die reinigingsrituele vervul word?

Dit moet daarom veral vir die geestelike leiers ’n groot stap gewees het om na Johannes uit te gaan om hulself deur hom te laat doop. Maar dan kry hulle so ’n skerp - ons sou geneig wees om te sê ‘n growwe – ontvangs: addergeslag. Hoe kan Johannes dit doen?

Dit is duidelik dat Johannes goeie redes moes gehad het om so op te tree. Verlig deur die Heilige Gees laat Johannes hom nie mislei deur uiterlike verskyning nie. Johannes deursien die situasie. Blykbaar is die motiewe van die mense tog nie suiwer nie. Johannes ken die verdorwenheid en misleiding van die menslike hart. Hy ontmasker hul ware motiewe.

Blykbaar is hulle gedrywe deur self-liefde. "Wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?" Hulle sou wel verstaan het dat Johannes se prediking iets te doen het met die messiaanse koninkryk. Op geen enkele wyse wil hulle dit misloop nie. Daarom gaan hulle vir alle sekerheid maar na Johannes toe om hulle te laat doop. Hulle is nog te geïnteresseer in hulself, in hul eie posisie en welvaart. Hulle is nog te besig met hul eie belange pleks van hulself te beywer vir God se belange. Hulle wil hul eie lewe veilig stel.

Hulle wil vlug vir die komende toorn en deel hê aan die messiaanse heil, sonder om hulle werklik te verootmoedig vir die Here. Hulle vra die doop aan sonder besef van die erns van hul skuld en sonder die opregte begeerte om hul lewe te verander en te verbeter. Met sondag 33 van die kategismus sou ons kan sê: by hulle ontbreek die hartlike berou daaroor dat hul God deur hul sondes vertoorn het en dat hulle die sonde hoe langer hoe meer haat en daarvan wegvlug. Hul wil wel die doop aanvaar as hulle maar rustig kan aangaan met hul ou lewenswyse. Terwyl bekering juis beteken: jou denke en jou lewe omkeer. Jou afkeer van die dooie godsdienstige werke waarmee jy dink God se guns te verdien. Jouself wegsyfer en God sentraal stel.

Daarom lê Johannes op skerpe wyse hul sonde bloot. Hulle moet hul sondes ken, hulle moet hulself as sondaars ken voordat dit te laat is. Hulle moet wil lewe uit genade. Hulle moet hul lewe buite hulself soek in Jesus Christus. Daar gaan dit Johannes uiteindelik om, hy is besig om die mense te laat fokus op Christus.

Dit is duidelik dat die doop van Johannes, waarmee die mense hul berou moes toon, nie hulle sondes sou wegneem nie. Johannes het die mense gewys op Jesus Christus: "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem."(Johannes 1:29). Dit moes vir die mense, veral vir die Joodse leiers, duidelik genoeg gewees het. Die Jode mog immers weet dat die lam beteken dat Iemand ons plek moes inneem en in ons plek die straf moes dra. Dit moet vir elkeen wat die Bybel ken duidelik genoeg wees, ook vandag. "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem."

Wat ’n heerlike waarheid! Wat ’n magtige woorde! Hoe geweldig moes dit gewees het vir die mense, wat net vir die Verlosser gewag het, om nou te hoor dat die Lam van God voor hulle staan. Maar hoe reageer hulle? Was hulle buite hulself van blydskap? Het hulle tot geloof gekom? Het hulle in ootmoed gesê: Ek dank u dat u gekom het om ons sondes weg te dra?

Nee, veral die Fariseërs en Sadduseërs kon dit nie verdra nie. Hulle was trots op hulself. Hulle wou hul godsdienstige lewe handhaaf. Dit mag nie versteur word nie. Daarom die skerpe woorde van Johannes: addergeslag. Julle meen dat julle God se toorn kan misloop deur te bly soos julle is, deur julle nougesette lewensgedrag te handhaaf. Julle dink dat julle saad van Abraham is. Julle gedra julle egter as saad van die slang, addergeslag. Die sluheid en giftigheid sit in julle bloed. Julle het die slang as vader.

Wie het julle op die gedagte gebring om die komende toorn te ontvlug deur julle slegs te laat doop? Die naam addergeslag gee die antwoord. Dit kom van die adder, die slang van die begin, die duiwel. Dit is hy wat mense wys maak dat jy jouself teen die toorn kan beskerm deur die uitwendige teken van die doop sonder opregte vernuwing van jou hart en lewe, sonder ware bekering.

Dit is ’n leuen. ’n Leuen van satan, die vader van die leuen. As jy leef volgens die leuen dan het jy die duiwel as vader en doen jy die begeertes van jou vader (sien Johannes 8:44).

Gemeente, hierdie skerp ontmaskering van die sonde moet ons wel laat opskrik. Juis in gevestigde kerke waar alles in orde lyk te wees is hierdie saak urgent. As dinge normaal, vanselfsprekend word, dan dreig die verwondering oor God se genade verlore te gaan. Dit is nie sonder rede nie, dat die doopsformulier daarop wys dat ons die doop nie uit gewoonte of bygelowigheid moet gebruik nie.

Dit kan so vanselfsprekend word dat jy die doop vir jou kinders aanvra. Dit kan so vanselfsprekend word dat jy op ’n sekere leeftyd belydenis van jou geloof doen. Dit kan so vanselfsprekend wees dat jy reëlmatig die eredienste bywoon en dat jy deelneem aan die heilige nagmaal. Maar julle moet weet wat julle doen. Die sakramente gee juis aan dat ’n radikale bekering nodig is. Jy moet gereinig word van sondes deur die bloed en Gees van Christus. Doen jy dit in opregte geloof en bekering dan mag jy seker wees van die vergewing van jou sondes. Die doop en die nagmaal gee egter nie outomaties deel aan die heil van Christus. Die sakramente moet in geloof gebruik word. As jy jou nie werklik bekeer nie dan sal die sakramente vir jou in pleks van ’n seën, ’n vloek wees.

Laat ons Johannes se skerpe prediking ter harte neem as ons ons voorberei op die viering van die heilige nagmaal komende Sondag. Ons kan baie maklik die nagmaal uit gewoonte of bygelowigheid vier. Doen dit nie so nie! Gaan nie sommer aan tafel omdat dit nou eenmaal verwag word van hulle wat belydende lid is van die Vrye Gereformeerde Kerk. Gaan ook nie aan tafel uit bygelowigheid, asof u daarmee outomaties deel sal hê aan die beloofde heil. Nee, gaan in opregte verootmoediging oor u sondes en in groot verwondering oor die heil in Christus. Soek werklik u heil buite uself in Christus.

Gemeente, ookal ontmasker Johannes die sonde op ’n skerpe manier, wil dit nie sê dat hy sy hoorders in die koue laat staan nie. Hy wys ook met klem op die weg van behoud. Die 2e gedagte.

"Dra dan vrugte wat by die bekering pas" sê hy. Toon deur jou dade dat jy werklik in jou hart berou het oor jou sondes. Toon dat jy gebreek het met jou sondige gedagtes en lewe en dat jy nou werklik na die wil van die Here wil lewe. By opregte bekering kan dit nie gebeur dat jy rustig bly soos jy was nie. Bekering beteken ’n omkering, ’n radikale verandering in jou lewe. Jy gaan jou steeds meer op God rig in pleks van op jou eie belange. Jy gaan dinge doen uit liefde tot God en die naaste.

In die verse 10-14 werk Johannes dit konkreet uit. Elkeen moet op sy eie plek en met sy eie gawes die liefdediens vervul. Die tollenaars en die soldate hoef nie hulle beroepe te verander nie. God roep ons nie weg van ons daaglikse werk nie. Ware bekering is iets wat sigbaar word in jou daaglikse werk en lewe. Christus vra niks besonders nie. Hy vra slegs dat jy die liefde vir Hom en vir jou naaste toon in jou konkrete lewens-situasie. Jy doen dan jou werk anders, jy oefen jou bedryf anders, jy beheer jou huis anders. Jy doen alles uit ’n ware geloof, volgens die wet van God en tot sy eer.

Die Jode moenie dink: ons het Abraham as vader nie. As jy op jou afkoms jou vertroue stel dan sal jy beskaamd word. Die vleeslike afstamming van Abraham is nie voldoende nie. So is ook vandag die feit dat jy uiterlik tot die kerk en die verbond behoort nie voldoende nie. Sonder ware bekering is so ’n voorreg waardeloos. Jy kan daar niks mee doen nie. Dit is belangriker dat jy ’n geestelike afstammeling van Abraham is. Formeel lid wees van die kerk tel nie, slegs die feit dat jy ’n lewende lid van die kerk is. Jy moet deel hê aan die geloof van Abraham. Dan kry jy ook deel aan die heil wat aan Abraham beloof is.

Ons hoor Johannes sê: God het mag om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Dink maar nie dat God jou nodig het nie. Verbeel jou nie dat God jou nie kan mis nie, dat jou plek in die kerk vir die Here streng noodsaaklik is. God het jou regtig nie nodig, om te kom tot die vervulling van sy beloftes nie, om te kom tot die skare wat niemand kan tel nie. Hy is by magte om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Niks is vir die Here onmoontlik om te kom tot die voltooiing van sy ryk. Dit het Hy steeds weer in die geskiedenis van die kerk getoon. Beslissend is nie die natuurlike vermoëns van die mens nie, maar God se kragdadige roeping.

Die kerk is ontstaan deur God se skeppende woord. Menslikerwys gesproke was dit vir Abraham en Sara onmoontlik om ’n kind te ontvang. Hulle was op hoë leeftyd en dit het Sara nie meer gegaan na die wyse van die vroue nie. Tog het God hulle ’n seun gegee, Isak. God het dinge wat nie bestaan nie, en wat onmoontlik geag word, tot aansien geroep. Hy het dit toe en ook by latere geleenthede gedoen om duidelik te maak dat ons dit nie van natuurlike vermoëns moet verwag nie maar van God se skeppende woord. Die voortgang van die heil is nie uit die mens nie maar uit God. Daar lê die geheim van julle bestaan as kerk en as gelowiges. As jy nie lewe uit die wonder van God se verkiesende genade nie dan hoort jy nie aan die tafel van die Here nie.

Johannes wys met klem daarop as hy sê: "Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi." Die tyd dring. Die koning, Jesus Christus, is komende. En wanneer Hy kom dan kom Hy nie slegs vrede bring nie maar ook gerig.

Die byl lê gereed. Alles is gereed vir aksie, vir die oordeel. Die byl hoef slegs opgeneem en gebruik te word om die onvrugbare boom uit te kap. Hiermee maak Johannes duidelik dat die oordeel naby is vir hulle wat geen bewys van hul bekering het nie. Daar is geen tyd om te verloor nie. Die byl lê teen die wortel van die boom. Dit is nie maar ’n kwessie van snoeiwerk nie. Wortel en tak word uitgeroei. Elke boom, dit wil sê: elke mens, wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

In vers 17 omskrywe Johannes dit as volg: Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.

Dit is ’n baie ernstige boodskap vir die kerk van Christus. As jy jou nie bekeer nie, as jy nie goeie vrugte dra nie, vrugte wat pas by die bekering, dan sal Christus eendag daar ’n einde aan maak en jou in die ewige vuur werp. Miskien het jy reëlmatig kerk toe gegaan, het jy deelgeneem aan allerlei kerklike aktiwiteite. As jy egter jou nie teen die sonde gekeer het nie en jou gekeer het tot God dan sal Hy jou oordeel. As jy nie opreg jou toevlug gesoek het by Jesus Christus nie dan wag vir jou die oordeel.

Miskien kry jy dit reg om ’n onbekeerde hart of immorele gedrag te verstop agter uiterlike godsdienstigheid. Dan verstop jy jou wareself vir ander mense. Dit sou baie dom wees want dan kan die mense jou ook nie help nie. Dit sou tot jou eie skade wees.

Broeders en susters, seun en dogter, laat ons daarom ernstig neem die skerp woorde van die voorloper Johannes die Doper. Christus het gekom. Christus is nou besig om weer te kom om te oordeel die lewendes en die dooies. Dit is nou die tyd van genade. Die woord van heil word nou nog aan julle verkondig. Volgende week sal, as die Here dit wil, die nagmaalstafel weer gereed staan. Bly jouself bekeer van sonde tot God. Verootmoedig jou voor die Here in berou oor jou sondes. Soek jou heil buite jouself in Jesus Christus. In verwondering en aanbidding. Dan mag jy werklik geniet van die messiaanse heil.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)