Laat die woord van Christus ryklik in julle woon

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-01-24
Teks: 
Kolossense 3
Preek Inhoud: 

Kolossense 3:16A

Ds. C Kleyn - Sondag 24 Januarie 1999

Lees: Efésiërs 5:15-21; Kolossense 3:1-17
Sing: Ps 9:1,7,8; Ps 112:1,4; SB 14; Ps 89:6,7; Ps 4:3,4

Samevatting:

Wat is die tiperende voorreg van die Christelike kerk en van die Christen? Dit, dat die Heilige Gees in die kerk en in hulle woon (Ef 2:22; 1 Kor 3:16). Hoe weet jy of die Heilige Gees in jou woon? Nie uit spesiale, vae en ontasbare ervarings nie. Die Gees kom met die woorde van Christus (Joh 16:13,14). "God se Gees in jou" is ongeveer dieselfde as "Christus se woorde in jou." Dit is die rykdom van die Nuwe Verbond (Jer 31, Rom 10:8).

Tema: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon.

  1. Wat beteken dit?
  2. Waaruit blyk dit?

1. Die woord van Christus is die woord wat van Christus kom en wat Christus tot inhoud het, die evangelie van God se genade in Christus. Christus kom met en in sy woord (Rom 10:5-10). In ons teks vra Hy toegang tot jou hart en lewe. Maar Christus woon tog reeds in die harte van hulle wat glo? Paulus se oproep laat sien dat jy as gelowige nooit kan sê dat jy gearriveer het nie. Die woord van Christus moet steeds meer ruimte en gesag ontvang in jou hart en lewe. Om in jou te woon is iets heel anders as om so nou en dan by jou te kom kuier. Die woord, ja Christus self, soek ’n permanente en oorvloedige (‘ryklik’) woonruimte. Veral sedert die uitstorting van die Gees kan ons nie tevrede wees met die minimale nie. Die woord is nie slegs bestem vir die eredienste nie, ook vir die huise. Koning Christus wil ryklik woon in die huise van sy geheiligdes. Daarom is huisgodsdiens so belangrik. Hy wil in die harte en lewens van ouers en kinders woning maak. Wat ’n genade! Dan moet die woord ook ons huise tipeer. Die woord maak immers ons huise so anders as al die ander huise. Laat die woord dan ook ’n steeds groter plek in jou lewe ontvang. Laat dit jou werklik beheers in jou doen en late. Die vleesgeworde Woord het onder ons gewoon (Joh 1:14). Christus het nou teruggekom in die voltooide geskrewe woord. Wil die woord van Christus ryklik in jou woon dan sal jy die eredienste trou besoek, dan sal jy tydens die week die Bybel lees en bestudeer en waar moontlik die werk van die Bybelstudieverenigings ondersteun. Christus soek mos ’n oorvloedige woning vir sy woord onder ons.

2. Hoe merk jy dat die woord van Christus ryklik in julle woon? As ons mekaar in alle wysheid leer en vermaan. Die woord is aan die gemeente toevertrou, nie slegs aan die ampsdraers nie. Sodra jy self plek vir die woord in jou hart en lewe ingeruim het wil jy daaraan saamwerk dat die woord steeds meer plek ontvang in die hart en lewe van al God se kinders. Daarom, leer en vermaan in alle wysheid. Hou mekaar by die woord en roep mekaar terug na die woord. Dis opvallend dat in hierdie verband ons lied genoem word. As ek sing is ek nie slegs ’n priester wat die lofoffer van die lippe aan God bring nie (Heb 13:15). Ek is dan ook ’n profeet of profetes wat die woorde van Christus oordra aan ander mense. Ons lied is ’n kragtig middel om mekaar te bemoedig in die stryd van die geloof. Daarom moet die lied ook in die huise gehoor word. Die lied moet op ons lippe en veral in ons hart wees. Waar is jou hart vol van? Watter soort liedere het jy in jou hart en op jou lippe? Onchristelike liedere wat deur satan aangeleer is of Christelike liedere aangeleer deur die Gees van Christus? Laat ons die Christelike liedere meer ruimte gee in ons huise en lewens. Die Christelike lied is ’n belangrik middel om ruimte vir die woord van Christus te gee en te handhaaf. Die inwoning van die woord van Christus moet ook blyk uit jou doen en late. "En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom." (vers 17). In al die situasies van die lewe en in al die relasies gaan dit in die eerste plek oor die diens aan Christus. Met liggaam en siel behoort ek mos aan Hom.

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Wat is die tiperende voorreg van die Christelike kerk? Wat is die tiperende voorreg van die Christen? Dit, dat die Heilige Gees in die kerk en in die gelowige woon. Die kerk word genoem ’n woning van God in die Gees (Ef 2:22). Met betrekking tot die gelowiges lees ons in 1 Kor 3:16: "Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?" Dit is ’n geweldige werklikheid. Dink jouself in: God almagtig, Jesus Christus wil in die kerk, in jou as gelowige, woon deur sy Gees!

Hoe weet jy of die Heilige Gees in jou woon? Moet jy soek na buitengewone ervarings? Moet ons van almal wat hul geloof bely eis dat hulle van so ’n spesiale ervaring kan vertel? Gelukkig nie. Anders sou die inwoning van die Gees iets vaag bly, ontasbaar, onberekenbaar, onmoontlik om te toets. Wat ek as ’n buitengewone werking van die Heilige Gees sien blyk in die ou end miskien iets heeltemal anders te wees.

Nee, as die Bybel praat oor die Heilige Gees dan praat dit van die Gees van die Woord. Die Gees kom tot ons in en met die woord van Christus. Het Christus voor sy dood en opstanding nie tot sy dissipels gesê: "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig." (Johannes 16:13,14). Let op die woorde: die Gees sal nie uit Homself spreek nie … Hy sal dit neem uit wat aan My behoort en aan julle verkondig.

Die Heilige Gees kom dus met die Woord van Christus. Met daardie woord kom Hy om in ons harte te woon. "God se Gees in jou" is parallel aan die uitdrukking "Christus se woorde in jou." Dit is die werklikheid van die Nuwe Verbond. Ooreenkomstig die profesie van Jeremia 31, word die Nuwe Verbond gekenmerk deur die feit dat die Woord van God in die harte geskrywe is. Immers, "Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig."(Rom 10:8). Die woord is aan jou verkondig. Die woord is in jou hart gelê en op jou lippe. So het die Heilige Gees jou lewe en jou hart binnegekom. As jy glo het jy die Gees. Jy het die woord. Dis egter nog nie die einde nie. Juis by geestelike mense – by mense in wie die Gees woon – pas geen gearriveerde houding nie. In ons teks praat Paulus tot sulke mense. Hy roep hulle en julle op om die woord van Christus steeds meer beslag te laat kry in julle lewe: "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon." Dit is die tema van die preek. Ons het twee punte.

  1. Wat beteken dit?
  2. Waaruit blyk dit?

Die teks praat van die woord van Christus. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Met die woord van Christus word die evangelie bedoel. Dit is die woord wat van Christus kom en deur die apostels verkondig en opgeteken is in die voltooide Bybel. Dit is die woord wat weekliks aan jou verkondig word, die woord waarmee julle by die huis, in die Christelike gesin, opgevoed word, die woord waaruit op die katkisasies en die verenigings gestudeer en geleer word. Dit is die woord wat in opdrag van Christus deur julle ouers en ampsdraers deurgegee word. Christus is die eintlike Prediker. Die woord gaan egter nie alleen van Christus uit nie maar die woord gaan ook oor Christus, het Christus as inhoud. Alles in die Bybel wentel mos om God se genade in Christus. Wil jy die hele Bybel in een naam saamvat dan moet jy die naam van Jesus Christus noem, die een naam wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word. (Hand 4:12). Wil jy Christus in jou lewe ontmoet, dan moet jy na die woord van Christus gaan. Christus kom met en in sy woord. In die woord is Hy naby jou. Daarom skryf Paulus in Rom 10 dat jy nie in die hemel hoef op te vaar om Christus af te bring nie. Jy hoef nie in ekstase bo jouself verhewe te word om een met Christus te wees nie. Jy hoef ook nie in die afgrond neer te daal, naamlik om Christus uit die dode op te bring nie. Nee, "naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart". Jy hoef daarom nie ver te gaan om Christus te vind nie. Hy is naby jou, in die woord wat naby jou is.

In die teks roep Paulus ons op: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Dit is nie slegs ’n wens nie. Dis ’n bevel, ’n oproep. Die Here is wel soewerein in sy genade-werk. Uit die vrye welbehae van die Vader kom Christus na ons toe met sy woord. Ja, na ons toe, na sy gemeente wat Hy vergader, na die verbondskinders. Nie elkeen het die voorreg nie! Hoe wonderlik is sy verkiesende liefde: Hy wil juis in ons en in ons kinders woon. Maar die Here doen dan ook ’n beroep op ons verantwoordelikheid. Hy staan voor die deur en Hy klop. Hy vra toegang. Hy soek ’n woning in julle harte en lewens.

Maar, gemeente, woon Christus nie reeds in ons harte nie? Ons het tog die evangelie gehoor en aanvaar? Die woord van Christus is tog reeds in ons hart en in ons mond? Paulus begin die brief aan die Kolossense bv met danksegging: "ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele." (1:3-5). Hoe kan Paulus dan dieselfde mense oproep: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon? Broeders en susters, Paulus se oproep laat sien dat jy as Christen nooit kan sê dat jy gearriveer het nie. ’n Gearriveerde houding is onvanpas vir ’n Christen. Glo u, glo jy in die Here Jesus? Dan het die woord van Christus reeds ’n vaste plek in jou lewe. Die woord moet egter steeds meer en meer ruimte en gesag ontvang in jou lewe. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon.

Om in julle te woon is iets heel anders as om so nou en dan by julle te kom kuier. Die woord van Christus wil nie ’n rondreisende gas wees nie wat gou-gou kom kuier om daarna weer te vertrek nie. Die woord wil in die gemeente, in die gelowige woon. Die woord, ja Christus self, soek ’n permanente woonplek. Hy wil voortdurend in ons aanwesig wees en Hom laat geld. Selfs as Heer van ons huise.

Paulus voeg daaraan toe die woord "ryklik." Die woord van Christus wil ryklik in u woon. Christus soek oorvloedige woonruimte. Hy lê op alle ruimte beslag. Die woord moet ’n steeds groter plek in die lewe ontvang. Dit moet u hele lewe vul. Die woord is nie karig aan ons gegee nie. Vanaf Pinkster het die Gees die woord ryklik oor die gemeente uitgestort. Gee die woord daarom ook geen karige of agteraf plekkie in u lewe nie. Gee dit alle ruimte wat beskikbaar is. Dit wil volkome en ryklik aanwesig wees. Veral sedert Pinkster kan ons nie tevrede wees met die minimale nie.

Christus neem geen genoeë daarmee dat die woord slegs hier in die kerkgebou geopen en gehoor word nie. Die Bybel is nie slegs bestem vir die eredienste nie. Die Bybel is bestem vir die hele lewe. Nie slegs vir die sondag nie, maar vir elke dag van die week. Christus wil in die gemeente woon in die onderlinge samekoms. Die gemeente is ’n woning van God in die Gees. Maar Christus wil ook in die harte en lewens van sy kinders woon. Elke gelowige word mos ’n tempel van die Heilige Gees genoem. Daarom moet die woord ook ’n ruim plek hê in ons huise, in ons gesinne. Daar waar die gelowiges saam met hul kinders lewe. God lê beslag op ons huise. Hulle is geheilig, afgesonder vir die Here. Die kinders is heilig. Hulle is ook afgesonder om vir die Here te wees. Daarom soek Christus in die huise ruimte vir sy woord. Sy woord moet daar sentraal wees. Daarom moet die woord reëlmatig geopen word. Daarom is huisgodsdiens so belangrik in ons gesinne. Neem tyd daarvoor. Christus wil daar ’n woning maak in die harte en lewens van ouers en kinders. So groot is Hy in sy liefde dat Hy so diep kan neerbuig tot ons en ons nederige wonings tot sy woning wil maak. Tussen al die ontelbare huise en woonstelle in Pretoria en waar ookal staan die huise en woonstelle van hulle wat in Christus geheilig is. Daar is niks besonders aan hulle huise te sien nie. Hulle is gewone huise of huisies. Tog is hulle ook heel besondere huise. God se verkiesende genade het homself oor ons huise uitgestrek. Die groot koning Jesus Christus wil daar woon, met sy woord en Gees. Is ons wonings nie veels te klein en nederig vir so ’n groot koning nie? Wat ’n wonder van genade! Wat ’n ongekende voorreg! Daarom sal die woord van Gods genade ons huise moet tipeer. Die woord maak immers ons huise so anders as die huise van ongelowiges. As die woord van Christus nie meer sentraal is nie, sal die Christelik karakter van die huis verdwyn en dan sal die huis net soos die ander ontelbare huise word, huise sonder Christus en sonder hoop in hierdie wêreld. Daarom: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Laat die woord ’n steeds groter plek in jou lewe ontvang. Laat dit jou hele lewe vul. Neem die woord saam in jou daaglikse lewe en werk. Dra dit saam in jou hart en in jou mond. Laat hierdie woord jou werklik beheers in jou doen en late. Pas die woord toe in die praktyk van die lewe. Buig vir die gesag van die woord, waar jy ookal is en wat jy ookal doen. Christus wil die sê hê, orals en altyd. Het Hy u nie vrygekoop met sy kosbare bloed en u so tot sy eiendom gemaak nie?! Waarom het Hy met sy woord tot u gekom? Sodat u vry sou wees in gebondenheid aan Hom.

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Maak steeds meer en meer ruimte vir die woord. Die woord, Jesus Christus, het mos vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.(Johannes 1:14). Na sy hemelvaart het Hy weer tot ons gekom in die volheid van sy Gees. Ons het nou die voltooide geskrewe woord. As jy die woord ryklik in jou wil laat woon dan sal jy steeds weer na die woord gryp, die woord lees en daaroor nadink. Dan gaan jy met vreugde na die eredienste toe, die eredienste waarin die woord gepredik word. Nie slegs een keer nie, maar waar moontlik beide kere. Want daar in die dienste soek Christus die woonruimte van u hart. Wat hier in die dienste gebeur wil rigting gee aan u lewe van elke dag sodat u elke dag van u lewe van u bose werke rus en die Here deur sy Gees in u laat werk ( HK Sondag 38). As ek die woord van Christus ryklik in my wil laat woon dan sal ek my ook tydens die week wil inspan om die Bybel te lees en te bestudeer, dan sal ek ook waar moontlik die werk van die Bybelstudieverenigings ondersteun. Die verenigings is meer as ’n intellektuele oefening om bybelse vrae te beantwoord. Daar mag meer gebeur. Daar moet meer gebeur. Ons skaar ons daar rondom die woord. As die Skrifte oopgaan in die inleiding en in die bespreking dan soek en dan vind Christus ’n woning onder ons. Moenie die waarde van die Bybelstudieverenigings onderskat nie. As dit goed is – en dit moet ons doelwit bly – dan word ons daar onder meer geoefen om as profete, priesters en konings op te tree in die daaglikse lewe. Christus soek mos ryklik woonruimte vir sy woord. Hy gaan nie die manne en vroue, die seuns en dogters, ook nie die kinders verby nie. Daarom is Christelike onderwys so kosbaar in sy oë. Daar soek Hy woning vir sy woord. Die woord beteken alles vir ons en ons kinders. Daarom sal ons geleenthede soek en skep om meer en meer ruimte vir die woord te gee in ons hart en lewe. Die woord moet steeds meer en meer ons gedagtes, woorde en werke gaan beheers en bestempel.

Dit bring ons by die tweede punt van die preek: Waaruit blyk dit dat die woord ryklik in julle woon?

As die woord van Christus ryklik in julle woon dan sal dit merkbaar wees bv in die kommunikasie onder mekaar. Dit is die eerste wat Paulus noem. "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar." Hoe merk jy dat die woord van Christus ryklik in julle woon? Jy merk dit as die Christene, as die lede van die kerk mekaar in alle wysheid leer en vermaan. Om te leer en te vermaan is nie slegs ’n taak van die ampsdraers nie. Nee, die hele gemeente word daartoe geroep. Die woord van Christus is mos aan die gemeente toevertrou. Julle het almal die woord ontvang. Dit stel julle in staat om te leer en te vermaan. Sodra jy self plek vir die woord in jou hart en lewe ingeruim het dan wil jy daaraan saamwerk dat die woord steeds meer plek ontvang in die hart en lewe van al God se kinders. Christus skakel u almal in om oorvloedige woonruimte vir sy woord te skep en te behou. Sorg vir mekaar. Neem mekaar saam. Hou mekaar vas. Doen dit met die woord wat aan u gegee is. In die Bybel beklemtoon die woord "leer" die opening van die Skrifte. Gryp na die Skrifte. Verwys mekaar na die Skrifte. Onderrig mekaar uit die Skrifte. Sodat die woord van Christus ryklik mag woon in die lewe van al God se kinders. Sodat hulle werklik Christene mag wees en bly. Sodat die gemeente ook werklik ’n Christelike gemeente mag wees en bly.

As iemand dreig om af te val, laat hom nie sommer aan sy lot oor nie maar help hom reg in ’n gees van sagmoedigheid. Die teks praat van "in alle wysheid". Anders as ons vertaling suggereer, moet die woorde waarskynlik gelees word saam met dit wat daarop volg. Dan lees ons: Leer en vermaan mekaar in alle wysheid. Wees wys en taktvol. As wysheid en takt ontbreek dan kan ons woorde, hoe goed ook bedoel, die teenoorgestelde reaksie uitlok. Die onderlinge tug is nie maklik nie. Dit word dikwels nie gewaardeer nie. Ons het ook die gees van die tyd teen ons. Die leuse vandag is: los mekaar uit, elkeen moet self bepaal hoe hy of sy wil lewe. In feite is dit die grootste liefdeloosheid wat bestaan. Op hierdie wyse laat ons mense verongeluk, ja, die ewige ondergang tegemoet gaan. Die woord van Christus spoor ons aan om in te spring tot redding van sondaars, of dit nou gewaardeer word of nie. Ons kan nie sommer iemand laat ondergaan nie. Die woord soek ruimte ook in hulle lewe.

In verband met die onderlinge opbou noem Paulus die lied van die gemeente. Dis opvallend. "Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Ons lied is ’n lofoffer vir die Here, ’n danklied tot eer van Hom. Maar in ons lied praat ons blykbaar nie slegs tot God nie. Die teks praat selfs in die eerste plek van die feit dat ons mekaar in ons lied aanspreek. In ons lied leer en vermaan ons mekaar. As ek sing, is ek nie slegs ’n priester wat die lofoffer van die lippe aan God bring nie (Heb 13:15). As ek sing is ek ook ’n profeet of profetes wat die woorde van die Here oordra aan ander mense. Christus lê sy woord in ons hart en op ons lippe om mekaar daarmee te dien, om mekaar daarmee te leer, te bemoedig, te vermaan ens. Vergelyk die lied maar met die lied van marsjerende soldate. Hulle sing mekaar moed in, neem mekaar saam. So is ons lied ’n kragtig middel om mekaar te bemoedig in die stryd van die geloof. Die woonruimte van die Gees word ook daardeur veilig gestel. Daarom moet ons die Christelike lied nie alleen vir die eredienste of andere samekomste reserveer nie. Die lied wil ook in die huise gehoor word. Ook daar wil Christus immers ryklik in ons woon. Ook daar wil God die lofoffer hoor en kan ons in ons lied mekaar saamneem op die pad van die heil.

Gemeente, dit is nie moontlik om die 3 soorte liedere wat genoem is skerp van mekaar te onderskei nie. In die lig van 1 Kor 14: 26 is dit waarskynlik dat die apostel ook nuwe testamentiese liedere bedoel het, liedere wat die Heilige Gees as genadegawes aan sommige gemeentelede gegee het. Die nuwe testamentiese gemeente het die volheid van die woord van Christus ontvang. So het die Heilige Gees die gemeente geleer om vorm te gee aan haar blydskap en dank. Die Gees roep ook vandag die lied by ons wakker sodat ons uiting gee aan die blydskap oor die heil en mekaar saamneem op die pad van die heil. Dit gaan daarom dat die woord van Christus weerklink in ons lied. Die woord wil mos ryklik in ons woon en tot uiting kom.

Die lied moet dan natuurlik nie slegs op ons lippe wees nie. Dit moet ook en veral in ons hart wees. "En sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Daar waar die hart vol is van die woord van Christus, sal die mond ook vanself daarvan oorloop. Waar is u hart, jou hart van vol? Vandag het ons sterk kompetisie met betrekking tot ons musiek en lied. Via die moderne kommunikasie middele probeer Satan in die harte en lewens van ons en ons kinders in te dring en so die woord van Christus te verdring. Daarom vra ek opnuut die vraag: waar is u hart, jou hart van vol? Is jou hart werklik vol van die woorde van Christus? Watter soort liedere lewe in jou hart, onchristelike liedere wat aangeleer is deur satan of Christelike liedere aangeleer deur die Gees van Christus. Calvyn het reeds gesug dat die liedere wat die mense die meeste gesing het amper altyd oor niksbeduidende onderwerpe gegaan het en verre van kuis was. Brs en srs, seun en dogters laat die liedere wat in jou hart lewe en wat jy op jou lippe neem tog ooreenstem met jou christelike belydenis. Laat sien dat die woord van Christus ryklik in jou woon. Laat jou liedere uitdrukking gee aan jou dankbaarheid tot eer van God en tot onderlinge opbou en bemoediging wees. As ek my nie misgis nie het ons op hierdie gebied baie werk om te doen. Laat ons begin deur die Christelike liedere meer ruimte te gee in ons huise en lewens. Moenie vergeet nie, die christelike lied is ’n belangrik middel om ruimte vir die woord van Christus te gee en te handhaaf. Liedere wat jy aangeleer het en wat jy liefgekry het speel meestal ’n groot rol in jou verdere lewe.

Die inwoning van die woord van Christus moet nie slegs blyk uit jou praat en sing nie, dit moet ook blyk uit jou gedrag. Paulus noem dit in vers 17 "En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom."

Paulus praat hier oor die breë lewe met al sy besighede. Doen alles in die naam van die Here Jesus. In die verskillende situasies van die lewe moet ons steeds weer die vrae stel: Wat wil Christus hê dat ek moet doen? Is dit wat ek gaan doen tot eer van Hom? Kan ek God die Vader daarvoor dank deur Hom? Dit is nie toevallig dat Paulus praat van die naam van die Here Jesus nie. Jesus is ons Heer en Meester. Hy het ons losgeruk uit die dodelike greep van satan. Hy het ons deur sy kosbare bloed gekoop tot sy eiendom. Met liggaam en siel behoort ek aan Hom. Daarom moet ek ook vir Hom lewe en werk. Doen alles in die Naam van die Here Jesus.

Wat dit beteken het Paulus al genoem in die gedeelte wat aan die teks voorafgaan. Byvoorbeeld "Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen." Dit is opvallend dat in Gal 5 dieselfde dinge genoem word as vrug van die Gees. So handel jy as jy met die Gees vervul is. So handel jy as die woord van Christus in jou woon.

Die vraag: hoe blyk dit dat die woord van Christus ryklik in julle woon, kan dan as antwoord ontvang: dit blyk uit jou woorde en dade, uit jou hele gedrag. Die woord van Christus laat sy gesag geld in alle terreine van die lewe. Wat jy ook al doen, waar jy ook mag wees, jy is in diens van die Here Jesus. Daarom gee Paulus na die teks instruksies vir vroue, manne, kinders, vaders, diensknegte en here. In al die relasies gaan dit in die eerste plek oor die diens aan Christus. In die breë lewe eis die woord van Christus alle dinge op vir die Here.

Daarom brs en srs, seuns en dogters, laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Laat die woord al jou keuses bepaal en al jou dade op alle terreine van die lewe, by die werk, in jou studie, tydens jou vrye ure, by die vermaak wat jy soek, by die programme waarna jy kyk, by die musiek waarna jy luister en by die liedere wat jy aanleer en sing. Onderwerp jouself gewillig en met vreugde aan die woord van Christus. Neem mekaar saam in die vreugdevolle diens. Help om meer en meer ruimte vir die woord te skep in die lewens van ander mense. Voed jou kinders op met die woord sodat dit ook in hulle ryklik mag woon. Leer en vermaan mekaar in alle wysheid. Sing jou liedere van vreugde en dank tot opbouing van mekaar en tot eer van God. En wat julle ook doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)