In die 2e bede bid ons om die voltooiing van God se ryk, waarin Hy alles sal wees in almal

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-01-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Sondag 48

Ds. C Kleyn - 17 Januarie 1999

Sing: Ps 97:1,2; Ps 97:6,7; Ps 37:2,21-25; Ps 2:4-6; Ps 72:10,11
Lees: Matt. 11:2-15; Matt. 13:24-43
Teks: Sondag 48

Ons verwag ’n ryk uit die hemel, van God. Tog is alles gerig op herstel van hierdie aarde. Daardie koninkryk is alreeds besig om ’n pad te baan in hierdie wêreld. Ons verlang na die voltooiing daarvan.

Tema: In die 2e bede bid ons om die voltooiing van God se ryk, waarin Hy alles sal wees in almal.

Daarmee bid ons:

1. om die onderwerping aan die heerskappy van God;
2. om inskakeling in die stryd van God;
3. om vernietiging van alle weerstand teen God.

Ons maak onderskeid tussen Christus se koningskap en sy ryk. Die eerste is ewig, die laasgenoemde is komende. Vanaf die sondeval is die aarde die magsgebied van Satan geword. Kinders van God het hulself onderwerp aan Satan. Onder die Ou Verbond het die ryk van God sigbaar geword by die volk van Israel. Daar was Sy onderdane. Maar hoe onvolkome was die teokrasie. Die volk het steeds weer afvallig geword. Juis in die donker nag van menslike onwil en onmag (die ballingskap) kondig God die koms van Sy ryk aan deur middel van die profete. God sal ’n ewig koninkryk oprig wat al die ryke van die wêreld sal verbrysel (Dan 2:44). Die vromes in Israel het daarom hoë verwagtinge. Geen wonder dat Johannes die Doper se optrede ’n skok deur die Joodse land laat gaan het. Johannes lui ’n nuwe tydperk in. Hy kondig die Koning aan. In Jesus Christus is God se koninkryk binne ons bereik gekom. Hy is die weg (Joh 14:6) en die deur (Joh 10:9). In Christus word die kragte van die koninkryk sigbaar. Sondes word vergewe en siektes word genees ens (Mt 11:5). Met Christus verskyn die Koning self en Sy heil.

Alles kom egter nie skielik nie. Daar moet nog baie gebeur voordat die einde aangebreek het. Dink aan die groei van ’n mosterdsaadjie (Mt 13:32). Die ekspansiekrag van God se koninkryk sal na al die kante uitgaan tot die eindes van die aarde. Vanaf Pinkster het hierin spoed gekom. Dis nie belangrik vir die apostels, en vir ons, om te weet wanneer die ryk sal kom nie. Hulle ontvang kragte van bo en word aan die werk geset om Christus se getuies te wees. Deur Sy Woord en Gees gaan Christus die eindes van die aarde in Sy besit neem. Satan moet die greep, wat hy in die Ou Testament op die volke gehad het, loslaat (Openb 20:3). Christus gaan Sy kerk vergader uit alle volke en tale.

Waar sien ons die deurbraak van God se ryk? In die vergadering van die kerk. Daar is word die burgers bymekaar gebring deur Christus se Woord en Gees. Daar ontvang jy die skatte van die koninkryk. Daar word jy toegerus tot die stryd van die koninkryk. Daarom is die kerkkeuse so ’n belangrike saak. Verslapping m.b.t. die kerk lei tot verslapping op alle terreine van die lewe. Daarom bid ons ook vir die deurgaande reformasie van die kerk. Die ontrou van die kerk maak mense weerloos in die stryd. Satan probeer die krag van die koninkryk (die suiwere Woord van God) te breek (vergelyk met Mt 13:36-39). In die 2e bede bid ons om ingeskakel te word in God se stryd. Besef u dit wel? U kies daarmee vir die stryd op lewe en dood. Die geestelike wapenrusting wat u ontvang het beide ’n defensiewe en offensiewe funksie. Ons kan nie altyd by die huis bly en ons wapens bly skoonmaak. Ons moet ook aan die voorlinie staan. Dan ervaar ons des te meer hoe dringend ons die weeklikse toerusting in die kerk nodig het. Dit is lewensgevaarlik om ons van die kerk afsydig te hou. Ons is deel van God se leër. Dit is ook skadelik vir God se werk. Dit gaan nie om my stryd of om my koninkrykjie nie, maar om God se stryd en koninkryk.

God se ryk staan teenoor die sonde. Dit beteken dat die sonde sal moet wyk uit my eie lewe. Die Woord van God sny diep in eie vlees. As u opreg bid: "Laat U koninkryk kom" dan vra u dat die heilige vuur van God u lewe sal aangryp en sal suiwer. U vra om selfverloëning en volledige onderwerping. U bid vir die verwydering van alle aantasting van Christus se gesag en van alle teenstand teen God. U bid vir die einde van hierdie teenwoordige wêreld. Dit kom daarom aan op ’n beslissende keuse: Erkenning van God se koningskap of verset daarteen. Heil of vloek. Besef u wel watter kragte u losroep met die 2e bede?! U bid om die suiwering van eie lewe en die suiwering van die hele wêreld.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Te midde van die koninkryke van hierdie wêreld bid ons daagliks om die koms van Gods koninkryk. Ons verwag ’n ryk uit die hemele, ’n ryk nie van hierdie wêreld nie, maar van God, ’n ryk waarin God alles sal wees in almal, ’n ryk van volkome heil. Daardie ryk moet dus uit die hemel kom, van God.

Dit wil egter nie sê dat daardie ryk niks met hierdie aarde te doen sou hê nie. Die hemelse koninkryk word op aarde herstel. Die uitgangspunt, die aksie sentrum is die hemel – ons het ’n hemelse koning en hier geld hemelse wette. Maar alles is gerig op herstel van hierdie aarde.

En dit is nie alleen toekomsmusiek nie. Daardie koninkryk is alreeds besig om ’n pad te baan in hierdie wêreld. Christus, ons hemelse koning is besig om die eindes van die aarde Sy besitting te maak. Die aarde, nog beset gebied, moet bevry word van alle goddeloosheid en alle goddeloses. Daarvoor sal uiteindelik ’n katastrofale ingreep noodsaaklik wees. Langs hierdie weg sal die voltooide staat van heil hier op aarde werklikheid word. In die 2e bede gryp ons na hierdie voltooiing van Gods heilwerk.

Laat ons nou dieper ingaan op die 2e bede: "Laat u koninkryk kom", Ons bid om die voltooiing van Gods ryk, waarin Hy alles sal wees in almal.

Daarmee bid ons:

  1. om die onderwerping aan die heerskappy van God;
  2. om inskakeling in die stryd van God;
  3. om vernietiging van alle weerstand teen God.

Is dit nie vreemd dat hier gepraat word van die koms van God se koninkryk? Het God se koninkryk nie alreeds naby gekom nie? Ken ons Christus nie as onse ewige koning nie? Hy heers tog al oor die hele aarde. Hy is tog die koning van die konings en die Heer van die here. Alles is immers alreeds aan Hom onderwerp. Inderdaad is die koningskap van die Here ’n ewige koningskap. Selfs die magte van die duisternis is aan Hom onderwerp. Tog hou dit nie in dat Sy koninkryk volledig werklikheid sou wees nie. Ons maak onderskeid tussen Sy koningskap en sy ryk. Die eerste is ewig, die laasgenoemde is komende.

Die oorsaak van die onderskeid lê in die sondeval. Vanaf die sondeval het die aarde die magsgebied van Satan geword. Hy het dit reggekry om mense in sy greep vas te vat. In plaas van dienaars van die Here word hulle slawe van Satan, wat die vors van hierdie wêreld genoem word. Die onderdane van die Here het hulle onttrek aan Sy gesag en wou liewer iemand anders dien. So het die ryk van Satan ontstaan teenoor die ryk van die Here.

Onder die Ou Verbond het die ryk van God effens sigbaar geword by die volk van Israel. God het daar Sy heerskappy uitgeoefen deur Sy Woord en Gees. Daar kon Sy onderdane gevind word, die mense wat hul gewillig aan Hom onderwerp het. Dit sou ’n egte teokrasie wees, ’n Godsregering. Maar hoe onvolkome het dit geblyk. Die volk het afvallig gebly – hulle het hul steeds onttrek aan God se regering. Daarom uiteindelik ook die ballingskap.

Maar wat sien ons, broeders en susters, juis in die donker nag van menslike onwil en menslike onmag, het God Sy hemelse koninkryk aangekondig. Die profete mog dit uitroep: Daar sal redding wees vir hulle wat treur oor die lot van Sion. Eendag sal Hy weer koning wees op die berg van Sion, ja Hy sal Sy koningskap vestig oor die hele aarde. Die Here sal ’n tweede koning Dawid gee, ja meer as Dawid, die beloofde Messias. Sy koninkryk sal in ewigheid nie versteur word nie, maar sal tenslotte alle ander koninkryke vernietig. Dink maar aan die groot beeld uit die drome van Nebukadnesar. Die ryk van Dawid het te gronde gegaan. Die magtige Asur en Babel het alles te sê gehad. Tog het Daniël die belofte gekry dat hierdie ryke sal verloor teen die nuwe en komende ryk uit die hemel. God sal ’n koninkryk oprig wat in ewigheid nie vernietig sal word nie en die heerskappy daarvan aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan (Dan 2:44). Dit alles wys nog op die toekoms, maar God sal dit in die laaste dae seker laat kom.

Gemeente, die vromes in Israel het hul verwagting dan ook hoog gespan. En dan verskyn Johannes die Doper, wat uitroep: "Dit koninkryk van die hemele het naby gekom!" Dis nie ’n wonder nie dat Johannes se optrede ’n skok deur die hele joodse land laat gaan het.

Johannes mag ’n nuwe tydperk inlui, die nuwe bedeling. Daarom sê Christus: "Onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie" en "al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. En as julle dit wil aanneem: hy is Elia wat sou kom." [Mt 11:11-14]

Vandat Johannes opgetree het onder Israel, breek die koninkryk van die hemele dan ook met geweld baan in hierdie wêreld. Daar sit beweging in hierdie saak vir elkeen wat dit wil sien. Want in Johannes stuur God Sy boodskapper uit wat voor Sy aangesig die weg sal voorberei, soos Maleagi geprofeteer het. En dan gaan dit gebeur: "Skielik sal na sy tempel kom, die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die Verbond na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom." [Mal 3:1]

Johannes wys na die persoon wat na hom kom. Die koninkryk is naby omdat Hy, die koning, op pad is. Die prediking spits hom toe op die koning. Die koninkryk het in Hom binne ons bereik gekom. Hy is die weg en die deur. Wie die koninkryk wil ingaan moet in Hom, Jesus, glo. Jy hoef maar net jou hand uit te steek na Jesus om in kontak te kom met die ryk wat voor die deur staan.

Ja, broeders en susters, in Christus se verskyning op aarde word die kragte van die koninkryk sigbaar. Sondes word vergewe. Siekes word genees. Selfs die bose geeste moet hulle aan Christus onderwerp. Dis geen wonder dat Christus se verskyning ’n skok deur die hele joodse volk veroorsaak het. Die beloftes word tog vervul? En het Johannes die Doper en Jesus self nie uitgeroep dat die koninkryk van God gekom het nie.

Inderdaad: met Christus verskyn die koning self en Sy heil. Maar mense julle moet dit nie misverstaan nie. Alles kom nie skielik nie. Daar moet nog baie gebeur voordat die einde aangebreek het. Daarom – nie ongeduldig word nie: maar wag en bid: "Laat U koninkryk kom."

In hierdie verband vergelyk Christus die koninkryk van God met ’n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die grond gesaai word, is dit die kleinste van alle saadjies op die aarde, en tog as dit gesaai is, dan word dit groter as alle soorte tuingewasse.

So het die koninkryk van God ’n klein begin, dit is dan van min betekenis in die oë van die mense. Maar dit groei soos ’n boom. Hierdie groei word verhinder en teengewerk deur die duiwel, wat onkruid saai tussen die koring. Maar die groeiproses gaan onweerstaanbaar voort tot aan die voleinding van die wêreld. Die koninkryk sal die hele wêreld omspan. Sy ekspansie-krag sal na al die kante uitgaan tot die eindes van die aarde.

Gemeente, dit is vanaf Pinkster dat hierin spoed gekom het. Die beloofde Gees is uitgestort. Die apostels het gevra na die wanneer van die koninkryk (Hand 1:6). Wat het Christus toe geantwoord? "Julle sal krag ontvang, wanneer die Heilige Gees oor julle kom." [Hand 1:8]. Let wel, dis nie belangrik vir hulle en vir ons nie, om te weet wanneer die koninkryk sal kom. Hulle word aan die werk geset. Hulle ontvang kragte van bo, kragte om Christus se getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot die uiterste van die aarde, kragte vir die stigting van die Christelike kerk gemeente oor die hele aarde. Deur Sy Woord en Gees neem Christus die eindes van die aarde in Sy besit.

Satan moet sy greep op die volke loslaat. Hy word gebind, lees ons in Openb. 20. Waarom? Sodat hy die nasies van die aarde nie meer sal verlei nie (Openb 20:3). Satan moet sy greep op die volke loslaat. Tydens Christus se rondwandeling op aarde was dit nog so dat net Israel God se volk was (en wat was daar in werklikheid nog van oorgebly?) en al die ander volke van die aarde was volledig in die greep van Satan. Vanaf Hemelvaart en Pinkster is dit anders. God se koninkryk breek baan. Die evangelie bereik die volke. Mense uit alle volke tree na vore. Christus gaan met Sy Gees en Woord voort, oorwinnende en om te oorwin.

Die nietige mosterdsaadjie kom op en word groter as alle tuingewasse. Hierdie struik kry selfs groot takke sodat die voëls van die hemel daarin kan skuil en rus vind. Wat moet ons hieronder verstaan? Hier word gewys op die heidene wat gaan kom om te skuil in God se koninkryk.

Uit ’n klein begin groei ’n wêreldwye gemeente uit Jode en heidene. Of om ’n ander beeld te gebruik: die suurdeeg deursuur die hele wêreld van God.

Waar sien ons nou die deurbraak van God se ryk in die wêreld? U sien dit in die vergadering van Christus se kerk. Daar kom die burgers van die ryk bymekaar. Christus bring hulle bymekaar deur Sy Woord en Gees.

Daarom laat die kategismus die bede "Laat U koninkryk kom," onder andere verklaar met die woorde: "bewaar en vermeerder U kerk." In die koms van die koninkryk neem die kerk ’n sentrale plek in. Die koninkryk kom deurdat die evangelie van die koninkryk in die wêreld gepreek word.

En hierdie prediking is aan die kerk toevertrou. Wil jy as burger van die koninkryk lewe, dan kan jy nie buite die kerk om: sy verkondig die evangelie van die ryk. In haar skoot word jy tot lewe gebring. In die skoot van die kerk word jy gevoed. Deur haar prediking word die skatte van die koninkryk uitgedeel. Daar vind jy werklik rus vir jou siel. Daar word jy ook toegerus tot die stryd van die koninkryk.

Daarom is die kerkkeuse nie ’n onverskillige saak nie. Daar moet jy onder ander jou voedsel en wapens uitgedeel kry. As dit nie gebeur nie, sterf die nuwe lewe af. Dan gaan jy jouself steeds minder onderwerp aan God se heerskappy. Dan word jy op die ou end geen onderdaan meer nie. En Christus se heerskappy kom steeds minder tot gelding in die breë lewe – in die gesins lewe, in die maatskaplike verkeer en in die politiek. Sien ons dit nie om ons heen gebeur nie, ja selfs in ons midde. Verslapping m.b.t. die kerk lei tot veslapping op alle terreine van die lewe. Daarom hou die 2e bede ook ’n bede in vir die deurgaande reformasie van die kerk. Gee dat U kerk trou bly aan haar hemelse koning. Gee dat sy haar eie plek en taak bly vervul. Dat sy die Woord van die koninkryk trou in die wêreld ophef.

Doen ons as kerk dit nie, dan word ons ook weerloos in die stryd.

Ons verkeer hier op aarde nog in ’n stryd toneel. Die koninkryk van die lig staan teenoor die ryk van die duisternis. Dink maar aan die gelykenis van die onkruid in die akker. [Mt 13] Waar koning Christus werk daar sit ook Satan sy offensief in. Sy offensief van verleiding en verleiers, gerig op die afval van God se kinders. Daar waar die Woord van die koninkryk gehoor word daar sal hy probeer om die krag van die Woord te breek – deur leuen, skrifkritiek. Dit is ’n felle stryd waar elke mens mee te doen sal kry. Om alles tot volheid te bring, moet Christus oorlog voer teen die Satan. Die besetter, die onregverdige eienaar moet verwyder word. Hierdie stryd is ’n voortsetting en intensivering van die vyandskap wat deur God uitgeroep is in Genesis 3:15.

In hierdie stryd skakel God Sy volk in. Van Dawid word byvoorbeeld gesê dat hy die oorloë van die Here voer. Die Ou Testamentiese Israel is bondgenoot van die Here en word ingespan vir Sy saak. So is dit ook vandag nog. Die burgers van die hemelse ryk is bondgenote in die oorlog. Ons is die landingstroepe wat deur God geplaas is in ’n gebied wat nog beset is.

In die troue kerk kry jy die volle wapenrusting, waarmee jy die goeie stryd op al die terreine van die lewe kan voer. Jy word toegerus tot die stryd, strydvaardig gemaak.

Dit bid ons van die Here los as ons bid "Laat U koninkryk kom." Besef u wel, broeders en susters, dat u daarmee bid om ingeskakel te word in Gods stryd? U bid die maklike, selfsugtige lewe van uself weg. U kies vir die stryd, die stryd op lewe en dood.

In die Skrif word die Geestelike wapenrusting beskrywe in sy defensiewe en offensiewe funksie. Daar is nie slegs sprake van verdediging nie, maar net soveel van aanval. Die aanvalswapen is die swaard van die Gees, die Woord van God. Daarom is dit belangrik dat die kerk nie in die mobilisasie bly vassteek nie. Vanuit die kerk stuur die Here Jesus Sy volk die wêreld in met die swaard van die Gees om alles onder Sy heerskappy te bring. Nie die soldaat wat by die huis bly en sy wapens bly skoonmaak nie, maar die soldaat wat aan die voorlinie die geweldige mag van die vyand op hom sien afstorm, besef die noodsaaklikheid van die weeklikse wapenvoorsiening. Hy ervaar hoe dringend hy die weeklikse toerusting in die kerk nodig het.

Dit is daarom ook nie korrek om die saak van die koninkryk te versmal tot ’n saak tussen God en my. Daar is vandag ’n groot gevaar vir individualisme. Ek het my band met God en dit is waar dit oor gaan. Wie op hierdie manier van homself uitgaan, kan baie vroom oorkom, maar is intussen die band met God se leër kwyt. Dit is lewensgevaarlik maar ook skadelik vir God se werk. Deur ’n individualistiese stryd, staan ons God se heilwerk, God se strydvoering, in die pad. Dit gaan in die lewe nie in die eerste plek oor jou saak, jou koninkryk waarvoor jy die Here nodig het nie. Maar dit begin met die omgekeerde: dit is die saak van die Here wat die burgers van God se ryk ter harte neem, en daarvoor wil hulle hul insette lewer.

Tenslotte bid ons ook in die 2e bede om die vernietiging van alle teenstand. God se koninkryk staan nie teenoor die wêreld, maar wel teenoor die sonde. Die koms van daardie ryk beteken dan dat die sondaar sal moet wyk, die sondaar wat geen toevlug soek by Christus. Dit beteken ook dat die sonde sal moet wyk uit jou eie lewe. Jy kan nie langer jou eie haan laat koning-kraai nie. Die Woord van God is ’n tweesnydende skerp swaard. Dit sny diep, ook in jou eie vlees. Wie bid: "Laat U koninkryk kom" – vra vir die sterwe van jou eie "ou" mens. Jy vra vir die selfverloëning, volledige onderwerping. Jy bid dat God se heilige vuur jou lewe sal aangryp en sal suiwer in ’n heilige brand. "Ek ellendige mens! Wie sal my verlos uit die liggaam van hierdie dood."

Jy bid vir die verwydering van alle aantasting van Christus’ gesag. Dit kan jou bloed en trane kos, maar ewige belange staan op die spel. Jy wil immers hê dat God se koninkryk sal kom. Dit gaan nie saggies nie, maar dit kom met goddelike geweld.

Broeders en susters, besef u wel watter kragte u losroep met die bede: "laat U koninkryk kom"? U bid die kragte van die toekomstige eeu los. U bid vir die verwydering van alle teenstand teen God. U bid vir die einde van hierdie teenwoordige wêreld. Dit kom daarom aan op ’n beslissende keuse: Erkenning van God se koningskap of verset daarteen. Heil of vloek. U bid vir seën en oordeel. Vir die vernietiging van al God se vyande, vir die vuur wat hierdie wêreld sal louter. Ja, dit gaan oor die suiwering in ons gebed. Suiwering van eie lewe en suiwering van die hele wêreld. Sodat God alles in almal is.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)