Die Christelike aanhef: Ons Vader wat in die hemel is

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-01-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

Sondag 46

Ds. C Kleyn

Lees: Romeine 8:12-39
Teks: Sondag 46

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe begin die meeste gebede? Is dit nie met die aanspraak "Onse Vader" nie? Dit is geen wonder nie. Die aanspraak gaan mos terug na die onderwys van Jesus Christus self. Jesus het ons so geleer as ons hoogste profeet en leraar.

Vir die beskerming van die Christelike gebed is dit nodig dat ons steeds weer ag gee op daardie onderwys. Woorde wat baie gebruik word, raak gou holrug gery. So kan die Vadernaam ’n cliché word, wat maklik op die tong lê, maar weinig beteken. Ons moet steeds weer leer om te bid.

Die manier waarop ons God aanspreek bepaal die stemming van ons gebed. Daarom begin u u gebed met die woorde "Ons Vader wat in die hemel is." Doen u dit bewustelik, dan het u reeds by die begin van u gebed die gepaste stemming. U gee daarmee u houding teenoor die Here u God weer. Laat ons nou stil staan by die Christelike aanhef: Ons Vader wat in die hemel is.

Hierdie aanhef spreek van vertroue in:

1. Die goedheid van God
2. Die grootheid van God.

Besef u wel, broeders en susters, hoe besonders dit is om God as Vader te mag aanspreek? Daarvoor moes baie gebeur! In die sondeval het ons van Vader af weggeloop. Ons het die huislike band met Vader verbreek. Ons wou niks meer met Hom te doen hê nie. Daardeur het ons almal verlore seuns en dogters geword., aan die oordeel van God onderworpe.

Ons mag nou egter weer ‘Vader’ sê. ‘Vader’ laat ons sien dat ons weer vertroulik met God mag omgaan. U mag weer kind van Hom wees en as kind met Hom omgaan. Wat ’n wonder van genade! Ons het heeltemaal die teenoorgestelde verdien. Tog is dit weer ’n werklikheid: u mag, jy mag weer Vader sê. Die Aramese woord Abba laat ons selfs dink aan een van die allereerste woorde wat ons as kinders leer uitspreek: pappa. So mag u God aanspreek: pappa, Vader.

Dit is, broeders en susters, daarom ook verkeerd om God as Vader aan te roep terwyl u twyfel of u werklik ’n kind van God is. Hoe kan u Vader sê as u uself nie as sy kind erken nie? Stellig is ons nie sulke voorbeeldige kinders nie. Maar ons moet in elk geval wel kind wees om met reg Vader te kan sê. Alleen kinders noem met reg die Vadernaam.

Daar bestaan ’n nou verband tussen die inhoud van ons geloof en die stemming van ons gebed. Die gebed is die bewys van die som van ons geloof. Wanneer ek die Here aanspreek as Vader dan lê ek my hand op God se openbaring. Hy het naamlik die Vadernaam bekendgemaak en aan ons toevertrou. Nou mag ek dit toe-eien, wanneer ek tot God gaan en Hom as 'ons Vader' durf aanspreek.

In hierdie lig is dit begryplik dat ons kategismus spreek van ’n bevel van God om Hom as ons Vader aan te spreek. Op die oog af mag dit vreemd lyk om in hierdie verband van ’n bevel te spreek. Ons sou liewer sê dat ons dit so mag doen. Sou ons die vraag van die kategismus nie beter as volg kan formuleer nie: Waarom het Christus ons die toestemming gegee om God as ons Vader aan te spreek? Dit is tog ’n groot guns? Jy kan jou amper geen groter voorreg voorstel nie, as dat jy die Skepper van hemel en aarde Vader mag noem. En dat jy voortdurend met Hom as Vader mag praat, elke oomblik van die dag. Tog is dit meer as slegs ’n vergunning, dit is ook ’n bevel, iets wat moet gedoen word. Christus beveel ons: So moet julle dan bid: Ons Vader wat in die hemel is. Christus wil hê dat u God se self-openbaring in die Skrifte aanvaar. Hy het Homself aan u bekendgemaak as ons Vader. Nou wil Hy ook hê dat ons Hom as Vader erken en aanroep. Sou ek weier om Vader te sê dan is ek ongehoorsaam. Dan slaan ek God se self-openbaring in die wind en so ook sy weldade. Dan laat ek God maar praat. Dan beledig ek die Vader wat in Jesus Christus my Vader wil wees.

Gemeente, hierdie Vader laat dit nie aan u ingesteldheid oor aangaande hoe u Hom sal aanspreek nie. Hy is en bly Vader, wat u ingesteldheid ook mag wees. Dit is tot sy eer dat u,sy kinders, Hom as Vader aanspreek. Vergelyk dit met die gesinsopset. Hoe gaan dit in ons gesinne? As ouers is ons besig om ons kinders al van jongs af aan te leer om pappa of mamma te sê. Wat ’n vreugde is dit dan nie as ons kindjie eindelik pappa of mamma sê nie? Al klink dit nog so onbeholpe, jou kindjie het jou pappa of mamma genoem. En dit is hartroerend vir jou as ouers.

So is die Here verheug as sy kinders Hom Vader noem. Al gaan dit miskien aanvanklik ’n bietjie aarselend, daar is blydskap in die hemel. Daarom is dit van die grootste belang om te weet dat ons kinders van God is en dat God ons Vader is. Vader is voortdurend daarmee besig. Daarvoor stuur Hy selfs sy Gees, wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is. Die Gees laat ons steeds weer roep: Abba, Vader (Rom 8:15,16).

Gemeente, die Ou Testamentiese volk van God het God reeds geken as Vader. In die lied van Moses (Deut 32), wat as ’n soort volkslied aan Israel gegee is, lees ons die woorde: "Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?"( vers 6). Deur die lied te sing het die Israeliete die woorde steeds weer in hulle geheue ingeprent. Die volk moes weet dat God hulle Vader was. Die profeet Jesaja noem vir ons die gebed van die boeteling in die hoofstukke 63 en 64. Daarin vind ons die woorde: "Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o Here, is ons Vader ; ons Verlosser is van ouds af u Naam." (63:16). En "Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand." (64:8). God Self het sy volk tot stand gebring. Hy het sy volk geformeer en aangeneem as sy seun. So moes Moses vir Farao sê "So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel. (Ex 4:22).

Die Vadernaam is dus nie uitsluitlik van die Nuwe Testament nie. As Christus sy dissipels leer om "ons Vader" te bid, dan kom Hy nie met iets nuuts vorendag, soos sommiges beweer nie. Christus sluit aan by die Ou Testament. Ook binne die ou verbond mog die volk God as Vader aanspreek. Daarmee wou God die intieme relasie aandui tussen Hom en sy volk.

In sy gebedsonderrig gryp Christus dus terug na die Ou Testamentiese openbaring. Tog kry die Vadernaam uit die mond van Jesus ’n dieper betekenis. Probeer om na te dink oor wat dit beteken dat juis Jesus Christus u die Vadernaam op die lippe lê. Hy is die enigste natuurlike Seun van God. Hy ken ’n baie meer vertroulike omgang met die Vader as enige ander mens. Van Hom kan met reg gesê word: "Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar." (Joh 1:18). Wanneer hierdie eniggebore Seun van God ons beveel om God as Vader aan te roep, dan doen ons dit met des te meer moed en vertroue. Die Nuwe Testament maak duidelik hoekom ons so ’n sterk vertroue mag hê. Christus kan ons die Vadernaam op die lippe lê vanweë sy lewe en werk. Hy het gekom om ons weer by God te bring, om ons weer tot kinders van God te maak. Daarvoor moes Hy swaar ly. Daarvoor moes die hemel vir Hom toegesluit word sodat Hy vanaf die kruis uitgeroep het "My God, My God, waarom het U my verlaat?" So het Hy die pad na God oopgemaak vir verlore seuns en dogters. So kan God ons weer tot kinders aanneem, tot sy liewe kinders en erfgename.

As Nuwe Testamentiese gemeente mag en moet ons nou met meer vrymoedigheid God as Vader aanroep. U ken tog Jesus Christus, wat vir ewig die grondslag gelê het vir u kindergebed. Deur Hom het God ons Vader geword. Soos geen ander nie kan Christus u oproep om God as Vader aan te spreek.

Waarom het Christus ons so uitdruklik beveel om God as ons Vader aan te roep? Hy het ’n doel daarmee; Hy wil in ons die kinderlike houding teenoor God wek, die kinderlike vrees en vertroue op God. Ja, beide vrees en vertroue hoort by die houding van ’n kind teenoor sy Vader. Daar is ’n sekere afstand: die kind het ontsag, eerbied. Jy ken jou plek teenoor jou verhewe Vader. Maar daar is ook gemeenskap en vertroue. Die afstand is nie iets wat jou bevrees of benoud maak nie. Die kind het die vrymoedigheid om aan sy Vader alles te sê. Hy het nie nodig om iets weg te steek nie. Die kinderlike ontsag laat ons as kind besef: Vader beslis, Vader het die laaste sê. Die vertroue bring die besef: Vader het my lief en beslis so dat dit my ten goede is.

Die kategismus noem die kinderlike vrees en vertroue die grondslag van ons gebed. Sonder die vrees en vertroue is daar geen basis vir die gebed nie, is die gebed betekenisloos. Hoe is ’n Gebed sonder ontsag? Dit word eintlik ’n bevel, ’n eis. God moet vir my dit of dat, hier en nou gee. Dis ’n bespotting van die gebed. Die kind wat nie meer weet dat Vader beslis nie, begin eise stel. Wat is ’n gebed sonder vertroue? Dis soos ’n skoot in die donker. Ons sal ’n kans waag. God word dan ’n soort noodlot wat die beslissing moet bring. ’n Gebed sonder grondslag. Ja, ’n bespotting van die gebed.

Gemeente, as ek geen vertroue het nie, dan aanvaar ek God blykbaar nie as Vader nie. ’n Ware Vader is tog altyd bewoë oor die lot van sy kinders! ’n Ware Vader soek tog altyd die beste vir sy kinders? U glo dit tog?! As ek nie daarop vertrou nie dan glo ek nie in God se Vaderskap nie. God het sy verbond met u en u kinders opgerig. Hy wil u tot sy kinders en erfgename aanneem. Hy het dit aan u verseël in u doop. Seuns en dogters, julle het ook die seël op jul voorhoof ontvang. By elke doop sê die Here: Ek wil jou Vader wees en as Vader vir jou sorg. Julle kan op my woord staatmaak. Julle mag en moet dan ook op Hom vertrou. Julle mag pleit op sy eie woorde, op sy beloftes. Julle mag pleit op sy vaderlike goedheid. Die Bybel is vol daarvan. "Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees." (Ps 103:13). "As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid." (Mt 7:11). Op grond van dergelike uitsprake sê die kategismus dat God ons veel minder sal weier wat ons van Hom in die geloof bid, as wat ons vaders aardse dinge aan ons ontsê.

Nee, daar staan nie dat Hy aan ons niks sal ontsê nie. Ook ons aardse vaders weier soms ’n versoek van ons hul kinders. Hulle moet dit weier as dit vir hul kind sleg is. Doen hulle dit nie dan is hulle nie goeie vaders nie. Ruggraatlose vaders gee altyd toe aan hul kinders, bederf hul kinders. God is egter ’n volmaakte Vader. Hy weet presies wat goed is vir ons. As Hy iets weier dan kan jy seker wees daarvan dat dit vir jou eie beswil is. Vader is verstandiger as ons, sy kinders. Hy kyk verder en dieper. Hy sien alles in sy geheel (the big picture). Daarom weier Hy sekere versoeke.

Tog sal Hy ons veel minder weier wat ons in die geloof bid as wat ons vaders aardse dinge aan ons ontsê. Liefdevolle ouers doen hul kinders graag ’n guns. Ons sou nog baie meer vir ons kinders wou doen, as ons maar net kon. Die beperking ‘as ons maar net kon’ geld nie vir God nie. Hy kan alles doen wat Hy wil. Hy is ons Vader ‘wat in die hemel is’. Dit bring ons by die tweede gedagte. Die aanhef van die gebed spreek nie slegs van vertroue in die goedheid van God nie, maar ook van vertroue in die grootheid van God.

Die woorde ‘wat in die hemel is’ mag wel lyk asof dit die vertroue wat die woorde ‘ons Vader’ aangee, ondermyn. Die hemel is so ver weg. Dit voel vir ons soms of God onbereikbaar ver is. Jy kan Hom nie sien nie. Daar lê ’n groot afstand: Hy in die hemel en ons op die aarde. Op aarde voel ons soms eensaam en verlate. Wanneer ek voel dat ek God so nodig het, lyk dit asof God juis dan so ver weg is. Onbereikbaar ver weg.

Maar, gemeente, die toevoeging ‘wat in die hemel is’ hef die eerste woorde ‘ons Vader’ nie op nie. Inteendeel. Die woorde verduidelik en onderstreep juis die Vadernaam. Wat kenmerk jou Vader? ‘Wat in die hemel is’ spreek van Vader se almag, verhewenheid en majesteit. So ’n Vader het u! Die hemel is sy woning, die sentrum waaruit Hy alles regeer. Hy is verhewe bo alle aardse magte. Hy staan ook buite hul bereik. Geen mag kan Hom onttroon nie. Alles gebeur juis op sy bevel. Alle magte is aan Hom onderwerp. Hy hoef slegs een woord te sê om die vyande te laat bewe. Hulle moet Hom gehoorsaam wees of hulle wil of nie. So ’n Vader het ons nou. ’n Almagtige Vader. Niks is vir Hom te groot en te wonderbaar nie. Die gelowige kan nooit te veel van Hom verwag nie! Dit stel my gerus om te weet: God is magtig om te doen wat Hy wil doen, en as ’n Vader wil Hy alles insit vir sy kinders. Die situasie op aarde kan benouend wees. Die omstandighede en mense kan my bedreig. Wat kan ek daaraan doen? Hoe kan ek en my kinders staande bly teenoor die massale verlating van die Here? Vanuit ’n menslike oogpunt lyk dit na hoë en sterk mure, waaroor ons nooit kan kom nie. Dit lyk na hoë berge waaroor ons nie kan sien nie. Maar die aanhef van die gebed verhef ons daarbo uit. Ons Vader troon in die hemel. Hy sien alles van bo af. En van bo af lyk die dinge baie anders as van onder af. Die hoë mure is slegs strepe op die wêreldkaart. Die magtige teenstanders, wat vir ons soos reuse lyk, is vir die Hemelse Vader slegs soos miere. Hy wat in die hemel troon lag oor die malle gejaag van die volke en die mense. Die Here spot met hulle. Wat dink hulle van hulself! Sonder My kan hulle niks doen nie.

So gee die aanhef van die gebed nuwe moed en krag. Van sy almag leer ons om alles te verwag wat ons na liggaam en siel nodig het. Nee, dit kom nie altyd op die oomblik waarop ons dit nodig ag nie. Ons moet soms lank wag. Amper ondraaglik lank. God stel ons dikwels op die proef. Hy wil hê dat ons laat sien en hoor wat in ons is - of ons werklik alles van Hom verwag.

Ons het dikwels die neiging om God na menslike maatstawwe te beoordeel. Soms vind een persoon God op ’n bepaalde oomblik partydig: Dit lyk asof Hy ’n ander een voortrek. Dan vind ’n ander God onbillik, hard en onregverdig, hoe kan Hy sulke goeie mense so swaar tref? Nietige en sondige mensekinders wil God kritiseer. Die aanspraak ‘wat in die hemel is’ moet ’n streep deur sulke redinasies en kritiek trek. Die hemel is baie hoog, soveel hoër is God se weë bo ons weë en sy gedagtes bo ons gedagtes. Ons kan God se weë dikwels nie begryp nie. Maar dit is gedagtes van ’n almagtige en alleen-wyse God.

Gemeente, laat ons vol vertroue na ons Vader gaan. Hy wil kinders hê wat op sy goedheid en grootheid vertrou. Het Hy julle nie in julle doop verseker van sy goedheid en welwillendheid nie? U gebed is ’n bewys van die som van u geloof. Daarin gee u antwoord op u doop. U erken daarmee God se beloftes. U bely u vertroue in Hom wat u Vader wil wees. Hy is en bly u Vader ook in die felste aanvegtinge. Ook in alle pyn en verdriet. Niks laat Hom onbewoë nie. Sou die Vader van alle barmhartigheid en die God van alle vertroosting nie ontroerd wees deur die versugtinge van sy kinders nie? Hoe sal Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Sy liefde tot ons is soveel groter en voortrefliker as die liefde van ouers vir hul kinders. Lees maar Romeine 8. U Vader troon in die hemel. Dink daarom nooit aards en klein van Hom nie. Hy is magtig om selfs meer te doen bo as waarvoor ons bid. Aardse vaders is dikwels so beperk in hul moontlikhede. Hulle is ook gebrekkig en sondig. Hulle kan ons nie altyd beskerm nie, ja hulle wil nie eens altyd nie. Hulle is dikwels nie in staat om te doen wat ons vra of wat hulle self wil nie. Maar u hemelse Vader doen alles wat Hom behaag. Hy besit alle mag in die hemel en op die aarde. Sy almag staan volledig tot die beskikking van sy kinders. As jy in ’n bedreigende situasie verkeer dan staan Hy langs jou, dan is Hy daar om jou te beskerm en te bewaar, om jou in alle omstandighede vas te hou en staande te laat bly. Die nood kan nooit groter as jou Helper wees nie. Wie sou dan nie met blydskap uitroep nie: Ons Vader wat in die hemel is. Wat ’n Vader! Bomenslik groot! Hoe ryk is ek as kind van Hom tog nie!

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)