Die mag van die woord

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-12-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

Sondag 43
Ds. C Kleyn

Lees: Jakobus 1:19-27; Jakobus 3
Teks: Sondag 43

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe mooi is dit om te kan praat. ’n Pragtige skeppingsgawe, wat veel beteken. Deur die woord kan ons met God en mense omgang hê. Ek kan tot God bid. Ek kan Hom loof. Ek kan my teenoor mense uit. Deur die woord kan ons mekaar leer verstaan, kan ons mekaar aanspreek, troos, korrigeer, help.

Deur die woord het ons ook ’n sekere mag oor mekaar. Ons kan mense beïnvloed. Deur ons woorde kan ons mense in ’n sekere rigting lei. Dit kan ten goede gebeur maar ook ten kwade.

Ja, ook ten kwade. Wat verwag jy na die sondeval? Die sondeval het die pragtige skeppingsgawe verander in ’n grieselige gawe. Satan het dit in sy greep gekry. Satan die vader van alle leuens. Wat kan jy verwag as die aartsleuenaar greep kry op die gawe van die tong? Dan sien jy dat die gawe wat tot stigting van die gemeenskap gegee is, vir die teendeel gebruik word, naamlik tot verwoesting van die gemeenskap. Wat verwag jy ook met so ’n aartsleuenaar en mensemoordenaar van die begin. So staan die tong nie langer slegs in diens van die waarheid – ten goede - nie maar ook in diens van die leuen – ten kwade. Met haar loof ons God maar beledig ons Hom ook. Met haar kan ons mekaar help maar mekaar ook breek. Daarom die 9e gebod: Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

En broeders en susters, vir wie is hierdie woorde veral bedoel? Met hierdie gebod rig die Here Homself juis tot u. Julle van wie Hy sê: Ek is die Here jou God wat jou verlos het. God kan dit nie verdra dat sy verloste kinders hul vryheid vir die slawerny aan satan inruil nie. Daarom bly Hy u van die aartsleuenaar wegroep. Gee u vryheid nie prys nie. Heul nie met die vyand nie! Hou u tong in diens van die waarheid.

Ek verkondig u: die mag van die woord

1. ten kwade – dit ontbind die samelewing
2. ten goede – dit stig die samelewing

By die 9e gebod moet u in eerste instansie aan die regspraak in Israel dink. God wil die lewe beskerm teen onregverdige regspraak. Baie regsake is afhanklik van verklaringe van getuies. Dikwels is daar geen sigbare, objektiewe bewyse van iemand se betrokkenheid in ’n misdryf nie. Jy is dan afhanklik van mense wat dit gesien of gehoor het. Die verklaring van die getuies dra dan groot gewig. "Op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees." het die Here in die Mosaïese wette bepaal (Deut 19:15). Die regter moet op grond daarvan sy uitspraak doen.

Wat ’n mag het die getuies dus in so ’n situasie. Die lewe van die aangeklaagde lê so te sê in hulle hande. Met hul getuienis kan hulle hom maak of breek. So kan dit gebeur dat ’n paar mense teen iemand saamspan om hom deur middel van valse getuienis uit te skakel. As die aangeklaagde dan geen bewyse of getuies daarteenoor kan stel nie, kan hy op grond van die valse getuienis veroordeel word, hoewel hy in feite onskuldig is. Iets dergeliks het met Nabot gebeur. Deur middel van valse getuies het Isebel daarvoor gesorg dat Nabot gedood word en dat Agab die wyngaard van Nabot in besit kon neem.

In die 9e gebod stel God Homself teenoor so ’n misbruik van die regspraak. Die Here verbied die valse getuienis wat daarop gerig is om die naaste skade aan te doen. Die Here verbied elke poging om deur middel van woorde die naaste van sy plek te verdring, om hom in sy funksionering te skaad. God wil die eer en goeie naam van sy kinders beskerm teen die skendende mag van die woord.

So kan u hierdie gebod ook toepas op andere situasies, wat buite die sfeer van die regspraak val. Ons kategismus werk hierdie gebod dan ook uit t.a.v. die breë terrein van die lewe waarin die woord ten nadele van die naaste gebruik word. Ons sien om ons heen hoe mense deur die geskrewe of gesproke woord mekaar verdring. Die menslike samelewing word daardeur opgebreek. Dink maar aan die geweldige invloed van die massa media. Satan staan nie stil nie. Pragtige uitvindinge in God se skepping, soos die drukkuns, radio en televisie word deur hom in beslag geneem en in diens van die leuen gestel. So het die aartsleuenaar en mensemoordenaar magtige middele in die hande gekry om sy invloed te vergroot. Hy kan so die huise binnedring, ook die huise van gesinne wat God vir Hom heilig verklaar het. Aangehelp deur sy goed lopende propagandamasjiene vier die leuen hoogty. Hoekom het die individualisme, die egoïsme, die staan op eie regte – alles ontbindende faktore in ons samelewing - so sterk opgekom? Die aartsleuenaar het die gees van die mense mislei, vergiftig.

Broeders en susters, moenie dink dat ons dit vryspring nie. Dit is maklik om op die afvallige wêreld te wys. Laat ons egter eers na onsself kyk. Spreek God in die 9e gebod nie in die eerste plek die kerk aan nie. Dit is blykbaar nodig dat ons met hierdie skerp woorde aangespreek word. Die mag van die woord word ook in die kerk dikwels ten kwade gebruik. Die invloed van satan is daar net so sterk. Luister maar na wat Jakobus aan ons sê in die skrifgedeelte wat ons gelees het. Dit is nie malse woorde wat die kerkvolk daar te hoor kry nie. Dink jou in dat jy so ’n strobbering ontvang. Die tong is ’n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Sy stig onnoemlik veel kwaad. Die tong neem onder ons lede so ’n plek in dat dit die hele liggaam besmet en die hele lewensloop aan die brand steek. Die tong besmet jou hele persoon. Jou lelike tong maak jou ’n lelike mens. Die tong steek ook jou hele lewensloop aan die brand. Ons lewe word hier voorgestel as ’n voortwentelende wiel wat aan die brand is, aangesteek deur die tong.

Die tong is op sy beurt aangesteek deur die hel. Dink jou in dat so ’n verwyt ontvang: as jy jou tong gebruik dan kom daar helse kragte los, helse vuur.

Jakobus gaan verder: "Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ’n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif." Soos die by van baie slange dodelik is, so maak die tong baie stukkend.

Spreek Jakobus hier wel tot kerkmense? Beskryf hy hier nie hoe dit gaan in die leuenagtige wêreld waar satan die baas is nie? Nee, vergeet dit maar. Jakobus noem dinge wat in die kerk gebeur. Let maar op dit wat volg. "Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie." Dit is dus kerkmense wat hier aangespreek word. Jakobus het dit al in vers 2 aangewys. Daar skrywe hy: "Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou."

Jakobus wil sê: broeders en susters, vergis julle nie met die mag van die tong nie! Die tong is maar ’n klein dingetjie. Jy sou dit amper oor die hoof sien. Maar dit is ’n magtige instrument. As jy jou tong kan beheers dan beheers jy jou hele liggaam. Om dit te verduidelik gebruik Jakobus die beelde van ’n toom in die bek van ’n perd, ’n roer van ’n skip en ’n klein vuurtjie. D.m.v. ’n klein toom in die bek van ’n perd kan ’n mens die perd lei waar hy hom wil hê. Gryp jy die teuels, dan het jy die hele perdeliggaam in bedwang. So kan jy ook ’n groot skip beheers deur ’n relatiewe klein roer. Een vonkie kan ’n bos van honderde hektaar in vlamme laat opgaan.

So is dit ook met ons tong. Dit is maar ’n klein lid maar dit kan groot dinge doen. Woorde kan heelwat losmaak. Hulle kan groot paniek saai maar ook groot vreugde veroorsaak. Woorde van een man kan ’n groot massa mense oprui. Dink maar aan die woorde van vakbondsleiers. Watter groot gevolge het dit nie! So het Hitler met sy opswepende redevoeringe ’n wêreld aan die brand gesteek.

Maar gemeente is die beeld wat Jakobus van die tong gee wel reëel vir ons as gemeente? Is dit nie iets wat oordryf nie? Wat dink u? Laat ons na die voorbeelde van die kategismus gaan kyk. "Niemand se woord verdraai". Kom dit nie onder ons voor nie? Ek gee dan iemand se woorde net effens anders weer as wat hy of sy hulle uitgespreek het. Ek haal hulle uit verband. Ek verlê die aksente. Ek voeg daar iets aan toe of ek laat daaruit iets weg sodat die mense konkludeer dat die persoon iets gesê het wat hy eintlik nie gesê het nie. So kan ons dit moeilik maak vir mekaar. So kan ons iemand se funksionering in kerk en maatskappy skaad.

Die kategismus sê vervolgens dat ek nie ’n kwaadstoker of lasteraar mag wees nie. Maar, ek is tog geen kwaadstoker nie? Natuurlik, ek praat wel soms oor ander mense. Almal doen dit. Maar dit is tog geen kwaadstokery nie? Bowendien is dit wat ek sê waar. Is dit, broeders en susters, regtig net onskuldige gepraat? Mag u slegte dinge van iemand aan ander mense vertel? Waarom vertel u dit aan ander mense? Wat bereik u daarmee? Help u daarmee u naaste? Laat ons eerlik wees: dit is meestal nie die bedoeling om die persoon daarmee te help nie. Meestal word dan ook die teendeel bereik. As jy nie met ’n persoon praat oor wat hy gesê of gedoen het nie maar oor hom praat met ander mense dan help jy hom nie maar dan skaad jy hom. Jy sorg daarvoor dat hy verdring word uit sy plek. Jy werk dan saam aan die ontbinding van die gemeenskap. Jou woorde bou nie op nie maar breek af. Jou woorde is vol dodelike gif. Ja gemeente ek praat nou oor daardie sogenaamde onskuldige gepraat. Die slegte woorde word ingedrink. Hulle bly in die gedagtes. Hulle doen hul ontbindende werk. Die persoon kry daardeur ’n bepaalde naam. Hy word daardeur op ’n bepaalde manier bejeën. Of hy word genegeer.

En dan kan ons nog ’n stap verder gaan deur teen iemand te laster. Dit is die ergste skending van die gemeenskap d.m.v. die woord. Sonder om bewys van die waarheid te lewer en teen beterwete in spreek jy kwaad teen iemand. . Jy weet dat dit wat jy aan ander mense vertel leuens is maar dit doen jou niks. Solank die ander persoon maar in ’n slegte lig te staan kom. Net soos die valse getuie voor die regter, wil jy bewustelik daaraan werk dat jou naaste onregverdig veroordeel word. Jy wil hom benadeel, aan hom skade toebring of hom uitskakel.

En gemeente, hoe staan u teenoor sulke versonne praatjies. Jy vind dit wat aan jou vertel word verskriklik. Het dit werklik gebeur? Jy doen egter nie die moeite om dit te verifieer nie. Nee, al gou neem jy aan dat iets daarvan wel waar sal wees. So veroordeel jy jou naaste onverhoord en ligtelik. Hoe dikwels gebeur dit dan nie dat jy dit wat jy gehoor het weer aan ander mense gaan oorvertel nie. Om jouself te beskerm voeg jy miskien daar aan toe dat jy dit slegs gehoor het. Maar die kwaad het geskied en dit werk deur. Jy het daaraan meegewerk dat jou naaste veroordeel word.

Ten slotte wil ek ook nog as voorbeeld noem: dat ek hardnekkig my foute ontken of verdoesel. Daarmee kan ek my naaste ook groot skade aandoen. Hoeveel verhoudings bly daardeur nie in die slag nie, verhoudings binne gesinne maar ook binne die kerk en in die maatskappy. Hoeveel mense ly daaronder of gaan daaraan tot niet deurdat daar geen egte versoening plaas kan vind nie omdat die skuldige party weier om skuld te erken.

Dit speel ook ’n groot rol by die verwerking van kindermishandeling of bloedskande. Die slagoffers bly sit met ’n hoop ellende. Hulle kan dit nie hanteer nie. Hulle word in hul funksionering belemmer. Omdat die skuldige party nie eerlik sy skuld bely en om vergewing vra nie.

Broeders en susters, ons maak almal foute. Ernstige en minder ernstige foute. Daardeur kwets en verwond ons ander mense. Hoe belangrik is dit dan om die foute en die skuld onder oë te sien. En dit te erken teenoor die persoon wat jy daardeur beseer het. Doen jy dit nie dan ontneem jy die persoon die moontlikheid om te vergewe en versoen te wees. As jy jou skuld ontken of verklein dan vererger jy die pyn van die ander en dan vergroot jy jou eie skuld. Dit het dus nie slegs nare gevolge vir die ander persoon nie maar ook vir jouself. Dit geld vir alle leuenagtige praktyke. En die ergste is: wie nie eerlik teenoor sy medemens is nie, kan ook nie eerlik teenoor sy God wees nie. Die leuenagtige omgang met mense versteur die verborge omgang met God. Jou gebede word belemmer. As jy dit vir ’n ander persoon onmoontlik maak dan maak jy dit ook vir jouself onmoontlik, onmoontlik in die gemeenskap met God en met mekaar. Staan die woord in diens van die leuen dan word die samelewing verwoes, ontbind, dan sien jy die mag van die woord ten kwade.

Staan die woord egter in diens van die waarheid dan word die samelewing gebou., dit is die 2e gedagte. Die skone gawe van God word dan weer gebruik tot lof van die Skepper en tot heil van die naaste.

Ons kan onsself afvra: Hoe kom ons sover? Hoe kan ek in ’n verleuende wêreld my tong in diens van die waarheid bly gebruik? Uit myself is ek nie ’n titsel beter as die leuenaars nie. Uit myself kan ek dit nie doen nie. My tong kan alleen in diens van die waarheid staan as ek op Christus let. Christus wat die weg, die waarheid en die lewe genoem word. Sien u welke liefde Hy u bewys het. Hoeveel het Hy nie gedoen om u eer en goeie naam aan u terug te gee nie. Hy het die straf wat ons vrede bring op Homself geneem. Hy het ons uit die mag van die duiwel verlos. Deur sy lewe vir u te gee.

Daarom gemeente, ken u verlossing. Leef uit u verlossing. Lyk dit heeltemaal anders. Dan kry jy ’n hekel aan die leuen. Dan laat jy jou lei deur die Gees van God. In pleks dat jou tong aan die brand gesteek word deur die hel word jou tong aangesteek deur die Gees.

Wat mag God dan van u – sy verloste kinders – verwag? Hy mag verwag dat u met u tong positief meewerk aan die heil van die naaste. Hy mag van u verwag dat u alles moontlik in werking sal stel om sy lewensbloei te bevorder. So mag Hy ook van u verwag om eerlik u skuld te erken. Nee, dit is nie maklik nie. Jy moet daarvoor op jou knieë gaan. Maar jy weet tog wat Christus gedoen het om versoening tussen God en jou tot stand te bring? Dan wil jy self ook alles doen om versoening te bewerk. Wie baie ontvang het sal ook baie van homself eis. Erkenning van skuld is nie maklik nie. Maar dit is wel vrugbaar. Genesend vir die ander persoon maar ook vir jouself. Daarmee volg jy ’n pad wat die ander en jouself kan bevry van die las van die verlede.

Waarom sou dit wees dat die mense dikwels nie op mekaar kan staatmaak nie? Waarom kan ons dit soms so moeilik maak vir mekaar? Is dit nie die gevolg van afguns en selfsug nie? En dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels sê Jakobus. Maar broeders en susters, u ken tog die wysheid van bo? Die wysheid van bo is volgens Jakobus 3 ten eerste rein (suiwer van motiewe), dan vredeliewend (uit op die vrede, die goeie harmonie), vriendelik (jy wil goed wees vir ander mense), geseglik (jy is vir rede vatbaar), vol barmhartigheid (jy het ’n groot hart vir ander mense ook al het hulle jou miskien gekwets) en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. As jy jou laat lei deur die waarheid van bo dan rig jy alles op die welsyn van jou naaste. Dan stig jy die gemeenskap.

Daarom behoort die kerk ’n bolwerk van die waarheid in hierdie wêreld te wees. Hier moet die egte gemeenskap gesien word. Dit moet hier heerlik en veilig wees onder mekaar. Dit beteken dat u in diens van die waarheid nie sommer alles mag sê wat in u gedagtes opkom nie. Deur onbesonne gepraat kan ek my naaste seer maak en die verhoudings bederf. Ek moet rekenskap, gee nie alleen van wat ek sê nie maar ook hoe ek iets sê. Dit gaan daaroor dat ek my naaste se eer en goeie naam na die beste van my vermoë moet verdedig en bevorder.

So sien u dat ook die 9e gebod beheers word deur die gebod van die liefde. As jy God se groot liefde ken dan sal jy ook jou naaste liefhê en sy eer en goeie naam wil hooghou. Dan sal jy hom deur jou woorde wil help om te wees wat God wil hê dat hy is. So sal ons mekaar opbou pleks van afbreek. Nee, uit onsself sal ons dit nie kan doen nie. Ons het die vernuwende krag van die Heilige Gees nodig. Daaglikse bekering, aanhoudende gebed. Bly bid vir die genade en Gees van God sodat julle tong werklik in diens van God en die naaste kan staan, ten goede en nie ten kwade nie.

Daarom sing ons:

Mag nooit my woord U smaad , o Heer, nie!
Rys smaadtaal uit die hart se grond –
Ag, wil dit wegweer van my mond,
Dat ek U Naam nooit mag onteer nie!

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)