Die evangelie van die 6e gebod

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Sondag 40

Ds. C Kleyn - 15 November 1998

Sing: Ps 139:1,2; Ps 139:12; Ps 8:4-7; Sondag 40; Ps 139:3-7; Ps 9:7-10
Lees: Romeine 12
Teks: Sondag 40

Hoe behoort ons om te gaan met die lewe van die naaste en met ons eie lewe? Die praktyke van eutanasie (genadedood) en selfmoord neem toe. Daar wil ons op fokus.

Tema: die evangelie van die 6e gebod:

1. Die moderne vrae
2. God se antwoord
3. Ons antwoord

1. Ons loop baie geskende lewens raak: swaar gestremde kinders, demente bejaardes, mense in ’n koma, ongeneeslike siek mense wat ondraaglik moet ly. Die vraag kom vandag op: Is dit nie in hul eie belang en in die belang van hul omgewing dat daar ’n punt agter hul lewe geplaas word nie? Die vraag kom ook op: Kan selfmoord nie ’n uitweg bied vir hulle wat hul radeloos voel, van God en mense verlate?

2. God kom met die verlossende woord van die 6e gebod: Neem jou lewe en die lewe van ander mense nie in jou eie hande nie. Is hierdie woord wel so verlossend as die lewe so sinloos lyk? Die feit dat God praat is al bevrydend. Hy maak die vensters na bo oop. Jy is ’n unieke skepsel van God, na God se beeld gemaak. Daarom mag ons die mens nie onregmatig doodmaak nie (Gen 9:6). Beslissend is nie of iemand nog die beeld van God vertoon nie. God bly menslike lewens aansien vanuit die verhewe begin, roeping en bestemming. God kom jou lewe binne as Verlosser ( sien die aanhef van die wet). Jou lewe in nie waardeloos nie, sonder hoop. In Jesus Christus is daar vir die mees uitsiglose lewens ruimte en toekoms. Ek is sy eiendom. Hy vergewe, vernuwe en verheerlik. So kan ek selfs sing in die nag. Tydens sy omwandeling op aarde het die Here Jesus laat sien dat geskende lewens vir Hom waardevolle lewens is. Hy het verlamdes, melaatses, blindes en dowes verlos van hul kwale. Vanweë die sonde is daar afbraak en ontluistering van die lewe. Daarom sou God niemand onreg doen as Hy almal aan die verderf sou oorlaat nie. Wat ’n wonder dat God nog lewe gee, hoe beskadig ook. Ons glo in die opstanding van die liggaam en ’n ewige lewe. Waarom kom eutanasie en selfmoord steeds meer voor? Weens ’n toenemende ongeloof. Mense ontken God se almag en voorsienigheid. Alleen vanuit die geloof in God se voorsienigheid het lyding ’n doel. Ook al verstaan ek dit nie, God weet wat Hy doen. Die mense plaas hulself op die troon en wil self beskik oor begin en einde van die lewe. Bowendien glo baie mense nie werklik in die lewe na hierdie lewe nie. Waarom sou jy dan ondraaglike lyding verdra?

3. As ons teen aborsie, eutanasie en selfmoord is, dan moet ons die ongebore lewe beskerm, swanger vrouens ondersteun en bemoedig, swaar gestremde mense versorg, meelewe met hulle wat ly. Sien Rom 12:13-17. Ons antwoord moet wees: liefde. ’n Luisterende oor, aandag, bemoediging, opvang. Sien Sondag 40, antwoord 107.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend gaan ek dan preek oor die 6e gebod: Jy mag nie doodslaan nie. Hier is die vraag aan die orde hoe ons behoort om te gaan met die lewe van die naaste en ook met ons eie lewe. Dit is ’n breë gebod wat deur die kategismus ook na die Skrif in sy diepte uitgewerk word, as die agtergrond genoem word. Nie alleen om jou letterlik te vergryp aan die lewe van ’n mens stel jou skuldig voor God nie, maar ook die gevoelens van afguns, haat, toorn en wraaksug.

By die behandeling van hierdie gebod wil ek vanoggend hoofsaaklik stilstaan by die praktyke van eutanasie (genadedood) en selfmoord. Albei praktyke neem toe. Alhoewel daar op hierdie oomblik geen politieke diskussie oor eutanasie is nie, vind dit in die praktyk wel plaas. Daar word voortdurend handelinge verrig wat gerig is op die beëindiging van hoofsaaklik swaar geskende menselewens.

Selfmoord is ook ’n verskynsel wat toeneem. ’n Mens lees daagliks daarvan in koerante.

Hierdie 6e gebod wil ek vanoggend dan verkondig, toegespits op die vrae met betrekking tot eutanasie en selfmoord.

Ek verkondig aan u die evangelie van die 6e gebod:

  1. Die moderne vrae
  2. God se antwoord
  3. Ons antwoord

Eers dan die kwessie van eutanasie.

’n Mens loop nog baie gebrokenheid raak, baie sterk geskende lewens. Daar is kinders wat erg mismaak gebore word. Hulle sal nooit in staat wees om te kommunikeer nie. Hul hele lewe is aangewys op intensiewe versorging. Menslike geluk blyk nie vir hulle bestem te wees nie. Nou kom die vraag vandag na vore: het so ’n swaar gestremde lewe wel enige sin? Moet jy vir hierdie lewe bly stry? Is dit nie in hul eie belang en in die belang van hul omgewing dat daar ’n punt agter hul lewe geplaas word?

Dieselfde vrae kom daar met betrekking tot bejaardes wat mentaal heeltemal afgetakel het. Sulke lewens kan hul bestemming hier op aarde tog nie meer bereik nie. Die moontlikheid tot kommunikasie is vir altyd geblokkeer.

En wat dink ons van mense wat in ’n permanente koma geraak het, hulle wat vir altyd bewusteloos bly? Het so ’n lewe nog enige betekenis?

En dan die ongeneeslike sieke, wat ondraaglik moet ly. Dit lyk nie meer menswaardig nie. ’n Mens kan dit nie meer aansien nie. Hulle kan alreeds in ’n sterwens fase verkeer. Kan mense dan nie beter die swaar sterwingsgang bespaar deur daardie lewe te beëindig nie? Veral as hulle self daarvoor vra?

Dit is vrae wat vandag gestel word. Ingrypende vrae. As mense praat oor eutanasie wil hulle net praat van ’n doodmaak slegs op versoek. Uit die voorbeelde is egter duidelik dat daar ook gedink word aan lewensbeëindiging sonder eie versoek. Swaar gestremde kinders, demente bejaardes en mense in ’n koma kan immers moeilik met ’n versoek kom. Die lewe van mense wat die beheersing oor hulself nie het nie word vraenderwys onveilig gemaak.

En nou die praktyk van selfmoord. Jy kan in ’n situasie beland waarin jy jouself radeloos voel. Alles is ewe donker om jou heen. Jy voel jou van God verlate, ten spyte van alle goedbedoelde kontakte. Want dit raak jou nie meer nie. Daarvoor is jy heeltemal gevoelloos. Jou geloofsekerheid is weg. Jy kan nie meer bid nie. Bybellees gaan by jou verby. Dit sien jy as ’n swaar sonde. Daardeur voel jy jou steeds skuldiger teenoor God. Jy is gevang in die neerslagtige sirkel. Dit lyk of daar geen uitweg meer is nie. Ons dink vandag aan die vraag: Bied selfmoord hier geen uitweg nie? Daar is mense wat hier bevestigend antwoord. Ook moderne teoloë. ’n Nederlandse teoloog het eenmaal gesê: "As iemand nou "goeie redes" het om nie verder te lewe nie en vir homself uitgemaak het dat die lewe met al sy ongemakke en somber vooruitsigte vir hom geen waarde meer het nie, sodat hy "geen lewe meer" het nie, dan mag ons sy daad van selfmoord nie veroordeel nie."

Daar moet dus wel "goeie redes" wees volgens hierdie teoloog. Maar om radikaal nee te sê teen selfmoord sou nie reg wees nie. Omtrent so praat hierdie teoloog ook oor eutanasie. As iemand na oorleg, gebed en gesprek tot die oortuiging kom dat hy nie verder wil lewe nie, dan hoef hy volgens hom nie verder te lewe nie.

Dit is dan die moderne vrae met ’n moderne reaksie daarop.

Nou die 2e punt: God se antwoord.

Wat sê God van sulke situasies? God kom met die verlossende woord van die 6e gebod: Jy mag nie doodslaan nie. Neem nie jou lewe in jou eie hande nie. Neem ook die lewe van ander mense nie in jou eie hande nie, ook nie op versoek nie. Laat dit aan My oor.

Maar is dit wel so ’n verlossende antwoord? Jou situasie kan as ondraaglik ervaar word. Jou probleme verhinder jou uitsig op jou rykdom. Alles lyk sinloos. Jy voel jou diep eensaam, wanhopig. Is hierdie woord van die Here dan bevrydend: Raak nie aan jou lewe of aan die lewe van die ander nie?

Tog wel. Die feit dat God praat is al bevrydend. Hy kom jou lewe binne. Hy maak die vensters na bo oop. Hy bepaal jou ook by die waarde van jou lewe. Jy is ’n unieke skepsel van God. Waarom mag jy wel beskik oor die lewe van diere, maar nie oor die lewe van mense? God sê dit vir ons in Gen. 9:6 – "Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak." God herinner ons dus aan ons skepping volgens Sy beeld. Dit dui vir ons die waarde aan. Die mens is ’n unieke skepsel onder die ander kreature. Hy is geskape as God se verteenwoordiger op aarde. God wil in hom woon en deur middel van hom Sy eie kragte in hierdie wêreld laat uitstraal. Die mens is bestem om tempel van God te wees, onderkoning van Hom. Dit het ook gevolge vir ons houding teenoor elk mens persoonlik. "Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na Sy beeld gemaak." Jy mag ook nie die mense vervloek nie sê Jakobus (Jak. 3:9), want hulle is na die gelykenis van God gemaak.

Gemeente, wat hier opvallend is, is dat nie in rekening gebring word hoever die mens nog die beeld van God vertoon. Kennelik is dit nie beslissend of iemand homself ook gedra as beeld van God. Sy unieke plek en unieke roeping moet vir ons genoeg wees om hom nie aan te tas in sy lewe en hom nie te vervloek nie. Dus, as God die mens so ’n waarde toeken, sou ons die mens dan van geen waarde ag nie? Hoe moeilik dit byvoorbeeld is om swaar gestremde lewens te aanvaar, dit is en bly menslike lewens. Menslike lewens wat God aansien vanuit daardie verhewe begin.

Dit geld ook ten aansien van mense in ’n blywende koma. Hoe treurig soortgelyke situasies ookal is, dit bly menslike lewens. Daaraan mag ons ewe min met ’n inspuiting ’n einde aan maak asook aan die swaksinniges en dementes. Die een dag kan jy nog kerngesond wees, en net die volgende dag deur ’n ongeluk swaar breinskade opdoen. Maar daardeur word jy van die een dag op die ander nie "mensloos" nie.

Gemeente, God sê in die 6e gebod die verlossende woord ook omdat Hy as verlossende God praat. Die 6e gebod word soms geïsoleerd aangehaal – los van die aanhef. Dan word dit ’n kille, harde reël. Veral in vasgebrande situasies. Maar dis geen kille, onbewoë God wat hier praat nie. Dis die Here ons God – Die God van wie gesê word dat Hy werklik naby is. Die God wat aktief aanwesig is tot verlossing van Sy volk. Die God wat verlos het. Die aanhef lui immers: Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het.

Sien jy nie meer kans vir hierdie lewe op aarde nie? Gaan jy ten onder aan diepe eensaamheid? Hoor dan God praat: Ek die Here is by jou. Ek het jou lewe verlos – ookal sien jy die verlossing nog nie – Ek het gewys dat Ek My woorde waar maak. Daar is toekoms. Jy is vir My nie klaar nie. Jy het vir My nie ’n nul geword nie, nie waardeloos nie. Jy is juis dierbaar vir My. Daarom is selfmoord glad nie nodig nie. In Jesus Christus is daar vir die meeste uitsiglose lewens ruimte en toekoms. God het die lig aangeskakel in die duisternis.

Jy mag lewe. In die besef: God is soewerein en nie ek nie. Hy sorg vir my lewe. Hy maak uit my lewe wat Hy wil, nie wat ek myself inbeeld wat dit moet wees nie. Hy lei die lewe na Sy doel; dit hang nie af van my geluk of mislukkings nie. Hy regverdig – versoen die skuld – Hy heilig, red en verheerlik my. Dit word nie van my inspanning verwag nie. Van my word slegs verlang dat ek dit voldoende ag, dat ek God se vrye genade aanneem. Dan is ek nooit en onder geen enkele omstandigheid alleen nie. Dan is ek aan alle kante omring. Ek hoef nie wanhopig te wees nie. Seker nie aan myself, aan my lewe, hoe misluk en ongelukkig of nutteloos en oorbodig dit vir my ookal lyk. Ek is God se eiendom. Daarom is daar vergewing, hulp en hoop. So leer ek om te sing selfs in die nag. Al gaan ek in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie. Waarom nie? Want u is met My.

Hierdie geloof word, broeders en susters, ook bemoedig deur wat Jesus Christus gedoen het toe Hy op aarde was. Toe was daar baie hopelose lewens in Israel. Baie sukkelaars. Mense wat volgens ons maatstaf onder die maat geval het. Wat daarvan as ons dink aan die besetene? Hopelose gevalle. Afgeskryf. Maar Christus soek hierdie lewens op. Hy dryf die bose geeste uit. So bestee Christus sorg aan die verminkte lewens: verlamdes, melaatses, blindes en dowes word verlos van hul kwale. Hulle tel volop saam in God se koninkryk. Wat gee ons dan die reg om grense te trek tussen asksepteerbare en onaksepteerbare menslike lewens? Ook die swaar geskende lewens bly vir die Here waardevolle lewens. Lewens wat Hy ook soek om te verlos. Die lewe bly die moeite werd. Daarom: Jy sal nie doodmaak nie.

Gemeente, deur die sonde het die dood sy intree gemaak in God se goeie skepping. Die lewe word ’n voortdurende sterwe. Daar is skending, ontluistering, afbraak van die lewe. Alle mense het in Adam gesondig en verdien God se vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand onreg aangedoen het nie, as Hy besluit het om die hele menslike geslag aan die sonde en vervloeking oor te laat en vanweë die sonde te veroordeel.

Teen hierdie agtergrond gaan ons onsself ook meer verbaas oor die feit dat God nog lewe gee, hoe beskadig ookal. Elke lewe bly ’n geskenk van God. En dan vertel die Bybel vir ons die verrassende nuus dat daar ook nog hoop is vir alle lewendes, wat sterwendes geword het. God bewys aan almal genade wat in Sy Seun glo. Jesus Christus het Sy lewe afgelê sodat ons ons lewe ongeskonde terug sal ontvang. Die geloof in die opstanding van die verminkte, geskende liggaam en in die ewige lewe laat bly wees in die hoop, geduldig in die verdrukking, volhardend in die gebed.

Waarom kom eutanasie en selfmoord steeds meer voor? Dit is weens ’n toenemende ongeloof. Mense weet nie meer so seker of alle dinge wel uit Gods hand ons toekom. Veral vanaf die 2e wêreld oorlog, het daar heelwat kritiek gekom op die aloue belydenis van God se voorsienigheid. Teoloë het daarin vooruit gegaan om God se almag te ontken. Die lyding sou nie uit God se hand kom nie. God self sou ook niks daarteen kan doen nie.

Gemeente, wie eenkeer op hierdie dwaalspoor sit, sal ook minder praat van die doel van lyding. Watter doel het die lyding as dit nie uit God se hand ons toekom. Waarom moet ons bereid wees om lyding te aanvaar? Daarom kom ook die vraag na vore om ’n einde daaraan te maak, in plaas van vra wat God ons daarmee sou wil leer.

Alleen vanuit die geloof in God se voorsienigheid het lyding ’n doel. Nie dat die doel van my leiding vir my en ander dan duidelik is nie. Maar ook al weet ek dit nou nog nie, God weet wel waarvoor dit goed is dat ek ly. Hy regeer en Hy weet wat Hy doen. Deurdat mense God onttroon – alle dinge sou dan nie uit Sy hand na ons toekom nie – sien ons dat die mense hulself op die troon plaas. So word gepraat van die reg op selfbeskikking. Die mens moet vry wees om oor sy eie lewe te beskik. Dit is nie alleen van toepassing op die tydstip van sterwe nie, maar dit gaan terug tot die visie op die geboorte. Die mense het hul lewe steeds meer gaan sien as hul eie werk. Mense praat dan oor die "neem van ’n kind." Mense dink dat hulle kan beskik oor aanvang en einde van die lewe. As jy jou lewe nie meer sinvol ag nie, sou jy die reg hê om ’n einde daaraan te maak.

Hierby kom nog dat die besef van baie is dat met die dood tog alles verby is. Dood is dood. ’n Opstanding uit die dood verwag mense nie meer nie. Dus, as daar na die sterwe tog niks meer is nie, waarom dan byvoorbeeld die laaste maande sulke lyding verdra? Dan kan die dood tog as oplossing vir probleme geaksepteer word?

Hier sien u nou waarnatoe die toenemende ongeloof lei. Hoe bevrydend is dit dan om die evangelie van die 6e gebod te hoor. Die evangelie wat praat van God se soewereine handelinge. Die evangelie wat praat van sondeval en skuld waardeur die dood sy intree gedoen het. Die evangelie wat egter ook praat van verlossing en toekoms, van opstanding van die liggaam en ewige lewe.

Dit is dan God se antwoord op die moderne vrae. Maar nou nog die 3e punt, ons antwoord.

Wat doen ons noudat ons God se antwoord ken en aanvaar? Wat werk dit uit in ons lewe? In ons houding teenoor die medemens?

Dit is byvoorbeeld maklik om te sê dat jy teen aborsie is. Kinders in die moederskoot mag nie gedood word nie, tensy die lewe van die vrou op die spel staan. Daarmee egter kan ons nie volstaan nie. God se gebod gee, volgens die skriftuurlike verklaring van die kategismus, nie alleen aan wat nie mag nie, maar ook wat wel moet gebeur. Want terwyl God doodslag, afguns, haat en toorn verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Die liefde is die vervulling ook van hierdie gebod.

Dus: die ongebore lewe moet beskerm word. Ook as daar ’n gestremdheid dreig, ook as die gesinsituasie waarin die kind gebore word ver van ideaal is. Laat ons dit ook wys in ons houding teenoor swanger vroue. Staan ons om hulle heen? Hoe word daar onder ons gepraat oor swanger vrouens? Wat dink ons van die afkeurende blikke. Ons het ons oordeel vinnig klaar oor ander mense se verantwoordelikheid. Maar help ons swanger vrouens deur ons afkeuring van die swangerskap te laat blyk? Word op daardie oomblik nie juis iets anders van ons verwag nie? Ons beskou daardie lewe tog as skepsel van God wat beskerm moet word en dus die tyd uitgedra moet word. Die moeder het dit heel moontlik al swaar genoeg met die swangerskap. Moet ons dit vir haar nog moeiliker maak? Dit is bekend dat sommige vrouens tot aborsie gedryf word deurdat die swangerskap deur familie of die omgewing nie geaksepteer word nie. Dit moet vir ons ’n waarskuwing wees. Van ons word op daardie oomblik geen oordeel verwag nie maar liefdevolle ondersteuning en bemoediging. Die dra van mekaar se laste. Die 6e gebod vra dit van ons.

So het gehoorsaamheid aan hierdie gebod ook gevolge vir ons houding ten aansien van die oënskynlike sinlose lewe. Die afwysing van eutanasie skep verpligtinge. Dit beteken aanvaarding van die lewe ook al verstaan ons God se bedoelings nie. Ons liefde en volharding word op die proef gestel. Swaar gestremde lewens is aan ons toevertrou om versorg te word. Ons waardering van die lewe sal dan ook moet blyk uit ons dade van liefdevolle versorging. Juis kerkmense moet ’n voorbeeld van liefde wees. Die apostel Paulus spoor ons dan ook aan tot liefde en barmhartigheid in Rom. 12:13-17 (die sopas gelese skrifgedeelte): "Maak voorsiening in de behoeftes van die heiliges, streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg; wees bly met die wat bly is en ween met die wat ween; bedink wat goed is vir alle mense."

Wat is dan ons antwoord op die huidige probleme van genadedood (eutanasie) en selfmoord? Dit kan in een woord saamgevat word: liefde. Om oop te staan vir mekaar. ’n Luisterende oor. Aandag. Bemoediging, opvang. God se bevrydende woorde stel ons in staat tot bevrydende handelinge.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)