Gesagsverhoudinge

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

Sondag 39

Ds. C Kleyn

Lees: Efésiërs 5:22-6:9
Teks: Sondag 39

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die 5e gebod praat van gesag en gehoorsaamheid. Dit is ’n saak wat elkeen van ons raak, nie net die kinders nie. Die kategismus wys tereg op die breë strekking van hierdie gebod. Dit gaan nie alleen oor die vraag hoe kinders hulle moet gedra teenoor hul ouers maar ook hoe ons ons moet gedra teenoor almal wat oor ons gesag ontvang het.

In hierdie gebod self word net vader en moeder eksplisiet genoem. Dit is die mees natuurlike vorm van gesag waar elkeen mee in aanraking kom. Daar word die grondslag gelê. Die gesin is ons eerste lewensverband, wat sy uitstralings na alle ander lewensaspekte het. As lid van die gesin betree jy die ander lewenskringe soos kerk, skool, maatskappy binne en neem jy daar jou plek in.

Die woord gesag is in ons maatskappy allermins ’n mode-woord. Gesag praat immers van seggenskap, alles te sê hê oor iemand. En wie wil nog daarvan iets weet in ’n tyd waarin die individuele vryheid so hoog aangeskryf staan. Terme soos: inspraak, mondigheid, en medeseggenskap, val beter in die smaak in ons tyd. Wat op sigself nie verkeerd hoef te wees nie, word gebruik om gesag van bevoegde instansies uit te hol. Gesagdraers mag steeds minder die woord voer. Dit is geldig in die gesinne: die kinders moet vrygelaat word om te bepaal hoe hulle hul eie pad wil loop, dit is nie minder geldig vir ander lewensverbande nie.

Daarom, gemeente, is dit belangrik dat ons luister na wat die 5e gebod vir ons sê oor die verkillende gesagsverhoudinge. Ons let op 2 aspekte:

  1. Die oorsprong van alle gesag;
  2. Die eer wat die gesagdraer toekom.

Met betrekking tot die gesag sien ons in die geskiedenis meestal 2 pole wat homself openbaar. Aan die een kant word die gesag absoluut gemaak. Dit ontaard in ’n verskriklike tirannie waarby alle vryheid en lewens-ontplooiing verhinder word. Ons sien dit in lande waar mense sug onder ’n diktatuur. Maar ook in die gesinne word die een pool getref. Kinders word met strawwe hand aan bande gelê. Hulle word gedwing om presies te doen wat die ouers wens, omdat hulle dit wens en daarmee basta. Van ’n liefdevolle leiding waaronder die kinders hulself kan ontplooi is geen sprake nie.

Die teenpool hiervan is dat die gesag volledig gerelativeer word. Die vryheids ideaal neem die gesag oor en lei dit tot losbandigheid. ’n Mens sien dit in ons land waar die owerheid nie altyd ewe duidelik sy gesag laat tel nie. Daar word baie deur die vingers gesien, waardeur die wettelose gedrag toeneem.

Jy sien dit ook in sommige gesinne. Die kinders word vrygelaat. Reeds vanaf hul eerste jare het die kinders die hef in hande. Hulle kry hul ouers presies waar hulle hul wil hê. Hul vryheid ontaard in losbandigheid.

In albei genoemde gevalle word die ontbinding van die lewe openbaar. Want wat so skoon is in die menselewe gaan in albei gevalle verlore: die suiwer natuurlike lewens-ontplooiing sterf onder die dwangbuis van die diktatuur. Maar dit sterf ook in die onbegrensde vryheid: as daar nie meer begrens en bygestuur word nie, dan kom daar ’n wilde-groei wat die gesonde, normale groei belemmer.

Die een houding is meestal ’n reaksie op die ander een. Hulle wissel mekaar baie kere af in die geskiedenis. ’n Mens ervaar die wrang vrugte van die een en slaan dan deur na die ander uiterste. Wie self ’n te strenge opvoeding ontvang het, neig na ’n te vryblywende opvoeding van sy eie kinders. Wie die ellende van ’n diktatuur beleef het, roep om vryheid, totdat ook die vryheid homself verteer het en mense weer roep om ’n sterk man.

Gemeente, waarom is dit so dat daar sulke verskuiwings plaasvind ten aansien van gesag? Waarom steeds die stryd tussen gesag en vryheid. Die rede is omdat mense die gesag losmaak van die oorsprong van alle gesag, naamlik God. God het die lewensverbande geskep. Hy laat kinders gebore word in ’n gesin. Hy gee die gemeenskap van die liefde. In die liefdesverband gee Hy vir die een seggenskap oor die ander. Die man het seggenskap oor die vrou – geen diktatuur maar seggenskap in liefde, in gemeenskap. Die ouers het seggenskap oor hul kinders, in verbondenheid, in onderlinge liefde. Dit is ’n liefdesverband, geen dwingelandy nie, ’n liefdesverband waarby elkeen ’n eie plek inneem tot welsyn en vreugde van mekaar.

Deur die sonde verloor mense die siening op hierdie liefdesverbande wat deur God geskape is. Die mense word dan gesien as los individue, wat wel langs mekaar lewe, maar tog elkeen vir homself. Die gesag van die een oor die ander word dan gesien as ’n kwessie van mag en willekeur. Die sonde haal die grond onder die gesagsverhoudinge weg.

Die geloof, daarteenoor, laat die gesagsverhoudinge weer blom. Ons sien dat God in Sy goedheid die lewe en die gemeenskap orden. Hy maak nie almal dieselfde nie. Hy gee nie vir almal dieselfde plek en funksie nie. Hy gee elkeen ’n eie plek. Hy beklee die een met gesag oor ’n ander een. Hy bedien Homself van die gesagsverhoudings om die gemeenskap te onderhou en stewig te maak.

Die gemeenskap kan nie sonder gesag nie, dan word dit anargie. En gesag kan nie sonder gemeenskap van liefde nie, dan word dit tirannie. God onse Vader soek die ware ontplooiing van ons lewens. Hy wil ons tot saligheid bring. En so wil Hy Sy gesag laat geld.

Dit beteken dus, broeders en susters, dat ons by alle gesagsverhoudings na God moet bly kyk. Die tweede tafel van die wet mag nie losgemaak word van die eerste nie. Die liefde tot die naaste moet veranker wees in die liefde tot God. Dan eers kan die verhoudinge met ander mense tot hul reg kom. As ek geen rekening sou hou met God nie, dan sou ek ook geen rekening hou met Sy wet nie en dan sou ek my eie gang gaan, ook in die intermenslike verhoudings.

Nou weet ek egter dat dit God behaag om ons deur die hand van gesagdraers te regeer. God het absolute gesag, dit het ons gesien in die 1e tafel van die wet. Hy het alle seggenskap oor Sy eie skepsels as die soewereine God. En nou het dit Hom behaag om Sy gesag vir ’n deel uit te oefen deur middel van mense. Die mense het uit hulself niks te sê nie. God het die absolute gesag. Menslike gesag is verleende gesag van die Here. Die gesagdraers is dienaars en dienaresse van God. Van die owerheid word in Rom. 13 gesê dat hulle in diens staan van God ons ten goede, hulle is dienaars van God. Dit wil nie slegs sê dat hulle hul aanstelling van bo gekry het nie. Maar dit, dat hulle God verteenwoordig. Hulle is gevolmagtigde verteenwoordigers van God.

Dit bring vir hulle ’n swaar verantwoordelikheid saam. Hulle moet God hier op aarde sigbaar maak. Hulle moet die beeld van God vertoon in hul regeer-amp. Hulle moet gesag uitoefen soos God in strengheid en liefde.

Dit is nie ’n eenvoudige saak in ’n sondige wêreld nie. Maar daarom ook des te belangriker. Wil die sonde bestry word, en die lewe weer tot volle ontplooiing kom, dan sal die gesagdraers die goddelike gesag moet uitoefen. Dit geld in die staat, in die maatskappy, maar ook en veral in die gesin, die beginpunt van alle lewensverbande. God laat die leerskool, waar die sondige mensekind die gehoorsaamheid moet leer, in die gesin begin. Wat daar geleer word is van fundamentele belang vir die houding in ander lewensverbande. Daar word die grondslag gelê. Daar is geen verantwoordeliker taak, as om daar by die beginpunt, by daardie bron, te staan. Die opvoeding van die kinders is van onskatbare waarde. Daar word die ruggraat van die volk gevorm. Daar word die burgers en arbeiders opgelei. Daar moet Christelike burgers en Christelike arbeiders opgelei word.

Dit is daarom ’n hoogs ernstige saak dat die gesin vandag ondermyn word. Met die bestryding van hierdie belangrike "sel", tas mense die grondslae van die samelewing aan. Ons sal, broeders en susters, hierin waaksaam moet bly. Onderskat die belangrikheid van u opvoeding nie. U word deur die Here geroep om Sy instrumente te wees, Sy verteenwoordigers, om gestalte te gee aan Sy seggenskap oor kinders. Laat u nie wegroep van hierdie verantwoordelike taak nie. Laat u u ook nie wysmaak dat die kinders van nature nie so sleg is nie, dat jy hulle wel aan hulself kan oorlaat, dat jy hulle rustig hul eie gang kan laat gaan. Orals word gepropageer: "Laat hulle self hul koers uitwerk, laat tot ontplooiing kom wat daarin sit. Jy moet hulle vryheid gee." Hier word die mag van die sonde ook in die kinderharte misken. En ons is nie immuun daarvoor nie. By die doop bely ons wel dat ons kinders in sonde ontvang en gebore is en met die kategismus vul ons dit aan deur te sê dat ons van nature onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad, maar in die praktyk vind ons dit nogal nie so erg nie. Tog sal ons die waarheid ook in die praktyk moet laat regop staan. Anders kom daar brokke. In ons opvoeding het ons nie te doen met kinders wat uit hulself so goed is nie, met kinders wat hul eie pad wel kan uitwerk. Maar in die opvoeding het ons te doen met jong sondaars en sondaresse. Kinders wat van nature geneig is tot alle kwaad. Hul harte moet deur die Gees vernuwe word. En daarby wil Hy juis u as ouers inskakel. Deur middel van u opvoeding wil God die sonde in die lewe van die kinders oorwin en Sy genade daar tot heerskappy bring. Daarom is goeie onderwysing en tug op sy plek. Die lewendmakende woord van God moet aan hulle gebring word. Die woord wat die lewe binnetree as ’n tweesnydende skerp swaard. Die onderwysing moet met liefde en strengheid gepaar gaan. Waar nodig moet tereggewys en verbied word. Die Here Self tugtig hulle wat Hy liefhet. Dit alles sodat die sonde oorwin kan word en die weldadige heerskappy van Christus gestalte kan kry in die lewe van die kinders.

Die goddelike oorsprong van alle gesag hou vir die onderdane in dat hulle die gesagdraers die verskuldigde eer moet bewys. Ons moet hulle eer, omdat hulle draers is van die goddelike gesag. Die kinders moet hul ouers sien as verteenwoordigers van God. Dit bring ons by die 2e gedagte: Die eer wat die gesagdraer toekom.

Om te eer wil eintlik sê dat ons die gesagdraers hul volle gewig toeken. Wat die gewig van ouers is kon duidelik wees met die voorafgaande. Ons ouers neem ’n fundamentele plek in in ons lewensgeskiedenis. Dit geld veral ten aansien van die verbondsgeskiedenis. Die Here werk in die lyn van die geslagte. Die ouerskap word wel genoem die slagaar van die verbondsvolk. Deur middel van die ouers gaan God verder met Sy heilswerk. Deur middel van gelowige ouers word die kinders ingelyf in die volk van God. Julle behoort hierby, seuns en dogters, deurdat God julle ouers wou inskakel. Hulle mog julle ontvang en hulle mag julle oplei op die weg van behoud. Daarin is hulle van onmisbare waarde. En dit moet ons waardeer, hoog ag.

Om jul ouers te eer – ek praat tot verbonds kinders – is dan nie afhanklik van menslike gevoelens nie; van die stemming wat hulle weet te skep nie; van die gevoelens van liefde wat hulle weet om oor te bring nie of van hul ervaring of deskundigheid nie. Om jul ouers te eer is afhanklik van God se aanstelling en inskakeling. Dit het te doen met God se genade en Sy goedheid waarmee Hy julle wil red.

Hoe eer julle as kinders jul gelowige ouers die meeste? Julle eer jul ouers deur hulle te volg op die weg van die Here waarop hulle julle voorgaan. Deur in dieselfde geloof en in dieselfde vertroue op God, te wandel as hulle. Dit is immers die kern van die saak waaroor dit gaan in die gelowige ouers se lewe en opvoeding. Ons kan dit ook so sê: ons eer ons ouers wanneer ons juis dit in hulle op prys stel, waarvoor hulle eintlik hul insette gelewer het. En dit is in die gemeente: God se verbond en woorde. As ek my ouers slegs sien as liewe mense vir wie ek baie gevoel ontwikkel het, dan sien ek hul "eintlike waarde" oor die hoof. Die eintlike waarde is tog dat hulle skakels is in die ketting van God se verbond. Kinders wat dit erken en hulle so "eer" sal ervaar wat die fundamentele waarde van die ouerskap is. Die heil wat God besig is om aan Sy volk te skenk kom so oor die kinders van geslag tot geslag. Want die ouers gee deur wat hulle van die Here ontvang het.

As ek dit in my ouers eer, sal ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp aan hulle goeie leer en tug. Dit is ’n gehoorsaamheid in die Here, om Christus se wil. Nie met oëdiens, as mensebehaers nie. Nie teen wil en dank nie. Nie nadat eers na die "waarom" gevra is en ek met die "waarom" saamstem nie, ook nie nadat die gehoorsaamheid eers gekoop moet word met ’n beloning nie. Nee, om Christus se wil.

Ek bewys hulle liefde en trou. Dit wil ook sê dat ek met hul swakhede en gebreke geduld he. Hulle is ook maar mense wat God inskakel, mense wat daagliks hul stryd teen die sonde en swakhede het. Maar ondanks dit is hulle goddelike instrumente deur wie se hand God my wil regeer. Ons sal ons onderwerp aan alle gesagdraers om die Here se wil. Alleen as hulle dinge van my vra wat teen die wil van die Here ingaan, sal ek die gehoorsaamheid weier. Dit geld nie vir die swakhede en gebreke nie. Dan maak ek my nie los van hul gesag nie. Ek verdra liewers hul onreg as wat ek my teen God se ordinansie verset. En ek weet dat ek van die Here die erfenis sal ontvang tot vergelding. In plaas van opstand en verset sal daar ’n gebed opgaan vir hulle wat oor ons gestel is. Die gebed vir toerusting tot hul verantwoordelike taak. So sal die verbondskinders bid vir hul ouers, so sal die Christelike leerlinge bid vir hul onderwysers en onderwyseresse. As jy die Christelike geduld verstaan, dan gaan jy nie die swakhede van ’n gesagdraer uitbuit nie. Jy gaan hom in die uitvoering van sy taak nie dwarsboom nie, maar jy ondersteun hom deur die gebed. Sodat dit ons almal goed mag gaan.

Gemeente, die 5e gebod word die eerste gebod genoem – met ’n belofte. Hiermee word nie bedoel dat hierdie gebod ’n gebod is waarby vir die eerste keer van ’n belofte sprake is nie – dit was al by die 2e gebod die geval. Eintlik staan daar: "’n eerste gebod," dit wil sê, ’n belangrikste gebod, ’n fundamentele gebod.

Uit die gehoorsaamheid aan hierdie gebod kom die gehoorsaamheid aan die ander gebooie, op die hele breë lewens-terrein. Die gehoorsaamheid hieraan versprei seën oor die lewe in alle verhoudinge. Paulus omskryf dit so: sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.

Hier sien u dat hierdie gebod van God vir die lewe is. Hierdie gebod gaan die ontbinding van die lewe teen. Die Verlosser van die lewe hou hierdie gebod vir ons voor. Sodat in die gehoorsaamheid daaraan daar toekoms sou wees vir alle lewensverbande, toekoms vir kerk en staat, toekoms vir huwelik en gesin.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)