Die rusdag is deur die Here ingestel tot heil van die mens

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

Sondag 38

Ds. C Kleyn - Sondag 1 November 1998

Sing: Ps 86:3,6; Ps 79:5,6,9;Ps 92:1,6,7; Ps 84:1,2,3; Ps 84:6
Lees: Markus 2:23-3:6; Hebreers 10:19-25
Teks: Sondag 38

Samevatting:

Oor die dag van die Here is baie onenigheid en stryd gewees. Hoekom? Hierdie dag is ’n sentrale dag in die Christelike lewe. Daarom probeer Satan hierdie dag te versteur. Twee uiterstes steek die kop uit: mense wat daardie dag ’n benouende dag maak en mense wat doen asof alles mag op daardie dag, as jy maar ’n bietjie godsdienstigheid wys. Die laatstes beroep hulle op die Christelike vryheid. Die sondag kry juis in ons tyd baie swaar vanweë die ontkerstening van die lewe. Hierdie dag is gegee as teken van die verbond met die Here.

Tema: Die rusdag is deur die Here ingestel tot heil van die mens

  1. Die seën van die rusdag
  2. Die roeping van die rusdag

Christus het in Markus 2 die benouende wettiese Sabbats-viering bestry. Christus gaan nie in diskussie oor wat wel of nie as arbeid gesien moet word nie. Hy stoot deur na die sin van die wet. Die Wetgewer soek in die wet juis die heil van sy volk. Uit Genesis 2 blyk dat die Sabbat ‘n hoogtepunt is waarin God en mens hulle saam verheug in al die goeie wat God gemaak het. Die mens is geskape om die aarde te bewaar en bewerk. Aan die einde van die 6e dag staan Adam en sy vrou klaar vir die grootse taak. Maar dan moet hulle op die 7e dag, hul eerste lewensdag, eers saam met hul God die fees van die skeppingsrus vier. Hulle is nie slawe nie maar kinders wat hul Vader in die hemel volg. Deur sy seën maak God die Sabbatdag ’n bron van krag vir die mens. God rus die mens toe tot die groot werk in Sy diens in Sy wye wêreld. Hoe durf die Fariseërs op daardie toerustingsdag ‘n mens verbied om iemand te genees wat verhinder word in die Sabbatsvreugde. Hulle het die Sabbat gemaak tot ‘n dag van Satan om mense te kwel. Laat dit uitkom dat dit ‘n feesdag is en dat u u ryk weet met u God en Skepper. So put u heil uit hierdie dag.

Waarom mag ons op Sondag nie aan sport deelneem nie? Waarom moet ons so moontlik twee keer kerk toe gaan? Het Christus nie teenoor die Fariseërs gepraat van vryheid en blyheid? Christus het hierdie gebod nie kragteloos gemaak nie. God gun die mens Sy rus. Watter rus? Nie alleen van arbeid nie. Veral rus in die gemeenskap met God. Rus in die volbragte werk van Christus. Daarom vier ons hierdie feesdag nou op die eerste dag van die week, die dag van Christus se oorwinning. Volgens die kategismus gedenk ons hierdie dag eerstens deur die diens van die Woord en die skole in stand te hou. Die Woordbediening bring ons die rus en gee nuwe kragte vir die lewe in God se diens. Daarom steun ons die troue opleidinge van predikante en die skole van ons kinders. Daarom gaan ons trou kerk toe. Ons wil uit die sondag haal wat God tot ons heil daarin gelê het. Veragting van hierdie kragbron lei tot ontheiliging van die lewe, oppervlakkigheid en rusteloosheid. Daar ontvang God nie die eer wat Hom toekom nie.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit gaan vanoggend dan oor die dag van die Here. ’n Dag waaroor in die geskiedenis baie onenigheid en stryd was. Is dit vreemd dat daar soveel stryd was rondom die rusdag? Die rusdag is immers ’n sentrale dag in die lewe van God se volk. Wat wil ’n mens met so ’n sentrale dag, die hart van die Christelike lewe? Sou Satan so ’n dag met rus laat? Dit verwag u tog nie? Het Satan nie alle belang daarby om juis die dag te versteur? Met al sy mag wil hy voorkom dat die dag sy sentrale funksie verskaf. Daarin kan hy heelwat bereik deur onrus en onenigheid te saai. Laat die kerkmense maar onderlinge onenigheid hê omtrent die viering van hierdie dag. Laat hulle maar aan mekaar vererg oor hierdie saak. Laat hul aandag maar afgelei word deur allerhande ander by sake. Dan bereik die dag tog lekker nie die doel waarvoor God dit bestem het nie. So sien ’n mens in die geskiedenis steeds weer twee uiterstes die kop uitsteek. Aan die een kant is daar mense wat die dag van die Here ’n somber en benouende dag maak. Dit word ’n dag van streng maatreëls; jy mag nie sus nie, jy mag nie so nie. Veral die kinders ervaar hierdie dag as ’n beklemming: Dit word ’n dag dat niks mag nie.

Aan die ander kant is daar mense wat deurslaan na die ander uiterste toe. By hulle lyk dit asof alles mag. Die enigste verskil met ander vrye dae is dan dat hulle een of twee keer kerk toe gaan. Verder lyk dit meer op ’n dag van die mens, ’n dag waarop die mens kan geniet en doen wat hy wil, in plaas van ’n dag van die Here. Sommige mense het so ’n houding self verdedig met ’n beroep op die vryheid in Christus. Die Sabbats-gebod sou met Christus opgehef wees. In Christus sou dit nie meer nodig wees om ons te hou aan spesiale dae. Ja, een of twee keer kerk toe gaan, dit wil hulle nog wel, dit kan geen kwaad, maar daarmee is dit genoeg godsdienstigheid vir die dag.

Gemeente, die dag van die Here, die sondag kry juis in ons tyd baie swaar. Die verskynsel om net aan te gaan met jou werk beskou hulle as normaal. Verskillende aktiwiteite waaronder uitstallings en vlooimarkte vind op die sondag plaas. Die sondag as dag van die Here word soos ’n gewone werksdag. Hoekom hierdie ontwikkelinge? Dit het alles te doen met die algehele ontkerstening van die lewe. Waar die Here steeds meer uit die breë lewe verban word, daar kan dit nie anders of die dag van die Here moet dit ontgeld. Soos alle ander dae word die Sondag ’n dag van die mens.

Daarom is dit belangrik, broeders en susters, dat u weet wat die Sondag vir u inhou. Laat u nie deur Satan aflei van die hoofsaak, deur u blind te staar op allerhande bysake nie. Neem die les van die geskiedenis ter harte. Niks mag verhinder dat hierdie dag sy doel bereik. Niks mag verhinder dat hierdie dag werklik tot sy reg kom as dag van die Here, as feesdag van God en sy volk. Hierdie dag is gegee as teken van die verbond. Dit is ’n teken van God se trou, Sy liefde en verlossing. Die Here wil juis op hierdie dag geniet van Sy volk, en Sy volk mag juis dan van Hom geniet. Dit is by uitstek ’n feesdag van die verbond.

Ek verkondig aan u: Die rusdag is deur die Here ingestel tot heil van die mens:

  1. Die seën van die rusdag
  2. Die roeping van die rusdag.

Tydens Sy lewe op aarde het Christus alreeds te doen gehad met die benouende wettiese Sabbats-vieringe. Ons het daarvan gelees in Markus 2. Op die Sabbat het Jesus en Sy dissipels deur die koringlande geloop. Toe die dissipels honger geword het, het hulle are gepluk en dit geëet. Daardeur het hulle in konflik met die Joodse leraars gekom. Waarom? Wel, die Fariseërs het in hul wetsuitleg bepaal dat om are te pluk ’n onderdeel vorm van die werk van die oes. En aangesien daar op die Sabbat nie gewerk mog word nie, het hulle ook bepaal dat ook om are te pluk nie toegestaan was nie: dit was dan sabbatskending en daarom soos ’n doodsonde. Toe dan die waaksame Fariseërs vir die dissipels van Jesus op heterdaad betrap het van hierdie oortreding, het daar ’n konflik-situasie ontstaan.

Hoe reageer Christus op hul beskuldiging? Gaan Hy met die Fariseërs in diskussie oor die vraag of are-pluk eintlik wel as arbeid gesien moet word? Nee, ’n soortelyke diskussie sou slegs lei tot ’n formalistiese steekspel, waar niemand baat by sou vind nie. Inteendeel, Christus stel ’n ontdekkende vraag. Daarmee stoot Christus deur na die sin en betekenis van die wet in Israel: die wet is nie ’n formele strafboek nie, dit is nooit ’n doel op homself nie. Die wet staan nie vreemd teenoor die lewe en die heil van die mense nie. ’n Mens mag die wet nooit losmaak van die Wetgewer, die troue verbondsgod, wat juis die heil van Sy volk soek nie. So is ook die Sabbat gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. Die mens mag geen slaaf van die Sabbat wees nie, hy mag nie daaronder gebuk gaan nie. Die Wetgewer is die Skepper en Redder van die lewe. En Hy het daardie lewe in al sy uitings tot ’n goed samehangende geheel gemaak. Jy kan niks uit sy verband oplig sonder om aan die geheel skade aan te rig nie. Wanneer die Skepper wette maak, sou dan die toepassing van die wette op een gebied die lewe op ’n ander terrein vasgryp?

Ten aansien van die Sabbat blyk uit Genesis 2 dat dit die hoogtepunt is van alles wat God geskape het, die hoogtepunt waarin God en mens hulle saam verheug in al die goeie wat God gemaak het. Dit is eenvoudig ondenkbaar dat hierdie hoogtepunt van lewe, tegelykertyd die lewe sou strem. God het die Sabbat juis ingestel om die ware lewens ontplooiing van die mens te dien.

Die mens is op die sesde dag geskape. Adam en Eva het voor ’n geweldige groot taak gestaan: hulle moes die aarde bewaar en bewerk. Hulle moes die aarde ontgin en ontwikkel. Hulle moet werk aan die opbou en afbou van God se wêreld. Daarom het God die mens geskape na Sy beeld. Die mens moes alles bewerk tot eer van sy God. Hulle moes alles so bewerk dat die Here Homself blywend sou kan verlustig in die werke van Sy hande.

Aan die einde van die 6e dag het Adam en Eva klaargestaan om hul grootse taak aan te pak. Hulle mog nie dadelik daarmee begin nie. Nee, hulle moes egter eers wag. As die 7e dag aanbreek, hul eerste lewensdag, dan moet hulle eers saam met hul hemelse Vader die Sabbatdag hou. Hulle moet eers met die Here die fees van die skeppingsrus vier. Want wat hul Vader op hierdie 7e dag doen, is bepalend en beheersend vir hul hele doen en late. Adam is immers nie maar ’n slaaf en Eva ’n slavin nie, wat met die doen en late van hul meester niks te doen het nie. Nee, Adam mag God se seun genoem word en Eva Sy dogter. In die verbond is hulle Vader se liewe kinders en erfgename. Daarom volg hulle die eerste volle dag van hul lewe hul hemelse Vader na; ja, meer as dit: hulle neem deel aan die fees van hul hemelse Vader. Vader en kinders vier saam die blye fees van die Sabbat.

"En God het die Sabbatdag geseën." Deur sy seën maak God die dag tot ’n bron van krag vir die mens. Die seëning wil immers sê dat God strome van krag na die 7e dag laat uitgaan. Hy vul daardie dag met Goddelike en Geestelike krag. So word die 7e dag ’n seën vir die aarde. Daar gaan ’n krag vanuit. Die mens is in staat tot geweldige prestasies. Deur die seën sal die ontwikkeling en ontplooiing van die aarde vrugbaar en heerlik wees.

So is die Sabbat vir die mens ’n dag van toerusting tot die groot werk in God se wye wêreld. Die mens neem sy tyd om sy Skepper te bewonder en hul in Hom te verheug. Hy laat hom versterk deur sy Skepper en Opdraggewer. Die Sabbat gee so krag vir die arbeid. Die Sabbat bepaal ook die rigting van die arbeid. Die Sabbat leer vir die mens: alles is uit Hom en tot Hom.

Die Sabbat is, broeders en susters, dus deur God ingestel tot heil van die mens. Hoe durf die Fariseërs Jesus dan aankla vanweë ’n genesing op die Sabbat? Sou dit op die Sabbat verbode wees om goed te doen. Daar staan iemand met ’n verdorde hand. Die man word verhinder in die Sabbatsvreugde deur liggaamlike moeite. Hy word daardeur ook belemmer vir sy daaglikse taak in diens van God. Sou hy dan nie daarvan bevry mag word op die feesdag, op die dag van lewe en toerusting nie? Moet die arme man maar ’n dag langer wag met die genesing van sy verdorde hand? Dit sou beslis geen lewens-wekkende viering van die beginsel van die ewige vreugde wees nie.

Hoe onbarmhartig blyk tog die vrome wetsgeleerdes te wees. Hulle maak die feesdag tot ’n kwelling. Dit word vir die mense ’n las. Wat hulle van die Sabbat maak is ’n werkdag vir die Satan. Met al hul sogenaamde respek vir die Here het hulle die dag van die Here aan Satan gegee. Satan mag daarin rustig sy gang gaan om mense verder te kwel. Wat bly daar oor van die feesvreugde van die skepsel in sy Skepper?

In hierdie verband kan ons, broeders en susters, ook wys op die benouende Sondagsviering waaroor ons gepraat het in die inleiding. Wie daardie dag tot ’n las maak, net alleen om te verbied, die het niks verstaan van God se heerlike instelling nie. Is dit vreemd dat by so ’n Sondagsviering die geloofsvreugde verdwyn. Die kinders sien hierdie dag as ’n somber aangeleentheid en laat dit op die ou end heeltemal vaar. So het Satan reeds sy massas verslind.

Laat dit uitkom, broeders en susters, dat dit ’n feesdag is. Wys dit vir u kinders dat dit ’n fees is. Maak, saam met hulle, ’n fees daarvan. Weet hoe ryk u is met hierdie een dag, ja, hoe ryk u is met u God en Skepper. God het die dag ingestel vir u beswil. Hy het die dag geseën. Hy vul die dag steeds weer met kragte van heil en vrede. So word die dag ’n bron van krag. ’n Bron waaruit u tot heil mag put. Wie sou hierdie fees dan nie wil vier nie?

Dit bring ons tot die 2e gedagte: die rusdag ken nie net ’n seën maar ook ’n roeping.

Seuns en dogters kan dit vir hul ouers lastig maak met vrae: Waarom mag ons op Sondag nie aan sport deelneem nie; waarom moet ons beslis twee keer kerk toe gaan? Het Christus nie self gesê nie dat die Sabbat vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie? Het Hy teenoor die Fariseërs nie die boodskap gebring van vryheid en blyheid nie. Wat gee ons ouers dan die reg om te stel: geen sport, maar wel 2 keer kerk toe? Staan hulle nie daarmee op een lyn met die Fariseërs wat Christus moes afwys nie.

Gemeente, Christus het die verskriklike bekrompenheid van die rusdag deur menslike gebooie inderdaad bestry. Sou Hy egter daarmee die gebod self kragteloos gemaak het? Inteendeel. Hy haal juis die gebod onder die stof van die menslike gebooie uit. En Hy laat hierdie gebod in al sy skoonheid weer sien. Die Sabbat is gemaak vir die mens. Dit is vir die mens ten goede, tot heil. Dit is ’n voortreflike vakansie dag. God gun die mens Sy rus. Maar watter rus is dit dan. Net alleen ’n rus van arbeid? Nee, tog. Dit is hoofsaaklik ’n rus in die gemeenskap met God. En waar is die rus nou te vind as net in die volbragte werk van Christus. Die Here Christus noem Homself in Markus 2: Heer oor die Sabbat. Hy heers daaroor. Hy bepaal nou ook die inhoud en betekenis daarvan. Nie die mens wat verblind is, maar die Here Jesus Christus weet wat goed is vir die mens. Hy skenk aan die vermoeides en sugtende mens rus in Sy volbragte werk, in die bediening van versoening.

So vier ons in die Nuwe Testament ons feesdag op die eerste dag van die week, die dag van Christus se opstanding. Christus het oorwin. Hy het die rus geskenk. En ons mag vanuit die rus wat Hy geskenk het, die week in gaan.

Gemeente, hoe gedenk ons nou die rusdag en hou heilig ons dit? Die kategismus noem heel eerste dat die diens van die Woord en die skole in stand gehou moet word. Is dit nie vreemd nie. In die 4e gebod lees ons tog niks van prediking en skole nie.

Die kategismus dring deur tot die kern van die saak. Die rus, waarvan die rusdag praat, sien heel eerste op die rus wat Christus aan mense skenk in Sy versoenings werk. En hoe word die rus nou aan die man gebring. Dit is tog deur middel van die bediening van versoening, deur middel van die verkondiging van die heil. Die woordbediening is die lewensaar van die Sabbatsrus. Dit vorm die ruspunt in hierdie rustelose wêreld. Hier onder die prediking, in die erediens word die rus geskenk. Deur die woordbediening wil God ook nuwe kragte gee. Daardeur wil Hy toerus tot die lewe in Sy diens.

Daarom is die eerste Sabbatsplig om die dien van die Woord in stand te hou. Lang die weg word die rus geskenk en geniet. Hierdie geestelike vuur moet tot elke prys bly brand. Dit is meer werd as enig iets anders op aarde. Wat het ’n mens aan ’n wêreld vol huise, kantore en fabrieke, maar sonder woordbediening, sonder bediening van die rus in Christus Jesus? Sonder die bediening sou die vuur uitblus. Sonder die toerusting sou die lewe in God se diens verval. Ons sien dit baie kere. Verval in die woorddiens bring baie onrus en onsekerheid saam. Mense word nie meer toegerus nie. En die lewe van elke dag sak steeds verder van die Here af. Mense weet nie meer wat dit beteken om in die daaglikse lewe die Here te dien nie. Mense is nie meer in staat om die Skepping te ontplooi tot eer van die Skepper nie. Miskien kan jy baie presteer maar die einde is die verderf. En daar sal geen Sabbatsrus meer aanbreek nie.

Gemeente, as die woordbediening vir ons alles is, dan sal ons ook ’n warm hart dra vir die skool, vir die opleiding van predikante. Die evangelie van die rus moet goeie voortgang hê. Daar moet troue predikante op die kansels kom. Hoe belangrik is dan ’n teologiese opleiding. Wat daar afgelewer word kom later in die kerke. Word daar afgewyk van die weg van heil, dan kom die bediening van die rus, ja die rus self, op die spel. En die kerk sal dit agterkom. Laat ons die skool van die Kerke hier en in Kampen of Hamilton nie vergeet nie, in ons gebede nie, in ons gawes nie. So werk u saam aan die voortgang van die rus, ja aan die blywende viering van die rus.

Die opstellers van die kategismus het ook gedink aan die skole van ons kinders. Dit word genoem: plantasies van die gemeente. Ons kinders moet daar heelwat leer, veral die eerbied vir die Here. Hulle moet op die skool leer dat hulle kind van God is in hierdie skepping. So alleen kan hulle werklik lewe en werk met hul deur God gegewe gawes. Langs die weg van woorddiens en skole wil God ons lei na die ewige Sabbat. So mag ons feesgangers wees, medewerkers van God.

Is dit in hierdie lig nog ’n probleem hoe ons die Sondag sal deur bring? God het die dag afgesonder tot ’n feesdag van Hom en Sy kinders. Hy het die dag gevul met nuwe kragte vir die mens. En waar kan jy die kragte anders verwag as in die erediens. Daar word die rus en die toerusting geskenk. Sou jy daardie kragte dan verag?

Gemeente, ons taak hier op aarde, as verteenwoordigers van God, is moeilik genoeg. Hoeveel krag het ons nie nodig om ons eie swakheid te oorwin? Hoeveel kragte het ons nie nodig om ons kortsigtigheid en kleingeloof te oorwin? En nou weet ons dat God Sy besondere dag volgegiet het met die nodige kragte. Kan ons dit dan laat staan? Is dit vir ons dan nog ’n vraag of een keer kerk toe gaan genoeg is: Jy wil uit die sondag tog haal wat God, tot jou heil, daarin gelê het? Dan kom jy waar moontlik trou na God se gemeente om God se lewendmakende en rustgewende Woord te hoor, die sakramente te gebruik en God die Here publiek aan te roep.

Waar hierdie kragbron verag word daar gryp die ontheiliging van die lewe al meer en meer om hom heen. Die hele lewe van die arbeid gaan hom dan vervreem van die norm van God se wet. Waar die kragbron verag word, daar bly ook die rusteloosheid en onsekerheid. Is dit vreemd dat sommige mense maar nooit bo hul moeites kan uitkom nie. Hulle bly maar net twyfel aan hulself, aan hul heil of aan hul God. Langs watter weg skenk God rus en genade. Tog langs die weg van die middele, van die gebruik van die middele van Woord en sakramente! Word die uitgestrekte hand van God wel genoeg aanvaar? Word daar wel genoeg uit die Sondag geput as krag en energie-bron vir elke dag. Neem ons wel bewus genoeg die kragte van heil – die rus – tot ons in die eredienste?

Gemeente, waar God se kragbron – die rusdag – nie optimaal uitgeput word nie, daar sal ons swak, slap, oppervlakkig of rusteloos bly. Daar sal ons in die lewe van elke dag dan byna nooit bo al daardie puur menslike gepraat en gedrag uitkom nie.

En wat die ergste is: daar sal God nie die eer ontvang wat Hom toekom nie.

Gedenk daarom die Sabbatdag en heilig dit. Dis goed om die Here te lowe. Sy dag is aan Hom gewy. Net alleen so is dit vir ons ten goede. Ons ontvang nou nuwe kragte. Ons kan weer die lewe ingaan, die lewe in God se diens. Die slegte werke word deur die krag van God oorwin. Ons lewe soos Sabbatskinders, ons geniet van God se gemeenskap, nie alleen op Sondag nie, maar elke dag van die week. En ons weet by al ons val en opstaan, dat ons op pad is na die ewige Sabbat.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)