Die noodsaaklikheid van die goeie werke

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-09-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

Sondag 32

Sondagoggend 20 September 1998

Lees: 1 Johannes 2:15-17, 28-3:24
Teks: Sondag 32

Tereg beklemtoon ons, teenoor die Roomse, dat ons uit genade alleen gered word, sonder enige verdienste van ons kant af. Maar gee ons wel genoeg aandag aan goeie werke? Met 'n beroep op die Christelike vryheid kan dit soms lyk asof baie dinge toegelaat word. Ons wil in vrede doen wat ons pas. Tog is God baie kieskeurig hoe hy wil hê dat jy jou moet gedra. In Gal. 5 waarsku Hy dat ons nie ons vryheid moet gebruik as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dat ons moet wandel deur die Gees (5:13,16,17). Hier is selfs die koninkryk van God op die spel (5:21).

Tema: Die noodsaaklikheid van die goeie werke

  1. as voltooiing van God se verlossingswerk
  2. om seker te wees van ons geloof
  3. om ons naaste vir Christus te wen

1. Die liefde van God staan agter elke Christelike lewe (1 Joh. 2:15; 3:1). God soek die bevryding van sonde en dood. Ons moet van kinders van die duiwel weer kinders van God wees, oorgeplaas uit die dood in die lewe (3:1,2,14). Daarom het God Sy Seun gestuur (3:18). Christus het nie slegs verskyn om ons van die skuld en straf van die sonde te verlos nie, maar ook om ons van die mag en smet van die sonde te bevry. Anders sou die verlossingswerk nie volledig wees nie. Kan jy werklik praat van verloste kinders as hulle rustig voortlewe in hul sondes? Uit jou werke blyk dit van wie jy 'n kind is (3:10). Elkeen wat in Hom bly sondig nie (3:6,9). Wat beteken dit? Nie dat jy sondeloos is nie. Sien Rom 7. Dit beteken dat jy nie in die sonde lewe nie, dat jy nie in jou element is in die sonde nie, maar dat jy in jou element is terwyl jy die Here dien. Hierdie verandering is vanweë die saad van God in jou (3:9). God voltooi Sy verlossingswerk deur Sy Gees. Daarom behoort die goeie werke by die lewe van verloste kinders.

2. Ons kan gepla word deur twyfelvrae: het ek rêrig deel aan God se verlossingswerk? Ons ontdek dat God nou al en hier 'n sigbare skeidslyn trek (3:8,10). As u die wil van God opvolg – al is dit met val en opstaan – dan mag u seker weet dat u deel het aan God se verlossingswerk. Om die wil van God te doen, gaan immers nie vanself nie. Daarvoor is die wederbarende werking van die Heilige Gees nodig. Elkeen mag uit die vrugte – die begin van die nuwe gehoorsaamheid – seker wees van sy geloof. Sien Matt. 7:16. Hoe weet ons dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe? Uit ons werke (3:14,19). My hart veroordeel my vanweë my sondes. Maar God weet wat Hy in my begin het. En die Gees staan waarborg vir die voltooiing van daardie werk (3:24).

3. Die goeie werke is ook nodig vir die naaste. Sien 1 Petr. 2:11,12. Mense merk dan die lewensvernuwende kragte van God in die gelowige op. Ons moet dan wel konsekwent wees in ons lewenswandel. Nie die een ding sê en 'n ander ding doen nie. Alleen 'n konsekwente lewenswandel kan respek afdwing. Dit lê op u 'n groot verantwoordelikheid. Christus noem ons die lig van die wêreld. 'n Lig moet skyn. Ons moet laat sien hoe afskuwelik die sonde en hoe heerlik die diens van die Here is. Is ons werklik 'n lig in ons omgewing? Kan die mense rondom u God se lewensvernuwende kragte in u herken? Word hulle deur u leer en lewe heengewys na u hemelse Vader? In u lewe gaan dit om die voorstelling van Hom, sodat die mense Hom verheerlik (Matt. 5:16; 1 Petr. 2:12).

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gee ons wel genoeg aandag aan goeie werke?

Ons wil niks weet van die Roomse leer van goeie werke nie. Tereg! As slegs 'n klein deeltjie van my saligheid afhanklik sou wees van my goeie werke, dan sou die vooruitsig vir my nie goed wees nie. Die Woord van God beklemtoon aanhoudend dat goeie werke geen enkele grond vir my saligheid kan wees nie. Daar is verlossing alleen uit genade deur Christus, sonder enige verdienste van ons kant af. Dit is die hart van die evangelie en dus ook die hart van die gereformeerde leer.

Dis reg dat ons die Roomse leer van goeie werke verwerp. Maar gee ons van ons kant wel genoeg aandag aan goeie werke? As 'n mens heeltyd bly beklemtoon dat dit uit genade alleen is, sonder enige verdienste van ons kant af, dan is die gevaar aanwesig dat jy sou dink dat goeie werke nie meer so belangrik is nie. Die verlossing hang immers nie daarvan af nie? Jy sal kan dink dat jy nie meer so noukeurig hoef op te let hoe jy lewe nie. As jy maar net glo! Met die beroep op die Christelike vryheid kan dit soms lyk asof baie dinge toegelaat word. Ons is tog vrygemaak van die wet? Elkeen sou dan vry wees om sy lewe in te rig soos hy dit self goed dink. Laat geen ampsdraer of enige ander gemeente lid hom daarmee bemoei nie.

Maar, gemeente, as ons eerlik is, is so 'n beroep op die Christelike vryheid nie baie kere bedekte eiewilligheid nie? Ons wil in vrede kan doen wat ons pas en waarvoor ons lus is. Dit is dan eerder 'n saak van die vlees as van die Gees. In Galásiërs 5 waarsku die HERE al teen sulke eiewilligheid.

Daar laat die Here deur Paulus sê: "Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie" (5:13). En later skryf hy: "Maar ek sê: wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees, en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie." (5:16,17).

Nadat Paulus verskeie werke van die vlees opgesom het, waarsku hy "dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." (5:21). Om goeie werke te doen, is nie so vry of onverskillig soos sommiges wil beweer nie. Dit is baie belangrik hoe jy jou lewe inrig. God is baie kieskeurig hoe Hy wil hê dat jy jou moet gedra en hoe jy praat. God het Sy wil bekend gemaak in die Bybel. Om dit te doen. Selfs die Koninkryk van God word hier op die spel geplaas.

Laat ons nou stilstaan by die noodsaaklikheid van die goeie werke.

Die goeie werke is noodsaaklik:

  1. as voltooiing van God se verlossingswerk
  2. om seker te wees van ons geloof
  3. om ons naaste vir Christus te wen

In die skrifgedeelte wat ons saam gelees het, het ons 'n paar keer die liefde van die Vader raakgeloop: "As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie." (1 Johannes 2:15). En: "Kyk, wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!" (3:1)

Die liefde van die Vader staan agter elke Christelike lewe. Die liefde is die motief van al God se werke. Die liefde het Hom gedryf tot die werk van verlossing. God wou Sy geskape wêreld nie prysgee aan dood en verderf nie. Maar Hy soek die herstel van daardie beskadigde werkstuk van Hom. Hy soek die bevryding van sonde en dood. Hy stel die lewe voor oë. Sy verlossingswerk is baie daarop gerig dat mense weer wandel voor Sy aangesig, bevry van sonde en verderf. Mense moet van kinders van die duiwel weer kinders van God wees. Hulle moet losgeruk word van die ryk van Satan om terug te keer in die ryk van God, die ryk van lewe en lig. Daarom sê Johannes: "Kyk, wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! … Nou is ons kinders van God." (3:1,2). En: "Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe." (3:14).

Gemeente, hierdie werk van God blyk hoofsaaklik daaruit dat Hy Sy Seun gestuur het. Waarvoor het Jesus Christus in die vlees verskyn? Johannes sê vir ons: "Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek." (3:18). Dit is juis die doel van Sy vleeswording. Hy kom die duiwel oorwin: die kop van die slang vermorsel. En daarmee ook sy werke, die sonde, verbreek. Hy word mens nie slegs om mense van die skuld en straf van die sonde te verlos nie, maar ook om ons van die mag en smet van die sonde te bevry. Om ons vry te maak van alle onreinheid, om ons vir Hom te heilig. Ja, ook hierdie laaste kom daarby. Anders sou die Verlossingswerk nie volledig wees nie. Wat beteken mense vir die Here wat wel bevry word van die skuld van die sondes, maar nie van die smet daarvan nie? Wat beteken mense vir die Here wat rustig voortlewe in hul sondes? Kan jy dan werklik praat van verloste kinders? Kan jy dan sê dat hulle oorgeplaas is van die dood in die lewe? Nee, wil God se werk van verlossing volledig wees, dan behoort daarby dat die verloste kinders werklik wandel voor Sy aangesig. Dan behoort daarby dat hulle, in plaas daarvan om hulle te gedra soos kinders van Satan, hulself nou soos kinders van God te gedra.

Uit die werke blyk dan van wie jy 'n kind is. Johannes sê: "Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie." Hy is 'n kind van die duiwel "en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie." (3:10). Uit jou konkrete lewensopenbaring blyk dit wie jou Vader is. Wie, byvoorbeeld, sy broeder haat, is 'n moordenaar: die het Satan, die moordenaar van die begin af, as sy vader. Johannes spits sy boodskap toe tot 'n hele konkrete sonde, die sonde van liefdeloosheid. Wie nie liefhet nie, behoort by Satan tuis. Jy kan hier dink aan allerhande sondes in jou lewe. Uit jou werke blyk dit waar jy tuis hoort, en of jy wel of nie oorgeplaas is uit die dood na die lewe. "En julle weet," skryf Johannes, "dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie." (3:5,6). As die doel van Christus se koms is om die sondes weg te neem, dan volg vanself daaruit dat, wie deur Hom verlos is, die sondes nie meer kan doen nie, maar met die sonde breek en dit vernietig in sy lewe. "Elkeen wat in Hom bly, sondig nie" sê Johannes en "Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie." (3:6.9).

Waarom is u aan Christus verbind? Waarom is u van 'n kind van die duiwel tot 'n kind van God gemaak? Tog nie om rustig voort te lewe in die sondes nie? God se werk aan u is tog juis gerig op die bevryding van die sonde. Daarom doen die wat uit God gebore is, wat deur die Gees wedergebore is, geen sonde nie.

Maar, broeders en susters, seuns en dogters, wat beteken dit? Beteken dit dan dat jy sondeloos is as jy oorgeplaas is na die kant van God toe? Nee, dit is soos Paulus van homself skryf in Romeine 7. As hy sondig, is dit nie volgens sy wil nie, maar teen sy wil. Hy gaan dan ook nie rustig en sorgeloos aan met die sonde nie, maar hy stry daarteen, om in die krag van die Here elke keer weer te oorwin. Om nie te sondig nie, wil hier sê om nie in die sonde te lewe nie. Om nie aan te hou sondig sonder bekering nie. Verloste kinders kan nie in hul element wees terwyl hulle sondig nie, maar hulle is in hul element terwyl hulle die Here dien.

Dis nie omdat hulle uit hulself so goed is nie, maar vanweë die saad van God wat in hulle is. (3:9). Alle roem het hier weggedryf. Nie ons voeg iets by God se werk toe nie. Nie ons bring God se werk tot voltooiing nie. Maar God voltooi Sy werk self deur die Heilige Gees.

Die Heilige Gees wat deur die Woord, die saad van die wedergeboorte, nuwe lewe in ons werk. As u, broeders en susters, nie sondig nie; as u nie in sonde bly lewe nie, dan is dit dus nie vanweë u uitnemendheid nie, maar vanweë die werk van verlossing wat God self tot die einde toe volbring. God doen geen halwe werk nie. Hy bevry nie van die skuld om die res dan aan uself oor te laat nie. Om dit aan uself oor te laat of u wel of nie konkreet met die sonde sal breek nie. Nee, God voltooi die werk van Sy eie hande. Daarom behoort die goeie werke by die lewe van verloste kinders. Dit kan nie gemis word nie!

Gemeente, nadat ons gesien het dat goeie werke noodsaaklik is as afronding van God se werk, wil ons vervolgens sien dat die werke ook noodsaaklik is om seker te wees van ons geloof.

Goeie werke het nie alleen hul waarde vir God, dat Hy daardeur verheerlik word nie. Dit het ook hul waarde vir God se kinders self. Die kategismus formuleer dit so: "Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry."

Jy word, as kind van God, tydens hierdie lewe nog voortdurend versoek. Jy word gepla deur twyfelvrae: het ek wel rêrig deel aan God se verlossingswerk? Is ek wel werklik verlos? Die donker wolke van sonde wat oorgebly het kan die uitsig op God se verlossingswerk belemmer. Is my geloof wel 'n ware geloof?

En nou mag ons ontdek dat God die skeidslyne hier op aarde al trek. Dit is 'n sigbare skeidslyn, kenbaar: "Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar" sê Johannes, "elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie." (3:10). "Hy wat die sonde doen – dus wat in die sonde lewe – is uit die duiwel," sê hy elders (3:8).

Elkeen wat die geregtigheid doen is uit God gebore. Om die wil van God te doen gaan immers nie vanself nie. Daarvoor is Goddelike krag nodig, lewensvernuwende krag. Daarvoor is die wederbarende werking van die Heilige Gees nodig. Die saad van God moet aanwesig wees.

Broeders en susters, as u in u lewe bemerk dat u – al is dit met val en opstaan – die wil van God opvolg, dan mag u daardeur seker weet dat u deur geloof deel het aan God se verlossingswerk. Sonder hierdie verlossingswerk sou u uself immers nie druk maak om die wil van die Vader te doen nie. Elkeen mag uit die vrugte seker wees van sy geloof. Waar slegs die begin van die nuwe gehoorsaamheid te bespeur is, daar is in elk geval die begin. Daar is die werk van God self aanwesig. U sou geen begeerte gehad het om die Here te dien, en u sou geen berou oor u sonde geken het, as die Heilige Gees u nie nuut gemaak het nie." 'n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie." (Mattheus 7:16). Die natuur leer tog ook dat edele vrugte nie deur onkruid tevoorskyn gebring kan word nie. So kan u, broeders en susters, uit die vrugte van u lewe verseker wees van u geloof.

U geloof dra die kenmerk van die ware geloof, omdat die Gees van God daarin werksaam blyk te wees. Johannes sê: "Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe." Hoe weet ons dit? "omdat ons die broeders liefhet." (3:14). Uit die konkrete werke, byvoorbeeld met die daad en in die waarheid die broeders liefhê, sê Johannes 'n rukkie later, "weet ons dat ons uit die waarheid is." (3:19). Jy kan dit dus baie konkreet raaksien in jou lewe waar jy is.

Daar is voortdurend nog wel sondes in my lewe. Ek het nog geen volkome geloof nie. As ek moet verskyn voor die heilige God dan kan die onrus my oorval. My hart veroordeel my. Hoe kan ek voor Hom bestaan? Maar deurdat ek God se werke in my raaksien, kan my hart weer tot rus gebring word. By al die beskuldigings wat my eie hart teen my inbring, gee dit troos en rus, dat God meer as ons hart is, en Hy weet alles (3:20). God weet ook wat Hy in my begin het. Hy ken daardie begin van die nuwe gehoorsaamheid. En met dit, Sy eie werk, sal Hy rekening hou. So is daar by alle selfbeskuldiging voortdurend weer die rus en sekerheid van die geloof. Ook met betrekking tot die toekoms mag u rustig wees en sekerheid hê. "Hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het." (3:24). Die Gees staan waarborg vir die voltooiing van God se verlossingswerk. God laat nie vaar die werke van Sy hande nie.

Tenslotte sien ons dat die goeie werke ook noodsaaklik is met die oog op ons naaste: sodat deur ons godvresende lewenswandel ook ons naaste vir Christus gewen sal word.

Ons hoor die apostel Petrus sê: "Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking" (1 Petrus 2:11,12).

'n Goeie lewenswandel is belangrik, ook na buite toe. Dis 'n soort evangelisasie met die daad. 'n Mens merk op wat die lewensvernuwende kragte van God in die lewe uithaal. 'n Mens sien wat die geloof konkreet inhou en waartoe die geloof in staat gestel word. So kan ook by die teenstander 'n sekere bewondering ontstaan, met 'n moontlike gevolg van 'n erkenning van die Here self.

Dit sal duidelik wees, broeders en susters, dat ons lewenswandel dan wel 'n goeie, konsekwente wandel moet wees. Jy moet nie die een ding sê en 'n ander ding doen nie. Net alleen 'n konsekwente lewenswandel kan respek afdwing, sodat 'n mens verder kan sien. Van so 'n wandel gaan iets uit. Wie in sy daaglikse lewe skipper, met die doen van die wil van die Vader het niks om aan te bied vir ander mense nie. Dit lê op u, 'n groot verantwoordelikheid. Christus het daarop gewys toe Hy sy volgelinge die lig van die wêreld genoem het. In die wêreld wat deur sonde verduister is, vorm die gelowiges 'n lig. En volgens sy aard behoort ’n lig te skyn. Daar moet dus iets van jou uitgaan. Die werke van die duisternis moet ontmasker word. En die mense moet lig ontvang. So moet die wêreld aan u lewe en gedrag kan sien hoe afskuwelik die sonde is en tegelykertyd hoe heerlik die diens aan die Here is. Dit kan net alleen as u self werklik ‘verlig’ is. As u self deur die liefde van Christus aan die brand is in 'n lewe vol dankbaarheid.

Beantwoord ons wel aan hierdie roeping, gemeente? Is ons werklik 'n lig in hierdie wêreld, in ons omgewing? As ons nie met die daad en in waarheid so 'n lig is nie, dan sal ons getuienis met die mond geen krag hê nie. Dan maak ons die werk van evangelisasie by voorbaat kragteloos. Kan die mense rondom u dan ook aan u raaksien – aan u gedrag en woorde – dat u 'n lewende geloof besit, en dat die diens aan die Here 'n magtige, bevrydende saak is? Het u werklik iets om aan ander te bied? Wys u deur u gedrag tegelykertyd heen na u hemelse Vader? Dit gaan immers nie net om jou voorstelling in hierdie wêreld nie – nee, in u lewe gaan dit om die voorstelling van u hemelse Vader. Hy moet in die lig staan. U gedrag en woorde moet die aandag op Hom rig. Sodat die mense u goeie werke sien en u Vader wat in die hemele is, verheerlik. (Mattheus 5:16).

Broeders en susters, seuns en dogters, laat ons daarom met vreugde onsself beywer om die wil van Vader te doen, konsekwent. As voltooiing van God se verlossingswerk, om seker te wees van ons geloof en om ons naaste vir Christus te wen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)