Die self openbaring van die Here God aan Johannesannes op Patmos

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-12-31
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Openbaring 1:8

Lees: Ps 77; Openbaring 1:1-7
Teks: Openbaring 1:8

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Met die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar is dit goed om na te dink oor die verlede en oor die toekoms. Hoe het dit gegaan in die afgelope jaar? Verskillende dinge kom in ons gedagtes op. Sowel positiewe as negatiewe dinge. Daar was vreugde sowel as verdriet. Kinders is gebore maar daar was ook die droewige ervaring van die dood. Die meeste van ons was geseënd met goeie gesondheid. Ons kon studeer en werk. Maar daar was ook ernstige siekte en lyding, gebrek aan werk en geld. Die kerklike lewe het voortgegaan. Maar het ons werklik vooruitgang gemaak? Was daar geestelike groei? ’n Aantal lede het belydenis van hulle geloof afgelê. Ander lede het ’n pad gekies wat van die Here en sy kerk afdwaal. Ouers het geworstel om hul kinders op die paaie van die Here te lei en te bewaar. Die kragte van die sonde blyk nog so sterk te wees, dit lok ons weg van die Here en sy diens. Die sonde is nog so sterk in ons eie lewe. Wat het geword van ons goeie voornemens? Het u God werklik die eerste plek in u lewe gegee, by al u keuses en dade? Het u werklik gegroei in u liefde vir God en vir sy volk, geestelik gegroei? Dit was mos die doel van al God se sorg in die afgelope jaar: groei in geloof en liefde. Wat is sigbaar van die groei? Watter vooruitgang het God se kerk gemaak in hierdie wêreld en in hierdie land? Christus het beloof dat Hy gou sou kom. Wat sien jy daarvan? Watter vooruitgang het sy koninkryk gemaak sedert vorige jaar? Lyk dit nie eerder asof Satan se ryk groter vooruitgang gemaak het in ons land en maatskappy nie?

En hoe sal dit gaan in die komende jaar? Wat verwag u van die komende jaar? Ons hoop om binnekort die jaar van ons Here 1999 in te gaan. Wat verwag u van u God? Wie is Hy vir u? Laat ons luister na wat God oor Homself sê in ons teks.

Ek verkondig u: die self openbaring van die Here God aan Johannesannes op Patmos

Die Here maak Homself bekend as

1. die allesomvattende God
2. die troue God
3. die almagtige God

Johannes mag die self-bekendmaking van die Here God hoor. Hy mag dit hoor terwille van die kerk van die laaste bedeling. Hy mag dit hoor terwille van u en my. Wat hy hoor moet hy immers opskryf en deurgee.

Juis vir die kerk van die laaste bedeling is dit van die allergrootste belang om die self-openbaring van God te hoor. Die laaste dae word immers gekenmerk deur die feit dat die kerk se verwagtings en die realiteit van elke dag dikwels teëstrydig lyk. God praat van genade en vrede, van liefde en verlossing, maar wat sien ons daarvan? Die kerk leef onder die kruis. God sê dat Hy ons gemaak het tot konings en priesters, maar waaruit blyk dit? God spreek van die heerlikheid en krag wat aan Jesus Christus behoort, maar wat sien ons daarvan? Wat sien ons van die koms van Christus op die wolke en van die rouklag oor Hom? Die teenstanders van Christus gaan rustig voort met hul bespotting van Hom. Hulle verhef hulself steeds meer in krag. Johannes het op Patmos dit al ervaar. Dit het gelyk asof die heerlikheid en krag eerder by die keiser van Rome gelê het as by die Here Jesus. Die kerk het steeds meer onder die druk van die Romeinse mag te staan gekom. Johannes self was, toe hy die self-openbaring van God ontvang het, ’n banneling op die eiland Patmos. Hy was daarheen verban omdat hy getrou gebly het aan sy God. Die gelowiges lyk nes pionne op die skaakbord van die wêreld-grotes. Dit lyk asof hulle met die gelowiges kan maak net wat hulle wil.

In so ’n situasie klink die self-openbaring van die Here. Noudat die harde feite vir die kerk teëstrydig lyk met die pragtige woorde van God, maak God duidelik wie Hy is. Ons ontvang ’n besondere ryke self-openbaring.

Daar is ’n verskil van mening oor die vraag wie in die teks aan die woord is, God die Vader of Jesus Christus. Verskeie verklaarders sê dat die konteks waarin die teks staan aanwys dat Jesus Christus aan die woord is. Die Bybelboek begin mos met die woorde: Die openbaring van Jesus Christus en in die vervolg – sien vers 10 en volgende – hoor Johannes Jesus Christus praat. Volgens hierdie opvatting sou Jesus Christus Homself dan in ons teks voorstel as die Here God.

Alhoewel hierdie verklaring nie onmoontlik is nie, is dit meer voor die hand liggend om hier te dink aan die Here God self. Die Here God soos Hy veral tot ons kom in die Persoon van God die Vader. Dink maar aan die Ou Testamentiese openbaring. Die Here God kan dui op die drie-enige God, maar dit is veral die Vader wat dan op die voorgrond tree.

In vers 7 word gepraat van Christus se wederkoms op die wolke. In aansluiting daarby kom nou die drie-enige God aan die woord. Wat tot nou toe genoem is lyk teëstrydig met die werklikheid, maar Ek die Here God staan daarvoor borg dat die genoemde dinge werklikheid is. In My staan alles onwrikbaar vas. Ek is immers die Alfa en die Omega, se die Here God.

Die Alfa en die Omega, dit is die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet. Ons sou in ons taal sê die A en die Z. Tussen die twee letters staan alle ander letters. As God die A en die Z is, dan is Hy die allesomvattende God. Niks val buite sy regering nie. Geen ontwikkeling in die geskiedenis gaan buite Hom om nie. Ek is die Alfa, sê God. Ek is die eerste, die begin. Ek gaan alles vooraf. Voor My was daar niemand. Ek is die oorsprong, die skepper van alles en almal. Niks en niemand bestaan sonder My nie. Julle kan opsien na die grotes van die aarde, die maghebbers. Julle kan kyk na Rome en dink dat alles daar beslis word. Maar Ek is die eerste. Voordat die keisers van Rome daar was, was Ek lankal besig. Julle kan vandag kyk na Washington of New York en dink dat die beslissinge daar gefel word. Vergeet egter nie: Ek is die A, die eerste, sê God. Voordat die Amerikaanse president of die Verenigde Nasies daar was, was Ek al aanwesig. Hulle het hul bestaan en hul moontlikhede aan My te danke. Sonder My kan hulle niks doen nie. Julle is besorg oor sekere ontwikkelinge in die nuwe Suid Afrika.. Moenie paniekbevange raak as die nuwe etiek – of moet ek sê die nuwe gebrek aan etiek – steeds sterker word nie. Weet dit: Ek is die eerste. Die mense van die nuwe etiek kan niks sonder My doen nie en hulle kan alleen so ver gaan as wat Ek hulle toelaat. En weet dit: ek is nie slegs die A nie maar ook die Z, die einde. Ek voltooi die werk wat Ek begin het. My planne faal nie. My raad en wil sal volbring word. Ek kom van die A tot die Z. My werk gaan voort. Die leiers van die aarde maak ook geskiedenis, hulle doen groot dinge. Jy kan deur hulle beindruk word. Dit kan jou ook laat bewe. Maar wie vandag die seggenskap het is nie dieselfde as wie gister die mag gehad het nie. Mense kan begin met A, hulle kan miskien ook wel B sê maar op ’n sekere oomblik moet hulle stop. En ’n ander volg hulle op. Geen mens omspan die verlede, die hede en die toekoms nie. As mens kry jy nooit klaar met jou werk nie. Maar die Here God: Hy is die A en die Z. Wat Hy begin het voltooi Hy ook. Hy omspan die eeue. Sy werk gaan voort. Alles wat tussen die A en die Z lê word deur Hom beheers. Alles is gerig op die Z. Sy doel word bereik.

Laat u dan nie in verwarring bring deur wat voor oë is nie. Laat u nie in verwarring bring deur die lyding van die teenwoordige tyd nie, ook nie deur die lyding van Christene nie. Ek is die A en die Z, sê die Here God. Ek kom van die A tot die Z. My werk gaan voort juis langs die pad van lyding, bloed, vuur en rookdamp. Lees maar die vervolg van die boek Openbaring. Die weg van die A tot die Z is die weg van die 7 seëls, die weg van die 7 basuine en die weg van die 7 skale van die grimmigheid van God. Wat sal daar nie nog alles gebeur nie?! Verskrikking volg op verskrikking. Die wolke trek saam. Langs die weg word die Z bereik. Langs die weg kom die volheid van God se Ryk, waarin Hy alles sal wees in almal. Wees dus nie bevrees vir wat u sien en ondervind nie. Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Ek die Alfa en die Omega, die allesomvattende God.

Gemeente, die Here God vervolg sy self-openbaring deur Homself verder voor te stel as "wat is en wat was en wat kom." Dit bring ons by die tweede gedagte: die Here maak Homself bekend as die troue God.

Die woorde, "wat is en wat was en wat kom" herinner ons aan die naam waarmee God Homself aan Moses bekend gemaak het, Jahwe, HERE met hoofletters, wat beteken: Ek is wat Ek is, Ek sal wees wat Ek is. Ek sal laat sien dat Ek is wat Ek beloof het. Die onveranderlike, die troue God van die verbond. By elke uitdrukking staan die lidwoord daarvoor sodat ons dit letterlik kan vertaal: Ek is die Een wat is, die Een wat was en die Een wat kom.

As die Een wat is, is God die bestaan of lewe self, sonder oorsprong, of wording of einde. Die God wat geen ontwikkeling ken in sy wese of deugde nie, soos dit by alle skepsele die geval is. Die onveranderlike. Mense groei en verander. Wat vandag van iemand geld, geld môre miskien nie meer nie. Jy weet nooit presies waar jy aan mense toe is nie. Maar God wat is ken geen ontwikkeling of verandering nie. Wat Hy vroeër na sy wese was, dit is Hy nou en dit sal Hy altyd wees. Jy kan altyd weet waar jy met Hom staan. Jy kan vir 100% op Hom staatmaak.

Hierdie ewige onveranderlike God het Homself in die tyd geopenbaar. So het Hy Homself in die verlede getoon as die Een wat Hy na sy wese is: die altyd nabye en aktiewe God wat sy volk verlos. Dink maar aan die geskiedenis van Israel. Ons ken Hom as die God van die verbond wat trou bly tot in ewigheid. Hy het sy onwrikbare trou getoon toe Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het.

Wat die toekoms betref: ons het die belofte dat Hy Homself daarin sal bewys soos Hy is. Hy is mos ook die Een wat kom. Let daarop dat hier nie gepraat word van die verre toekoms nie. U moet die koms van God nie sien as iets wat eers aan die einde van die dae sal gebeur nie. In die teks word die teenwoordige tyd gebruik: Hy is die komende. Hy is besig om te kom. Jy mag en jy moet Hom van dag tot dag sien kom as die troue Verbondsgod. Hy is steeds die komende met sy genade en Gees. Hy hou nie op om te kom nie; totdat Hy uiteindelik sy tent onder ons sal opslaan om sonder onderbreking onder ons te woon.

Maar, gemeente, hoekom dan die teenspoed, die verdrukking en die benoudheid van die kerk en van God se kinders? Waaruit blyk dan die liefde en trou van God? Die benoudheid van die kerk kan soms so erg word dat dit ons as gelowiges amper te bowe gaan om alles te kan verwerk en om in God te bly vertrou. Hoe goed is God tog vir ons dat Hy in sy vaderlike sorg ons weer laat herinner aan sy naam: wat is en wat was en wat kom.

Miskien sê u: maar wat help die herinnering aan hierdie naam ons? God kan dit nou wel sê maar as Hy dit nie laat sien sodat ons dit kan bly glo nie; wat baat dit ons dan?

Asaf het in die Psalms 73-77 met dieselfde probleem geworstel. Israel se uiterlike omstandighede het teëstrydig gelyk met die trou van die Verbondsgod. Wat sê Asaf dan in Ps 77 oor wat hy toe gedoen het? Hy sê dat hy in sy benoudheid aan die dade en die wonders van die Here gaan dink het! Dink maar aan die berymde vers 6:

Maar ‘k wil liewer wees indagtig
Al u dade, groot en magtig,
Dade van die ou tyd aan
Wonderbaar deur u gedaan.
Ek wil let op al die merke
Van u onvolprese werke
En in plaas van bitter klag,
Daaroor nadink dag en nag.

Die Psalm het begin met ’n klag oor die hede. Die Psalm eindig met ’n lofsang op God se groot dade in die verlede. Asaf besing God se werke van verlossing. So wys die Psalm digter ook vir ons die weg uit die benouende probleem van die skynbare teenstrydigheid tussen God se trou en die harde werklikheid van die lewe. Terwyl hy eers besig was om die moeite waarin God se volk verkeer het, af te speel teen die belofte van God, het hy daarna geleer om die moeite te sien in die lig van God se belofte. Hy het begin om uit wat voor oë was te probeer aflei wie God was. Hy kon toe nie anders as om die ongerymdhede aan God toe te skryf nie. Ten slotte het hy geleer om in geloof, vanuit God se self-openbaring, te kyk na wat voor oë is. Toe het hy uit die probleem gekom. Want deur die oordenking van God se vroeëre dade het hy die waaragtigheid van God se naam weer ontdek. By die uittog uit Egipte het God bewys dat Hy is wat Hy was. So ook by die deurtog deur die Skelfsee, by die Sinai, by die bewaring van Israel in die woestyn ens. God was steeds dieselfde, die onveranderlike troue God. Toe Asaf dit sien het hy rus gevind, ook al het sy kommerwekkende omstandighede nog nie verander nie. In die lig van God se woorde en werke kan hy nie aan God se genade twyfel nie. Want die naam van Hom wat is en wat was en wat kom is ’n volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met God het.

Maar hoe is dit dan met die lyding van God se kinders? Kan God dan nie onmiddellik ’n verandering maak in die lot van sy volk nie? Kan Hy nie al die kwade van sy kinders weer nie? Waarom die plotselinge sterwe, waarom die aftakelende siekte, waarom die stryd van die kerk, waarom die ballingskap van Johannes op Patmos? Is God dan ’n magtelose God? Kan Hy soms nie keer dat die kwade sy kinders tref nie? Moet ons soms sing: Wat sy liefde wil bewerk, ontsê Hom sy vermoë? In sy self-openbaring aan Johannes vervolg die Here met: Ek is die Almagtige. Dit bring ons by die 3e gedagte: die Here maak Homself bekend as die Almagtige.

Die Here God sê: ek het alles, ja werklik alles, in my hand. Niks kan my besluit ooit keer nie. Alles moet en sal voor My buig. Ek is nie slegs magtiger as al die magte saam nie, maar ek is almagtig. Alle mag – ook van die duiwels en die goddelose – kom van My. Maghebbers hier op aarde het geen mag buite My nie. En Ek gebruik hulle – vrywillig of gedwonge – vir die uitvoering van my planne. My almag is ruimte-skeppend van aard. Ek gee die mens – ook die slegtes – die ruimte, die tyd en die krag om te handel. Ek maak erns met die eie verantwoordelikheid van die mens. Nee, dit is geen teken van weerloosheid nie. Want as ek ruimte skep dan is dit ’n bewuste aktiewe uitoefening van my mag. Dit is ’n bewys van my oormag. Sonder My kan hulle niks doen nie. Hulle kan nie meer doen as Ek vir hulle moontlik maak nie. So kan ook die kwade nie langer duur of swaarder wees as wat Ek bepaal nie. Langs hierdie weg gaan Ek soewerein my gang van die A na die Z.

Broeders en susters, het u moeite om hierdie weg van u God te begryp? Dit is omdat u mens is, ’n kortsigtige en sondige mensekind. God se beskikkings is ondeurgrondelik. Ons skepsels kan nie deurgrond waarom God by die een sus handel en by die ander een so nie. En as ons ons blind staar op wat voor oë is, dan kom ons nooit daaruit nie. Daarom geld onder alle omstandighede die opdrag: Luister na wat God oor Homself bekend gemaak het. Leef met ’n geopende Bybel. Dan sien jy dat God se trou en almag altyd aanwesig is. Wat sy liefde wil bewerk, ontsê Hom sy vermoë nie. Hoor hoe God Homself bekend maak: Ek is die Almagtige. Dit weerklink deur die hele Bybel. Dit word steeds weer genoem. Ek is wat Ek is, die Almagtige. Lees maar na in die Bybel. Gaan die geskiedenis maar na: dit is een groot bewys van die werklikheid van My self-openbaring. Vanaf die skepping het Ek myself bewys as die Almagtige. Ek gee maar ’n paar voorbeelde: Abraham sou ’n bloedeie seun ontvang. Abraham en Sara het beide nie meer die natuurlike vermoëns gehad om kinders te kry nie. Tog kry hulle ’n kind. Ek die Almagtige het dit gedoen. Rebekka was onvrugbaar. Ek die Almagtige het haar twee seuns gegee. Israel het baie swaar gekry in Egipte. Nogtans "hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei."(Ex 1:12). Ek die Almagtige het dit gedoen. Israel het geen enkele uitsig op bevryding uit die slawehuis gehad nie. Ek die Almagtige het die volk uit Egipte gelei met ’n sterk hand en met wonders en tekens. Ek die Almagtige het die volk gelei deur die woestyn. Die land Kanaän was menslikerwys gesproke oninneembaar. Ek die Almagtige het die land aan my volk gegee. So sal ons nog kan aangaan. In die volheid van die tyd het Ek my as die Almagtige bewys in die vleeswording van my Seun uit die maagd Maria. Gaan so aan met die lees van die geskiedenis, ook van die kerkgeskiedenis. So leer julle jul God ken. So is julle God.

Broeders en susters, ken julle jul God nog? Weet julle met wie julle die toekoms, die nuwe jaar mag ingaan? Lees en lees weer eens sy self-openbaring. Dan bly daar miskien allerlei onsekerhede in julle lewe en in ons land. Dan lyk die werklikheid miskien teëstrydig met die ryke beloftes van God. Maar hef u harte omhoog na die God van die A en die Z, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Laat u nie in verwarring bring nie, laat u nie verskrik nie. Die Here God laat nie vaar die werke van sy hande nie. Hy gaan onkeerbaar van die A na die Z. Hy is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Ook in 1999 sal sy planne uitgevoer word en sy koninkryk kom.

Liturgie: 

(kyk in preek)