Jesus Christus is gebore onder die wet sodat Hy ons van die wet sou bevry

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-12-27
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:22-24

Ds. C Kleyn

Lees: Exodus 13:1,2,11-16; Levitikus 12
Teks: Lukas 2:22-24

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Rond die tyd van kersfees word die aandag gewoonlik gerig op die feit dat Jesus gebore is uit ’n vrou. Hy het die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria aangeneem. Op sigself gesien is dit logies dat die aandag daarop gevestig word. As ek Jesus Christus nie ken as een van ons nie, as ons eie vlees en bloed, dan het kersfees vir my geen waarde nie. My saligheid hang mos af van die feit dat God se Seun werklik uit ’n vrou gebore is.

Tog is daar meer wat met kersfees ons aandag vra. Paulus spreek daarvan in sy brief aan die Galasiërs. In hoofstuk 4:4,5 vat hy die kersboodskap saam met die woorde: "Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang." Die feit dat Jesus gebore is onder die wet moet ook ons aandag hê. Anders sou die groot troos van kersfees ons nog ontgaan. Anders sou ons nog nie die aanneming tot kinders ontvang nie, die volle regte van kinders.

In Lukas kry beide elemente – gebore uit ’n vrou en gebore onder die wet – aandag. Die eerste gedeelte van hoofstuk 2 vestig die aandag op die geboorte uit ’n vrou, terwyl die verse 21-39 die aandag vestig op die geboorte onder die wet. Lukas skrywe sy evangelie in ’n tyd waarin die Christelike kerk nie meer aan die Mosaïese wette verbonde was nie. Dit is iets van die verlede. Ons kan wel daaruit leer maar ons is nie meer aan die seremoniële wette gebind nie. Ons is vrygekoop van die wet. Die wet as tugmeester na Christus toe is vervul. Want Christus het Homself onder die wet geplaas en dit vir ons vervul. Daarom mag ons nou in die vryheid as die kinders van God lewe.

Ek verkondig u: Jesus Christus is gebore onder die wet sodat Hy ons van die wet sou bevry.

Sy ouers bring Hom na die tempel om

  1. die reinigingsoffer te bring;
  2. Hom aan die Here voor te stel.

In ons teks word die wet van die Here verskillende male genoem. Alles gebeur volgens wat die Here in die wet voorgeskryf het. As ons die woorde van die teks wil verstaan dan sal ons terug moet gaan na die Ou Testamentiese voorskrifte.

Josef en Maria gaan nie na die tempel voordat die dae van reiniging vervul is nie. Ons lees oor die reiniging in Levitikus 12. Daarin word die volgende bepalings aangaande vrouens wat geboorte geskenk het aangeteken. ’n Moeder het ’n kindjie in die wêreld gebring. Soos ons moeders ons in die wêreld gebring het. Na die geboorte van ’n seun was die moeder 40 dae onrein. Tydens dié dae mog sy niks aanraak wat heilig is nie. Sy mog nie die heiligdom binnegaan nie. Die publieke erediens, die kerkdienste, was dus vir haar verbode, totdat die dae van reiniging verby was. Eers na die 40 dae van reiniging was die ban opgehef en was sy weer welkom in die erediens. Na die geboorte van ’n dogtertjie was die periode selfs 80 dae. Om weer toegang tot die tempel te kry moes sy eers ’n reinigingsoffer bring: ’n jaaroud lam as brandoffer en ’n jong duif of tortelduif as sondoffer. As sy ’n lam nie kon bekostig nie, dan mog die brandoffer ook ’n duif in plaas van ’n lam wees. Sy moes die offer by die ingang van die tent van samekoms bring. Die priester sou dit dan in ontvangs neem en vir haar offer. Daarna was die moeder weer rein verklaar en het sy weer vrye toegang tot die heiligdom gehad.

Gemeente, waarom hierdie streng voorskrifte vir die Moeders? Ons hoef regtig nie te soek na ’n mediese verklaring nie, asof die voorgeskrewe tydperk nodig sou wees vir die herstel periode van die moeder. Wie sal kan beweer dat ’n vrou na die geboorte van ’n dogter twee maal so lank nodig het vir herstel as na die geboorte van ’n seun?! Hierdie verskil laat sien dat God die wet nie ingestel het om gesondheidsredes nie.

Waarom dan die tyd van onreinheid en die offer van reiniging daarna? Was dit miskien minderwaardig of selfs sleg vir ’n vrou om ’n kind te baar dat sy daarvoor sou moes boet door middel van ’n afsondering van 40 of 80 dae? Was dit so swaar ’n sonde dat sy daarvoor ’n sondoffer moes bring? As ons lees hoe die Bybel praat oor die huwelik en die kinderseën dan weet ons van beter. Die huwelik, die seksuele omgang binne die huwelik, en die kry van kinders word in die Bybel juis gewaardeer as skone gawes van God. Dit is nie minderwaardig, sleg of sondig nie, nie iets wat ons waar moontlik sou moet vermy nie.

Waarom dan die onreinheid van die moeder 40 dae lank na die geboorte van ’n seun? Gemeente, hier sien ons God besig as ons leermeester. As pedagoog wil God sy volk van die erns van die sonde bewus maak. Die sonde waarin elke mens, dus ook waarin u en ek, gebore is. Hierdie voorskrifte met betrekking tot die moeder dien as ’n baie indringende prediking van die erfsonde. Die leer van die erfsonde was vir die Israeliete nie ’n abstrakte en vae leerstuk soos dit dikwels onder ons die geval is nie. Wie dink by die geboorte van ’n fraaie baba nog werklik aan die erfsonde? Die Jode was voortdurend daarmee gekonfronteer in die praktyk van hul daaglikse lewe. Geen moeder wat pas geboorte geskenk het kon toegang tot die tempel verkry totdat die dae van haar reiniging verby was en sy ’n reinigingsoffer gebring het nie. Dit is veelseggend. By elke geboorte, by elke wieg was daar die herinnering aan die sonde. God sê: u mag nie voor My verskyn nie want die vloek van die sonde is weer oorgedra op die nuwe geslag. Ons hoor Job sug: Ag, kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine – nie een nie."(14:4). Die bron van die lewe is deur die sonde verdorwe. Na die sondeval kan ’n man en sy vrou slegs die vloek en die dood aan hul kinders oordra. Elke kind wat aan hulle verbind is, is ’n kind van die dood, in sonde ontvang en gebore. Bo die kraambed en bo die wieg hang die vloek.

Broeders en susters, u word elke keer weer daaraan herinner as ’n baba gedoop word. Die formulier en die sakrament self herinner ons daaraan dat ons kinders vuil, onrein, sondig is, ja selfs aan die ewige oordeel onderworpe is. Hierdie woorde is hard en fel. Dit moet ons diep tref. Van nature is ons kinders aan die verdoemenis onderworpe, kandidate vir die hel.

Om dit duidelik te maak is die moeder onrein verklaar in dit Ou Testament. Sy het ’n kind voortgebring wat aan die ewige oordeel onderworpe is. Daarom die reiniging 40 dae lank by ’n seun en 80 dae lank by ’n dogter. ’n Droewige saak. ’n Herinnering aan die voortgaande vloek. ’n Vloek oor moeder en kind.

Letterlik praat Lev 12 slegs oor die moeder. Sy word onrein verklaar. As die dae van haar reiniging verby is, moet sy die offer bring. Die vertaling van ons teks praat ook oor die dae van haar reiniging. Op grond van die Griekse handskrifte is dit waarskynlik meer juis om Lukas 2:22 soos volg te vertaal: "En nadat die dae van hul reiniging vervul was." Die meervoud – hul in pleks van haar - is opvallend. Dit laat uitkom hoe nou die kind betrokke is by die reiniging van sy moeder. In hierdie periode is moeder en kind een. Hulle bly bymekaar. Die kind kan nie sonder sy moeder wat hom steeds weer voed nie. Daarom gaan die moeder nie sonder haar kind na die tempel nie en die kind nie sonder sy moeder nie. Maar dit beteken dat die onreinheid van die moeder ook die weg van die kind na die tempel blokkeer. Die kind kry alleen saam met sy moeder toegang tot die tempel door middel van die reinigingsoffer.

Lukas wys op die betrokkenheid van Jesus by die offer van Maria. Dit werp ’n besondere lig op die koms van hierdie heilige kind in die tempel. Jesus word vir die eerste keer van sy lewe gebring na die aardse huis van sy Vader. Jesus is mos ook die Seun van God die Vader. Hy word so te sê tuisgebring. Maar wat sien ons? Hy mag nie eens binnekom sonder die reinigingsoffer nie. Die offer is ook vir Hom nodig.

Hoekom? Jesus Christus is tog sonder sonde? Hy is tog volkome rein? Hoe kan die reinigingsoffer dan vir Hom nodig wees? Hy het tog geen deel aan die erfsonde nie? Hier het ons tog te doen met ’n reine wat voortgekom het uit ’n onreine vanweë sy ontvangenis van die Heilige Gees? Tog word hy aan ons voorgestel as ’n onreine, soos een wat in sonde gebore is. Hy is onder die wet van die reiniging, húl reiniging. Gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet. Ook hy moet 40 dae van die tempel wegbly. Want God die Vader sê: Die moeder en die kind is nog nie welkom nie, die moeder Maria en die kind Jesus.

Waarom is dit só? Omdat God Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak het (2 Kor 5:21). Let op die uitdrukking: sonde gemaak. Hy het nie slegs ons sonde gedra nie maar Hy het as 't ware een brok sonde geword. Hy het om ons ontwil tot vloek geword. Daarom is die reiniging nodig. Sonder reinigingsoffer is daar geen toegang tot die Vader nie. Hierdie gebeure onthul sy lewenstaak: Hy moet betaal om vir ander mense vrye toegang te koop. Hy moet die wet vervul vir wetsoortreders. Hy moet hul plek inneem.

Broeders en susters, die reinigingsoffer wat hulle bring is ’n offer van die arme. Blykbaar kan hulle nie ’n lam bekostig nie. Hulle kom met twee duiwe: een as brandoffer en een as sondoffer. Die koninklike familie, met die kroonprins Jesus Christus, kom met die offer van die armes: twee duiwe. In 2 Kor 8:9 lees ons hieroor: "Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word."

Die reinigingsoffer het nie slegs van sonde gespreek nie, maar ook van versoening. So dikwels as daar in die voorhof ’n duif geoffer was, was daar gewys op die bloed van Jesus Christus, die lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29). Die moeder was weer rein verklaar. Sy het weer toegang gekry tot die huis van God op grond van die bloed van Jesus Christus wat eenmaal op die kruis sou vloei. So was die wet ’n tugmeester na Christus toe. Die mense moes op kyk na Hom wat werklik sou verlos van die sonde, ook van die erfsonde.

Josef en Maria kom met Jesus in die tempel langs die weg van die reinigingsoffer. Hier staan Hy van wie al die offers geprofeteer het, God se sondelose Seun. Hy kom om te bevry van alle vloek en oordeel. Hy gaan sy eie moeder reinig van sonde. Hy gaan alle gelowiges, moeders, vaders, seuns en dogters reinig van hulle sondes. Met sy onskuld en volkome heiligheid kom hy my sonde waarin ek ontvang en gebore is voor God bedek. Die reinigingsoffer wat vir Hom en sy moeder gebring is gee sy taak aan. Die offer spreek nie van lewe en bevryding vir Hom nie, maar dit spreek van sy dood sodat ons kan lewe.

Gemeente, agter elke Christelike huwelik, agter elke Christelike geboorte staan die gebore Verlosser. Hy versprei sy lig oor die kraam-sale, oor die babawiegies. Wat ’n ryke troos vir ons as ouers. Ja, Hy versprei sy lig oor ons hele gesinslewe, in alle voor en teenspoed, in sonde en stryd. Hy het ons verlos van die vloek. Daarom behoort ons kinders gedoop te wees. Hoewel hulle in sondes ontvang en gebore is, is hulle nogtans in Christus geheilig. Christus het Homself onder die seremoniële wet gestel om ons daarvan te bevry. Hy het ’n einde gemaak aan alle reinigingsoffers. Hulle is nie meer nodig nie. Christus het hulle vervul. Hy het ons gepromofeer tot mondige kinders wat mag lewe in die vryheid van Christus, met die bediening van die versoening.

Dit bly waar dat ons almal nog onrein gebore word. Ons sien maar al te dikwels die droewige gevolge daarvan: sondige kinders, sondige ouers, ongehoorsaamheid, misbruik van mag en gesag, onwysheid, ongevoeligheid, onregverdigheid ens. Maar daar is versoening. Die babas word as heiliges die kerk binnegedra. Ons hoef daarvoor nie 40 of 80 dae te wag nie. So gou as moontlik mag ons hul laat doop, in Christus geheilig.

Ja, in Christus. Hy het Homself voor sy Vader gestel om Sy wil te doen. Dit is die tweede gedagte.

Die tema was: Jesus Christus is gebore onder die wet sodat Hy ons van die wet sou bevry.

Sy ouers bring Hom na die tempel om

  1. die reinigingsoffer te bring;
  2. Hom aan die Here voor te stel.

Ons lees in ons teks dat Josef en Maria Jesus na Jerusalem bring om Hom aan die Here voor te stel. Dit is blykbaar die doel van hul reis. Dit gaan nie in die eerste plek om die reinigingsoffer nie. Die offer is wel belangrik - sonder die offer sou daar geen toegang tot die tempel en dus geen voorstelling van Jesus plaas kan vind nie - maar dit is ondergeskik aan die voorstelling van Christus. Die voorstelling is die hoofsaak en doel van die reis na Jerusalem. Dit word dan ook eerste genoem en eers daärna word die offer genoem.

Maar wat word daar bedoel met die voorstelling van Jesus aan die Here? Dit is nie slegs om jou kind aan die Here voor te stel om só uiting te gee aan jou dank vir die kinderseën nie. Die bedoeling is om so ’n kind aan die Here oor te gee, om hom volledig in God se diens te stel. Die woord voorstel is dieselfde woord wat in Lukas 1:19 gebruik word vir Gabriel wat "voor God staan". Om iemand aan die Here voor te stel beteken dus dat jy die persoon aan die Here oorgee om in Sy teenwoordigheid te dien.

Lukas verwys na die Ou Testamentiese reël: elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word. Die agtergrond van die bepaling was die feit dat die Here alle eersgeborenes van Egipte gedood het. Die eersgeborenes het ’n spesiale waarde. Hulle is beskou as die krag van die volk. In hulle was die voortgang van die lewe in die geslagte mos sigbaar. As die Here die eersgeborenes in Egipte doodmaak dan tref Hy die Egiptenare in wat vir hulle die eerste en beste is, die belangrikste. God verbreek die krag van Egipte.

Na daardie gebeure eis God dat alle eersgeborenes van Israel aan Hom gewy sal wees. Hy het sy volk verlos , via die bloed aan die deurposte. Nou moet sy volk homself uit dankbaarheid aan Hom oorgee. Dit moet getoon word deur alle eersgeborenes aan die Here af te staan vir sy diens. Die krag van Israel moet vir die Here wees. Wie die eersgeborene aan die Here afstaan weet: alle lewe behoort aan Hom. Die eerste en beste van alles moet aan Hom gewy word om duidelik te maak dat Israel ’n heilige nasie is, ’n koninkryk van priesters.

Omdat die eersgeborene vir die Here heilig is, het Maria en Josef die kind Jesus so spoedig moontlik aan die diens van die Here gewy. Dit is opvallend dat in ons teks niks gesê word oor die lossing van hierdie eersgeborene nie. Na die sonde met die goue kalf mog slegs die stam Levi diens doen in die tempel. Die Leviete het die plek geneem van die eersgeborenes. Die wyding van die eersgeborenes is dan afgekoop en oorgedra aan die Leviete. As losprys moes die mense vir elke eersgeborene 5 sikkels betaal. Die teks sê niks oor die loskoop nie. Tog sal dit waarskynlik wel gebeur het. Christus mog mos nie die priesterlike diens van die :Leviete vervul nie. Ons teks wil benadruk dat Christus wel aan die Here gewy is. Ook al is Hy dan geen Levitiese priester nie, staan Hy wel in die besondere diens van die Here. Dit het sy ouers geweet. Die engel Gabriel het mos vir Maria gesê dat haar seun heilig sal wees. En sy naam Jesus wys ook op sy besondere. Daarom het Maria en Josef hierdie eersgeborene, waaroor Gabriel sulke groot dinge gesê het, so spoedig moontlik – na die voorgekrewe periode van 40 dae – aan die Here gewy.

Jesus Christus is onderworpe aan die wet betreffende die eersgeborenes. Hy is heilig vir die Here, aan Hom toegewy. Daarna neem sy ouers Hom saam terug na hul huis. Die priesters gaan voort met hul plaasvervangende offerdiens. Christus moes toe nog plek maak vir die Levitiese priesters. Ongeveer 30 jaar later sal Hy terugkom in Jerusalem. Nie as Levitiese priester nie. Maar as Priester-Koning volgens die orde van Melgisedek. Hy kom dan om die offerdiens van die priesters te vervul. Hy sal hom voorstel as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra. As Priester en Lam sal Hy homself aan die kruishout laat doodbloei. Sodat ons weer voor God kan verskyn sonder vrees om Hom te dien as profete, priesters en konings.

Alle eersgeborenes moes aan die Here afgestaan word. As herinnering aan Israel se bevryding uit die slawehuis van Egipte. Alle eersgeborenes van Egipte is doodgemaak. Israel moes slegs bloed aan die deurposte stryk. Die eniggebore Seun van God gee Homself oor. Hy word gedood om God se volk in vryheid te stel. Nie lank na die geskiedenis van ons teks nie sal Jesus na Egipte moet vlug. Mattheus vermeld daarby dat dit is gebeur "het sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my seun geroep." Eeue gelede was Israel, God se seun, uit Egipte geroep en vir God heilig verklaar. Hoekom? Vanweë die lyding en sterwe van Jesus Christus, God se eniggebore Seun. Vanweë die lyding wat gesimboliseer was deur sy vlug na Egipte en wat uitgeloop het op sy dood aan die kruis.

Hy is gebore onder die wet. Hy het Homself gestel onder die wet. Waarom? Om u en ek vry te maak van die vloek van die wet. Sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. Hy het die wet as tugmeester tot Christus vervul. Ons is nie meer aan die wet van reiniging onderwerp nie. Ons is nie meer afhanklik van die diens van die Leviete wat as ons plaasvervangers in God se huis moes optree nie. Hul seremoniële diens kon nie die ware versoening bring nie. Dit was slegs ’n simboliese voorafskaduwing van wat Christus sou bring. Hy het die genade en waarheid self gebring.

Gemeente, ons het nou die waarheid self ontvang. Die waarheid waarop alles in die Ou Testament gerig was. U plaasvervanger het Homself oorgegee aan God en dus aan mense: Priester en offer in een. Die ewige oordeel, waaraan ons van nature onderworpe is, het Hy ondergaan. Hy het die sonde wat skeiding gebring het tussen God en ons versoen. U mag voor God verskyn sonder vrees. Saam met u kinders.

Jammer genoeg is daar nog steeds die sonde. Ons gee die sonde aan ons kinders deur. Hulle word nog steeds in sonde ontvang en gebore. Tog mag ons lewe en werk in dié lig. Ons mag trou, kinders kry, ons gesinslewe lei terwyl die lig van God se aangesig oor ons skyn. Sou ons dan nie die Here met vreugde dien nie, as sy profete, priesters en konings.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)