Deur die verskyning aan die herders laat die Here sien dat Hy ons in sy gemeenskap wil terughê

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-12-25
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:8-12

Ds. C Kleyn

Lees: Openbaring 21:22-22:5; Lukas 2: 1-7
Teks: Lukas 2:8-12

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons leef in ’n wêreld vol van angs en vereensaming. Deur van God weg te beweeg het die Westerse mens steeds meer en meer vereensaam. In ’n wêreld sonder God heers eensaamheid. Die huidige individualisme bevestig slegs die eensaamheid. Die moderne mens ly aan voortgaande vereensaming.

Tydens hierdie kersdae sou jy dit nie verwag nie. Laat die kerstyd nie sien dat mense nog vir mekaar omgee nie? Mense soek mekaar se geselskap op. Familielede en vriende kuier gesellig by mekaar. Is daar dan nog sprake van ’n diepe eensaamheid?

Tog wel. Na die roes van die fees bly daar die nare gevoel van vereensaming. Die alleenstaande onder ons weet wel wat met hierdie voorbeeld bedoel word. Hoe voel dit as jy alleen staan? Jy kan die geselligheid van die vriende- of familie-kring opsoek. Jy kan ’n mooi dag saam hê, maar as die dag verby is dan is jy tog weer alleen. Die alleen-wees word na so ’n gesellige dag des te pynliker ervaar.

Wel, so gaan dit met die mens wat God uit sy lewe weggedruk het. Die mens kan tydelik geniet van die roes van die geselligheid hier op aarde maar hy bly in wese eensaam. Sonder God is daar die eensaamheid, die fundamentele eensaamheid. Jy kan wel jou heil soek in die groep, maar die groep hou jy nie altyd by jou nie. Tydens ’n krisis in jou lewe of as jy die dood voor oë het dan moet jy dit tog self verwerk, alleen. Jy is op jouself aangewys. Die mense kan op ’n gegewe oomblik jou nie meer help nie. En dan staan jy of lê jy daar alleen, heeltemal alleen, sonder om op iemand terug te kan val. Is dit dan vreemd dat angs jou dan beet kry?

Gemeente, in so ’n wêreld van angs en vereensaming het God met kersfees neergedaal. Die Here God het gekom om die angs en eensaamheid op te hef. Hy het gekom om vir mense gemeenskap te skenk en te skep. Sy Seun mag die naam Immanuël verwesenlik: God met ons. In Hom het God self onder ons kom woon.

Dit sien ons, brs en srs, reeds by die verskyning aan die herders op die velde van Judea. Ek vat die woord van die teks as volg vir u saam:

Deur die verskyning aan die herders laat die Here sien dat Hy ons in sy gemeenskap wil terughê.

1. Kyk maar na God se heerlikheid rondom die herders.
2. Luister maar na God se boodskap aan die herders.

Onmiddellik na die geboorte van die Here Jesus, maak God die geboorte bekend. Hy stuur een van sy engele. Wie ontvang as eerstes die geboorteberig? ’n Klompie eenvoudige herders, wat wag hou oor hul skape. God stuur sy engel na hierdie mense van die "nag". Die herders het nie ’n goeie reputasie gehad nie. Hulle was verag. Hulle is beskou as rowwe, onbetroubare mense. In die maatskappy is sekere regte hulle selfs ontneem. Hulle mog bv nie as getuies optree in die geregshof nie. Tog stuur God sy engel na hierdie herders op die veld. Hy kies hulle uit om as eerstelinge die boodskap van Jesus se geboorte te hoor. Hulle mag die eerste getuies wees van die geboorte. God wil hulle juis gebruik om as sy getuies op te tree om die geboorte van sy Seun oral bekend te maak (kyk maar na Lukas 2:17).

Waarom kies die Here sulke mense? Omdat die Here omsien na sy volk. Gewone mense uit die volk geniet voorkeur. Waarom klim ’n koning of president, wat ’n afgeleë provinsie besoek, op ’n sekere oomblik uit sy kar om met die onbekendes op straat te gesels? Omdat hy in sy volk geïnteresseer is. So soek God sy volk op. Hy skaam Homself nie om Hom met hierdie gewone mense, ja selfs met hierdie veragte mense te meng nie. Hy soek juis die veragtes op. Nie die trotse Skrifgeleerdes en Fariseërs nie. God laat hulle rustig verder slaap. Maar die eenvoudige herders ontvang eerste die geboorte-berig van die Heiland.

Opeens staan ’n engel van die Here voor die herders op die veld. Die duisternis van die nag verander skielik in lig. Want met die engel verskyn die heerlikheid van die Here. Wat is die heerlikheid van die Here? Dit is die stralende glans wat sigbaar word as die Here self verskyn. Dit is die sigbare teken van die teenwoordigheid van die Here in eie Persoon.

So kom die herders opeens in ’n see van lig te staan. Die heerlikheid van die Here omstraal hulle. Die lig van God verlig hulle van alle kante. Dit omring hulle soos ’n vurige muur. Vir ’n oomblik is die veld ’n stukkie paradys. Die herders verkeer in die volle glorie van God se teenwoordigheid.

Gemeente, ons word herinner aan die verlore paradys. In die hof van Eden het die Here God met Adam en sy vrou gewandel. Daar was ’n onverhinderde gemeenskap met God, blydskap, lewe en lig. Maar deur die sonde is die lig uitgedoof. Dit het donker geword op aarde. In pleks van lewe en gemeenskap het angs en eensaamheid gekom. Die mens het homself verberg vir die Here. Die mens het die satan as sy meester aanvaar. Satan die heerser van die duisternis. Met so ’n meester is daar niks anders as eensaamheid, duisternis en dood nie. Die paradys is vir die mens geslote. Die mens mag nie meer van die boom van die lewe eet nie. Die mens kan nie langer sommer verkeer in God se gemeenskap nie.

Maar in die kersnag sien ons opeens weer ’n flits van God se paradys. Dit is waar, dit was nie die eerste keer dat God flitse van die paradys-weelde gegee het nie. Onmiddellik nadat Hy die mens verdrywe het uit die paradys het God Hom ten doel gestel: om opnuut onder die mense te woon. Daar moet ’n nuwe paradys kom. Die Here verlang daarna dat die volke weer by Hom woon en dat Hy weer by hulle woon. Dan sal die ganse aarde ’n groot paradys wees, vol van die heerlikheid van God.

Die nuwe paradys sal kom. Dit het die Here steeds weer laat sien. Steeds weer was daar flitse, verskynings van die heerlikheid van die Here, tekens van die nuwe paradys waar God weer onbelemmerd onder die mense sal woon.

Moses het die engel van die Here in ’n vuurvlam uit ’n doringbos gesien. Die engel van die Here is die Seun van God voordat hy mens geword het. Die Seun van God het toe verskyn, omring deur die heerlikheid van sy Vader. God het getoon dat Hy weer gemeenskap met mense soek.

So was die tabernakel en later die tempel gevul met die heerlikheid van die Here. Op sigbare wyse het God sy volk laat weet dat Hy onder hulle wou woon. Dit was toe een plekkie in hierdie donker mensewêreld wat vol was van sy heerlikheid. Dit was natuurlik baie verblydend en troosryk. Tog was dit ook baie arm. Die teken van God se teenwoordigheid was slegs te vind in die tempel, agter die gordyn, in die heilige der heilige, op die verbondsark.

Gemeente, as eeue later die heerlikheid van die Here aan die herders verskyn, dan is hierdie verskyning iets baie besonders. Dit is heeltemaal anders as ooit tevore. Die teken van God se teenwoordigheid verskyn nie in die tempel nie maar daarbuite. Die teken verskyn ook nie op die berg Sion nie maar op die veld. God in sy heerlikheid besoek eenvoudige herders wat die vertroosting van Israel verwag. Hulle mag in sy lig woon.

Dit is opvallend dat die herders omring word deur die heerlikheid van die Here. Van alle kante staan hulle in die lig. God se arms omsluit sondaars. Hulle woon by Hom in die lig tydens hierdie oomblik van heerlikheid. So iets het God nog nooit voorheen gedoen nie. Dit is heeltemal uniek. Niemand het ooit so iets beleef, selfs nie Moses by die brandende doringbos of op die berg Sinai nie. En toe God in die tabernakel en tempel ingetrek het, was dit opvallend dat God sy heerlikheid met ’n wolk omhul het. Die vuur as teken van God se teenwoordigheid moes bedek word. Anders sou die volk die verskyning nie kon verdra nie.

In die kersnag verskyn egter die goddelike lig sonder sluiers rondom die herders. Ons kry ’n flits van die volledig herstel van God se paradys. Dit is maar ’n flits, ’n kort oomblik van heerlikheid, maar dit is vir ons ’n ryk profesie van die komende ewige heerlikheid. God wil by sy volk woning maak. Ons mag vir ’n oomblik die feesverligting van die paradys sien. Want God is besig om daarheen te werk: die nuwe paradys, die komende ligstad. Dan sal die ganse aarde vol wees van sy heerlikheid. Dan sal die woning van God op hierdie aarde wees, die tent van God by die mense. Die heerlikheid van God sal hierdie stad verlig.

Johannes op Patmos het die heerlike toekoms van die kerk gesien. Laat ons dit saam volg in Openbaring 21. Vers 1&2: Joh het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Hy het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Joh het ook hiervan iets gehoor, vers 3: "En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God." Joh het geen tempel in daardie stad gesien. Kyk maar na vers 22,23. "want die Here God , die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp."

Wat ’n geweldige ligstad. Onvoorstelbaar groots! Daarvan het ons in die kersnag ’n flits ontvang. God wil by ons mense woon. Sy heerlikheid sal ons uiteindelik dag en nag omstraal. Die aarde en ons mensheid sal nie in die duisternis, wat ons oor onsself gebring het, bly nie. God se lampe kan nog op aarde brand. Dit het ons gesien op die veld in die landstreek van Judea. Die herders word opeens deur ’n see van lig omring.

Broeders en susters, ons kan verstaan dat groot vrees die herders oorweldig het. Watter sondige mens kan woon in so ’n lig? Wie kan verkeer in die woning van die groot God? Daar is vir die herders geen uitweg nie. Rondom hulle is daar ’n muur van glinsterende lig. Net waar hulle kyk sien hulle die vuur van God se heerlikheid. Hulle is ontbloot in hul armoede en sonde. Die lig van God skyn deur hulle heen. Wie kan dan bestaan? Hulle kan egter nêrens vlug nie. Die muur van vuur hou hulle teë. Geen uitweg nie. Al wat oorbly is om te val in die hande van die lewende God. Wie sou dan nie vrees nie?

Dan klink die stem van die engel: Moenie vrees nie. Hou op om bang te wees. Maar is dit moontlik om sonder vrees te verkeer in die teenwoordigheid van die heilige God? Ja, sê die engel, dit is, dit moet. Jy hoef regtig nie bang te wees nie. "Want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap". Hiermee verklaar die engel hoe dit moontlik is om sonder vrees in God se teenwoordigheid te verkeer. Dit bring ons by die tweede gedagte.

Deur die verskyning aan die herders het die Here laat sien dat Hy ons in sy gemeenskap wil terughê.

Ons het dit gesien in God se heerlikheid rondom die herders.

Ons wil dit vervolgens sien in die boodskap aan die herders, die tweede punt.. Luister maar na God se boodskap aan die herders.

Let op, sê die engel, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap. Die engel het so ’n geweldige boodskap dat hy as ‘t ware byna oor sy woorde struikel. Letterlik sê hy: Ek bring julle die blye boodskap van die groot blydskap. Die engel wil duidelik maak dat hy iets groots te vertel het, iets wat werklik bly maak.

Die blye boodskap moet alle vrees verban. God het raad vir ons nood en angs. Hy stel daarteenoor die blye boodskap van verlossing. Op grond van daardie boodskap kan die mens God sien en lewe. U hoef nie langer bang te wees om God te ontmoet nie.

Die boodskap is bestem vir die herders en vir die hele volk. "Ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees." Die Here is besorg oor sy hele volk. Hy wil sy volk in sy gemeenskap laat deel. Nie slegs die enkeling, die losse individu nie. Ook nie slegs ’n kerklike elite nie, mense wat hulle op ’n sekere mate van kennis of op ’n sekere ervaring kan beroem nie. Dit is ’n saak vir die hele volk in al sy skakerings, vir armes en rykes, eenvoudiges en geleerdes, jonk en oud. God se blye boodskap van genade en vrede word aan almal verkondig, sonder aansien van die persoon. Die feit dat God die herders as eerstes opgesoek het is daarvan ’n duidelik bewys.

Waarom is dit so ’n blye boodskap? "Vir julle is vandag in die stad van Dawid gebore die Saligmaker wat Christus, die Here is." Dit is die inhoud van die kersboodskap. Met nadruk staan in die oorspronklike teks die woord gebore voorop: Gebore is vir julle die Saligmaker. Dit is nou sover. Eeue lank het mense daarop gewag, daarna uitgesien. Dit is nou werklikheid. Die saad van die vrou wat die kop van die slang sal vermorsel, die saad waarop alles in die Ou Testament gefokus is, is gebore.

Die Saligmaker is gebore. Met hierdie titel dui die engel die betekenis van hierdie kind aan. Hy is die Saligmaker, die Redder. Hy kom om die mense te red en te bevry uit hul benoudheid. Vanaf die sondeval sit ons mense in benoudheid, in angs en eensaamheid. Van alle kante is ons omring deur die duisternis. Maar die Saligmaker is gebore. Hy kom om ons te red van die angs en eensaamheid. Hy kom om vrede te bring, vrede tussen God en ons en so ook vrede onder mekaar. Hy kom om weer lig en gemeenskap te gee.

Waarom hoef u vir God se aanwesigheid nie te vrees nie? Daarom: die Saligmaker is gebore. Hy is die enige antwoord op die vrees. Waarom is daar die vrees? Dit is vanweë die sonde. Waarom het die herders gevrees toe die heerlikheid van die Here hulle omstraal het? Dit was vanweë hul sonde. Met hul sondige bestaan kon hulle die vuur van God se heiligheid nie verdra nie.

Waarom mag hulle nou sonder vrees God sien en lewe? Die Saligmaker is gebore. Hy het gekom om die oorsaak van die vrees weg te neem. Hy het gekom om die sonde weg te neem. As Saligmaker red Hy van die sonde, van die sonde skuld, van die straf op die sonde en van die gevolge van die sonde. Die straf wat vir ons die vrede aanbring het Hy op Homself geneem en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes 53:5). Hy versoen die skuld. Hy herstel die relasie met God. So oorwin Hy die vrees en plaas Hy ons in die vryheid van die gemeenskap met God.

Die herders hoor die blye boodskap van heil in die vergewing van hul sondes. Daarom hoef hulle nie te vrees nie. God self sorg daarvoor dat mense weer in sy gemeenskap kan verkeer. Deur middel van die gebore Saligmaker.

Hierdie Saligmaker tree nie op uit eie krag en bevoegdheid nie. Hy word naamlik ook die Christus genoem, dit wil sê die gesalfde. Hy tree op in opdrag van die Here God self. God het Hom aangestel en toegerus vir sy verlossingswerk. So mag ons seker wees van die verlossingswerk.

Hy word verder ook Here genoem. Hy het gesag en mag. U en ek moet hierdie saligmaker aanbid en ons aan Hom onderwerp. Dawid het Hom vantevore reeds aangedui as Here in Ps 110. Daar skrywe hy "Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete." Dawid se groot seun is ook sy Here wat plaas sal neem aan die regterhand van die hemelse Vader. Ja, so ken ons Hom nou as Owerste oor die konings en maghebbers van die aarde. Dit is u Here Jesus Christus, die Gebore saligmaker. Die herders hoor van die vervulling van die Ou Testamentiese beloftes: verlossing word berei in die stad van Dawid. Daar is naamlik vir u gebore die Saligmaker wat Christus, die Here is.

"En dit is vir julle die teken", hieraan sal julle hom herken: "julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê." Strook dit? Is dit nie ’n vergissing nie? Pas dit wel by die skitterende name van die Heiland? "Wat in doeke toegedraai is en in die krip lê." So ’n armoedige verskyning kan tog nie ’n teken wees van sulke heerlikheid nie? Moet ons daaraan die Saligmaker herken?

Ja, inderdaad, dit is vir julle die teken. ’n Baie gepaste teken. Hoe kan anders die vrees van die mense opgehef word en die gemeenskap met God herstel word? Hoe kan mense deur die vuur van God omring word sonder om verteer te word? Dit kan slegs deurdat die gebore Saligmaker hulle plek inneem. Deurdat Hy hulle, ja jou en my vloek dra. Deurdat Hy Homself arm en eensaam laat word. Deurdat Hy die weg van totale en radikale eensaamheid, verlate deur God en mense, aanvaar.

Daarom is reeds by sy geboorte die heerlikheid van die Vader nie rondom Hom te sien nie. By die brandende doringbos het Moses wel die heerlikheid rondom Hom gesien. Die engel van die Here, God se eie Seun, was toe deur die heerlikheid van die Here omring. Maar toe God se Seun mens word is die heerlikheid aan Hom ontneem. Die kind lê in die krip – arm en nederig – sonder die heerlikheid van die Vader. Die heerlikheid is op daardie oomblik êrens anders, by die herders op die veld. Die Seun word ontdaan van alle heerlikheid sodat mense weer in die lig van die Vader kan verkeer.

So mag ons, brs en srs, in ’n wêreld vol angs en eensaamheid bly wees. Die kersboodskap klink nog steeds: Moenie vrees nie. Daar is geen rede om vir God te vrees nie. U, jy, mag weer in die gemeenskap van God verkeer en lewe. Die Saligmaker is mos gebore. Hy het gekom om u van u vrees en eensaamheid te verlos. Hy het Homself buite die lig van die Vader geplaas sodat u juis in die lig mag verkeer. Let maar op die flits van die paradys van God rondom die herders. En vergelyk daarmee die duisternis rondom die pasgebore baba in die krip. Daar is nou alle rede om vol vertroue na die Vader van lig te gaan. Hy het gewys dat Hy ons mense weer wil laat deel in sy gemeenskap.

Gemeente, op die kersfees en daarna is daarom geen plek vir vrees en eensaamheid meer nie, tensy ons onsself van God afkeer. Daar is alleen plek vir geloof in God se heilsame en troosryke woord en bekering tot die God van lig en heil. God het in die vlees verskyn. God het onder ons kom woning maak Immanuël: God met ons. As God met ons is, sou ons dan nog vrees en werklik eensaam bly?

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)