Maria sing van God se verlossende ingryping.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-29
Teks: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

Lukas 1:46-55

Ds. C Kleyn - Sondagoggend 29 November 1998

Lees: Lukas 1:26-45
Teks: Lukas 1:46-55
Sing: Ps 34:1,2; SB 14:1,2; Ps 100:2,4; Ps 34:6,8; SB1:1-4; SB1:5,6.

Samevatting:

Maria maak die Here groot. Sy plaas haar moedergeluk in sdie breë verband. Dit is diensbaar aan die heil van God se volk.

Tema: Maria sing van God se verlossende ingryping.

1. Hoe God in haar lewe ingegryp het
2. Hoe God in die algemeen ingryp
3. Waarom God ingryp

Maria sing oor God as haar Saligmaker omdat Hy haar nederige toestand aangesien het. Wat is haar nederige toestand? Let veral op die feit dat sy ’n prinses in die koningshuis van Dawid is. Alle koningsluister van Dawid se huis het verdwyn. Herodus die Edomiet regeer. Dawid se stad en land is beset gebied. Josef, die regmatige troonopvolger leef as onbekende en onbeminde in die stadjie Nasaret. Hierdie vernedering is Maria se vernedering. Tog sing Maria van verhoging asof dit reeds gebeur is. Let op die verlede tyd. Is sy nie baie voorbarig nie? Alleen deur die geloof kan sy so sing. Sy het God se woorde van heil gehoor (1:28-37). Dit is vir haar genoeg. God se beloftewoorde moet ook vir ons genoeg wees. God se werk aan Elisabet bevestig Maria in haar geloof. Dit bevestig dat geen ding by God onmoontlik sal wees (1:37) en dat die dinge wat deur die Here gesê is vervul sal word (1:45). In haar lied sê Maria amen op die belowende en eisende Woord van God. Daarom sing sy in die verlede tyd. So seker is sy van God se saak.

In vers 52&53 lyk dit asof Maria sing van die totale omkering van die maatskaplike en sosiale verhoudinge. Beteken dit dat dit hier op aarde gaan om die teenstelling tussen maghebbers en nederiges en tussen rykes en armes? Kies God sonder meer vir die party van die nederiges en armes en teen die party van die maghebbers en rykes? En moet ons nou ook kies vir die armes en verdruktes om God se heil te ontvang? Die verse 49&50 moet ons waarsku. God is heilig. Hy haat die sonde. Wie in sonde bly lewe sal eenmaal deur God se heiligheid verteer word. En God se barmhartigheid is vir die wat Hom vrees (vers 50). Dit is dus nie so dat God sonder meer aan die kant van die armes staan nie. Beslissend is dat jy die Here vrees, d.w.s. dat jy die Here ernstig neem in sy liefde en in sy toorn. Let op die Ou Testamentiese agtergrond van Maria se lied. In die OT word met die maghebbers en rykes meestal bedoel die hoogmoediges wat in hul selfversekerdheid dink dat hulle hulself wel kan red en dus geen rekening met God hou nie. Die getroues in Israel wat hulself klein en afhanklik van God weet heet dikwels die nederiges. Sulke hoogmoediges word van die troon afgeruk en sulke nederiges word verhoog. Die woorde oor die hongeriges en rykes het ongeveer dieselfde strekking. Christus spreek later van armes van gees en van hulle wat honger en dors na die geregtigheid (Mt 5:3,6). Wat die Here aan Maria gedoen het sien sy as tiperend vir heel God se verlossende ingryping. Hulle wat uit hulself magteloos en onaansienlik is en hul vertroue op die Here stel, hulle sal verhoog word. Maar God sal gerig bring oor alle hoogmoediges wat hulle laat lei deur die gedagtes van hul eie hart pleks van hulle te laat lei deur die woord van die Here.

Maria gryp terug na die belofte aan Abraham (vers 55). God gryp in vanweë sy eed aan Abraham. God gedenk vir ewig sy verbond. Hy is so getrou as sterk, Hy sal sy werk wat Hy begin het voleindig. Laat ons vandag rus vind in God se trou en waarheid. Na Pinkster is die voltooiing van God se messiaanse heil meer naby as ooit tevore.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die huis van Sagaria en Elisabet sing Maria haar Magnificat: My siel maak die Here groot. Die aanleiding tot haar lied is haar moedergeluk. Elisabet het sopas daar op gewys met die woorde: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot. Maria mag de beloofde seun van Dawid dra.

In haar moedergeluk vergeet Maria nie die wêreld om haar heen nie. Sy wys juis van haarself af. Dit gaan nie om haarself nie maar om die Here haar God. My siel maak die Here groot. Sy het oog vir die werk van die Here. Sy roem daaroor: Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Daarmee het sy ook oog vir die heil van God se volk. Die werk van die Here is immers altyd tot verlossing van sy volk. So plaas Maria haar moedergeluk in sy breë verband, dit is ondergeskik en diensbaar aan die heil van God se volk.

Ek vat die teks vir u saam onder die tema: Maria sing van God se verlossende ingryping.

1. Hoe God in haar lewe ingegryp het
2. Hoe God in die algemeen ingryp
3. Waarom God ingryp.

Dit is opvallend dat Maria praat oor God as haar Saligmaker. Daarmee bedoel sy nie haar komende seun Jesus nie maar God self. Waarom noem sy Hom haar Saligmaker? Dit word verklaar deur wat volg: omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het. Waarin bestaan die nederige toestand van Maria? Die woord wat gebruik word wys op onaansienlikheid, hulpeloosheid en hulpbehoewendheid, dat jy self niks kan inbring nie, ’n onvermoë om self die situasie te verbeter. Ten aansien van Maria is dit veral belangrik om te let op haar posisie as prinses in die huis van Dawid. Of sy dit reeds vanaf haar geboorte was of pas deur haar verlowing met Josef geword het kan ons nie met sekerheid sê nie. In elk geval vermeld ons tekshoofstuk dat sy verloof was aan ’n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid (1:27). Haar verlowing aan Josef die kroonprins uit die huis van Dawid gee haar in elk geval die posisie van prinses in Dawid se koningshuis.

Maar wat blyk daarvan? As prinses is sy onbekend en onbemind. Alle koningsluister het uit die huis van Dawid verdwyn. Sinds die ballingskap het geeneen seun van Dawid op die troon gesit nie. Dawid se huis het teruggeval tot die onaansienlikheid van sy oorsprong, toe Dawid as seun van Isai van agter die skape weggeroep is. Dawid se huis het tot niks geword. In Jerusalem, die koningstad van Dawid, regeer die Edomiet Herodus. Dawid se stad en land is ’n beset gebied. En Josef, die regmatige troonopvolger van Dawid, moet hom onderwerp aan die Romeinse keiser. As onbekende en onbeminde woon hy in ’n afgeleë stadjie Nasaret in die veragte Galilea, waar hy as timmerman sy kos moet verdien.

Gemeente, hierdie vernedering van die huis van Dawid is Maria se vernedering. Die koningshuis van Dawid het doodgeloop, is onaansienlik en hulpeloos. Daar kon niemand heil van verwag nie. Dit is Maria se nederige toestand.

By Elisabet sing sy egter van verhoging. My gees is verheug in God my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen.

Is Maria nie baie voorbarig nie? Sy maak asof alles reeds gebeur het. Sy sing: Die Here het die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien. Intussen is Maria nog steeds ’n onbekende en eenvoudige meisie uit Nasaret. Sy sing: van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen. Maar sal die mense haar wel salig noem? Wat moet die mense straks dink as hulle ontdek dat sy swanger is voordat sy met Josef getroud is? Sal hulle nie sleg oor haar gaan praat en haar afwys nie? Sal sy nie juis verder verneder word nie? Hoe kan sy dan nou al sing van haar verhoging?

Gemeente, alleen deur die geloof kan sy so sing. Sy het God se woorde van heil gehoor. Dit is vir haar genoeg. Geen woord wat van God kom sal mos kragteloos wees nie. Dit geld nog steeds vir al God se woorde, ook die woorde wat Hy vanoggend gespreek het by die doop van Nadya. Hoe onbetroubaar mense ook mag wees, jy kan altyd op God se woorde staatmaak.

Die engel Gabriël het aan haar die geboorte van haar wonderkind aangekondig. Hy het daarby gesê: die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Nou weet Maria genoeg. Dawid se huis sal weer tot luister kom. Die messiaanse profesiee word vervul. Die vakante troon van Dawid word weer beset. En die heerskappy van hierdie koning sal geen einde hê nie.

Broeders en susters, hoe onbegryplik die woorde van Maria ookal mog wees, sy het geglo. Sy het God deur haar laat doen wat Hy belowe het Hy sal doen: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord (1:38).

Die besoek aan Elisabet het haar bevestig in daardie geloof. Daarom het die engel haar ook na Elisabet haar bloedverwant verwys. Wat met Elisabet gebeur het – sy verwag ’n seun in haar ouderdom terwyl sy altyd onvrugbaar was – moet Maria wel sterk in haar geloof. Maria het ’n ongelooflike belofte ontvang. Deur te sien hoe die Here sy belofte aan Elisabet vervul het, weet Maria des te sekerder dat geen ding by God onmoontlik sal wees nie. Die engel het daarop gewys in vers 37. En Elisabet kom daarop terug in vers 45 "en salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word."

Dan volg Maria se Magnificat. In geloof sê sy amen op die belowende en eisende Woord van God. Daarom sing sy van God se verlossingsdade asof dit reeds geskied is. So seker is sy van God se saak. God se beloftes faal nie. Daarom sing Maria van God se ingryping in haar lewe: Hy het die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien. Hy wat magtig is het groot dinge aan my gedoen. Daarom sing Maria ook van God se verlossende ingryping in die algemeen. Dit is die tweede gedagte: Hoe God in die algemeen ingryp.

Maria sing vervolgens van maghebbers wat God van trone afgeruk het, van nederiges wat God verhoog het, van hongeriges wat Hy met goeie dinge vervul het en rykes wat Hy met leë hande weggestuur het.

As jy dit so hoor, lyk dit asof Maria wel sing van die totale omkering van die maatskaplike en sosiale verhoudinge, soos ons dit enigsinds ervaar in ons nuwe Suid Afrika. Maghebbers en rykes word verneder, terwyl nederiges en armes verhoog word. Broeders en susters, moet ons hieruit die konklusie trek dat dit hier op aarde gaan om die teenstelling tussen maghebbers en nederiges, tussen rykes en armes? Is Maria die sosiale profetes wat sing van die groot rewolusie wat die armes moet bevry van die onderdrukking en uitbuiting deur die ryk maghebbers? Wil Maria sê dat God sonder meer aan die kant van die nederiges en armes staan en nie aan die kant van die maghebbers en rykes nie? En beteken dit vir ons dat ons, om die heil van God te ontvang, die party van die armes en verdruktes moet kies? Is dit die beslissende vraag waarvoor ons staan: Watter party het jy gekies, die van die armes of van die rykes?

Gemeente, die woorde wat hieraan voorafgaan moet ons versigtig maak. Daar word gesing van God se heiligheid (vers 49): Heilig is sy Naam. Die heiligheid van God wys op sy goddelike verhewenheid en majesteit. Daar is ’n groot afstand tussen God en die sondige mens. Sy heiligheid kan die sonde nie verdra nie. As jy in sonde bly lewe dan skend jy God se heiligheid en dan sal jy eenmaal deur God se heiligheid verteer word.

Die heiligheid van die Here wys egter nie alleen op die afstand nie. God is ook as die Heilige die Verlosser van sy volk. Vandaar dat Maria vervolg in vers 50: En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. God sien in liefde neer op hulle wat Hom vrees. Dit is dus nie so dat God sonder meer aan die kant van die armes en verdruktes staan nie. Die armes sal nie beter af wees in die laatste oordeel net omdat hulle arm is nie. Jy ontvang die guns van die Here nie net omdat jy die kant van die armes gekies het nie. Nee, dit kom daar op aan of jy die Here vrees. Wat is dan die vrees van die Here? Dit is die kinderlike eerbied vir God. Jy vrees die Here as jy in jou lewe met Hom erns maak, as jy Hom ernstig neem in sy liefde maar ook in sy dreiging. As jy in jou lewe eerbied vir die Here toon dan is jy gelukkig. Dit is in teenstelling tot hulle wat geen rekening met God hou maar met sy woorde ’n lopie neem en sy majesteit skend. Dit is dus nie belangrik of jy arm of ryk is nie en of jy wel of nie solidêr met die armes is nie. Beslissend is dat jy Hom vrees.

Maar waarom praat Maria dan van die vernedering van die magtiges en rykes en van die verhoging van die eenvoudiges en armes? U sal oog moet hê vir die Ou Testamentiese agtergrond van Maria se lied. Maria het Hanna nagesing. In die Ou Testament het die woorde maghebbers en nederiges, rykes en armes ’n eie betekenis gekry. Wie is die maghebbers? Nie slegs hulle wat mag het nie maar ook die hoogmoediges. Dit is mense wat met hul mag en moontlikhede geen rekening met God hou nie. Hulle dink dat hulle God nie nodig het nie. In hul selfversekerdheid dink hulle dat hulle hulself wel kan red. Hulle het niemand nodig nie. Hulle maak self die diens uit.

Daarteenoor staan die nederiges. In die Ou Testament word hierdie woord dikwels gebruik vir die getroues in Israel. Die nederiges is hulle wat hulself klein en afhanklik weet. Hulle het geen groot mond nie. In hul maatskaplike posisie, wat dikwels gering is, stel hulle hul vertroue op die Here.

Die hoogmoediges, wat bou op eie mag en moontlikhede, word van die troon afgeruk. Maar die nederiges, wat hulself afhanklik weet van die Here, word verhoog.

Gemeente, wat Maria daarna sing oor hongeriges en rykes het ongeveer dieselfde strekking. Daarmee word nie sonder meer bedoel die armes en die rykes, asof God alle armes, ongeag of hulle Hom dien, sal versadig en alle rykes sal verarm nie. Die woorde het vanuit die Ou Testament ’n ander lading. Wat tipeer die arme? Dat hy self niks kan inbring nie. Hy is hulpbehoewend en afhanklik. Wat het jy dikwels gesien onder God se volk? Dat die arme met sy leë hande homself ook afhanklik van die Here weet en op Hom sy vertroue stel, terwyl die ryke met sy gevulde hande dink dat hy die Here nie nodig het nie en op sy besit vertrou. Wel, in Maria se lied gaan dit oor sulke armes en rykes. In sy bergrede praat Christus later van armes van gees en rykes wat hulle met hul rykdom teenoor die Here verhef. Sulke armes en hongeriges sal versadig word en sulke rykes sal met leë hande weggestuur word. God sal hulle beroof van alles waarop hulle vertrou en waardeur hulle hulself sterk dink. Gebeur dit nie hier nie dan sal dit gebeur as Christus weerkom.

Maar broeders en susters hoe kom Maria daartoe om so in die algemeen te praat van die vernedering van die hoogmoediges en die verhoging van die nederiges? Haar eie ervaring laat haar so praat. Sy het ervaar dat God haar nederige toestand aangesien het en die vernederde huis van Dawid in luister gaan herstel. Wat die Here aan haar gedoen het sien Maria as tiperend vir heel God se werk. So werk God; God verhef die nederiges. Hulle wat uit hulself magteloos en onaansienlik is en hul vertroue op die Here stel, hulle sal verhoog word. Dit is hoe God werk as Hy verlossend ingryp. Wat hoog is word verneder en wat laag is word verhoog.

Maria sing opnuut in die verlede tyd. Die Here het maghebbers van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. Maria maak opnuut asof alles reeds gebeur het. So seker weet sy dat God dit sal doen. Die Here het immers ’n geweldige begin gemaak. Sy mag die beloofde Verlosser in haar skoot dra. Die Verlosser wat God se Seun genoem sal word en wat tewens as Dawid se groot seun ewig sal regeer. God het deur sy arm kragtige dade gedoen. Alles sal nou regkom. Daarom besing Maria God se verlossende ingryping van verhoging en vernedering, van genade en gerig.

Maria kan nie swyg nie. Sy moet wel sing. God het mos tot sy volk gekom. Jesus Christus sal gerig bring oor al die hoogmoediges waar Jerusalem so vol van is, waar hierdie wêreld so vol van is: rabbyne en skrifgeleerdes wat hulle laat lei deur die gedagtes van hul eie hart pleks van hulle te laat lei deur die woord van die Here. God sal gerig bring oor al die maghebbers en rykes wat in hul eiewaan geen rekening hou met God nie en die volk verneder en verdruk.

Let op die arm van die Here tot verlossing! God sal sy benoude volk met sy genade en vrede vervul. Hy sal almal wat leef in adventsverwagting en by Hom bly skuil versadig.

Gemeente, dit is opvallend dat Maria in haar lied Dawid nie noem nie. Sy noem wel Abraham. "Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink – soos Hy tot ons vaders gespreek het – aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid."

Maria verstaan: hier word God se beloftes en dus die verwagting van die vaders vervul. Maria gryp terug agter Dawid, na die belofte aan Abraham die vader van alle gelowiges. Maria laat ons weet waarom God verlossend ingryp. Alles gaan terug tot die verbond met Abraham. God het aan Abraham en sy nageslag ’n eed gesweer. Vanweë die eed gryp God nou in. God se beloftes faal nie. God doen wat Hy beloof het.

Die werklikheid wat voor oë is lyk nog in stryd te wees met dit wat sy bely. Sy gryp egter omhoog en terug, soos ons dit mag doen. Sy klem haarself vas aan God se trou en waarheid en sing: God gedenk vir ewig sy verbond. Alles wat Hy doen, doen Hy "sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink – soos Hy tot ons vaders gespreek het – aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." Daarin lê nou alles veranker: in die geswore belofte woord aan Abraham en sy nageslag. Hy het dit gedoen, Hy doen dit en Hy sal dit doen. Die Here is immers so getrou as sterk. Hy sal sy werk, wat sy hand begin het, voleindig. Maria weet: my God is die God van trou en waarheid tot aan verre geslagte. Abraham en sy kinders het nie verniet gewag nie. Nou blyk God se onwankelbare trou.

Broeders en susters, daarom kan ook U vandag getroos wees. U weet in wie u glo: die God wat nie kan lieg nie. Die God wat in Jesus Christus al sy beloftes heerlik vervul. Die God wat in alle nood en dood sy volk naby is.

Kom laat ons sing en praat van die werke van die Here, in genade en gerig. Hy verhoog, ook verneder Hy. Hy dood en laat herlewe. Kom laat ons rus vind in God se trou en waarheid. Sy barmhartigheid is eindeloos vir wie Hom vrees. Die nederiges wat alles van Hom verwag word verhoog. Die belofte van die messiaanse heil is vir ons genoeg. Daarom sing ons ons adventsliedere. Op verhoogde toon. Want ons lewe na Pinkster. Die voltooiing is nou meer naby as ooit tevore.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)