Gabriel se aankondiging van die wonderlike geboorte van Johannes

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-15
Teks: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

Lukas 1:8-17

Ds. C Kleyn - 15 November 1998

Lees: Lukas 1:1-25; Openb. 8:1-6
Teks: Lukas 1:8-17
Sing: Ps 93:1,2; Ps 93:3,4; SB 22:1-5; Ps 98:1,2; Ps 98:3,4

Wat sien Sagaria en Elisabet van God se trou en almag? Herodes, die Edomiet, is koning oor God se volk. Hulle is kinderloos. Tog se hulle God nie vaarwel nie, soos vandag baie kere gebeur wanneer God afwesig lyk te wees. Hulle hou vas aan God se beloftes. Daarom het hulle ’n oop visie boontoe en vorentoe. Hul name herinner hulle aan God se trou. Sagaria beteken: die Here gedenk. Elisabeth beteken: My God is die God van die eed.

God wil juis hierdie kinderlose egpaar inskakel in Sy heilswerk om te wys dat die verlossing alleen van Hom is.

Tema: Gabriel se aankondiging van die wonderlike geboorte van Johannes

1. Die tydstip van die aankondiging – Sagaria is as priester juis besig om die gebede van die volk op te hef.
2. Die rykdom van die aankondiging – Johannes sal as herout ’n goed toegeruste volk berei.

Sagaria is uitgekies om die reukoffer te bring. Terwyl hy die wierook in die heilige laat opstyg tot God, lê die volk buite gekniel in gebed. Reukoffer en gebed hoort bymekaar (Openb 5:8, 8:3,4; Ps 141:2). Die sondige gebede moet gereinig word om vir God lieflik te kan wees. Tydens die gebedsuur se die engel Gabriel aan Sagaria: jou gebed is verhoor en jou vrou sal vir jou ’n seun baar. Ons moet nie "jou gebed" verklein tot Sagaria se gebed vir ’n kind nie. Vanweë hul hoe leeftyd het hulle nie meer gereken op ’n eie kind nie. Sagaria is juis besig met die gebed van die volk vir die koms van die heil. Die verskyning in die tempel is geen privaat aangeleentheid nie. Die engel gryp terug na die gebed van die priester Sagaria vir en met die volk. Daardie gebed vir verlossing is vervul. God laat Homself in beweging bring deur die gebed. Vergelyk Openb 8. Die onvrugbare Elisabet sal ’n seun baar.

Die kind moet die naam Johannes ontvang: die Here is genadig. As boeteprediker sal hy streng wees. Tog bly sy naam: die Here is genadig. Hy sal mos wys op die weg van bekering tot vergewing van sondes. Hy sal groot wees vanweë sy opdrag om as herout die Christus aan te kondig en die volk klaar te maak vir die koning. Hy sal mense terugroep tot die Here hulle God. Net soos Elia sal sy optrede getipeer word deur die krag van die woord. Hy sal die valse gerustheid breek. Dit is nie genoeg om net uiterlik tot God se volk en verbond te behoort nie. Ons moet ook die geloof van Abraham he en die werke van Abraham doen. So word die eenheid van die generasies herstel en kom daar ’n volk wat baie gewillig is in die dae van God se krygsmag (Ps 110:3). Ons mag nou heenlewe na die 2e koms van Christus. Ons het nog die kragtige woord wat ons vir die Here moet toerus. Kan ons nog bly glo en verwag as dit soms lyk of God afwesig is? Die name van Sagaria (die Here gedenk) en Johannes (die Here is genadig) wys dat dit kan. Op die gebede van die heiliges laat God die 7 basuine klink opdat ons gereed sal wees op die dag van die Here.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die evangelie volgens die beskrywing van Lukas maak ons dadelik al kennis met die ouer egpaar Sagaria en Elisabet. Dit is ’n eg priesterlike egpaar. Hulle lewe in ’n moeilike tyd. Herodes, die Edomiet is koning. Dit lyk wel asof God Sy volk verlaat het. Waar is immers die God van Israel, noudat vyande God se volk vertrap? Die profetestem swyg, nuwe goddelike openbarings ontbreek. Waar is God, noudat die heidense griekse beskawing Israel steeds meer beïnvloed? Wat sien Sagaria en Elisabet in hul daaglikse lewe van ’n almagtige en troue Verbonds-God? As Sagaria alleen maar op sy ervarings afgegaan het, het hy God al lankal vaarwel gesê. Want ook in sy persoonlike lewe kry Sagaria swaar.

Sagaria en Elisabet is kinderloos. Daar lê ’n donker skaduwee oor hul lewe. Kinderloosheid word ook in ons tyd deur baie egpare as ’n groot gemis ervaar. Daar word gedokter, gebid, gehoop, gestry. In daardie tyd was dit nie anders nie. Nog moeiliker. Kinderloosheid is onder Gods volk as ’n groot smaad ervaar. Hulle kon nie saambou, in hul geslagte, aan Israel se groot toekoms. Hulle geslag sou uitsterf en dan sou daar geen nageslag wees om die beloofde Messias te ontmoet wanneer Hy kom. Sagaria en Elisabet sou jarelank hierdie saak aan die Here opgedra het in gebed. Maar, menslikerwys gesproke, kon hulle nou maar hierdie hoop laat vaar: hulle het albei al ’n hoë leeftyd bereik.

Broeders en susters, as Sagaria alleen maar op sy eie ervaring staat gemaak het, dan het hy God al lankal vaarwel gesê. Soos vandag baie kere gebeur. Baie mense voel dat hul lyding of die lyding van die wêreld die geloof in die pad staan. Hoe kan jy glo in ’n God wat afwesig blyk te wees of wat jou nie voorsien van die goeie maar jou juis die goeie blyk te ontneem? So dink Sagaria nie. Daar word van hom en sy vrou ’n goeie getuienis gegee. Hulle was albei regverdig voor God. Die diens van die Here is vir hulle nie slegs ’n uiterlike saak nie. Dit is ook nie iets wat afhang van hul situasie in die lewe, van hoe goed God vir hulle is nie. Ondanks hul verdriet oor hul volk en om hul kinderloosheid, het hulle die Here en Sy gebooie lief. Hulle dien die Here opreg en van harte. Hulle hou vas aan God se beloftes. Hulle lewe in die lig van die groot belofte. Daarom lewe hulle in blye verwagting, in die verwagting van die vertroosting van Israel. Daarom is hul lewe nie ingekapsel nie. Hulle lewe met ’n oop visie boontoe en vorentoe. Hulle weet dat hulle opgeneem is in die stryd van die Here vir die heil van Sy volk. Hulle weet dat hulle op pad is na die groot dag van heil. Hul name kan hulle steeds weer daaraan laat herinner. Hulle het pragtige name. Sagaria beteken: die Here gedenk. Hy dink aan Sy verbond. En Elisabet beteken: My God is die God van die eed; dit wil sê, Hy is die absolute getroue. Jy kan op Sy woorde staatmaak. Albei name praat dus van die Verbonds-God. Daarop het Sagaria en Elisabet albei hul vertroue gestel.

Maar wat sien ons nou gebeur? God wil nou juis so ’n kinderlose egpaar inskakel in Sy heilswerk. Dit het Hy al voorheen gedoen en dan wel op beslissende oomblikke in die heilsgeskiedenis. Dink u maar aan die onvrugbare Hanna. Hanna mog toe deur God se wonderbare werking Samuel ontvang. Haar afgebede seun mog ’n nuwe tydperk vir Israel inlui, naamlik die tydperk van die konings. Waarom het die Here dit gedoen – het Hy met ’n onvrugbare vrou begin? Waarom? Omdat God daardeur duidelik wou wys dat die verlossing alleen van Hom is. Hy is die oorsaak en die Bewerker van alle heil. Dit wys nog sterker in ons teks, waar Elisabet nie alleen onvrugbaar is nie, maar ook reeds te oud is om kinders te kry. Ons kan haar situasie vergelyk met die van Sara. Sara kon ook geen kinders kry toe sy jong was nie, en sy was al te oud voordat God met haar begin werk het. Daardeur wil God ons op die harte bind dat die ontstaan van die kerk nie aan mense te danke is nie. Dit is nie vanweë menslike kwaliteite of menslike vermoëns nie, maar kragtens God se vrye welbehae. Die ontstaan van die kerk is ’n wonder van God. Die God van Abraham en Sara tree weer op in ons teks. Op die grens van die Ou en Nuwe Testament gaan God die onvrugbare Elisabet inskakel. Waar volgens menslike maatstawwe die kry van ’n kind volledig uitgesluit behoort te wees, daar gaan God juis Sy heil berei. Die wonder van God uit die dae van die vaders sal homself herhaal. Op ’n baie spesiale manier sal die voorloper van Christus in die wêreld kom en die nuwe tydperk inlui. God wy Sy werkstyl sodat u Hom daarin sou loof. Hom alleen kom toe alle eer.

Ek wil die Woord van ons teks vir u verder verkondig onder die samevatting:

Gabriël se aankondiging van die wonderlike geboorte van Johannes.

  1. Die tydstip (uur) van die aankondiging – Sagaria is as priester juis besig om die gebede van die volk op te hef.
  2. Die rykdom van die aankondiging (ryke inhoud) – Johannes sal as herout (aankondiger) ’n goed toegeruste volk berei.

Dat God gaan ingryp word aan Sagaria aangekondig, terwyl hy diens het in die tempel van Jerusalem. As sy afdeling, die afdeling van Abia, se beurt is om diens te doen en hyself deur die lot aangewys is om die reukoffer te bring toe gebeur dit.

Al die priesters in Israel was onderverdeel in 24 klasse of afdelings. Elke afdeling moes dan in ’n sekere volgorde twee maal per jaar vir ’n week lang die diens in die tempel van Jerusalem versorg. Al die werk wat in so ’n diensweek verrig moes word is vervolgens noukeurig onderverdeel, deur middel van die lot. Ons lees in ons teks dat Sagaria deur die lot aangewys is om die reukoffer te bring. Hierdie diens is as ’n besondere eer geag. Die priester wat die reukoffer moes bedien, mog die heilige binnegaan. Hy mog die mooiste taak van die priesterdiens verrig. Meestal het die priester net een keer in sy lewe daarvoor in aanmerking gekom. Die aantal priesters was so groot dat baie van hulle selfs nooit die voorreg gehad het nie. Vir die ou Sagaria moes dit ’n baie besondere gebeurtenis gewees het om vir hierdie skone taak uitgekies te wees. Dit moes ’n hoogtepunt in sy lewe gewees het.

Sagaria mag nou die heilige binnegaan met die goue skottel vol wierook vir die reukoffer wat twee keer per dag gebring is. Terwyl hy in die heilige die wierook op die reukofferaltaar laat opstyg het tot God, lê die volk buite in die voorhof gekniel in gebed. Gemeente, u moet die gelyktydige handelinge met mekaar in verband sien. Die offer van die priester en die gebed van die volk het mekaar aangevul. Die gebede van die volk kan nie self tot God opstyg nie. Hulle gebede is met sonde bevlek, vol gebreke. Daarom moet dit eers gereinig word om vir God lieflik te kan wees. Daarop wys die reukoffer wat moet opstyg vanuit die heilige. So word die gebede so te sê gereinig en kan dit as ’n lieflike geur opklim na God se troon. Die Skrif lê ook elders ’n verbinding tussen reukoffer en gebed. Ons het dit gelees in Openb. 8. Ook Openb. 5:8 praat daarvan as daar staan: "En toe Hy (die Lam) die boek neem, val die vier lewende wesens en die vierentwintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat dit gebede van die heiliges is." En in Psalm 141 hoor ons Dawid uitroep: "Laat my gebed soos reukwerk voor U aangesig staan." Die reukoffer is dus ’n simbool van die gebede van die heiliges.

Wel terwyl alles nou gekonsentreerd is op die gebed van die volk, verskyn die engel Gabriël aan Sagaria. Op die verstaanbare vrees van Sagaria reageer die engel: "Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Johannes noem."

"Jou gebed," wat bedoel die engel daarmee? By die woorde is ons geneig om dadelik te dink aan die gebed wat Sagaria saam met sy vrou gebid het vir ’n kind. Dit is egter die vraag of dit korrek is. Vergeet nie dat Sagaria en Elisabet al te oud was om nog ’n kind te mag verwag. Hulle sou jarelang hul kinderloosheid tot ’n saak van die gebed gemaak het. Maar na verloop van jare sou daardie gebede wel opgehou het. Let maar op Sagaria se reaksie op die woorde van die engel: "Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ’n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd." Hieruit blyk dat die vervulling van hierdie verlange geen plek meer in sy hart het nie.

Sou die engel dan net gedink het aan die gebed om ’n kind. Dit lyk ook vreemd as ’n mens dink op watter oomblik Sagaria die boodskap ontvang. Sagaria is op daardie oomblik met iets anders besig, met ’n heel ander gebed. Dit is juis die uur van die gebed. Sagaria is in die heilige van God se tempel besig om die reukoffer te bring. En dit terwyl die volk buite besig is om te bid, om te bid vir die koms van die heil. Sagaria is ook besig om te bid aan die voorpunt van die volk. Die geur van die reukwerk styg op en daarmee kom die gebed van die volk tot God.

Juis op hierdie oomblik van die gebed sê die engel, "Sagaria, jou gebed is verhoor." Laat ons die gebed waarvan die engel praat dan nie verklein tot die gebed vir ’n kind nie. Trouens ook die bede vir ’n kind van die regverdige Sagaria sal in ’n breë messiaanse verband geplaas wees. Hy sou nie slegs gebid het om persoonlike ouerskap nie, maar hy sou vir ’n kind gebid het met die oog op God se groot heilswerk. Wie vandag in geloof vir kinders vra, doen dit nie alleen vir hulself nie, maar bid: gee ons kinders vir U en met die oog op U ryk. As regverdige het Sagaria homself in die diens van God geweet en het hy juis gebid om deur middel van ’n kind nog bruikbaarder te wees vir die koms van Sy ryk.

Gemeente, die verskyning in die tempel blyk ook geen privaat aangeleentheid te wees nie. Dit is ook nie ’n privaat boodskap wat die engel bring nie. Dan kon die engel hom beter opgesoek het in die dorp waar hy gewoon het, in sy eie huiskamer. Maar dit doen die engel nie. Hy soek Sagaria in Jerusalem op in die tempel, terwyl hy met die volk besig is om te bid. Die boodskap word in die middel van die lewe van Gods volk geplaas. Dit is ’n saak wat die hele volk van God raak.

Die engel gryp dan terug na die gebed van die Priester Sagaria vir en met die volk. Daardie gebed om verlossing is vervul sê die engel. Daaronder val dan ook die gebed uit die verlede vir ’n kind.

God laat Homself in beweging bring deur die gebed. Die aanhoudende gebed by die tempel roep God se aksie los. Hier is dit dan ’n aksie tot verlossing van Sy volk. In Openb. 8 lees ons van die krag van die gebed ten aansien van die oordele wat sal kom. Na die stilte van omtrent ’n half uur lank, waarin die hemel so te sê sy asem ophou in spanning oor die vreeslike wat gaan gebeur, sien Johannes op Patmos ’n engel wat baie reukwerk, met die gebede van alle heiliges, op die goue altaar voor die troon neersit. Johannes sien hoe die rook van die reukwerk met die gebede van die heiliges opstyg voor God se aangesig. En die engel neem die wierookbak, vul dit met die vuur van die altaar en werp die vuur op die aarde; en daar het donderslae en stemme en bliksemstrale en aardbewing gekom. Die gebede van die heiliges – dus ook u gebede, broeders en susters – maak heelwat los in die wêreld. Daardeur kom God in aksie. Hy verhoor die gebede wat as gereinig tot Hom opstyg en Hy laat sy 7 basuine klink, basuine wat oordele oor die wêreld beteken.

God verhoor die gebede van Sy Ou-Testamentiese volk. God gaan vir Israel verlossing voorberei. Elisabet sal ’n seun baar. Menslikerwys gesproke is dit absurd. Hoe kan Elisabet op haar hoë nog nuwe lewe in haar skoot ontvang en dra? Tog spreek Gabriël van ’n seun wat gebore sal word. God gaan met daardie ou egpaar iets ongehoords doen. Wat versterf het, gaan Hy opwek tot lewe. Israel se God, u God, is wonderlik wanneer Hy dink aan Sy genade, wanneer Hy verlossing gaan bewerk. Dan is niks vir Hom te wonderlik nie. Hy breek twee lewens oop. Terwille van Christus, u verlosser. Dit bring ons by die 2e punt van die teks. Die rykdom van Gabriël se aankondiging van die wonderlike geboorte van Johannes.

Die kind moet die naam Johannes ontvang. ’n Pragtige naam, wat beteken: die Here is genadig. Daarmee word die karakter van sy verskyning gegee. Hierdie Johannes sal gaan optree as ’n boeteprediker, maar sy naam is: die Here is genadig. Sy leefwyse sal uiters sober wees en sy woord baie streng, maar sy naam bly: die Here is genadig. Sonder aansien des persoons sal hy die sonde aanwys, maar daarin sal blyk dat die Here genadig is. Hoe kan dit? Dit kan omdat hy die uitweg uit die sonde sal aanwys. Hy sal wys op die weg van bekering tot vergewing van sondes. Daarom sal nie net sy ouers, maar baie ander hulle verheug oor sy geboorte. Hulle sal sien hoe die weg van die verlossing vir hulle ontsluit word. Want hy sal groot wees vir die Here. Natuurlik nie groot volgens menslike maatstawwe, soos ons praat van groot manne in die geskiedenis nie. Hy sal in God se oë groot wees. Daarom is sy grootheid iets blywends. Groot manne kan ver val, ook nadat hulle dood is, maar Johannes sal groot wees en dus ook bly in die oë van die Here. Sy grootheid lê in sy opdrag. Hy sal as herout die Christus aankondig. Hy sal uitroep: Kyk, die Koning, daar kom Hy. Hy sal die volk gereed maak om die Koning te ontvang.

Gemeente, die besondere posisie van Johannes blyk ook uit die feit dat hy geen wyn en sterk drank sal drink nie, maar met die Heilige Gees vervul sal word reeds voor sy geboorte. Net soos die priesters tydens hul priesterdiens geen wyn of sterk drank mog drink nie, so sal hierdie herout dit nooit mag drink nie. Hy sal totaal in beslag geneem word deur die Heilige Gees. Die Gees sal hom besiel en bekragtig.

Hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hul God. Hoe? Hoe bring ons mense tot bekering? Deur die bekering te preek, deur mense op te roep tot bekering. In die weg van gelowige aanvaarding van daardie verkondigde woord sal baie van die kinders van Israel hulle bekeer. Ja, juis onder die volk van God, die kinders van Israel blyk die bekering nodig te wees. Die kerkvolk moet steeds weer teruggeroep word tot die Here hulle God. Op altwee die laaste woorde moet u goed oplet. Die krag van die evangelie van genade skuil in daardie voornaamwoord: hulle God. Hy is die God wat Israel uit al die ander volke uitgekies het tot Sy volk. Hy is die God wat die verbond met hierdie volk opgerig het en daarmee verklaar het: Ek is die Here julle God en julle is My volk! Johannes gaan die volk dan ook nie roep tot iets nuuts nie, maar tot die oue, waartoe God se volk altyd al geroep is. Hy roep terug tot die Here hulle God.

Johannes sal as herout voor Christus uitgaan in die Gees en krag van Elia. Elia se profetiese optrede word getipeer deur die krag van die woord. So sal Johannes se optrede ewe profeties, ewe kragtig wees. In Agab se dae het die Here Elia gestuur om die volk wat Baäl agternageloop het, terug te roep tot Sy wet. So sal Johannes die volk Israel terugroep tot God se wet. Hy sal die oordeel preek oor hulle wat hul nie bekeer nie. Sy prediking sal skiftend werk. Hy sal die valse gerustheid breek. Dit is nie genoeg vir die kinders van Israel om volgens die vlees kinders van Abraham te wees nie. Dit is nie genoeg om net uiterlik lid van die kerk te wees en net uiterlik tot die verbond te behoort nie. Wil jy deel in die beloftes, wil jy vergewing van sondes ontvang, dan sal jy ook die geloof en die werke van Abraham moet hê, sal jy ’n geestelike kind van Abraham moet wees.

Op die drumpel van die ou en nuwe bedeling sal God se genade in die persoon en optrede van die nuwe Elia blyk. Hy sal die harte van die vaders tot die kinders keer en van die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges. Hy sal ’n afgewykte nageslag weer saamvoeg met ’n vroom voorgeslag. So kom daar weer ’n geloofsband tussen die kinders en die vaders, van weleer. So sal Johannes die Jode van hul vals vertroue op Abraham afbring. Hy sal met Abraham en met die vaders ’n beter band lê, naamlik ’n geloofsband.

Dit sal Johannes alles doen, sê die engel, om vir die Here ’n goed toegeruste volk te berei. Daar kom ’n volk tot Sy diens bereid. Maar hierdie volk sal nooit sy lewensgeheim mag vergeet nie, dit het van een kant gekom, van die genade van die Here, en dit gaan na een kant toe uit, terugkeer na die Here julle God. Dit is die triomf van die genade waarvan u nog steeds mag sing.

Gemeente, u het ons God in aksie gesien tydens die gebed van Sy volk. As Hy aan Sy verbond dink dan doen Hy dit op die gebed. Nuwe tye gaan aanbreek. Geweldige dinge gaan gebeur. Gods heil breek deur. Sy koninkryk kom naby. Die aangekondigde seun van Sagaria mag daardie nuwe tydperk inlui. Hy mag die Koning aan die volk voorstel. Die ou en nuwe verbond word aan mekaar verbind deur die een boodskap van sy naam: die Here is genadig. Die volk van God sal ondanks alle verskille van generasies tog een wees. Die volk sal in die dae van God se krygsmag "baie gewillig wees." Daar is geen rewolusionêre jongeres wat teen die ouere generasie opstaan nie, maar "in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir u wees die dou van u jong manskappe." (Psalm 110:3)

So het Johannes die toerusting gepreek, die opbou van die heiliges, die saambinding van die generasies. Hy het die volk beveel om saam weer bruid te wees om die bruidegom tegemoet te lewe.

So mag u nou heenlewe na die 2e koms van die bruidegom, die verskyning van Christus op die wolke. En dan gaan dit nog steeds oor die krag van hierdie een prediking. Ook vandag. Met die doel, om vir die Here ’n goed toegeruste volk te berei.

Het dit nog wel sin om te bid in hierdie duister tye? Wat bereik jy daarmee? Kan jy nog wel bly glo en verwag, as die probleme in ons land toeneem en as dit soms lyk of God besig is om alles wat vir jou goed is te ontneem? Gemeente, die name van Sagaria en Johannes wys vir ons dat dit kan. Sagaria: God dink aan Sy verbond. Johannes: Die Here is genadig. Wie alles in die hande van die Here lê, sal agterkom dat alles uiteindelik goed kom, op ’n onvoorstelbare manier waaraan ons nie kan dink nie. Christus kom!

God laat die dag nie onaangekondig aanbreek nie. Op die gebede van alle heiliges, op u gebede, laat Hy 7 basuine klink. Hy berei Sy een volk voor, Hy berei ook u voor op die ontmoeting met u Here. Mense, kyk u Koning kom. Hoor die basuine klink. Wees gereed.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)